| |
6 Die Vlieënde Hollander
Professor Paul de Ridder was 'n Afrikaner wat 'n eienaardige lewensloop gehad het. Nou en dan kom daar nogal soortgelyke gevalle in die maatskaplike lewe van Suid-Afrika voor, maar hulle is seldsaam en in die meeste sulke gevalle bring die omstandighede dit mee dat hul optrede op die wêreldtoneel aan die merendeel van hul landgenote bekend is en ten minste dien om tot die nasionale trots by te dra. Met professor De Ridder was dit in hierdie opsig anders gesteld. Twee-en-twintig jaar lank het hy sy vaderland nooit besoek nie en hoewel hy altyd 'n hartstogtelike vaderlandsliefde getoon het, het die aanraking tussen hom en die bekendes uit sy geslag in Suid-Afrika so dun gerafel dat hy feitlik mettertyd uit die geheue van die meeste van sy landgenote geraak het, behalwe miskien in dié van 'n paar veraf bloedverwante wat hy nog hier besit het, en hier en daar van 'n intieme vriend uit sy kinds- of skooldae. En tog het hy in sy eie besondere kring wêreldberoemdheid verwerf voor sy terugkeer na Suid-Afrika.
Hy is op 'n eensame plasie in die Karoo gebore waar die familie drie geslagte lank 'n bitter bestaanstryd teen die onverbiddelike en steeds toenemende droogte gevoer het. Hoe sy vader en moeder dit oorlê het om die geld vir sy op- | |
| |
voeding bymekaar te skraap, is tot vandag nog 'n onopgeloste geheim. Maar dit is gedoen - gepaard met die bitterste lyding, só bitter dat daar dikwels onder die bure selfs 'n fluistering van honger rondgegaan het, en voedsel en klere is nou en dan deur ou en getroue vriende aan die twee dapper kampvegters besorg. Maar dit moes met die uiterste takt geskied om hul eergevoel nie te krenk nie. Intussen het onder bloedverwante en vriende in die wyk 'n bitter gevoel teen ‘Klein-Paul’ ontstaan - Klein-Paul wat in die buiteland lekker lewe en rondswier ten koste van die sweet en bloed van sy ouers hier in die woestyn. So altans het die gerugte geloop; maar dit was vér van die waarheid. Paul het soos 'n slaaf in die vreemde geswoeg. Hy was die enigste kind en hy wis goed genoeg dat hy alleen in staat sou wees om minstens hul laaste jare uit die ellende te red waarin hulle verkeer. Selfs bo sy vaderland het Paul de Ridder sy ouers bemin en hul gedagtenis tot die laaste vereer. Die geld wat hy van sy ouers ontvang het - nieteenstaande hul bitter stryd en selfopoffering - was min genoeg en ook Paul moes dikwels in die buiteland honger ly en koue en uiterste ongemak verdra ter wille van die groot saak wat hy hom voor oë gestel het. Dit was sy hoopvolle briewe wat hulle in die stryd laat volhard het, maar uiteindelik moes hulle die plaas en hul lewe op die slagveld laat. Professor Paul de Ridder het hom altyd getroos met die feit dat hy voor hul dood in staat was om hulle die blydskap te verskaf van die eerste skemering van die wêreldberoemdheid wat hom later ten deel geval het. Nooit het hy hulle weer gesien nie.
Na die dood van sy ouers en die verkoop van die familieplaas het die gedagtenis aan ‘Klein-Paul’ spoedig in die omtrek verdoof. Maar in sy eie wetenskaplike wêreld in die vreemde het sy beroemdheid van dag tot dag toegeneem. Nadat hy sy voet op die eerste sport van die leer geplaas het, kon niks hom ooit weer stuit nie.
Hy het medisyne gekies, nie omdat hy enige besondere voorliefde vir dié vak gehad het nie, maar omdat hy oortuig daarvan was dat dit hom die beste en spoedigste kans sou lewer om sy ouers vir hul opoffering te vergoed.
Die spesiale vak in die medisyne wat hy gekies het, was juis een wat bereken was om sy beroemdheid - hoe groot dit ook al mag word - tot 'n baie eng gebied te beperk. Hy het hom van die begin af spesiaal op sielsiektes toegelê. Ter wille van die besoldiging moes hy dikwels die laagste betrekkings in gestigte vir sielsiekes aanvaar. Maar hy was gedurig aan klim. Nag en dag het hy studeer - teoreties en prakties het hy onophoudelik kennis opgegaar wat hom later tot voordeel sou strek; en die genialiteit wat hom ingebore was, het spoedig vanuit sy donker en somber omgewing soos 'n opgaande ster uitgeblink. Hy het in vaktydskrifte begin skrywe en met die plasing van sy eerste stukke het hy die aandag van die hoogste ampsbekleders in die vak op hom gevestig.
Dit is onnodig om sy merkwaardige loopbaan in die vreemde na te gaan. 'n Professorskap aan een van die kleiner Duitse universiteite het hom die geleent- | |
| |
heid verskaf om breedvoeriger te skrywe en daarom sy naam al hoe meer bekend te maak. Uiteindelik is hy op aandrang van vriende na Amerika, met die vaste voorneme om so gou moontlik genoeg geld te maak om na Suid-Afrika te kan terugkeer. Die verlange na sy vaderland het 'n steeds toenemende drang by hom geword.
In Amerika het hy spoedig bekend geword weens die toepassing van 'n nuwe behandeling vir sekere vorms van sielskwale wat hom spoedig 'n aansienlike vermoë verskaf het.
En toe kon hy die brandende verlange van sy hart tevrede stel. Hy was nog 'n jong man toe hy na Suid-Afrika terugkeer met die voorneme om alle mediese werk te staak en voortaan sy tyd te bestee aan sekere navorsing wat egter niks met sy beroep te doen gehad het nie.
Omdat hy ver van die see gebore is en grootgeword het, het hy sy hele lewe deur 'n groot liefde vir die see gevoel. Daarom was dit dat hy Silwersand, op die uiterste suidelike punt van Afrika geleë, gekoop het. Die stuk grond het tot aan 'n klein strandjie van wit sand geloop. Die woonhuis was honderde jare oud en dit, saam met die eensaamheid en afgesonderdheid van die omgewing, was die grootste aantreklikhede vir dr. De Ridder. Sy enigste buur was 'n juffrou De Villiers, wat in 'n moderner woonhuis gewoon het. Sy was 'n jong onderwyseres en het die huis net gedurende die vakansies bewoon. Dit het aan haar oorlede ouers behoort en sy was die enigste kind. Dit het dr. De Ridder by sy intrek in Silwersand van die vissers verneem, want die De Villiers-huis het toe leeg gestaan.
Hoog teen die bergrand was 'n ander en baie belangriker woning. Dit was die plaashuis van Zuiderzicht - 'n landgoed ook honderde jare oud. Die teenswoordige eienaar - so is aan dr. De Ridder vertel - was die jong heer Van der Byl, 'n afstammeling van die familie wat die plaas al eeue in besit gehou het. Ook dié buurman het sy woning maar selde besoek. Vir die grootste gedeelte van die jaar staan dit leeg, slegs deur bediendes bewoon. Daar was 'n aansienlike boerdery op Zuiderzicht wat vir die eienaar deur blanke bywoners beheer is. Die eienaar was 'n bemiddelde jonkman wat die meeste van die tyd in die groot stede vertoef het. Ook hy was afwesig van sy woning toe dr. De Ridder op Silwersand aankom.
Die enigste ander wesens in sy nabyheid was die Kleurlingbemanning van 'n enkele visserskuit wat aan Silwersand hul bedryf gevoer het. Daar was net drie volgroeides - 'n ou Maleier, Abdol Daoed, die skipper, en twee jonger Kaapse gekleurdes, Knoppies en Gap. Die vissers het drie huisies naby die strand bewoon waar ook hul skuit in 'n klein hawe in veiligheid bewaar is.
Met die Kleurlinge het dr. De Ridder spoedig kennis gemaak. Dit was die eerste keer dat hy mense van dié aard ontmoet en hul praat en doen en late het hom met die grootste belangstelling vervul. Vir sy eie diens het hy vier gekleur- | |
| |
des in die nabyheid gehuur. Die vernaamste was ou aia Kandas, wat as kok en huishoudster opgetree het. Sy het die enorme afmetings getoon waaraan individue van haar geslag so dikwels in later leeftyd onderhewig is. Maar sy was uitstekend in haar diens.
'n Ander bediende van enige belang was 'n Boesman met die naam van Tarries wat dr. De Ridder as sy persoonlike lakei aangeneem het.
Die eerste sake waaraan die jong professor sy tyd bestee het, was om uit die Kaap afskrifte te kry uit die Argief van alles wat op Silwersand betrekking het en hy het homself belowe om sy vrye tyd aan die deurlees van die pak dokumente wat hy uit die Kaap ontvang het, te bestee.
Dit was Junie toe hy sy intrek op Silwersand geneem het en die weer was so onstuimig en die reën so aanhoudend dat hy in die begin min kans gehad het om die omgewing van sy woning te besoek. Ook kon die drie vissers maar selde hul skuit uitneem, en dr. De Ridder het hul hutte elke dag besoek en lang en interessante gesprekke met die ou Maleise skipper, Abdol Daoed, gehad. Die ou Maleier is aan hierdie strand gebore en het sy hele lewe op die see deurgebring. Hy het 'n onuitputlike voorraad stories van gevaar en dood op die genadelose see gehad wat hy op uiters interessante wyse kon verhaal en wat dr. De Ridder ure agtereen geboei gehou het.
Nagte wanneer die westewind onstuimig waai en reën en miswolke die aangesig van see en strand met donker sluiers omhul, het dr. De Ridder voor die kaggel in die eetkamer van sy woning deurgebring waar hy die ou stukke omtrent die geskiedenis van Silwersand begin lees en rangskik het - 'n taak wat hom uit die staanspoor groot genoeë verskaf het.
Dit was omtrent 'n maand na sy intrek dat hy op 'n sekere aand ná ete op hierdie wyse voor die groot kaggel in 'n leunstoel sit en lees. Die nag was besonder onstuimig, met 'n huilende wind uit die suide en aanhoudende reën en mis. Op die vuurherd brand egter 'n heerlike vuur van hardehoutstompe van lank vergane skepe wat hier op die uiterste suidelike rotspunt van Afrika 'n wrede einde tegemoetgegaan het. Die heerlike gloed het 'n gevoel van welsyn en tevredenheid verskaf, verdiep deur die gedruis van die storm om die ou huis en die rasende branding op die rotse wat Silwersand aan twee kante afbaken.
Skielik vlieg die deur van die eetkamer agter dr. De Ridder oop, 'n deur waarvandaan 'n kort gangetjie na die kombuis lei. Gelyktydig hiermee klink 'n aaklige, bibberende geluid, onmenslik - skaars dierlik - deur die stilte van die vertrek waar die gedruis van die storm voorheen nouliks iets meer as stilte was.
Dit was die Boesman, Tarries, wat met verwilderde oë en ongelooflike onbeskoftheid tot langs sy baas voor die vuur vinnig aangeloop kom. Dit was duidelik dat die skepsel aan die een of ander ontsettende gemoedsaandoening ly. Hy het probeer praat, maar met elke poging om 'n woord te vorm, het sy tande letterlik so opmekaar gekletter dat hy geen onderskeibare klank kon uit nie.
| |
| |
‘Wat is dit? Wat makeer?’ vra dr. De Ridder verskrik sowel as vererg. ‘Hoe durf jy die kamer so binnestorm?’ - en terwyl die Boesman vergeefs probeer om te antwoord: - ‘Dink jy jy's in 'n perdestal of beeskraal? Sê my dadelik wat makeer of ek beloof om jou gouer buite te sit as jou binnekoms was.’
Die toenemende woede van sy baas het meer gedoen as enige ander middel in staat sou gewees het om die Boesman tot bedaring en tot sy sinne te bring.
‘Vertel my nou mooi, Tarries - skep eers asem - vertel my wat dit alles is? Wat het jou so laat skrik?’ gebied dr. De Ridder.
‘S ... s ... seur, hulle het vannag gewaak ... ge ... ge ... gedwaal. En ons volkies het hulle op die strand gesien en toe kom ons, seur ... taamlik vinnig, tot in ons kombuis ... Dit was ek en Knoppies en Gap en ou Abdol Daoed. En ons het ons by die stoof warm gemaak en toe begin ons ou tannie Kandas te vertel van die dwalery ... En die wind was straf sterk - soos die sieur hoor. En toe sê een van die ander ... ek dink dit was Knoppies: “Daar is iets by die kombuisdeur” ...’ Tarries werp 'n vlugtige blik oor sy skouer na die middeldeur van waar die stemme in die kombuis nog dof hoorbaar is.
‘Ja - en toe?’ moedig De Ridder aan.
‘En toe, seur ... toe kom ek vinnig hier na die seur om te ... om te ... om te sien of die seur se vuur nog goed brand.’
En om die daad by die woord te voeg, buk hy skielik en begin onnodig, maar met groot ywer die vlammende stompe op die erd rondstoot.
Hier kon De Ridder sy lag nie langer hou nie - nieteenstaande die ergernis wat die onbehoorlike indring van die Boesman hom veroorsaak het.
‘En vertel my nou, my dapper Boesman, wie of wat is “hulle” wat julle op die strand in hierdie onstuimige nag ontmoet het?’
‘Wie ... wat ... wie is hulle? ... vra die seur? ... (Grr!) Seur, in die nagte as hulle wandel, dan is dit die beste om sy naam nie te noem nie.’ En met gespitste ore luister hy na die stemme en geluide in die kombuis.
‘Nou ja, kom, my jong, ons gaan hoor wat die ander in die kombuis oor die saak te sê het.’ En De Ridder staan taamlik teensinnig uit sy leunstoel op om na die kombuis te loop.
Onmiddellik was die Boesman se manhaftigheid weer tot die hoogste aangewakker.
‘Ja, my seur, dit is die beste plan. Laat ons die swartgoed bietjie die waarheid gaan vertel ... Om soos 'n klomp verskrikte skape weg te hol! En hier in ons kombuis ... in ons kombuis, by tant Kandas lawaai te kom maak asof dit 'n kantien is. Niks ordentlikheid, niks dispek nie!’
Toe De Ridder, gevolg deur Tarries, die kombuisdeur oopdraai en binnetree, was dit om daar 'n groepie te vind wat ewe verskrik is as Tarries by sy eerste verskyning.
Aia Kandas is in die middel van die kombuis, waar sy klaarblyklik as eerste
| |
| |
woordvoerder opgetree het, totdat die binnekoms van die baas haar tot skielike swye dwing. Langs die stoof staan Knoppies en Gap met gerekte oë en oop mond na Kandas en luister. Ou Abdol Daoed sit in die hoekie op die enigste stoel. Toe die witman inkom, spring die ou skipper orent en laat sy groot teerseilhoed op die grond val, terwyl hy beleef die sieur begroet. Hy was die enigste van die vergadering wat geen tekens van buitensporige verskrikking toon nie.
Met hande omhoog en in 'n toon van die grootste verontwaardiging begin vetlywige Kandas die ander toespreek toe sy die baas herken.
‘O, liewe land! O, my liewe Heretjie! Daar het julle dit nou! Wat het ek julle gesê ... Hier is die seur - sien julle nou? Het ek nie gesê en weer gesê nie: “Gaan uit, julle swartgoed ... Julle sal netnou met jul geraas die seur opstoor?” Ek vra jou, my oompie Abdol Daoed ... het ek hulle nie gesê en weer gesê nie ... “Uit met julle nou op die daad, swartgoed!”’
Maar De Ridder val haar haastig in die rede. Hy weet hoe ontembaar die stroom is as dit eenmaal koers gevat het en hy het goed gehoor dat vet Kandas besig is om met groot gretigheid en plegtigheid die bonatuurlike aan die verskrikte Boesmans volgens haar beste kennis in 'n helder lig te stel en sodoende hul vrees en skrik te verdubbel, waarin sy natuurlik 'n heerlike genot skep, terwyl haar eie angs deur haar eie woorde lewendiger gemaak word.
‘Verontrus jou nie, aia Kandas. Ons sal niemand in so 'n storm buite jaag nie ... Laat hulle maar die vuur geniet en gee hulle iets om binne ook 'n weinig te verwarm.’
‘Nou ja, daar hoor julle self! Het ek julle nie gesê nie? ... Neem maar jou hoed van die beker koffie, oompie Abdol Daoed. Ek het julle gesê ... drink gerus, die seur sal julle self nooi as hy hier was. Ons is nie suinig in ons huis nie.’
Met verleë, trae hande lig die ou skipper sy teerseilhoed van die vloer om 'n yslike roemer koffie daaronder bloot te stel. Kandas wuif 'n hand na die ander twee, wat ook bekers koffie van agter die stoof te voorskyn bring. Dr. De Ridder gee geen teken dat hy Kandas en haar gaste se slenter opgemerk het nie.
‘Vertel my nou,’ gebied hy, ‘waaroor gaan al die lawaai?’
‘Dit is Knoppies en Gap, seur,’ roep Tarries luid, voordat die ander 'n woord kan inkry. ‘Dit is hulle wat weggehol en al die lawaai gemaak het ...’
‘Hoor hoe lieg hy - hoor net!’ skreeu die ander twee. ‘Dit was hy, seur, dieselfde Tarries wat op hol gegaan het en toe by die seur ingestorm het - was dit nie so nie, toe, Kandas?’ roep hulle die kok tot getuie.
Onmiddellik bars so 'n geraas los dat dit moeilik was om 'n enkele woord te onderskei.
‘Wat sal ek sê?’ vra Kandas. ‘Peper en koljander - die een is nes die ander.’
‘Stil julle almal!’ gebied dr. De Ridder. ‘Ou Abdol is die enigste wat enigsins by sy positiewe is. Vertel jy my, Abdol - wat het gebeur?’
| |
| |
Die ou Maleier neem 'n voorbereidende sluk koffie, stryk oor sy grys baard en trek sy stoel reg.
‘Dit lyk my,’ sê dr. De Ridder toe hy die ou man se houding merk, ‘of dit 'n langerige affêre gaan word; ek kan net so goed by die vuur hier sit as in die voorhuis,’ en hy stuur Tarries om 'n stoel vir hom te gaan haal. ‘Nou ja,’ sê hy toe hy behaaglik voor die stoof sit, ‘laat ek dit van die begin af hoor; ook die verklaring van wat vannag hier gebeur het.’
‘Seur,’ begin die skipper, ‘met vannag se tumult het ek niks te make gehad nie. Die seur moet Tarries, Gap en Knoppies om die begin daarvan vra.’
‘Ek sal die seur alles van die begin af mooi vertel,’ kom Tarries babbelend tussenbei. ‘Hierdie twee Boesmans, Knoppies en Gap, het my geroep ...’
‘Bly jy stil,’ gebied dr. De Ridder. ‘Ek wil vereers niks van jou hoor nie. Maar jou beurt sal kom; ek hoop jy sal dan net so klaar wees om te praat as wat ek van jou rekenskap vir jou gedrag eis.’
Die Boesman tree verslae weer in die donkerte en ou Abdol Daoed gaan voort:
‘Toe ek 'n klein kind was, seur, hier op Silwersand, het ek my oupa dikwels in die winter by die vuur stories hoor vertel van die seespoke van Silwersand. As daar 'n storm waai, soos nou vannag, of as een van die skuite uitbly - want daar was toe drie skuite op Silwersand - dan het al die volk op die strand bymekaargekom om vure te maak en dan het die gepraat altyd op die Seespook neergekom; en die seur kan glo dat dit vir ons kleintjies daar in die donker nag 'n vreeslike verskrikking was. Ons het met groot oë geluister en aan die moeder se rok met altwee hande vasgeklou. En as daar dan 'n skielike geraas in die mis of donker gehoor word - woer! dan was dit nie die kleintjies alleen wat die trompetter blaas nie - maar ek het dikwels grotes met ken op die skouer na die vuur toe sien hol, net soos hierdie drie volkies vanaand.’
Daar was 'n ontkennende geklap van tonge van die kant van Tarries, Knoppies en Gap, maar die ou skipper gaan ongestoord voort:
‘Die seur moet weet dat my ta se grootouers altwee slawe was van die Groot Plaas - die wit huis bo teen die hang van die berg - wat nou die woonplaas is van die jong seur Petrus van der Byl. Die oorspronklike eienaars van die Groot Plaas was die Van der Poel-familie; en kleinbaas Petrus van der Byl is die eerste van 'n ander naam as Van der Poel wat baas van Zuiderzicht is. Sy oupa was Hendrik van der Poel wat een dogter gehad het wat met Van der Byl getroud was; kleinbaas Petrus was die enigste kind, en so het 'n Van der Byl baas geword van Zuiderzicht.’
‘Woon hy op Zuiderzicht? Ek het nog niks van hom gesien nie,’ vra De Ridder.
‘Hy kom maar af en toe na Zuiderzicht, seur, vir 'n maand of twee. Hy is ongetroud en nog baie jonk, en die volk vertel dat hy nie van die plaas hou
| |
| |
nie ... ek weet nie. Ons sien maar min van hom, al is hy vier. Al vriende met wie hy hier aan die strand omgaan, is die nonnie Gulha Viljee en haar tante. Die huis en plaas net bokant die seur se lyn behoort aan nonnie Gulha en sy kom ook maar net in die vakansies. Sy is 'n onderwyseres. Dis 'n ou familieplasie wat sy van haar ouers geërwe het. Nader aan Caledon is 'n ander plaas wat haar ouer broer geërwe het. Daar was maar net twee van hulle.’
‘Ho, ha nou! Laat ons na die spoke terugkom,’ val die dokter hom in die rede. ‘Ons is netnou onder die families verdwaal.’
‘Dit is waar, seur, maar ek vertel dit nie verniet nie, want die ou storie is dat die ou Van der Poel-geslag iets met die spoke te doen het. Hoe die vurk juis in die hef steek, weet ek nie presies nie,’ gaan die ou skipper sorgvuldig voort, ‘maar ek wil die seur dit vertel net soos ek dit gehoor het ... Die werklike spook is 'n skip, seur - as daar so iets kan wees as 'n spookskip. Vandat ek 'n kind was - vandat ek kan onthou - is daar volk en mense wat die skip hier in die nabyheid van Silwersand gesien het en tot vandag toe hou dit nog aan. Dit is altyd vertel dat dit 'n baie slegte ding is om die skip op die water te sien. Hy kom altyd in stormweer en die skuit wat hom buite sien, kom nooit in nie, of daar is 'n ongeluk en een of meer manskappe verdrink. Drie jaar gelede was daar 'n groot skuit van Simonsbaai wat hier na ons gevlug het om skuiling in 'n groot storm uit die weste te soek. Net regoor die Dassiekrans het hy die skip teengekom net toe dit begin donker word. Dit is 'n groot skip en dit word vertel dat hy met volle seil reg teen die wind geseil het. Daar was agt man aan boord van die Simonsbaaiskuit. 'n Uur nadat hulle die spookskip gesien het, het hul skuit in die Poort omgeslaan en net die skipper en sy jong nefie het die strand gehaal. Die ander het verdrink. Maar, seur, as ek al die stories moes vertel wat ek self beleef het en wat ek van my ta en my oupa gehoor het, sal dit die hele nag aanhou. Maar so gaan dit altyd: om net die skip in die verte te sien, beteken ongeluk en gevaar; maar as dit so naby kom dat die stuurman aan boord gesien kan word, dan beteken dit seker en gewis die dood.’
