Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 463]
| |
Hoofstuk XVIII
| |
[pagina 464]
| |
dieselfde jaar gevolg deur The everlasting annexation, begin sy definitiewe verbintenis met die Nasionale Pers. By sy nuwe uitgewers verskyn die driedelige heruitgawe van Ons weg deur die wêreld en Die eensame Hoop, wat as 'n neweproduk van sy twee allegories-historiese dramas beskou kan word. Met sy toetrede tot die Nasionale Pers het Langenhoven ook goeie, nuwe vriende gemaak. By De Burger was sy groot vriend en vertroueling na Fagan se vertrek weldra Frederik Rompel, een van die min joernaliste van Nederlandse afkoms van wie hy gehou het. Rompel was, soos C.F.J. Muller dit stel, een van die mees ervare Hollandse koerantmanne in Suid-Afrika. Hy het sy joernalistieke loopbaan 25 jaar tevore in Nederland begin, maar reeds in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek met die Afrikaner se stryd saamgeleef. In 1921 het hy as tegniese redakteur tot die redaksie van De Burger toegetree, 'n pos wat kort daarna herdoop is tot ‘nuusredakteur’. Omdat die hoofredakteur, dr. Malan, as leier van die Kaaplandse Nasionale Party so bedrywig was, is groot dele van wat eintlik sy werk moes gewees het, ook deur Rompel behartig, in die besonder die hoofartikels. Baie gou het Rompel begin met 'n gereelde ‘Buitelandse oorsig’, waaruit sy ‘buitengewone werkvermoë en parate skryftalent’Ga naar eind2 duidelik blyk. Van 1928 af het hy hom toenemend aan oorsigte oor buitelandse nuus gewy, met die daaglikse rubriek ‘Van alle kante’ begin en gereeld die Saterdagse hoofartikels, meestal van nie-politieke aard, geskryf.Ga naar eind3 As mens was Rompel iemand met 'n vaste, geroetineerde lewenstyl wat elke oggend met sy groot hond by die redaksiekantoor aangekom het. Hy was 'n warm persoonlikheid wie se empatie na ander mense uitgegaan het, maar ook 'n egte en reguit mens wat nie geaarsel het om sy standpunt hoflik maar beslis oor te dra nie. Daarby was hy sonder enige aanstellerigheid.Ga naar eind4 Dit was eienskappe waarvan Langenhoven juis gehou het. As die jong Sarel van Duyne as karakter in die roman Donker spore by Die Burger opdaag, voer hy 'n onderhoud met mnr. Rompel, een van die eerste voorbeelde in die Afrikaanse literatuur waar 'n skrywer 'n karakter uit sy eie vriendekring in 'n fiktiewe werk invoer. Vir Sarel van Duyne is dit onmiddellik duidelik dat daar tussen Rompel en sy personeel sterker bande as dié tussen hoof en ondergeskiktes is. Langenhoven skryf: Rompel ‘weet dat hy nie met werktuie nie maar met mense te doen het en dat die diens van hand en verstand nog niks werd is as jy nie die diens van die hart daarby het nie. Daarom sou | |
[pagina 465]
| |
elkeen van sy duisende werkers deur die vuur gaan vir hom. Daarom het hy nooit nodig om 'n harde woord te praat nie.’Ga naar eind5 Alhoewel hierdie woorde in die roman oor die fiktiewe karakter Rompel gesê word, kan 'n mens geredelik aanvaar dat dit ook 'n baie getroue beeld van die mens Rompel is. Dit is terselfdertyd 'n aanduiding van die hoë agting wat Langenhoven vir hom gehad het. Rompel was dan ook die enigste persoon wat aan Langenhoven se kopie vir Die Burger veranderinge kon aanbring. By geleentheid, so vertel Rompel, het hy ‘werkeloos’ in Langenhoven se manuskrip in ‘werkloos’ verander. Op 'n Sondagaand word Rompel deur 'n joernalis gebel. Langenhoven is by Die Burger-kantoor en hy is briesend. Iemand het 'n letter uit sy kopie geskrap en hy dreig om nooit weer vir Die Burger te skryf nie. Rompel antwoord dat hy dadelik kom, maar dat hulle intussen vir Langenhoven moet sê hy het dit gedoen en hy sal uitlê hoekom. ‘Onmiddellik daarna’, skryf Rompel, ‘lui die telefoon weer: Ek hoef nie te kom nie. As ek dit gedoen het, is dit goed.’ En Rompel voeg by: ‘So was Langenhoven. Die man wat sy vertroue geniet het, het dit ten volle gehad.’Ga naar eind6 Min mense het egter so 'n vertroue by Langenhoven gewek. Dit spreek boekdele vir Rompel se kennis van Afrikaans en sy integriteit dat Langenhoven so iets van hom geduld het. Dieselfde kan helaas nie van al die funksionarisse van die Nasionale Pers gesê word nie. By Die Burger was daar in dié jare ook nog J. Steinmeyer en Louis Hiemstra. Langenhoven het betreklik goed met hulle oor die weg gekom, maar hy was soms knorrig oor Hiemstra se gevit en foutvindery. By die Pers was Servaas de Wet en W.F. Kruse met die publikasie van boeke gemoeid, maar Langenhoven het die onderhandelinge met hulle grotendeels aan Sarah Goldblatt oorgelaat en weinig met hulle te make gehad. Veral vir die setters van die Pers, van wie die meeste in die vroeë jare ingevoerde Hollanders was, het Langenhoven glad nie ooghare gehad nie. Vir hulle het hy die skeldnaam ‘Van Donnerhellings’Ga naar eind7 bedink; die Hollander C. Snoek was in die besonder by herhaling die prooi van sy gramskap, soos telkens uit sy briewe aan Sarah Goldblatt blyk. Hy was selfs daarvan oortuig dat die setters opsetlik setfoute in sy werk maak net om sy siel uit te trek! Toe hy byvoorbeeld in die uitgawe van Die eensame Hoop op 'n setfout afkom, skryf hy op 23 September 1922 aan Sarah: ‘Waarom moet hulle met my werk altyd mense by die masiene hê wat nie omgee of belangstel nie? Ek kan mos nie meer doen as om die proewe tot op die ent te | |
[pagina 466]
| |
lees nie - ek kan nie in die drukkery gaan bystaan om te keer dat daar nie geknoei word nie. En hier was nie eens 'n korreksie nodig nie: die reël is heeltemal reg in die galley-proef.’ In sy korrespondensie met Sarah is daar talle gevalle waar hy uitvaar teen wat hy as die opsetlike slordigheid van die setters beskou. En met sy toetrede tot die Pers het Sarah Goldblatt nog meer as vroeër die persoon geword wat Langenhoven se manuskripte by die uitgewers en drukkers moes behartig en die proewe van sy veelvuldige geskrifte en heruitgawes moes nasien. Sarah moes alles baie sorgvuldig kontroleer en Langenhoven se instruksies presies uitvoer, want hy kon setfoute en ander slordighede eenvoudig nie verdra nie. In haar My beskeie deel betwyfel M.E.R. dit of Sarah ooit ‘'n verdraaide jota of tittel’Ga naar eind8 deurgelaat het, want sy was baie presies met die manuskripte. Tog was Langenhoven nie altyd met haar werk tevrede nie. By geleentheid beskuldig hy haar selfs in 'n brief van onnoukeurigheid en verstrooidheid van gees! Op 24 Januarie 1925 skryf hy aan haar: ‘Ons moet dit maar so neem dat daar nou eenmaal, in hierdie een opsiggie, 'n onverwyderbare verskil tussen ons is - jy is van aanleg sonder vermoë om noukeurig te wees en ek maak van noukeurigheid 'n afgod.’ Wat Sarah se reaksie hierop was, is onbekend. Gelukkig kon sy in elk geval nie oor so 'n aantyging gewees het nie! Nog meer as die setters het negatiewe beskouings oor sy eie werk hom ontstig, in so 'n mate dat hy later by sy publikasies telkens die woorde ‘Geen resensie word gevra nie’ laat afdruk het. Wanneer De Burger 'n stuk van hulle Hollandse korrespondent in Pretoria oorneem waarin ‘valselik en teen die uitdrukkelike woorde’ van The everlasting annexation gesê word dat die skrywer met minagting praat van die verset vir 'n ideaal, uit lafhartigheid nie daarvoor veg nie en Jopie Fourie aanval wat daarvoor gesterf het, vind Langenhoven die artikel ‘so gemeen as wat dit op die aarde kan’. In 'n brief aan Sarah sê hy: ‘En die Burger wat natuurlik aan daardie klas medewerker die voorkeur gee - die klas ding waardeur hulle mij van medewerking verstoot het - krap die laster nie uit nie en set nie daar 'n voetnoot aan nie: natuurlik nie. Ek is magteloos. Ek kan nie heeldag oor mij eie boek korrespondensies in die Burger voer nie. Is daar, noudat Fagan daar weg is, tog nog een persoon op die staf wat nie vijandig is teen mij nie...?’ En as die Populair-wetenskaplike leesboek waartoe hy meegewerk het, negatief geresenseer word deur Jan F.E. Celliers en D.F. Malherbe, is Langenho- | |
[pagina 467]
| |
ven moedeloos. Op 19 September 1920 skryf hy aan Sarah: ‘Et tu Brute! - Jij weet wat ek in die publiek van húlle twee se werk geseg het. Ek is bitter teleurgestel - om húlle ontwil. Dan blij daar glo nergens meer iemand oor om iets anders als laagheid van te verwag nie.’ Die bitterheid waarmee Langenhoven hier skryf, is 'n aanduiding van hoe sensitief hy oor negatiewe kritiek gevoel het en hoe persoonlik gekrenk hy was as daar volgens hom onbillik geoordeel is. 'n Mens voel selfs dat sy reaksie grens aan dié van iemand wat aan vervolgingswaan ly, 'n verskynsel wat dikwels voorkom by swaar gebruikers van alkohol. Met sy indiwidualistiese leefwyse en isolasie op Oudtshoorn het Langenhoven blykbaar baiekeer die gevoel gekry dat die hele wêreld teen hom is en dat hy niemand kan vertrou nie. Ná voltooiing van sy twee Engelse boeke en sy bydrae tot Twee geskiedkundige opstelle moes Langenhoven aanvanklik heelwat tyd aan sy politieke loopbaan wy. In 1920 moes hy in Oudtshoorn 'n verkiesingstryd voer, as Volksraadslid die sitting in Kaapstad bywoon, later in die jaar deel hê aan die kongres van die Nasionale Party in Bloemfontein en op verskeie plekke politieke vergaderings hou. Op 21 Desember 1920 laat hy Sarah egter weet dat hy onderweg van Kaapstad na Oudtshoorn in die trein met Die pad van Suid-Afrika begin het en dat hy nou elke dag 'n paar bladsye skryf. In daardie stadium is dertig bladsye reeds voltooi. So vinnig werk hy dat hy op 12 Januarie 1921 die volledige manuskrip aan haar kan pos. In Maart en April 1921 verskyn dit in Die Huisgenoot. Die pad van Suid-Afrika - of Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika, soos Langenhoven dit uiteindelik in boekvorm sou noem - sluit met die verwerking van historiese boustof en met die aksent op die wording van 'n nuwe nasie regstreeks aan by Die Hoop en Die Vrou van Suid-Afrika. Dit begin met 'n beeld van die leegheid en duisternis van die land voor die koms van die eerste blankes, gevolg deur die seevaarders wat slegs heen- en terugvaar sonder om aan land te gaan. Op hulle volg die eerste nedersetters, wat geen werklike liefde vir Suid-Afrika het nie, slegs 'n kort tydjie vertoef en die land as 'n vreemde wêreld ervaar. Die Slagtersnek-rebelle is dan die ‘eerstelinge’ wat hulle bloed aan die land offer. Uit hierdie gebeure ontkiem daar, volgens die gedig, 'n nuwe nasie wanneer die Voortrekkers die Kolonie verlaat. Die verhaalgang eindig met die moord op Retief en sy makkers en die aanval op Blaauwkrans, die begin van die ‘via dolorosa’ van die Afrikaner. Tog loop ‘die pad van Suid-Afrika’ ook hier nie dood nie, want die gestorwenes | |
[pagina 468]
| |
is ‘nasiestigters ... -/ Trou aan bloed van verre jare/ Nageslag van martelare,/ Eerste van 'n nuwe ry -/ Van 'n nasie wat sal bly’.Ga naar eind9 Met die betreklik willekeurige grepe uit die vaderlandse geskiedenis dek Die pad van Suid-Afrika dus dieselfde periode as Die Hoop van Suid-Afrika. Anders as die toneelvorm van die twee allegories-historiese dramas skryf Langenhoven hier egter 'n epos in meestal onberymde versmaat, 'n tipe poësie wat met weinig bindmiddele na die prosavorm neig. Dit word versterk deur die debatterende inslag van die vers en die stukke didaktiek tussen vraag en antwoord, al bereik hy soms 'n sekere refreinmatigheid met die herhaalde verwysing na ‘die pad van Suid-Afrika’ en wissel hy by tye die epiese gang met liriese intermezzo's soos ‘Via dolorosa’ af. Oor die algemeen was die reaksie op Die pad van Suid-Afrika baie gunstig en is dit beskou as een van Langenhoven se belangrikste werke. Ook literatuurhistorici, wat 'n bietjie later op die werk kommentaar gelewer het, was vol lof. In die derde druk van sy Taal en poësie van die Twede Afrikaanse Beweging wy E.C. Pienaar nie minder nie as agt bladsye aan die bundel. Na 'n kensketsing van die epies-liriese werk ‘oor die wordingsgeskiedenis van die Afrikanernasie en die via dolorosa, waarlangs hierdie wording plaasgevind het’,Ga naar eind10 waardeer Pienaar die ‘mate van aanskoulikheid’Ga naar eind11 en die wyse waarop Langenhoven tot die ‘dieperliggende betekenis’Ga naar eind12 agter die objektiewe feite deurdring. In die eerste uitgawe van Afrikaanse literatuurgeskiedenis het G. Dekker besondere lof vir ‘die lewendige wyse waarop menige dramatiese toneel weergegee word’.Ga naar eind13 En F.E.J. Malherbe bewonder die eenvoud, die ‘klaar en helder...visioen van ons bestemmingsweg’Ga naar eind14 wat Langenhoven in die bundel vir die lesers bied. Tog was die versvorm van Die pad van Suid-Afrika van die begin af vir baie kommentators problematies. In sy resensie wat op 25 Oktober 1921 in Die Brandwag verskyn, het Eugène N. Marais nie baie waardering vir ‘die breë, onberijmde verse waarin Langenhoven hier sing nie’.Ga naar eind15 Pienaar stel dit nog sterker. Naas treffende gedeeltes meen hy Langenhoven se hartstogtelike gevoel verlei hom dikwels ‘tot 'n oordaad van klanke wat soms ontaard in bombas’, terwyl 'n ‘stoterige ritme’ afbreuk doen aan ‘die welluidendheid en ritmiese kadans’.Ga naar eind16 En Dekker meen uiteindelik tog die gedig staan literêr nie baie hoog nie: dit word ‘ontsier deur geswollenheid en bombas, die verse is tegnies swak en verloop dikwels in prosa’.Ga naar eind17 | |
[pagina 469]
| |
In 'n groot mate moet 'n mens vandag steeds met hierdie kritiek akkoord gaan en dit nog sterker formuleer. 'n Mens het by die lees die gevoel dat die bundel in sy geheel met die wisselende versvorm prosodies onrustig verloop en dat Langenhoven, soos Totius in Ragel en Trekkerswee en Malherbe in Die timmerman, nie daarin slaag om 'n bevredigende vorm vir die epos te vind nie. Aan die een kant skryf hy 'n soort vers wat deur die afwesigheid van die nodige strukturele binding na die amorfe neig, aan die ander kant sluit hy by 'n verouderde verstradisie met uiterlike skemas aan. Wat 'n mens in die besonder opval, is dat Langenhoven se taal in versvorm, in vergelyking met sy natuurlike prosa, dadelik meer gekunsteld en gestileerd word, onder meer weens die baie on-Afrikaanse deelwoorde wat die indruk van onegtheid wek. Latere historiese ondersoeke sou buitendien aantoon dat die Slagtersnek-rebellie, waaraan Langenhoven so 'n prominente plek in die gang van die geskiedenis gee, in 'n groot mate 'n geval van gewone wetteloosheid was, met 'n sweem van 'n rampokker-element daarby. J. du P. Scholtz en F.A. van Jaarsveld is byvoorbeeld van mening dat daar eers sprake van 'n nasionale ontwaking by die Afrikaner is wanneer sowel die noordelike as die Kaapse Afrikaners heftig op die Britse anneksasie van die diamantvelde reageer.Ga naar eind18 In Die pad van Suid-Afrika verhef Langenhoven egter die Slagtersnek-geskiedenis, in ooreenstemming met die historiese insigte en kennis van sy tyd, tot 'n epiese dimensie vanuit 'n eng konserwatief-behoudende Afrikanerperspektief. 'n Mens kan hom sy gebrek aan visie dus alleen verwyt as tydsgebondenheid as sodanig 'n beswaar sou wees. Dit is egter onbillik om te verwag dat hy sonder die nodige historiese kennis bo sy tyd moes uitstyg. Alles dui daarop dat Langenhoven Die pad van Suid-Afrika self as een van sy belangrikste werke beskou het. Op 27 Julie 1921, toe die grootste gedeelte van die bundel reeds in produksie is, skryf hy aan Sarah met die opdrag dat 'n nuwe gedig van hom, ‘Die Vallei van die Skaduwee van die Lewe’, saam met ‘Die Stem van Suid-Afrika’ en ‘Die erwe van die vadere’ aan die einde van die bundel bygevoeg moet word. Hy vertel dat hy die vorige dag na die middagslapie met die gedig begin het. Daarna was hy deur dorp toe en na ete was daar besoekers by hulle aan huis. Voor hy die aand gaan slaap het, was die gedig egter klaar. ‘En’, skryf hy, ‘hy is wonderlik - ek kan nie verstaan dat dit myne kan wees nie. Jy sal sien wat daarin is is wat Einstein se teorie beteken. En jy sal merk die mensdom soek die Toekoms uit hulle eie Verlede, by die | |
[pagina 470]
| |
ondergegane son, met hulle rug naar die komende dageraad.’ Dat Langenhoven baie waarde aan dié gedig geheg het, blyk verder uit die talle instruksies vir set en wysiging in reëls wat hy in die daaropvolgende briewe aan Sarah gee. In Oktober 1923 voltooi hy ook 'n dramatisering van die hele Pad van Suid-Afrika. En nadat hy die bundel op 6 Januarie 1923 herlees het, skryf hy aan Sarah: ‘Met die lees van gister af was die hele ding vir my nuut, en tussen ons - ek het my verbaas dat dit ek is wat dit geskryf het. En die eerste uitgaaf uitverkoop - en dít vir poësie. En poësie wat nie poësie is nie; sonder rym en, volgens hoër gesag, sonder maat of ritme! Waarlik, Sub, ek het darem rede om dankbaar te wees.’ Maar tog gaan 'n gedig soos ‘Die Vallei van die Skaduwee van die Lewe’, soos trouens so baie ander verse van Langenhoven, mank aan slaafse skemagehoorsaamheid en die afwesigheid van oorspronklike beelding. Langenhoven se kommentaar in sy brief aan Sarah laat 'n mens vermoed dat hy 'n gedig in die eerste plek gesien het as iets waardeur hy 'n sekere gedagte onder woorde kon bring, nie as 'n kunswerk wat juis allereers deur woord en beeld die leser moet meevoer nie. Dit is teleurstellend dat hierdie elementêre insig by Langenhoven ontbreek het, te meer omdat hy in sy verhale en sy essayistiese en betogende prosa die leser wel deeglik deur sy verrassende woordgebruik en voorstellings kon oortuig. Miskien was hy, wat die digkuns betref, te veel vasgevang in ou konvensies waaruit hy nie kon loskom nie. Miskien was hy in werklikheid geen digter nie en het slegs die tydsomstandighede hom daartoe verlei om by geleentheid sy hand aan die verskuns te waag. Dat Langenhoven self Die pad van Suid-Afrika as een van sy belangrikste werke gesien het, blyk verder uit die feit dat hy persoonlik die skrywer en kunstenaar Reenen J. van Reenen genader het om enkele illustrasies vir die bundel te maak. In 'n brief van 27 Julie 1921 sê Van Reenen dat hy in die tien potloodtekeninge die stemming van die gedigte weergee soos hy dit by die lees ervaar het. Langenhoven was baie ingenome met Van Reenen se werk, soos blyk uit sy brief van 30 Julie. Hy waardeer dit dat sy vriend sy bedoeling verstaan het en hy vind die tekeninge pragtig. ‘Sal jy my vergun om te sê’, skryf hy, ‘hoe hoog ek dit waardeer om 'n letterkundige raak te loop wat nie afgunstig is op 'n vakgenoot se werk nie maar hom nog behulpsaam is daarby?’ En uit erkentlikheid teenoor Gustav Preller, wat hom ‘die grootheid van die | |
[pagina 471]
| |
Voortrekkers en die betekenis van die Trek’ die eerste leer insien het, dra hy sy bundel op aan die skrywer van die biografie oor Piet Retief. Merk waardig genoeg bedank Preller hom eers in 'n brief van 8 Januarie 1924, met die verskoning dat ‘'n groot verdriet’ hom juis met die verskyning van Die pad van Suid-Afrika getref het en dat 'n brief van dank hom toe geheel en al ontgaan het. Preller waardeer die opdrag besonder baie, veral omdat hulle polities in opponerende kampe staan. Maar naas Die pad van Suid-Afrika was Langenhoven in dié jare ook besig met ander projekte op die gebied van die poësie. Terwyl hy redakteur van Het Zuid-Westen was, het hy hom sterk uitgespreek teen 'n moontlike vertaling van die Bybel in Afrikaans en ook gesê dat dit vir hom pynlik sou wees om die Hollandse Psalms en Gesange deur Afrikaanse tekste te vervang. Tog verskyn daar reeds in Het Zuid-Westen - sonder dat hy ooit in die openbaar 'n gewysigde standpunt stel - enkele Gesange van hom wat hy in Afrikaans weergee. Waarskynlik aangevuur deur Totius, wat juis in die twintigerjare met 'n beryming van die Psalms begin, vertaal Langenhoven 'n stuk of dertig van die Gesange, waarvan die meeste in sy Aan stille waters-rubriek in Die Burger verskyn en saam met enkele ander godsdienstige liedere in September 1922 as Gesange in Afrikaans gepubliseer word. Die taak om die Psalms en Gesange te vertaal, was vir Langenhoven nie sonder groot probleme nie. In 'n artikelGa naar eind19 vir sy Aan stille waters-rubriek wat op 3 Julie 1922 verskyn, praat hy oor al die moeilikhede waarmee die vertaler by so 'n onderneming te kampe het. Daar is die probleem dat hy hom nie so maklik ‘kan losskeur van die herinneringe wat aan woord en ritme en klank en rym van die Hollandse beryming van sy vroegste kinderdae af en deur sy hele lewe heen vasgekleef is nie’. Die Afrikaanse digter kan verder nie die bekende wysies oorboord gooi nie en is daarom aan dieselfde versmaat gebonde. Met al die infleksies en talle vroulike uitgange is daardie versmaat vir tale soos Hollands of Duits natuurlik, terwyl dit vir 'n taal soos Afrikaans gedwonge klink. Hierdie probleem geld in die besonder vir die vertaler van die Gesange. Terwyl die psalmberymer uit die Bybelteks 'n vars beryming kan maak, moet die Gesange vertaal word. Ten spyte van die groot ooreenkomste in die woordeskat moet die vertaler ter wille van die maat en rym noodwendig sy woorde anders kies. ‘Waar verbuigde werkwoorde en naamwoorde’, skryf Langenhoven, ‘ook in die loop van die reël voorkom en ons taal laat die verbuiging weg, bly ons met 'n | |
[pagina 472]
| |
oortollige lettergreep sit wat dan met 'n ekstra woord (en dus met 'n extra gedagte of begrip), wat nie in die oorspronklike voorkom nie, moet opgevul word.... Die resultaat van hierdie verskynsel is dat 'n mens by die vertaling van enige Hollandse gedig in Afrikaans met orige plek vir lettergrepe opgeskeep sit omdat ons taal meer in dieselfde maatlengte kan sê (en dus moet sê) as Hollands en dat sover as my betref ek makliker 'n gedig uit Engels in Afrikaans vertaal as uit Hollands of Duits.’ Ondanks al hierdie probleme meen Langenhoven tog dat die Afrikaner in sy ontwikkeling tot kultuurvolk die Bybel en die godsdienstige liedere in Afrikaans moet kry. Hy pleit nogtans vir 'n langsame invoer van die nuwe Psalms en Gesange. In 'n verdere stukGa naar eind20 wat klaarblyklik as voorwoord tot die publikasie van Gesange in Afrikaans bedoel is maar wat nooit verskyn het nie, skryf Langenhoven dat hy dikwels moes kies tussen 'n afwyking van die suiwer Afrikaanse taaleie en 'n afwyking van die oorspronklike inhoud. Alhoewel die Afrikaanse digter 'n reg op sy eie oorspronklikheid het, moet hy tog eerbied hê vir die eenheid en samestelling van die oorspronklike. Daarby het hy met die voornaamwoord van die tweede persoon moeilikheid gehad. Ons het, so stel hy dit, ‘in ons verlede nog altyd die Here in Hollands aangespreek, dus “Gy” of “U”; en volgens ons volksgevoel en gebruik klink “jy” en “jou” oneerbiedig, sodat ek my nie daaraan kon waag nie. Die mense sou my gestenig het, hoewel ek twyfel of die Here die minsame vertrouelikheid sou veroordeel het. “Gy” klink vir my glad te on-Afrikaans - 'n sin of versreël waarin hy voorkom gee my taalgevoel 'n stamp. Dus het ek hom vermy - en tot skade. Met die tyd wat dit my geneem het om die “Gy” te ontwyk - want “U” het byna geen rymgenoot nie - kon ek 'n hele paar verder Gesange vertaal het; en op sommige plekke het dit my tot ontrouheid aan die inhoud genoodsaak.’ In Langenhoven se besluit om af te sien van ‘jy’ en ‘jou’ vir die Opperwese, het die groot voorbeeld van die Nederlandse tekste waarskynlik 'n deurslaggewende rol gespeel. Dit is opmerklik dat N.P. van Wyk Louw ongeveer tien jaar later in enkele van sy geding-met-God-verse in Alleenspraak wel God só ‘minsaam vertrouelik’ aanspreek, maar vanaf Die halwe kring gebruik hy weer die Uvorm. Ondanks al die probleme en die baie sametrekkings, gekunstelde woorde en die tale Kanaäns bereik Langenhoven tog sekere effekte met sy vertaling van die Gesange. Wat veral in soveel van sy oorsettings | |
[pagina 473]
| |
opval, is hoe hy daarin slaag om die bekende en idiomatiese Afrikaanse ekwivalent vir die Nederlands te vind, dikwels deur die segging met sy woordkeuse te konkretiseer. Strofe 9 van Gesang 20 lui in Nederlands byvoorbeeld as volg: Komt! treen wij dan bemoedigd voort,
in vast vertrouwen op sijn woord!
