Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 587]
| |
Hoofstuk XX
| |
[pagina 588]
| |
twee potte koffie. Aangesien elke pot drie koppies koffie bevat en 'n koppie koffie indertyd 3 pennies gekos het, wou Langenhoven die kelner 1 sjieling en 'n sikspens vir die 6 koppies koffie betaal. Die kelner het egter daarby nog 3 pennies vir elke pot - 'n sikspens dus - geëis. Langenhoven wou dit nie betaal nie. ‘I did no damage to the pots’, skryf hy op 29 Maart 1926 aan die ‘Chief Steward’, ‘much less did I stick to them. The use of the pots involved no extra service - on the contrary, had I ordered six separate cups the trouble to the staff would have been greater.’ As hy dan huurgeld vir die koffiepot moet betaal, waarom dan nie ook vir die piering en die teelepel nie? Die saak is gerapporteer by die algemene bestuurder van die Spoorweë, sir William Hoy. In 'n lang brief wys hy Langenhoven daarop dat die Spoorweë koste moes aangaan om die potte aan te koop en dat dit hulle derhalwe meer kos om koffie in potte te bedien. Daarom het hulle die reg om die uitgawe van gebruikers te agterhaal. Langenhoven het die situasie klaarblyklik baie geniet. In sy antwoord spreek hy sy spyt uit ‘that you have been put to so much trouble over a sixpence. I had looked upon the matter as an utterly unreasonable extortion and so, of course, refused to pay. The point of capital expenditure, as you are now so good to explain it, had not occurred to me. So here bang goes the sixpence. I enclose it by way of postage stamps which you will do me the favour to replace by the coin.... Please forgive me for the trouble I have caused.’ Waar Langenhoven heftiger in sy reaksie was, het dit mense geraak wie se lojaliteit nie by Suid-Afrika was nie, wat die Afrikaanse taal geen bestaansreg wou gun nie of wat sy uitsprake in die pers verkeerd weergegee het. Iemand vir wie hy van vroeg af in die besonder sy mes in gehad het, was prof. Henry Fremantle, wat in 1915 tot visevoorsitter van die Kaaplandse Nasionale Party verkies is, maar wat, ‘ondanks sy akademiese aansien en vlugheid van gees,...te veel van 'n politieke opportunis’Ga naar eind4 was om die vertroue van enige party te behou. As Fremantle in 1920 uit die Nasionale Party bedank, gee dit vir Langenhoven die geleentheid om hom by te dam, veral oor die verkeerde voorstelling wat hy van Republicans and sinners gee. Fremantle, so sê Langenhoven in De Burger van 25 Oktober 1920, het ‘te minder verskoning vir sy misinterpretasie’ van dele van dié boek, ‘omdat my wyse van uitdrukking, selfs in 'n medium wat vir my vreemd is en vir hom eie, nie bewolk is soos syne nie...Nergens sê ek of beduie ek, en nooit het ek | |
[pagina 589]
| |
gevoel, dat aan Engelssprekende Suidafrikaners wat lief is vir Suid-Afrika die stemreg behoor ontsê te word alleen omdat hulle nog nie opgehou het om vir Engeland lief te wees nie.’ Hy self, so gaan hy voort, was nooit een van die leiers van die Nasionale Party nie, ‘net so min as Prof. Fremantle self, met hierdie verskil - dat hy oneindige moeite gedaan het om een te word en ek niks, wat miskien en miskien nie één van die uitleggings kan wees waarom ek nog altyd 'n volgeling is, en hy nie.’ Naas politieke aangeleenthede het Langenhoven hom enkele kere ook oor ander kwessies van aktuele belang uitgespreek, maar dit was by hoë uitsondering. Oor die Du Plessis-kerksaak van die laat twintiger- en vroeë dertigerjare - 'n saak wat tot hewige debatte onder intellektuele gelei en wesentlik op 'n botsing tussen 'n liberale en 'n ortodokse vertolking van sekere passasies uit die Bybel neergekom het - laat hy hom in November 1928 en ook daarnaGa naar eind5 by meer as een geleentheid uit. Hy neem egter nie 'n duidelike standpunt in nie en is eerder negatief ingestel teenoor wat vir hom na 'n blote dogmatiese kwessie lyk. Wat hy met sy bydrae wil predik, is die liefde van Jesus. ‘Ek wens’, skryf hy, ‘ek kon my vrede aan albei twistende partye meedeel...Aan albei gun ek die protestantse reg van hulle sienswyse - en aan myself die reg om dit te betreur dat soveel bekwaamheid en geleerdheid en toewyding bestee word, ter wille van die saligheid, aan ondersoekings wat vir my lyk of hulle sonder saligheidsbetekenis is.’ In vergelyking met die striemende kritiek op Fremantle is Langenhoven hier inderdaad sagmoedig in sy aanslag, een van die weinige kere waar hy in 'n polemiek 'n afsydige standpunt ingeneem het - al was dit dan met 'n ondertoon van verdriet, wat maklik in irritasie oor die onnodige getwis kon oorslaan! Maar Langenhoven se eerste belangstelling en hartstog was uiteraard by Afrikaans en die Afrikaanse boek. 'n Mens kon dus by voorbaat verwag dat sy ‘sagmoedigheid’ voor sy polemiese aanleg sou wyk wanneer Afrikaans en sy literatuur benadeel word. Toe hy tydens 'n treinreis in die kiosk op die Mosselbaaise stasie nie 'n enkele Afrikaanse boek of De Burger te koop kan kry nie, reageer hy op dié onreg teenoor die Afrikaanse letterkunde en sy skrywers. Mosselbaai, sê hy in 'n bydrae van 16 September 1921 tot De Burger, is 'n plek ‘waar daar meer van die koning gemaak word as in Buckingham Palace’. En dieselfde geld as 'n mens ander dorpe bekyk. In die boekstalletjies op die verskil- | |
[pagina 590]
| |
lende stasies wat hy tydens sy rondreise besoek, sien hy ‘'n vreeslike kleurryke uitstalling van ingevoerde boeke’, alles ‘boggoed wat nie in die verste verte naby myne kom wat leersaamheid en stigtelikheid en oppervlakkigheid betref nie’. Op 'n ernstiger noot skryf hy in De Burger van 12 Oktober 1921 dat dit nie net Engelssprekende mense is wat op die treine ry nie en dat Engels nie meer die enigste kultuurtaal van Suid-Afrika is nie. ‘Die enigste inheemse kultuur’, gaan hy voort, ‘staan vandag hier op ons krediet. En dit terwyl ons maar 'n halwe generasie gelede begint het. In daardie oombliks-tydvakkie het ons meer letterkundige werk gelewer in ons eie taal as wat daar in Hollands en Engels saam gelewer is sedert die aankoms van van Riebeek.... Uit 'n nasietjie so groot as die bevolking van 'n derde-rangse Engelse stad, en dan nog vir die oorgrote merendeel onbevoorreg met skoolopvoeding, het ons so 'n proporsie van talent, net op een gebied, aan die wêreld gewys.’ Wat sy eie geskrifte betref, het hy van vroeg af in opstand gekom teen mense wat sy werk sonder toestemming of erkenning gebruik, waarskynlik een van die redes waarom ook Sarah Goldblatt na sy dood die ‘Chief’ se werk so jaloers teen voornemende gebruikers beskerm het. Dit het nie vir hom in die eerste plek om finansiële gewin gegaan nie, maar om die gebrek aan goeie maniere en fatsoen in sulke gevalle. Wanneer die weekblad Die Voorloper ná die verskyning van sy Stukkies en brokkies in 1911 sonder enige erkenning hoegenaamd dele daaruit oorneem en selfs die naam van die skrywer verswyg, lei dit tot 'n brief van Langenhoven aan die redakteur, al is sy hele uitgangspunt eerder om die blad te help as te strem en al beskou hy dit as 'n eer dat sy werk op dié wyse versprei en verdere lesers vir Afrikaans gewen word. Hy voel egter persoonlik gegrief oor die oornames, omdat Die Voorloper by die publikasie van Stukkies en brokkies geen resensie daarvan gelewer het nie en omdat sy drama Die famielie zaak by die verskyning besonder negatief deur die blad bespreek is.Ga naar eind6 Wanneer die tydskrif Die Ebenezer hom in 1922 aan dieselfde soort oornames skuldig maak en byvoorbeeld sy gedig ‘Pappie se tuiskoms’ sonder erkenning oorneem, eis Langenhoven deur sy prokureurs £ 100 van die blad. In sy reaksie op hierdie optrede sê die redakteur, eerwaarde F.N. van Niekerk, hy is verbaas om so 'n eis te ontvang. Hy was onder die indruk hy het Langenhoven met dié oorname 'n eer bewys! ‘Voorheen’, skryf hy, ‘het ek meesal my eie gedigte geplaas bô die naam Kapenaar. Die laaste | |
[pagina 591]
| |
tyd het ek egter meer die kans aan ander digters gegee. Ek het geweet dat u stukke in “Die Burger” onder kopie-reg was, maar ek is daar nie bewus van dat hierdie gedig in “Die Burger” was onder daardie servituut nie.’ Eerwaarde Van Niekerk gaan verder voort om Langenhoven te wys op die ‘groot opoffering’ wat sy tydskrif van hom verg en hoe hy op sy ‘swak manier’ sy volk dien. As Langenhoven nou geld van hom eis, moet hy noem dat hy totaal ‘onvermogend’ en ‘diep in die skuld’ is. Hy vra Langenhoven om hom te vergewe en hom ‘die reg te gee van u literariese vrugte te wys in “Die Ebenezer”’. Uit so 'n reaksie lei 'n mens af dat Langenhoven nie alleen die taak gehad het om sy mense te leer lees nie. Hy moes boonop mense, selfs redakteurs, leer om darem 'n mate van eerbied vir die geestesprodukte van skrywers te hê en die elementêre ordentlikheid aan die dag te lê om verlof tot opname aan te vra. In alle opsigte was die Afrikaanse literêre wêreld waarin Langenhoven moes optree, 'n braakland. Dit geld ook vir baie van die letterkundiges van sy tyd en mense in die drukkers- en uitgewersbedryf en by die koerante met wie Langenhoven moes onderhandel, al was daar indertyd ook onder hulle baie bevoegde mense - soos J.J. Smith en Frederik Rompel - wat mettertyd van Langenhoven se beste vriende geword het. Dit het hom egter nie verhinder om soms skerp te reageer as hy ongelukkig oor die Pers se optrede was nie. Met die jare het sy reaksie op setters, korrigeerders, kritici en almal wat sy tekste moes hanteer en beoordeel, legendaries geword. In hoofstuk XVIII het baie van Langenhoven se tirades teen die Pers en sy klagtes by Sarah Goldblatt reeds ter sprake gekom. Sy ongeduld met die mense van die Pers en sy minagting vir die hoë here met oorsese doktorsgrade wat hom wou leer skryf, het hy egter nie net in briewe aan Sarah Goldblatt of mededelings aan die Nasionale Pers gelug nie. By meer as een geleentheid was dit die onderwerp van artikels of onderdele van romans. In Die wagtende wêreld het die student in die wetenskap 'n renons in sy vriend se literatuurstudie waarvoor ‘wolkerigheid van gedagte en modderigheid van uitdrukking’Ga naar eind7 klaarblyklik die eerste vereiste is. In 'n noot aan die begin van Die laaste van die takhare waarsku Langenhoven die ‘malkuns-dissipels’ om nie hulle tyd of geld op dié drama te verkwis nie. ‘Al was hulle vir bekering vatbaar sou hulle geen aanwins wees nie, en ek het belangriker werk om te doen as om heeldag waansinnige belemmeraars uit my pad te skop. Ek hinder niemand by | |
[pagina 592]
| |