Hier was daar weer so 'n aaklige geril van Tarries dat dr. De Ridder hardop moes lag. Kandas en die ander het dit deur die erns van hul gelaatstrekke klaarblyklik ten sterkste afgekeur.
‘Hulle het altyd vertel, seur, dat dit 'n skip is wat in die ou tyd hier vergaan het en dat die Van der Poel-familie iets met die skip te doen gehad het ... dit het aan hulle behoort of daar was van die familie aan boord wat gered is ... soos ek die seur vertel het, ken ek die ou end van die storie nie goed nie, maar dit word onder mense en volk tot vandag toe vertel dat dit altyd besonder vir die Groot Plaas bedoel is as die skip verskyn. Daar gebeur altyd iets: daar is 'n dood in die familie of die een of ander groot ongeluk. Die dag voordat oubaas Jonas van der Poel, die grootvader van kleinbaas Petrus van der Byl, van die Dassiekrans geval het - dié dag was die spookskip meer as 'n uur teen Silwer- | |
| |
sand. Daar was 'n groot storm en dik mis, net soos vanaand, en die skip het af en toe verskyn en weer verdwyn, totdat dit donker was en só toegetrek dat ons niks kon sien nie.’
‘Het jy dit ook gesien?’ vra dr. De Ridder.
Daar is 'n huiwering by die skipper. Uiteindelik sê hy met diep erns en byna fluisterend: ‘Seur, ek weet nie ... ek weet nie. Dat ek iets gesien het, kan ek nie ontken nie. Maar dit was duister en die mis was dik, en daar was party van die witmense op die strand wat telkens beweer het dat dit 'n drywende miswolk is wat ons sien. Maar dit het een of twee keer baie na 'n skip gelyk. Oubaas Jonas van der Poel was ook by die klomp op die strand en het almal uitgelag en bespot wat sê dit is 'n skip.
Ek herinner my nog goed dat ek een van die oubase aan hom hoor sê het: “Jonas, jy moet voorbodes van hierdie aard nie bespot nie. Jy weet dit gaan jou nader aan as een van ons”. Dit het die oubaas Jonas baie kwaad gemaak ... En die volgende oggend het hy met 'n ou jong langs die Dassiekrans geloop om te gaan skiet. Hy het van die krans in die see geval en tot vandag toe het hulle nooit sy lyk gekry nie.’
Tarries en Gap, wat by die begin van die verhaal in die verste hoekie van die kombuis was, het met verloop van die storie al nader na die stoof geskuiwe en was nou tot binne 'n tree van die dokter se stoel aangedring.
‘Sommige oumense het vertel’ - gaan die ou Maleier voort - ‘dat daar net een man uit die skip gered is - en dat dit een van die Van der Poels was. Daar was iets baie verkeerd met hom en met die skip ... maar daaroor is dit die beste om stil te bly ... Dit mag alles leuens wees. Maar hulle sê sy spook dwaal nog hier op die strand. Dieselfde nag wat die skip verskyn, word hy ook somtyds aan wal gesien en die plek waar hy die meeste dwaal, is met die pad regop van die strand hier by die agterdeur van die seur se huis verby ...’
Met dié woorde kom daar 'n rittelende stoot teen die dubbele buitedeur van die kombuis wat die laaste strooi was op die moed van Tarries en Gap. Met oë wyd van skrik bekyk hulle die deur, terwyl altwee teen die Dokter dring.
Dr. De Ridder rek hom vaak uit en staan op, asof hy hom klaarmaak om na sy slaapkamer te vertrek.
Maar die noodlot het dit voorbestem gehad dat dr. De Ridder met die spook van Silwersand nog nie klaar was nie.
‘Ja, Abdol,’ sê hy, ‘daar is miskien meer waarheid in die geskiedenis van die spookskip as 'n gewone mens geneig sou wees om by die eerste kennismaking te glo. Daar is 'n legende van so 'n skip wat honderde jare al aan alle volke bekend is; en dit is hier - naby Silwersand - waar die skip vergaan het, of ten minste waar die skipper die groot misdaad gepleeg het waarvoor hy gedoem is om die sewe seë onophoudelik tot die Oordeelsdag te bevaar sonder om 'n hawe te bereik en die dood te kry waarna hy seker vurig verlang. Sy skip is in alle tale
| |
| |
bekend as Die Vlieënde Hollander - waarskynlik omdat die spookskip altyd in vol seil vinnig teen die wind vaar. En die groot Duitse musiekbaas noem die kaptein Der Holländer - asof sy naam onbekend was of geheim gehou is. As dit so is - as die spoke, sowel die man aan wal as die skip op see - aan Silwersand verbonde is, soos julle sê, dan sou ons klein plasie dadelik 'n miljoen pond werd word en ek sou dit seker nie daarvoor verkoop nie!’
Die vyf gekleurdes bekyk die blanke met stilswyende verwondering. Hier is weer een van die kranksinnighede van die geleerde witmense wat alle verstand te bowe gaan! En toe val iets Abdol by:
‘Maar dan kan dit nie dieselfde skip wees nie, seur, want ek herinner my goed dat ek die naam van die skip en die naam van die kaptein dikwels as 'n kind hoor noem het. Die kaptein was in die ou dae bekend as die Rooi Bees en sy skip was De Sewe Mage.’
‘Die Rooi Bees?’ herhaal die dokter vraend. ‘Dit klink meer na 'n uitskelwoord as na 'n naam. Ek onthou toe ek 'n kind was, voor ek Suid-Afrika verlaat het, was “Bees!” 'n spottende uitroep; daarom sou 'n mens dink dat Rooi Bees 'n verergering van die spot voorstel. En Sewe Mage klink baie na die bynaam van 'n reus, nie waar nie? Dit is dus altwee waarskynlik byname - maar ek is byna seker dat die skip dieselfde is. Daar kan nie twee so eenders wees nie. Dit is niks anders as Die Vlieënde Hollander wat julle skrik gemaak het nie. En dit herinner my - ek het nog niks van die skrikmakery verneem nie. Wie van julle het die spook gesien, en waar?’
Tarries, Gap en Knoppies bars al drie gelyk los om te vertel; elkeen wil al die skuld en skande op die ander twee lê, voordat hy kans het om self te praat. Maar die dokter wuif hulle gebiedend tot stilswye en vra weer Abdol om te vertel wat hy weet.
‘Dit het só gekom, seur: Party van die kinders het naglyne gestel en het net toe dit donker was na die rotse gegaan om in te trek. Hulle was besig om 'n vuur aan te steek, toe hulle die skip teen die rotse in volle seil sien. Almal het dit vir 'n gewone skip aangesien wat deur die storm in vlak water gedryf is en een van hulle wou net hardloop om die seur en ons te kom roep, toe die skip voor hulle oë nes 'n miswolk verdwyn. Dit was natuurlik daar te vlak vir die skip om onder te raak. En toe een van hulle uitroep: “Dit was die spookskip!” - toe, kan die seur glo, het hulle die rieme gebêre huis toe. Toe hulle by my binnekom, kon geeneen van hulle praat nie, so uit-asem was die span. Ek, Tarries, Gap en Knoppies is toe saam met hulle strand toe. Die skuim van die branders het oor die hoogste punt van die Uitkyk-rots geslaan. Dit was so donker dat 'n mens min op die water kon sien; maar toe ons staan en loer, roep Tarries uit: “Daar is hy!”’
‘Hoor hoe lig die ou oom nou!’ val laasgenoemde hom haastig in die rede. ‘Dit was Gap wat die eerste geskreeu het en Knoppies wat weggespring het.’
| |
| |
‘Dit lieg jy; dit was hy! Leuens ... nie ek nie! So was dit, seur,’ kom 'n hartstogtelike storm woorde van die ander twee.
Weer moet dr. De Ridder hulle byna met geweld tot swye bring: ‘Vertel jy, Abdol, en niemand kom weer tussenin nie. Julle sal 'n kans kry - daarvoor sal ek sorg. Dan sal julle bo alle twyfel jul manhaftigheid kan bewys! Gaan aan, Abdol.’
‘Nadat Tarries so geskreeu het, seur, toe sien ons al vier iets omtrent 'n kwartmyl van die rotse af. Daar was net 'n opening in die miswolke. Seur weet net buite die Poort waar die warm water van die Oostestroom die koue water van die Westestroom raak en waar 'n mens dikwels in die oggend vroeg 'n draaiende mispilaar kan sien wat gedurig kom en verdwyn en weer kom - net daar het ons iets gesien. Ek kan nie sweer dat dit 'n skip was nie, seur; ek kan nie sweer wat dit was nie, maar dit het baie na 'n skip in volle seil gelyk. Ons het dit nie meer as tien tellings in die oog gehad nie, toe word alles deur miswolke en reënvlae langs die strand ingesluit en ons kon niks meer sien nie. En toe sê Knoppies: “Die een wat die skip eerste gesien het, gaan altyd binne 'n week dood.” En toe gaan al drie aan hardloop en laat my op die strand agter.’
Weer word geweldige pogings deur die drie aangewend, elkeen om sy partikuliere lesing van die voorval bekend te maak, wat deur die dokter onverwyld gekortwiek word.
‘Kom,’ gebied hy, ‘julle al vier! Ons gaan kyk of Die Vlieënde Hollander nog sigbaar is. Kandas, gee ons die groot skeepslantern uit my leeskamer. Daar is nog 'n stuk dik kers in wat ons genoeg lig sal verskaf. En dit is betaamlik om Die Vlieënde Hollander met die ou lantern te begroet wat aan 'n seerower van dié tyd behoort het - so is my vertel toe ek dit in Europa aangeskaf het.’
Nadat hulle 'n rukkie onrustig gewag het, verskyn Kandas met die enorme, antieke skeepslantern van swart ysterraam en dun horingplate in plaas van glas. Die lig wat die reuse-toestel verskaf, is so swak dat dit duidelik is dat dr. De Ridder dit saamgeneem het alleen ter wille van die sentimentele verband, of miskien met die oog op die indruk wat dit op die nie-blankes sou maak.
Toe Kandas die kers aansteek en die lantern op die vloer sit, bly die jonger volk al drie ver van die wonderlike ou toestel. Klaarblyklik het dit dadelik in hul gemoed 'n verwantskap met die spookskip, of met die bonatuurlikheid oor die algemeen, aanvaar.
‘Tarries!’ roep die dokter gebiedend: ‘Jy probeer al die hele aand om die vals beskuldigings teen jou te weerlê. Ek kan sien die ander twee brand ook om die eerste kans te kry, maar ek sal dit aan jou gee, Tarries ... neem die lantern, dan kan jy sowat tien tree vooruitloop. Ons gaan strand toe.’
Tarries het die saak wat so onverwags op hom afgekom het huiwerend oordink. ‘Seur,’ begin hy, ‘hierdie visser, Knoppies, kyk soos 'n kat in die donker ...’
| |
| |
Maar Knoppies het hom nie verder laat gaan nie: ‘Hoor bietjie, hoor bietjie! ... Seur.’
Maar dr. De Ridder het spoedig 'n einde aan die stryery gemaak deur Tarries aan die een oor te pak en hom deur bevele, in die ernstigste toon gelewer, tot volvoering van die ongewenste taak te dwing.
Met angs op elke gelaatstrek geteken, het hy die swaar lantern opgeneem en met die traagste treë die stoet vooruitgegaan.
Die storm was op sy hewigste. Om die gewels en hoeke van die ou huis huil en weeklaag die wind asof al die verdoemde geeste uit die Afgrond in die donker tumult 'n tydelike vryheid geniet. Die fyn reën slaan op hande en gesig soos naaldskerp yspyle deur 'n onsigbare teenstander uit die duisternis op die reisigers gemik. Die donder van die see op die swart rotse aan weerskante van Silwersand is ontsettend en maak by nadering alle gesprek tussen hulle byna onhoorbaar. Die Uitkyk-klip, die hoogste rots, is tot aan sy hoogste spits toe onder kerende branders, en met elke terugval van die water stroom deur die plooie en slepe van die swart rots skuimende lawines wat die seefront soos met 'n gordyn van fyn kant besluier.
Hoe stadig dr. De Ridder, Abdol Daoed, Knoppies en Gap ook al agter loop, is al hul traagheid nie in staat om Tarries met die lantern meer as 'n halftree voor te laat nie; en in dié orde kom hulle op die klein strand van Silwersand aan.
‘So 'n see het ek baie min male in my lewe hier gesien,’ sê die ou skipper ingedagte. ‘So was dit toe my oorlede vader se skuit buite vergaan het. Party van hul spane en mandjies het uitgespoel. Niemand het die skuit gesien nie; maar daar was mense wat later vertel het dat die spookskip dié nag buite die Poort hier van die strand gesien is. Die vroue en kinders het groot vure gemaak om die verlore skuit koers te gee as hulle sou probeer om by die Poort in te kom ... en toe was dit ...’
Maar die ou skipper is so aangedaan deur die groot tragedie van sy kindsdae dat hy die verhaal nie kan beëindig nie.
Meer as 'n uur staar dr. De Ridder en sy metgeselle oor die deining in die donker draaikolk van mis- en reënwolke, tot waar die ontmoeting van strome 'n eienaardige woeling van branding en wolke ewigdurend veroorsaak: die Draaigat, het die visser dit genoem. Maar van die spookskip is daar geen sein of teken nie.
Dit was op hul terugweg, net toe hulle deur 'n noute tussen die rotse moes gaan wat toegang tot die klein sandstrand verleen, dat daar 'n gebeurtenis voorgeval het wat dr. De Ridder se avontuurlike onderneming nie heeltemal vrugteloos laat afloop het nie.
Tarries was nog voor met die lantern - as dit vóór genoem kan word, wyl hulle hom gedurig van agter moet aanstoot om die stoet nie heeltemal tot stilstand
| |
| |
te bring nie - toe hy skielik 'n skel gil uit wat bo die gedruis van wind en see hoorbaar was. Meteens val die groot lantern uit sy magtelose hand en hy gryp en klou aan die arms en kleding van dr. De Ridder met stuipagtige krag. So groot was die boom van die ou lantern dat dit op die sand te rus kom sonder om om te slaan of selfs die kers te laat doodgaan. Binne die dowwe sirkel lig is die vyf gesigte in 'n digte klompie bymekaar, van wie minstens vier alle tekens van groot verskrikking toon. En die oorsaak van Tarries se alarm kom dadelik te voorskyn. Uit die donker gang wat hulle net binnegetree het, kom 'n swart gedrog hulle vinnig tegemoet. So nou is die ruimte dat die naderende wese - wat dit ook al mag wees - hulle strykelings verby moet gaan en toe hy naaste aan die groep is, kom hy binne die ligkring van die lantern wat op die grond in die middel van die groep staan. Hier het dr. De Ridder 'n taamlik duidelike gesig van die gedaante gekry, maar hy is so deur die ander vasgedruk dat 'n poging wat hy aangewend het om die persoon in die weg te raak, nie tot uitvoer gebring kon word nie. Maar hy kon sien dat dit 'n man is - 'n jong man - soveel ten minste van sy gesig was onbedek - maar meer as dit kon hy nie met sekerheid vasstel nie. Die persoon het 'n swart vilthoed op waarvan die taamlike breë rand so swaar van die nattigheid is dat dit sy voorkop in 'n swaar skaduwee hul. Hy dra ook 'n eienaardige, swart mantel met opgeslaande kraag. Tot sy verbasing merk dr. De Ridder dat die oë van die jong man stip voor hom gevestig is en dat hy hoegenaamd geen notisie neem van die lig of die groep daarom nie. Hy gaan by hulle verby soos 'n slaapwandelaar en raak spoedig buite gesig in die donker nag.
Net een oomblik aarsel dr. De Ridder, toe stoot hy hom los van die half-bedwelmde nie-blankes. ‘Wag julle hier,’ gebied hy hulle. ‘Ek gaan kyk wie dit is,’ en as 'n nagedagte, vra hy: ‘Ken julle die man?’
‘Nee, seur. Nee, seur,’ kom die eenparige antwoord.
Dr. De Ridder volg so vinnig as wat hy kan die rigting deur die jong man ingeslaan wat hom binne 'n paar tree tot die strandjie van Silwersand voer met die rotswand aan elke kant waar hy en die ander vier kort tevore na die spookskip uitgekyk het. Maar daar is niks te sien nie en buiten die dreuning van die see niks hoorbaar nie. Vinnig deursoek hy die hele strand en die klein kranse aan elke kant sonder gevolg. Die gedaante het spoorloos verdwyn, soos iets geesteliks wat met die mis saamgesmelt het.
Een ander moontlikheid is dat hy die see ingeloop het, maar dit sal by daglig ondersoek moet word; nou in die donker kan in hierdie rigting niks gedoen word nie.
Vol allerhande rustelose en uiteenlopende vermoedens is dr. De Ridder na die volk terug, en hy vind hulle in 'n nog digter klompie om die lantern op die grond.
| |
| |
Dit was onnodig om hulle lank te ondervra - tot dié gevolgtrekking het die dokter spoedig gekom, want hy kon uit die eerste antwoorde aflei dat hulle onder die vaste indruk verkeer dat hulle 'n ontmoeting met die onheilspellende Spook van Silwersand gehad het.
| |
Die Lyfband van Juwele
Op weg huis toe, na die sonderlinge ontmoeting aan die strand, val dr. De Ridder 'n herinnering te binne: onder die dokumente aangaande die geskiedenis van Silwersand was daar een wat hy opsy gesit het as van besondere belang en wat hy dus dadelik wou deurgaan. Dit was 'n verslag omtrent die vergaan, 'n paar eeue gelede, van 'n groot skip in die nabyheid van Silwersand. Silwersand was oorspronklik die eiendom van 'n gewese amptenaar, vroeër in diens van die Hollands-Oos-Indiese Kompanie, by name Olof Bergh. Hy was 'n oujongkêrel wat, na sy aftrede uit aktiewe diens, die grond gekoop en die huis gebou het wat nou die eiendom van dr. De Ridder is. Hier het hy met enige slawe kom woon en die erebetrekking van kusbewaker beklee, wat hy self klaarblyklik as van geen geringe belang beskou het nie. Dit was sy langdradige, maar nietemin interessante verslag van die skipbreuk wat dr. De Ridder onder die ou argiefdokumente gevind het en wat hy nou dadelik wou deurgaan. Die pas afgelope gebeurtenisse het 'n opgewondenheid veroorsaak wat min belofte van slaap meegebring het en daarom het hy, sodra hy en Tarries weer veilig binnenshuis was, die ou dokument opgesoek en hom voor die groot vuur gemaklik gemaak en sy studie van die verslag begin. Die heer Olof Bergh was altyd statig en indrukwekkend, as hy niks anders was nie. Dit was wat die professor met aansienlike moeite ontsyfer het:
‘Aan den HoogEdele Welgeboren Heer,
Gouverneur van de Cabo Esperance.
Excellentie!
Vervolgens Instructieën vervat in Letteren de dato 29 Junij mij overhandigd door eenen postbode van Edelgestrengen heer Secretaris van den Politieke Raad, heb ick de eer aan uwe Excellentie te submitteeren Relatie van Gebeurtenissen hier voorgevallen op den 9 Junij jongstleden.
Het de Sabbat zijnde was ick vroeg smorgens Binnenshuis met mijn particuliere Devotieën bezig, tezamen met vier mijner Slaven. De Vijfde, de oude Abdol Jozef, die stoutelijk weigert om aan de Exercitieën van de Religie deel te nemen, was op het Strand met Reparatie van de visnetten of met de Obsceniteiten van zijn zoogenaamd Geloof bezig, toen wij hem luidkeels hoorden uitroepen. Op het Strand gekomen zijnde zagen wij boven zee in het Oosten de Wimpels en opperste Takel van een groot volschip. De wind was van Z.W. desmorgens
| |
| |
naar W. gewend, en was toen tot eenen forsche bries aangewakkerd met eene stormende Zee en ontzettende Branding uit het Zuiden. Op deze Wending zou het Schip ons Strand moeten naderen voor naar het Zuiden op te zetten, en die oude Abdol Jozef, een geoefende zeeman zijnde, heeft mij toen reeds vertelt dat het Schip in grote Moeilijkheid verkeerde en dat 'n Gevaar noodzaaklijkerwijze zou moeten toenemen bij het naderen van het Strand, voordat zij de Zuidelijke Wending zouden kunnen aanvaarden, de Mogelijkheid waarvan hij ten sterkste betwijfelde, den bestaanden Wind en den Stroom in Oogenschouw nemende.
Ick gaf dadelijk bevelen om touwen, vaten en alle bruikbare voorwerpen op het Strand te verzamelen.’
Die verslag gaan voort om die worstelende nadering van die skip te beskrywe, en dan vertel die heer Bergh aan die Goewerneur:
‘Om het Voordeel van den evenaarlijken Stroom - die hier tegen aan onze Kust van O. naar W. loopt - te behouden, heeft het schip tegen ondergang van de Zon zoo na aan de rotsen van Zilverene Zand gestevend, dat het vaartuig toen reeds volgens bescheiden Oordeel in het uiterste gevaar verkeerde. Beide Schipper en Loods scheenen door eene roekeloosheid gedomineerd te zijn die ons - op het Strand hulpeloos staande het Schouwspel aan te staren - met een sprakeloze siddering vervulde. De vermetelde tuigage die zij onder de wimpels in zulk eenen Storm aanhielden, zouden wij niet hebben geloofd indien wij haar niet met eigene Oogen aanzagen. In den grote Schoot waren er slechts twee Riffen en zelfs het Kruisstengzeil hing onverminderd dwars in den wind.
Het schip was breed van Romp met hoge Voor- en Achter-steevenen, en wat mij met de grootste Verwondering beving, was de ontzettende Bewapening die aan ons zichtbaar was. De Volle Laag op ieder der twee Verdekken bestond uit niet minder dan zestien zware Vuurmonden, terwijl op beide Vooren Achter-steevenen er Stukken van geel koper te zien waren, minder in Mondruimte maar van eene lengte die het Schip, voor beide Aanval en Vlucht, een buitengewoon bereik zouden verschaffen. Wij kregen alleen de volle Laag aan Lijen in zicht, maar dezelfde Hoeveelheid Stukken zullen natuurlik aan Loefzijde gevoerd worden.
HoogEdel Gestrenge Heer, uit den ontroerden Toestand van mijn Gemoed, welken aan Uw Edel Gestrenge licht begrijpelik zal zijn, ontwarden zich zekere Gedachten en Suspicieën, dewelke het een Verslaggever van mijne Vocatie niet betaamt van de daken der huizen uit te roepen, maar dewelke in mijn nederig en bescheiden Oordeel binnen de Bakens van mijnen plicht vallen, om onverwijld en onder de vertrouwelike Relatieën die ex officio bestaan tussen Uw HoogEdele en mij, als Custos Honorarius dezer Kust, bekend te stellen.’