Hoe moeilijk ons de weg ook schijn',
het eind zal zeker zalig zijn.Ga naar eind21
By Langenhoven word dit: Laat ons met moed dan voorwaarts gaan -
Ons weet Sy woord bly ewig staan:
Al lyk die opdraand hoe so steil,
Daarbo is seker salig heil.Ga naar eind22
In die eerste vers van Gesang 65 slaag Langenhoven daarin om in reël 2 die abstrakte begrippe na personifiërings te herlei en in die res van die strofe 'n natuurlike Afrikaans te handhaaf, selfs al moet hy die presiese betekenis van die Nederlands daarmee opoffer. In Nederlands lui dit: 'k Heb Jezus lief! Hij is mijn licht en kracht,
waarheen ik mij in angst en droefheid wende.
Och, werd alom dien Redder uit ellende
door mij, door elk die hulde toegebracht!Ga naar eind23
By Langenhoven: 'k Het Jesus lief! Hy is my lig en krag,
In angs en leed my Toevlug en Bekende.
As almal tot die Redder uit ellende
Wou hulde bring en hulp van Hom verwag!Ga naar eind24
In strofe 2 van Gesang 7 gebruik Langenhoven die woord ‘strooihuisies’, 'n besondere Afrikaanse vonds waarvoor daar geen ekwivalent in die Nederlandse teks is nie: | |
[pagina 474]
| |
Die laaste vier reëls van strofe 2 van dieselfde Gesang lui in Nederlands as volg: Hij hoort de jonge raven,
bekleedt met gras het dal,
heeft voor elk schepsel gaven,
ja, zorgt voor 't gans heelal.Ga naar eind26
Langenhoven wysig die enigsins veralgemenende ‘schepsel’ na ‘wurrem’, wat dadelik iets konkreets tot die teks toevoeg: Hy hoor die jonge rawe,
Beklee met gras die dal,
Het selfs vir wurrems gawe,
Versorg die gans Heelal.Ga naar eind27
Die ‘amptelike’ vertaling van 1944 het later hierdie konkretisering by Langenhoven oorgeneem: die kleinste wurmpie voed Hy,
sorg vir die groot heelal.Ga naar eind28
Langenhoven se herberyming van Psalm 42 vergelyk goed met dié van Totius. Die Nederlandse teks van die eerste strofe sien as volg daar uit: 't Hijgend hert, der jacht ontkomen,
schreeuwt niet sterker naar 't genot
van de frisse waterstromen,
dan mijn ziel verlangt naar God.
Ja, mijn ziel dorst naar den Heer;
God des levens, ach, wanneer
sal ik naad'ren voor uw ogen,
in uw huis uw naam verhogen?Ga naar eind29
| |
[pagina 475]
| |
Langenhoven verkies in sy oorsetting die Afrikaanse ‘bokkie’ bo die Nederlandse ‘hert’, maar behou die ‘waterstrome’ en lei die werkwoord ‘hyg’ uit die Nederlandse deelwoord af. 'n Mens voel egter dat reël 5 sintakties nie by die voorafgaande aansluit nie, ten spyte daarvan dat Langenhoven dit met 'n kommapunt probeer regverdig. Hinderlik is ook die onverboë byvoeglike naamwoorde in reël 1 en 6: Soos die dorstig bokkie smagtend
Na die waterstrome skree,
Hyg ek, op my Vader wagtend,
Wat alleen voldoening gee;
Dors my siel tot U, o Heer.
Wanneer, lewend God! wanneer
Sal ons same tot U nader,
Voor U aangesig vergader?Ga naar eind30
Ondanks mooi vondste het Langenhoven baie probleme met sy uitgawe gehad en was hy erg misnoeg met die literêre en kerklike ontvangs van sy werk. Op 19 Desember 1922 laat weet Sarah hom dat die resensent wie se bespreking onder die naam G. in De Kerkbode van 25 Oktober 1922 verskyn het, G.B.A. Gerdener is, die ‘verd...e swaap’ wat jare lank in die kerk teen die toelating van Afrikaans geveg het. Gerdener, later professor in teologie op Stellenbosch, was in die jare 1913-1917 werksaam onder die Mohammedane in Kaapstad en van 1917 af medeleraar op Stellenbosch. Na voltooiing van 'n doktorale proefskrif aan die Universiteit van Tübingen keer hy terug na Suid-Afrika en in 1924 publiseer hy saam met Jan F.E. Celliers en P.L. Louw Proewe van die oorsetting van die Gesange-bundel in Afrikaans. Hy is lid van die kommissie wat in 1944 vir die herberyming van die Gesange verantwoordelik is.Ga naar eind31 In sy bespreking het Gerdener wel 'n klein bietjie waardering vir die vertaling, maar dit is grotendeels 'n geval van ‘damning with faint praise’! Hy meen Langenhoven se liedere is Afrikaans ‘in vorm, maar nie altyd in wese nie’. Volgens hom moet ons die bekende Psalms en Gesange nie probeer verafrikaans nie, want dit laat die Afrikaanse produkte na ‘floue namaaksels’ lyk. Dit sal veel beter wees om ‘oorspronkelike liedere’ te skryf. Langenhoven was uiters gebelg oor Gerdener se bespreking en nog | |
[pagina 476]
| |
jare later het hy in briewe aan Sarah daarop teruggekom. Die gevolg van Gerdener se bespreking, so stel Langenhoven dit in 'n brief van 13 Julie 1923, is dat Gesange in Afrikaans in die boekwinkels bly lê en vir die uitgewers 'n verlies is. In Julie 1923 laat weet hy Sarah dat hy nog 'n stuk of agt ander Gesange vertaal het, maar dat hy nie weet wat om daarmee te maak nie. Die mense wil die eerste dertig nie eens koop nie - ‘te wyte aan die hooghartige kêrel G. wat nie Slamaaiers kon bekeer nie se resensie in die Kerkbode. Intussen is daar geen wierookdampe dik genoeg vir Totius se Psalms nie. Agheretog.’ Tot in 1929 skryf hy nog in briewe aan Sarah oor die feit dat sy vertalings nie verkoop is nie. Waarskynlik is dit die enigste boek van Langenhoven wat vir die uitgewers 'n verlies was. Maar veral die afwysing deur kerklike kringe, en die wyse waarop dit gemotiveer is, was vir Langenhoven 'n bitter pil. Hoe sterk hy daaroor gevoel het, blyk uit die inligting wat hy in U dienswillige dienaar verstrek. Waar hy skryf oor sy vlugskrif ‘De heilige ennen van Rehum en Simsai’ en die bydrae wat dit gelewer het tot die gunstige sinodale besluit om Afrikaans kerklik toe te laat, staan hy stil by sy teleurstellende ervaring met die vertaling van die Gesange. ‘En nou eindelik’, skryf hy, ‘kom ek tot 'n ondervinding wat my meer hartseer veroorsaak het as enige ander mislukking of teleurstelling wat ek met my skryfwerk gehad het. In 1922 het ek dertig van ons kerkgesange in Afrikaans oorgesit en in boekvorm laat uitgee (saam met 'n oorsitting van die Oggendgesang, Psalm 42, en die Engelse liedere “Abide with Me” en “Lead, Kindly Light”) onder die naam “Gesange in Afrikaans” (Nasionale Pers). Ná die het ek nog 'n hele aantal vertaal wat ek, alte optimisties, in 'n tweede druk sou byvoeg. Met die minste aanmoediging sou ek ons hele Gesangeboek stap vir stap vertaal het. Maar nie alleen het daar geen tweede druk gevolg nie, en sal hy seker nooit volg nie - die eerste druk het op die rakke bly lê, deur die kerk doodswygend van die hand gewys.’Ga naar eind32 Hy sou die hele Gesangeboek vertaal en sy outeursregte aan die kerk present gegee het, maar hy twyfel of hy ná die teleurstelling nou ooit weer in die stemming daarvoor sal kom. Hy sluit af: ‘In 'n verslag van 'n sinodale sitting waar die saak onder bespreking was, het ek gelees dat 'n dominee gesê het dat die vertaling nie deur leke moes gedoen word nie. Ek het nie gelees dat sy kollegas hom weerspreek het nie. Nou as daar altyd 'n waarborg was dat die nodige talente vir daardie soort werk aan ortodokse priesters sou meegedeel word en | |
[pagina 477]
| |
van ketterse profete weerhou word, was die dominee se standpunt gesond.’Ga naar eind33 Die sinodale sitting waarna Langenhoven hier verwys, is waarskynlik dié waaroor daar in Die Burger van 22 Oktober 1924 gerapporteer word, maar daarin kom geen regstreekse verwysing na Langenhoven se vertaling voor nie. Op dié sitting het ds. M.L. de Villiers, toonsetter van ‘Die Stem van Suid-Afrika’ en in daardie stadium predikant in Simonstad, voorgestel dat die sinode die noodsaaklikheid van die Psalms en Gesange in Afrikaans erken en die uitvoering daarvan opdra aan die publikasiekomitee om spoedig mee te handel. Volgens die verslag het die predikant van Graaff-Reinet daarop gesê: ‘Ons moet die uitgawe van 'n Gesangboek onder ons gesag neem en toesien dat dit in goeie Afrikaans aan ons publiek gebring word. Die vertaling moet nie aan 'n leek oorgelaat word nie.’ Alhoewel Langenhoven se naam nie genoem word nie en die laaste uitspraak ewe seer op Celliers se bydrae tot die proewe van 1924 kan slaan, is 'n mens tog geneig om in die lig van Gerdener se (enigsins vreemde en eensydige) beswaar teen die verafrikaansing in die eerste plek aan Langenhoven se oorsetting te dink. In 'n brief van 25 Oktober 1924 aan Sarah sê Langenhoven dat ds. Naudé van Graaff-Reinet die opmerking gemaak het dat leke nie die vertaling moet doen nie. Hy voeg by: ‘Dit sou dan 'n ontsettende ongeluk wees as die Here die nodige talente aan leke gegee het en van geestelikes weerhou het.’ Volgens die presensielys van die sinodale sitting van 28 Oktober 1924 was ds. J.F. Mentz egter die verteenwoordiger van Graaff-Reinet, nie ds. Naudé nie.Ga naar eind34 Amper 'n jaar na die verskyning van Gesange in Afrikaans ontstaan 'n verdere vermaaklike situasie in verband met die vertalings wat die terglustige Langenhoven terdeë moet geniet het. Op 10 Julie 1923 laat hy Sarah weet dat hy 'n brief ontvang het van 'n Hollander met die naam Proost, Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van die firma J. Brandt en Zoon wat in Nederland die Psalms en Gesange uitgee. Volgens Langenhoven wil Proost spesiaal Oudtshoorn toe kom om hom te kom spreek. In die loop van Proost se brief, waarin hy dan ‘studiously vermy om te sê wat hy wil sê, deel hy my darem mee dat ek met die vertaal van die Gesange sy firma se kopiereg verbreek het’. Langenhoven het lus gehad om terug te skryf dat hy ook 'n Psalm en 'n hoofstuk van Jesaja berym het en om Proost te vra: ‘Heeft uw firma soms ook eigendomrechten op de Psalmen van David en de boeken der profeten | |
[pagina 478]
| |
van het Oude Testament?’ In plaas daarvan het Langenhoven hom getelegrafeer om te laat weet waarop sy aanspraak van die kopiereg gegrond is. Intussen, so skryf Langenhoven, weet hy wat Proost soek: hy sien ook hierdie oorblywende deel van hulle afset word bedreig. In antwoord hierop het Proost laat weet sy aanspraak ten opsigte van die kopiereg op die Gesange berus op 'n kontrak met die Hollandse sinode. ‘Daarop’, sê Langenhoven in 'n brief van 12 Julie 1923, ‘het ek hom geantwoord dat met die oog op sy eis dit nutteloos vir hom sou wees om my te kom sien. Ek onderhandel nie met 'n man wat die standpunt inneem dat ek verplig is om sy terme te aanvaar nie.... As Brandt en Zoon enige reg hoegenaamd het sal hulle natuurlik nou stappe teen my neem. As dit blyk dat hul dit nie het nie - en dit lyk vir my te sot dat hulle dit sou hê - sal ek sien dat daar verder notiesie geneem word van hulle roofpryse. Intussen het Proost my so die hel in gemaak dat ek lus het om die hele Gesangeboek te vertaal.’ Hierop het Proost 'n vriendskaplike brief geskryf, ‘met behoud egter van sy vermeende aanspraak’. Daarop het Langenhoven laat weet dat Proost hom moet oortuig hoe die Hollandse sinode aan so 'n ‘ewigdurende kopiereg’ gekom het. ‘As hy my kan bevredig, het ek gesê, sal hy my nie hof-toe hoef te neem nie.’ Die feit dat sy vertaling van die Gesange vir die kerk onaanneemlik was, het vir Langenhoven moeilik gebly om te verwerk, veral omdat Totius se proewe van die Psalmberyming kerklik en literêr so goed ontvang en ook deur Die Burger - met verswyging of slegs terloopse vermelding van die vertaling van die Gesange - hoog geroem is. Wanneer Die Burger op 10 Oktober 1923 vleiende resensies oor Totius se werk oorneem, sien hy daarin ook 'n ‘gees van vyandigheid’ teen hom! ‘Daar is maar twee in die hele land’, skryf hy op 12 Oktober aan Sarah, ‘wat met ps. en ges.-vertalings voor 'n dag gekom het, en dus vanself is die voortdurende geesdriftige aanbeveling van die een se werk met bestudeerde verswyging van die ander s'n, vanself die ergste veroordeling van die ander.... Daar is nie 'n rigting waarin ek werk waar my eie kant - ek praat nie van vyande nie - nie stelselmatig na 'n mededinger soek om te bewierook nie. Waaragtig, ek kan sonder hulle lof klaarkom; meestal laat dit my walg. Maar ek word die hel in oor die moedswillige onreg en die omsonseGa naar eind35 gees van vyandigheid.’ Uit hierdie woorde is dit duidelik dat Langenhoven oor die negering van sy werk baie bitter gevoel het. Ongetwyfeld was daar van kerklike | |
[pagina 479]
| |
kant 'n duidelike afwysing. 'n Mens kan vra of die feit dat Langenhoven nie as 'n gereelde kerkganger bekend gestaan het nie en dat sy alkoholgebruik aan ingeligtes bekend was, nie by die afwysing 'n rol gespeel het nie. Intussen het Langenhoven begin lus kry vir 'n ander stuk vertaling op die gebied van die poësie. Reeds jare lank was hy 'n groot bewonderaar van Edward FitzGerald se Rubáiyát van Omar Khayyám, 'n digbundel wat sedert sy eerste publikasie in 1859 in Brittanje 'n soort kultusteks geword het en deur veel meer mense as net gewone poësieliefhebbers gelees is. Dit is 'n bundel wat, soos Langenhoven dit later in sy inleiding sou stel, met sy ‘lewensleer van ongeloof aan enige toekoms oorkant die graf’ en die gevolglike entoesiasme ‘om die beste van hierdie lewe te maak’,Ga naar eind36 vir die mense van die Victoriaanse era 'n welkome afwisseling op die uiterlike preutsheid en vrome godsdiens van hulle tyd moet gewees het. Tog wou Langenhoven nie met sy vertaling van hierdie ‘hooglied en loflied van wyn en liefde’Ga naar eind37 'n vrysinnige godsdiensfilosofie of selfs 'n sekere ateïsme aanmoedig nie. Juis omdat die verse, so skryf Langenhoven, die tipies menslike ‘drifte en drange van ons liggaam en...die vertwyfelde versugtinge van ons gees’Ga naar eind38 weerspieël, bevat die gedig algaande ‘sy eie reductio ad absurdum. Daar kom in ons op 'n oorweldigende terugslag; ons Godbewuste binneste siel verset hom. Nee, die heelal het 'n ander doel! - Die Rubáiyát moet al baie godloënaars en wellustelinge tot nadenking gebring het.’Ga naar eind39 Dit is nie van belang of 'n mens met hierdie siening van Khayyám se werk saamstem nie. Langenhoven se doel was om 'n stuk poësie te vertaal wat tot baie mense gespreek het en wat by uiteenlopende lesers gewild was. Dat hy juis Die Rubáiyát gekies het, is in ooreenstemming met sy hele opvatting om die volk te leer lees en die mooiste dinge tot sy mense se beskikking te stel. As daar inherent ook 'n les uit te leer val, was die teks soveel te meer geskik vir sy arme, verwaarloosde mense, soos hy hulle gesien het. Langenhoven se bewondering vir Die Rubáiyát is deur Vroutjie met hom gedeel. Vroutjie het trouens die hele Rubáiyát en Gray se bekende ‘Elegy’ van buite geken. In 'n brief van 17 Desember 1923 laat weet hy Sarah dat hy nie kans sien daarvoor om Gray se ‘Elegy’ te vertaal nie; ‘ek ken my beperkings’.Ga naar eind40 Hy is aan die soek na iets om oor te skryf, maar vind geen bronne in die Oudtshoornse biblioteek nie, behalwe die ou boeke wat hy al uit sy kop ken. In sy brief verwys hy egter na | |
[pagina 480]
| |
Leipoldt se verwerking van enkele kwatryne uit FitzGerald se Khayyám wat in Die Burger se Nuwejaarsnommer sou verskyn en wat Langenhoven blykbaar voor publikasie reeds gesien het. Al sê hy in sy brief van 26 Desember 1923 dat mense nou sal dink hy wou Leipoldt uitdaag en dat hy eintlik op die gedagte van die oorsetting gekom het toe hy self 'n paar versies vir die Nuwejaarsartikel moes vertaal, kan 'n mens aanvaar dat Leipoldt se kwatryne tog die eintlike prikkel was wat hom aangespoor het om self iets omtrent FitzGerald se vertaling te doen. Die verbluffende snelheid waarmee Langenhoven andermaal 'n enorme stuk werk afhandel, is 'n aanduiding van hoe begeesterd hy met die hele onderneming was. Op Kersdag 1923 vertaal hy ál vyf en sewentig kwatryne van FitzGerald se eerste oorsetting, wat in 1859 verskyn het! In die brief wat hy die volgende dag aan Sarah skryf, sê hy: ‘Ek het hom gister gedoen - en vannag oorgeskryf. Maar nou bevooroordeel ek jou weer vooraf met te sê ek was haastig sodat jy my woord kan bevestig deur die spore van die haastigheid te vind. Nou ja, hoe dit ook is, dis 'n dag se werk en vannag het ek dit oorgeskryf.’ Aangesien FitzGerald reeds in 1883 en dus 40 jaar tevore dood is, versoek hy haar om Fagan te vra of die kopiereg nou, volgens die indertyd bestaande Britse kopieregwet, verstreke is. Indien dit die geval is, sal hy bly wees as die Pers 'n geskenk- of voorkamerboekie daarvan kan maak. In die weke wat volg, stuur Langenhoven nog 'n paar keer verbeterings van sy Khayyám-vertaling aan Sarah. Hy laat weet haar ook dat hy oorweeg om die kwatryne in Die Burger te publiseer indien die Pers nie 'n boek daarvan wil maak nie. Maar Langenhoven was verniet ongerus. Sarah was baie opgewonde oor die vertaling en die Pers wou dit dadelik in boekvorm publiseer. In 'n brief wat hy op 3 Januarie 1924 aan haar skryf, is hy baie dankbaar vir haar gunstige reaksie. ‘Jy het my hart baie, baie lekker gemaak...Nog nooit het ek die Sub so geesdriftig gekry as hierdie slag oor die Omar nie. Waarlik, die werk was vir my 'n genot; die lof is 'n groter genot.’ Die Afrikaanse Rubáiyát verskyn in Mei 1924 as die eerste van 'n reeks sitkamerboekies, die eerste keer dat so iets in Afrikaans onderneem word. Langenhoven het egter eindelose probleme met die setters gehad; veral die ‘dooie vrottert’ van 'n Snoek wou nie na hom luister nie. Langenhoven se vertaling was, soos 'n mens by enige versvertaling te wagte kan wees, nie onberispelik nie. Tog is dit merkwaardig hoe | |
[pagina 481]
| |
dikwels hy 'n hoogs bevredigende en vindingryke Afrikaanse ekwivalent vir die Engels kry en plek-plek FitzGerald se teks selfs oortref. Nommer 11 lui byvoorbeeld by FitzGerald: Here with a Loaf of Bread beneath the Bough
A Flask of Wine, a Book of Verse - and Thou
Beside me singing in the Wilderness -
And Wilderness is Paradise enow.Ga naar eind41
Langenhoven slaag daarin om hierdie kwatryn in natuurlike Afrikaans oor te sit en terselfdertyd baie na aan die Engels te bly, met behoud van die aangesprokene, gevolg deur die enjambement, in die belangrike rymposisie aan die einde van reël 2: 'n Snytjie Brood hier waar die skaad'wees sprei,
'n Flessie Wyn, en 'n Gedig - en Jy
Hier by my om te sing in die Woestyn -
En die Woestyn is Paradys vir my.Ga naar eind42
FitzGerald se nommer 20 was kennelik veel moeiliker om te vertaal: Ah, my Belovéd, fill the cup that clears
TO-DAY of past Regrets and future Fears -
Tomorrow? - Why, To-morrow I may be
Myself with Yesterday's Sev'n Thousand Years.Ga naar eind43
Alhoewel Langenhoven in die eerste twee reëls FitzGerald se teks nie letterlik vertaal nie, slaag hy tog voortreflik daarin om die spanning tussen verlede en hede te behou en die hele voorstelling in die sfeer van Khayyám se carpe diem-filosofie te laat bly. Met die slotreël oor die ‘duisend dooie Gisters’ voel 'n mens dat hy FitzGerald oortref: Geliefde! vul die Glas en laat my Gees
Sy Rou oor wat verby is, en sy Vrees
Vir wat mag kom, vergeet. En môre dan?