sy diens nie; ek doen myne na die beste van my kragte. My tyd snel verby en die volk se behoeftes bly onvoorsien behalwe in geringe maat deur my en my vér te weinige eenvoudige werkgenote.’Ga naar eind8 Juis daarom het Langenhoven geen erg aan menings van hierdie mense gehad nie en was hy meer geïnteresseerd in wat die gewone leser van sy werk dink. Hy was kinderlik opgetoë toe hy op 'n keer by mense se huis aankom en 'n luidrugtige geskater hoor - die reaksie van 'n huisgesin om 'n tafel by die voorlees van Sonde met die bure. By geleentheid, so vertel sy medeparlementariër C.R. Swart, van wie ook af en toe verhale in Die Huisgenoot gepubliseer is, het hy 'n brief van 'n Vrystaatse skoolseun ontvang. ‘Ek hou meer van Oom se stories as van Langenhoven s'n’, het die seun geskryf. Toe Swart dit aan sy vriend vertel, was Langenhoven se reaksie: ‘Wonderlik - dit is die grootste kompliment wat ek nog ooit ontvang het!...Vir die eerste keer en uiteindelik word Langenhoven nou as standaard erken!’Ga naar eind9 Langenhoven se ervaring met die drukkers en koerantmense het nie net tot uitvalle en onplesierighede gelei nie. Orals in sy werk is daar allerlei toespelings op die Pers waarin hy sy bisarre geestigheid lustig laat botvier en in meer as een bydrae tot Aan stille waters skryf hy spottend oor al die ergernisse. Een van die kostelikste stukke in sy nalatenskap is ‘Sonde met die drukpers’,Ga naar eind10 'n artikel wat, sover vasgestel kon word, nooit gepubliseer is nie. Met die ‘drukpers’, sê Langenhoven, bedoel hy hier nie die Nasionale Pers nie, alhoewel hy aan die ander kant ook nie bedoel om hulle uit te sluit nie! 'n Voornemende skrywer verwag waarskynlik dat hy 'n manuskrip na die pers stuur en binne 'n redelike tyd in gedrukte vorm terugontvang. Hierdie ‘verbeelding’, sê Langenhoven, ‘is 'n dubbele dwaling’. Die stuk kom nooit binne redelike tyd te voorskyn nie; soms gaan die manuskrip na die papiermandjie toe. As die pers dit wel vir publikasie aanvaar, word daar eers op hom ‘gebroei en aan hom gekorriseer’, want wat ‘jy gesê het moet nooit so verskyn soos jy dit gesê het nie. Jy moet vir iets anders aanspreeklik gehou word.’ Hierdie ‘knoeisug’, gaan Langenhoven voort, ‘is een van die hoë tradiesies van die pers. Dis so 'n diepgewortelde gewoonte by koerante om dinge te sê wat nie so is nie, en te verswyg wat so is, of anders te sê as soos hulle is, dat selfs wanneer dit in hulle belang is om reg te sê soos 'n ding is, verdraai hulle hom tot hulle eie nadeel.’ As voorbeeld noem hy dan sy ervaring met die verslae van sy toesprake. ‘Ek het altyd | |
[pagina 593]
| |
gesê’, begin Langenhoven, ‘ek weet nie hoe de ongeluk dit is nie, ek is ('n) slegte spreker maar ek kry dit (tog) altyd reg om my gehoor te laat verstaan wat my bedoeling is - buiten alleen die beroeps-gehoor, die mense wat betaal word om te luister. Hulle kan my nooit verstaan nie. Maar ek begint nou teenswoordig te dink dat daar ander redes is. Vereers die reeds genoemde algemene rede dat 'n nuusblad onder die verpligting staan om onjuiste nuus te versprei. En daarby, in my geval, is die verslaggeërs onder 'n mis-indruk. Hulle verbeel vir hulle dat ek onbekwaam is om self te lieg of self dwaas te wees. Nou moet húlle sorg om leuens en dwaasheid by te sit.’ Maar Langenhoven wil nie eintlik oor die werk van koerantmanne praat nie, maar oor wat met die manuskripte gebeur wat hulle van ander mense ontvang. ‘Hulle taak’, gaan Langenhoven voort, ‘is mos daar bloot werktuiglik, sou jy sê, nes die van 'n telegraaf-beampte. Hulle moet net letter vir letter oordra van die een papier af op die ander. Dis nie húlle saak of jy reg is (of) verkeerd nie. Dis ook nie hulle saak of jy jou taal behoorlik kan versorg nie. Dis nie hulle brief nie, dis joue. Maar nou is daar eenmaal in ons hoog-letterkundige Suid-Afrika nie 'n man wat 'n sinsnede kan opstel nie, of daar is duisend ander wat beter weet hoe hy moes opgestel geword het. En as hulle die minste kans kry sal hulle nie die skrywer gaan vra nie; hulle sal uitkrap en verbeter. En al die tyd bly sy naam, nie húlle s'n nie, onder die geskrif staan. Verbeel jou 'n bankklerk wat met jou tjeks en wissels so sou maak.’ Daarom dat Langenhoven kan sê ons mag ‘in baie opsigte agter die wêreld wees in Suid-Afrika, maar aan beoordelaars kom ons nie kort nie’. En by 'n koerant is daar nie net een beoordelaar nie. ‘Eers is daar’, skryf hy, ‘die klerk wat die briewe oopmaak. Hy krap uit en korriseer en trek af en voeg by. Dan kom die brief by die onder-redakteur. Hy doen dieselfde. Dan by die assistent-redakteur. Hy doen dieselfde. Dan by die hoofredakteur. Hy doen dieselfde.’ Daarna gaan die ‘bontgemaakte ding’ na die drukkers, wat nog verdere verbeterings aanbring. Uiteindelik is daar Van Donnerhellings, die proefleser, ‘die meester bo al die meesters, baas-ekspert bo al die eksperte’. Veral die drukkers knoei geweldig. ‘Let op’, boots Langenhoven hulle reaksie na, ‘daar is 'n stuk van Langenhoven hierdie slag. Hou die ink weg van daardie stuk drukplaat; laat dit vaal uitkom. Sy werk word buitendien net deur 'n paar mense gelees - hy is te hoog vir die laes en te laag vir | |
[pagina 594]
| |
die hoës. Maak hom vir daardie paar ook onleesbaar. Sy mal ywer vir noukeurigheid is 'n bederf vir die joernalistieke tradiesie.’ Maar nog meer as teen die drukkers het Langenhoven gereageer op kritici wat sy werk negatief beoordeel. Toe hy in 1919 deur Die Brandwag gevra word om iets oor sy eie publikasies te sê, wei hy eers uit oor die ‘hoog-deskundige beoordelaars’ wat uit Europa met ‘skitterende akademiese onderskeidinge’ terugkom en met 'n ‘aangeleerde...kultuursmaak’ ons literatuur wil beoordeel.Ga naar eind11 Veel heftiger vaar hy in ‘Brief van die harlekyn’Ga naar eind12 in Aan stille waters I uit teen die resensente wat sy rus en sy stemming verstoor, gewone ‘leerjongens’ en ‘minderes’ wat hulle die reg aanmatig ‘om hulle meerderes te bespot, vuilwaterdraers om goddelike vuur uit te blus, esels om engele te skop’. Wat hierdie mense doen, is om die kunstenaar ‘willens en wetens’ te hinder en sy skeppende vaart te fnuik. ‘Was dit nie beter’, vra hy dan, ‘as daar meulestene aan julle nekke gehang was en julle in die diepte van die see versink was nie? ...’ Soos ook by herhaling in sy briewe aan Sarah Goldblatt gaan Langenhoven se heftigheid hier in skellerige kleinserigheid oor en sy oorgevoeligheid bevat 'n paranoïese element. Hy sê dan ook in ‘Brief van die harlekyn’ dat die onbegrip en negatiewe reaksie op sy werk hom dikwels ‘weke van slapelose nagte’ gekos het, ‘weke van onderbreking’ van die diens waarvoor hy bestem is. Juis daarom dat hy kritiek as sodanig feitlik as iets uit die bose beskou het waarvoor daar - ten minste in die situasie waarin die Afrikaanse literatuur hom bevind het - geen ruimte was nie. Indien daar wel iets aan 'n werk van hom gehaper het, so was sy redenasie telkens, dan het sy kritici vergeet dat hy vir die volk skryf, nie vir hulle nie. En as die ‘volk’, 'n begrip wat Langenhoven nooit die moeite gedoen het om te omskryf nie, dit goed gevind het, was hy tevrede. Nooit, kan 'n mens byvoeg, het die ‘volk’ 'n werk van hom swak gevind nie! Indien iemand Langenhoven dalk op die logiese onhoudbaarheid van sy standpunt oor die kritiek sou gewys het en op die onredelikheid om die oordeel van die ‘volk’ tot uiteindelike maatstaf te verhef, sou hy waarskynlik weer teen die ‘malkuns’-ideale van die kritici met hul buitelandse opleiding uitgevaar het. In elk geval sou niks hom verhinder het om steeds polemies op alle negatiewe kritiek te reageer nie. | |
[pagina 595]
| |
IIDie Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns het hoofsaaklik bestaan uit ‘Akademiese Fariseërs’ met buitelandse doktorsgrade, waarskynlik vir Langenhoven van die begin 'n aanduiding dat hy daar nooit heeltemal tuis sou wees nie. Tog tree hy in 1913 toe tot die geledere van die Akademie. In 1914 hou hy sy beroemde rede ‘Afrikaans as voertaal’ by die Bloemfonteinse jaarvergadering van die Akademie en dien hy beskrywingspunte in oor die standaardisering van die spelling en die opstel van ‘leermiddele’ by die onderrig van Afrikaans op skool.Ga naar eind13 Hoewel Langenhoven aanvanklik 'n kort tydjie lid was van die kommissie wat eenvormigheid aan die spelling moes gee, het hy weens sy politieke verpligtinge en geografiese geïsoleerdheid op Oudtshoorn nooit 'n aktiewe rol daarin gespeel nie. Vir die jaarvergadering van 1922 in Pretoria vra hy dat die Akademie die wenslikheid moet bespreek dat skrywers nie - soos tot in daardie stadium die geval was - hulle werk vir bekroning met die Hertzogprys moet voorlê nie, maar dat 'n keuse gemaak word uit al die werk wat in die betrokke jaar verskyn het. In die afwesigheid van Langenhoven het Gustav Preller die beskrywingspunt ingelei. Preller sê skrywers beskou dit as 'n vernedering dat hulle ‘as het ware om die prys moet kom aanklop’. Die voorstel is aangeneem en genl. Hertzog is versoek om toestemming te gee dat ‘alle letterkundige werke wat in 'n bepaalde jaar in Afrikaans verskyn het, vir die prys in aanmerking sal kom’. Dit mag wees dat Langenhoven, wat natuurlik uit 'n vermenging van terughoudendheid en trots nooit werke van hom vir bekroning sou voorlê nie, met reg kon gevoel het dat sekere van sy boeke beslis bekroningswaardig was. Tot 1922 is net Totius vir Trekkerswee, Jochem van Bruggen vir Teleurgestel en Leon Maré vir Ou Malkop met die Hertzogprys bekroon. Van hierdie werke kon net dié van Totius tot in daardie stadium met die beste van Langenhoven saampraat. Teleurgestel en Ou Malkop was sonder enige twyfel literêr aansienlik minder as die beste stukke in Ons weg deur die wêreld waarvan die eerste uitgawe reeds in 1913 verskyn het, terwyl Langenhoven se twee allegoriese dramas en Sonde met die bure ook Van Bruggen en Maré se bekroonde werke oortref. Maar hierdie vroeë werke is gepubliseer vóór die instelling van die Hertzogprys of is weens die voorleggingsvereiste nie deur die Akade- | |
[pagina 596]
| |