Die ‘gedachten en suspicieën’ van die wakker kusbewaker word na 'n nog breër omslagtigheid as volg uitgedruk:
| |
| |
‘Het schoot mij te binnen, dat hier een grotere Krachtvertooning en Bewapening was dan wat een eerlijk en fatzoenlijk Handelsschip, zelfs in de verste Oostelijke Zeeën, van noode had. Ick herinnerde mij ook gehoord te hebben, dewijl ick nog in dienst was bij de Hoog Mogende, de Compagnie, dat er verschillende schuilpoorten bij de Malagazen door zekere verdachte schepen aangehouden werden, dewelke op de Reis na Indië onder het Masker van Handelsvaartuigen voortsteevenden, terwijl zij op de Terugreis in de Schuilpoorten zich ophielden onder het voorwendsel, den Bodem van het Schip van Schelp te zuiveren maar in Werkelijkheid op de Loer Zittende om zwakkere en onwetende Schepen te overvallen en, na beroving, met man en muis in den Grond te booren. Uw HoogEdele hiervan behoorlijk verwittigd zijnde, zal de zaak voorhanden naar Uw goeddunken behandelen en desnoods de Vierschaar doen spannen over den eenen Overleevenden van dit vaartuig, waarvan hierin later de bijzonderheden aan U HoogEdele zullen voorgelegd worden.’
Mnr. Olof Bergh het dus - toe hy hierdie verslag aan die goewerneur gedoen het - sterk redes om te vermoed dat die skip niks anders as 'n verdekte seeskuimer of seerower was nie, en hy gee selfs aan die hand dat ‘de eene overlevende’ in die Kaap tereggestel moet word om die saak op te klaar. Dit was 'n baie onpraktiese voorstel van die heer Olof Bergh, soos uit sy verdere verslag duidelik word.
Die dokument wat dr. De Ridder aan lees was, het bestaan uit 'n fotografiese faksimilee van die oorspronklike en die verdere gedeelte van die interessante verslag was só verweerd dat die dokter dit alleen met die grootste moeite kon ontsyfer. Die trant van die verhaal was maklik om te volg - en met sekerheid, want die wakker kusbewaarder was, in die mode van sy tyd, 'n weinig omslagtig - sodat dié dele wat onleesbaar was, waarskynlik nie van onmisbare betekenis was nie.
En juis hier kom ons tot die belangrikste, die boeiendste en tegelyk die mees dramatiese gedeelte van die verslag aan die goewerneur. Die toestand van die dokument maak dit wenslik om die verhaal kortliks in Afrikaans verder te vertel, liewer as om dit in verouderde Nederlands onveranderd weer te gee.
Net by sononder was die groot skip só na aan Silwersand dat die manskappe op dek duidelik sigbaar was aan die heer Bergh en sy vier slawe wat nog steeds besig was om die vure aan brand te hou en hul primitiewe reddingstuig sover moontlik slagvaardig te maak.
Die skip was feitlik binne die kusbranding voordat enige poging gedoen is ‘om naar Loefzijde om te wenden’. Enorme branders gaan oor die voorstewe, ‘dan te Lij dan te Loef’, wat aan die sidderende toeskouers die indruk gee dat met elke duik van die skip alles van boord gespoel sou word. Aan die roer was vier groot, fors seelui, almal met toue om die lyf aan die boom van die stuur vasgebind. Al vier is momenteel diep begrawe onder die seë wat oorkom.
| |
| |
‘Wij hoorden de Boeg Kreunen tegen de Zee, nu te Loevert dan aan Lij’, vertel die heer Bergh. Ook die ander seelui op dek was met toue om die lyf aan die mas en verskansing vasgebind.
Die enigste sigbare mens aan boord wat, sonder tou of beskutting van enige aard, teen die woedende seë onbeskerm gestaan het, was die kaptein. En van hom gee die heer Bergh ons 'n merkwaardige en lewendige beeld. Hy staan onder 'n ‘stulp’ of klein afdak op die hoogste gedeelte van die agterstewe. Nieteenstaande die hoogte van die agterstewe-bodek het 'n brander hom af en toe onder die arms geneem ‘en van Bakboord naar Stuurboord met groot Geweld geslingerd’. Dit was alleen die reusagtige grootte en klaarblyklike krag van dié man wat hom van gewisse ondergang bewaar het. Hy het die heer Olof Bergh aan tekenings herinner van die ou Noorse Wikings wat hy ‘in het Vaderland’ gesien het toe hy 'n kind was. Die man was blootshoofs met 'n ‘helm van rood haar’ wat van agter in 'n vlegsel met 'n strik gebind was. Daarby was 'n lang, ruie bos rooi baard, ‘die als Wimpels aan elken kant in den Wind sloegen’; hoë, wye laarse wat tot bokant die knieë reik ‘en de man droeg 'n Zijdegeweer (zwaard) zoo groot dat het door eenen man van gemiddelde kracht alleen tweehandiglijk bruikbaar zoude geweest zijn’. Hy het 'n stem soos dié van 'n trompet gehad wat bo die dondering van die see en wind aan die toeskouer op die strand hoorbaar was. Hulle kon hoor toe hy die bevel onder 'n stroom afgryslike vloeke uitbulder om ‘om te wenden’. En dit was hoog tyd; die groot skip was binne 'n paar tree van die gevaarlike rif van Silwersand. Wat Olof Bergh gevrees het, het dadelik gebeur toe die roer omgesit word om die skip op die suidelike wending weg van die kus te neem. ‘Met vreeslike gekraak kwam de Kruisstengra met al zijn tuig naar beneden, en het zeil vladderde in honderde stukken in den Wind.’
Nietemin gaan die skip om, nadat dit lank gelyk het of die groot vaartuig ‘voor den wind in verval zoude geraken’. Maar onmiddellik daarna gebeur 'n groter ongeluk. ‘De Grootschoot rukte uit zijn Wanten in stuk en vladderde weg in de Smokerigheid als 'n reuzen Zeemeeuw over de Branders.’
Kort daarna sien die toeskouers 'n groot straal vuur van die agterstewe van die skip uitbars. Dit was toe so donker dat die vaartuig slegs af en toe sigbaar was. Kort nadat hulle die vuurslag gesien het, hoor hulle 'n dowwe, skuddende knal wat dadelik aan die ou seelui aan wal die bewys lewer dat die kaptein waarskynlik self die kanon op die agterstewe afgevuur het. Maar waarom? Die roekelose ou skipper sou goed genoeg geweet het dat daar geen sprake van hulp van hulle kon wees nie. Om hul skuit deur sulke branding vlot te kry, was bo alle menslike krag. Die ou visserslaaf het nie lank oor die betekenis van die sein getwyfel nie. ‘Die kaptein gee te kenne dat daar een of meer manskappe oorboord is en versoek ons aan strand om uit te kyk ingeval een of meer van hulle die geluk mag hê om uitgespoel te word.’
| |
| |
‘En niet lang daarna,’ so gaan Olof Bergh voort, ‘gedurende een kortstondig Sursceance in het Geweld des Winds hoorden wij een jammerlijk geroep en gekerm uit de Zee,’ wat hom 'n koue slag deur die hart gegee het, want hy wis hoe min kans daar was dat enige mens uit die see lewendig aan wal sou kom.
En nog 'n paar minute later was hulle verplig om die laaste vreeslike bedryf in die verskriklike tragedie te aanskou. Alles het skielik opgeklaar asof die natuur homself vir die uiteinde voorberei. Die skip was net in die stroomontmoeting wat Olof Bergh toe reeds geken het as die Draaikolk waar daar 'n gedurige afwisseling is van dynserigheid en helder weer. Die skip was toe 'n onregeerbare wrak, terwyl die meeste maste en seile in die water sleep en sy dryfkrag so verminder dat elke brander dreig om hom onder te sleep. Bo-op die voor- en agterstewe kon hulle die bemanning in swart klompies soos halfverdrinkte rotte sien vashou en Olof Bergh het hom verbeel dat bo die gedrom op die agterstewe, hy nog die reuse-gestalte van die kaptein kon sien opkom met 'n beweging van liggaam en arms wat hom die indruk gee dat die ongelukkige man nog besig is om bevele te gee, terwyl hy verskriklik vloek omdat hy die bemanning nie kan dwing om die skip van die gevaarlike puin los te kap nie. Maar dit was blote verbeelding, want op dié afstand kon Bergh niks meer hoor nie.
En toe vang 'n ontsettende see die skip dwars onder die boeg. Hoër en hoër styg die voorstewe, terwyl die ongelukkige skepsels wat daar 'n kortstondige skutpoort gevind het, die een na die ander aftuimel om deur die onversadigbare see opgeswelg te word.
En toe begin die vreeslike duik, nadat die see die ewewigspunt van die romp verby was. Hoër en hoër lig die agterstewe om dieselfde toneel te herhaal wat die toeskouers pas tevore op die voorstewe gesien het. Maar dié keer is daar geen herstel van die gedoemde vaartuig nie. Minute lank skyn dit regop in die water te staan en toe, met lome traagheid, begin die skip sy reis na die diepte aanvaar. Weer kon die ontroerde toeskouers 'n laaste jammerlike weeklag bo die gedruis van die branding hoor. Maar daar was 'n skielike einde aan die langgerekte marteling van die bemanning, toe die skip die laaste duik neem en die waters van die Draaikolk vir ewig oor hom sluit.
Olof Bergh het besluit om sy slawe die hele nag deur die vure aan brand te laat hou en noukeurig die kus te bewaak. Terwyl hy besig was om hierdie bevele te gee, sien een van sy vissers 'n donker voorwerp in die branding naby die strand. Beide wind en stroom het daartoe bygedra om die voorwerp vinnig in te dryf. Binne 'n paar tellings kon een van die slawe wat die see met 'n tou om die lyf ingegaan het, die drywende ding in hande kry en met oorhandigde toue vasbind. Toe dit eindelik strand, blyk dit 'n stuk van 'n rou (of kruismas) te wees, met 'n man daarop vasgebind. Die vissers het hom spoedig losgemaak en uit op die droë langs een van die vure gedra. Hy blyk toe 'n man te wees in die middelleeftyd. Hy was ten volle geklee en dit was aan die seelui duidelik dat hy 'n tou
| |
| |
om sy lyf gehad het toe hy oorboord geslinger is, en dat hy homself met een slag om die mas vasgebind het. Hy moes derhalwe die man gewees het vir wie die kaptein die kanon afgevuur het.
Aan sy fyn kleding kon Bergh sien dat hy geen gewone matroos was nie. Hy was waarskynlik eerste of tweede koopman aan boord. Die man was intussen bewusteloos en terwyl die vissers die toe gebruiklike middele aanwend om drenkelinge by te bring, merk een van hulle 'n breë lyfband van geel leer om die lyf van die geredde man onder sy klere vasgegespe.
Olof Bergh, wat hom die pligte van sy amp herinner het, het die band dadelik - met sy slawe as getuies - losgegespe en in bewaring geneem. En toe merk hy dat die band 'n lywige en swaar inhoud het wat klaarblyklik van waarde moet wees, gesien die sorgvuldige bewaring wat die drenkeling dit werd geag het. Bergh het dadelik 'n slaaf huis toe gestuur om sy dagboek, inkhoring en 'n bos gansvere te haal. Hy het besluit om die inhoud van die band behoorlik aan te teken.
Intussen het hy die sak van die band losgegespe, sy halsdoek op die sand uitgesprei en die inhoud daarop uitgeskud.
Die gewese beampte van die Hoogmogende kon 'n uitroep van verbasing nie onderdruk nie, toe die inhoud van die band in die flikkerende lig van die vuur te voorskyn kom. Op die uitgespreide doek val die een tros na die ander van die pragtigste juwele wat die lig van die vlamme in duisende kleure skitterend weergee. Nooit in sy lewe het Olof Bergh sulke skatte byeen gesien nie. Hy kon hom altyd net voorstel dat sulke pragstukke die eiendom van keisers en konings kon wees. Daar was saffiere, blouer as ooit die Middelsee 'n opvarende toeskyn; smaragde, lewend groen soos die eerste druiwelower in die begin van die somer, enkele stuk was om 'n diamant gemonteer, die een groter en pragtiger as die ander, almal so helder soos bronwater, elkeen 'n verblindende son van flikkerende strale in die lig van die vuur. Die gedagte het by Olof Bergh opgekom dat 'n mense-oog nooit tevore sulke juwele gesien het nie as alleen toe die Engel op die eensame eiland die mure van die Heilige Stad aan die Mees Geliefde Apostel vertoon het.
Uit 'n aparte afdeling van die band kom tweehonderd goudstukke - Portugese munt - te voorskyn.
Terwyl Olof Bergh met die tel en rangskik van die skat besig is, kom die geredde man skielik by. Hy bekyk die kring donker gesigte om hom, totdat hy die witman in gesig kry wat langs hom op die sand met die skat op die doek tussen hulle kniel. Bergh verhaal dat toe die drenkeling alles begin verstaan, hy skielik een hand uitgestrek en met grypende vingers oor sommige van die juwele gesluit het, terwyl hy Bergh met 'n blik van gemengde nyd en vrees aanstaar. Hy moes hom gewis nog in die kloue van die dood gevoel het en tog was sy siel, tot uitsluiting van alles anders, reeds weer met sy aardse skat besig!
| |
| |
‘Kan jy Hollands praat?’ vra Bergh hom waarop hy bevestigend knik, ‘tot spreken nog onvermogend zijnde’. En toe neem die wakker kuswagter die geleentheid te baat om die drenkeling 'n sedeles voor te lees. Hy het hom eers die versekering gegee dat hy hom nie tussen barbare bevind nie, dat sy skat veiliger as onder sy eie bewaring is. Hy het hom gevra of hy hom herinner toe min dit geskeel het of hy en sy skat was nou albei op die bodem van die see, waar hulle sou gelê het tot die aanbreek van dié dag, wanneer die Twee Boeke geopen sou word ‘en de zee de dooden geeft die in haar waren’. Die drenkeling het hom stip aangestaar terwyl hy die prekie lewer, maar nooit sy hand van die juwele verroer nie. Toe hy sover herstel was dat hy kon praat, was sy eerste - en aanhoudende - eis dat die juwele en goudstukke in die band teruggesit en weer om sy lyf gegespe moet word. Hierin het Bergh, al het hy geaarsel, hom tevrede gestel en hom toe deur sy slawe na sy huis laat dra, waar hy behoorlik tot sy algehele herstel versorg is.
Die storie wat hy eindelik aan Olof Bergh vertel het, is die volgende: Sy naam is Jonas van der Poel. Hy is aan die Kaap gebore, maar het as jongeling na Indië vertrek, waar hy later die pos van tweede koopman in diens van die Kompanie beklee het. Hy was met 'n Javaanse vrou van hoë rang getroud wat ongeveer 'n jaar gelede oorlede is. Toe het hy besluit om na die Kaap terug te kom. Hy het op die skip De Zeven Maagden ingeskeep, nie as passasier nie, maar as eerste koopman. Die bemanning en kaptein van die skip was Hollands, maar dit het onder die vlag van die Vrye Duitse stad Hamburg geseil. Die naam van die kaptein was Jan de Roode Beest van Buren, maar in sy handelswerk in Indië het hy, om 'n onbekende rede, 'n ander familienaam aanvaar, naamlik Jan van Staten.
Op die terugreis na die Kaap het hulle by die Ses Eilande aangegaan om die skip in 'n baai wat die kaptein ken, te strand en die bodem van skulp te suiwer. Dit het weens die grootte van die skip, die aantal swaar kanonne en die gewig van die vrag verskeie maande geduur. Net een week nadat hulle die skip weer vlot gehad het, het 'n groot, gewapende skip in die ingang van die baai verskyn en toe hy binnekom die Hollandse vlag gehys. Die inkomeling was 'n Spaans-Portugese seeskuimer wat klaarblyklik onder die indruk verkeer het dat hul skip nog nie seilree is nie. De Zeven Maagden het die vlag van Hamburg getoon en De Beest van Buren het heimlik alles slagvaardig gemaak, want hy het die nuwe besoeker nie vertrou nie. Die seerower het tot in die middel van die baai gestewe waar hy geanker en hom klaargemaak het om op sy gemak De Zeven Maagden te verpletter. Nouliks het die vreemdeling sy volle laag in die rigting gevoer of die Hollandse vlag kom na benede en die swart vlag word aan die fokkemas getoon en een kanonskoot as eis tot oorgawe in die rigting van De Zeven Maagden gelos. Maar voor hy sy volle laag kon los, was De Zeven Maagden onder volle seil, want die anker is los gekap en binne 'n paar tellings het hy die
| |
| |
voordeel van die wind gehad. In alle haas het die seerower sy seile weer begin hys, maar voordat hy van die wind gebruik kon maak, het De Zeven Maagden hom 'n volle laag skuins van agter gegee, terwyl hy self buite bereik van die seeskuimer se kanonne was. Die laag het die vreemde skip so tussen wind en water belemmer dat hy in sinkende staat op loop gegaan en op die sand gedryf het waar die bemanning dadelik in skuite geland en die bosse ingevlug het.
De Zeven Maagden het 'n ryk skat aan boord van die rower gevind wat die kaptein, volgens reël onder die bemanning, na rang verdeel het.
Dit is die storie wat Jonas van der Poel aan die heer Olof Bergh vertel en laasgenoemde omslagtig aan die goewerneur gerapporteer het. Die band juwele was Van der Poel se aandeel van die verowerde skat. Bergh het in vertroue aan die goewerneur bekend gemaak dat hy niks van die storie glo nie; hy vermoed dat De Zeven Maagden 'n gemaskerde seeskuimer was en dat die skat die gevolg was van rowery en moorde op die Oostelike seë.
Van der Poel is later na die Kaap, waar sy sake en dié van die vergane Zeven Maagden grondig deur die Raad ondersoek is. Hieruit het 'n sonderlinge verhaal gespruit. Van die beweerde seerowery was daar nie genoegsaam bewys om Van der Poel tot verantwoording te roep nie, maar uit Batavia het intussen berigte ter hand gekom dat Van der Poel se inboorlingvrou in omstandighede oorlede is wat die sterkste suspisie regverdig dat sy deur haar man vermoor is ter wille van 'n aansienlike skat juwele wat sy van haar vorstelike familie geërf het. Op hierdie beskuldiging het Van der Poel feitlik in die Kaap tereg gestaan, maar die getuienis was onvoldoende, selfs om sy terugsending na Batavia te regverdig. Hy is onskuldig verklaar, sy juwele aan hom teruggegee en kort daarna is hy terug na ‘die Vaderland’, waar hy die skat in gangbare munt omgesit het. As 'n ryk man is hy terug na die Kaap, waar sy eerste stap was om die grond wat aan Silwersand grens, te koop, 'n groot huis te bou en 'n boerdery op groot skaal op tou te sit.
Tot sover het dr. De Ridder dié nag die verslag van Olof Bergh gelees. Daar het bladsye makeer, maar daar was 'n aantekening van die navorser wat na ander dokumente verwys het wat op die verdere geskiedenis van die Van der Poel-familie van Zuiderzicht betrekking het. So diep was nou die belangstelling van dr. De Ridder dat hy dadelik die genoemde dokumente onder die dokumente wat hy van Kaapstad ontvang het, opgesoek en noukeurig deurgelees het. Nooit het hy gedurende sy hele lewe met 'n meer tragiese geskiedenis kennis gemaak nie. Ongeluk, moord, manslag het mekaar deur die eeue heen, met die reëlmatigheid van agtereenvolgende bedrywe in 'n Griekse treurspel, gevolg. Dit was moeilik om aan te neem dat een familie deur 'n blote toevallige sameloop van omstandighede so geteister kon word. Dr. De Ridder was geneig om te glo dat daar een voortlewende oorsaak was vir al die verskriklikhede wat in die een geslag na die ander van hierdie familie voorgeval het. Sy groot kennis
| |
| |
van abnormale sielstoestande - wat meestal erflik is - het hom toe reeds 'n natuurlike teorie aan die hand gegee. Dat daar so iets as 'n vloek oor die geslagte van 'n familie kan opereer, het sy wetenskaplike opleiding dadelik verwerp. En tog! ...
Hy het begin deur 'n lys te maak van party van die merkwaardigste gebeurtenisse in verband met die familie Van der Poel en die plaas Zuiderzicht wat sy navorser uit die argiewe versamel het, waarskynlik onder die vermoede dat al die merkwaardighede van sy naaste bure vir die nuwe eienaar van Silwersand van belang sou wees, nieteenstaande hy alleen die geskiedenis van sy eie ou woning verlang het. As dit die vermoede van die navorser was, het hy hom nie vergis nie! Dr. De Ridder het soveel van belang in die dokumente gevind dat hy dieselfde nag nog 'n begin gemaak het met die opstel van 'n meer samehangende geskiedenis as wat deur sy oorspronklike lys gebeurtenisse verskaf is en wat nou volg, is hierdie baie verkorte storie van bloed en geweld, soos deur dr. De Ridder saamgestel. Net die vernaamste voorvalle en alleen dié waarin lede van die familie self betrokke was, word vir ons doel gebesig.
Die dokter het dadelik opgemerk dat die herinnering aan die ‘Spookskip’ in die loop van die jare so vas aan die familie verbonde geraak het dat hy herhaaldelik in die dokumente sy verskyning maak - altyd as 'n verskriklike voorbode wat ramp en bloed voorspel aan die familie Van der Poel van Zuiderzicht. In sommige van die later dokumente verskyn vir die eerste maal dié benaming van die skip: Die Vliegende Hollander, waarskynlik omdat die ware naam van die vergane skip, De Zeven Maagden, toe al vergeet was. Party formele verhale van ware gebeurtenisse, meer as honderd jaar na die vergaan van die skip, gee selfs aan die hand dat die eerste Jonas van der Poel van Zuiderzicht eienaar en kaptein van Die Vliegende Hollander was, dat hy 'n wrede seerower was wat duisende mense op die grusaamste wyse vermoor het; dat hy deur Sataniese hulp gered is toe die skip naby Silwersand vergaan het en dat hy enige jare lank met sy bloedbevlekte skatte in Zuiderzicht 'n toevlugsoord gevind het. Maar voor sy dood was hy gedoem om sy vonnis te volvoer: om met sy skip tot die Oordeelsdag, sonder ooit rus te vind, al die oseane te deurseil. Só verward raak die geskiedenis in populêre geheue binne 'n paar eeue!
Dit was die ou geskiedenis soos dit in die volksmond voortgelewe het. Net so verward, onwaar en dikwels lasterlik was die storie van later gebeurtenisse in verband met die familie, soos dit in volkstradisies voortgelewe het.
In 'n voorwoord tot sy opstel merk professor De Ridder op dat die waarheid in so 'n geval van die uiterste belang is, omdat dit onmoontlik sou wees vir die wetenskap om die oorsaak van al hierdie geheimsinnighede te vind, as die ontleding van onwaarheid moet uitgaan.
Hier volg die hooftrekke van dr. De Ridder se storie, wat meestal uit offisiële dokumente geneem is.
| |
| |
Die oorspronklike Jonas van der Poel het in die Kaap die naam van 'n buitensporige vrek gekry. Onder die wedervaringe het hy altyd sy geld vasgehou en die bedrag meer as verdubbel deur sorgvuldige geldskietery wat hy op tou gesit het en destyds die plek van 'n bankiersaak ingeneem het. Die storie van sy vrou se dood in Indië het hom steeds aangekleef en hoewel hy in staat was om sy onskuld tot bevrediging van die gereg in Kaapstad te bewys, het sy bure hom steeds al hoe meer vermy. Die laster wat aan sy naam verbind was, het gegroei, totdat De Zeven Maagden ook in populêre gerugte as 'n seerower verskyn het en dat Jonas van der Poel met bloedbevlekte skatte waarvoor hy eendag swaar sal moet boet, uit die wrak gered is.