Ek sal by duisend dooie Gisters wees.Ga naar eind44
| |
[pagina 482]
| |
FitzGerald se nommer 26 lui as volg: Oh, come with old Khayyám, and leave the Wise
To talk; one thing is certain, that Life flies;
One thing is certain, and the Rest is Lies;
The Flower that once has blown for ever dies.Ga naar eind45
In die plek van ‘old Khayyám’ kom ‘Omar’, wat die gemoedelike sfeer handhaaf. FitzGerald se ‘talk’ aan die begin van reël 2, in die betekenis van ‘praatjies maak’, vertaal Langenhoven vindingryk met ‘lieg’. Daarmee handhaaf hy die oorspronklike eindwoord van reël 3 in die rymposisie. Terselfdertyd bly hy met ‘vals’ naby aan FitzGerald se teks. Met die sterker beelding van die slotreël en die kontras tussen geboorte en dood sluit sy kwatryn veel sterker as die oorspronklike: Kom saam met Omar; laat die Wyses lieg;
Een Ding is seker - dat die Lewe vlieg;
Een Ding is seker en die Res is vals:
Geen Blom vind uit sy Graf ooit weer sy Wieg.Ga naar eind46
Met FitzGerald se nommer 27 het Langenhoven besondere probleme gehad. In 'n brief van 21 April 1924 aan Sarah sê hy dat dié kwatryn, veral die slotreël, ‘die enigste (is) wat ek glad nie na my sin gekry het nie; maar ek sál nog, en voor die tweede ediesie.’ By FitzGerald lui die teks as volg: Myself when young did eagerly frequent
Doctor and Saint and heard great Argument
About it and about, but evermore
Came out by the same Door as in I went.Ga naar eind47
In die eerste uitgawe het Langenhoven dit as volg vertaal: Reeds in my Jeug het ek na Lig gaan soek
By Heiliges en by Geleerdes kloek,
En hulle oor en weer hoor redeneer -
Maar donker soos tevore bly die Boek.Ga naar eind48
| |
[pagina 483]
| |
Die woord ‘kloek’ aan die einde van reël 2 gee wel iets van die ‘great Argument’ weer, maar het tog 'n ander gevoelswaarde en maak as byvoeglike naamwoord ná die selfstandige naamwoord 'n onnatuurlike indruk, terwyl die slotreël heeltemal van die Engelse teks afwyk. Volgens 'n mededeling van SarahGa naar eind49 het Langenhoven na die publikasie wysigings aangebring en 'n afskrif daarvan gebêre by die pragboek waarin hy indertyd vir Vroutjie sy eie teks in sierskrif ingeskryf het. In deel VII van die Versamelde werke het Sarah die nuwe teks ingesluit, maar nagelaat om ook die wysiging aan te bring wat hy in 'n brief van 24 April 1924 aan haar noem. In dié brief versoek hy haar om die nuwe slotreël (‘En ledig uit hul Poorte weergekeer’) te verander na ‘Maar ledig uit hul Poorte truggekeer’, wat normaler Afrikaans is. In die eerste twee reëls dra die gewysigde teks die ywer en leergierigheid van die jongeling mooi oor, terwyl hy ‘Doctor and Saint’ nou tot een groep ‘geleerde Heiliges’ teleskopeer: Reeds vurig in my Jeug het ek begeer
Om by geleerde Heiliges te leer,
En hulle oor en weer hoor redeneer -
En ledig uit hul Poorte weergekeer.Ga naar eind50
Met die besprekings van sy Rubáiyát was Langenhoven glad nie tevrede nie. Veral Louis Hiemstra se vitterige resensie in Die Burger van 6 Mei 1924 het hom in die besonder ontstig, omdat dit deur 'n redaksielid geskryf is in die koerant waarvoor hy toe reeds meer as 'n jaar lank 'n gereelde rubriek behartig het. Hiemstra wys op talle gevalle waar die vertaler volgens hom die oorspronklike geweld aandoen of sy eie taal vermink. ‘Werklik bevredigende vertalings van lieriese poësie’, skryf Hiemstra, ‘is uiters skaars in die wêreld; vir iemand wat die oorspronklike ken, is hulle byna nooit genietbaar nie, omdat 'n verslapping van die beeldindrukke en vernaam 'n verlore gaan van die oorspronklike woordmusiek bykans onvermydelik is.’ As voorbeeld van 'n gedig wat dan vir hom in Afrikaans geslaag is, haal hy ‘'n Snytjie Brood hier waar die skaad'wees sprei’ aan. Dié vertaling, skryf Hiemstra, is ‘op sigself aangenaam’, maar dan kom die ‘deadly parallel’ van die oorspronklike: ‘ons kan nie help om b.v. sulke nodelose verswakkings as dié van die brood tot 'n snytjie en van die bundel tot 'n enkele gedig, raak te sien nie en die vergelyking van die geheel doen afbreuk aan ons | |
[pagina 484]
| |
genot’. 'n Mens voel dat Langenhoven met reg ongelukkig oor sulke puntenerige kritiek kon gevoel het, want met die oorsetting het hy daarin geslaag om naby die oorspronklike te bly en nogtans 'n bevredigende Afrikaanse vers te lewer. In 'n brief van 10 Mei 1924 skryf Langenhoven dan ook met wrewel oor die resensie aan Sarah: ‘Hy het al die tjiekorie-korreltjies met 'n vergrootglas opgesoek. Waaragtig, as jy my vertaling vers vir vers vergelyk dan is nege verse uit die tien so letterlik dat dit prosa kon gewees het. Daaroor het die resensent niks te sê nie - geen stuk waardering oor 'n absoluut wonderlike stuk werk nie; al wat hom getref het is die een-tiende.... Laat die resensent Fitz.G.-vertalings in ander tale betrag; laat hom kyk na die uitgesoekte uit Leipoldt s'n, wat in die B. Nuwejaarsnommer verskyn het. Beter nog, laat hom my nadoen. Dis nou nie gekrenkte eie-liefde nie, dis beginsel - die verdomde skoolmeester-speletjie waarteen ek nog altyd te velde trek. As ék so behandel word, wát dan van jongere en mindere skrywers? Waar moet ons letterkunde vandaan kom? Van die foutvinders se koers af sal hy waaragtig nooit kom nie.’ Behalwe Die pad van Suid-Afrika, Gesange in Afrikaans en Die Rubáiyát publiseer Langenhoven in die twintigerjare nog heelwat gedigte, meestal ballades, liefdesverse, verhaaltjies in rymvorm en allerlei mengeldigte wat oorspronklik in Die Burger verskyn en wat hy later in die eerste deel van Aan stille waters opneem. Baie van dié verse is sentimenteel of anekdoties, met 'n morele les daarby. Onder die substansiëler stukke is heelwat vertalings, onder meer uit Shakespeare en Milton, en enkele sonnette. Met die oog op voordrag by die Kaapstadse Eisteddfod - 'n organisasie waarin hy groot belangstelling gehad het en waarvan hy by geleentheid die erepresident was - het hy ook heelwat van die Engelse en Duitse ‘sang-klassieke’ vertaal. In Tydskrif vir Wetenskap en Kuns van Junie 1932Ga naar eind51 wei J. Hoge, dosent in Duits op Stellenbosch, uit oor die Duitse vertalings, waarin hy heelwat foute aandui. Dié kritiek kon seker nie by die vertaler goed tereggekom het nie, want as Hoge in April 1932 persoonlik aan Langenhoven oor die bewerkings skryf en 'n getikte kopie van sy artikel insluit, ontvang hy net 'n kortaf briefie terug. Daarin sê Langenhoven: ‘Aangesien...nie een enkele reël van my vertalings u getref het as selfs gangbaar nie, kan ek nie begryp hoe dit u die moeite wêrd was om in sulke minderwaardige stukke nog foute te soek nie.’ | |
[pagina 485]
| |
'n Vers wat deur 'n Engelse gedig ingegee is en waarvan Langenhoven die teks teen een van sy slaapkamermure opgehang het, is ‘Met die water wat verby is’. Dit werk met 'n reeks treffende ontkennings, 'n tipiese stylgreep uit die retorika en 'n tegniek wat Langenhoven as redenaar goed bemeester het. Die eerste vier strofes van dié vers lui as volg: Met die water wat verby is
Sal jou meule nooit weer maal;
Uit die assies op jou vuurherd
Sal jy nooit geen gloed weer haal.
Uit die tak wat jy gekap het
Groei nooit weer 'n groene blaar;
Gaste, gister op jou feesmaal,
Bring jy nooit weer bymekaar.
Van jou jare wat verstryk is
Sal jy nooit 'n uur weer kry;
Van jou afgelegde togte
Nooit een enk'le skof weer ry.
Díe wat eenmaal van jou weg is,
Vyand of beminde vrind,
Sal jy met jou haat of liefde
Nimmermeer op aarde vind.Ga naar eind52
'n Werklik knap vertaling van Langenhoven, wat hy in 1923 nog nie wou aandurf nie, is sy omdigting van Thomas Gray se ‘Elegy written in a country churchyard’, 'n lang tyd die populêrste gedig in Engels.Ga naar eind53 Orals het Langenhoven daarin geslaag om op vindingryke wyse Afrikaanse ekwivalente vir moeilike gevalle te kry en daarby die sonore, elegiese klankkwaliteit van die oorspronklike te behou. 'n Mens kan wel sê dat sy vertaling van ‘The lowing herd wind slowly o'er the lea’Ga naar eind54 as ‘Die beeste slinger bulk-bulk na die kraal’Ga naar eind55 te gemoedelik-Afrikaans is, terwyl ‘yonder ivy-mantled tow'r’Ga naar eind56 nie ‘gindse eiloofpuin’Ga naar eind57 is nie en die bekende reël ‘Far from the madding crowd's ignoble strife’Ga naar eind58 met ‘Verwyderd van verdollende gekyf’Ga naar eind59 nie juis weergegee word nie. Nogtans bereik Langenhoven in die volgende | |
[pagina 486]
| |
passasie 'n hoogs bevredigende ekwivalent vir Gray en word sy teks nogal 'n behoorlike stuk Afrikaanse poësie. Gray skryf: Yet ev'n these bones from insult to protect
Some frail memorial still erected nigh,
With uncouth rhymes and shapeless sculpture decked,
Implores the passing tribute of a sigh.
Their name, their years, spelt by th'unlettered Muse,
The place of fame and elegy supply:
And many a holy text around she strews,
That teach the rustic moralist to die.
For who, to dumb Forgetfulness a prey,
This pleasing anxious being e'er resigned,
Left the warm precincts of the cheerful day,
Nor cast one longing ling'ring look behind?Ga naar eind60
Dit word by Langenhoven: Maar selfs om hierdie beendere te merk,
Staan brose tekens van gedagtenis
(Van opskrif grof en lomp van ambagswerk)
Wat nie die hulde van 'n sug kan mis.
Die naam en jaartal, ongeskoold gespel,
Doen diens vir huldeskrif deur roem verwerf;
En Bybeltekste, tussenin gestel,
Leer díe wat nog hier leef hoe om te sterf.
Wie, so 'n prooi van stom vergetelheid,
Verlaat sy lief en leed hier sonder sug,
Versaak die dag van warme lewenstyd,
En kyk nie lank verlangend ver terug?Ga naar eind61
Die versvorm wat by uitstek by Langenhoven se geestigheid en spel met woorde aansluit, is dié van die limeriek. In sy beoefening hiervan, waarvan die meeste voorbeelde in Aan stille waters I opgeneem is, hou | |
[pagina 487]
| |
hy hom streng by die voorgeskrewe rymskema (aabba) en struktuur (reëls 1, 2 en 5 trimetries en reëls 3 en 4 dimetries). In My beskeie deel vertel M.E.R. hoe Langenhoven by geleentheid in haar woonstel in Kaapstad limerieke wou maak en dat al die aanwesiges moes saamrym op die gekste woorde: Suidooster, Sarah, ensomeer.Ga naar eind62 'n Mens sien dan ook duidelik hoe Langenhoven hom daarin verlustig om ongewone woorde met mekaar te koppel en telkens met rymvondste te verras. Soms is daar in sy limerieke 'n element van selfspot, soos waar hy in ‘Die kieskeurige’ na hom en sy rooihaarvrou verwys: Neelsie het gesoek na 'n mooi nooi
En die mooiste vir hom was 'n rooi nooi.
Vandag dink hy trug
Aan sy bruid met 'n sug,
En hy wens sy was liewers die strooi-nooi.Ga naar eind63
Hy het die limeriekvorm dikwels ook gebruik om met sy politieke maats of met Sarah Goldblatt te spot. Toe hy op 'n dag saam met sy politieke vriende Jaap Hugo en dr. A.J. Stals oesters eet, was dit vir Langenhoven die geleentheid vir die volgende limeriek: 'n Sekere Hugo van Worcester
was siek van 'n galsterige oester.
Sy vriend, dr. Stals,
gee hom 'n dop wilde-als,
en toe gaan dit woester op Worcester.Ga naar eind64
In Langenhoven se laaste jare was dit die gewoonte dat Sarah die Kersvakansie saam met hom en Vroutjie op Oudtshoorn deurbring. Met Kersfees 1931 kry Sarah saam met haar present die volgende uitgebreide limeriek, gedateer 1 Januarie 1932:
Die geloofs-versoening
Die Ounooi en Chief het saamgeclub
Om die Ou Jaar se odium uit te rub
Met 'n ghoi-presentjie
Aan Joodse Saartjie
Op hierdie on-Joodse Nuwejaartjie,
Want kosjer vir hulle is sy, die Sub.Ga naar eind65
| |
[pagina 488]
| |
En op 2 Februarie 1931 stuur hy aan Vroutjie die volgende teks ter herdenking van hulle troudag: Die ouman is pap op sy oudag,
maar Vroutjie nog hups op haar troudag.
Sy vul aan wat ontbreek,
sy preek en hy sweet,
en so kom hul klaar dood-eenvoudag.Ga naar eind66
'n Laaste vertaalde gedig van Langenhoven wat met die jare bekendheid verwerf het, is sy oorsetting van ‘Auld lang syne’ van Robert Burns, die Skotse digter van wie hy meermale tekste - onder meer die geestige ‘John Gilpin’ - in Afrikaans verwerk het. Kort voor sy dood vertaal Langenhoven die gedig op versoek van sy vriendin M.E.R. vir publikasie in Die Huisgenoot. Dit verskyn ook in Die Burger van 18 April 1932 en word later deur Sarah in die tweede deel van Aan stille waters opgeneem. Die eerste strofe lui: Sal ons mekaar vergeet, ou maat,
Sal ons mekaar vergeet?