mie oorweeg nie. Indien Die pad van Suid-Afrika, wat in 1921 verskyn het, deur Langenhoven voorgelê is, sou dit, gemeet aan die ander publikasies in daardie jaar en die destydse maatstawwe, na alle waarskynlikheid met die Hertzogprys vereer gewees het. In 1922 maak die Akademie geen toekenning nie. Vanaf 1923 het alle werke van Langenhoven deur die nuwe bekroningsprosedure in aanmerking gekom. In 1923 verskyn van hom Loeloeraai, in 1924 Die lig van verre dae en Geeste op aarde, in 1925 Herrie op die óú tremspóór en in 1926 Die laaste van die takhare en Mof en sy mense. In 1923 en 1925 maak die Akademie egter geen toekennings nie, terwyl Ampie, die natuurkind van Jochem van Bruggen in 1924 'n bekroning was waarmee daar sekerlik, selfs vandag nog, nie fout gevind kan word nie. Tog kon Langenhoven seker ongelukkig gevoel het dat Van Bruggen nou vir 'n tweede keer bekroon en hy verbygegaan is. Terugskouend meen 'n mens dat sekere werke van Langenhoven in 1922, 1923 en 1925, toe die Akademie geen toekennings gemaak het nie, beslis bekroningswaardig was. Miskien het die heersende mode indertyd voorkeur gegee aan Malherbe se lirisme en is verhale soos Sonde met die bure en Langenhoven se belangrike bydrae om 'n spreektaalmatige Afrikaans te skryf, nie werklik na waarde geskat nie. Ook die diversiteit van sy werk, byvoorbeeld Ons weg deur die wêreld, waarin daar naas verhaaltjies en samesprake ook verse, prekies, spreuke en betogende prosa opgeneem is, het dit waarskynlik vir die keurkommissies moeilik gemaak. Tot enige optrede van Langenhoven by die tweede bekroning van Jochem van Bruggen het dit in hierdie stadium nog nie gekom nie. Op 15 April 1925, terwyl die voorbereiding van die wetsontwerp om Afrikaans as amptelike taal erken te kry, aan die gang is, bedank Langenhoven egter uit die Akademie. Hy verstrek geen redes nie, maar uit 'n brief van 18 April aan Sarah Goldblatt blyk dat sowel politieke as literêre oorwegings tot sy besluit gelei het. Hy wil, so skryf hy, uit die Akademie ‘weg wees voordat hy 'n voldonge kombinasie is van 'n Sap-kliek met 'n malkuns-kliek’. Prominente Sappe in die Akademie was destyds Preller, Engelenburg en vermoedelik ook G. Besselaar, terwyl D.F. Malherbe, T.H. le Roux en P.C. Schoonees saam met hulle by herhaling in hierdie jare in die keurkommissies vir die Hertzogprys gedien het. Van hierdie mense was deur hulle studie in die buiteland vir Langenhoven te ‘Diets’ georiënteer en te vol van die nuwerwetse literêre idees waarvoor hy geen waardering gehad het nie. | |
[pagina 597]
| |
Wanneer die Akademie op sy jaarvergadering in Oktober 1925 besluit dat dit ‘in belang is van die gesonde ontwikkeling van ons Afrikaanse taal om uit te gaan van die standpunt dat Nederlands by ons onderwys erken moet word’ en by die onderrig van Afrikaans 'n plek moet kry, is Langenhoven geweldig ontstoke. In 'n bydrae tot Aan stille waters in Die Burger van 18 Januarie 1926 vra hy waarom Nederlands op skool geleer moet word: ‘Ten bate van twee persent van die leerlinge wat tot vrugtelose doktore en professore opgelei word om op hulle beurt in die toekoms 'n verder twee persent van die volgende generasie tot vrugtelose doktore en professore op te lei?...En gaan ons nou weer daardie afgegooide juk op ons kinders se nek sit? En met dwang? Watter soort taal is Nederlands dan wat nie op sy eie bene kan staan nie?’ Hy gaan voort: ‘Afrikaans was 'n veragte hotnostaal met alles teen hom: die kultuur, die fatsoen, die geleerdheid, die gesag, die geestelikheid. Hy was sonder dagblad, sonder tydskrif, sonder boek, sonder reg of eer of toegang. En hy het gesegevier sodat hy vandag bo staan, ook bokant Engels en sover bokant Nederlands dat Nederlands vandag moet soebat soos hy in die verlede moes soebat.’ Waarskynlik het Langenhoven die Akademiebesluit nie goed begryp nie, want van 'n herinstelling van Nederlands as skoolvak was daar geen sprake nie. Sonder om regstreeks na hom te verwys, antwoord D.F. Malherbe in Tydskrif vir Wetenskap en Kuns van Maart 1926 en sê hy dat dit wel in die belang van die opvoeding en opleiding van die skoolgaande jeug is om hulle met Nederlands as leestaal in aanraking te bring. Dit sou trouens akademies onverantwoordelik gewees het om 'n taal en literatuur wat vir die Afrikaanse kind so maklik toeganklik was en wat hy op 'n skinkbord aangebied gekry het, van hom te weerhou. Langenhoven se aanval op die Akademie oor die besluit om Nederlands weer deel van die Afrikaans-leerplanne op skool te laat uitmaak, lei ook tot 'n reaksie van Gustav Preller. In Ons Vaderland van 16 Februarie 1926 verskil Preller nie alleen lynreg van Langenhoven oor dié aangeleentheid nie, maar verwyt hy sy medestryder ‘die onooglike stompstêrt-Afrikaans, wat ons kinders vandag op skool moet leer’, die talle Anglisismes wat Langenhoven wil wettig en die ‘ontaarde taalgevoel’ wat dreig om van Afrikaans ‘'n strakke, lidlose, stramme, stroewe...spraak’ te maak. Deur Langenhoven se oorhaastigheid, sê Preller in 'n uitspraak wat vandag verbystering wek, het hy nou daarin | |
[pagina 598]
| |
geslaag ‘om Afrikaans op skool in te voer vyftig jaar vóordat die tyd daartoe aangebreek was’. Op hierdie kritiek het Langenhoven nie regstreeks geantwoord nie, maar uit talle opmerkings in sy briefwisseling met Sarah Goldblatt blyk sy ongelukkigheid oor Preller se uitlatings. Blykbaar moet Preller self aangevoel het dat sy reaksie te buitensporig was, want in 'n brief van 11 April 1926 meen hy dat hy Langenhoven se artikel verkeerd gelees of te heftig gereageer het. Hy glo egter dat ons met Nederlands op skool ons eie moedertaal ‘onverbaster’ sal kan voortplant en gaandeweg sal kan verbeter. In sy antwoord van 18 April 1926 blyk duidelik hoe gegrief Langenhoven oor die hele aangeleentheid was. As hy self 'n man in die openbaar verontreg het, so skryf hy, sou hy dit nie as voldoende beskou om dit privaat te probeer herstel nie. Sy verwyt is dat Preller hom met ‘berekende beraad’ aan die volk ‘veragtelik’ voorgehou, sy standpunt verkeerd voorgestel en hom foutief aangehaal het. Preller misbruik verder sy eie posisie en gesag ‘om water op die meule te keer vir die vyande waarteen óns al die jare gestry het, vernamelik sekere onderwys-outoriteite...wat hulle uiterste doen om van ons taalonderwys op skool 'n mislukking te maak’. Wat hy hom egter veral kwalik neem, is ‘dat jy verswyg dat ek en jy saam in 1914 - 50 jaar te vroeg - die voorstel betreffende die invoering van Afrikaans op skool, opgetrek het, wat deur die Akademie met jou hartelike medewerking aangeneem is’. Die kwessie van Nederlands bring in hierdie jare 'n verwydering tussen Langenhoven en Preller. Maar met sy bedanking en sy aanval oor Nederlands op skole was die verhouding tussen Langenhoven en die Akademie ook reeds erg gestrem. Hierdie stremming sou weldra tot 'n hewige botsing lei. In 1926 ken die Akademie die Hertzogprys gesamentlik toe aan Malherbe vir Die meulenaar, A.G. Visser vir die tweede uitgebreide uitgawe van Gedigte en J.F.W. Grosskopf vir As die tuig skawe en Drie eenbedrywe. In sy verslag sê die keurkommissie, bestaande uit E.C. Pienaar, P.C. Schoonees en G. Besselaar, dat die ‘voortdurend groeiende stroom van letterkundige produksie’ in Afrikaans die ‘omvang en verskeidenheid’ van die vorige jare oortref en dat die beslissing daarom moeiliker as in die verlede was. Met die bekroning, gaan die verslag voort, word nie te kenne gegee dat die bekroonde werke in alle opsigte gelykwaardig is nie, ‘maar alleen dat hulle onder die afsonderlike afdelinge...die eerste vir bekroning in aanmerking kom’.Ga naar eind14 Onder die ander werke | |
[pagina 599]
| |
‘wat meegeding het, verdien veral die volgende eervolle vermelding: Chrissie en Joey (Hettie Cillié), Mof en Sy Mense (C.J. Langenhoven), Patrys Hulle (E.B. Grosskopf) en Jannie (Oom Sarel).’ Oom Sarel was die skuilnaam van P.C. Schoonees, een van die lede van die keurkommissie! 'n Mens kon geredelik verwag dat die motivering vir die bekroning Langenhoven se toorn sou laat ontvlam het. In Aan stille waters in Die Burger van 4 Januarie 1927 sê hy dat die verslag bloot al deur ‘die gehalte van redenering en uitdrukking’ 'n voorbeeld is van die onbevoegdheid van die kommissie om ‘as regter oor die skryfkuns’ van ander op te tree. Aangesien daar in vorige jare reeds soveel werk van besonder hoë gehalte gelewer is, ‘vind 'n onvakkundige dit bietjie moeilik om 'n denkbeeld te vorm van die verhewenheid wat in die afgelope jaar bereik is. En die wonder styg tot nog duiseling-wekkende hoogtes wanneer jy verneem dat nie een skrywer nie maar drie - uit óns nasietjie van drie-kwart miljoen! - daardie peil bereik het. Maar dis 'n verblydende teken dat twee van die drie - of is dit ál-drie?, maar minstens tog twee van die drie - doktore is, sodat daardie bevoorregte klas, steeds en snellik in getalle toenemende ten koste van die res van die bevolking, tog dan begint nuttig te word, in die gesagdraende estimasie van hulle kollegas.’ Dit is egter veral die ‘eervolle vermelding’ wat Mof en sy mense saam met drie ander werke te beurt val, wat Langenhoven besonder grief. ‘Waar kry die kommissie die reg vandaan’, vra hy, ‘om my nie net te beledig nie, maar te belaster? Ek het nie my werk aan hulle ingestuur om mee te ding nie, hierdie nie, en geen ander nie, nou nie en nog nooit nie. As ek, uit eie beweging, oordeel soek, dan soek ek nie die oordeel van my minderes nie. Ek bedank hartlik vir die smaad van eervolle vermelding deur so 'n kommissie en ek neem sterk eksepsie teen die voorstelling dat my werk, wat deur al die jare heen nog te hoog was om hulle uitlandsverknoeide smaak te bevredig, nou besig is om tot daardie peil te verval.’ Waarteen hy dit veral het, is dat dié soort beledigings hom in sy werk hinder. ‘Daar moes voorsiening in die wet gewees het’, sluit hy af, ‘om 'n werksman teen sulke soorte moleste te beskerm. Maar terwyl daar nie is nie, soebat ek maar weer dat die Akademie, en die pers, en die tydskrifte, en die hele rasende horde van self-opgeworpe resensente, my tog asseblief ongehinderd moet laat om met my werk voort te gaan in die tydjie wat daar vir my oorbly. Wan- | |
[pagina 600]
| |
neer ek een van die dae dood, sal dit tyd genoeg wees om van wurms geknaag te word.’ En hoe gebelg Langenhoven werklik was, blyk uit 'n brief wat hy op 9 Januarie 1927 aan Sarah Goldblatt skryf. Mof en sy mense het, wat hom betref, nie ‘meegeding’ om die prys nie, maar slegs ‘in aanmerking’ gekom. ‘Ding die hele wêreld mee vir Nobelpryse?’ vra hy. Hy verneem dat E.C. Pienaar, sameroeper van die keurkommissie en opsteller van die verslag, nou ook van hom ‘vervreem’ is. ‘Ek het nie met hom persoonlik te doen gehad nie,’ skryf Langenhoven, ‘maar as hy hom in so 'n kliek meng moet hy verlief neem om daaronder getel te word.’ Hy gaan voort: ‘Waarom laat hulle my nie staan nie? Ek het nog nooit 'n boek met meer liefde en toewyding geskryf nie as juis Mof, en hy is vir my vir die res van my dae tot 'n galbitterheid gemaak sodat ek liewer nie aan hom durf dink nie.’ En hy sluit af, met verwysing na die Akademie: ‘Damned cheek van 'n spul bloody fools - is hulle my gelykes?...Wens ek kon hulle verdelg.’ Langenhoven se versoek dat hy met rus gelaat word, het egter op dowe ore geval. Op 1 Februarie 1927 publiseer Ons Vaderland, die koerant van Preller, wat ook sekretaris van die Akademie was, die volgende verklaring (klaarblyklik deur Preller self geskryf): ‘Senator C.J. Langenhoven het meegeding vir die Hertzogprys en “eervolle vermelding” ontvang. Nie tevrede daarmee nie het hy in Die Burger 'n heftige aanval gemaak op die S.-Afr. Akademie se beoordelaars, en te kenne gegee dat een van hulle ook meegeding het vir die prys!’ Daarop volg 'n verduideliking van E.C. Pienaar. Die skrywer van Jannie, so sê Pienaar, het hom versoek om bekend te maak dat dié novelle nie vir mededinging ingestuur is nie. Dit was slegs die skrywer se bedoeling om 'n ‘onafhanklike oordeel’ te verkry. ‘Verder’, gaan Pienaar voort, ‘berus die eervolle vermelding van Mof en Sy Mense (C.J. Langenhoven) op 'n misverstand. Die kommissie is nie verantwoordelik daarvoor nie, maar ondergetekende. Dit verdien nie “die smaad van eervolle vermelding” nie en moet dus geskrap word.’ Langenhoven se toorn was nou erg ontstoke. In Die Burger van 7 Februarie 1927 reageer hy skerp op Preller se uitspraak dat hy meegeding het om die prys en die insinuasie dat hy die beoordelaars aangeval het omdat hy nie bekroon is nie maar slegs eervolle vermelding gekry het. Hy beskuldig Preller dan ook van ‘twee opsetlike leuens’. In antwoord op Pienaar sê Langenhoven dat hy wel gerugte verneem het | |