Hy was 'n taamlik bejaarde man toe hy die tweede maal getroud is en Kaapstad vir goed verlaat het om hom metterwoon op Zuiderzicht te vestig. Daar was een kind uit die huwelik wat, na die dood van sy ouers, as enigste erfgenaam opgetree en deur sorgvuldige ondernemings die fortuin van die familie aansienlik vergroot het.
In die derde geslag verskyn die eerste bloedvlek op die familiewapen (met uitsluiting natuurlik van die eerste Jonas van der Poel). Daar was twee broers: Jonas, die ouere, en Michiel Hendrik, die jongere. Laasgenoemde was geboggel en in ander opsigte mismaak. Die twee broers het die familiefortuin en Zuiderzicht onverdeeld om die helfte geërf. Dit word gesê dat altwee verlief geraak het op die dogter van een van hul vissers - 'n arm, onopgevoede meisie, maar van vermaarde skoonheid. Sy is met Jonas getroud. Michiel het Zuiderzicht verlaat en na Somersetstrand vertrek, waar hy 'n vissery op groot skaal op tou gesit het. Binne een jaar na Jonas se huwelik is hy en sy vrou een nag op die gruwelikste wyse in die woonhuis van Zuiderzicht vermoor. Die moordenaar het hulle in alle waarskynlikheid in hul slaap met 'n skerp byl doodgekap wat hy in die slaapvertrek gelaat het. Maar hy was nie met doodslag tevrede nie. Met 'n wreedheid wat alle besef te buite gaan, het hy albei liggame in klein stukke gekap en in die kamer rondgegooi. Dit word vertel dat die kamer só met bloed gedrenk was dat die meubels en die kiaathoutvloer vernietig moes word. Die jonger broer, Michiel Hendrik, is op Somerset in hegtenis geneem en van die moord beskuldig. Daar was verskillende omstandighede wat hom onder die sterkste verdenking geplaas het. Maar na 'n ondersoek en kruisverhoor wat maande geduur het, is hy onskuldig verklaar. Hy self en die hele bemanning van sy grootste skuit het verklaar dat Michiel die nag van die moord op see in die nabyheid van Valsbaai deurgebring het. Nie alleen is hy onskuldig verklaar nie, maar as enigste erfgenaam van sy vermoorde broer het hy volle eienaar van Zuiderzicht en die hele Van der Poel-fortuin geword.
Vyftig jaar later het die vrou van Antonie van der Poel junior haar dood gevind deur van Uitkyk-klip by laagwater op die rotse, veertig voet ondertoe, af te stort. Haar man was by haar en het 'n roerende verslag gegee van hoe die on- | |
| |
geluk gebeur het. Dit was bekend dat die egpaar 'n baie ongelukkige getroude lewe gevoer het. Antonie het sy vrou mishandel - so openlik dat bediendes en slawe dikwels getuie van sy wreedheid was. Hy is egter nooit van moord beskuldig nie.
Drie maande ná sy vrou se dood is Antonie weer getroud met die dogter van 'n bywoner op Zuiderzicht, twintig jaar jonger as hy.
Sowat twintig jaar later het Zuiderzicht en die Van der Poel-fortuin die eiendom van 'n neef van laasgenoemde, Jonas Michiel van der Poel, geword. Hy was 'n wamaker met 'n gesin van sewe kinders - altyd arm en gebreklydende. Die groot eiendom het hom onverwags in die hande gekom deurdat Antonie jr. sonder testament gesterf het. Jonas Michiel het die naam van 'n wreedaard gedra, en op 'n sekere dag is die hele gesin met uitsondering van die baba, wat deur 'n jong bruin vrou gered is, deur opstandige slawe vermoor. Die moordenaars het die berge ingevlug en later in Kaffrarië verskyn, maar is nooit tereggestel nie.
Dertig jaar later het die vreeslike Valkurie-moord op Zuiderzicht gebeur. Valkurie was die enigste dogter van Hendrik Jonas van der Poel, eienaar van Zuiderzicht. Sy was 'n besonder mooi meisie, maar by tye geneig tot godsdienstige neerslagtigheid. Daar was sprake selfs van 'n stryd. Sy was verloof aan die seun van 'n bemiddelde boer uit Koeberg. Later is gesê dat Valkurie aan buitensporige jaloesie gely het. In die loop van 'n nuwejaarsfamilievergadering op Zuiderzicht, te midde van 'n vrolike dans, het Valkurie haar aanstaande bruidegom met 'n slagterspriem deur die hart gesteek. In die geregtelike verhoor is jaloesie as die oorsaak genoem en deur beskuldigde erken. Haar vonnis was lewenslange verbanning na Robbeneiland waar sy haarself 'n paar maande later gedurende 'n aanval van godsdienstige delirium om die lewe gebring het.
Die laaste voorval waarvan in die dokumente melding gemaak word, is die dood van die grootvader van die teenswoordige eienaar van Zuiderzicht en die Van der Poel-familie. Hy het vroeg op 'n oggend - soos reeds vermeld - van Dassiekrans in die see gestort, 'n val van ongeveer tweehonderd voet. Hy was die laaste Van der Poel wat in besit van Zuiderzicht was. Die teenswoordige eienaar - herinner dr. De Ridder hom - is Petrus van der Byl, seun van laasgenoemde se enigste dogter, Amalie.
Van sy inbesitneming van Silwersand het dr. De Ridder baie van die ryk jong man gehoor - die erfgenaam van die Van der Poels - wat net nou en dan sy verskyning hier maak, maar tot dusver was hy nog steeds afwesig.
Dit was lank, lank na middernag, toe sit dr. De Ridder nog diep ingedagte oor die gebeurtenisse van die nag waarvan hy oor- en ooggetuie was, en die geskiedenis van die gedoemde familie.
Die wind het al aansienlik bedaar voordat hy klaar gelees het; alleen die don- | |
| |
derende gebrul van die verwoede see teen die Uitkyk-klip was duideliker hoorbaar. Die gebabbel van die volk in die kombuis het lankal geëindig en die huis was in die stilte van slaap gehul, toe loop die stroom van sy gedagtes in die rigting van die sonderlinge gedaante wat uit storm en duisternis so skielik aan hulle verskyn het, om net so skielik weer spoorloos op die strandjie te verdwyn. Die gedagte aan iets bonatuurliks het hy veragtend probeer verwerp, maar trots al die pogings van die wetenskaplik ontwikkelde professor het daar reeds 'n gevoel van geheimsinnigheid, van iets onuitlegbaars in sy gemoed posgevat. Aan die spookskip het hy geen geloof hoegenaamd geheg nie - al sou dit ook blyk die oorspronklike Vlieënde Hollander te wees. Hy kan maklik begryp hoe 'n sterk suggestie in so 'n legende kan voortlewe; hoe die een geslag na die ander die skip vaag en onduidelik te sien kry - 'n skip wat by ontleding waarskynlik daadwerklik in mis en wolkerag verander - die roerende en steeds verdwynende miswolke bo die Draaikolk van Silwersand, waar twee strome van verskillende hittegraad ineenvloei. Maar die man wat in die storm by hulle verbygehaas het, is iets anders. Hier is iets baie meer tasbaars en daarom meer onuitlegbaar. Wat het van hom geword? Was dit 'n geval van selfmoord? En watter ontsettende gemoedstoring was dit wat die man op dié wyse deur nag en storm gedryf het? So gering is die bevolking van die omgewing van Silwersand, so klein hul maatskappy dat dit maklik behoort te wees om die aankoms gister van die vreemdeling in hul midde op te spoor en op dié wyse sy identiteit agter te kom. Dit sal hy môre in die dag doen! In enige geval moet dit gedoen word; daar is selfs die kwessie of die saak nie by die naaste polisiepos aangemeld moet word nie. Met al dié vraagstukke lewendig in sy
gemoed, is dr. De Ridder bed toe, nadat die groot stompe op die kaggel in 'n met wit as bedekte kolegloed verander het en toe die dagbreek binne 'n paar uur sy verskyning sou maak.
| |
Jan de Roode Beest van Buren
Dr. De Ridder was te midde van 'n gevaarlike seegeveg; hy was in die klein visserskuit wat hy op Silwersand vir sy eie gebruik aanhou, gewapen met 'n pistool, terwyl sy teenstander aan boord van 'n groot tweedekker staan met 'n ry gapende ‘Vuurmonden’, waarvan elkeen in staat is hom met sy pistool en skuit op die koop toe, in te sluk. Op die gevaarlikste moment van die geveg verskyn in die boeg van die oorlogskip die wrede Jan de Roode Beest van Buren, wat hom luid toeroep: ‘Seur, hier is jou koffie ...’
Dit was helder dag, sy slaapkamer gevul met die sagte glans van die vroeë winterson; van die fel storm was daar geen teken meer nie. Voor die bed staan sy bediende, Tarries, met die oggend se koppie koffie.
Hy was reeds helder wakker toe het hy nog in sy geheue baie duidelik die
| |
| |
beeld van die Beest van Buren, soos hy die groot skipper in sy droom gesien het; die forse reus met sy ‘hoge laarzen’, sy ruie, rooi hare in 'n stywe vlegsel van agter en die wilde bos rooi baard wat, in twee verdeel, oor sy skouers ‘als Wimpels’ in die wind fladder!
‘Tarries,’ vra hy, terwyl hy die koppie van die skinkbord neem, ‘het jy ooit van die Roode Beest van Buren gehoor?’
‘Nee, seur; hier by ons is nie beeste nie; maar daar is rooi Afrikaners op die Groot Plaas; seur Van der Byl boer met hulle.’
‘Dit is nie juis dié soort bees wat ek bedoel nie. My jong, ons moet probeer om nader kennis te maak met die egte Roode Beest van Buren wat die hele nag tot netnou nog met my besig was!’
‘Ja, seur,’ antwoord Tarries terwyl hy die dokter verwonderd aanstaar. Hy het lank reeds alle pogings laat vaar om sy baas en party van sy uitlatings te verstaan.
‘Nou, Tarries, om van die rooi os op die esel te klim - hoe lyk die jong meneer Petrus van der Byl, die eienaar van die Groot Plaas?’
‘Hoe lyk hy, seur?’ - ná pynlike nadenke: ‘Hy lyk nes 'n witmens, seur.’
‘Goed gesê, Tarries! Dit sal my ten minste in staat stel om hom van 'n menigte Kleurlinge te onderskei. Maar dit is nie juis wat ek wou weet nie. Laat ons die ondersoek op 'n ander koers inslaan ... Tarries, die man, of gees, of gedaante wat ons gisternag in die storm gesien het, op wie het hy vir jou gelyk?’
‘Na wie het hy gelyk, seur? ... Dit het na 'n spook gelyk, seur.’
‘Natuurlik, Tarries, 'n spook kan nie anders as na 'n spook lyk nie. Maar het hy vir jou nie ook 'n bietjie na jong seur Petrus van der Byl gelyk nie?’
‘Hoe kan dit wees, seur? Baas Petrus is nie dood nie ... Nee, seur, baas Petrus lyk glad nie so nie en dra nie sulke doodsdoeke om sy lyf nie; en buitendien, seur, hy ken ons almal van kleins af. Hy gaan baiemaal op die skuit met Abdol, Knoppies en Gap om vis te vang. Hy sou ons dadelik by naam gegroet en met ons gesels het, want baas Petrus is dié keer lank weg van Silwersand.’
‘Nou ja, goed, Tarries. Ek sal nou opstaan en ná ontbyt gaan jy en ek die strand opneem. Ek wil sien of jy die spoor van 'n spook kan volg. Eers wil ek gou iets oor die Roode Beest van Buren lees; dan gaan ons na die plek waar ons die gedaante verlede nag teengekom het.’
Onder die dokumente wat dr. De Ridder uit die argiewe ontvang het en wat op die ondersoek insake Jonas van der Poel betrekking het, was daar stukke wat spesiaal oor die Roode Beest van Buren handel en so groot was die indruk wat sy droom van die vorige nag op hom gemaak het dat dr. De Ridder, dadelik na ontbyt, die dokumente weer opgesoek en alles gelees het wat op die lewe van die sonderlinge kaptein van De Zeven Maagden betrekking het.
Verskillende interessante feite het daarin voorgekom. In die eerste plek het
| |
| |
dr. De Ridder verneem dat die Roode Beest van Buren die regte naam van die berugte skipper was. Vir handelsdoeleindes het hy in die Ooste onder 'n ander familienaam gegaan, naamlik Jan van Staten. Een rede wat hier genoem is, was dat Beest van Buren so wyd bekend was as 'n seevegter in Europa dat dit hom in vreemde hawens, vér van die vaderland, mag benadeel en selfs in gevaar bring, as dit bekend word dat hy die beroemde Hollandse oorlogskaptein is.
Dit blyk dat hy as jong seun by die Hollandse vloot as adelbors aangesluit het. Spoedig het hy uitgeblink deur sy onverskrokke persoonlike dapperheid by elke geleentheid waar die Hollandse vloot slaags was en hy was maar 'n betreklike jong man toe hy die bevel oor 'n fregat gekry het en aan sy kruissteng die vlag van 'n Schout-by-Nacht kon voer. Sy roekelose dapperheid en uitmuntende seemanskap het in die vloot spreekwoordelik geword en daar was geen rang wat hy nie mettertyd sou beklee het as hy hom nie tegelyk deur sy verskriklike wreedheid, wat soms tot waansinnige buie gestyg het, berug gemaak het nie. Vyfhonderd slae met die kats en tien maal kielhaling was gewone strawwe wat hy op sy eie manskappe vir die geringste oortredings laat toepas het en dan was daar ook gerugte in omloop van geheime wreedhede op verowerde vyande gepleeg, wat so erg geword het dat die edelmoedige en dapper gesagvoerders van die Hollandse seemagte dit nie langer oogluikend kon beskou nie. Nieteenstaande sy skitterende seemanskap en die groot dienste wat hy reeds die vaderland bewys het, moes hy onder 'n wolk van oneer wat gestrek het om selfs die roem van sy dienste te oorskadu, die diens verlaat. Hy het in diens getree van die vrystede van Duitsland en uiteindelik in Holland vir hom 'n groot en swaar gewapende volskip laat bou wat hy in Hamburg as 'n Duitse Hansa-skip laat inskryf het en waarvan hy steeds die vlag gevoer het, nieteenstaande sy bemanning - kajuitjonge tot stuurman - Hollanders was. Sy skip was De Zeven Maagden en het spoedig in Oosterse waters beroemd geword. Hy het die Kaap verskillende male vir ‘verversingen’ aangedoen en waar hy gaan, het die gerugte van seeskuimery hom gevolg. Stories (afkomstig van sy eie seelui - so is vertel) van onuitspreeklike wreedhede het die ronde van hawe na hawe gedoen. Hy het nooit man of muis van 'n verowerde skip in lewe gelaat nie en seelui wat teenstand gebied het, is op vreeslike wyse in koel bloed
die lewe ontneem. Seker is dit aan sy vorige beroemdheid as krygsman alleen te danke dat hy nooit deur die Hollandse outoriteite in die een of ander hawe tot verantwoording geroep is nie.
En so is Jan de Roode Beest van Buren (of Jan van Staten) en sy berugte skip De Zeven Maagden byna driehonderd jaar gelede in die nabyheid van Silwersand voor die Hoogste Hof gedaag.
Is dit die vermaarde Vlieënde Hollander wat in die letterkunde van alle volke voorkom? Wat die romanskrywers, die digters, die skilders en musici van die hele wêreld 'n bron van inspirasie in alle eeue verskaf het?
| |
| |
Ná hy die stukke nogmaals sorgvuldig deurgegaan het, was daar by dr. De Ridder nie die minste twyfel dat die antwoord op hierdie vraag bevestigend moet wees nie.
Dit was 'n koue, helder oggend, met die wind nog uit die weste, toe dr. De Ridder en sy bediende, Tarries, na die klein strand van Silwersand loop om by daglig te kyk na die plek waar die ontmoeting met die ‘spook’ die vorige nag plaasgevind het. Van die hewige storm het alle tekens verdwyn. Die wind het tot 'n sagte luggie bedaar en ofskoon die see nog vol witkoppe was, was van die ontsettende branding van die vorige nag niks te bespeur nie. 'n Helder wintermôreson skyn neer op die water wat só blou is dat dit skyn asof dit met die skitterende kleursel van een van die ou meesters geverf is. So snerpend was die suidewindjie egter dat dr. De Ridder spoedig die afwesigheid van 'n grootjas betreur het.
Op die plek waar die ontmoeting met die sonderlinge gedaante plaasgevind het, kon die dokter hom spoedig daarvan oortuig dat daar in alle waarskynlikheid geen kans van spoorsny sou wees nie. Op die plek self was alleen 'n storing van die sand te sien wat deur wind en reën tot vormlose holtes vergroot is. Dit is op die plek waar die Kleurlinge die langste gestaan en rondtrap het. Daarvandaan in die rigting van die see het geen teken van 'n spoor oorgebly nie.
‘Ek vrees, Tarries,’ sê die dokter tot sy ywerige bediende, ‘dit sal vergeefs wees om hier vandag 'n spoor te soek - en dit nog daarby gesê, as nagburgers van dié aard enige spoor hoegenaamd nalaat, want dit word deur party geleerdes ten sterkste betwyfel.’
‘'n Spoor kan hy nie laat nie,’ voeg Tarries met groot plegtigheid by, ‘want hy dryf in die lug. 'n Voet bo die grond. As die seur opgelet het - dit was nes 'n dooie blaar wat die wind voortdrywe; hy het nie treë soos 'n mens gegee nie.’
‘Ek het nie so noukeurig opgelet nie, Tarries. En om jou die waarheid te sê, my indruk was dat jy ná sy skielike verskyning ook maar bloedweinig van die gedaante waargeneem het.’
‘Nee, seur,’ verseker Tarries plegtig. ‘Ek het mooi opgelet, vernaam sy voete. Ek wou sien of dit is soos die oumense sê: dat hy nooit grond raak nie. En dit was so, seur!’
Of dit 'n verbeeldingstoer of 'n leuen van Tarries was, het dr. De Ridder daargelaat, terwyl hy, deur die Boesman gevolg, na die strand aanstap.
Die rotse aan albei kante van die strandjie het hy noukeurig bestudeer en hom verseker dat niemand behalwe 'n geoefende atleet een van hierdie twee verskansings sou kan beklim - en dit nogal in die ondeurdringbare donker van 'n stormagtige nag. Al weg wat daar oorbly, is die see en hierdie moontlikheid het dr. De Ridder met 'n verwarring van gedagtes gadegeslaan. Waarom sou die man koelbloedig die see instap? Dat hy op hierdie wyse selfmoord sou pleeg, het vir hom hoogs onwaarskynlik gelyk. Buitendien was die gety so hoog
| |
| |
en die branding so geweldig, en die wind en stroom in die rigting van die strand, dat die liggaam dadelik weer sou uitgespoel gewees het; en die dokter het die vorige nag reeds vasgestel, toe hy die gedaante gevolg het, dat daar op die strand onmiddellik nadat hy by hul groepie verbygegaan het niks van die swaar geklede jong man te sien was nie.
Al wat dus oorbly, was om by die Groot Plaas en die De Villiers-woning ondersoek in te stel - die enigste twee huise van enige aansien in die buurt behalwe sy eie. Dit sou onmoontlik gewees het vir enige vreemdeling om Silwersand te besoek sonder dat sy reis en sy aankoms deur verskeie mense opgemerk word. So 'n ondersoek sou niemand aan blote nuuskierigheid kan toeskrywe nie, want die sonderlinge gedrag sowel as die verdwyning van die jong man onder sulke omstandighede het 'n ernstige plig op hom gelê om uit te vind wie die jong man was en wat van hom geword het.
Terwyl hy al die wendinge van die geheimsinnigheid ernstig oorweeg, het hy roerloos die majestueuse skouspel voor hom aangestaar. Hy kon as 'n werklikheid voel dat hy hier op die uiteinde van die bewoonbare wêreld staan. Voor hom strek skitterend blou met ontelbare wit kabbelings tot aan die horison, die grenslose, suidelike oseaan. Die naaste land in hierdie rigting is die groot ysbedekte vasteland waarin die suidelike as van die aardbol geleë is. Hy kon in sy verbeelding duidelik die magtige uitgestrektheid van ysberge sien wat statig noordwaarts seil, soos ontelbare vlote van monster-slagskepe wat die een na die ander in die warmer water van die ewenaar wegsmelt. Ná die wit eskadronne verskyn die ysvlaktes wat die Poolland omgord, daarna die duisende voet hoë yskranse en dan die magtige gebergte wat die Suidpool omring, met vuurspuwende monsters wat onophoudelik 'n vloed rook en gloeiende lawa in die veryste lug uit hul donderende ingewande uitasem.
En toe val hom te binne die beskrywing van Olof Bergh van die vergaan van De Zeven Maagden. Hier op dieselfde plekkie het hy en sy slawe die Sondagmiddag byna driehonderd jaar gelede gestaan om die verskriklike tragedie te aanskou. Dr. De Ridder kan die groot volskip helder in sy verbeelding oproep; weer kan hy die worsteling teen storm en see volg; en helderste van alles kan hy die reuse-skipper, De Roode Beest van Buren, op die agterstewe sien staan, met sy wilde bos rooi baard en gevlegte hare in die storm verwaai - soos hy in sy droom die vorige nag verskyn het. En hier is dit waar Jonas van der Poel aan wal gespoel is, later die enigste getuie deur wie die identiteit van die verlore skip vasgestel kon word. Soos die scenario van 'n rolprent het al die bedrywe van die groot toneel in die verbeelding van die dokter verbygegaan, met die werklike omgewing as 'n blywende agtergrond van die eeue-oue storie ...
Uit sy diep bepeinsing word dr. De Ridder tot die teenswoordige werklikheid teruggeroep deur 'n opgewonde uitroep van Tarries, wat nog al die tyd besig was om die oppervlakte noukeurig na te sien.
| |
| |
‘Hier is 'n spoor, seur! Hier het iemand die Uitkyk-klip uitgeklim!’
Dr. De Ridder was spoedig langs die Boesman, waar twee rye spore 'n kort afstand in die sand sigbaar is tot by die begin van 'n sloep waar dit moontlik is om sonder veel moeite die laer lyste van Uitkyk-klip te bereik. Dr. De Ridder het dadelik opgemerk dat die spore heeltemal vars is, nie eerder as dieselfde oggend gemaak nie, en so klein en fyn dat geen twyfel kan bestaan dat die spore deur vrouevoete nagelaat is nie; aan die sole kan hy sien dat albei rye deur netjiese damespantoffels gevorm is.
‘Dan het ons spook hier in twee verdeel, Tarries,’ sê die dokter spottend, ‘en moes hulle helder oordag gedwaal het, want die spore is nie meer as 'n halfuur oud nie.’
Tarries moet dit teleurgestel toegee. ‘En dit is klaarblyklik wit vrouens, want Abdol Daoed se vroumense loop natuurlik kaalvoet as hulle die strand besoek.’
Weer stem Tarries in en as bewys van dr. De Ridder se gevolgtrekking, hoor hulle skielik van die lys onmiddellik bokant hulle mensestemme. Van waar dr. De Ridder en Tarries staan, is die oppervlakte van die lys onsigbaar, maar toe hulle 'n paar tree nader aan die see stap, kom een eienaar van die stemme binne gesig van die dokter.