En al die dae, lank verby,
Waar ons alleen van weet?Ga naar eind67
En die gedig sluit as volg: Verby vir almal ja, ou maat,
Maar nooit vir jou en my;
Gee my jou hand, dis ons twee nog,
Nog altyd ek en jy.Ga naar eind68
| |
IIHoewel Langenhoven se digbundels met die uitsondering van Gesange in Afrikaans goed verkoop het en selfs herdruk is, het sy gewildheid as skrywer van die twintigerjare af tot met sy dood en ook lank daarna in die eerste plek berus op die talle romans, kortverhale en kinderstories wat hy met sy toetrede tot die Nasionale Pers begin skryf het. Hierdie | |
[pagina 489]
| |
werke begin met die publikasie van Sonde met die bure in 1921. Binne die bestek van ses jaar skryf hy nog sewe soortgelyke romans: Doppers en Filistyne (1922), Loeloeraai (1923), Die lig van verre dae (1924), Herrie op die óú tremspóór (1925), Mof en sy mense (1926), Donker spore (1926) en Die wagtende wêreld (1927). In hierdie skeppende vaart skryf hy ook twee bundels spookverhale: Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte (1930). Vir kinders publiseer hy Brolloks en Bittergal (1925), Die Krismiskinders (1926), Die boekie sonder naam (1928) en Jantjie Muis en Jakob Slang (1931). En op die gebied van die drama skryf hy Die laaste van die takhare (1926) en Petronella (1931), terwyl hy sy Ou-liedjies, 'n verwerking van bekende volkse verse, in 1928 publiseer. In sy briewe aan Sarah Goldblatt verwys Langenhoven dikwels na hierdie werke, in die besonder die romans, as ‘schnipes’. ‘Ek is nou weer besig met 'n schnipe’, laat weet hy byvoorbeeld vir haar. Of, wanneer hy vyf dae lank dag en nag gewerk het en byna dood van uitputting is, skryf hy: ‘Die schnipe is klaar.’ Duitse en Jiddisje woordeboeke help nie by die verklaring van ‘schnipe’ nie en ook die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op Stellenbosch het geen gegewens oor die woord nie.Ga naar eind69 By gebrek aan nadere inligting moet 'n mens dit beskou as 'n soort geheimtaal of private kode, die tipe woord wat dikwels tussen goeie vriende gebruik word en waarvan net hulle die betekenis ten volle begryp. Hoe ook al, die begrip ‘schnipe’ verwys na die soort romans en verhale wat Langenhoven vanaf 1921 by die Nasionale Pers begin publiseer. Almal speel af in die bekende wêreld van die Klein Karoo en dikwels voer Langenhoven Vroutjie, Engela en homself as karakters in die verhaal in. Meestal is hy as ek-verteller aanwesig, iets wat hom die geleentheid gee om 'n sterk persoonlike stempel op die verhaal af te druk en die vertelling te voer in die rigting wat hy verkies. Met hierdie ‘schnipes’ word Langenhoven in die twintigerjare die Nasionale Pers en die Afrikaanse letterkunde se gewildste skrywer, want sy boeke is telkens herdruk en duisende eksemplare van elkeen is verkoop. In sy Sonop in die suide, wat in 1990 gepubliseer is, gee C.F.J. Muller inligting oor die enorme verkope van hierdie Langenhovenwerke. Sonde met die bure beleef 44 drukke met 'n totaal van 142 000 eksemplare, Mof en sy mense 45 drukke met 210 000 eksemplare en Donker spore 38 drukke met 173 000 eksemplare. In die eeufeesjaar 1973 verstrek Jan Scannell besonderhede oor die oplae van ander topverkopers: Die lig van verre dae - 28 drukke en 77 000 eksemplare, Herrie op die | |
[pagina 490]
| |
óú tremspóór - 24 drukke en 69 000 eksemplare, en Geeste op aarde - 19 drukke en 49 000 eksemplare. 'n Vergelykbare goeie verkoper uit hierdie vroeë tyd van die Afrikaanse letterkunde was Sangiro se Uit oerwoud en vlakte, waarvan tot 1990 47 drukke verskyn het en 141 000 eksemplare verkoop is.Ga naar eind70 Met sy toetrede tot die Nasionale Pers wou Langenhoven self, soos vroeër met die eerste uitgawe van Ons weg deur die wêreld, die Afrikaner aanmoedig om in sy eie taal te begin lees. Daarom het hy telkens die uitgewers versoek om sy honorarium te verminder, sodat die verkoopprys per eksemplaar laer kon wees. ‘En hierdie versoek’, skryf Sarah Goldblatt, ‘is jaar na jaar herhaal, lank nadat daar geen noodsaaklikheid meer was om die Afrikaanslesende publiek op hierdie manier aan te moedig nie.’Ga naar eind71 Feitlik al hierdie boeke is by hul eerste publikasie teen 3 sjielings verkoop, terwyl vergelykbare boeke soos D.F. Malherbe se Die meulenaar en Hans-die-skipper albei meer as 5 sjielings en Jochem van Bruggen se Op veld en rande en die eerste Ampie onderskeidelik 6 en 7 sjielings gekos het. Billikheidshalwe moet 'n mens egter vermeld dat Langenhoven se oplae groter was en dat die eerste Ampie deur Swets en Zeitlinger in Amsterdam gedruk is.Ga naar eind72 Sonde met die bure, Langenhoven se eerste ‘schnipe’, word opgedra aan sy vriend Stephen le Roux en sy bruid. As Langenhoven in 1920 kandidaat vir die Volksraad is, help Le Roux hom met sy verkiesingstryd en ontstaan daar 'n hegte vriendskap tussen hulle. By geleentheid het Langenhoven van hulle twee as Herrie en Berrie gepraat, 'n toespeling op die politieke alliansie tussen Harry Fremantle en Barry Hertzog in die eerste jare na die oprigting van die Nasionale Party. Vandaar dat daar in die opdrag sprake is van ons ‘ander maat Herrie [nie die olifant van die verhaal nie, JCK] wat onder die skaduwee van Meiringspoort se berge woon in die sonneskyn van De Rust’, 'n verwysing na Le Roux se plaas Middelplaats ten tyde van die ontstaan van Sonde met die bure. In 1924 is Le Roux die Nasionale Party se Volksraadskandidaat vir Oudtshoorn, die kiesafdeling wat Langenhoven in 1920-1921 verteenwoordig het. Langenhoven help hom in sy veldtog en Le Roux word in sy vriend se eertydse setel verkies. As Langenhoven by geleentheid 'n stuk oor ‘Snaakse bure’ vir publikasie in Die Burger skryf, praat hy oor al die eienaardige mense met wie hy in die dorp moet saamleef. ‘Daarom’, skryf hy, ‘het hulle my al by twee verkiesingsGa naar eind73 uitgestem. Maar my maat Herrie het laaste maal hulle stemme gekry en | |
[pagina 491]
| |
hierdie slag sal hy dit weer kry. Selfde politiek as ek, maar 'n beter voorkomste en sterker persoonlike magnetisme.’Ga naar eind74 Die ‘sonde met die bure’-motief wat Langenhoven hier aanwend en wat in die twintigerjare in van sy vermaaklikste en geslaagdste verhale gestalte vind, is een van die konstantste, deurlopendste en oudste motiewe in sy werk. 'n Mens vind dit reeds in enkele van sy vroeë samesprake, die toneelstuk Die water zaak van 1909, en baie van die Sagmoedige Neelsie-artikels in De Burger waarin hy geestige kommentaar op die politieke situasie van die dag lewer. Maar ook in talle stukke wat hy in die twintigerjare in sy Aan stille waters-rubriek publiseer, gebruik hy hierdie motief. 'n Stuk soos ‘Gerase en geluide’, wat hy nooit in 'n bundel opneem nie maar wat een van die onbekende juweeltjies in die Langenhoven-oeuvre is, gee 'n goeie aanduiding van hoe fyn en geestig hy kon te werk gaan. Dit verskyn oorspronklik in Die Burger van 26 Februarie 1923. Die inset van die stuk lui as volg: Ek is musikaal aangeleg. Niemand anders weet daarvan nie, daarom sê ek dit. Ook is ek wakker van geaardheid. Ek weet daarvan, daarom sê ek dit. | |
[pagina 492]
| |
geluid wat dwarsdeur my murg en bene gaan om nie van my arms en arme siel te praat nie. Ek reken, a, die koei is ook vaak; sy bulk van blyigheid oor die slapenstyd; sy bulk maar vir haar afskeid van die wakkere dag wat verby is. En ek begint weer weg te raak. En net soos my eerste drome kom - die drome wat 'n mens nog wakker genoeg is om te besef dat hulle drome is - kom die tweede bulk. En daarvandaan hou dit die nag deur aan, onafgebroke, oneindig, nes die desimaal waardeur die vierkant van 'n sirkel uitgedruk word. Die volgende dag is die hele wêreld vir my verkeerd. My werk wil nie deug nie; die bure is verkeerd; mense wat ek mee besigheid te doen het is verkeerd; Vroutjie is verkeerd. Net ek is reg; ek en die koei. Sy het opgehou met bulk. Sonde met die bure lê die patroon vas waarvolgens 'n hele paar van Langenhoven se ‘schnipes’ in die twintigerjare opgebou word. Die agtergrond is die wêreld van die Klein Karoo, meer spesifiek Oudtshoorn in sy ‘weelde-dae’ voor die val van die volstruisvere, ‘die tydvak tussen die twee oorloë: die oorlog hier waar ons alles mee te doen had hoewel ons hom nie gesoek het nie, en die oorlog daargunter wat ons gesoek het om te gaan deursien, hoewel ons eintlik niks daarmee te doen had nie, buiten dat dit in die belang van Suid-Afrika was’.Ga naar eind75 Oudtshoorn word in die verhaal opgebou soos hy in die tydperk 1900-1914 daar uitgesien het, kompleet met straatname uit dié tyd en met 'n bekende inwoner soos meester Hotz, 'n Joodse vriend van Langenhoven wat hy ‘die enigste verstandige man in die dorp’Ga naar eind76 noem en oor wie hy sê: ‘Hoe op aarde hy tot stadsraadslid gekies is, sal ek nooit begryp nie.’Ga naar eind77 Die spesifieke periode in die geskiedenis waaraan die verhaal ons voorstel, is die tyd toe Oudtshoornse boere hoë pryse vir hul volstruisvere op die Londense mark behaal het, die tyd toe almal - so sê Langenhoven met sy gebruiklike oordrywing - 'n motor, 'n paleis en 'n strandhuis aan die kus tussen George en Mosselbaai aangeskaf het en toe vrouens verwen is met 'n ‘housekeeper’ of 'n ‘lady companion’, almal ‘spesiaal ingevoer uit die hoë adelkringe van Europa waar die stelsel van vrouelike ydelheid in swang is, teen stywe salarisse en van die selekste gehalte’.Ga naar eind78 En ook die onmiddellike wêreld rondom Oudtshoorn klop met die geografiese werklikheid. Die reis met die trem gaan van Arbeidsgenot oor die Stolsvlakte en verby Hazenjacht tot by De Rust en van daar na Meiringspoort in die Groot-Swartberge, | |
[pagina 493]
| |
'n roete wat vandag nog presies so met dieselfde herkenningspunte gevolg kan word. Om groter geloofwaardigheid aan die verhaal te verleen, voer Langenhoven figure uit sy huislike kring as karakters in. Daar is Vroutjie, sy dogter, Engela, en sy hond, Jakhals, terwyl allerlei ander figure in die boek klaarblyklik in breë trekke op ander mense in Langenhoven se vriendekring geskoei is, al sal dit vandag bykans onmoontlik wees om die presiese heenwysings te agterhaal. Lesers wat met Langenhoven se wêreld goed vertroud was, kon egter indertyd baie van sy karakters na lewende mense herlei.Ga naar eind79 Daarby werk die roman met situasies soos die vendusie, die botsing met die gereg en die gesprek met die magistraat, wat in Langenhoven se prokureurspraktyk bekende figure en konstantes was. En met dinge soos 'n drif, 'n tolhuis, stroompies en watervalle, droogtes en oorstromings was hy as boorling van die Klein Karoo van sy kinderjare af vertroud. Dit alles dra by tot die sterk illusie van die werklikheid wat Sonde met die bure by lesers wek. Die verhaal werk dus met 'n stuk wêreld en 'n huislike kring wat Langenhoven intiem in al die geledinge geken het. Maar dan verbind hy daardie bekende boustof, die stukkie kleinrealisme, met iets van die absurde en die irrasionele deur die olifant wat Neelsie op die vendusie koop om sy trem na Meiringspoort te trek, as lasdier maar terselfdertyd as feitlik menslike karakter in die verhaal in te voer. Só oortuigend was die werklikheidsillusie vir baie van Langenhoven se lesers dat hulle werklik in die bestaan van die olifant geglo het. Lesers het selfs lank na Langenhoven se dood navraag gedoen by inwoners van Oudtshoorn of die skrywer werklik 'n olifant by Arbeidsgenot aangehou het. ‘Nee, daar was nooit 'n olifant nie’, moes een van die inwoners later verklaar! In Februarie 1932 verskyn daar in Die Huisgenoot 'n foto van ‘Oom Neelsie se olifantboerdery’ op Oudtshoorn: in die middel die groot swart olifantbeeldjie wat hy self gekoop het en wat vandag nog steeds in die eetkamer van Arbeidsgenot te sien is; en rondom 'n hele aantal van die olifantbeeldjies wat hy met die jare van vriende en bewonderaars present gekry het. Een van sy bewonderende lesers het vas geglo dat haar ‘oom Neelsie’ se olifant nou agt kleintjies gekry het. In 'n brief laat weet sy hom sy is ‘rasend’ om enetjie te hê. Sy sal graag tweetjies by hom wil koop; as dit egter nie anders kan nie, dan net enetjie; hy moet haar net laat weet hoe maak 'n mens hulle groot!Ga naar eind80 In 'n vriendelike briefie skryf Langenhoven terug dat hy tot sy spyt nie | |
[pagina 494]
| |
een van sy olifante kan afstaan nie; ‘as daar beter geleentheid was sou ek u 'n babetjie kon laat kry’! So 'n tipe reaksie gee 'n aanduiding van die hoë mate van outentisiteit wat Langenhoven se verhale vir sy lesers geskep het, terwyl die geweldige afset van sy boeke sy gewildheid by die publiek bevestig. En juis sy besondere soort geestigheid en humor het tot sy lesers gespreek, al is die presiese aard en die besondere bydrae daarvan deur die kritiek van destyds nie agterhaal nie. Wat Langenhoven in verhale soos Sonde met die bure regkry en wat geen geringe prestasie vir die tyd en in Afrikaans was nie, is om 'n gemoedelike dorpse situasie met 'n vlug van die verbeelding te verbind en só die moontlikheid te skep van 'n burleske geestigheid en absurdisme - lank voordat dié verskynsels in die literatuur van die tweede helfte van die twintigste eeu hul beslag gekry het. Om dit te illustreer, kan 'n mens verwys na die dronk bruin man wat tydens die oorstroming in Meiringspoort sing-sing op 'n stomp in die rivier afgedrywe kom; toe hy naby was, kon hulle hoor hy sing ‘God save the King’. Wanneer hy die olifant sien, begin hy egter dink hy ly aan hallusinasies ‘en roep op 'n ander wysie boontoe. Dis nog niks om slange en rotte te sien wat nie daar is nie; 'n mens word daaraan gewénd; maar olifante! Gelukkig kry hy 'n ander stomp beet. Maar ek twyfel of dit hom op die lange duur verder gehelp het. Ons het later gehoor dat hy deur Oudtshoorn se distrik met Olifantsrivier af is, al singende “Rule Britannia”. En die laaste berigte wat van hom bekend is, is dat hy onder Gouritzrivier se brug deur is see toe met die laaste van sy drie liedere. Dit was “Home Fires”.’Ga naar eind81 Eers meer as veertig jaar later sou Langenhoven se peetseun Etienne Leroux hierdie tipe bisarre toneel verder uitbou wanneer daar by die huwelik van Henry en Salome in die slothoofstuk van Sewe dae by die Silbersteins en by die gradeplegtigheid in Een vir Azazel allerlei liedjies gespeel of gesing word of wanneer die begrip ‘nada’ in Magersfontein, o Magersfontein! oor die tweerigtingradio verkeerd ‘gelees’ word as ‘Nader na die pale toe’. Met hierdie soort toneel vestig Langenhoven sy gewildheid by sy lesers. Juis daarom was die uitgewers uiters onthuts toe die verskyning van Sonde met die bure amper tot sy vervreemding van die Nasionale Pers gelei het. In 'n brief van 6 Augustus 1921 spreek Langenhoven sy teleurstelling teenoor Sarah Goldblatt uit dat die Pers so draai met die boek, veral omdat Andy Barbour, die Skot wat aan die hoof van die drukkery was, beloof het dit sou al die vorige week op die mark wees. | |
[pagina 495]
| |
Hy vra haar om nietemin sy groete aan Barbour oor te dra en aan hom te sê ‘die dem Dutchman sal naderhand doodgaan voor hy sy boek gesien het’. En in 'n brief van 10 Augustus sê hy hy weet nie of Servaas de Wet eksemplare van Die pad van Suid-Afrika, wat intussen by die drukkery is, gaan uitstuur nie. Vir ‘my part’, skryf hy, ‘is dit om die ewe - ek haat alle resensente as de bliksem, maar nie genoeg om hulle te vrees nie’. Wat hom betref, moet ‘die verdomde Ons Land’, van wie hy in die verlede negatiewe ervaring gehad het, geen eksemplaar ontvang nie. Die teleurstelling met die Pers se gedraal met Sonde met die bure was egter net 'n klein voorspel tot die eintlike onplesierigheid. Van dié boek het hy 'n spesiaal gebonde prageksemplaar bestel wat hy aan Stephen le Roux en sy vrou wou gee. As dié eksemplaar by hom opdaag, ontbreek dele van die roman en is sommige bladsye dubbel oorgedruk, terwyl die geheel hopeloos deurmekaar gebind is. Vir die labiele en onstuimige Langenhoven is dit eens te veel. Dat so iets kon gebeur, beteken vir hom, volgens 'n brief wat hy op 12 Augustus aan Sarah skryf, nie 'n fout van die drukkery nie, maar onteenseglike opset - nie opset van mense soos De Wet of Barbour nie, ‘maar van persone op die staf wat nog altyd daarop uit was om al my werk te verknoei. Dis die vervolgery wat ek van de B. gehad het van sy allereerste nommer af. Nieteenstaande dit het ek weer teruggegaan daarheen en naar die Huisgenoot toe en dit was teen my eie beter oordeel en nou het ek maar weer die gevolge daarvan.’ In die lig hiervan versoek hy Sarah om by De Wet die rekening van die kosprys en van die letterset van Die pad van Suid-Afrika aan te vra. By ontvangs van Langenhoven se tjek moet De Wet dan die loodletters vernietig. Verder moet sy manuskrip en tekeninge vir die Nuwejaarsnommer van Die Burger aan hom teruggestuur word. Nog voor hy hierdie brief kon pos, ontvang hy egter 'n telegram van die Nasionale Pers waarin hulle sê dat sy eksemplaar waarskynlik verkeerd ingebind is. In 'n byvoeging tot sy brief skryf Langenhoven aan Sarah die eksemplaar is nie alleen verkeerd gebind nie, maar ook gedruk. As die ander eksemplare dan tog reg is, moet sy die instruksies in sy brief maar agterweë laat bly. In 'n brief van 17 Augustus kom hy egter weer op die aangeleentheid terug. Hy bly nog steeds vas oortuig daarvan dat die besondere eksemplaar moedswillig so ingebind en gedruk is omdat dit werk van hóm was. Al is dit nie positiewe moedswilligheid nie, dan is | |
[pagina 496]
| |
dit, so stel hy dit aan Sarah, moedswillige ‘nie omgee nie, dis Langenhoven se werk.... So is dit met die Redaksie-staf en so is dit met die proeflesers-staf en so is dit met die rapporteurs-staf al die jare gewees. En ek het geen beheer oor die staf nie - ek kan nie met hulle gaan baklei nie. Net maar as ek in my eie diens mense sou hê wat opsettelik my klandiesie wegjaag dan jaag ek húlle weg.’ Dit is moeilik om te glo dat enigiemand by die Nasionale Pers opsetlik Langenhoven se werk sou verwaarloos het net omdat dit sy werk was. As skrywer was hy vir die hele Pers - die uitgewers, die koerant en Die Huisgenoot - goud werd en sekerlik dié medewerker by uitnemendheid wie se dienste hulle nie sou wou ontbeer nie. Dat daar dus enige sprake van moedswil by die foutiewe druk en inbind van Sonde met die bure kon gewees het, moet 'n mens as 'n verregaande onwaarskynlikheid verwerp. Hoogstens kan dit 'n lig werp op die gebrek aan professionaliteit en bevoegdheid wat in die beginjare by die Nasionale Pers geheers het. Verder moet dit toegeskryf word aan die hoë eise wat Langenhoven aan homself gestel het. Hy was self 'n baie sekure werker en kon foute by ander, in die besonder by iemand soos Sarah en by sy uitgewers, eenvoudig nie duld nie. En daarby was hy iemand wat by herhaling van die hoogste vreugde tot die diepste ellende en depressie kon versink. Hy skryf juis hierdie brief aan Sarah wanneer hy weer 'n ontsettende fase van alkoholmisbruik agter die rug het. Op 18 Augustus sê hy in 'n brief aan haar: ‘van aanleg - jy weet - is my gevoel, soos joue, tiendubbel dié van die gemiddelde mens’. Hoe waar hierdie uitspraak oor homself is, blyk uit die talle en talle kere wat Langenhoven in sy kreatiewe drif oorweeg om sy verhouding met die Pers te beëindig. Niks is verder van die waarheid af as Frederik Rompel se uitspraak in Die Huisgenoot van 2 Desember 1932 dat Langenhoven dit nie een keer nodig geag het om sy medewerking met die Pers op te sê nie.Ga naar eind82 Die briefwisseling tussen Langenhoven en Goldblatt vertel 'n ander verhaal. Na die verskyning van Sonde met die bure dra Langenhoven alle inkomste uit die boek en ook die kopiereg oor aan die Universiteit van Stellenbosch, 'n gebaar van welwillendheid aan dié inrigting voor wie se studente hy as hulle ‘Ouboet’ altyd graag as spreker opgetree het. Terwyl hy in sy studentejare nie besonder bevriend geraak het met sy dosente nie, het hy nou enkele personeellede van die Universiteit goed leer ken. In die Departement Hollands was daar prof. E.C. Pienaar, wat | |