[pagina 601]
| |
dat die skrywer van Jannie 'n lid van die keurkommissie is. Nou beweer Pienaar dat die boek deur die skrywer ingestuur is om 'n ‘onafhanklike oordeel’ te kry. ‘Sy opvatting van onafhanklikheid’, sê Langenhoven, ‘verskil dan van myne.’ Met Pienaar se verklaring is daar ‘nou 'n agterdog verwek waarop 'n verdere uitleg verskuldig is as wat nog deur prof. Pienaar gegee is. Dit blyk, onderhewig aan korreksie wat ek en almal van ons bly sal wees om te ontvang, dat een van die kommissie van beoordelaars die anonieme skrywer is van een van die boeke wat beoordeel is, dat hy die boek onder 'n skuilnaam ingestuur het, gedeeltelik aan homself, en “eervolle vermelding” verkry het gedeeltelik van homself. Volgens sy eie uitleg, wat hy nou deur die mond van prof. Pienaar gee, verstaan ek nie watter klagte hy kan hê nie. Hy het geen prys gesoek nie, en geen prys gekry nie; hy het oordeel gesoek en oordeel gekry. En die oordeel is eervol - 'n eer wat hy in elk geval nie soos ek die reg het om te versmaai nie. Wat wil hy meer hê? En waarom moet die gesoekte en gekryde oordeel nou geskrap word?’ Langenhoven wil nou van Pienaar weet of die identiteit van die outeur aan die ander lede van die kommissie bekend was. Wat homself betref, het hy geprotesteer dat hy 'n mededinger genoem word terwyl hy dit nie was nie. Nou sê Pienaar dat hy persoonlik aan Langenhoven se boek ‘eervolle vermelding’ toegeken het. Pienaar het met ander woorde ‘die Kommissie laat sê wat hulle nie gesê het nie’. Langenhoven is verbaas oor die ‘geagte professor’ se opvatting van sy pligte as sameroeper van die kommissie, maar ‘ek wil graag sê dat as ek wis dat die eervolle vermelding persoonlik van hom gekom het, ek dit 'n eer sou beskou het en nie 'n smaad nie. Maar dit wis ek natuurlik nie, ek had nie met hom te doen nie; dit was nie my skuld dat hy sy persoon met sy geselskap verwar het nie. Maar daarmee is die saak nog nie suiwer nie. Ek het geklae dat hy ten onregte gesê het dat my boek meegeding het. Sal hy as sekretarisGa naar eind15 so vriendelik wees om dit terug te trek?’ Hierop was Pienaar nou verplig om te antwoord. In Die Burger van 10 Februarie 1927 sê hy dat die hele saak, ‘met al sy onaangename uitvloeisels en verwikkelings’, sy oorsprong in die woord ‘meegeding’ het. Dit is volkome waar dat Langenhoven geen werk ingestuur het om mee te ding nie, maar hy het tog, ondanks homself, meegeding, omdat die Hertzogprys-skenkingsakte bepaal dat alle letterkundige werke in die betrokke tydvak in aanmerking kom. Nadat hy en die ander lede per korrespondensie dit eens was oor die toekenning, het hy | |
[pagina 602]
| |
as voorsitter die verslag opgestel. En hier het hy die fout begaan om die verslag nie weer aan sy medelede ter goedkeuring voor te lê nie. ‘Waar ons eens was oor die bekroonde werke,’ skryf hy, ‘het ek gemeen uit die korrespondensie te kan aflei watter ander werke eervol vermeld word. Ek het verkeerd afgelei. (Dis 'n verklaring hierdie, nie 'n verskoning nie.) En omdat een van die lede pseudoniem meegeding het, kragtens sy verskyning...maar sonder voorkennis van die ander lede (omdat hy hulle onbevange oordeel wou verneem alvorens hulle in te lig) is hy ongelukkig vermeld sonder sy voorkennis, wat natuurlik nie sou gebeur het as hy vooraf die rapport onder oë gehad het nie.’ Pienaar se verklaring was nie vir Langenhoven bevredigend nie en net die nodige aanmoediging om sy striemende satire te laat botvier. In Die Burger van 14 Februarie 1927 reageer hy met 'n aantal ‘Akademiese definiesies’. So byvoorbeeld is 'n ‘mededinger’ vir hom ‘iemand wat niks met 'n wedstryd wil te doen hê nie omdat hy die prysregters onbevoeg beskou’, 'n ‘verklaring’ 'n ‘onheldere opheldering’, 'n ‘akademie’ 'n ‘kunsgesag bestaande uit skrifgeleerdes wat nie kan skryf nie, selfbenoem met die doel om liksense aan skrywers uit te reik’ en 'n ‘regter’ 'n ‘lid van die regbank wie se eie pseudonieme saak ipso facto onder verhoor kom’. Hierop laat hy dan 'n verdere reaksie op Pienaar volg deur eers veralgemenend uit te wei. ‘Dit staan elke man vry’, skryfhy, ‘om so onbekwaam te wees as hy wil. Maar dan moet hy hom nie self vorentoe stoot as 'n beoordelaar van ander mense se bekwaamheid nie, as 'n model vir ander mense om ná te volg nie, as 'n opleier om ander mense se kinders bekwaam te maak nie, as 'n uitdeler en toekenner van pryse en getuigskrifte vir bekwaamheid nie. Hy moenie vir hom die reg aanmatig om aan dierkundiges definiesies voor te skryf as hy self 'n krap definiëer as 'n rooi vis wat agteruit-hardloop nie.’ Daarna staan hy stil by ‘taalbekwaamheid’ en sê hy dat die mense wat daarvoor opgelei is, hopeloos onbeholpe is as hulle iets op skrif moet stel. Daar is wel uitsonderings soos prof. Pienaar; ‘daarom pas hy nie in die Akademiese geselskap waarin hy hom bevind nie’. Sy beswaar teen die jongste bekronings is egter dat die keurkommissie nooit bymekaar was nie en geen oorleg gepleeg het nie. Die toekennings is uit ‘haastige korrespondensie’ saamgestel. ‘Daar was drie beoordelaars en daar is dus drie bekroondes. Was daar twaalf beoordelaars dan sou dit vir 'n skrywer net so onmoontlik gewees het om 'n deel van die Hertzogprys te vermy as vir 'n student 'n doktorstitel op die vasteland | |
[pagina 603]
| |
van Europa...Was die verslag deur een van die ander twee kommissarisse opgestel, dan was daar 'n ander erelys. Hierteen lyk dit my, het skrywers van die betrokke jaar, wat op hierdie soort eer gesteld is, rede om te kla. Hulle het dan gelyk met die vereerdes meegeding, met of sonder eie wil, en waarom moet húlle kanse van verering deur twee andersdinkende beoordelaars afgesluit word? As daar in so 'n skitterend vrugbare jaar...so 'n plethora van prysverdieners was, hoe 'n lang lys van eerverdieners moes daar dan nie gewees het volgens dieselfde metode van toekenning nie?’ Op hierdie artikel van Langenhoven het Pienaar nie geantwoord nie. Al was die persoonlike verhouding tussen hulle nie versuur nie, kon Langenhoven tog nie enige toegeneentheid vir die Akademie as liggaam ontwikkel nie. Toe Skaduwees van Nasaret in 1927 die Hertzogprys met Van Bruggen se Ampie, die meisiekind en Sangiro se Diamantkoors en Twee fortuinsoekers moet deel, wys Langenhoven in 'n brief van 24 Desember 1927 aan die sekretaris van die Akademie die £ 25 wat aan hom gestuur word, van die hand, ‘natuurlik sonder bedoeling van onbeleefdheid’. Die sekretaris was in hierdie stadium prof. D.B. Bosman van Kaapstad, die persoon wat Mof en sy mense in Die Burger bespreek en oor wie Langenhoven sy striemendste aanval geskryf het. Maar nog was dit nie die einde van die struwelinge tussen Langenhoven en die Akademie nie. Arthur van der Lingen, een van die weldoeners van die Akademie, het testamentêr duisend versekeringsaandele aan die Akademie bemaak wat vyf jaar na sy afsterwe as prysgeld vir die vyf beste letterkundige werke in Afrikaans uitbetaal sou word. Toe die geld in 1929 beskikbaar word, benoem die Akademie 'n keurkommissie wat die vyf werke aanwys: Ampie I en II (Van Bruggen), Uit oerwoud en vlakte (Sangiro), Oom Gert vertel en ander gedigte (Leipoldt), Die vlakte en ander gedigte (Celliers) en Ons weg deur die wêreld (Langenhoven). Die feit dat Langenhoven se naam laaste op die lys staan, was genoeg om hom ook van dié toekenning te laat afsien. Op 8 Oktober 1929 skryf hy aan Sarah Goldblatt hy veronderstel dit sou te ooglopend gewees het om sy werke heeltemal uit die pryslys weg te laat. Ongelukkig vir die Akademie het ‘die testateur egter nie genoeg pryse nagelaat om my 20ste te sit nie. Nou ja. Vyfde en laaste rang.’ Op 29 Oktober skryf Langenhoven aan die bestuurder van die betrokke versekeringsmaatskappy dat indien die Akademie regstreeks as ‘prysregter’ opgetree het, ‘hy my die eer sou gelaat het om volgens sy standaard, of gebrek aan standaard, | |
[pagina 604]
| |
geen werk van my onder die eerste vyf of onder die eerste vyftig te plaas nie...Met die meeste hoffelikheid moet ek dus die aangebooie oordrag van aandele van die hand wys en stuur dit hierby terug.’ | |
IIILangenhoven se reaksie op die besluite van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns toon telkens sy liggeraaktheid as sy eie skeppende werk in die gedrang was. Hy kon egter self geniepsig op die werk van sy medeskrywers reageer, al was hy altyd gunstig te spreke oor 'n digter soos Celliers en het hy waardering gehad vir die werk van Fagan en M.E.R. By die vroeë dood van A.G. Visser op 10 Junie 1929, 'n digter wie se geestige poësie en woordspel tot hom moet gespreek het, is hy besonder aangedaan - 'n aanduiding dat Visser se bekroning met die Hertzogprys drie jaar tevore by Langenhoven geen kwade gevoelens teen sy mededigter gelaat het nie. ‘Ag liewe,’ skryf hy op 12 Junie aan Sarah Goldblatt, ‘ek kan huil oor A.G. Visser. Wens ek wis genoeg om 'n waardering te skryf. Hy was meer as al ons ander saam. En ek sê dit nie nou-eers noudat hy dood is nie.’ Op 24 Junie publiseer hy in sy Aan stille waters-rubriek 'n sonnet oor Visser.Ga naar eind16 'n Mens kan vra of Langenhoven se oordeel nie dikwels deur persoonlike vriendskappe of politieke en literêre afkeure gekleur is nie. Oor Totius se werk laat hy hom byvoorbeeld in sy briewe aan Sarah Goldblatt negatief uit, maar 'n mens wonder of die teleurstelling oor die kerklike afwysing van sy Gesange en die ophemeling van Totius se Psalmberyming nie daarin 'n rol gespeel het nie. Vir Grosskopf kon hy ná die negatiewe bespreking van Die Vrou van Suid-Afrika maar nie lief word nie. Wanneer Sarah Goldblatt in 1924 betrokke is by 'n produksie van 'n Esau deur dié dramaturg en 'n negatiewe resensie oor die opvoering ontvang, toon hy 'n bietjie leedvermaak. ‘Maar julle wou mos nou’, skryf hy op 23 September aan haar, ‘hierdie ellendige ding opvoer uit 'n soort kulturele snobbery om hoë moderne psigologies-futuristiese kuns te bevorder en 'n neerbuigende glimlaggie te kry van die bowemenslike genie wat vir ons almal 'n modél geskep het, en julle mislukking wat ek vooraf verwag het serves you right.’ Wat presies die basis was vir Langenhoven se afkeer van Leipoldt, is moeilik om te agterhaal. In 1919 laat Leipoldt hom byvoorbeeld beson- | |
