Voorwoord.
Dit is met grote dankbaarheid dat ek by die end van my uniwersitêre opleiding mag terugsien op 'n studietyd van vier en 'n half jaar in 'n omgewing waar wetenskap gemaak en gedoseer word en kuns 'n lewensbehoefte is. Met vreugde gryp ek die geleentheid aan om hier enige woorde van diep-gevoelde dank te rig tot almal wat my dié omgewing leer ken en waardeer het, en my deur herinnering nog blywend sal inspireer tot eie vreugdevolle arbeid in ons jong land.
Dit sy my vergund in die eerste plaas U, Hooggeleerde Prinsen, Hooggeagte Promotor, te bedank vir U waardevolle leiding. Veral U kolleges in vergelykende literatuurgeskiedenis, waarop U steeds die nadruk lê op grote lyne en wydgolwende lewensstrominge, het tot vrugbaarder kennismaking met waarheid en skoonheid van elders gelei, my die weg geopen tot die Franse lettere en Italiaanse kuns, maar ook tot die essensiële waardering van Nederlandse letterkunde. Ook U grote belangstelling en hulpvaardigheid in verband met my proefskrif wil ek hier dankbaar noem.
In besondere mate geld my dank ook U, Hooggeleerde Boer, vir U kolleges en privatissima, waarop die klaarheid van U insig in die Oudgermaanse wetenskap, gepaard met die warmte van U persoonlikheid, my altyd sal bybly as skone uiting van wetenskaplike lewe in die mees verhewe sin.
Hoewel die rigting van my Studie meegebring het dat ek vir korter tyd van U lesse, Hooggeleerde Stoett, Brugmans en Six, in taal- en historiese wetenskap en kunsgeskiedenis kon profiteer, bring ek U alhier my dank vir die leiding van U kolleges en publikasies.