[pagina 497]
| |
bekend was om sy doktorale dissertasie oor die taal en poësie van die Tweede Afrikaanse Beweging, en prof. J.J. Smith, wat as taalman hoog aangeskrewe was en vir wie Langenhoven reeds leer ken het toe Smith redakteur van Ons Moedertaal en later Die Huisgenoot was. Ook met prof. A.I. Perold van Wynbou en Oenologie was hy vertroud, terwyl hy jonger dosente soos C.G.S. de Villiers van Dierkunde en F.E.J. Malherbe van Hollands gou ná hulle aanstelling leer ken het. De Villiers het hy altyd op grond van sy vertalings uit Sweeds en Noors ‘die Skandinawiër’ genoem. Toe Malherbe in 1924 aan Langenhoven voorgestel word en prof. W. Blommaert van Geskiedenis hom vra wat hy van hulle nuwe ‘aanwins’ dink, was sy antwoord: ‘Hy lyk 'n goeie kêrel as jy hom eers net goed opdons’, 'n verwysing na die Nederlandse aksent waarmee Malherbe na sy studiejare uit Amsterdam teruggekeer het.Ga naar eind83 Maar meer as enige dosent het Langenhoven se besondere toegeneentheid tot Stellenbosch berus op sy verhouding met die studente en die vreugde wat hy daaruit geput het om voor hulle op te tree. 'n Mens kan sê dat die skenking van Sonde met die bure in 'n baie groot mate deur hierdie verhouding ingegee is. By die tweede druk van Sonde met die bure het Langenhoven dit goed gedink om enkele verbeteringe in die teks aan te bring. ‘Die boekie’, so skryf hy, ‘is oorspronkelik in omtrent veertien dae geskryf en so 'n tydvakkie was, selfs vir my, te beperk om die uiterste hoogte van perfeksie te bereik. Ek moes na regte nog 'n halfuur of so aan die manuskrip bestee het voor ek daarmee pers-toe gehardloop het.’Ga naar eind84 Maar so 'n wysiging was streng gesproke strydig met die skenking van die kopiereg aan die universiteit, 'n situasie wat vir Langenhoven weer die aanleiding was tot 'n geestige brief. As hy op 13 Februarie 1922 die eerste tjek van die tantième aan die registrateur van die Universiteit van Stellenbosch stuur, sê hy dat enkele eksemplare van Sonde met die bure aan hom vir komplimentêre uitdeling gestuur is. Hy hoop die universiteit sal dié diefstal deur die vingers sien. Ongelukkig is dit sy plig om nog verdere oortredings van die universiteit se kopiereg te bely. ‘Vereers’, skryf hy, ‘het ek die vryheid gebruik om vir die herdruk verbeteringkies aan te bring (sovér as wat dan in my ongeleerde vermoë was). Om u te wys hoevér hierdie oortreding strek stuur ek u hierby 'n eksemplaar van die nuwe uitgaaf...Om sulke veranderings te maak had ek natuurlik, sonder u formele toestemming, hoegenaamd geen reg nie aangesien al my regte aan u afgestaan was. En as u u wettige be- | |
[pagina 498]
| |
swaar wil handhaaf, vergeef my dan tog maar hierdie slag en waarsku my om my hande by toekomstige herdrukke van u eiendom af te hou. Tot verskoning - as ek 'n beroep op u genade mag doen - moet ek inbring die drang van ouerliefde vir die - al was dit - afgestane kind, ja selfs vir die gebreklike.’ In 'n verdere gedeelte van die brief kry hy sy geestige stekie teen die ‘skrifgeleerdes’ van die universiteit en ander dergelike instellings in. Hy skryf: ‘(Ek) het..., net so wederregtelik, (dit) op my geneem om by die twede druk, soos by die eerste, die besigheids-reëling met die drukkers en uitgewers te maak. Hierdie oortreding, as u daarteen beswaar het, sal ek ook nie herhaal nie. My verskoning sovér moet wees dat besigheids-kunde, net soos, by voorbeeld, letterkundige vrugbaarheid, tot die onontwikkelde en ongeleerde hoi polloi, die plebs en die vulgus, beperk is; sodat gewone en gemiddelde onslimme en average mense soos ek boeke kan skryf en sake kan maak. Die uitsonderlike uitgesoektes - die hoog-ontwikkeldes, die krietiesie en deskundiges en dokter-betieteldes en skrifgeleerdes (uit ander mense se geskrifte) staan te hoog vir skeppingswerk en ook te hoog om vuil gewin te maak of om te verhinder dat ander dit uit hulle maak. Daartéén - de kinderen der duisternis (waar ek éen van is of ben) zijn wijzer in hunne gedachten; en daarom het ek nou maar gesorg om vir julle die terme te kry wat julle te slim sou gewees het om vir julle self te kry.’ Nadat Sonde met die bure verskyn het en die hele trauma van die verkeerd gebonde eksemplaar agter die rug is, laat weet Langenhoven aan Sarah dat hy lus voel om weer iets te skrywe, ‘al is dit maar om my rustelose gees tot 'n mate van bedaring te bring’ - 'n aanduiding dat skryf inderdaad vir hom 'n vorm van terapie was. Hy sê dan ook: ‘Maar natuurlik, juis die rusteloosheid is die voorwaarde van vrugbaarheid. As ek nou maar net op die idee kan kom wáaroor om te skrywe.’ Intussen het hy darem al 'n plan gehad. Reeds in sy Sagmoedige Neelsie-stukke in De Burger het hy by herhaling geskryf oor die spul Unioniste met wie hy op die dorp saamwoon en wie se lojaliteit ver oor die see lê. Die mense met wie hy veral die spot dryf, is die Sappe wat hulle lyf Engels hou, al kan hulle die taal maar net sukkelend praat. As Smuts daarin slaag om in 1920 sy party met die Unioniste te verenig en Langenhoven as gevolg daarvan met die vervroegde verkiesing van 1921 sy setel verloor, het hy die geleentheid om die sonde-met-die- | |
[pagina 499]
| |
bure-motief met dié van die nuwe politiek in 'n nuwe ‘schnipe’ te verbind, maar terselfdertyd die Engelse jingo's en die Sappe lekker te hekel. Dit alles lei hom tot Doppers en Filistyne, wat hy in Desember 1921 voltooi en wat vroeg die volgende jaar verskyn. Met die ligte spanning tussen Stoffel Gieljam en Neelsie begin 'n reeks parallelle verhoudings in die roman wat met Stoffel en Soetlief en met Neelsie en Vroutjie en Engela en Grietjie voortgesit word. Alles speel weer af in Langenhoven se bekende wêreld. So is die dorpie met sy ‘nette witte kerkie’ in hoofstuk 3 van die roman duidelik herkenbaar as Ladismith, terwyl die dorp weerskante van 'n bergriviertjie in hoofstuk 5 Oudtshoorn as swewende agtergrond het. Maar soos telkens in vroeër werke lei die bisarre situasies en burleske invalle tot 'n verdere aansluiting by die latere absurdisme, terwyl die skynbare eensgesindheid wat nou met die koalisie bereik is, Langenhoven die geleentheid vir 'n fyn politieke satire bied. Die verteller en hooffiguur, Stoffel Gieljam, is ook skrywer van die boek, maar Sagmoedige Neelsie (‘'n neef van my wat 'n baie hooggeleerde man is en my 'n sommetjie geld skuld’) bring die korreksies aan. Ons kry hier dus die verdubbeling van die persoonlikheid, wat meermale by Langenhoven voorkom en wat hier die moontlikheid vir selfspot skep. Maar dit is veral die skynbare eensgesindheid onder die eertydse politieke vyande, die Sappe en die Unioniste, wat Langenhoven tot besonder geestige situasies lei. Alles, so sê oom Stoffel, het nou soos met 'n towerslag verander. Waar daar vroeër onverdraagsaamheid was, is daar by albei groepe 'n vertederende liefde. ‘Makpaatrie en Broes’, vertel oom Stoffel, ‘is nie meer uitlanders nie; hulle is Afrikaners wat met hart en siel die beginsels ondersteun waarvoor ek my lewe lank geywer het: die beginsels van Stefaans du Toit en Jan Hofmeyr en Paul Kruger en generaal Hertzog - voor Hertzog daarvan weggedraai het om die kastige Nasionale Party te stig.’Ga naar eind85 As 'n mens hierdie stukkie bekyk, moet oom Stoffel se ‘beginsels’ maar 'n bietjie bedenklik wees, want daar is nogal 'n hemelsbreë verskil tussen Kruger en Du Toit, wat in die negentigerjare van die negentiende eeu 'n ondersteuner van Rhodes en felle opponent van Kruger geword het. Met Hertzog is hy darem op die goeie weg waarop sy redaksionele assistent Neelsie hom ook sal steun, maar nou het hy alleen waardering vir die vroeë Hertzog, voor die breuk met Botha. En oom Stoffel se eintlike leiers, Botha en Smuts, | |
[pagina 500]
| |
word glad nie genoem nie! 'n Mens voel dus dat Makpaatrie en Broes, in die mate waarin hulle dan wel van hierdie beginsels kennis dra, alleen vir Du Toit en die versweë Smuts waardering sal hê. En Afrikaners sal hulle beslis nie wees nie, soos hulle handel en wandel dan ook vir die ‘verdraagsame’ oom Stoffel behoort te wys. Oom Stoffel sê: ‘Nou gun ek hulle, Makpaatrie en Broes, maar die ou oorblyfseltjies van die dae wat verby is - as die wind sterk is help ek my ou buurman die vlag hys; en wanneer hy hom in die Skots Wha Ha aantrek vir 'n spesiale geleentheid kom hy eers wys en vra of dit nie mooi lyk nie. Op die end van die vergaderings en konserte sing ek God save the King uit volle bors - dit kan my mos geen kwaad doen as die Here die koning seën nie. Buitendien, vir al hierdie dingetjies wat ons niks kos nie, kry ons hulle stem en steun. Hofmeyr en Du Toit en al daardie klomp het maar net nie geweet hoe om met die Engelse te werk nie.’Ga naar eind86 Ná voltooiing van Doppers en Filistyne is Langenhoven in 1922 besig met die vertaling van die Gesange en voltooi hy Die eensame Hoop. Teen die einde van die jaar vra hy dat Sarah Goldblatt hom 'n eksemplaar van ‘Van Loon se boek’ moet kry. Kort daarna laat hy haar weet dat hy met 'n nuwe ‘schnipe’ besig is wat hy as ‘serial’ in sy Aan stille waters-rubriek in Die Burger wil publiseer. Hierdie ‘schnipe’ is Loeloeraai, wat na die aflewerings as vervolgverhaal in 1923 ook in boekvorm verskyn. Vir die herdruk, wat teen die einde van 1924 beskikbaar moes wees, skryf Langenhoven enkele aantekeninge met verduidelikings oor die sterrekunde. Loeloeraai is 'n verdere aanduiding - na enkele vroeë stukke in Het Zuid-Westen - dat Langenhoven naas sy wye belangstellings en kennis ook besonder baie in die sterrekunde geïnteresseerd was. Sy boek is die eerste voorbeeld in Afrikaans van die tipe wetenskapfiksie wat aan hom uit Jules Verne se Die reis na die maan en H.G. Wells se The first men in the moon bekend was. In sy aantekeninge sê Langenhoven dat hy in Loeloeraai twee dinge uit Wells se werk oorneem, naamlik die kwessie van sfeer en swaartekrag en die holligheid van die maan. Verder is daar geen verwantskap nie. Wells se maanbevolking bestaan uit insekte en sy doel is ‘om die beskawing van 'n organies-gespesialiseerde gemeenskap te beskryf’, terwyl Loeloeraai van ‘'n hoër menslike beskawing op ons susterplaneet Venus’Ga naar eind87 praat. Die ‘boek van Van Loon’ waarin Langenhoven - klaarblyklik as 'n voorstudie tot Loeloeraai - belang gestel het, was The story of mankind. Wanneer Loeloeraai, die man van Venus | |
[pagina 501]
| |
wat met sy ruimteskip in Oudtshoorn land en 'n tyd lank by Kerneels, Vroutjie en Engela tuisgaan, hom in die geskiedenis van die mensdom verdiep, lees hy dié boek en Wells se The outline of history. Maar regstreekse stof uit dié boeke is daar in Langenhoven se roman nie aan te toon nie. Van groter belang is dat Loeloeraai 'n voortsetting is van die patroon waarmee Langenhoven in Sonde met die bure begin het, naamlik die verbinding van 'n huislik-realistiese en 'n fantastiese gegewe. Langenhoven se bekende huislike karakters uit Sonde met die bure en die herkenbare milieu van Oudtshoorn en die Klein Karoo word hier weer gebruik, maar nou voer hy naas die olifant Herrie ook die Venusbewoner Loeloeraai in. Oor die patroon wat hy só vaslê, wei Langenhoven self in sy aantekeninge uit. ‘Die skrywer’, sê hy, ‘bring kastig homself en sy vrou en dogter in as deelnemers aan die gebeurtenisse wat hy beskryf. Dit is natuurlik bloot om kleur en geloofbaarheid aan die verhaal te gee. Wanneer 'n mens 'n onmoontlike, ongelooflike storie het om te vertel, is die aangewese weg om met gewone dinge te begin en soveel alledaagse dingetjies, toneeltjies en voorvalletjies in te vleg as moontlik. Skrywers soos Poe en Verne en Swift was meesters by die aanwending van hierdie plan.’Ga naar eind88 Hoewel Langenhoven hier bevatlik en eenvoudig skryf sodat leerlinge wat sy boek op skool moet bestudeer, hom kan begryp, is dit uit sy woorde duidelik dat hy presies weet wat hy besig is om in sy boek te doen. Om sy verhaal geloofwaardig te maak, werk hy met die bekende werklikheidsillusie van die negentiende eeu, behalwe dat hy deur die invoer van gesinslede teen die agtergrond van 'n herkenbare wêreld daaraan 'n verdere dimensie gee. Die meeste van sy lesers weet Kerneels woon op Oudtshoorn en dat hy 'n vrou met die naam Vroutjie en 'n dogter Engela het. Telkens in die loop van die verhaal kom daar ook dinge ter sprake waarmee Langenhoven se lesers hom in die verlede geassosieer het. Waar Kerneels op p. 158 praat van Loeloeraai se verbysterende taalvermoë en hoe goed hy binne 'n kort tydjie Afrikaans bemeester het, voeg hy by dat dit maar gelukkig is die besoeker het in Suid-Afrika te lande gekom, en nie byvoorbeeld in Holland of Duitsland of Sjina met hulle ‘onleerbare tale’ nie. 'n Mens herken hier die taalstryder Langenhoven wat telkens in sy pleidooie defleksie as een van die belangrikste attribute van die Afrikaanse taal sien. Wanneer die groep tydens hulle besoek aan die maan 'n gedenkteken vir toekomstige besoekers wil agterlaat en Kerneels vra watter taal hy moet gebruik | |
[pagina 502]
| |
om na honderdduisend jaar nog gelees en verstaan te word, is die antwoord van Engela 'n geestige variasie op die taalstryd: ‘Ons s'n is die jongste, Pappa. Hy sal die langste leef.’Ga naar eind89 Wanneer Kerneels uit die ruimte met behulp van 'n ‘draadlose telefooninstrumentjie’Ga naar eind90 sy berigte aan sy koerantmense stuur, is die rubriekskrywer van Aan stille waters, kompleet en - om 'n moderne begrip te gebruik - postmodernisties aan die woord, 'n bemoeienis met die wordende kunswerk wat versterk word wanneer Vroutjie hom aanmoedig om die hele geskiedenis van die besoek van Loeloeraai van die begin af te vertel.Ga naar eind91 En wanneer die hoofkonstabel die onwettige immigrant in hegtenis wil neem en die regering later majoor sir Thomas Ietsofanders stuur om met Loeloeraai te onderhandel, sien die leser die kundige regsgeleerde en die politikus Langenhoven in sy element. Iets van Doppers en Filistyne bly hier trouens nawerk, want in die karakter van sir Thomas Ietsofanders ('n sprekende naam in die Dickens-tradisie) herken 'n mens Langenhoven se spot met die Unioniste en die Engelse.Ga naar eind92 Met die toespelings op sy werk by Die Burger en met die invoering van sy gesinslede as karakters skep Langenhoven feitlik sy eie mitos. Dit word verder gevoer waar hy by geleentheid terugverwys na 'n vroeëre werk soos Sonde met die bure: ‘praat van bure! Waar is tog die dae toe ons weg van die wêreld se gewemel ons geluk gevind het in die eensaamheid van Meiringspoort!’Ga naar eind93 En wanneer hy in die ‘Toewyding’ aan die begin van die roman die boek opdra aan sy gestorwe hond Jakhals, formuleer hy die verhouding tussen hulle in terme van sy pas voltooide roman: ‘Vir hom was ek die meerdere - 'n Loeloeraai van 'n hoër bestaan. Vir my was hy die uiterste volmaaktheid wat ek op die aarde aangetref het, van liefde en trou en deug.’Ga naar eind94 'n Mens voel dat die opdrag hier deel is van die metafoor van sy fiktiewe wêreld - andermaal 'n aanduiding dat hy met sy eie mitos werk. Die Afrikaanse literatuur sou tot die werk van Etienne Leroux moes wag om so 'n spel met die opdrag verder uitgebou te kry. Maar sodra Langenhoven sy lesers op dié wyse as 't ware makgemaak en ingepalm het, kan hy die sprong waag en hulle 'n ‘onmoontlike’ en ‘ongelooflike’ storie vertel. Indien hulle hom dan nie letterlik glo soos die vrou met die navraag oor sy olifantboerdery nie, sal hulle meer as bereid wees tot Coleridge se ‘willing suspension of disbelief to constitute poetic faith’. En dat hy hiermee by 'n duidelike literêre tradisie aansluit, blyk uit die name van skrywers voor hom wat hy in dié verband noem. | |
[pagina 503]
| |
Loeloeraai vertoon 'n belangrike groeipunt in die tipe ‘schnipes’ wat Langenhoven in die twintigerjare begin skryf. Anders as Sonde met die bure, wat net 'n burleske stuk geestigheid is, wil Langenhoven met Loeloeraai 'n dieper betekenis oordra wat in die konteks van die roman op 'n onopsigtelike en aanvaarbare wyse deur die verhaalgang geregverdig word. Aan die begin van die roman verskyn 'n motto wat Langenhoven in sy drama Die Vrou van Suid-Afrika gaan haal,Ga naar eind95 woorde wat Vader Tyd tot die allegoriese karakter Britannia rig: ‘En ek het tot hiertoe nog maar een weg gesien waardeur nasies en mensies hulle geluk gevind het, en dit was die weg waarop hulle hom self uitgewerk het.’Ga naar eind96 Die voorwoord sluit regstreeks by hierdie motto aan, nou in verband gebring met die sondeval. Die poortwagters sê aan die ‘teergevoelige engel’, na sy aanskouing van die ‘moorddadigheid en die roofsug en selfsug en roekelose wreedheid’ op aarde, dat daar vroeër wel twee mense in hierdie ‘lushof’ was. ‘Hulle het nie gedeug nie. 'n Tweede proef is oorbodig. Hulle moet wag tot hulle genoeg wysheid en vernuf geleer het om hierdie swaard opsy te druk. Dan sal ons hulle weer laat ingaan. En dan sal hulle daarbinne deug.’Ga naar eind97 Wanneer Loeloeraai 'n boodskap ontvang om aan die aardbewoners iets van sy hoëre kennis mee te deel, sluit sy antwoord regstreeks aan by die motto en voorwoord van die roman. Die weg van kennis, so lui sy boodskap, is 'n slawerny, maar 'n slawerny wat na vryheid lei. En sy kennis kan hy nie aan die aardbewoners meedeel nie, omdat hulle hul eie ‘onderwysers’ moet wees. ‘Hoe pynlik en stadig - ja, hoe onnosel en onnodig stadig, die vordering ook was, julle moes op julleself staatmaak sonder buitemenslike of bowemenslike voorligting. Waarom? Omdat kennis, anders as deur julleself verkry, tot julle groter ellende sou gelei het.’Ga naar eind98 Die rede hiervoor lig Loeloeraai as volg toe: ‘Daar is nie alleen die natuur daarbuite om te oorwin nie. Daar is die natuur wat binne is. 'n Dier plus verstand en kennis en sonder meer is 'n duiwel. Die binneste tugmeesters van die dwingeland - liggaamlike honger en vrees, sinnelike liefde, moet saam oorwin word. Die selfsug wat sy geluk soek met roekelose onverskilligheid omtrent die geluk wat hy by 'n ander verderf, moet plaas maak vir die offersug wat sy behae vind in gee in plaas van neem, in uitdeel in plaas van skraap.’Ga naar eind99 En dat dit uiteindelik wel bereik kan word, blyk uit die feit dat op Venus die verskil tussen ‘selfsug’ en ‘offersug’ verdwyn het. Met hierdie uitspraak van Loeloeraai is ons by die kerngedagte van | |