[pagina 605]
| |
der gunstig uit oor die heruitgawe van Ons weg deur die wêreld, al het hy minder waardering vir die mediterende essays met hul ‘preekstoeltrant’ en gee hy voorkeur aan die gewone taal van die samesprake.Ga naar eind17 Politieke verskille kon wel 'n rol by Langenhoven se gevoel teen Leipoldt gespeel het. Leipoldt was in 1924 'n onsuksesvolle Volksraadskandidaat vir die Suid-Afrikaanse Party en Langenhoven kon hierin die verraad gesien het van 'n Afrikaanse digter wat met sy verse oor die Anglo-Boereoorlog gestalte gegee het aan die leed van sy eie mense maar nou by die vriende van die Britse Ryk aanleun. Tog kan 'n mens nie van die gedagte loskom dat lof aan andere by Langenhoven soms 'n gevoel van jaloesie gewek het nie. Reeds op 11 Oktober 1923 verwys hy in 'n brief aan Sarah na Schoonees se ‘wierook-artiekel’ oor Die heks van Leipoldt, al kan dié stukkie snedigheid meer regstreeks met sy minagting vir Schoonees te make hê. Toe Leipoldt in Die Volkstem van 13 November 1928 die eerste van 'n reeks oorsigartikels oor die Afrikaanse letterkunde publiseer en daarin smalend verwys na ‘die middelslag Afrikaner wat in Ons weg deur die wêreld en dergelike vermoeiende handewerk voorbeelde van letterkundige grootheid vind’,Ga naar eind18 reageer Langenhoven heftig in Aan stille waters in Die Burger van 3 Desember. ‘Nog nooit’, begin hy, ‘het ek Dr. C. Louis Leipoldt die minste kwaad of leed aangedoen nie, en nog nooit het daar 'n woord van my teen hom of teen sy werk verskyn nie. Hoe ons in ons smaak ook die een van die ander verskil, en hoe min geesverwantskap daar ook tussen ons mag wees - ons kan mos ook nie almal eners wees nie - ek beskou dit onwelvoeglik vir een skrywer om die werk van 'n ander skrywer van sy eie tyd en volk uit 'n letterkundige standpunt te veroordeel.’ Maar nou, sê Langenhoven, hou ‘die dokter...aan om my te vervolg’. In plaas van te sê wat die beswaar presies is en hoe hy op die kritiek reageer, wys Langenhoven lesers daarop dat Leipoldt se manuskripte voor publikasie deur sy uitgewers hersien en verbeter word. Dit pas ‘so 'n leerling nie om vir hom die gesag van 'n meester aan te matig om ander die les te leer nie’. Daarby - en hier begin 'n politieke renons by Langenhoven deurskemer - repudieer Leipoldt deesdae self die gedigte ‘waarmee hy oorspronklik ingang tot die hart van die volk gekry het’: hulle ‘nasionale strekking (is) hom teenswoordig tot aanstoot’. 'n Skrywer tot wie hy aanvanklik 'n sterk toegeneentheid op grond van sy eerste bundel verse het, is D.F. Malherbe. Wanneer hy in Het Zuid-Westen oor Klokgrassies skryf, stuur Langenhoven 'n eksemplaar | |
[pagina 606]
| |
van die koerant aan Malherbe, wat hom op 2 Junie 1914 daarvoor en vir die toesending van Die Hoop van Suid-Afrika bedank. Miskien het Langenhoven nie van die reaksie gehou nie, want Malherbe sê 'n mens mag dit eintlik nie, in die lig van die ‘verbasende snelheid’ waarmee dit geskryf is, krities bekyk nie. Die ‘middeleeuws-allegoriese gees wat daardeur waai’, sê hy verder, ‘sal op die duur nie bevredig nie, hoewel ek goed kan verstaan dat so 'n opvoering onder omstandighede 'n sukses sal wees in ons land’. Hy maan sy vriend egter om stadiger te werk, advies wat waarskynlik - in die lig van Langenhoven se gevoel teen die spul ‘festinalenters’ op taalgebied - sy wrewel sou gewek het.Ga naar eind19 Wanneer Malherbe weer op 2 Desember 1918 aan Langenhoven skryf, het Die Vrou van Suid-Afrika met J.F.W. Grosskopf se resensie en Langenhoven se reaksie daarop verskyn.Ga naar eind20 In sy brief noem Malherbe hoe Langenhoven eenmaal ‘met 'n vloed van geesdrif’ oor Klokgrassies geskryf het. Dit was oordrewe lof in 'n tyd toe almal dit nodig gevind het om aan die Afrikaanse kultuur en literatuur te bou, al sou Malherbe indertyd dankbaar gewees het vir enige teregwysing. Vandag, so meen hy, is dit nie nodig om te vlei of oortollig op te hemel nie. Streng kritiek kan trouens 'n skrywer help en opbou. In die lig hiervan vind Malherbe sy vriend se reaksie op Grosskopf besonder pynlik. Hy het die saak met Grosskopf bespreek en hy kan Langenhoven verseker ‘dat bij hom nie die minste sweem van 'n motief tot verdagmakerij was nie’. As hy die reaksie goed begryp, was dít veral wat Langenhoven gegrief het. ‘Jij moes’, gaan Malherbe voort, ‘jou aan sijn of enige kritiek nie in die minste gesteur het nie, afgesien van die juistheid of verkeerdheid daarvan. Ek het ook al onbillikheid en skewe voorstelling in kritieke moet sluk, maar ek gaan mij nie daardeur van mijn doel en strewe laat wegtrek nie. Dis daarom dat ek so jammer was toen ek merk, dat jij jouw boek uit die handel gaan terugtrek het. Al het jij daar eie hartstog bevredig, jij het jouw volk benadeel, en dit mag nie.’ Albei Langenhoven se allegoriese dramas is as ‘spieël van ons geskiedenis’ van die grootste waarde en hy het self tydens 'n opvoering by hom 'n traan voel opkom, maar albei stukke skiet vir hom artistiek te kort. In Die Vrou van Suid-Afrika hinder die tweespalt tussen die Britse ideologie en die ‘sondige uitvoerders’ daarvan. Wanneer Langenhoven in die tweede voorwoord tot Die Hoop van Suid-Afrika geprikkeld sê dat die geniale kunstenaar sy eie wette maak, vra Malherbe waar die wilde | |
[pagina 607]
| |
manne van die ‘Sturm und Drang’ wat alle reëls verwerp het, vandag is. Daarby moet Langenhoven hom afvra in watter gevaar hy die ‘onverstandige, onrijp aspirant-skrijwer’ met so 'n standpunt bring. Wat Langenhoven se reaksie op hierdie brief was, is onbekend. Malherbe spreek egter kritiek uit op Langenhoven se skeppende werk, die onbillike wyse waarop hy Grosskopf behandel en die gevaar wat sy verwerping van alle reëls vir die jong skrywer inhou. Vir iemand soos Langenhoven sou hierdie besware groot gewig gehad het. Hy kon moeilik Malherbe as 'n blote ‘Akademiese Fariseër’ uitkryt, maar aan die ander kant was Langenhoven nie 'n goeie verloorder nie. Of hierdie kritiek die oorsaak van 'n verkilling in hulle verhouding was, weet 'n mens nie, maar op 21 November 1921 laat Langenhoven Malherbe weet dat hy nie verlof tot opname van sy werk in 'n bloemlesing kan gee nie. ‘Julle hooggeleerde mense...het nog gedurig en konsekwent uit julle pad gegaan om my werk af te breek, en van julle oogpunt is dit seker reg ook, want met my skrywe hou ek nie die klas voor oë wat my beter kan leer as ek hulle nie, maar die arme onbevoorregte volk. En daarom by so 'n bloemlesing as ek verstaan wat jy in die oog het reken ek dit nie meer as reg dat alleen sulke werk met die akademiese imprimatur vereer word wat akademiese kuns-toetse kan deurstaan: sulke skrywers b.v. as Dr. T.H. le Roux, Dr. Grosskopf, en 'n menigte ander.’ Waarskynlik moet Malherbe sy vriend tog tot opname oorgehaal het, want in Afrikaanse letterkunde: 'n Bloemlesing wat in 1922 verskyn, word van Langenhoven wel ‘Die Stem van Suid-Afrika’ en ‘Pappie se tuiskoms’ - maar dan met uitdruklike vermelding van ‘Op versoek onveranderd’ - oorgedruk. In sy briewe aan Sarah Goldblatt in die twintigerjare is Langenhoven toenemend negatief oor Malherbe se werk. Na 'n opvoering van Malherbe se Koringboere skryf hy op 27 September 1924 aan haar dat die dialoog, hoewel humorloos, lewendig genoeg is. ‘Maar’, gaan hy voort, ‘daar is geen punt of plan in die ding nie. Twee broers, een 'n lae skurk; die ander bedoel (glo) om die held te wees en op die ou end 'n blackmailer. Voorin 'n klomp karakters wat later sommer doelloos rondloop, en 'n omsonseGa naar eind21 onbehoorlike politieke by-motief wat totaal irrelevant is.’ En as Die meulenaar van Malherbe op skool voorgeskryf word en die Joodse gemeenskap van Oudtshoorn 'n versoekskrif opstel om beswaar te maak teen die beledigende uitbeelding van hulle mense, gaan lees Langenhoven die roman. Hy is | |
[pagina 608]
| |
veral geskok oor die passasie waarin die Jode uitgeskel word vir bosluise wat net op ander teer sonder om iets by te dra. Die Nasionale Party sal nou daaronder moet ly, asof ‘wie van ons ook aanspreeklik is vir die skrywer of vir die kommissie wat voorskryf’. Maar in die eerste plek is hy ontstig oor die wyse waarop die Jode se menswaardigheid aangetas word. ‘Die passasie’, skryf hy op 5 Mei 1929 aan Sarah, ‘is 'n skandaal; Klokgrassies is so 'n kerkman dat hy my wil gelooftoets; en dan is dit sy Christelike liefde. En dan om so 'n ding vir kinders voor te skryf om hulle te leer om ander nasies wat saam met hulle hier woon uit te skel - ons wat so kleinserig is wanneer ander ons uitskel. Met sulke soort verdommery het 'n mens te kampe.’ Dat Langenhoven in sy brief aan Malherbe naas Grosskopf ook die naam noem van T.H. le Roux - iemand met wie hy vroeg na sy ‘bekering’ swaarde gekruis het - is 'n aanduiding dat hy selfs vriendelik uitgesproke kritiek nooit vergeet het nie. Wanneer Le Roux hom vra om van sy werk vir 'n bloemlesing af te staan, weier hy die nodige vergunning. ‘Ek onthou nog’, skryf hy op 31 Julie 1921 aan Sarah Goldblatt, ‘hoe hy my kwaadwilliglik in die Brandwag aangeval het.’ Op 21 Augustus van dieselfde jaar gee hy wel toestemming aan E.C. Pienaar om ‘Die Stem van Suid-Afrika’ op te neem, maar hy weier alle biografiese besonderhede. ‘Soveel as hulle ooit van my sal weet - nie van die uiterlike nie maar van my - staan in my werke’, skryf hy op 28 Augustus 1921 aan Sarah, 'n uitspraak wat hy later in die ‘Eie lewenskets’ in Aan stille waters I sal herhaal.Ga naar eind22 En as J.J. Jordaan hom in 'n brief van 28 Augustus 1928 om 'n bydrae vra vir 'n reeks leesboekies vir die laerskoolstanderds en byvoeg dat dit onder sy hoofredakteurskap maar met Leipoldt en Schoonees as die ander redakteurs staan, skryf Langenhoven op 31 Augustus terug: ‘Met die oog op die minagting wat deur die mederedakteurs vir my werk gekoester word en deur hulle in die openbaar uitgedruk is, deur die een openlik en deur die ander laaghartiglik onder 'n skuilnaam of sonder 'n naam, is alle oorweging van u versoek vir my onmoontlik geword.’Ga naar eind23 In elk geval het Langenhoven 'n hekel gehad aan letterkundiges wat sy werk in sulke leesboeke wou gebruik, ‘die bloemlesing-skêr-en-gompot-literateurs’ en ‘self-nieskrywende boekproduseerders’ wat aanhou om hom te ‘belol’.Ga naar eind24 Veral M.S.B. Kritzinger, wat uitvoerig oor Langenhoven geskryf het en graag in sy Plate-atlas by die Afrikaanse letterkunde 'n foto van | |