Op die laagste lys van Uitkyk staan 'n jong meisie in 'n donkerblou enkelstuk-swemkostuum geklee, haar hoof deur 'n gomlastiekmussie bedek. Helder teen die skone oggendlug afgeskilder, toon sy 'n skouspel so beeldskoon as wat die oog van 'n mens maar kan verlang. Selde in sy lewe het die jong professor sulke perfekte ledemate of so 'n suiwer belyning gesien. Só verrassend was die onverwagte verskyning van die jong dame dat al die gewone reëls van hoflikheid en beleefdheid by dr. De Ridder in die agtergrond van sy bewustheid verskuif is. In plaas van onmiddellik sy rug te keer en weg te stap, kan hy geruime tyd sy oë van die skoonheid nie afwend nie. So fris en lewendig het sy hom toegeskyn dat die eerste indruk was dat sy deel van die oggend en die see uitmaak en nouliks iets stofliks kan wees.
Sy maak klaar om van die lys te duik.
Daar is hier 'n klein inham in die Uitkyk-rots wat aan alle swemmers van Silwersand as 'n duikpoel sonder enige gevaar van vlakte of staande rots bekend is en die lys waarop die jong dame staan, is 'n geliefkoosde duikplank.
'n Rilling gaan deur dr. De Ridder se senugestel by die aanskouing van die jong meisie se houding en onder suggestie van die vreeslike koue indompeling waarvoor sy haar so sorgeloos gereedmaak. Dit is toe dat haar oog vir die eerste maal op hom val. Daar is 'n sigbare skrik wat dadelik verplaas word deur 'n glimlag van herkenning en met 'n vrolike handwuif wat dr. De Ridder geen kans gehad het om te beantwoord nie, trek haar skone en slanke gestalte van die hoogte af die see in. So glad was haar storing van die waterspieël dat daar
| |
| |
nouliks 'n spatsel sigbaar was. Voordat sy kon opkom, het dr. De Ridder haastig agteruit gestap om buite gesig van die vrolike najade te raak.
‘Wie is dit, Tarries?’ vra hy verwonderd aan sy bediende.
‘Dit is die nonnie Agulha, seur. Dit Withuis behoort aan haar. Sy is 'n weeskind en het die Withuis van haar ouers geërwe.’
Dadelik herinner dr. De Ridder hom alles wat hy reeds omtrent die afwesige eienares van die Withuis gehoor het.
‘Jy kan loop, Tarries,’ beveel hy die Boesman. ‘Ek sal wag en die nonnie hier ontmoet wanneer sy uitkom.’
Dit was onnodig om lank te wag. Klaarblyklik het selfs die najade die water vir 'n langdurige swemmery te koud gevind. Die dokter het skaars die lengte van die strandjie afgetree, toe hy die twee dames langs die sloep sien afkom. Een is 'n bejaarde vrou wat die steil weg so moeilik vind dat die jonger haar aan die arm na onder toe moet help. Die jonger swemmer is nog in haar badkostuum, wat nou egter gedeeltelik met 'n warm mantel bedek is. Toe hulle op die gelyk grond kom, gaan dr. De Ridder hulle beleef tegemoet en stel homself aan die jong dame voor.
‘O, ja,’ sê sy met 'n vrolike laggie, ‘ek het u dadelik geken. Ons het lank reeds gehoor van die nuwe inwoner van Silwersand, net toe u die ou Olof Bergh-huis gekoop het, en ek kan u verseker, dokter, dat ons gebrand het van nuuskierigheid om met die beroemde professor De Ridder kennis te maak. Van u loopbaan in Europa het ek selfs alles uitgesnuffel. Maar ek moet erken dat ek 'n ou man met grys baard en hare te wagte was. 'n Mens verwag dit by 'n professor. Dit was wat my 'n minuut laat twyfel het toe ek 'n jong man skaars ouer as ek self op die strand sien ... Dit is my tante ... ook juffrou De Villiers, maar aan die meeste as tant Cateau bekend.’
Ná die bekendstelling het dr. De Ridder die dames huiswaarts vergesel.
‘Ons het in die middel van die storm hier aangekom en tant Cateau het nouliks haar gestoorde senuweestelsel weer tot bedaring gebring na ons motorrit oor die strandpad. Ek moes jaag om voor hoogwater uit te kom, maar nogtans het verskeie branders oor die treeplank geslaan.’
‘Dit was verskriklik, dokter,’ val die ouer dame haar in die rede. ‘Net so roekeloos is sy met 'n motor. Ek het nooit verwag dat ons lewend sou uitkom nie.’ En sidderend gaan sy voort om al die wedervaringe van die nagtelike reis te verhaal wat Agulha met haar vrolike gelag begelei.
Die gesprek van die storm het dr. De Ridder tot die verhaal van die avontuur gevoer. Sy beskrywing van die verskrikking van Tarries en die drie vissers het by Agulha die grootste vermaaklikheid veroorsaak. Hulle is almal ou bekendes en sy kan maklik verstaan watter indruk die verskyning van die spookskip op hulle sou maak. Van die verskyning van die gedaante op die strand het dr. De Ridder tot dusver nog nie vertel nie.
| |
| |
‘U het gou met ons Vlieënde Hollander kennis gemaak, dokter. Was u so gelukkig om die skip self te sien?’
‘Tot my spyt nie. Mag ek verneem of u al die spook van De Zeven Maagden gesien het?’
‘Ek kan sien, dr. De Ridder, dat u alles van die Vlieënde Hollander weet. Ons is natuurlik baie trots op ons Vlieënde Hollander, wat aan Silwersand en aan geen ander land of see behoort nie, wat Wagner en al die digters en toneelskrywers ook al mag beweer. Ongelukkig moet ek ook erken dat ek in die grootste twyfel verkeer of ek die skip ooit werklik gesien het. Ek is hier in die Withuis gebore; vandaar my aaklige naam, Agulha - natuurlik 'n bose verbastering van l'Agulhas; en vandat ek kan onthou, is ek op stories van die Vlieënde Hollander gevoed. Toe ek oud genoeg was om meer nuuskierig as bang te wees, wat die spookskip betref, het ek dikwels in stormweer strand toe gehardloop om te gaan kyk net wanneer daar 'n beweerde verskyning van die spookskip was. Verskeie male het ek iets gesien wat my verbeelding op loop laat sit het, maar nooit een keer was ek heeltemal seker nie. En hierby kan ek u 'n geheim vertel: Ek sou maar te bly gewees het as ek my ooit van die werklikheid van die Vlieënde Hollander kon oortuig het!’
‘Dit herinner my,’ sê dr. De Ridder, ‘dat ek u nog nie alles omtrent my ontmoeting vertel het nie. As enige twyfel omtrent die Vlieënde Hollander bestaan het, dan was daar altans geen die minste twyfel omtrent 'n ander gedaante wat aan ons verskyn het nie.’ En omslagtig vertel hy die voorval van die verskyning en onverklaarbare verdwyning van die gedaante op die strand.
Om te sê dat die verhaal Agulha met verwondering vervul het, sou nie die volle waarheid wees nie. Sy het in die middel van hul wandeling gaan staan en die dokter met wydgerekte oë aangestaar terwyl hy die besonderhede van die eienaardige ontmoeting beskrywe. Hy kon haar wange sien verbleek en haar asemhaling het van 'n gemoedsaandoening getuig wat hy seker nie as gevolg van sy storie te wagte was nie.
‘U beskou dit in te ernstige lig, juffrou,’ sê hy toe hy gewaar hoe diep haar ontroering is. ‘U kan my plegtige versekering aanvaar dat daar geen sprake van iets bonatuurliks was nie. Die jong man was van vleis en bloed, en al wat in die voorval werklik storend is, is die wyse waarop hy so skielik weggeraak het. Ek was juis besig om die saak te begin ondersoek, toe ek die genot gehad het om u te ontmoet. Ek is van plan om dadelik navraag by die Groot Plaas te doen ... of so iemand daar aangekom het of enigsins bekend is.’
‘Ag, dr. De Ridder, aan 'n spook dink ek nie,’ is mej. Agulha se antwoord. ‘Dit is juis omdat ek weet dat dit 'n mens was dat die gebeurtenis my so verbaas laat staan. Daar is net een persoon wat dit kon gewees het en dit is die eienaar van die Groot Plaas, Petrus van der Byl, en hy word eers oor 'n week tuis verwag. Ek weet dit verseker, want ek het gister 'n brief van hom gehad.’
| |
| |
Sy het die woorde miskien onnadenkend gesê, want nouliks was hulle uit of 'n helder blos trek skielik oor haar pas verbleekte gelaat. Dit was genoeg om by die dokter die vermoede te wek dat daar 'n nouer band as blote vriendskap tussen Agulha en Petrus van der Byl bestaan - 'n vermoede wat, trots sy gewone filosofiese instelling skielik diep in sy gemoed 'n gevoel van afkeer teenoor die onbekende eienaar van die Groot Plaas gewek het!
So diep was Agulha se belangstelling in die gebeurtenis dat sy met die blote verhaal nie tevrede was nie. Sy het dr. De Ridder uitgevra en gekruisvra omtrent al die besonderhede, en vernaamlik omtrent die voorkoms van die onbekende persoon, totdat selfs tant Cateau haar attent moes maak op die ongepastheid van haar aanhoudende vrae.
‘Ek vra u om verskoning, dokter,’ sê sy toe, ‘maar as u hier so lank gewoon het as ons en so goed met almal in die nabyheid bekend is, sou u self die onverklaarbaarheid van die voorval insien. Mag ek u vra om ons te vertel van enige verdere ontdekking wat u omtrent die saak gedoen het. Ons sal bly wees as u die aandete by ons wil gebruik. Ons sal dan sommer 'n beter kans vir nadere kennismaking hê - want ek kan u vooraf verseker dat ek nog baie van u ondervindings in Europa en Amerika van u self wil hoor.’
By die groot hek van die Withuis het hulle afskeid van mekaar geneem en dr. De Ridder het die uitnodiging aanvaar.
| |
Die Soektog na die ‘Spook’ van Silwersand
Agulha de Villiers se reaksie op sy relaas van die ‘verskyning’ op Silwersand het die voorval vir dr. De Ridder nog geheimsinniger laat lyk. Sy afleiding was: Sy weet iets wat sy met opset verberg.
Hierdie vermoede het hom nog meer vasberade gemaak om dadelik uit te vind wie die vreemdeling was, wat van hom geword het en wat die oorsaak van sy sonderlinge gedrag is.
Met hierdie voorneme het hy onmiddellik ná sy ontmoeting met die twee dames na die Groot Plaas aangestap om sy voorgenome ondersoek daar te begin.
Dit was sy eerste besoek aan die ou Van der Poel-woning, wat hy voorheen net van 'n afstand teen die helling van die berge kon sien.
Die huis van Zuiderzicht was veel groter as sy vorige kennismaking op 'n afstand hom laat vermoed het. Dit was natuurlik in die gewone styl van dié periode, met hoë, wit gewels aan weerskante en 'n front met pleisterwerk versier. Die stoep was weens die helling waarop die huis staan so hoog dat 'n dubbele reeks trappe van meer as dertig voet toegang van onder verleen het. Tussen die trappe is 'n verwelf wat die deur bevat na 'n kelder wat onder die hele breedte en wydte van die ou huis strek. Agter teen die berg is 'n kruisvormige wynkel- | |
| |
der en 'n hele reeks buitegeboue, almal is dieselfde ou-Hollandse boustyl.
Oral op die werf kon hy bediendes aan die werk sien, en die luike en diamantruit-vensters van die woonhuis was oop. Dit het allesbehalwe soos 'n onbewoonde huis gelyk.
Hy het nouliks geklop of die voordeur word deur 'n netjies geklede jong Maleiervrou geopen, wat hom beleef vra wat sy vir hom kan doen, met die byvoeging dat meneer Van der Byl nie tuis is nie.
Die voordeur het onmiddellik toegang tot 'n enorme saal verleen, met 'n reusagtige kiaathout-eettafel as die vernaamste meubelstuk en aan die bo-ent was 'n musiekgalery met pragtig gesnede traliewerk, eweneens van donker kiaathout. Al die swaar meubels was van dié kosbaarste houtsoort. Dr. De Ridder het met die grootste belangstelling 'n glimp gehad van groot, met rooikoper beslane kiste, rusbanke en leunstoele van ebbe- en ander kosbare houtsoorte waarvan elkeen 'n museumstuk van die grootste waarde sou wees.
Terwyl hy die bediende ondervra na die moontlike aanwesigheid van 'n jong man wat hy min of meer beskrywe volgens sy herinnering van die voorkoms van die vreemdeling van die vorige nag, kom deur 'n sydeur 'n bejaarde dame die saal binne. Sy is in 'n ouderwetse drag van swaar, swart sy geklee, met 'n mus van wit kant op haar grys hare. In haar hand is 'n kierie met 'n kruisgeves van silwer waarop sy met elke tree swaar leun. Die bediende het dadelik die verdere onthaal van die besoeker aan haar oorgelaat.
Nadat dr. De Ridder sy naam bekend gemaak het, is hy met 'n sekere mate van statigheid deur die ou dame binnegenooi en 'n stoel aangebied. Nadat sy ook met aansienlike moeilikheid in 'n groot gekussingde leunstoel plaasgeneem het, het sy haar naam as mevrou Van der Poel, 'n groottante van die teenswoordige eienaar van Zuiderzicht, die heer Petrus van der Byl, aangegee.
‘Ek moet erken, mevrou,’ begin dr. De Ridder, ‘dat ek u neef hier te wagte was en dit was spesiaal om hom te ontmoet dat ek die besoek onderneem het.’
‘En mag ek verneem,’ vra die ou dame, ‘wat u laat dink het dat die heer Van der Byl tuis is?’
Dit het dr. De Ridder sterk voorgekom dat daar 'n sekere mate van skrik in haar houding is wat sy tevergeefs probeer onderdruk. Ook hierdie ontmoeting het gestrek om die gevoel van iets diep geheimsinnigs by hom te versterk.
‘Ek het gedink dat die heer Van der Byl tuis is, omdat ek verlede nag in die storm 'n onbekende jong man op die strand teëgekom het wat in omstandighede verdwyn het wat die plig op my lê om uit te vind wat van hom geword het.
Ek moet erken dat ek geen ander rede het om te vermoed dat die onbekende persoon die heer Van der Byl was nie, behalwe die feit dat daar geen ander inwoners van hierdie buurt is wat enigsins met die onbekende in voorkome ooreenkom nie.’
Daar is nou geen twyfel meer nie dat die verklaring van dr. De Ridder 'n ver- | |
| |
bysterende uitwerking op die ou dame gehad het. 'n Paar sekondes lank het sy tevergeefs probeer om woorde vir 'n gepaste antwoord te vind. Dit was asof sy skielik en onverwags 'n diep ongunstige of ongewenste berig ontvang het. Onwillekeurig het sy een hand oor haar hart vasgedruk, asof die slag van die slegte berig daar die hardste geval het. Uiteindelik kom die stotterende verklaring: ‘Ek kan u verseker, dr. De Ridder, dat dit nie my neef kon gewees het nie, omdat ons hom eers oor 'n week hier te wagte is ... U het waarskynlik verneem dat daar 'n algemene geloof onder die volk bestaan dat 'n dwalende gees af en toe sy verskyning op die strand, of in die nabyheid maak. Nie dat ek die minste geloof in die storie wil te kenne gee nie, maar dieselfde natuurlike oorsaak wat miskien oorspronklik die storie geskep het, het moontlik hierdie indruk verlede nag op u gemaak. In stormweer, te midde van reënbuie en drywende miswolke, is dit maklik vir die menslike verbeelding om gedaantes te voorskyn te roep.’
Voor die einde van haar suggestie het sy weer haar gewone statige kalmte teruggevind.
‘Ou dame,’ was die gedagte wat onwillekeurig by dr. De Ridder opkom, ‘wat jy nou sê, is 'n bedekte leuen, of iets baie na aan 'n leuen en die suggestie is 'n poging om die leuen 'n bietjie aanneemliker te maak. Maar ek het te lank ondervinding van menslike swakhede in hierdie rigting om my so maklik te laat koudlei. Sowel jy as Agulha de Villiers weet iets wat julle my nie wil vertel nie - waarom weet ek nie.’
Hardop het hy egter slegs sy spyt uitgedruk oor die onnodige storing wat hy haar veroorsaak het.
Hy was egter verbly om met haar kennis te maak en dit sal vir hom ook besonder aangenaam wees om die heer Van der Byl wanneer hy tuis kom, te ontmoet.
Stadig en met tekens van liggaamlike pyn het die ou dame haar uit haar leunstoel opgelig en daarmee te kenne gegee dat die onderhoud verby was.
‘Ons sal altyd bly wees om u op Zuiderzicht te ontvang, maar ons is maar teruggetrokke mense en my neef is in hierdie opsig byna 'n kluisenaar,’ was haar woorde, terwyl sy haar hand aanbied. Dit was 'n suggestie wat dr. De Ridder nie kon veronagsaam nie.
‘Met ander woorde,’ was sy stilswyende gevolgtrekking, ‘julle sal my veel licwer nie weer hier wil sien nie ... en dit is tyd vir my om te trek.’
Hy het sy ondervraging dadelik gestaak en mev. Van der Poel beleef gegroet en Zuiderzicht verlaat met sy besluit meer vasberade as ooit om uit te vind wie die jong man was en wat van hom geword het; en as Agulha en mev. Van der Poel in die een of ander geheim betrokke is, sal hy dit ontsluier, trots al die lydelike verset wat hom aangebied mag word.
Die gasvryheid van Agulha en haar tante wat dr. De Ridder dié aand in die
| |
| |
Withuis geniet het, het hom so diep binne die persoonlike dampkring van die jong dame gevoer dat alle ander gevoelens vir die eerste maal in sy lewe deur die gewaarwording van vroulike aantreklikheid verdring is. En Agulha was sonder twyfel iets heeltemal uitsonderliks binne die grense van sy ondervinding. Nie alleen is haar fynheid van gelaatstrekke en ledemate buitengewoon nie, maar daarmee was gepaard 'n gemoed wat in alle rigtings hom skitterend toegeskyn het. 'n Verstand lewendig en snel soos 'n druppel kwik op glas; 'n werklike gevoel vir humor wat selde in 'n vroulike gemoed tot so 'n peil van ontwikkeling geraak en daarby 'n mate van geleerdheid en opgegaarde kennis wat haar in staat stel om oor enige onderwerp met gegronde belangstelling te kan praat.
Slegs wanneer een onderwerp ter sprake kom, het dr. De Ridder huiwering en beskroomheid in die houding van die skitterende najade ontdek. By een geleentheid het sy dit selfs nodig geag om 'n uitleg van haar houding te waag.
‘U moet weet, Dokter,’ het sy gesê, ‘dat Petrus - of Pedro soos ons hom noem - en ek hier in die eensaamheid van Silwersand as broer en suster opgegroei het. Ons het as klein kinders saam skool toe gegaan en later al ons vakansies hier saam deurgebring. Ons het die grootste gedeelte van ons lewe op, of in die water deurgebring en dit is die band wat ons altwee nog steeds aan Silwersand gebonde hou. Ons het elkeen ons eie skuit. Myne sal môre weer vlot wees - na die wegberging gedurende my afwesigheid - en Pedro sal waarskynlik met 'n nuwe skuit van Simonsbaai hierheen seil, as hy 'n koop waarmee hy besig was, voor die tyd sluit.’
Met die grootste belangstelling het sy die besonderhede van die onderhoud tussen dr. De Ridder en die ou dame van Zuiderzicht aangehoor.
‘Ek het u vertel dat hy nie tuis is nie,’ was hierop haar opmerking. ‘Ek kan maklik begryp watter indruk ou tant Hendrina van der Poel op 'n vreemdeling soos u sal maak. Sy het die plek van Pedro se moeder ingeneem, wat jonk dood is en haar seuntjie 'n wees nagelaat het. Tant Hendrina is onder ons vermaard weens haar trots en die maatskaplike formaliteite wat sy van net soveel belang as die Dordtse leerstelling ag en baie weinig minder as die Heidelbergse Kategismus, maar wanneer jy haar goed leer ken, sal jy onder al haar gehegtheid aan uiterlike vorm 'n aard van louter goud ontdek. Sy is trou aan sekere gelofies wat niemand wat verlang om haar vriendskap te behou, durf minag nie. Een gelofie is dat die Van der Poel-familie die hoogste Kaapse aristokrasie verteenwoordig en dat haar neef Piet die enigste erfgenaam van die grootsheid is. Dit is een van die voortdurende griewe van haar lewe dat Petrus geneig is om met familietrots die spot te drywe.’
Dr. De Ridder het met belangstelling verneem dat Agulha met die vernaamste besonderhede van die Van der Poel-familiegeskiedenis vertroud is. Sy, van haar kant, het met groot opgewondenheid verneem van die argiefdokumente wat dr. De Ridder versamel het omtrent al die oudhede van Silwersand en het
| |
| |
met dank sy aanbod aangeneem om saam met hom die papiere nog gedurende hierdie vakansie deur te gaan en gesamentlik 'n brosjure uit die dramatiese en tragiese voorvalle verbonde aan die vergaan van Die Vlieënde Hollander saam te stel.
| |
Die ‘Spook’ van Zuiderzicht
Die week wat op hierdie gebeurtenis gevolg het, het dr. De Ridder byna uitsluitend in Agulha se geselskap deurgebring. Hulle het saam geswem, dae agtereen saam op haar skuit deurgebring - 'n groot seilboot wat sy, met al die behendigheid van 'n ervare seevaarder, met 'n bemanning van twee Kleurlinge gehanteer het. Die dokter was hier die vyfde wiel aan die wa en moes, met 'n sekere mate van bedekte skaamte, Agulha se seemanskap en seekennis bewonder. Saans ná ete was hulle meestal met die ou dokumente besig. Agulha het 'n aansienlike biblioteek wat oor die storie van Die Vlieënde Hollander handel uit alle tale versamel. In hierdie rigting was haar kennis baie uitgebreider as dié van dr. De Ridder, wat nou vir die eerste maal met die dramatiese storie in noue aanraking gekom het.
Dit is lig te begryp dat 'n intimiteit van hierdie aard spoedig 'n nuwe atmosfeer vir die dokter oor Silwersand geskep het. Om aan die klein strand sonder Agulha te dink, het 'n leemte gewek waaraan hy nouliks kon dink.