[pagina 504]
| |
die hele roman: die mens moet sy eie waarheid self ontdek en deur offersug in die rigting van medemenslikheid ontwikkel.Ga naar eind100 En hierdie kerngedagte word organies deel van Loeloeraai, want die lesers verwag saam met die aardbewoners dat die besoeker uit die ruim die een of ander boodskap vir hulle sal laat. Dit is dus 'n geval van 'n stuk didaktiek wat die leser nie as 'n les of 'n aanhangsel aanvaar nie. Trouens, meer as in enige ander werk van Langenhoven vind ons hier 'n afwisseling en verbinding van geestigheid en erns, verhaalgegewe en didaktiek, vertroude klein wêreld van die Klein Karoo en die oneindig groter wêreld van die heelal, aktuele politieke toespelings en interplanetêre verhoudinge. Dit is merkwaardig dat Langenhoven dit alles in 'n enkele, in laaste instansie tog ‘ligte’, verhaal kon herberg. Loeloeraai verskyn, soos Die Rubáiyát, vroeg in 1923. Afgesien van die Parlementsitting wat hy moet bywoon en belangrike onderhandelinge wat hy oor die besproeiingsregte van die Kammanassiedam moet voer, is Langenhoven naas sy gereelde joernalistieke aktiwiteite in hierdie jaar met herdrukke van talle werke besig. Toe hy 'n uitnodiging kry om 'n toneelstuk te skryf, wys hy dit van die hand. In sy brief daaroor aan Sarah Goldblatt blyk weer hoe lank negatiewe kritiek by Langenhoven kon nawerk en hoe gevoelig hy oor J.F.W. Grosskopf se kritiese bespreking van Die Vrou van Suid-Afrika was. ‘Nee, Sub’, skryf hy op 4 Oktober 1923, ‘ek sal nie daardie toneelstuk vir die ope-lug-opvoering skryf nie. Ek kon een skryf - ek het hom in die gedagte. Maar dan stel ek my net weer bloot om uitgeskel te word deur die Grosskopfe en goed. Sê aan die komitee hulle moet prof. dr. Grosskopf en al daardie slim mense nader om vir hulle 'n stuk wat onbesproke sal wees op te stel. Ek het my kop genoeg gestamp. My werk deug nie.’ Miskien was Langenhoven se hele gestel in hierdie tyd aangetas, want fases van harde inspannende werk het hy telkens in die loop van 1923 met oormatige drankgebruik probeer verlig. Op 9 Oktober laat weet hy Sarah dat hy dag vir dag besig is met vergaderings oor die Kammanassiedam, maar dat hulle werk nou gedwarsboom word ‘deur 'n esel van 'n ingevoerde regerings-amptenaar’. Maar teen die einde van die jaar, nadat hy Graaff-Reinet in verband met 'n watersaak besoek en daar weer kwaai aan die drink geraak het, is hy terug op Oudtshoorn. Hy is besig om te herstel en beleef nou 'n periode van algehele onthouding. Op 22 November laat weet hy Sarah hy is springlewendig en energiek. In November vra hy by haar boeke | |
[pagina 505]
| |
oor die Boesmans aan met die oog op 'n nuwe ‘schnipe’ wat hy weer - soos die vorige twee - in die Nasionale Pers se reeks ‘Almal se Boeke’ wil laat verskyn. Op 22 November begin hy met die roman wat hy Die lig van verre dae noem. Vroeg die oggend van 3 Desember laat hy Sarah weet die werk is klaar. As gevolg van die inspanning en omdat hy sy ‘senuwees in die laaste tyd oorspan het’, is hy rusteloos en kan hy nie slaap nie. Die Boesman-boeke in die Parlementêre Biblioteek, so skryf hy, het hom nie veel gehelp nie; ‘Stow se boek is 'n vuil ding met sy stelselmatige belastering van die Dutch’. Op 9 Desember stuur hy haar die manuskrip, met opdragte vir druk en die ‘frontispiece’. In Die lig van verre dae is daar volgens hom ‘geen geskiedenis nie,...behalwe net sovér as wat 'n beskrywing van die Boesmans van 1752 geskiedkundig korrek behoort te wees’. Hy vra haar om op foute in sy voorstelling en op inkonsekwensies te wys, aangesien hy baie vinnig gewerk het. Hy wil ook van haar weet van watter karakters sy die meeste hou. In 'n brief van 13 Desember laat hy haar weet dat hy al 'n week lank aan slapeloosheid ly en dat sy ‘senuwees aan flenters’ is, die nou reeds bekende nadraai na die inspanning en konsentrasie tydens die skryf van 'n roman. En hy raak ongeduldig en geïrriteerd omdat Sarah nie gou genoeg reageer nie. Hy moet dan maar aanvaar ‘“Verre Dae” het, sover as wat die Sub betref, platgeval’. So opgejaag is hy dat hy selfs aan haar telegrafeer, want hy is ‘rasend van slapeloosheid en senuwee-verstoring’, al het hy nog nie weer na die drank as 'n kalmeermiddel gereik nie. En as haar brief met haar reaksie op die manuskrip, so meen hy altans, in die pos verlore raak, is hy uiters gesteurd. Hy is ook ongeduldig met die Pers, wat eers aan die begin van 1924 met die setwerk wil begin, en hy hoop dat hulle hom nie, soos vroeër met Doppers en Filistyne, ses maande sal ophou nie. Die gebeure in Die lig van verre dae speel af in die middel van die agtiende eeu wanneer die eerste blanke pioniers wat ontevrede is met die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en hulself as ‘slawe van 'n huigelagtige, skelmagtige, skraapsugtige handelsmaatskappy’Ga naar eind101 beskou, uit die Kaapse nedersetting wegtrek en hulle in die omgewing van die latere Oudtshoorn vestig. Met Die lig van verre dae lewer hy dus 'n bydrae tot die tradisie van die pioniersroman. 'n ‘Epos van die Afrikaanse volkswording’ soos die latere pionierstetralogie van D.F. Malherbe - Die bergstroom ruis (1940), Vlam van die Suurveld (1943), En die wawiele rol (1945) en Over-die-berge (1961) - het dit wel nie geword nie. In | |
[pagina 506]
| |
teenstelling tot Kestell en D'Arbez voor hom buig Langenhoven die tradisie van dié soort roman om na die ‘local habitation’ van sy eie Klein Karoo. Hy gebruik wel van die bekende stereotipes van hierdie soort verhaal, soos die humoristiese verhouding tussen die twee ooms, die resies te perd, die teikenskiet en die afskeid van die plaas, maar hy plaas dit alles in die vertroude Langenhoven-wêreld, al is hierdie wêreld nou met die Boesmans en leeus histories verwyderd van die milieu waarin Kerneels en Vroutjie hulle bevind. Met die verwysing na die houtboswêreld tussen die see en die Outeniekwaberge en die Kangogrotte wat as blyplek van die Boesmans ingespan word, betrek Langenhoven ander dele van sy onmiddellike wêreld wat hy tot dusver in sy werk onbenut gelaat het. 'n Paar dae voor Kersfees ontvang Langenhoven tog Sarah se brief oor Die lig van verre dae. Sarah het besware teen die groot rol wat die toeval in die roman speel en vind die avonture te uiterlik en gewild. Sy lewer detailkommentaar op elke hoofstuk. In sy reaksie erken Langenhoven dat daar ‘baie wonderlike dinge’ met sy karakters gebeur, maar hy meen hy het ‘'n getroue en onoordrewe beskrywing gegee...van gevare wat die algemene daelikse ondervinding was van daardie tyd se vooruittrekkers’. Verder vermoed hy Sarah wou 'n ‘psigologiese roman’ van hom gehad het, iets wat sy nooit van hom sal kry nie. Hy het 'n ‘onbegrensde minagting’ vir daardie soort skrywery. Die lig van verre dae bevat vir hom net so min sielkunde as Defoe se Robinson Crusoe of Scott se The heart of Midlothian. Dit is opsetlik 'n avontuurroman en hy moes geweet het Sarah sou nie daarvan hou nie. Dat hy seergemaak was oor haar kritiek blyk uit sy opmerking dat 'n ‘harder verdoemenis’ nie van 'n vyand kon gekom het nie. Tog vra hy haar om die getikte weergawe aan hom te stuur sodat hy verbeteringe kan aanbring, iets wat hy dan ook wel doen. Op Nuwejaarsdag 1924 laat weet hy haar dat hy haas al haar wenke gevolg het. Terwyl die eerste klad vir haar 'n bietjie ‘halsoorkop-knoeiwerk’ was, vind Sarah die verhaaltjie nou, na die hersiening, tog mooi. As die boek in April 1924 verskyn en Die Burger 'n negatiewe resensie publiseer, skryf Langenhoven 'n reaksie op ‘daardie lae bliksem’. Hy vra Sarah egter om Rompel of Hiemstra te raadpleeg of die stuk wel moet verskyn. Albei het verkies dat Langenhoven se brief maar liewers agterweë moet bly! Met Die lig van verre dae en Die Rubáiyát agter die rug moes Langenhoven na Kaapstad vir 'n kort sitting van die Parlement. Dat die ou | |
[pagina 507]
| |
drankprobleem daar weer opgeduik het en Sarah hom, soos telkens in die verlede, weer moes versorg, lei 'n mens af uit 'n brief wat hy, terug op Oudtshoorn, op 14 Februarie 1924 aan haar skryf en waarin hy praat van sy ‘berou oor die verdriet wat...(hy haar) weer aangedoen het’. Tussen al sy aktiwiteite deur het Langenhoven met sy gereelde joernalistieke bydraes vir Die Burger se Aan stille waters-rubriek voortgegegaan. Op 'n dag ontvang hy 'n brief, gedateer 17 Februarie 1924, van die jong Jacques Pierre KrielGa naar eind102 van Maclear. ‘Liewe mnr. Langenhoven’, begin die brief, ‘My vader is ds. Kriel wat saam met u op Tertia was. Ek is agt jaar oud, en vader het vir my gelees uit Sonde met die Bure en Loeloeraai, en nou wil ek so graag weet hoeveel ossekrag 'n olifant het. Sal meneer Langenhoven my nie asseblief sê nie? Vader het vir my ook gelees uit Aan Stille Waters in Die Burger, en ek het dit baie geniet.’ Dié briefie was vir Langenhoven besonder roerend, want hy het onmiddellik gedink aan al die baie Afrikaanse kinders wat nie in hulle eie taal stories het om te lees nie. Op 25 Februarie skryf hy aan Jacques terug: ‘Baie dankie vir jou vriendelike briefie. Maar jy het my met jou strikvraag in 'n hoek gedryf. Ek weet hoeveel krag 'n olifant het, maar ek weet nie hoeveel krag 'n os het nie. Hoe moet ek dan kan weet hoeveel ossekrag 'n olifant het? As ek nou weet hoeveel water daar in 'n dam gaan, maar ek weet nie hoeveel 'n mondvol water is nie - hoe moet ek dan weet hoeveel monde vol water daar in die dam is?’ En hy gaan voort: ‘Ek is jammer dat jy die grootmense se droë boeke moet lees. Ek wil so graag kinderstorietjies skryf, maar ek vrees ek is nie slim genoeg daarvoor nie. 'n Mens moet mos baie slim wees vir 'n kind. Ek weet - ek was self een: al kon ek toe nog nie my eie taal lees soos jy vandag nie. Maar ek sal darem probeer om in die volgende Stille Waters 'n storietjie net vir jou in te sit.’ Langenhoven het woord gehou. Op 3 Maart 1924 skryf hy in Aan stille waters: ‘Van die menigte briewe wat ek ontvang kan ek tot my bittere verdriet nie 'n tiende beantwoord nie. Maar die volgende kan ek nie oor my hart kry om op te swyg nie...’ Daarop druk hy Jacques se briefie met sy antwoord af. Dan volg sy kinderstorie ‘Die eensame huisie’: ‘Kosie en Rosie was 'n tweeling, en hulle was nog baie klein...’ Uit empatie met sy eie mense het Langenhoven nou 'n verhaal vir die jeug geskryf. En so ontstaan Brolloks en Bittergal, die klassieke Afrikaanse sprokie wat in die bekende wêreld van Langenhoven afspeel: die Grasveld, die | |
[pagina 508]
| |
gebied tussen die berge en die see met sy klowe, houtbosse en spelonke; en die Groot Karoo anderkant die Groot-Swartberge met sy vlaktes, klipkoppies en kort vaal bossies. Omdat hy vir kinders skryf, is sy styl eksplisiet, vraagstellend en vertellend, met beeldspraak uit die kind se ervaringsveld. Binne die wêreld wat hy opbou, kan die diere, die water en selfs die skoenlappers praat. Veral oortuigend is die vreesaanjaende towenaar Brolloks wat so lelik soos die nag is en sy vyand Bittergal wat op die Paalkrans in die Groot Karoo woon. Soos in Loeloeraai kan Langenhoven hier ook sy eie mitos by die verhaalgang inspan, want die olifant Herrie uit sy vroeëre ‘schnipes’ maak hier 'n momentele verskyning en daar word gepraat van die hond Jakhals wat gif ingekry het, soos inderdaad juis in hierdie tyd met Langenhoven se eie hond gebeur het. Eintlik val die geheel uit in aparte stories: die verhaal van Skoonlief en Kosie en Rosie met Brolloks as die bedreiger, en van Bertie met Bittergal as die gevaarlike towenaar. Teenoor die bosbokkie, olifant en ander diere in die eerste verhaal is daar die hasie, meerkatjie,Ga naar eind103 trapsoetjies, uil, by en papegaai in die tweede. En teenoor die lied van die waternooientjie (wat Langenhoven in pragtige sierskrif oorskryf en waarby hy self musiek komponeer) is daar die lied van die sonnemeisie in die tweede gedeelte. Uit dit alles word 'n duidelike parallelle struktuur merkbaar. Aanvanklik skryf Langenhoven in Aan stille waters net een verhaaltjie oor Brolloks. Wanneer hy egter 'n briefie ontvang waarin van sy jong lesers om nog 'n storie vra, kan hy die versoek - en die versoeking! - nie weerstaan nie. ‘Julle dwing my’, skryf hy, ‘om te probeer om vir julle nog 'n storietjie te skryf van ou Brolloks. Maar julle moet weet, Die Burger is nie my koerant nie en ek kan nie daarin skryf wat ek wil nie - dan sou ek baie mooi skryf! Ek staan onder 'n baas - die editeur - en hy is self 'n ou Brolloks wat nie wil hê 'n mens moet net vir die kindertjies werk nie. Hy wil sy koerant vol droë leesstof hê vir die grootmense. En julle weet wat grootmense is - hulle het mos geen smaak vir niks in die wêreld nie: gee vir hulle groen vrugte en kyk hoe trek hulle hulle neus op. Selfs die ryp vrugte smaak nie vir hulle so heerlik soos vir ons nie. Nou ja, nou en dan kan ek skelm wees en stilletjies - nes een wat groen vrugte steel - 'n kinder-stukkie hier insit, maar dan kry ek dit baie swaar om verby te kom. Ek sou vir julle 'n boekie van net pure kinder-storietjies skryf, maar daar is baie dinge in die pad waar ek julle nie van kan vertel nie. Moenou nie hier meer verwag nie: net hierdie slag nog een storietjie van ou Brolloks.’Ga naar eind104 | |
[pagina 509]
| |
Uit 'n gedeelte soos hierdie inleiding kom 'n mens agter waarom Langenhoven so gewild as skrywer van kinderverhale was. Hy het die vermoë om intiem met die kind te gesels deur hom deelgenoot te maak en sy volle vertroue te wen. Daarby kon hy hom met sy woordkeuse en prosaritme presies op die bevatlikheid en aanhoorvermoë van die kind instel. Volgens die ervaring van baie ouers wat hierdie verhale aan hulle kinders voorgelees het, was dit in die geval van Langenhoven se stories - in teenstelling tot die werk van baie ander kinderboekskrywers - nie nodig om sekere modale woorde of ander vulsels by te voeg nie. Langenhoven self het dié ruspunte in sy verhale verskaf.Ga naar eind105 Die sukses van die eerste twee Brolloks-verhale het Langenhoven aangespoor tot 'n hele boekie. Op 2 Mei 1924 stuur hy aan Sarah die manuskrip van wat tans die eerste gedeelte is, met sy eie tekeninge daarby en met die opdrag dat dit deur die Pers in groot druk geset moet word. Sarah was baie tevrede met die boek. Op 5 Mei skryf sy aan hom: ‘Ek is daar baie, baie mee opgenome. Vir die naweek sal ek dit aan Mev. R. (Rothmann) voorlees, en, as ek nie ander orders van jou intussen kry nie, ek hoop nie so nie, die M/s aan Kruse oorhandig sodat dit kan ingesit word met die eerste die beste geleentheid.’ M.E.R. stel veranderinge voor in die beskrywing van die waternooientjie se kleredrag en hou nie van die titel Die houtboskinders wat Langenhoven in dié stadium aan die storie gee nie. As Sarah telegrafeer dat die Pers Brolloks en Bittergal sal uitgee maar nie dadelik daarmee kan begin nie, is Langenhoven intens teleurgesteld. Op 4 Mei skryf hy aan Sarah, 'n brief wat weer 'n aanduiding is van hoe labiel Langenhoven se verhouding met die Nasionale Pers was: ‘Ek weet wat dit beteken. Selfs had hulle gesê dadelik dan sou ek my, met die vyandige Snoek ingereken, vir ses maande se vertraging klaargemaak het.’ En dit lyk vir hom of hy haar maar moet vra om die manuskrip terug te stuur. ‘As ek dan nie ander plek ook kan geholpe raak nie is dit tyd dat ek duidelik verstaan dat die dae van my markwaarde as skrywer verby is. Maar waar ek nou aangeklop het is nie net dit die motief nie. S. met die B. is nou al hoelank? ses maande? uit druk en dis 'n voorgeskryfde boek. Die betrokke gesag sal natuurlik in die toekoms geen werk van Langenhoven meer kan voorskryf nie want hulle kan nie daarop staatmaak dat dit beskikbaar sal wees nie, of bly nie.’ Maar ten spyte hiervan gee Langenhoven tog in dieselfde brief ver- | |
[pagina 510]
| |
dere instruksies vir die druk! In hierdie stadium oorweeg hy Brolloks, Kosie en Rosie, Die Wonderbos, Die Houtbos-kinders, Rosie in die Wonderbos en Wonders in die Houtbos as titels. In 'n latere brief sê hy dat hy nie van die woord ‘varklelies’ hou nie. Hy stel ‘arums’ voor, maar Sarah moet J.J. Smith in die saak ken. Met verwysing na Kosie, wat vroeg in die verhaal ‘uit die pad gemaak’ word, noem Langenhoven in sy brief van 14 Mei iets baie insiggewends in verband met sy eie werk teenoor Sarah. ‘Het jy opgemerk’, skryf hy, ‘dat ek nie graag my eie sekse behandel nie (buiten wanneer hulle grys is) - kyk vir V.D. [Verre dae - JCK] waar ek die seun ook opsy hou tot op die end. Ek hou nie van gjogters nie.’ As 'n mens Langenhoven se werk nagaan, is dit opvallend dat hy 'n duidelike voorkeur het vir bejaarde manlike karakters soos die twee oues van dae, die kluisenaar van die Karoo, Meester, die talle figure in die samesprake in die eerste deel van Ons weg deur die wêreld en oom Stoffel Gieljam en die Engelse en Skotte in Doppers en Filistyne. Waar Langenhoven 'n jongman, veral 'n verliefde jongman, as karakter wil invoer, soos in Die lig van verre dae, raak hy bloemryk en sentimenteel en kan 'n mens dikwels moeilik die voortreflike prosa-stilis herken. Waar hy die woord ‘gjogters’ hier gebruik, slaan dit op mense wat met hulle gevoelens te koop loop, mense wat hulle nie fatsoenlik-Victoriaans kan gedra nie. Dat die Pers dus nie dadelik met Brolloks wou begin nie, was vir Langenhoven 'n intense teleurstelling. Op 'n dag kom iemand by hom aan met 'n opgestopte likkewaantjie, 'n present wat nog steeds vandag in die sitkamer van Arbeidsgenot te sien is. Dit bring hom op die gedagte, terwyl hy dan nou op die setters moes wag, om die boekie aan te vul met die verhaal van die seuntjie Bertie wat deur Bittergal in 'n likkewaantjie getoor word, die tweede deel van Brolloks en Bittergal. ‘Onder die omstandighede van die laaste week’, so skryf hy op 14 Mei aan Sarah, kon hy egter nie met sy ‘Karoo-storie’ begin nie, 'n aanduiding dat die ‘blou duiwels’ weer van hom besit geneem het. Maar soos dikwels herstel hy gou van hierdie oordaad. Op 17 Mei laat hy Sarah weet dat hy die volgende dag die Karoo-storie se laaste hoofstuk sal skryf. Op 19 Mei wei hy in 'n brief uit oor dié tweede verhaal en hoe dit verskil van die eerste. Die seuntjie Bertie is nou in die middelpunt; in plaas van die atmosfeer van die donker boswêreld ‘loop die gebeurtenisse hier oor die oop sonnige vlaktes van die Karo’; die ‘teëhanger van die water-nooientjie tree nie net twee maal terloops op nie maar | |