[pagina 609]
| |
Langenhoven wou opneem, het besondere moeite gehad om toestemming daarvoor te verkry. Die aanvanklike weiering het, naas Langenhoven se inherente afkeer van biografiese besonderhede en medewerking met literatore, waarskynlik sy oorsprong gehad in 'n reeks lesings wat Kritzinger in Junie 1929 in Pretoria gehou en daarna in Die Volkstem gepubliseer het.Ga naar eind25 In 'n brief van 1 Julie aan Sarah Goldblatt trek Langenhoven te velde teen ‘daardie verdomde swaap Kritzinger’ se artikels en hy vra ‘watter...leuens...deur die nageslagte heen (oor hom) vertel (sal) word as dit in ...(sy) lewenstyd al so gaan’. Hy skryf 'n reaksie op Kritzinger, maar vra haar om dit aan J.J. Smith voor te lê. In 'n naskrif versoek hy dat die stuk tog maar teruggehou word, maar dat sy dit aan Smith ter insae moet gee. Tog verskyn twee artikels van hom oor Kritzinger op 12 en 19 Augustus 1929 in Die Burger.Ga naar eind26 In hierdie skitterende satiriese reaksie sê Langenhoven dat ‘nie eens sy voorspelde sterfelike dood’ die ‘lecturedery en behandeldery’ oor hom sal laat ophou nie. Dan eers sal die ‘proefskrifte en kontrowersies’ dreun en hy sal nie daar wees om met ‘liggeraakte ongeduld’ tereg te wys nie. Hy wys spottend op die karakterisering van hom as 'n man van die ‘kinderlikste eenvoud’, met 'n oog ‘vir al die skoonheid van die natuurlike Skepping’ en 'n afkeer van ‘kunsmatige namaaksels’. Wanneer Kritzinger sê dat die skrywer ‘te liggeraak’ is en die reg opeis ‘om te sê wat hy wil’ terwyl sy opponent sy ‘mond’ moet hou, reageer Langenhoven: ‘My magtig, die saak is net presies andersom. Die laaste ellendige snuiter van 'n boekbeoordelaar wat te vlak van gees is om die beoordeelde te begryp - noodwendig te vlak, want 'n man van enige diepte het self iets te sê pleks van hom uitsluitend besig te hou met papegaai-geleerde terme sonder inhoud soos “uitbeelding” en “plastiek” en “esteties” toe te pas op wat ander mense gesê het - juis hy is die man wat “die reg op-eis” om van jou werk te sê wat hy wil en jy moet jou mond hou. As hy jou uitgeskel het en jy slaan terug, wil hy en sy hele verwantskap die stuipe kry.’ Kritzinger voel volgens hom gegrief dat ‘Langenhoven se privaat lewe so duister-verborge bly dat letterkundige doktore nie in staat gestel word om kolleges daaroor te hou nie’. As voorbeeld haal hy dan Kritzinger se bewering aan dat die skrywer saam met Smuts en Hertzog op Stellenbosch was. Hy het egter dié twee here ‘tot...(sy) genot en hulle verdriet’ eers ontmoet nadat hy ‘al die letterkunde vergeet had wat die doktore op Stellenbosch hulle ingespan het om...(hom) te leer’. Juis daarom wil hy van | |
[pagina 610]
| |
‘Langenhoven se lewensloop en beroep, sy ouers en kinders en ander famieliebetrekkings, sy herkoms en sy waarskynlike bestemming’ liewers niks sê nie. Van Shakespeare, so voeg hy geestig by, ‘weet ons omtrent glad niks buiten dat hy nie die skrywer is van sy werke nie. Van Homerus weet ons ook niks buiten dat hy in al die stede van Klein-Asië en Griekeland gebore is en dat hy ook nie sy werke geskryf het nie maar 'n ander man van dieselfde naam. Van al die ander skrywers weet ons te veel - met die gevolg dat die letterkundige doktore nie hulle studente die mense se werke laat bestudeer nie maar hulle tyd verkwis op stoffelike bysake. Buitendien is skrywers nooit die mense wat ons ken nie. Dis die bekende weg van God om gebruik te maak van die minste vir die hoogste. Die boodskapper as persoon raak weg in die diens van sy boodskap.’ Wanneer Kritzinger dan 'n foto en 'n voorbeeld van 'n manuskrip vir sy beoogde Plate-atlas vra, weier Langenhoven aanvanklik. 'n Verdere brief waarin Kritzinger sy versoek herhaal, dit jammer vind dat Langenhoven se publikasies nie in die Noorde aangekondig word nie en sê dat hy graag meer liefde ‘vir u werk en u persoon gaande...(wil) maak’, beantwoord Langenhoven op 19 September 1930. ‘Ag hemeltjie tog,’ skryf hy, ‘moet ek nog 'n slag probeer om die vraag te beantwoord wat ek sou gedink het wat homself beantwoord - waarom ek nie in die plateatlas wou, of moes, opgeneem word nie? Wat daarmee beoog word is immers tog nie 'n versameling van snyers en spekulateurs en resensente nie maar van mense wat iets vir ons letterkunde gedoen het. Van laasgenoemde klas word ek van gesagsweë uitgesluit. Dat ek dankbaar is vir die uitsluiting aangesien ek liewer sou gewens het dat ek doodgebore was as dat ek aan die betrokke standaard sou voldoen, verander nog nie die saak nie. U onthou mos die ou storie van die prins wat die tronk besoek het. Al die gevangenes was onskuldig, op valse klagtes daar gebring. Maar eindelik kry die besoeker darem een wat skuld erken. Daardie skurk se boeie het hy toe laat afslaan en hom laat loop. Hy was te laag vir so 'n deugdelike geselskap.’ Hy gaan voort: ‘U is so lief om aan die hand te gee dat dit jammer is dat daar nie aankondigings van my werk in die noorde verskyn nie. Maar met die oog op my ondervinding van beide noordelike en suidelike resensies in die verlede sal ek nou maar wag tot daar beoordelaars opdaag wat genoeg my meerderes is om my my ambag verder te leer. Intussen moet die soort resensente wat tot dusver opgetree het as borge van hulle eie | |
[pagina 611]
| |
bevoegdheid maar sonder my klaarkom soos ek sonder hulle.’ En hy sluit af: ‘Maar u, geagte Dr. Kritzinger, is erger as die knaende weduwee by die onregvêrdige regter. U oorweldig my met minsaamheid. Nou ja, goed dan. As u nog met u versoek volhou, sit dan die “Mof en sy Mense” (onthou u die “Volkstem”-resensie?) se portret in die atlas - maar dan met volledige facsimile van hierdie brief.’ Toe die plateatlas in 1931 verskyn, word Langenhoven se brief dan ook volledig afgedruk. Op die teenoorgestelde bladsy verskyn Langenhoven met Herrie-Mof,Ga naar eind27 'n foto wat ons, volgens die byskrif, ‘sommer laat sien dat hy 'n groot vriend van honde is’. Nie dat Langenhoven besonder tevrede was met die plateatlas nie! In 'n brief aan Sarah Goldblatt sê hy dat hy maar baie huiwerig was oor sy insluiting. Nou is sy ergste vrese bewaarheid, want hy verskyn op één en dieselfde bladsy as ‘daardie vent’. En dié ‘vent’ is niemand minder nie as...C. Louis Leipoldt! Een van die heftigste polemieke wat Langenhoven in die vroeë twintigerjare ontketen, is dié na aanleiding van Die prosa van die Twede Afrikaanse Beweging, 'n Amsterdamse doktorale dissertasie wat in 1922 verskyn,Ga naar eind28 al was daar in tydskrif- en koerantartikels reeds 'n aanloop daartoe. Die promovendus is P.C. Schoonees, ‘daardie laksman van die kunstenaars’, soos D.J. Opperman vir Langenhoven self in 'n verbeelde rede by 'n huldiging in 1964 laat sê.Ga naar eind29 Reeds voor die publikasie van sy proefskrif sê Schoonees in 'n artikel in Die Huisgenoot van Junie 1920 dat die tyd waarin ons 'n boek aanbeveel eenvoudig omdat dit in Afrikaans geskryf is, besig is om verby te gaan. ‘Nasionale eersug’, so stel hy dit, ‘het nog nooit 'n letterkunde van blywende waarde gefabriseer nie, eenvoudig omdat dit iets is wat nie gefabriseer kan word nie.’ In sy dissertasie van twee jaar later vind hy dit gepas om 'n ‘eresaluut’ aan al die ‘voortrekkerskrywers’ van die verlede te bring, maar die ‘gevoel van piëteit’ hoef nie ons kritiese vermoë te verlam of te belet dat ons 'n streng estetiese oordeel uitspreek nie.Ga naar eind30 ‘Nou dat die taalstryd feitlik afgeloop is,’ skryfhy, ‘word dit tyd om vas te stel, wat ons tot dusverre bereik het; om te waardeer wat skoon is, om te laak wat gebrekkig is. Tyd ook, om die voortbrengsele van ons kuns te meet aan die meesterstukke van die buiteland. Want ons wil vorentoe beur! Ons wil Suid-Afrika “hoog opstooten midden in de vaart der volkeren”. Ons wil nie 'n pieperig-bleek kasplantjie hê nie, wat alleen 'n sukkelbestaan kan voortsleep in 'n vaderlandse broei-atmosfeer. Dit moet 'n kan-niedood wees, wat ook die kritiek van ons Dietse stamgenote nie kan ont- | |
[pagina 612]
| |
wortel nie, in vaderlandse bodem geplant, maar tog bestand teen alle wind en weer.’Ga naar eind31 'n Mens kon geredelik verwag het dat Langenhoven nie met hierdie suiwer estetiese uitgangspunt in die besondere omstandighede van die Afrikaanse skrywer genoeë sou neem nie. Vir hom sou Schoonees se maatstaf, met die aanhaling uit Van Deyssel, te veel lyk na 'n poging om nuwerwetse idees en 'n ‘uitlandse’ kunsideaal op ons literatuur af te dwing, met ignorering van die feit dat die Afrikaanse leespubliek nog grotendeels opgevoed moet word om te lees en daarom veral didaktiese leesstof nodig het. ‘Met ons boeke, met ons tydskrifte, met ons koerante, behoort ons veral diegene te help wat hulle nie self kan help nie’, skryf hy in Die Burger van 17 April 1922. Hierop reageer Schoonees in Die Huisgenoot van Augustus 1922. Met verdere aanhalings uit die kunsopvattinge van die Tagtigers, waarvoor Langenhoven kragtens sy hele missie vir sy kuns geen waardering kon gehad het nie, sê Schoonees dat die man wat bydra tot die kulturele opheffing van ‘die duisende onbevoorregtes van ons volk’, soos Langenhoven dit formuleer, ongetwyfeld 'n ‘edele werk’ verrig. ‘Maar om nou aan al ons skrywers, ons kunstenaars, so 'n didaktiese dwang te gaan oplê,’ gaan hy voort, ‘is in stryd met die eerste beginsels van alle kuns.’ Dat daar van alle goeie kuns 'n ‘veredelende werking’ uitgaan, is vir die kunstenaar iets ‘bykomstigs’ en nooit sy ‘doel’ nie. In sy reaksie in Die Burger van 4 September 1922 sê Langenhoven dat daar ‘nou eenmaal sekere skoolse reëls’ is waaronder die skrywer moet buig indien hy hom nie die oordeel van die ‘akademiese Fariseërs’ op die hals wil haal nie. Die werk van skrywers wat die gehoorsaamste is, bly egter meestal ‘middelmatig en onoorspronklik’. Dié wat oorspronklik is - ‘en dus abnormaal, ketters, tugteloos - laat nie vir hulle van hulle geleerde meerderes en geestelike minderes wette voorskryf nie’. Indien dít nie die geval was nie, ‘kon ons net so goed die beterwetende pedante self aan die skryf sit’. Met hierdie uitspraak mik Langenhoven ‘nie so erg op meneer Schoonees as sodanig nie. Ons was almal jonk, en as ons toe ook beter geweet het as ons meerderes in ouderdom, het hulle ons maar onbeantwoord laat begaan, wetende ons sou ons tog nie laat teregwys nie. Maar meneer Schoonees is 'n tipe van 'n klas waaronder daar ook oueres is - want die ouderdom bring nie altyd wysheid nie, hoewel ek goeie hoop het dat dit in sy geval die uitwerking sal hê. Daarom neem ek nou maar die seun as 'n gerieflike handvatsel om 'n | |