Die mooi weer en die aangename geselskap met Agulha was nie lank van duur nie. Dit was die tyd van reën en storms, en binne 'n week ná haar aankoms was daar weer 'n geweldige storm uit die weste, gepaard met aanhoudende reën en mis, wat almal die hele dag binnenshuis gehou het. Vir dr. De Ridder was dit 'n dag só vervelend dat selfs die heerlikste vuur wat Tarries in die groot kaggel aan die gang kon bring, geen aantreklikheid vir hom had nie. Soos 'n gevange dier het hy die groot, ou huis van kamer tot kamer deurwandel, af en toe 'n boek in hande geneem om dit net so spoedig weer opsy te werp; 'n paar blaaie van die manuskrip van die gesamentlike geskiedenis van Die Vlieënde Hollander deurgelees, alleen om die gevoel van eensaamheid te verdiep en die verlange na die aanwesigheid van sy wakker kollega te verskerp. Ure lank het hy by 'n venster gestaan wat nou en dan deur drywende miswolke 'n uitsig op die see verskaf. Die weeklag van die wind en die oneindige gedruis van die onstuimige see op die rotse van Silwersand het die neerslagtigheid van die eensame dokter al hoe ondraagliker gemaak. Toe die skaduwee van die nag oor die treurige skouspel neersak, het hy verskeie male 'n besoek aan die Withuis - trots die geweld van die storm - ernstig in oorweging geneem. Maar hy het telkens die plan prysgegee, omdat Agulha dit miskien as kinderagtige swakheid kon beskou!
| |
| |
Hierdie dag was geen uitsondering op die Stormkaap se vaste gewoonte om met die koms van die nag luidrugtiger in sy woede te word nie. Ná die aandete was die eensame dokter se enigste toevlugsoord sy groot leunstoel voor die kaggel, waar sy gedagtes op die vleuels van die storm heen en weer gesweef het oor die reeks sonderlinge gebeurtenisse waarmee sy baaswording van Silwersand hom in aanraking gebring het. Maar waar sy gedagtes ook al heen sweef, was dit alleen om telkens tot een beeld terug te keer - 'n beeld wat, trots die inspanning na ander rigtings van 'n sekere mate van wilskrag - bestendig oor sy gemoedsgebied die heerskappy voer. Dit is onnodig om te sê dat dit die beeld van Agulha de Villiers was, in al die verskillende tonele waarin haar betowerende skoonheid gedurende die laaste paar weke aan hom verskyn het.
Dit was lank ná middernag toe hy uit 'n vaste sluimering wakker skrik, gewek deur 'n buitengewoon harde geskreeu van die storm buite. So aangenaam en sussend was die sagte geblaas van die dennebol-vlamme, so liefkosend die kussings op die groot leunstoel dat daar geen die minste begeerte was om die donker, koue gang na sy slaapkamer te aanvaar nie. Dadelik het hy weer in die aanloklike warmte van die vuur ingedut en binne 'n paar minute was hy weer vas aan die slaap.
Wat hom die tweede keer gewek het, was iets wat selfs deur sy bewustelose toestand met die boodskap aan sy slapende brein van iets buitengewoons en skrikwekkends heengedring het. Hy ruk orent in die stoel en is dadelik in luisterende houding. Buite brom die storm nog onafgebroke, maar binne verkeer die huis in doodse stilte. Klaarblyklik is die bediendes lank reeds aan slaap. Toe sy oog op die groot staanklok val, was hy verbaas om te merk dat dit op slag van twee is. Daar is geen teken van wat hom gewek het nie. Hy het die slaapherinnering van iets geweldigs gehad; van iets wat vir een moment bo die eentonige gedreun van wind en branding duidelik hoorbaar moes gewees het. Maar wat? 'n Losgerukte hortjie, of miskien 'n voorval in 'n vergete droom?
So stil was die groot, ou huis en so stip het hy geluister dat die skielike gekraak van 'n vloerplank in een van die verafgeleë gange of vertrekke onnatuurlik luid geklink en hom 'n momentele skrik deur die lyf gejaag het wat die laaste oorblywende slaapsluier van sy verstand geruk het. Dit kon net 'n paar sekondes vanaf sy ontwaking gewees het, maar die aanstrenging van sy oplettendheid het dit tot lang minute uitgerek, toe die wekkende geluid herhaal word met 'n geweld wat dadelik soos 'n alarmgeskal en hulpgeroep deur die slapende huis weergalm. Dit is 'n geweldige geklop aan die groot voordeur wat hom gewek het en wat dié keer herhaal en weer herhaal is, en toe aanhoudend word. Dit was 'n uitroep van doodsgevaar, 'n smeekgebed om hulp - oombliklik-aandringend - wat met 'n stem van honderd tonge roep en in elke gang van die groot, leë ou huis 'n spookagtige weerklank wek.
Daar het dadelik by herhaling van die geklop by dr. De Ridder die gevoel
| |
| |
posgevat dat die dryfveer van die alarm - deur wie ook al veroorsaak - gevaar is. Dié gevoel kon hy gedurende die oomblikke wat dit hom gekos het om sy gedagtes - ná sy skielike ontwaking - haastig bymekaar te raap, nie wegredeneer nie. In 'n ou Hollandse muurkas langs die kaggel was daar 'n rewolwer wat hy uit Amerika saamgebring en hier vergeet het. Haastig het hy die wapen gelaai en dit - met 'n glimlag van selfbespotting - op egte Amerikaanse rampokkerstyl in sy heupsak gesteek en toe met 'n elektriese flits het hy vinnig deur die groot voorsaal na die voordeur geloop, die grendels losgemaak en sowel die boas die onderdeur gelyk en sonder die minste aarseling wyd oopgestoot. Op die stoep voor hom is drie persone (een van hulle ook met 'n flits in die hand) so toegewikkel in jasse en tjalies dat dadelike herkenning uitgesluit is. Hy kan egter onmiddellik sien dat al drie vroue is, en toe al drie gelyk die kamer binnestort, is dit die stemme wat hul identiteit aan hom bekend stel. Die eerste van die stoet is tant Cateau de Villiers, die tweede 'n verwaaide kombuisbediende, wat deur vrees haar beleefdheid tydelik vergeet het, en die laaste is Agulha de Villiers, die flitsdraer.
Die ou dame gryp hom krampagtig met altwee hande aan die arms vas.
‘O, dokter, dit was vreeslik ... vreeslik! Nooit gaan ek daar weer sonder 'n man slaap nie!’
Sy is uit-asem en so verlam deur skrik dat dr. De Ridder verplig is om haar die steun van 'n arm om die lyf te verleen. Die bruin vrou staan ook vas teen hom en rittel en bewe onder die uiting van 'n stroom onaardse geluide.
Agulha is die enigste van die drie wat - uitwendig altans - g'n teken van buitensporige vrees toon nie.
Haar tante se uitlating ontlok aan haar 'n harde en vrolike gelag wat dadelik neig om die tragiese atmosfeer in 'n komedie om te skep.
‘Tante! Tante!’ roep sy met 'n voorwendsel van verontwaardiging. ‘Dit is dingetjies wat ons geheim behoort te hou ... buitendien, waar sal ons 'n man in Silwersand beskikbaar vind, tensy jy met geweld reeds op dr. De Ridder beslag gelê het?’
‘Agulha!’ fluister haar geskokte bloedverwant. ‘Ek verbied jou om onder sulke omstandighede nog ligsinnig te wees! O, dokter ...’
‘Onthou, tant Cateau, dit is al oor twee-uur in die oggend. Dokter, ons is verkluim. Neem ons tog na jou vuur - ek kan sien jy was nog nie in die bed nie - dan sal ons jou die oorsaak van ons ontydige vlug na jou beskerming vertel. En dan, dink ek, sal jy ons slaapplek vir die res van die nag moet gee, want ek sal self nie graag na die Withuis wil teruggaan voordat die son helder skyn nie.’
Dr. De Ridder het hulle dadelik na die vuur geneem en toe vir Kandas gewek om koffie te maak en beddens vir die dames in verskillende vrykamers in gereedheid te bring.
Toe hy terugkom, het tant Cateau al tot verhaal gekom. Agulha het haar lig- | |
| |
sinnigheid laat vaar en dadelik begin sy op 'n toon van die diepste erns die oorsaak van hul nagtelike besoek mee te deel.
‘Dokter De Ridder, ons het 'n senuweeskokkende ontmoeting gehad. Ek sal jou baie kortliks vertel wat gebeur het en dan sal ons die vervolg van die saak in jou hande laat:
Ons het vroeg gaan slaap. Die vervelende onweer het ons twee uitgeput. Tant Cateau en ek slaap in aangrensende kamers, en dit is 'n vaste gewoonte om die deur tussen ons kamers gedurende die nag oop te laat. Hoe laat ek my lig doodgemaak het, weet ek nie presies nie, maar ek dink dit moet ná twaalf gewees het. Ek het lank gelees en tant Cateau was toe reeds lank aan die slaap en haar kamer donker. Een omstandigheid moet ek ook eers duidelik maak: Die groot venster van die kamer is aan die kant van die tuin. Gewoonlik laat ek die boonste raam winter en somer oop, maar die storm het my vannag verplig om my venster toe te maak en gelukkig het ek die skuif toegedruk. Maar ek druk altyd die gordyne wyd oop, want van my bed het ek 'n klein uitsig op 'n stukkie van die strand waar ek snags die branders onder Uitkyk kan sien breek. Van haar bed kan tant Cateau ook 'n gedeelte van die venster in my kamer sien.’
Met 'n ril bevestig tant Cateau die uiteensetting. Dieper en ernstiger word Agulha se stem, toe sy die krisis van haar storie nader. In haar pragtige oë vorm 'n skaduwee van benoude herinnering.
‘Terwyl ek nog aan lees was - ek dink tussen tien- en elfuur - het ou Robbe verskeie kere geweldig geblaf. Hy slaap in die ou woonhuis en weens die storm was die deur toe en hy was dus binne opgesluit. Sy blaf was baie ongewoon, maar die geraas van die storm was só geweldig dat ek sy onrustigheid toegeskrywe het aan die feit dat hy met die ongewone opsluiting ontevrede was en dat die storm buite hom senuweeagtig maak. Ongeveer elfuur moes dit gewees het, toe my aandag deur 'n geraas aan my venster getrek word, 'n ongewone geraas, verstaan jy, dokter, iets anders as die eentonige geskud deur die wind veroorsaak. Ek het dadelik opgekyk en geluister, maar daar was niks sigbaar nie en die geluid, wat dit ook al mag gewees het, het dadelik opgehou. Net toe was ou Robbe vreeslik aan blaf, met 'n geknor tussenin, wat hy alleen laat hoor wanneer hy in die grootste woede verkeer. Nietemin was ek glad nie bang nie - dit kan ek jou verseker. Ek het nie eers daaraan gedink om tant Cateau wakker te maak nie. Ons is so gerus hier op Silwersand, so seker dat niks gevaarliks ooit hier kan gebeur nie dat ek sonder die minste huiwering gewillig sou wees om enige nag alleen op die strand deur te bring.’
Weer 'n aaklige ril van tant Cateau.
‘En toe draai ek die lamp uit en byna dadelik moes ek vas aan die slaap gewees het. Ek moet jou vertel dat ek die flits altyd langs my op die tafel hou omdat dit so lank duur en so moeilik is om die lamp in die donker aan te steek. Hoe
| |
| |
lank ek geslaap het, weet ek nie, maar ek is deur tant Cateau se geroep gewek.’
‘Ja, dokter,’ val laasgenoemde opgewonde in die rede. ‘Daar was 'n slag - net soos 'n hamerslag op hout - êrens in die rigting van Gulha se venster. Die hond blaf en knor met die uiterste woede. En toe ek opkyk, sien ek voor Agulha se venster ... O, dokter! ... ek sien ... ek sien 'n soort iets ... 'n donker iets wat roer en wat 'n straal lig binne die kamer beweeg ... vreeslik ... verskriklik! ...’
‘Laat my verder vertel, tant Cateau,’ sê Agulha in haar sagte, diep stem, wat die ou dame dadelik tegelyk tot bedaring en stilte skyn te bring. ‘Net toe ek helder wakker word, neem ek byna instinkmatig die flits op en rig die straal op die venster, want ek het gewaar dat iemand van buite met 'n flits in my kamer rondskyn. Die eerste wat ek sien, is 'n gesig; 'n vreeslike gesig, dokter ...’
‘O, liewe Heerekie!’ kom van die bruin vrou, wat vas teen haar nonnie se stoel op die vloer gehurk sit.
‘Daar was twee oë vas op my gerig en 'n bleek gesig met 'n uitdrukking so boosaardig en wreed dat ek 'n uitroep van skrik onmoontlik kon weerhou. Dit het my voorgekom dat dit die gesig van 'n taamlike jong man is, skoongeskeer, met 'n sagte, swart vilthoed op wat sy voorkop in 'n donker skaduwee gelaat het. Hy het 'n soort swart mantel aangehad, met 'n hoë kraag wat gestrek het om die onderste gedeelte van sy gesig ook met 'n skaduwee te bedek. In sy linkerhand was die flits en in sy regterhand, wat onder die mantel in die straal van my flits sigbaar geword het, was 'n lang, blink mes ...’
‘O, Jassus!’ - van die bediende, wat al meer onder die verskrikking van die verhaal raak.
‘Hy het 'n tyd lank met onsiende oë stip by my verbygekyk,’ gaan Agulha voort.
‘O, my profetiese siel, my oompie! - soos Hamlet gesê het,’ is die uitroep van dr. De Ridder, vergesel van 'n vuisslag op die leuning van sy stoel ... ‘Pardon, juffrou! Wat ek bedoel, is dat dit sonder die minste twyfel dieselfde “spook” is wat ek en die volk die nag van die laaste groot storm op die strand ontmoet het. Ek was seker daarvan net toe jy met die verhaal begin ... Gaan voort, juffrou, dit interesseer my tot die uiterste.’
‘Dit het my voorgekom dat dit alles vreeslik lank geduur het, maar dit was seker in werklikheid net 'n paar minute. Intussen het tant Cateau met die een skreeu na die ander my kamer ingestorm, in my bed geklouter en my so vasgeklou dat ek my flits nie langer kon gebruik nie. Ek dink my liewe tante het die spook 'n groter skrik op die lyf gejaag as wat hy aan ons kant veroorsaak het ... Hoe dit ook al mag wees, by die lig van sy flits wat hy nog steeds aan die brand hou, kon ek hom sien agteruitgaan. Ek het my uit tant Cateau se omhelsing losgemaak en dadelik na die venster gespring en die ligstraal na buite gerig. Die storm was nog woedend en die tuin was donker, met drywende mis.
| |
| |
Ek sien hom vinnig langs die breë laan in die rigting van die strand voortsnel. Ek het die straal van my flits op hom gehou, maar hy was toe reeds vaag en onduidelik in die storm en mis. Hy het van agter die meeste op 'n reuse-vlermuis gelyk wat op groot, swart vlerke in die duisternis en storm wegfladder. Die laaste wat ek van hom gesien het, was op die hoek van ons tuinlaning, waar hy verdwyn het. Tante en ek het besluit om ons toevlug tot jou te neem. Ons het dadelik die bediende gewek, ons geklee, en hier is ons, dokter.’
‘Ek wonder, juffrou, of jy gewillig sou wees om dadelik op die spoor van die nagtelike besoeker te gaan. Ek is seker dat daar geen die minste gevaar is nie, anders sou ek dit nie voorstel nie. Buitendien, ek is goed gewapen’ - en die dokter bring sy rewolwer te voorskyn - ‘en ek is net so seker dat ons spook vir 'n rewolwerkoeël baie gevoelig sal wees - as dit ooit nodig mag wees om een teen hom te gebruik, wat nooit sal gebeur nie. Ek sou alleen gaan, maar ek maak die voorstel aan jou, Agulha, omdat ek voel dat jy nie bang is nie en ek wil bowendien so baie getuies hê as wat ons bymekaar kan kry. Tarries moet ook saamkom. “De behoudenis is in de veelheid der raadslieden!” Wat sê juffrou Agulha?’
Agulha was dadelik gereed. Vir haar het die voorval soos 'n heerlike avontuur begin, met net genoeg vreesagtigheid om dit aantreklik te maak.
Dit het egter moeite gekos om tant Cateau se verbitterde teenstand te oorwin. Die gedagte om die verskriklike gedaante in die donker nag te agtervolg, het haar met die vreeslikste angs en siddering vervul. Self wou sy nie gaan nie en om Agulha sonder haar toe te laat, wou sy ook nie van hoor nie. Dreigemente en oorhalery het uiteindelik geslaag. Sy het toegestaan om lid van die ekspedisie te word, waarvan sy met beslistheid die noodlottigste uitslag voorspel het. Dr. De Ridder het intussen die onwillige Tarries te voorskyn gebring en toe die groep eindelik op die stoep vergader, het dit bestaan uit Agulha, haar tante, dr. De Ridder, Kandas - wat haar as vrywilliger aangebied het - en Tarries as agterhoede. Dr. De Ridder en Agulha het die optog gelei, elkeen met 'n flits in die hand.
Dit was oor drie. Die storm het intussen aansienlik bedaar. Daar was nog geweldige windstote, maar met betreklik langdurende stiltes tussenin; ook het die miswolke af en toe soos 'n gordyn wat opgerol word, opgeklaar om rots en branding enkele minute in dowwe sterlig sigbaar te maak. Vir etlike honderde tree in die omtrek het die twee elektriese strale elke skuilplek van skaduwees beroof en die nagwandelaar geen toevlugsoord van onsigbaarheid oorgelaat nie. Maar daar was van hom geen teken nie. Toe dr. De Ridder eindelik op die strand van Silwersand aankom, was dit met die hulpelose gevoel dat die geheimsinnige wese hom weer ontvlug het.
Hulle het ná 'n kort bespreking net besluit om weer terug te gaan, toe Tarries se oë weer op die spoor kom.
| |
| |
‘Daar is hy!’ skreeu hy opgewonde. Een van die ligstrale het een sekonde lank op 'n skaduwee geval wat die Boesman dadelik as iets lewends herken het. Altwee flitse is spoedig op die aangetoonde punt gerig en dadelik word die geheimsinnige gestalte aan die hele groep duidelik sigbaar. Op die hoogste spits van Uitkyk-rots staan hy bewegingloos, met sy aangesig na die see gekeer. Sy swart mantel fladder agter hom, wyd in die wind uitgestrek. Sy houding wek die indruk dat hy die onstuimige see in diep bepeinsing gadeslaan. Nòg op die skitterende ligstrale, nòg op die opgewonde groep onder hom skyn hy die minste ag te slaan; dit is asof hy van hul teenwoordigheid onbewus is.
Dr. De Ridder het dadelik besluit dat die ‘spook’ van Silwersand hom dié keer nie weer sou ontglip nie.
‘Hou jou flits op hom gerig, juffrou Agulha. Ek sal nie verder as die top van u af weggaan nie. Wees vir niks bang nie. Ek verseker u dat hy skadeloos is.’
Maar van sy bewering was dr. De Ridder self allesbehalwe seker. Met die flits in die een en sy rewolwer in die ander hand bestyg hy die steil rots langs die strandsloep met roekelose spoed - agtervolg deur die geweeklaag van tant Cateau, wat bang is om saam te gaan en weier om agtergelaat te word.
Dr. De Ridder is skaars in die helfte van die rots toe die gedaante van die nagloper soos 'n miswolk uit die straal verdwyn. Dit is asof hy skielik deel geword het van die nag en duisternis waaruit hy oorspronklik gebore is. Van die spits af ondersoek dr. De Ridder die omtrek noukeurig met die straal, maar daar is niks! Daar is slegs twee weë waarlangs 'n wese van vleis en bloed hom uit die voete kon gemaak het: òf het met die ratsheid en snelheid van 'n klipbok die rotswand land-in gevolg, òf hy het van die hoogste lys van Uitkyk aan die kant wat buite hul gesig was, totdat hy die spits bereik het, die see ingeduik.
Mismoedig keer dr. De Ridder na die wagtende groep terug om hulle die uitslag van sy poging te vertel. Toe is besluit om na dr. De Ridder se huis terug te gaan, waar die twee dames die paar oorblywende ure van die nag sou deurbring; dan kon môre tot verdere stappe besluit word.
Tarries het die avontuur met die plegtige verklaring gesluit: ‘Dit is jammer dat die seur nie met die woord “Abrakadabra” na sy kant gespoeg het nie. As 'n mens dit gou doen, dan staan hulle. Hulle kan nie vlug of wegraak nie.’
‘Goed, Tarries,’ was sy baas se antwoord, ‘ek sal dit volgende keer onthou.’
Toe hulle weer 'n paar minute lank om die vuur vergader het, stel dr. De Ridder aan Agulha 'n vraag waarmee hy lank reeds dié nag besig was. Hy kyk haar stip aan en vra toe op 'n toon van merkbare plegtigheid: ‘Juffrou Agulha, sal jy asseblief goed nadink en my sê of die gesig wat jy voor die venster gesien het, jou aan iemand wat jy ken of tevore gesien het, herinner?’
Sy het geruime tyd diep nagedink, voordat sy op die vraag antwoord. Toe sê sy: ‘Dr. De Ridder, ek wil jou 'n eienaardige voorstel maak wat ek later mis- | |
| |
kien sal verduidelik. Ek wil jou versoek om môre vroeg weer 'n besoek aan Zuiderzicht te bring en ou mev. Van der Poel weer te vra of 'n vreemdeling of persoon wat op ons nagbesoeker lyk, nie op Zuiderzicht oornag het nie. Nadat jy dit gedoen en my die uitslag vertel het, sal ek jou vraag beantwoord.’
| |
Zuiderzicht weer besoek
Vroeg die volgende oggend bestyg dr. De Ridder Zuiderzicht se hoë stoep vir die tweede keer en stap na die groot voordeur. Niemand is sigbaar nie, maar die bodeur is oop en voordat hy klop of die groot koperklok lui wat op 'n bankie langs die deur staan, slaan hy die pragtige saal van die paleis van die Van der Poel-familie aandagtig gade. 'n Vleuelvaart van grou tonele skiet deur sy herinnerende verbeelding. Hier is die werklike mis en scene, onveranderd, van al die vreeslike gebeurtenisse van driehonderd jaar. Die pragtige saal is opgeluister met die lig van honderde waskerse teen mure en in die skitterende kroonlugter wat van die blink gepoleerde vloer in honderde spitse en ligfasette skitter. Van die galery kom die sagte klanke van harp, viool en fluit ... droomagtige walse; lewendige cotillions. Die saal is van die swaarste meubelstukke geledig. Die groot ruimte word gevul met dames en here in storieagtige skoonheid van sy, satyn en juwele. Die here is in sykouse met geblomde, swart satynboklere, wit gekante kraag en armbande, rapiere met geveste van skitterende gesteentes aan die linkersy. Dan volg die statige bewegings van cotillion en wals wat in droomagtige ritme oor die donker vloerspieël swaai. Skielik 'n gil ... weer 'n gil, snerpend soos 'n vlym! Op die vloer uitgestrek lê 'n jong man. Op die lakenwit van sy met kant geborduurde borshemp verskyn 'n snel toenemende skarlaken vlek - 'n tint wat alleen deur slagaarbloed geverf kan word. Dit is die jong minnaar van die skone Valkure van der Poel, die aanstaande bruidegom aan wie Zuiderzicht en die opgegaarde skatte van die familie saam met sy bruid oorhandig sal word. Langs die gevelde liggaam staan Valkure self; haar donker oë is wyd en wild met die eerste skyn van waansin. In die hart van haar beminde steek nog die slagterspriem waarmee sy hom te midde van al die vrolikheid die ewigheid ingejaag het ... Die voorhang
val.
Dit is nag. Alles is rustig en aan die slaap in die groot huis. Skielike alarm; wilde geskreeu soos van ontketende duiwels uit die bodemlose Afgrond; slag op slag teen die slot van die swaar-gegrendelde dubbelvoordeur. In die saal, deur sydeure, stort verwilderde mans en vroue en kinders, almal in naggewaad. 'n Paar flikkerende ligte, en hier en daar wapens in die haas van uiterste vrees opgeraap. Die voordeur val onder die donderende slae oop en bruin, halfnaakte gestaltes, met gesigte van grynsende woede, dring binne.