[pagina 511]
| |
beheers die hele ontwikkeling dwarsdeur’; Bittergal word nie, soos Brolloks, aan die begin van kant gemaak nie; en baie meer diertjies as in die eerste storie het 'n aandeel aan die gebeure. Langenhoven het die finale Brolloks en Bittergal omtrent net gepos of hy begin met nog 'n ‘schnipe’, hierdie keer 'n bundel ‘merkwaardige verhale’ oor geestesverskynings. Aanvanklik dink hy ernstig daaraan om hierdie nuwe boek onder 'n ‘kastige werklike naam’ uit te gee, sodat hy ‘die verdomde nydige beoordelaars’ kan troef. Dit sal hom trouens nie verwonder as hulle ‘met geesdrif die ontdekking van 'n onbekende prosaskrywer bejubel wat ook weer vir Langenhoven hopeloos in die skaduwee gooi nie’. Die Omar-resensie in Die Huisgenoot is só negatief dat hy nooit weer vir dié tydskrif wil skryf nie. ‘Laat hulle na hulle besoldigde damn fool “medewerkers” gaan of hel-toe.’ Reeds aan die begin van Junie het Langenhoven sy bundel, wat hy in hierdie stadium Die slapelose Dood noem, klaar. Op 5 Junie 1924 stuur hy die manuskrip aan Sarah. Dit bestaan uit 'n agttal verhale, voorafgegaan deur 'n inleiding en afgesluit met 'n nawoord. Dit word aangebied ‘uit die versameling (merkwaardige verhale) van Gideon H.H. Koertzen, geredigeer sonder aanspreeklikheid deur C.J. Langenhoven’. Hierdie tipe aanbieding is enersyds 'n soort kompromis vir die ‘ware’ pseudoniem wat hy aanvanklik in gedagte het, andersyds 'n manier om die werklikheidsillusie van sy verhale te verhoog. In die inleiding sê hy dan ook dat hy die verhale uit 'n groot versameling vir publikasie gekies het. ‘Of hulle van waarde is..., moet die leser vir homself beslis. Om hom van verder gegewens te voorsien om tot so 'n beslissing te kom, as hy daartoe geneig voel, gee ek die volledige bron in elke geval, met 'n korte beskrywing van wat ek van die verhaler weet. Want ek is vir die inhoud van die boek nie aanspreeklik nie. Ek tree op as blote oorskrywer.... Wanneer ek sê dat ek 'n “oorskrywer” is, bedoel ek niks meer daarmee nie as dat ek so ná as moontlik getrou gebly het aan my bronne.’Ga naar eind106 Wat Langenhoven dus doen, is om in elke verhaal twee vertellers te gebruik: die outeur wat 'n ander verteller, die ‘bron’ van die verhaal, bekend stel, en dan sy betroubaarheid, eerlikheid en geloofwaardigheid só sterk beklemtoon dat hy die leser as 't ware kondisioneer om die ‘fantastiese’ van die ‘eintlike’ verhaal (waarin die aangekondigde verteller aan die woord is) as werklikheid te aanvaar. Langenhoven self was baie deeglik bewus van sy hele vertelmetode en die besondere effek | |
[pagina 512]
| |
daarvan. In 'n brief van 6 Junie 1924 skryf hy aan Sarah: ‘Meeste mense sal die boek lees en die stories glo - en geen ander spookstories ooit weer glo nie. Vir ander - dié wat verstand het - het ek genoeg gedoen om 'n toets te stel (nie oorspronklik nie maar oorspr.k gestel) waardeur mirakel-geloof vernietig word. Jy sal sien hoedat die stories eintlik gelykenisse is van die tema - en dink jy nie hulle is met netjies omstandige realisme uitgewerk nie? - almal, op die veronderstelling dat hulle subjektief wáar is, op die buitenste grense van waarskynlike vatbaarheid vir 'n natuurlike uitleg. Maar...hulle moet deug op hulle meriete as interessante stories, of anders is die boek 'n mislukking.’ Om aan die verhale nog verdere geloofwaardigheid te gee, speel hulle telkens af in die Klein Karoo of in die wêreld van Prins Albert aan die Groot Karoo-kant van die Groot-Swartberge, 'n gebied waarmee Langenhoven sedert sy jong dae en sy verlowing met Helena de Vries vertroud was. Daarby kon sy ingeligte lesers sommige dinge in die verhale na Langenhoven se eie lewe herlei. Die oorgevoeligheid waarvan daar in die eerste verhaal gepraat word, is in 'n groot mate ook waar van Langenhoven self: ‘Mense van Japie se geestesgeaardheid gaan swaar gebuk hulle lewe lank onder die kruis van oorgevoeligheid; 'n kruis wat hulle in eensaamheid moet dra omdat ook hulle naastes en dierbaarstes geen volle medelye kan hê nie omdat hulle geen begrip het nie.’Ga naar eind107 En die verhaal ‘Die tralies in die veld’ handel oor die getrouheid van 'n hond, 'n geliefde tema by Langenhoven. Die verteller werk selfs met 'n verwysing en 'n aanhaling die skrywer Langenhoven in sy verhaal in: ‘“Onthou Oom daardie versie van Langenhoven:
Maar is dit hy wat eerste gaan
Dan leg jy op sy graf,
En pas sy rusplaas op en wag
Vergeefs 'n weersiens af.”’Ga naar eind108
Wanneer Sarah Langenhoven laat weet dat sake by die Pers in verband met die set van Langenhoven se manuskripte nou opgelos is, gee hy op 7 Junie aan haar opdrag dat sowel sy kinder- as spookstories ingegee en dat albei in die reeks ‘Almal se Boeke’ gepubliseer moet word. Hy wil egter nie in die toekoms weer deur Snoek se ‘verdomde weersin’ spesiaal uitgesoek word vir ‘agteruitskuif en verwaarlosing’ nie. As dit nie so is nie, voeg hy by, ‘sal hy die Nas. Pers duisende ponde skade | |
[pagina 513]
| |
aandoen en nie hulle alleen sal daaronder ly nie maar skrywers en lesers tegelyk’. Naas Die slapelose Dood oorweeg hy nou ook Glimmende skaduwees as titel. Uiteindelik verskyn dit as Geeste op aarde. In Julie 1924 moet Langenhoven twee keer na Kaapstad gaan vir politieke aangeleenthede en daarna is hy betrokke by 'n watersaak. Tussendeur skryf hy gereeld sy artikels vir Die Burger, maar kom nie aan enige ander werk nie. Eers in Desember is hy weer aan die skryf. Hy voltooi 'n heeltemal omgewerkte uitgawe van sy verjaardagboekie. ‘Jy sal sien’, skryf hy op 18 Desember aan Sarah toe hy die manuskrip aanstuur, ‘dis 'n eenheid met 'n draad wat deurloop tot op die end. Die grond-tema van smart word weer en weer herhaal; die interrupsies is voorbedag. En omdat dit éen stuk aanmekaar is, sal dit nie op die gewone manier deug met 'n aparte teks vir elke aparte datum nie. Ek wou dit in geen geval ook so hê - soort van fortune tell-ery nie.’ As hy met hierdie werkie klaar is, begin Langenhoven met 'n oorvertelling van die sage van die Nibelungen en Siegfried. Nadat hy ongeveer honderd bladsye voltooi het, staak hy die werk uit vrees dat dit weer deur die kritiek ‘doodgesmoor’ sal word. Hy is jammer dat hy met die werk moes ophou, sê hy in 'n brief van 27 Desember aan Sarah, want dit is ‘'n allerheerlikste ding met sy grootse hartstogte en sy verskriklike tragedie. En die werk daaraan het my rus en troos en geluk gebring, die twee dae; en nou moes ek dit opsy gooi en ek sit weer ledig, wanhopig, met die bitterheid van 'n verdoemde siel.’ 'n Mens kan moeilik aanvaar dat moontlike negatiewe kritiek in De Kerkbode, De Volkstem of Die Huisgenoot Langenhoven tot swye gebring het. In sy brief aan Sarah voorsien hy probleme met die kopiereg, al maak hy ‘die ding nie net letterlik nie maar in sy gees en standpunt Afrikaans’. Kopiereg kon dus ook nie 'n probleem gewees het nie. Moontlik het hierdie soort oorsetting hom uiteindelik tog nie bevredig nie en het hy om dié rede van die werk afgesien. Langenhoven se onrus as gevolg van ledigheid duur in hierdie tyd voort en hy begin wonder of hy hoegenaamd nog verder moet skryf. Aan die begin van 1925 doen hy aan die hand dat die Nasionale Pers 'n klein boekrakkie vir 'n huisbiblioteek kan laat maak, 'n suggestie waaruit 'n mens kan aflei dat hy steeds nie met skeppende werk besig is nie en ten einde raad uit die gebied van sy geliefde stokperdjie iets voorstel. ‘Net een boek se skrywe’, laat weet hy Sarah op 2 Januarie 1925, ‘een week se werk of al was dit veertien dae, sou my herstel.’ In plaas | |
[pagina 514]
| |
daarvan is hy nou, met 'n toespeling op ‘Die twee professore’ uit Geeste op aarde, ‘soos een van Dr. Santor se harsings in die glaspotte - met 'n liggaam daaraan in plaas van kunsmatige onderhouding. En ek skaam my oor die aanhoudende kermliedere wat ek jou stuur. Ek voel of ek elke brief liewer wil in die vuur gooi as om dit vir jou te pos.’ Op 6 Januarie gaan Langenhoven weer aan met sy gereelde joernalistieke bydraes en voel hy beter. Intussen het hy ook die ontwerp van die boekrakkie gemaak en pos hy dit aan Sarah. Van die gedagte dat die Nasionale Pers dit sal bemark, kom egter niks. Hy stuur in hierdie tyd ook 'n nuwe ontwerp vir die verjaardagboekie. Steeds kan hy egter naas sy bydraes vir Die Burger nie by nuwe werk uitkom nie. Sedert sy skeppende vaart in 1918 met Die Vrou van Suid-Afrika 'n aanvang geneem het, is dit die langste periode in Langenhoven se lewe dat hy naas sy gereelde koerantverpligtinge en die voorbereiding van herdrukke geen nuwe verhaalwerk lewer nie. Eers op 11 Junie 1925, dus meer as vyf maande later, kan hy Sarah laat weet dat hy met 'n nuwe boek besig is. Dit is nog nie klaar nie, skryf hy, ‘maar ek is so te sê oor die hond’. Op 13 Junie laat hy weet hy het die ‘schnipe’ voltooi en dat hy besig is met die oorskryf daarvan. En op 16 Junie is hy ‘stokflou’. Hy het veertien dae geskryf aan die boek en daarna nog 'n week bestee aan die hersiening en die oorskryf. ‘My arme ou hand is al so lam; seer, eintlik, nes jig’, skryf hy aan Sarah. Die nuwe ‘schnipe’ waarmee Langenhoven so druk besig was, is Herrie op die óú tremspóór, die vervolg op Sonde met die bure. Hy het in hierdie stadium nog nie 'n titel nie, maar dink aan 'n tekening van Herrie op die omslag. In geen omstandighede moet D.C. Boonzaier, met wie hy intussen in 'n kwaai polemiek gewikkel was, egter die olifant teken nie; ook ná sy dood, so skryf hy aan Sarah op 20 Junie, mag daar nie ‘'n lyn van sy werk’ in Langenhoven s'n kom nie. Na al die ‘opwinding en geesdrif van die afgedane werk’ ly hy nou aan ‘neerslagtigheid en ledigheid van die reaksie’. Herrie op die óú tremspóór word opgedra aan Langenhoven se dogter, Engela, aan wie hy ook die tantième en die kopiereg oordra. Uit die opbrengs, so sê hy in die voorwoord, sal sy wel so nou en dan ‘'n stukkie klere’ kan koop, maar dit is te betwyfel of dit ‘'n gewigtige verskil sal maak aan (sy) toekomstige skuldondernemings’.Ga naar eind109 In 'n spottery met die Universiteit van Stellenbosch, wat aan die brief aan die registrateur herinner, sê hy dat hy die boek aanvanklik Verdere sonde met | |
[pagina 515]
| |
die bure wou noem. Die universiteit het hom egter kwansuis laat weet dit is 'n klaarblyklike oortreding van hulle kopiereg en dat hulle 'n interdik van die hof sal moet aanvra indien hy daarmee voortgaan. Daarop het hy getelegrafeer: ‘Stop slaap gerus stop persoonlik ek niks bang julle dreiemente nie maar Vroutjie kies altyd kant van my teëparty stop onder haar verbod nie julle s'n nie sal ek tietel verander tot my verdriet en onreg stop daar makeer twee drie omme uit julle telegram stop hoop weglating te wyte aan nuwe gesonde spaarsaamheidsgevoel en nie aan ou gebrekkige taalgevoel nie stop.’Ga naar eind110 Die opdrag aan Engela voorin die boek is 'n teks in Latyn wat in Langenhoven se handskrif afgedruk word.Ga naar eind111 Die Afrikaanse vertaling skryf hy self op 'n los vel by die spesiaal gebonde eksemplaarGa naar eind112 wat hy aan Engela by die verskyning later die jaar gee. Dit lui as volg: ‘Aan Engela my dogter, groete. Liefste, jy is die enigste kind van my liggaam. Ja, ek het 'n klompie ander kinders uit my gees voortgebring. Hulle menigvuldige slegte eienskappe - waar díe vandaan afstam, is wetenskappelik en noukeurig aan my bekend, ek wat myself deur 'n lange lewe van ondersoek ken. Maar van hulle goeie dele, so skaars as die is, is ek nie in staat om rekenskap te gee nie. Van jou oumammie, my moeder; van jou moeder, my beminde; van my dogter, jyself; van baie, baie ander, lewendes en dooies, het daar invloede wat ek nie wêrd is nie, na my toe deurgetrek, maar ek kan nie tussen hulle onderskei om aan elk die erkenning te betuig wat hom toekom nie. Maar hierdie kindjie (buiten sy kwaad!) is joue alleen, van die eerste letter tot die laaste voor jou oë geskape, in jou teënwoordigheid stap vir stap gebore. Neem dan wat reeds van voor af joue was - jou eie seun, jou vader se kindskind, nie as die aangenome kind van 'n vreemde nie. Maar ontvang daarby wat net so goed algeheel en altyd joue reeds was - die liefde van jou vader, C.J. Langenhoven.’ Die naskrif, 'n toespeling op die romangebeure waar hy aan die einde 'n doktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch gaan ontvang, lui: ‘Dit sou nie gegaan het om die geleerdheid wat in die navolgende hoofstukke ten toon gestel is, hier te verberg nie. Dis 'n aspirant-dokter wat jou hier groet. Sorg dat jy fris bly.’ Soos in Langenhoven se ander ‘schnipes’, in die besonder Sonde met die bure en Loeloeraai, is daar verrassend moderne elemente in Herrie op die óú tremspóór aanwesig. Aan die begin van die roman word ‘die skerpsinnige leser’ regstreeks aangespreek en kry ons 'n bemoeienis | |
[pagina 516]
| |
met die kunswerk deurdat hy by die wording van die verhaal en die agterna-perspektief betrek word. Die dominee-figuur, 'n stereotipe van die Afrikaanse prosa wat Langenhoven reeds in Sonde met die bure gebruik het, word hier ingespan vir die geestige effek, maar dit is 'n geestigheid wat ver by iemand soos Jochem van Bruggen se humor-realisme verbyspoel, 'n lugubere geestigheid wat by tye aan die onbeheerste grens. Wanneer die dominee byvoorbeeld begin lag, is dit erger as sy suur gesig. Hy praat nog ‘Hooghollands - dit wil sê 'n sonderlinge vorm van sewentiende-eeuse skryftalige Hooghollands wat geen Hollander praat nie en geen ander lewende siel op aarde ook nie buiten ds. B. en sy koster’.Ga naar eind113 Nog meer as in sy voorganger bereik Langenhoven in Herrie op die óú tremspóór 'n geestige effek deur 'n spel met woorde en klanke wat tot 'n besondere soort onsin of taal-absurdisme lei. Wanneer die dominee op besoek kom, sê die sprekende Kerneels dat Vroutjie en Engela albei so 'n ‘herderlike besoek’Ga naar eind114 baie nodig het: ‘Die een is swaarsinnig, die ander ligsinnig, terwyl ek tydelik swaksinnig is en ontoerekenbaar.’Ga naar eind115 Wanneer Kerneels probeer om by die magistraat uit te kom maar slegs tot by die een of ander klerk kan vorder, sê hy: ‘Ek wil nie spreek nie, ek wil praat. Sonder Batavismes en Anglisismes en Germanismes en Krismis en disnis en al sulke soort bisnis.’Ga naar eind116 En wanneer die hoë magistraat uiteindelik binnekom, reageer Kerneels op 'n wyse wat 'n Langenhoven-spreuk waardig is: ‘Jy sal dikwels vind dat die hoë mense minder hoog is as die minder hoë.’Ga naar eind117 Die geheel van Herrie op die óú tremspóór bestaan uit agt hoofstukke wat telkens 'n ‘ontmoeting’ as hoofdis het en tot 'n episodiese struktuur lei. Prof. Smith se besoek aan die einde is weer 'n voorbeeld van Langenhoven se manier om bekende figure as karakters in sy verhale in te voer, 'n tegniek wat indertyd nie met ‘hoë’ literatuur geassosieer is nie. Die professor se intrede, waar hy Neelsie kom ‘verlos’ van sy lesingopdrag en hom namens die universiteit 'n doktorsgraad aanbied, het iets van 'n deus ex machina, maar deur die geestige en satiriese opset van die geheel word dit aanvaarbaar gemaak. Wat die leser van vandag met sy kennis van die moderne narratologiese tegnieke sal boei, is die intertekstuele verhouding tussen Herrie op die óú tremspóór en Sonde met die bure. Verskeie tonele in Herrie speel terug op sekere episodes in Sonde, telkens met die omdop van situasies: terwyl Neelsie vroeër verwens en vervolg is, word hy nóú feestelik onthaal en met verskuldigde ontsag vereer. Daarmee ontstaan daar 'n boeiende wisselwerking tus- | |
[pagina 517]
| |
sen die twee boeke. Die Afrikaanse literatuur sou tot Langenhoven se peetseun Etienne Leroux moes wag voordat iets soortgelyks verder uitgebou word: dr. Johns wat in Een vir Azazel aan speurdersersant Demosthenes H. de Goede al die plekke uitwys wat Jock en Henry agtien jaar tevore in Sewe dae by die Silbersteins besoek het, nou egter telkens met die aksent op die verval wat sedertdien ingetree het. In hoofstuk twee van Herrie op die óú tremspóór sê Kerneels by geleentheid: ‘Ek hou reeds jare lank 'n dagboek aan om gegewens te bewaar vir my outobiografie, wat bedoel is om ná my dood te verskyn wanneer ek nie daar sal wees vir die terugslag nie. Natuurlik is die dagboek te delikaat en intiem om soos hy daar is te publiseer.’Ga naar eind118 Dit is erg onwaarskynlik dat Langenhoven werklik so 'n dagboek gehou het; in elk geval is daar van 'n dagboek onder sy dokumente op Stellenbosch geen spoor nie. Hoogstens sou 'n mens kon sê dat sy besonder druk korrespondensie met Sarah Goldblatt in die laaste sestien jaar van sy lewe in werklikheid so 'n dagboek is, want daarin skryf hy haas alles wat 'n skrywer van 'n dagboek gewoonlik opteken. As Sarah hom juis in hierdie tyd aanmoedig om weer met die versaakte outobiografie voort te gaan, laat weet Langenhoven haar op 20 Augustus 1925 dat hy wel lus het daarvoor. Sy gesondheid is egter in 'n slegte toestand en hy kan, so skryf hy, nie die aanhoudende aanmanings van sy hart langer verontagsaam nie. Twee dae later skryf hy: ‘Ek het my gedagtes oor die outob. laat gaan, en ek voel nou, as ek hom kan klaarkry, moet hy maar dadelik nou gepubliseer word. Dit sal my 'n addisionele geesdrif en belangstelling gee by die klaarmaak daarvan; dit sal my die kans gee om te antwoord op gewisse teëspraak. En dit is tog seker dat daar geen gewigtige werk vir my meer voorlê nie - en as dit ook was, kan daar 'n voortsetting bykom.... Wat die goeie smaak van die saak betref, Langenhoven is nie verniet kranksinnig nie. Hy moet ook die voordele daarvan hê.’ Maar op 15 September laat weet hy Sarah dat hy nog steeds nie by die hervatting van die outobiografie uitgekom het nie. ‘Sal dit weer op mañana uitloop tot my mores almal gisters is?’ vra hy. Inderdaad kom daar ook hierdie keer weer niks van die outobiografie nie, want intussen begin Langenhoven met iets anders. Ten spyte van tandpyn is hy op 17 Augustus 1925 besig met 'n verwerking van Die wêreld die draai, sy toneelstuk van 1912 wat op sy beurt 'n verwerking van Die water zaak van 1909 was. Aangesien die ‘ou ding...darem maar baie crude’ was, so skryf hy aan Sarah, maak hy daar byna | |
[pagina 518]
| |