[pagina 613]
| |
skool te kasty; nie vir plesier nie, want dis 'n stok-ou vraagstuk hierdie en daar is baie nuwe werk wat op my ou hande wag. Maar ons Afrikaanse letterkunde leg in sy wieg; hy het beskerming nodig teen sy vyande. Die grootste vyande van alle kuns is die katedrale kuns-eksperte.’ Schoonees se verweer hierop in Die Huisgenoot van November 1922 was dat hy ‘die volkome soewereiniteit van die kunstenaar bepleit teenoor adv. Langenhoven se didaktiese dwangmiddels wat hy aan al ons skrywers wil oplê’. Hierdie meningswisseling was slegs die voorspel tot die hewige polemiek wat op die publikasie van Schoonees se dissertasie sou volg. Wanneer Die prosa van die Twede Afrikaanse Beweging verskyn, skryf Langenhoven 'n reaksie vir sy Aan stille waters-rubriek. Toe hy dit op 20 Desember 1922 aan Sarah Goldblatt pos, sê hy in 'n begeleidende brief dat hy Schoonees ‘te lyf geloop (het) oor sy skandalige behandeling van arme ou Von Wielligh’, al moet hy Die prosa van die Twede Afrikaanse Beweging ‘tot my spyt...hoog plaas’ - 'n insiggewende opmerking as 'n mens dit lees teen die agtergrond van Langenhoven se heftige artikel. Langenhoven se reaksie verskyn op 25 Desember 1922 in Aan stille waters in Die Burger onder die opskrif ‘Die dokter se viviseksie’. Hy begin sy artikel met 'n ‘hedendaagse’ weergawe van 'n Ou-Testamentiese verhaal: ‘Koning Ahasveros kon een nag nie slaap nie. Hy had nie 'n rakkie letterkundige boeke voor sy kooi om 'n roman of 'n drama van uit te soek om die lange ure van die nag om te kry nie; in sy dae had 'n koning minder voorregte as 'n kneg vandag. Maar hy het die beste middel ter hand geneem wat darem vir hom beskikbaar was. Hy het die argiewe van sy tyd laat bring en vir hom daaruit laat voorlees. Miskien trouens was hulle interessanter ook as gewone verdigsels. Ja, hy het op een baie interessante stukkie geskiedenis uitgekom waarvan hy blykbaar nog nie wis nie - dit was vir hom weggesteek om 'n oorsaak. Politieke skelmery is baie ouer as die letterkunde. Hulle lees vir hom voor dat daar twee van sy vertrouelinge was wat hom moes bewaak en beskerm teen verraderlike aanslae, en dat juis daardie twee 'n komplot gesmee het om die koning te vermoor. Maar die sameswering was betyds uitgebring deur 'n ou Jood Mordechai. Toe vra die koning natuurlikerwys watter eer en verhoging aan Mordechai gedaan was vir hierdie diens dat hy die koning se lewe gered het. En die voorlesers soek die argiewe deur maar hulle moes antwoord dat daar - natuurli- | |
[pagina 614]
| |
kerwys - niks aan Mordechai gedaan was nie. As hulle meer wis as wat in die argiewe geboekstaaf was, kon hulle die koning verder berig het dat daar 'n galg aan die maak was om Mordechai op te hang.’ Hierdie verhaal maak Langenhoven dan van toepassing op Schoonees se behandeling van sy ou ‘lettergenoot’ G.R. von Wielligh, wat ten spyte van byna volslae gesigsverlies 'n groot aantal boeke gepubliseer het, die enigste figuur uit die Eerste Afrikaanse Taalbeweging wat ook aktief in die Tweede optree. Van ‘daardie ou dae af, byna 'n halfeeu gelede onder die verguisde kleine bende wat begin het om aan ons arme volk sy eie taal te gee toe daar nog glad niks was nie, is Von Wielligh aan die werk; en deur die dae van sy blindheid heen het hy gewerk; en vandag, met die sterk bril en die twee vergrootglase waarmee hy 'n kolletjie met vyf-ses letters kan sien, werk hy met 'n ywer en toewyding wat...ek weet nie van my maters nie...maar wat vir my met skaamte vervul.’ Ahasveros sou gevra het: ‘Wat eere en verhooging...is Von Wielligh hierover gedaan?’ In plaas van dankbaarheid wy Schoonees nou 'n hoofstuk aan Von Wielligh wat feitlik volledig, dertig bladsye lank, negatief is. ‘Ek weet nie of...(Von Wielligh) fyngevoelig is nie’, skryf Langenhoven. ‘Maar ek weet, sonder om hom te ken, waar sy skat en waar sy hart is...Ek sou graag begeer het, as dit moontlik was, dat hy nie hierdie boek van dr. Schoonees in die hande sou kry om met sy sterk bril en dubbele vergrootglase hierdie hoofstuk ses-lettergewys deur te lees nie.... Oor die gehalte van sy werk spreek ek self geen oordeel uit nie - ek beoordeel nooit Afrikaanse werk nie...Ek glo Von Wielligh, wat soos ek maar 'n werker is, hoewel 'n baie vlytigere, het nog nooit my werk gekritiseer nie...Maar as sy werk hoe so swak en vol gebreke was, uit 'n doktorale oogpunt besien - hy het nie vir dokters geskryf nie. Ook nie om met sy skrywe tot dokter gepromoveer te word nie. Hy het geskryf vir diegene wat niks anders had om te lees nie en niks anders sou kon verstaan nie: vir duisende en duisende driekwart blindes het hy 'n sterk bril en vergrootglas verskaf. Wat sou dit vir die arme onbevoorregtes gewees het - met hulle geestelike kwart gesig - as die glase wat daardie gebreksgenoot vir hulle voorsien het, van hulle weggehou was? As Von Wielligh niks geskryf het sodat Schoonees niks kon kry om sleg te maak nie?’ In antwoord hierop reageer Schoonees in Die Burger van 6 Januarie 1923. ‘Ons is dit nou al gewend’, skryf hy, ‘dat adv. Langenhoven in plaas van rustig in te gaan op argumente, heftig begin uit te vaar, by | |
[pagina 615]
| |
voorkeur teen akademiese geleerdes, of te wel “skrifgeleerde ape”...Dat adv. Langenhoven weinig of geen begrip het van die roeping van die literêre kritiek, het ek al voldoende aangetoon in my “Huisgenoot”-artikel, Novembernommer, asook in my dissertasie.... Dit spreek vanself dat 'n kritikus die omstandighede waaronder 'n letterkundige werk ontstaan is, die milieu waarin die skrywer gewerk het, in aanmerking sal neem. Daaruit kan gewoonlik sekere eienaardighede in die werk verklaar word. Tog bly dit altyd bykomstighede wat uit kultuurhistoriese oogpunt belangrik is, maar nooit deurslag kan gee wanneer dit op letterkundige skoonheid aankom nie.’ Von Wielligh, so gaan Schoonees voort, werk in tragiese omstandighede vir 'n goeie nasionale saak. 'n Mens bewonder sy ywer, maar dit beteken nog nie dat hy ‘'n geroepe kunstenaar’ is nie. Dit kan 'n mens eers vasstel na ‘'n grondige studie van sy werk’ en die resultate van sy ondersoek het hy in sy dissertasie vasgelê. ‘Die salwende toon waarop adv. Langenhoven gebruik maak van mnr. Von Wielligh se blindheid’, skryf Schoonees, ‘is 'n belediging vir dié persoon as skrywer. Milton se werk word vandag nog gelees, nie omdat hy blind was nie, maar omdat hy 'n begenadigde digter was.’ Op hierdie artikel het Langenhoven nie gereageer nie, waarskynlik omdat ‘Akademiese Fariseërs’ soos S.P.E. Boshoff en F.E.J. Malherbe intussen Schoonees se proefskrif uitvoerig en oorwegend negatief bespreek het. Wanneer die tweede uitgawe van sy boek in 1928 verskyn, wysig Schoonees sy aanvanklike bevindings en kom hy deur die byhaal van die kultuurhistoriese betekenis tot genadiger oordele oor sommige van die skrywers. Ook hierdie hersiene uitgawe lei tot 'n hewige polemiek tussen Malherbe en Schoonees.Ga naar eind32 Waarskynlik was Langenhoven se heftige reaksie die impetus vir die hele polemiek en Schoonees se latere hersiene uitgawe. Onder die skeppende skrywers wat aan die polemiek oor die boek meedoen, is ook Von Wielligh, wat Schoonees in Die Huisgenoot van Januarie 1923 vra waarom hy ‘die gebreke van die meeste skrywers op hoflike wyse neerskrywe’ terwyl hy met andere die spot drywe ‘deur ons voortbrengsels met bespotlike voorwerpe te vergelyk’. In 'n brief wat hy reeds op 29 Desember 1922 aan Langenhoven skryf, sê Von Wielligh dat hy ‘gevoelloos vir spot en verguising’ geword het, maar dat hy dit ‘onbeskof’ vind as 'n promovendus sulke dinge ‘in sy proefskrif vir hierdie en die nageslag wêreldkundig maak’. Hy het dit veral teen die ‘onhoflike en minagtende toon’ waarop Schoonees skryf. | |
[pagina 616]
| |
Naas die ‘Akademiese Fariseërs’ het Langenhoven by herhaling sy polemiese pen opgeneem teen die ‘malkuns-apostels’ wat allerlei nuwerwetse Europese stylrigtings aan die Afrikaanse kunstenaar probeer ‘afsmeer’ en ons wou laat glo dat dít die ‘ware’ en ‘hoë’ kuns is. Na aanleiding van J.R.L. van Bruggen se psigologiese roman Japie skryf hy in Aan stille waters in Die Burger van 29 Januarie 1923 'n artikel om sy misnoeë met die boek en die soort genre te getuig. Op 12 Julie 1923 laat weet hy Sarah Goldblatt dat hy in Aan stille waters op Van Bruggen se artikel in die Junie-uitgawe van Die Huisgenoot gaan reageer - nie omdat Van Bruggen kritiek op sy werk uitspreek nie, maar oor die ‘invoering van bederf in ons Afrikaanse letterkunde’. Die ‘nuwere vereuropeeste krietisi’, so stel hy dit in sy reaksie, wil ‘vreemde tendense van smaak, vorm en standaard’ in ons literatuur wettig en is ‘kwaadsaad-saaiers’ waarteen hy in verset kom. Wanneer Langenhoven hom in sy rubriek ook oor die impressionisme uitlaat, dit met futurisme en kubisme verwar en geen enkele impressionis by die naam kan noem nie, lok dit in die uitgawes van 20 en 21 Oktober 1924 reaksies uit van Die Burger se kunskritikus, Bernard Lewis, wat onder die naam Brander skryf, en van die kunstenaar en spotprenttekenaar D.C. Boonzaier. Boonzaier sê dat hy groot waardering vir Langenhoven as politieke polemikus het, maar dat die skrywer nie altyd tevrede is met die rol waarvoor hy so uitnemend geskik is nie. ‘Hy is versigtig genoeg’, skryf Boonzaier, ‘om die naam van geen enkele Impressionistiese kunstenaar te noem nie, en tegelykertyd is hy oulik genoeg om ons nie te vertel watter kunstenaar hy werklik bewonder nie.’ Hy sou dit byvoorbeeld waardeer as Langenhoven kan uiteensit waarom hy 'n landskap van Volschenk meer as dié van Cézanne, die leier van die impressioniste, waardeer. Hy sal verder graag wil weet watter kunswerke Langenhoven persoonlik besit en of behoorlike kunsboeke deel van sy biblioteek uitmaak. Sonder dít kan hy nie daarop aanspraak maak dat hy 'n beoordelaar op dié gebied is nie en behoort hy hom dus nie daaroor uit te laat nie. Oor Japie en J.R.L. van Bruggen se weinig genuanseerde opvattinge oor die psigologiese roman kon Langenhoven nog met sukses op sy gebruiklike satiriese wyse reageer. Wanneer hy hom egter met heeltemal ontoereikende kennis oor die impressionisme uitlaat en dan deur twee werklike kenners beslissend tot orde geroep word, bly hy begryplikerwyse - en as verfrissende uitsondering op die reël - liewers stil. | |
[pagina 617]
| |