Die slawe maak amok!
| |
| |
Op die galery verskyn die dapper oppasster met die baba in haar arms; agter die tralies neergehurk, sien sy hoe die grusame moord benede haar verrig word. Met byle en kapmesse word die een na die ander neergevel - vroue bid om genade, kinders roep om hulp waar geen hulp genaakbaar is nie; hier en daar 'n wanhopige poging tot verset. Uiteindelik alles weer stil in die groot saal. Die moordenaars kom tot bedaring - bloedversadig. Om die slagoffers van hul wrede waansin leun hulle op die growwe wapens. Die bruin hande en gesigte, jurke en Maleise rokke is rooi van druppelende bloed. Op die donker vloerspieël strek donkerder vlekke in poele van rooi.
Weer uit die newels en skemerlig van die verlede vorm 'n beeld: deur die donker, slapende huis sluip 'n spookagtige gedaante, byl in die hand en broedermoord in die hart. Altyd geweld en bloed!
Maar voordat die besonderhede dié keer helder word, het die peinsende toeskouer met die hede te doen, want voor hom in die deur staan die ou dame - groottante Van der Poel, swart kierie met swaar silwer-kruisgeves in die hand. Weer is sy in deftige swaar sy, met wit kantborduursel en die ouderwetse wit kantmussie op haar hoof; om haar skouers 'n pragtige Kasjmir-sjaal. Sy is ouderwets genoeg om self ook 'n verbeeldingsbeeld uit die lang verlede te wees!
Dié keer word hy nie binnegenooi nie. Sy gee dr. De Ridder die indruk van 'n leeuin op wag in die poort van haar spelonk wat haar broed beskerm. Die doelwit van haar verdedigende optrede is die eer, die goeie naam, die trots van die familie Van der Poel van Zuiderzicht. Dit is asof sy van al die donker, onuitwisbare vlekke op die blink-donker vloer agter haar alle indringende nuuskierigheid wil afweer.
Die ware betekenis van haar houding dring tot dr. De Ridder deur. Hy voel jammer, vol medelye, pleks dat hy die duidelike affront kwalik neem: die klaarblyklik opsetlike weerhouding van die alomgewone uitnodiging om binne te kom.
‘Dit spyt my, mevrou, om u op hierdie wyse weer lastig te val, maar as u my wil toelaat om die oorsaak en doel van my besoek nogmaals te verduidelik, is ek seker dat u die belangrikheid daarvan sal insien en erken. Verlede nag het ek dieselfde jong man van wie ek u tevore vertel het, op die rotse gesien. Tegelyk is hy deur my huishoudster, een van my manlike bediendes en ook deur juffrou Agulha de Villiers gesien.’
‘Agulha?’ fluister die ou dame op vraende toon, met tekens van verbasing wat sy vergeefs probeer onderdruk.
De Ridder buig bevestigend.
‘Ja, mevrou, deur juffrou De Villiers, sodat u dadelik sal toegee dat daar dié keer geen moontlikheid van verbeelding kon gewees het nie.’
Daar is 'n pouse, terwyl die dokter die verdere verloop van sy onderhoud met dié moeilike teenparty beraam.
| |
| |
‘Nog kan ek dit nie verstaan nie, meneer,’ val sy hom uit die hoogte in die rede, ‘hoedat die verskyning van hierdie jong man my raak en watter omstandigheid van die voorval die oorsaak is dat ek met 'n besoek van u vereer word.’
‘Ek moet erken, mevrou,’ antwoord dr. De Ridder nog steeds met die grootste beleefdheid, ‘dat ek nie verwag het dat 'n uitleg daarvan mynersyds anders as oorbodig sou gewees het nie.’ (Die dokter kon sien dat dit 'n raakskoot is!) ‘Daar u dit verlang, moet ek egter verklaar dat dit op niks anders as pligsgevoel berus nie. Ek voel dat dit my as gewone burger betaam om ten minste sekerheid te kry dat hier geen saak van selfmoord of ongeluk of iets dergeliks was nie ...’
‘Pardon, meneer!’ val die statige ou dame hom in die rede. ‘Ek kan begryp dat by die eerste verdwyning van die gedaante wat volgens u beweer op so 'n geheimsinnige wyse aan u verskyn het, u wakker pligsgevoel gaande gemaak is. Maar die tweede verskyning verlede nag het natuurlik alle suspisie van selfmoord of ongeluk by die eerste geleentheid te niet gedaan. Daarom kan ek nie begryp waarom u ongerustheid nog so lewendig voortduur nie, tensy u natuurlik vermoed dat die gedaante van verlede nag miskien die gees van die jong man kon gewees het wat by die eerste geleentheid selfmoord gepleeg het deur die see in te loop; en dan nog kan ek nie verstaan waarom u my met die voorval in verbinding bring nie.’
Sterker as ooit tevore het dr. De Ridder die gevoel gekry dat hierdie bytende sarkasme van mevrou Van der Poel alleen bedoel is om iets te bedek, om hom van die spoor te bring van die een of ander feit wat sy graag geheim wil hou. Maar haar houding en argument is so korrek dat hy 'n tydjie deur haar sarkastiese teenwerping in groot verleentheid raak. Die kwessie van pligsgevoel of nuuskierigheid laat hy dus op die agtergrond, terwyl hy duidelik maak dat daar so min skuilplekke in die nabyheid van Silwersand is dat Zuiderzicht die waarskynlikste en tegelyk die geskikste plek is waar iemand gedurende die dag 'n wegkruipplek kan vind en dat dit in enige geval in belang van alle inwoners van Silwersand is om die identiteit van die nagwandelaar op te klaar. Om die een of ander rede - wat hy aan homself nie kan gee nie - het hy geaarsel om haar van die nagtelike verskyning by die venster van die Withuis te vertel.
‘Meneer,’ sê die ou dame met onbeantwoordbare beslistheid, ‘ek kan u verseker dat al die buitegeboue en vertrekke van Zuiderzicht gedurig in die loop van elke dag deur bediendes besoek word en dat geen onbekende persoon hier by ons skuil nie ... Ek verwag, meneer, dat hierdie versekering u tevrede sal stel.’
Dit was die einde van die saak! Met 'n statige buiging gee sy dr. De Ridder sy congé, en nieteenstaande hy vér van tevrede was, moes hy sonder 'n woord meer afskeid neem en vertrek.
By sy terugkeer vind hy sy twee gaste nog by hom aan huis, en Agulha luister
| |
| |
met groot belangstelling na sy verslag van wat tussen hom en mev. Van der Poel plaasgevind het.
‘Dr. De Ridder,’ sê sy aan die einde van sy verhaal, ‘ek het jou belowe om 'n sekere vraag te beantwoord nadat jy mevrou Van der Poel weer oor die saak gespreek het. Jou vraag was of die gesig wat ek verlede nag deur my venster gesien het, my aan iemand herinner. Ek het uitstel gevra omdat ek gedink het dat mev. Van der Poel miskien in staat en gewillig sou wees om die hele saak op te klaar en sodoende blote gissinge aan ons kant onnodig te maak. Ek sal jou nou in vertroue vertel wat my gevoelens was van die moment dat ek vannag die gesig in die elektriese straal buite my venster gesien het. Jy moet egter onthou dat die mis nog taamlik dig was en dat die gesig grotendeels in skaduwee verkeer het. Buitendien het ek vandat ek goed wakker was, nie meer as 'n glimp gehad nie. My eerste indruk was dat die jong man aan my onbekend is, maar ek het nietemin soveel algemene gelykenis met die Van der Poel-familie bespeur dat ek dadelik tot die gevolgtrekking gekom het dat dit 'n onbekende lid van die familie is wat mev. Van der Poel gedurende die afwesigheid van haar neef, Petrus van der Byl, êrens op Zuiderzicht wegsteek. Sonder haar kennis sou dit vir 'n vreemde moeilik wees om op Zuiderzicht weg te kruip; maar dit is nie heeltemal onmoontlik nie. Sê byvoorbeeld dat 'n misdadiger sy toevlug hierheen geneem het en bedags op die ou plaas skuil - daar is voorwaar plek genoeg in die berg, selfs in die ou geboue - wat mev. Van der Poel ook al mag dink. As dit sonder haar kennis geskied, sonder kennis van die huisgesin, dan is dit hoogs waarskynlik dat hy snags sal moet uitkom om voedsel te soek, miskien ander klere en ook geld om sy vlug voor te berei. Inbraak sou sy eerste plan wees en behalwe Zuiderzicht self is daar net twee huise wat inbraak die moeite werd sou maak - dit is myne en joune. In so 'n geval is die groot mes natuurlik verklaarbaar. Nie as wapen alleen nie, maar as inbrekersgereedskap sou 'n mes in so 'n geval die
geskikste stuk gereedskap wees. Maar, dokter, dit is alles blote gissing en dit is miskien taktloos van my om dit selfs aan die hand te gee. Maar ek sal u sê wat ons kan doen. Pedro, dit wil sê Petrus van der Byl, is enige dag nou hier te wagte. Ou Abdol Daoed vertel dat hy 'n nuwe skuit gekoop het en dat hy reeds van Simonsbaai of Somerset op weg hierheen is. U weet die vissers ontvang berigte van alles wat op see plaasvind, of gaan plaasvind - dus mag hy vandag of môre aankom, as die wind gunstig bly. Ek wil voorstel dat ons die saak net so laat, alle ondersoek selfs staak, totdat Pedro arriveer. As my vermoede gegrond is dat die vreemdeling 'n bloedverwant is, sal Pedro dit natuurlik weet, of baie gou te wete kom. En u weet, ons mag hom en sy ou tante groot onaangenaamheid en moeilikheid veroorsaak, as ons halsoorkop op 'n ondersoek aandring. Laat ons wag totdat Pedro kom, dan kan ons die saak met hom bespreek. Wat sê jy?’
‘U voorstel is die wysheid self, juffrou Agulha. As Pedro die saak om die een
| |
| |
of ander rede bedek wil hou, sal hy daarop kan reken - wat my altans betref - dat ek my dadelik aan enigiets in die aard van verdere ondersoek sal onttrek. Ek dink dat hy selfs op my bystand en hulp kan reken; dit natuurlik daarby gesê, as niks misdadigs daarby betrokke is nie.’
| |
Pedro van der Byl
Ongeveer 'n week later, toe dr. De Ridder een oggend vroeg na die strand stap, waar hy in die gewoonte geraak het om Agulha elke dag te ontmoet en 'n swemtog met haar in die yskoue stroom van Silwersand te geniet, val sy oog op 'n nuwe skuit wat naby die strand voor anker lê en van ver af reeds sien hy Agulha en 'n jong man, albei in swemkostuum, op die sand wag.
Van vér af roep sy hom vrolik toe: ‘Kom aan, professor, ons wag vir jou. Bang vir die koue windjie, nè?’
'n Klein, pynlike gevoel deurskiet sy gemoed toe dr. De Ridder hulle nader en die intieme verhouding tussen hulle opmerk. Hy wis natuurlik dadelik wie die nuwe aankomeling is. Haar voorstelling van die twee jong mans was vrolik en opgeruimd.
‘Pedro, dit is ons professor van wie jy so baie gehoor het ... en dokter, dit is die heer Petrus van der Byl, grootbaas van die Groot Plaas - gewoonlik bekend as Pedro ... van wie jy ook waarskynlik elke dag gehoor het vandat jy hier jou intrek geneem het.’
Dr. De Ridder slaan die jong man noukeuriger gade as wat hy in gewone omstandighede as beleef sou beskou het. Hy het die liggaamsbou van 'n gereeld geoefende atleet - breed van skouers, slank van lede en gesig, bors, arms en bene die gesonde bruin wat son en wind gewoonlik verf; hy het donker oë - neurotiese oë, merk die dokter op - en 'n swaar bos donkerbruin hare wat glad agteroor gekam is. Die gelaatstrekke is fyn en sy treurige glimlag nie onaantreklik nie. Maar die treurigheid, neerslagtigheid, is opmerklik in sy hele houding. Dadelik kom daar by die dokter die vraag op of dit 'n buitengewone toestand is.
Die gewone betekenislose beleefdhede is aan albei kante geuit en dit was Agulha wat die stywe gevoel deur haar inmenging spoedig spontaner en intiemer gemaak het.
‘Ek het Pedro alles van ons ontmoetings vertel, dokter, en die meeste wat ek uit hom kan kry, is 'n skewe glimlaggie en 'n agterdogtige kyk asof hy my in die saak verdink!’
In verband met hierdie verklaring het dr. De Ridder 'n geringe feit opgemerk wat dadelik 'n diep indruk op hom gemaak het - 'n indruk gebore uit die sienswyse van die geneeskundige. Hy het opgelet dat Agulha, terwyl sy praat,
| |
| |
haar hand op vriendelike wyse op sy blote arm sit en dat hy dit met sy ander hand afskuif, asof die gebaar vir hom ongewens is. Agulha het oënskynlik die onvriendelikheid, selfs onbeleefdheid, van die aksie nie opgemerk nie; sy het altans geen teken gegee dat sy hom dit ten kwade dui nie.
Met 'n handwuif, asof hy die onderwerp in die lug werp, sê hy: ‘Kom ons swem skuit toe. Ek wil graag hoor wat julle daarvan dink.’
En sonder om op hulle te wag, stap hy die water in en begin in die rigting van die geankerde skuit swem. Dit was met 'n gloed van blydskap dat dr. De Ridder opmerk dat Agulha Van der Byl nie see in volg nie, maar aan die kant van die sand wag, totdat die dokter hom van sy groot jas op die rotse ontdaan het en gereed is om haar te vergesel. Langs mekaar het hulle stadig uitgeswem en hulle was skaars halfpad, toe Van der Byl reeds aan boord klouter en 'n tou-leer vir hulle oorwerp. Agulha het van die geleentheid gebruik gemaak om haastig aan dr. De Ridder te fluister:
‘Daar is iets verkeerd. Dit gebeur soms dat hy neerslagtig is. Hy kla dikwels daaroor. En nou en dan toon hy 'n slegte humeur wat soms dae lank duur. Maar daar is altyd 'n bepaalde rede voor. Toe ek hom net voor jou koms na die oorsaak vra, het hy kortaf en nors ontken dat daar iets verkeerd is. So het ek hom nooit tevore gesien nie. En sy onbeleefdheid deur so weg te swem ...’
Hy het hulle, die een na die ander, 'n hand gereik en aan boord gehelp, en dadelik nadat hulle op dek was, die besonderhede van die skuit begin verduidelik. So snydend het die westewindjie skielik geword dat hulle bly was om gou skuiling in die kajuit te soek, waar Pedro 'n gasstoof aangesteek het om koffie te maak, voordat hulle die terugvaart aanvaar.
En hier in die digte, gerieflike kajuit van die skuit het dr. De Ridder 'n tweede feit in Petrus van der Byl se gedrag opgemerk wat hom onrustig gestem het.
Terwyl Pedro met sy rug na hulle gekeer, besig was om koffie te maak, kyk hy skielik oor sy skouer na Agulha. Sy blik is so skerp dat dit byna dreigend genoem kan word.
‘Agulha,’ vra hy op die grofste toon, ‘wat het jy aan professor De Ridder vertel toe julle aan swem was? Natuurlik het julle van my gepraat?’
'n Paar oomblikke lank is Agulha te verskrik om te antwoord, maar toe sy die doel van sy vraag goed verstaan, kyk sy hom stip aan en lag luid.
‘Watter onsin het jy in jou kop, Pedro? Wat op aarde kan ons van jou praat behalwe iets wat baie vleiend is en wat ek om dié rede alleen nie graag aan jou sou herhaal nie?’
Dit was nie die reine waarheid nie, nietemin het dr. De Ridder haar takt en wakkerheid van gees bewonder. Pedro het haar antwoord skouerophalend en met 'n bitter glimlag aangeneem en met sy koffie maak voortgegaan.
Terwyl hulle om die klein tafeltjie naby mekaar sit en die heerlike geur van
| |
| |
warm koffie inasem, was daar 'n skielike omwenteling in die houding en gedrag van hul gasheer. Dit was asof 'n donker gordyn van sy gemoed geskuif word. Hy word dadelik vrolik en opgeruimd, bespot Agulha oor die erns wat sy gedrag die oggend in haar geskep het, en aan die dokter bied hy 'n laggende apologie.
‘Dit spyt my, dokter, maar ek is nou eenmaal aan dié wisselvallighede van gemoedstoestand onderhewig.’
Dr. De Ridder het met 'n paar beleefde woorde die verontskuldiging aangeneem.
Maar toe hulle na die strand terugswem, is dit professor De Ridder wat 'n donker wolk oor sy gemoed gewaar. Dit is die ondervinding van twintig jaar in die studie van die lydende, menslike siel wat oorheersend in sy gedagtestroom opgeduik het en 'n probleem is hom daardeur gestel, groter en ingewikkelder as enigiets dergeliks wat hy ooit tevore in sy lewe ontmoet het. Die probleem is: hoe hy in die saak moet handel? Nooit in sy lewe het hy so 'n drag van verantwoordelikheid gevoel nie - nooit was hy so alleen nie! Daar is niemand wat hy kan raadpleeg nie - niemand met die nodige wetenskaplike kennis nie, niemand aan wie hy die grond van sy agterdog kan openbaar en met wie hy dit kan bespreek nie. Hy weet hoe dikwels dit in sulke gevalle gebeur dat vroegtydige wetenskaplike inmenging die bitterste teenstand en vyandigheid onder bloedverwante en vriende verwek, juis omdat die nodige kennis om 'n gesonde oordeel te grond, ontbreek.
Intussen het Petrus van der Byl se gedrag 'n eienaardige uitwerking op die houding van Agulha en die dokter gehad. Pedro het self nie weer die onderwerp van die nagwandelaar aangeroer nie, nadat Agulha en die dokter hom alles omstandig op die skuit vertel het. Hy het die indruk gewek dat hy die gebeurtenis as van so min betekenis beskou dat dit met 'n paar grappe opsy geskuiwe en vergeet kon word; en die gevolg hiervan was dat Agulha en die dokter, sonder enige aangegane verstandhouding, nooit met hom, of selfs in sy teenwoordigheid, die onderwerp weer bespreek het nie.
Maar die saak is deur die noodlot self uit dr. De Ridder se hande geneem.
Die toenemende vrees en onrus waaraan dr. De Ridder vanaf die oggend onderhewig was, het hom tot 'n buitengewone handelwyse gedwing. Hy het hom verplig gevoel om gedurende verskillende ure van die nag in die nabyheid van die woning van Agulha de Villiers wag te hou. Met 'n gelaaide rewolwer in die sak het hy in die grootpad op en neer gewandel, sodat hy 'n gedeelte van die tuin en haar slaapkamervenster altyd in die gesig gehad het. Aan Agulha het hy egter niks daarvan vertel nie. Dit was moontlik, ofskoon hoogs onwaarskynlik, dat sy suspisie ongegrond is en in enige geval sou dit geen voordeel hê om haar onnodig die vrees op die lyf te jaag nie.
Dit was 'n helder maanlignag en lank na middernag, toe dr. De Ridder bo in
| |
| |
die grootpad 'n bewegende, swart gedaante sien. Hy was by die hoek van Agulha se tuin en kon maklik tussen die bome 'n wegkruipplek gevind het, maar hy het dadelik ingesien dat hy net so sigbaar aan die ander persoon was as die ander persoon aan hom, daarom sou dit hom nie help om nou weg te kruip nie. Die beste was om hom stadig tegemoet te gaan en in die middel van die pad te ontmoet. Dit sou hom min kans tot ontvlugting oorlaat, en as hy vlug, sou dit makliker wees om sy koers te volg as wat dit tevore op die strandrotse was, of toe hy die eerste keer in die storm verdwyn het.
Maar die tegemoetkomende wese het dié keer nie die minste teken gegee van 'n neiging om weer te vlug of te verdwyn nie. Hy het op dr. De Ridder afgekom en toe hy nog op 'n aansienlike afstand was, roep hy hom met 'n hees basstem 'n begroeting toe wat ten minste nie onvriendelik is nie, ofskoon dit nie juis 'n bewys van opgeruimdheid lewer nie.
‘Goeienaand, dokter! Is u ook 'n ongelukkige lyer aan slaaploosheid?’
Dit was Pedro van der Byl in sy gewone kleredrag: 'n groot jas met 'n klein pet op die hoof wat sy aangesig helder in die maanlig laat.
Dr. De Ridder het dadelik opgemerk dat hy in een van sy neerslagtige buie verkeer en onmiddellik het die besluit by hom vorm gevat om sonder verdere uitstel die geheim waarin hy vermoed dat Petrus van der Byl betrokke is, daar en dan te ontsluier.
‘Nee, mnr. Van der Byl, aan slaaploosheid het ek nooit in my lewe gely nie. U sal my gedrag waarskynlik as belaglik beskou, maar ek het die nagwandeling aanvaar in die hoop dat ek weer die “spook” van Silwersand sou ontmoet en miskien die kans sou hê om 'n gesprek met hom aan te knoop; as 'n spook ooit tot praat gedwing kan word ... As u geen bepaalde doelwit beoog nie, sal dit vir my aangenaam wees as u my huis toe wil vergesel. Ek het nog 'n paar flesse ou soetwyn wat ons kan proe, en ek kan belowe dat Tarries voor my vertrek 'n groot vuur gemaak het wat ná die snydende windjie seker nie onaangenaam sal wees nie.’
Van der Byl het geruime tyd doodstil en spraakloos gestaan, terwyl hy sy neurotiese oë in 'n vlymskerp blik op dr. De Ridder gerig hou.
‘Het sy so, dokter,’ sê hy uiteindelik, asof hy skielik tot 'n groot besluit gekom het. ‘Dit is miskien vir my die aangewese weg. Van iemand moet ek raad en hulp kry en dit spoedig. So kan dit nie langer aangaan nie. Die ketting kan net 'n bepaalde gewig dra ... een pond meer, dan breek 'n skakel en alles stort die afgrond in. So is dit nou met my gesteld.’
Dr. De Ridder neem hom vriendelik aan die arm. Ten alle koste moet hy eers sy vertroue wen; goed weet die geneesheer al die moeilikhede en gevare wat hom omring, maar sy diepe pligsgevoel - en miskien 'n nog dieper gevoel wat sy gemoed in die laaste tyd bemagtig het - laat hom geen uitweg nie.
‘Sal u my toelaat om u Pedro te noem? Ons is soos twee op 'n skuit in die ose- | |
| |
aan, sodat ons geselskap ten minste hier in Silwersand byna gedwonge sal wees, daarom sal dit wenslik wees om so gou moontlik alle formaliteite te laat vaar ... U gee te kenne dat u in die een of ander moeilikheid verkeer. U weet natuurlik dat ek 'n geneesheer van beroep is - met 'n taamlike lang praktyk in Europa en Amerika agter die rug; as u moeilikheid binne die perke van my klein kennis val, kan u op my hulp reken, ofskoon ek nie langer praktiseer nie.’
‘Ongelukkig, dokter, het ek geen geneeskundige hulp nodig nie. Ek is so gesond as ek ooit in my lewe was. My moeilikheid is van 'n heeltemal ander aard. As dit net my gesondheid was wat die moeilikheid skep, sou dit my geen oomblik onrus veroorsaak nie. Ek verklaar voor God dat ek enige kwaal liewer sou begeer: kanker, tering, voortdurende pyn ... Ek sou enigiets van dié aard met dankbaarheid en blydskap aanneem, as ek net verlos kan word van die verskriklike lyding wat my opgelê word. En waarom, waarom, waarom?’ En hy hef sy arms omhoog met 'n gebaar van die diepste vertwyfeling en hopeloosheid.