Met die uitsondering van sy onbekookte uitlatings oor die impressionisme was Langenhoven se kommentaar op die ‘malkuns’-mense gelukkig meestal na aanleiding van minder bevredigende voorbeelde van dié stylrigtings waaraan hy 'n hekel gehad het. Dit is die geval met Japie en ook met P. de V. Pienaar se Skakels van die ketting, wat F.C.L. Bosman in Die Huisgenoot van 24 Januarie 1930 resenseer en waarop Langenhoven in Aan stille waters kommentaar lewer. 'n Mens is egter verstom om by die aanvang van sy reaksie te verneem dat hy Pienaar se boek nie gelees het nie! Wanneer Bosman in sy repliek verwys na die naturalistiese werk van Zola, sê Langenhoven met sy gebruiklike skerpte en gevatheid dit is 'n goeie geleentheid om die algemene indruk onder geleerdes dat hy niks anders as die Bybel en Multatuli ken nie, uit die weg te ruim. Hy gee hulle die versekering ‘dat ek deur 'n lang lewe van aanhoudende inspanning van studie meer gelees en geleer het as wat vir my voldoende sou gewees het om 'n letterkundige dokterstietel op die vasteland van Europa op te tel’. Toe hy nog jonk was ‘en lank voor dr. Bosman se geboorte, het ek, met sware volharding, een boek van Zola deurgelees. (Ek lees òf vir plig, òf vir plesier, òf vir albei, maar nie maklik sonder albei nie.) Daarna het ek nog een van hom probeer, miskien sou hy beter wees, en dié het my voor die end van die eerste hoofstuk so gewalg dat ek hom weggegooi het en nooit weer tot vandag toe 'n boek van daardie skrywer aangeraak het nie. Dus dit was nie 'n saak van “Onbekend maak onbemind” nie maar eerder van “Onbemind maak onbekend”.’ Vir sy gedurige polemieke met die ‘moderne kultuurdokters’ het Langenhoven aan die slot 'n eenvoudige verklaring: ‘Met vrot doringtakke wat hulle in die buiteland gaan optel het, waar dit goedkoop te kry is of verniet, het hulle hier 'n kunskraal kom opslaan.’ Nou is die plaaslike voorraad wol egter te skaars en die ingevoerde wil nie hier aard nie. Hulle moet nou nie probeer om Langenhoven hierin te jaag nie, want hy sal nie die wol kan gee wat hulle verlang nie! As 'n mens al Langenhoven se veelvuldige polemieke vandag terugskouend bekyk, moet jy hom in die meeste gevalle gelyk gee. Al het hy soms oor sake gedebatteer waarvan hy weinig of niks geweet het nie, was sy oordeel oor die boeke en standpunte wat aan hom voorgelê is, meestal korrek. 'n Mens kan sê dat sy streng afwysing van alle vorme van kritiek met die ‘volk’ as enigste arbiter tot 'n logiese onhoudbaarheid lei. Daarteenoor was die gehalte van die wetenskaplike ondersoek | |
[pagina 618]
| |
op die gebied van die literatuur, waarmee hy in aanraking gekom het, meestal van minderwaardige gehalte, terwyl die proewe van 'n moderner, eksperimenteler en ‘gewaagder’ soort skryfkuns in die Afrikaanse literatuur van die twintigerjare dikwels teleurstellend was. Vandaar dan ook dat hy meestal sowel die ‘Akademiese Fariseërs’ as die ‘malkuns’-eksponente van sy tyd kon troef, al was sy argumente nie altyd oortuigend nie en het hy eerder met die verbinding van satire en beeldspraak indruk gemaak. Met sy periodieke polemieke het hy egter die wêreld vir die letterkundige doktore en die ‘vereuropeeste’ kunstenaars onveilig gehou. Uit eie ervaring wis hulle dat Langenhoven se ‘sagmoedigheid’ blote skyn was. Met 'n handomkeer kon Neelsie ontplof en 'n striemend-satiriese aanval loods. | |
IVMaar teen die einde van sy lewe kry 'n mens tog die indruk dat 'n ‘ware’ sagmoedigheid by Langenhoven begin posvat en dat daar 'n groter verdraagsaamheid, ook teen eertydse polemiese opponente, by hom begin ontwikkel. En, téén die algemene verwagting in, laat hy hom dit welgeval toe die Universiteit van Stellenbosch hom in 1931 met die graad van Doctor Litterarum honoris causa tot die geledere van die ‘Akademiese Fariseërs’ verhef. Dat ‘Sagmoedige Neelsie’ nou ook 'n doktor sou word, was vir baie mense 'n groot grap. Wanneer hy op Oudtshoorn op sy gebruiklike roete oor die hangbrug met Kerkstraat langs dorp toe stap om sy pos te gaan haal, so skryf hy aan Sarah Goldblatt, groet die mense hom met ‘Môre, doktor’ van alle kante. Reeds in Herrie op die óú tremspóór, sy ‘schnipe’ van 1925, het die fiktiewe prof. Smith namens die universiteit na Meiringspoort gekom om Neelsie, ‘in geval (hy) alte onkeerbaar onstuimig sou wees,...met die aanbod van 'n dokterstitel af te koel’.Ga naar eind33 In sy Aan stille waters-rubriek speel Langenhoven, noudat die ware Jakob opgedaag het, lustig saam. Aan sy oom Stoffel Gieljam uit Doppers en Filistyne skryf hy 'n brief om hom 'n sommetjie geld te leen sodat hy ‘kisklere’ vir die geleentheid kan koop; die pak wat hy van sy troudag af het en waarvoor die oom ook die geldjies voorgeskiet het, is nou al te gaar gelap en gestop!Ga naar eind34 En ten spyte van die feit dat Neelsie al die jare aangehou het om al wat doktor is, sleg te maak, willig oom | |
[pagina 619]
| |
Stoffel in. Hy stuur egter net £ 10. ‘Om jouself te verheerlik’, skryfhy, ‘sal jy van nou af niks doen nie as om die laaste doktor op te hemel, al kry jy ook eendag een wat dit verdien. Maar die mense sal onthou wat jy in die verlede gesê het en dit nou op jou toepas.’Ga naar eind35 En van 'n lid van die senaat van die universiteit, 'n natuurwetenskaplike, ontvang Neelsie ook kamma 'n brief. Sy letterkundige kollegas, so skryf hierdie professor, was van mening dat Neelsie ‘'n gevaarlike invloed kan wees op ons toekomstige letterkundige ontwikkeling; nadat jy self doktor geword het sal jy nie voortgaan met jou verderflike voorbeeld om oorspronklik en leesbaar en boeiend en helder en inhoudryk te wees nie; miskien sal jy selfs 'n mate van malkuns kan aankweek.’Ga naar eind36 Die lughartigheid was egter hierdie keer blote spel, want Langenhoven was kinderlik opgetoë om op dié wyse vereer te word. Dat die toekenning van sy geliefde Stellenbosch gekom het, was vir hom iets besonder kosbaars. Meer as enige ander plek in die land het hy dit geniet om as redenaar voor die studente op te tree, want die jongmense het hom telkens met hulle onstuimigheid en opgewondenheid die moed gegee om met sy eie werk voort te gaan. ‘Dis 'n groot ding om te kan sê die Universiteit van Stellenbosch is myne’, skryfhy op 22 Junie 1931 in Aan stille waters in Die Burger. ‘Dis 'n groter ding om hom nie net te neem soos ek hom ontvang het nie maar hom meer myne te maak met liefdebewys van my kant af.’Ga naar eind37 Op Woensdag, 24 Junie 1931, om 11:00 vind die gradeplegtigheid in die ‘Recreations’-saal op Stellenbosch plaas. By dié geleentheid, die vyftigjarige herdenking van die Stellenbosch-kollege wat later die Victoria-kollege sou word waaruit die Universiteit in 1918 ontwikkel het, vereer die universiteit ook vyf ander oudstudente: dr. D.F. Malan, genl. J.C. Smuts, dr. P.J. du Toit, dr. H.J. van der Bijl en sen. F.S. Malan. Langenhoven word eerste voorgestel, onder dreunende applous van die studente en hul ouers. Die commendatio, opgestel deur prof. E.C. Pienaar, is voorgelees deur die rektor, prof. R.W. Wilcocks. Na 'n kort skets van sy lewensloop, sy bydrae tot die erkenning van Afrikaans en 'n aanduiding van sy skeppende werk sê Pienaar in sy aanbeveling dat Langenhoven ‘'n algemene bekendheid verwerf het soos geen ander Afrikaanse skrywer vandag besit nie.... Want Senator Langenhoven skryf nie, maar hy praat, ook waar hy die pen hanteer. Sodat met waarheid van hom gesê kan word dat hy sy volk leer lees het.’ | |
[pagina 620]
| |
Langenhoven was aangedaan by dié treffende woorde, want in Pienaar se commendatio het hy die erkenning gesien van wat sy lewensideaal was: om van Afrikaans 'n soepel, lenige en natuurlike werktuig te maak en om daarin op 'n natuurlike wyse sy gedagtes oor te dra. En dat hy sy volk leer lees het, was die hoogste lof wat hom toegeswaai kon word. In sy toespraak by die onthaal na afloop van die plegtigheid het hy reeds sy dank daarvoor uitgespreek.Ga naar eind38 Wanneer hy kort daarna sy ‘persoonlike rekenskap’ aan die einde van die eerste afdeling van U dienswillige dienaar afsluit, haal hy Pienaar se woorde aan en betuig hy andermaal sy dank: ‘Dankie, Stellenbosch. Nie vir die bevrediging van eersug nie - hoewel die nederigste dienaar graag goedkeuring sien in die oog van sy heer - maar vir iets groters. 'n Mens weet nooit waarheen oral 'n liefdedaad reik nie; nie tevergeefs, wat hom betref, het julle die min-waardige seun tot julle eie rang verhef nie. Noblesse oblige.’Ga naar eind39 En in hierdie gees van sagmoedigheid en mededeelsaamheid kom dan ook die versoenings van Langenhoven se laaste jaar op aarde. Toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns sy verlof vra om Die laaste van die takhare te laat verfilm,Ga naar eind40 gee Langenhoven op 3 Julie 1931 toestemming op voorwaarde dat alle honoraria met sy komplimente ten bate van die Akademie sal wees. Wanneer Gustav Preller hom gelukwens met die eredoktoraat, bedank Langenhoven hom in 'n brief van 13 Julie baie hartlik, ook omdat sy vriend van jare her dit nou reggekry het om die ‘kwaai gevoelens’ van die onlangse verlede in hul verhouding te laat vaar. Selfs met die akademiese dr. Schoonees, van wie hy 'n knipsel oor 'n boek met die titel The Bible as literature ontvang, kan hy in hierdie tyd tot versoening kom. ‘Ja, dis dieselfde dr. Schoonees’, skryf hy op 29 Februarie 1932 in Aan stille waters. ‘Maar almal van ons het ons lucid intervals.’ Om so 'n boek soos dié waaroor die knipsel handel, eendag te skrywe, was die droom van sy lewe, voeg hy by. By so 'n boek het hy wel nie uitgekom nie, maar miskien was dié toesending vir hom die vonk om in die laaste jaar van sy lewe die Bybelverhaal oor te vertel en sy Stellenbosse lesing oor ‘Die letterkundige skoonhede van die Bybel’ te lewer. Maar die gespot met Langenhoven se pas verworwe doktorsgraad sou ook kom van iemand vir wie hy vroeër juis oor 'n ‘uitlandse’ titel te lyf gegaan het, naamlik dr. F.C.L. Bosman, met wie hy oor P. de V. Pienaar se roman 'n potjie geloop het. Onder die skuilnaam ‘Ook 'n | |
[pagina 621]
| |
tor’ stuur Bosman aan Die Burger 'n tergversie wat Langenhoven in Aan stille waters opneem: Wie het voorheen al die doktore
Steeds uitgemaak vir eselore?
Kerneels!
Wie het vir ‘doktor’ steeds 'n teken
Van leë praatjiesmaak gereken?
Kerneels!
Wie is nou self onder die skare
Van doktors en geleerde snare?
Kerneels!
Maar nee! Senator, ons is bly -
Nog veel meer hulde moet jy kry;
Jou grootse werk vir taal en volk
Word deur geen titeltjie vertolk.
Lank mag jy lewe!
Jy's vergewe.
Al is jy soms inkonsekwent -
Veelmeer as doktor en senator
Is jy gelukkig literator
Van temperament.Ga naar eind41
En net om te illustreer dat sy kwinte nog nie opgehou het nie en sy satiriese vermoëns ongeskonde is, antwoord Langenhoven met 'n rympie: Was dit om eersug te verheug? -
Díe's lank begrawe met my jeug.
Nee, vriend; maar waarlik dit was tyd
Om, dwars teen alle moontlikheid,
Een doktor tog te hê wat deug -
Kerneels!Ga naar eind42
|
|