‘Kom maar saam huis toe, dan kan ons die hele saak kalm en bedaard bespreek. Al het u my geneeskundige hulp nie juis nodig nie, kan dit wees dat ek miskien in u geval ook ondervinding het.’
‘Nee, dokter! Dit kan nie wees nie. Ek is die enigste ongelukkige op aarde wat so geteister is en ek het maar min hoop dat u in staat sal wees om die ding op te los. Maar ek moet nou eenmaal iemand raadpleeg; dit moet tot 'n end kom of iets gaan bars! Kom!’ Die laaste woorde sê hy tandeknersend en met 'n stem wat van woede bewe. Sonder 'n woord meer vergesel hy die dokter met haastige beslistheid huis toe.
Toe hulle voor die vuur sit, is een kyk genoeg om die dokter te verseker dat die ongelukkige jong man in 'n toestand van die diepste ellende verkeer. En sy spesiale kennis en ondervinding het hom die versekering gegee dat hy hier te doen het met die diepste lyding wat vleis en bloed ooit op aarde ten deel val. Hy wis ook dat Pedro se verklaring geen ydele uitlating was nie. 'n Mens verdra dikwels 'n halwe leeftyd lank die vreeslikste liggaamlike pyn sonder dat die gedagte ooit opkom om verlossing te soek deur die hand aan die eie lewe te slaan, terwyl pyniging van hierdie aard - sielepyn - een van die gewoonste oorsake van selfmoord onder alle volke en beskawings is.
Hier is die jong man met sy sterk, aantreklike gesig en reine Griekse gelaatstrekke; 'n hoogs ontwikkelde atleet, met elke liggaamsdeel wat van gloeiende gesondheid getuig, terwyl onsigbaar in sy siel hy reeds die onwrikbare doodspyn van Artemis dra - 'n kwaal waarvoor die apteker tevergeefs duisend jaar deur al die natuurryke 'n middel soek.
‘Dokter, ek wil u 'n paar vrae stel - vooraf,’ begin Van der Byl, nadat hy 'n paar minute stilswyend en peinsend die vuur gadegeslaan het. Dr. De Ridder
| |
| |
het dadelik geweet dat hy in staat is om self die gees van die vrae in woorde te stel, maar daarvan het hy niks te kenne gegee nie.
‘Ek weet so min van al ons hedendaagse ontdekkings - ek meen van die beginsels - dat my onkunde die bron van 'n groot gedeelte van my lyding is. U sal waarskynlik meer weet en my ten minste tot so ver kan help. Wat ek u wil vra, is dit: Is dit moontlik om deur 'n draadloos sekere stemme op iemand te rig, op so 'n manier dat hy dit nie alleen duidelik hoor nie, maar dat niemand anders dit kan hoor nie?’
Daar is dit! Presies wat hy te wagte was! Hoe dikwels het hy nie dieselfde vraag van siellydendes gehoor nie. In die ou dae is dit deur die sielsiekes èn deur die regswese, soos dit nog die geval onder ons naturellestamme is, algemeen aan heksery toegeskrywe. Met die vooruitgang van wetenskaplike ontdekking het die een toestel na die ander die sielsiekes deur die hele wêreld as verbeelde bron van hul ellende gedien. Magnetisme en hipnotisme was byna honderd jaar lank die groot middel van vervolging. Die uitvinding van die telefoon het hierdie abnormale sieletoestand so te pas gekom dat publieke voorlesings 'n tyd lank in die vernaamste Amerikaanse gestigte gelewer is in die hoop dat verduideliking van die beginsel van die telefoon sou strek om die illusie teen te werk. Dit het egter min gehelp. En toe kom die grammofoon en die draadloos wat die siellydendes 'n moontlike middel van vyandige gebruik verskaf het, waarteen geen argument of bewys bestand was nie.
Wat onder die vroeër wyse van rangskikking as ‘vervolgingswaansin’ bekend was, is sonder twyfel een van die wonderlikste en onverklaarbaarste kwale waardeur die menslike siel geteister word. Onder die teenswoordige wyse van rangskikking het dit as 'n aparte kwaal verdwyn. Dit word nou beweer dat verskillende vorms van ‘neerslagtige kranksinnigheid’ simptome van vervolgingswaansin toon. Maar die juistheid van hierdie rangskikking word deur die vername deskundiges in alle lande bestry. In die vroeër genoemde ‘vervolgingswaansin’ is die simptome so onveranderlik, die agtereenvolgende stadiums van die siekte so vas en seker afgebaken, dat daar geen sielsiekte is nie wat meer bepaald strek om die waarnemer te oortuig dat die illusies en hallusinasies wat die kwaal kenmerk, die gevolg moet wees van 'n bepaalde patologiese, organiese beskadiging van die brein of sentrale senuweestelsel. Hoe kan dit anders wees as presies dieselfde simptome deur duisende en duisende verskillende mense ondervind word? As dit nie dieselfde beskadiging van die brein is nie, hoe kan die barbaarse Neger uit Midde-Afrika presies dieselfde liggaamlike storings voel, dieselfde waansinnige gedagtes dink en dieselfde uitleg aan sy lyding gee as die hoogs geleerde professor uit 'n Europese universiteit? Maar die noukeurigste nadoodse ondersoek het nog nooit in sulke gevalle die geringste tipiese letsel in brein of senuwee blootgelê wat as oorsaak kon dien van die verskriklike sielsomwenteling by al die aangetastes nie.
| |
| |
Vlugtig het hierdie gedagtes deur dr. De Ridder se brein gestorm, terwyl hy elke gelaatsuitdrukking en beweging van sy ongelukkige gas noukeurig gadeslaan. Dit het hom benieu wat die loop van die kwaal in sy geval was. Een van die wonderlikste eienaardighede van vervolgingswaansin lê daarin dat die aangetaste nooit onder enige omstandigheid die ‘stemme’ wat hy hoor, die ‘gif’ wat hom ingegee word, die ‘gasse’ wat snags oor hom geblaas word, ensovoort, aan bonatuurlike bewerking toeskrywe nie. Dit is altyd lewende mense wat dit doen en wat bekende, natuurlike middels besig. Die inboorling hardloop in die nag na buite om sy fluisterende vyand op die dak van sy stroois te betrap; die Europeaan haal hom groot onkoste op die hals om sy skoorsteen, vensters en waterpype so dig te maak dat sy vyande hom nie langer langs dié weg kan bereik nie. En so normaal skyn in die begin hul redenering en gedrag dat dit dikwels gebeur dat hulle in staat is om familie en vriende te oortuig dat hulle die slagoffer van 'n geheime, uitgebreide sameswering is. Dr. De Ridder voel oortuig dat mevrou Van der Poel 'n geesdriftige kruisvaarder in die saak van haar neef sou wees, en wee die ‘vervolger’ wat haar wraaksug moet trotseer!
In baie gevalle is die begin van die siekte so skielik soos 'n weerligslag. Die aangetaste voel 'n skielike ‘dofheid’ oor hom neersak en dan hoor hy 'n stem of stemme. Die stemme mag van buite sy liggaam kom, maar kan ook inwendig wees; in sy maag, kop of bors. Soms is dit stemme van bekendes, soms van onbekendes, maar altyd is die stemme vyandig. Hy word uitgeskel en uitgevloek, van allerlei onsedelikhede en misdade beskuldig; hy word met allerhande verskriklikhede bedreig. Dit hou dag en nag aan. Nêrens kan hy hom een oomblik buite bereik van die verskriklike stem of stemme stel nie. Somtyds is dit verskillende stemme wat 'n gesprek voer, waarvan hy egter altyd die veragte en beskimpte onderwerp is. Die vervolging neem gedurig toe. Baie gou word sy ‘gedagtes gelees’. Net nadat hy iets uitgedink het, word sy gedagte spottend deur een van die stemme herhaal; selfs voordat hy die gedagte dink, word dit deur sy vervolgers geuit! Dit het by een groot deskundige die teorie laat ontstaan dat die ‘stemme’ die gevolg is van ongelyktydige werking van die twee helftes van die brein. Die teorie besit minstens die aanbeveling van nuut en uiters interessant te wees!
Die vervolging gaan spoedig oor op liggaamlike aantasting. Sekere dele word snags gepynig deur warm ysters, staaldrade, ensovoort. Al die spesiale sinne is eindelik in die wrak betrokke. Daar is illusies van reuk en smaak, trillinge van sekere senuwees wat hy toeskrywe aan gasse, vergiftiging en elektriese skokke wat deur sy verstoke vyande na hom gevoer word. Hy weet dat dit so is, want voordat hy dit gewaar, vertel die ‘stemme’ hom dat hulle dit en dat gaan doen, en op die voorspelde tyd gebeur dit!
Intussen bly sy verstand absoluut helder. Hy redeneer heeltemal logies. Eers ontstaan by hom die vraag: Wie doen dit alles aan my? Meestal is die antwoord:
| |
| |
die een of ander geheime sameswering. Dit mag die Vrymesselaars wees, die Rooms-Katolieke, of die Protestante. En dan ontstaan al dringender die belangrikste en moeilikste van alle vrae wat 'n antwoord eis: Waarom?
Waarom word hy - uit al die duisende om hom - gekies vir al die belastering en vervolging? Waarom net hy?
Die antwoord is byna onvermydelik en daarom is dit in byna alle gevalle dieselfde. Hy redeneer dat hy natuurlik iemand van buitengewone belang moet wees, anders sou sy vervolgers nooit al die moeite doen om die lewe vir hom so ondraaglik te maak nie. Dikwels is die ‘stemme’ met slinkse suggesties hulpvaardig. In die meeste gevalle voer die ‘stemme’ 'n gesprek met mekaar waarvan hy die bespotte of beledigde onderwerp is. Een ‘stem’ sal aan die ander vra: ‘Ek wonder of die domkop (ens., ens.) al ooit opgemerk het hoeveel hy na koning George lyk en dat die sogenaamde Prins van Wallis na geeneen van die familie lyk nie.’ Die ander antwoord miskien: ‘Ons moet sorg dat hy dood raak voordat dit gebeur.’
Gewoonlik is so 'n ‘suggestie’ voldoende om 'n omwenteling in sy waansin teweeg te bring. Hy kom tot die gevolgtrekking dat daar 'n geheim ten opsigte van sy geboorte is. Hy is van koninklike bloed, maar word deur vyande van sy regte weerhou. Dit is die begin van die grootheidswaansin wat altyd en in alle tipiese gevalle die vervolgingswaansin opvolg. Wanneer dit gebeur, is alle gevaar gewoonlik verby. Uit die sekere kennis van sy grootheid skep hy 'n genot wat hom tot die dood toe bybly en wat sy wraaksug in eksultansie omsit.
Dit is konings, presidente, eerste ministers, regters en ander volksleiers wat die meeste gevaar loop van aanvalle deur vervolgingswaansinniges, en die meeste regeerders in ons tyd word spesiaal daarteen bewaak. In ons tyd is twee keisers van Rusland, twee konings van Spanje, een van Portugal, twee presidente van Frankryk, twee presidente van Amerika, een eerste minister van Engeland - Perceval - en 'n menigte ander leiers deur vervolgingswaansinniges vermoor. Maar die moordaanslae kan ook op bloedverwante en vriende gemaak word, asook op onbekende vreemdelinge.
Dit is onmoontlik om so 'n ongelukkige teen sy eie waansinnige togte te beskerm solank hy op vrye voet verkeer. Hierin is die probleem opgesluit wat dr. De Ridder moes ontknoop. Sy weg is nou duidelik genoeg: hy moet sorg dat die Van der Poels se erfgenaam so gou moontlik opgesluit word. Maar hoe dit hier op Silwersand te bewerkstellig, is 'n moeilike vraagstuk. Vir eers is die sertifikaat van 'n tweede geneeskundige nodig, en bewaarders sal teenwoordig moet wees om die ongelukkige man dadelik in bewaring te neem.
Intussen, terwyl dr. De Ridder al die besonderhede oorweeg, het Pedro van der Byl met die verhaal van sy ellende voortgegaan.
‘Ek sal jou alles vertel, dokter, dan kan jy self oordeel of dit langer draaglik is.’
| |
| |
En toe het hy, dikwels in die uiterste opgewondenheid, dan weer met trane van selfbejammering in sy oë, met die verhaal van sy ellende en die ontstaan van die stemme voortgegaan. ‘Eers was daar net twee stemme en ek kon hulle nooit met sekerheid herken nie; maar hulle het nooit opgehou nie, my nooit rus gegee nie. Te midde van die gewoel van Kaapstad, in die eensaamheid van die see op my skuit, in die teater, in die kerk - altyd gaan hulle met belediging en beskimping voort. Nou terwyl ek met jou praat, hoor ek hulle - hier net bokant my hart. As jy jou oor hier druk, sal jy dit hoor. Luister bietjie!’
Die dokter moes voorgee dat hy belangstellend luister: ‘U asemhaling en die geluid van u hart maak dit onmoontlik vir iemand om die stemme van buite te hoor. 'n Mens sal daarvoor 'n toestel moet gebruik.’
‘Vir my is dit so hard en duidelik dat ek in die begin gewonder het waarom die mense naby my dit nie ook hoor nie. U het seker gehoor dat die stigter van ons familie hier - Jonas van der Poel - gered is van 'n skip wat driehonderd jaar gelede voor Silwersand vergaan het.’
‘Ja,’ antwoord dr. De Ridder, ‘bloot toevallig het ek die geskiedenis van Jonas van der Poel en die vergaan van die skip onder die papiere gevind wat ek versamel het omtrent hierdie huis wat toe aan Olof Bergh behoort het. In hierdie huis het u voorvader ná sy redding gebly.’
‘Nou ja, dan weet u alles daarvan. U weet dat daar 'n geheim in verband met die skip en met Jonas van der Poel was. Niemand het geweet wie hy is, waarvandaan hy gekom het, of waar hy sy groot skat vandaan gekry het nie.’
Dr. De Ridder het dadelik opgemerk dat die donker feite van die geskiedenis van Jonas van der Poel - die beskuldiging van moord en seerowery - aan hierdie afstammeling nooit vertel is nie.
‘Op hierdie geheim sinspeel die stemme gedurig. Daar is 'n ou legende - soos u waarskynlik weet - dat die skip af en toe in stormweer hier gesien word. My grootvader het altyd beweer dat dit die prototipe van Die Vlieënde Hollander is. Die legende beweer dat die skip altyd die dood van die een of ander lid van ons familie voorspel. Van die begin af het die stemme my te kenne gegee dat Die Vlieënde Hollander weer hier gesien is, of hier binnekort gesien sal word en dat dit my eie dood of ondergang te kenne sal gee. Ek het geweet dat dit alles bangmakery is. Hulle wou my tot selfmoord of kranksinnigheid drywe. Maar ek het 'n eed geneem dat ek nie sou ingee nie, dat ek eers op my vervolgers wraak sou neem. Ek sou hulle vind waar hulle ook al mag wegkruip! ... En toe begin ek 'n derde stem hoor ... Liewe Heer! Dr. De Ridder ... jy kan dit nooit dink nie; jy sal dit nooit glo nie. Agulha de Villiers en ek het soos broer en suster saam hier opgegroei.’ (Sy stem word dadelik so hees dat hy moeite het om die woorde te uit.) ‘Ek erken dat daar 'n tyd was dat ek haar bo enige ander mens op aarde liefgehad het; ek kan selfs sê dat daar 'n onuitgesproke verstandhouding tussen ons was dat ek binnekort met haar sou trou. U het self
| |
| |
gesien wat haar gedrag teenoor my is. Kan u dit glo dat die swartste verraad in haar hart kan skuil? Dat sy met my bitterste vyande saamgespan het om my tot 'n skandelike dood te dwing? Kan u glo dat sy vrolik lag oor my ellende, dat sy elke stap nader aan my ondergang toejuig en my bespot en beskimp? Sy weet natuurlik nie dat die duiwelse toestel haar stem tot my oordra nie. Dit het so 'n bitterheid in my hart gewek, dokter, dat ek tot enige bloedige daad gereed was. Ek het heimlik hierheen gekom. My ou tante, aan wie ek alles vertel het, was my hierin behulpsaam. Sy is die enigste lewende siel wat van my ellende weet. U is die tweede aan wie ek dit toevertrou. Op aandrang van die stemme het ek verskeie maal die strand besoek en drie maal het ek self Die Vlieënde Hollander hier gesien. Daarom het ek u gevra of dit moontlik is om deur 'n draadloos aan iemand 'n beeld in die ope lug te vertoon. Ek weet dat dit so iets moet wees, want ek glo niks aan Die Vlieënde Hollander nie. Ek het daar nooit aan geglo nie. Dit is net 'n plan om my tot selfmoord te dwing!’ (Dit was die nag toe hy in slaapwandelende toestand gesien is, herinner dr. De Ridder hom.)
‘En Agulha se stem hoor ek gedurig. Om haar hier te sien, vrolik en opgeruimd, en al die tyd te weet wat in haar hart omgaan. Dr. De Ridder, daar was een moment waarin moord sou geskied het as God in Sy genade my nie op die uiterste weerhou het nie. Haar eers en dan ek!’
Hier verdoof sy stem in stormagtige snikke. Dit was 'n verskriklike skouspel om 'n sterk man soos 'n kind te sien ween, histeries en onkeerbaar. Met gerusstellende woorde, sy arm om sy skouers, bring dr. De Ridder die ongelukkige tot bedaring. Hy weet dat dit absoluut nutteloos is om met hom te redeneer, om te probeer om hom te oortuig dat sy toestand patologies is en dat daar in werklikheid geen ‘stemme’ bestaan nie. Dit sou alleen strek om suspisie teen homself te skep.
‘In Gods naam, Pedro, moet nooit weer aan geweld dink nie. Dit is waarskynlik net wat jou vyande verlang. Sien jy dit nie self nie? Laat die saak 'n paar dae gerus in my hande. Ek beloof jou dat ek jou sal help. Vertrou net op my.’
‘Ek weet nie! Ek weet nie!’ roep Pedro uit, terwyl hy nog altyd ween. ‘Ek kan dit nie langer uithou nie. Dit is soos die stemme altyd beweer: daar is 'n vloek op ons familie. Dit is miskien die beste dat ek self 'n einde daaraan maak. Dan sal hulle tevrede wees.’
Dit het 'n worsteling van ure gekos om die ongelukkige tot 'n toestand van betreklike bedaring te bring en dit was toe die eerste stromers van die daglumier reeds in die ooste sigbaar was dat dr. De Ridder hom na die groot hek van Zuiderzicht vergesel en daar van hom afskeid geneem het, met die belofte dat hy dadelik aan die saak sou werk en alles in sy vermoë sou doen om die verdekte vyande te ontbloot en so 'n einde aan die vervolging te maak. Hy kon egter sien dat sy versekerings en beloftes geen sprankie hoop in Pedro se hart gewek het nie.
| |
| |
Op weg huis toe het hy omslagtig 'n plan beraam. Hy sou dadelik twee geneeshere en die nodige bewaarders telegrafies uit Kaapstad ontbied, sodat 'n ondersoek sonder die kennis van die ongelukkige kan plaasvind. Hulle kan onder die voorwendsel kom dat hulle draadloos-deskundiges is wat die saak sal ondersoek. Dan moet hy Agulha op die een of ander wyse in veiligheid bring. Hy het egter besluit om haar niks te vertel voordat hy van die koms van hulp uit Kaapstad verseker is nie.
Dit was die volgende aand 'n uur ná ete dat dr. De Ridder vir die tweede keer deur 'n groot alarm gesteur is.
Hy het die nodige telegramme afgestuur, antwoorde ontvang en was die dokters en bewaarders die volgende oggend te wagte. Hy sou Agulha en haar tante vroeg die volgende oggend waarsku, sodat hulle êrens in veiligheid kon wees voordat die onderhoud met Pedro plaasvind.
Hy was besig om al die besonderhede in sy gedagte oor te gaan, toe daar 'n skielike en geweldige lawaai in sy kombuis plaasvind. Hy hoor vrouestemme in die grootste opgewondenheid met uitroepe van vrees en verbasing, en voordat hy 'n tree in die rigting kon doen om die oorsaak te ontdek, kom twee bruin vroue by die kamer ingestorm. Dit is sy eie bediende, Kandas, en die kombuisbediende van die Withuis wat Agulha en haar tante 'n paar nagte tevore ná die voorval van die man by die venster vergesel het.
Sieur, sieur, kom gou! Kom gou!’ Seur Pedro ... Juffrou Agulha ... O, kom gou, my seur, kom gou!’
‘Wat is dit? Wat het gebeur?’ roep De Ridder verskrik en ergerlik. Maar om 'n verstaanbare verhaal uit die histeriese mense te kry, was eenmaal onmoontlik.
Toe 'n suspisie van wat gebeur het, tot sy verstand deurdring, het hy so ver beheer oor homself verloor dat hy uitroep: ‘Liewe Here! Dit was die dwaasheid self! Dit is my skuld. Ek moes haar gewaarsku het! Ek moes haar hier na my huis gebring het.’
Haastig steek hy 'n rewolwer in sy sak en sonder om op die boodskapper te wag, is hy die grootpad op na die Withuis. Van die tuinhek kan hy sien dat die voordeur oopstaan en oor die drumpel lê 'n onheilspellende, donker gedaante. Maar voordat hy die stoep bereik, kom 'n ander gedaante in die helder maanlig uit die slagskaduwees langs die tuinpad te voorskyn. Hy het nog nie besef wie dit is nie, toe Agulha wenend, maar met uitroepe van vreugde tussenin, in sy arms sak. Sonder om na te dink, bedek hy haar wange en lippe met soene - soene van blydskap en danksegging.
In een blombedding vind hy tant Cateau in 'n diep floute en nadat hy haar versorg het, nader hy die ander gedaante op die drumpel. Dit is die ongelukkige Pedro van der Byl, die laaste erfgenaam van die familie Van der Poel, met 'n rewolwer langs hom en 'n wond in sy voorkop. Hy is dood. Dit was sy wraak- | |
| |
neming vir die gruwelike onreg waaraan sy bekwaalde siel sy beminde skuldig bevind het. Terwyl dr. De Ridder met een arm beskermend om Agulha, in die instromende maanlig op die skone gelaat van Petrus van der Byl neerkyk, kan hy nie nalaat om 'n ‘Dank God!’ te uit nie. ‘Hier eindig die donker stroom wat driehonderd jaar deur die ongelukkige familie gevloei het. Die oumense het dit “'n vloek” genoem. Die hedendaagse wetenskap noem dit “erflike kranksinnigheid”.’
Met die beëindiging van die familie Van der Poel met die laaste bedryf in die tragedie van driehonderd jaar wat Die Vlieënde Hollander op die kus van Suid-Afrika uitgewerp het, skyn dit asof die spookskip self ook tot 'n einde gekom het.
Voor die onttowerende krag van stoom en staal het De Zeven Maagden êrens in 'n onbekende hawe 'n skuilpoort bereik. Nie langer word hy deur worstelende matrose en vissers gesien terwyl hy met sy donker boodskap van gevaar en dood deur storm en sneeu op sy eindelose vaart voortjaag nie.
En die dapper maar woeste ou Watergeus skout-by-nag Jan de Roode Beest van Buren het waarskynlik ook ná drie eeue, in die stil dieptes van die Middelsee, die rus gevind wat eers weer gesteur sal word wanneer ‘de Zee de dooden geeft die in haar zijn’.
|
|