'n nuwe spel van. Voordat hy veel verder kan kom, moet hy na Philipstown vir ‘water-moeilikheid’ en na Kaapstad vir die Senaat se sitting, waar daar weer probleme met sy drankmisbruik ontstaan, in so 'n mate dat Sarah hom feitlik moet verpleeg. Toe hy begin November terug is op Oudtshoorn, voel hy pap en het hy 'n nare hoofpyn. Tog gaan hy voort met die toneelstuk, wat hy nou Die laaste van die takhare noem. ‘Dit gaan nie vinnig nie’, skryf hy op 5 November aan Sarah. ‘Ek kan nie meer soos in die ou dae dag en nag aanhou tot ek klaar is nie. Maar ek dink jy kan vir Kruse sê as jy hom sien hy kan die dingetjie aanstaande week, Dingsdag of Woensdag [dus 9 of 10 November - JCK] verwag.’ Op 6 November kan hy haar laat weet die stuk is klaar. ‘Die hele ding, as hy karakter-tekening hoegenaamd besit, is 'n voorstelling van die verbygaande vanmelewe se ou boer. In daardie opsig staan hy skerp gestel teen al die ander persone. So ook húlle op 'n manier - die Hollander, die Engelsman, die aia - elk sui generis. Maar hulle is ondergeskik, selfs met die plan van die plot; ou Karel dominates dwarsdeur, waar hy ook verskyn, en hy verskyn verreweg die dikwelste.’ Aan die einde van die brief gee Langenhoven instruksies wat Sarah aan die setters moet oordra. Die laaste van die takhare verskyn vroeg in 1926 en is die enigste voorbeeld in Langenhoven se gepubliseerde oeuvre waar hy 'n bepaalde geskrif grondig hersien en herskryf het. In die ‘Waarskuwing’ vooraf vaar Langenhoven uit teen die ‘malkuns-apostels’ wat geen kuns in genot of vermaak sien nie. Hierdie ‘spelletjie’, sê hy, ‘is bedoel vir mense wat moeg is van die inspanning wat vereis word deur die hoë drama, en afleiding soek vir hulle plesier’.Ga naar eind119 By die nuwe druk van 1927 voeg hy by dat geen resensie gevra word nie, die eerste keer dat so 'n uitdruklike vermelding in 'n werk van hom verskyn. ‘Wanneer ek een van die dae dood is,’ voeg hy by, ‘sal dit tyds genoeg wees om van wurms geknaag te word.’Ga naar eind120 In hierdie drama werk Langenhoven met 'n groot verskeidenheid bekende motiewe uit sy werk, soos die sonde-met-die-bure, die stryd tussen Afrikaans en Engels en die verandering in die maatskaplike patroon. ‘Ou dowe Karel’, die ‘laaste van die takhare’, het iets van die ou Afrikaanse patriarg, maar die geestige situasies en die spel met woorde sorg vir 'n milder manifestasie van die ou tradisionele figuur. Met die Engelsman wat 'n buurplaas koop en die dreigende watersaak maak Langenhoven van 'n gegewe gebruik waarmee hy as taalstryder | |
[pagina 519]
| |
en prokureur goed vertroud is. Die deurlopende motief van die wêreld wat draai, sirkuleer dwarsdeur die stuk en kulmineer in die lied wat Piet Rympies sing, 'n gedig wat ook in Ons weg deur die wêreld voorkom: Die wêreld die draai:
Nou is hy vriendelik en dan is hy kwaai;
Vandag is hy soet en more suur -
Geen vreugde hou stand en geen droefheid duur.Ga naar eind121
Met die Engelsman Hamilton wat by die Afrikaanse meisie Miemie aanlê, kry ons 'n jeugdige liefde wat nie sterk gemotiveer is nie. Tog kan 'n mens daaruit aflei dat Langenhoven geen haatgevoel teen die Engelse gehad het nie. Ook die Nederlandse onderwyser Van Helderbosch sorg vir talle geestige situasies, maar is simpatiek geteken en waarskynlik gebaseer op Meester Bloemkolk, Langenhoven se bewonderde leraar op Hoeko. Die beminlikste karakter in die hele stuk is egter oom Karel Venter, geskoei op ou Dowe Hendrik Schoeman. In haar boek Swartberg en sy mense vertel Sue van Waart dat die Schoemans, wat in Langenhoven se tyd aan die voet van die Swartberge naby die Kangogrotte gewoon het, groot grondbesitters was. Onder hulle was ou Dowe Hendrik Schoeman, wie se doofheid ontstaan het as gevolg van 'n oorinfeksie wat hy van tandetrek oorgehou het. Dikwels, so vertel Van Waart, het Langenhoven ‘teen die mingeletterde ou Dowe Hendrik die onderspit gedelf in hofsake, veral oor waterregte’.Ga naar eind122 Dat Langenhoven met sy groot liefde vir honde die een of ander tyd by 'n ‘hondestorie’ sou uitkom, was seker te verwagte. Dat hy op 11 November 1925, met ander woorde vyf dae nadat hy die manuskrip van Die laaste van die takhare gepos het, aan Sarah kan laat weet dat hy met sy ‘hondestorie’ besig is, dui daarop dat Langenhoven se skeppende impuls na die betreklike insinking van vroeër in die jaar volkome herstel het. En op 14 November kan hy haar laat weet Mof en sy mense is klaar en dat hy besig is om dit oor te skryf. Maar, soos te verwagte, is hy nou ‘uitgefienies’. Ook liggaamlik voel hy swak; selfs sy hand word ‘steeks’ om die pen vas te hou. Hy gaan voort: ‘Ek het my darem ooreis. Ek het die hondeboek - lengte van S met die B - Maandag-aand begint en Vrydagaand - gistraand - om half-sewe klaar gemaak (vier dae, amper outyd se werk). Met hoofpyn byna al die tyd. Ek vrees ek het my bietjie ooreis; en ek is half in die nood dat ek nie die MS. | |
[pagina 520]
| |
Maandag sal kan pos soos ek vanoggend getel.r. het nie. Maar ek kannie die gevaar loop om opsy te sit, nes Coleridge, en my gedagtedraadjie altemit te verloor nie.’ Maar op Maandagmiddag, 16 November, kan hy skryf dat die manuskrip van die ‘hondeboek’ gepos is. Hy het die hele Saterdag tot laat in die aand geskryf. Sondag het hy seweuur in die oggend begin en dwarsdeur die dag en die nag tot nege-uur Maandagoggend voortgegaan. Daarvandaan het hy oorgelees en gekorrigeer. ‘En nou is ek disnis’, voeg hy by, 'n reaksie wat teen dié tyd 'n vanselfsprekendheid van Langenhoven se leef- en werkpatroon was. Gelukkig kan hy Sarah darem die volgende dag laat weet dat hy tien uur aaneen geslaap het. Nou voel hy lus om weer met 'n boek te begin! Hy skryf: ‘growwe mense soos ek gaan nie van oorwerk dood nie, hulle gaan van luiigheid dood’. In verband met die boek sê hy sy sal ‘opmerk...daar (is) nie 'n dingetjie wat nie eie ondervinding is nie. Die boerewerk, die wegneem van jou hond voor jou oë, die uitdra van 'n suglopende dooie, Pappie wat nooit slaap as Frikkie iets makeer nie...Jy sal dit raakgesien het.’Ga naar eind123 Op 21 November stuur Langenhoven nog enkele wysiginge in die manuskrip van Mof vir Sarah deur. Die volgende dag pos hy sy bydrae vir Aan stille waters wat op 30 November verskyn: 'n foto van sy hond Herrie-Mof met 'n artikel waarin hy oor sy twee honde skryf en iets van die agtergrond van sy werk aan die ‘hondeboek’ vertel. In sy brief van 22 November aan Sarah sê hy: ‘Wat ek in die artiekel half-spotterig sê is ernstig; ek wil die eerste draft, en die MS wat pers-toe gaan en alles wat ek geskryf en deurgekrap het in verband daarmee, saam netjies laat inbind en aan Stellenbosch present gee. Dit sal altyd bly as eerstehandse getuienis van my manier van werk, en die vergelyking van die twee, die oorspronklike en die oorskrif en ook die latere byvoegsels, sal toon, nie alleen hoe die skrywer se gedagtes een vir een ontwikkel het nie, maar wat as 'n saak van styl met bewuste studie van effek, gebeur het tussen die eerste en die laaste - in 'n paar dae tyd. Daar is op baie van die paginas, soos jy hulle gekry het, byna nie 'n sinsnede wat met die oorskryf nie verstel is nie. In verband met my opstel oor “Letterkundige styl”, kan jy jou 'n beter oefening vir die studie van styl voorstel as hierdie praktiese vergelyking? En daarby, by die MS, wil ek 'n uitknipsel van hierdie artiekel sit met die prentjie van die hondjie wat die inspirasie van die hele boek was.’Ga naar eind124 As Sarah veranderinge moet aanbring, vra hy haar om dit in blou potlood of rooi ink te doen ‘om nie | |
[pagina 521]
| |
die integriteit van die handskrif, vir die doel wat ek gesê het, in die minste te raak nie’. Omdat hy bang is dat die titel die indruk van 'n kinderboek kan wek, versoek hy Sarah in 'n brief van 27 November om die subtitel Die badwater van Betesda by te voeg. Mof en sy mense verskyn vroeg in 1926. Uit die sorg wat Langenhoven aan die bewaring van die manuskrip bestee het, is dit duidelik dat die boek vir hom persoonlik van besondere waarde was. Hy het in 1925 Herrie-Mof present gekry in 'n stadium toe hy reeds Kwagga gehad het. Die twee honde het 'n besondere plek in sy lewe ingeneem. Op 22 Desember 1925, wanneer hy Sarah met haar verjaardag gelukwens, skryf hy dat die twee honde saam met hom in die ‘kooi’ lê. Die subtitel wat Langenhoven op 27 November bygevoeg het, is van die grootste belang vir die roman. Daarmee word die verhaal van die karakters omraam deur 'n groter verhaal wat deur die tekste uit die Nederlandse Bybel aan die begin van elke hoofstuk aangedui word. Die beroep wat daarmee op 'n ‘oerteks’ gedoen word, is 'n procédé wat eers veel later, in die sestigerjare, weer in die Afrikaanse prosa gebruik sal word, byvoorbeeld as André P. Brink in Die ambassadeur en Etienne Leroux in Die derde oog Dante se Divina commedia gebruik om aan die romangebeure 'n groter geldigheid en drakrag te gee. Die Bybelse verhaal van die verlamde van Betesda vind dan 'n ‘exempel’ in die verlamde Poppie van Groenplaas. Die motto voorin die boek kom uit Coleridge se ‘Answer to a child's question’ en praat uitsluitlik oor die liefde, 'n aanduiding van hoe sentraal dit as motief vir die gebeure is: He prayeth best, who loveth best
All things both great and small;
For the dear God who loveth us,
He made and loveth all.Ga naar eind125
Vandaar ook dat Mof en sy mense geen romanskurk ken nie. Uiteindelik word die prokureursbroer en die verbandhouer, wat aanvanklik na booswigte lyk, deur die krag van die vergewende liefde gered. In dié opsig is Langenhoven se roman met sy afwesigheid van booswigte die voorloper van J. van Melle se Bart Nel, die ander belangrike vroeë Afrikaanse prosawerk sonder 'n romanskurk. Terwyl Die lig van verre dae Langenhoven se persoonlike bydrae - maar dan met gebruik van 'n stuk voorgeskiedenis uit sy eie Klein | |
[pagina 522]
| |
Karoo - tot die pionier- en trekroman was, is Mof en sy mense sy bydrae tot die maatskaplike probleemroman soos dit deur Jochem van Bruggen beoefen is. Anders as Van Bruggen, wat die armblanke in sy ellende op die delwerye of in die grootstad uitbeeld, leef die verarmdes by Langenhoven ten spyte van hulle swaarkry in hulle volle menslike waardigheid voort en word hulle uiteindelik in hulle gelukstaat herstel. Die wêreld waarin hulle leef, is weer Langenhoven se vertroude Klein Karoo, met die Groot Griep van 1918 en die verarming van die Oudtshoornse distrik as historiese agtergrond. Al kry die mense swaar in hulle nood, bly die besondere stukkie aarde vir hulle dierbaar: die ‘volmaakte reine helderheid van hemel en aarde’, ‘“die donkergroen van die lande teen die vaal koppies en die stukkie blouberg daar ver”’, en ‘“die goue gloed van die Karoo-son uit die diepte van die blou van die hemel”’.Ga naar eind126 En orals, soos Langenhoven trouens in 'n brief aan Sarah te kenne gee, voel die leser outobiografiese elemente aan: die doenighede van die hond, die vendusie, die verskrikkinge van die Groot Griep, die tenger ou moedertjie wat baie op Langenhoven se pleegmoeder trek e.d.m. Soos telkens by Langenhoven kan baie dinge in die verhaal na eie ervarings en belewenisse herlei word, al word daardie gegewe dan met verbeeldingsvlugte en louter fiksie versterk. Mof en sy mense word op 27 Maart 1926 in De Volkstem deur W.F.J. Steenkamp besonder negatief bespreek. In sy bespreking sê Steenkamp die boek is in sy geheel 'n ‘bordpapiere wêreldjie’ met engele en duiwels, die karakters is ‘aanmekaar getimmer’, die skrywer is 'n sedeprediker en karakterontwikkeling is volkome afwesig. Hy kritiseer verder die slordige styl, die anglisismes, en die ‘soetsappige verkleinwoordjies’ wat orals ingevleg word. 'n Mens kon geredelik verwag dat Langenhoven heftig op so 'n negatiewe resensie sou reageer. Sy reaksie was besonder skerp, juis omdat die bespreking verskyn het in De Volkstem, waarvan Preller tot 1925 redakteur was, en hy die vorige maand in 'n ewe heftige polemiek met sy eertydse vriend gewikkel was. Daarby het hy sy uitgewers uitdruklik gevra om nie meer vir De Volkstem eksemplare van sy boeke ter bespreking te lewer nie. In 'n brief van 3 April 1926 aan Sarah kla hy oor die resensie. ‘'n Laer vuiler ding het ek nog nooit teëgekom nie.’ By geleentheid, so skryf hy, was hy kwaad oor 'n boosaardige resensie oor Sonde met die bure. ‘En jou wragtig, hier stuur ons weer eksemplare (ek praat van “Mof”) aan daardie vuilegoed. Kyk, ek sit nou eenmaal my | |
[pagina 523]
| |
voet neer - jy kan natuurlik die boodskap in jou eie woorde aflewer - maar as die uitgeërs nie kans sien om my instruksies uit te voer wat resensie-eksemplare betref nie, dan kan hulle maar in die toekoms boeke uitgee van skrywers wat nie sonder die publiekmaking kan klaarkom nie. Ek kan nie my tyd bestee aan modder afkrap nie.’ In 'n brief van 22 April 1926 laat hy Sarah weet dat daar van nou af voorin al sy publikasies die woorde ‘Geen resensie word gevra nie’ moet verskyn. Maar bloot by 'n brief aan Sarah het dit hierdie keer nie gebly nie. Waarskynlik het Steenkamp - in daardie jare 'n jong joernalis by De Volkstem, later verbonde aan Die Burger en nog later professor in ekonomie in Pretoria - self nie verwag dat sy resensie so 'n gedonder tot gevolg sou hê nie. Die volgende Aan stille waters het, soos hy dit later self sou stel, ‘daar uitgesien asof 'n vulkaan van die geweld van Krakatau s'n daarin tot uitbarsting gekom het. Langenhoven het die rooiwarm lawa van sy toorn oor my, en ook sommer oor al die ander “kritikasters”, soos Preller hulle genoem het, oorvloedig gestort.’Ga naar eind127 In Die Burger van 12 April 1926 druk Langenhoven Steenkamp se resensie, wat onder die naam W.F.J.S. verskyn het, in sy geheel oor. Daarop volg sy kommentaar. Wat hy aan die publiek lewer, is die beste waartoe hy in staat is. As sy veroordelaars dus gelyk het, moet hy ophou werk. Sy eise vir homself is egter besonder streng. Hy lewer nie slordige, nalatige werk nie. Hy beskou sy werk self as ‘pêrels’ wat hy op die ‘volksmark’ aanbied. Met 'n toespeling op die voorletters van sy resensent sê hy dat hy nie begerig is om sy werke ‘voor W.F.J. Swyne te gooi nie. Maar ongelukkig kan 'n mens nie verhinder dat jou pêrels ook onder die swyne inrol nie; en ongelukkig is die swyne nie in Suid-Afrika onskadelik nie. Daar is mense - daardeur al hoog - wat werk vir 'n behoefte wat baie groot is, en daar is mense - daardeur al laag - wat geen ander werk doen nie as om die werkers te dwarsboom.’ Dit is wat hom bitter maak. Toe hy vir Afrikaans gestry het, was dit nie om eie voordeel te soek nie. ‘My oog was op kindertjies - en op volwassenes byna soos kindertjies ongeletterd: op 'n verwaarloosde en behoeftige volk.’ Net vir hierdie volk was hy die ‘dienswillige dienaar’, vir niemand anders nie. ‘Die resensie’, so stel Steenkamp dit toe hy baie jare later op die saak terugkom, ‘was origens uit joernalistieke gesigspunt 'n ongehoorde sukses. Dit het 'n ryk oes aan goeie “kopie” afgewerp. 'n Koerantskrywer wat so iets aan die gang sit, kan 'n rukkie agteroor leun. Ekself het | |
[pagina 524]
| |
daarom in 'n kort stukkie van 'n paar honderd woorde in Die Volkstem saggies geantwoord en beskeielik gevra of Langenhoven dalk nie ook sy pampoene vir pêrels aansien nie en dit toe aan ander oorgelaat om die polemiek voort te sit. Dit was 'n hele skrywery, in Die Burger en in Die Volkstem, en belangrike mense, onder wie Leipoldt, het daaraan met groot lewendigheid deelgeneem.’Ga naar eind128 In Maart 1926 voltooi Langenhoven 'n verdere ‘schnipe’, sy ‘verhaal uit Ladismith’ Donker spore. Gewoonlik word dit die eerste Afrikaanse speurverhaal genoem, maar in werklikheid is dit 'n verbinding van 'n spook- en speurgegewe. Langenhoven plaas die gebeure weer in sy vertroude Klein Karoo en steun op 'n bekende stuk geskiedenis uit dié wêreld: 'n bruin man wat teen 'n krans verongeluk het. Die ontrafeling van die moord word gedoen deur 'n jong joernalis van Die Burger, eweneens 'n vertroude gebied vir Langenhoven. Hierdie joernalis, Sarel van Duine, moet dan optree soos 'n Sherlock Holmes - of soos 'n Clifton Brown, die speurder in die reeks wat Langenhoven kort na die eeuwisseling in Engels skryf maar nooit publiseer nie - en vir 'n geheimsinnige en skynbaar onlogiese gebeurtenis 'n redelike verklaring vind. Langenhoven steun dus op 'n gegewe uit Ladismith wat reeds uit sy jong dae aan hom bekend is en op 'n ervaringsgebied in Kaapstad waarmee hy deur sy werk as skrywer in aanraking gekom het, al blyk dit duidelik dat die jong joernalis aan die stadslewe nie veel trek het nie en soos Langenhoven die platteland verkies. Ook die wêreld van die hof en die reg - bekende terrein vir Langenhoven - word in die verhaal ingevleg, terwyl die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse letterkunde en die taak van die skrywer by geleentheid ter sprake kom. Op 'n keer sê Liena aan Sarel: ‘“Jy weet, ek het 'n volledige Afrikaanse biblioteek. Ek bestel boek vir boek wat verskyn, van wie ook. Nergens anders in die beskaafde wêreld is die voorreg beskikbaar, soos hier by ons, om die geboorte van 'n splinternuwe letterkunde voor jou oë te sien tot stand kom nie.”’Ga naar eind129 Wanneer Sarel sy eerste artikel oor die Klein Karoo aan Die Burger deurstuur, klink die kommentaar van die verteller baie na Langenhoven se eie kyk op die taak van die joernalis: ‘Ook in 'n wetenskaplike verhandeling, ook in 'n prosés-verbaal, kan daar kuns wees of nie kuns nie. Die kunstenaar laat dooie feite en betoë lewe; die onkunstenaar maak lewendes dood.’Ga naar eind130 Wanneer Sarel sê dit is maar stof wat hy van haar vader ontvang het, antwoord Liena: ‘“Nee, Sarel; dis nie net die inhoud nie. Dis die uitsoek en die rangskik en die aanme- | |
[pagina 525]
| |
kaar sit; die nadruk en die versagting; die ligte, die skaduwees. Jy het nie 'n kaart gemaak nie: jy het 'n skildery gemaak.”’Ga naar eind131 Iets van Langenhoven se eie opvattinge oor die ontstaan van 'n literêre kunswerk vind neerslag in hierdie woorde van Liena. Feitlik onmiddellik na voltooiing van Donker spore begin Langenhoven met nog 'n ‘kinderstorie’. Hy voltooi dit weer blitsvinnig terwyl hy nog tier oor Steenkamp se onbillike bespreking van Mof en sy mense. Hierdie nuwe ‘kinderstorie’ noem hy Die Krismiskinders, 'n titel wat hom aanvanklik probleme verskaf en waaroor hy reaksie van die beterweterige Akademie met hulle taalreëls verwag. Krismis is vir hom, volgens 'n brief van 11 April 1926 aan Sarah, die ‘mis’ van ‘Kristus’, nie van ‘Kerstus’ nie, en gevolglik die juister woord. Die ‘afbrekers’ van die Akademie sal egter sê sy ‘boek is al 'n sonde teen die Heilige Gees van die kruisigers van die Kerstusse’. By homself praat hy egter die hele tyd van die ‘Krismiskinders’. Moet hy hulle nou ‘Kerskinders’ gaan noem? Daarby kom die probleem van Vader Krismis. Hy is in Suid-Afrika nie 'n volksinstelling nie, maar iets van 'n ‘Engelse besigheid’. Daarom moet hy maar ‘Vader Krismis’ handhaaf. As hy die manuskrip op 11 April aan Sarah stuur, vra hy Sarah wat hy met sy ‘onmoontlike rusteloosheid’ gaan aanvang noudat die werk agter die rug is, 'n aanduiding dat daar aan Langenhoven se skeppende impuls in hierdie stadium geen keer was nie. Hy skryf: ‘Ek voel weer fris touch wood. Maar my werk is weer klaar - en wat gaan ek doen om aan die gang te bly? Ek leef maar net as ek werk. Dis tog dan darem vir myself 'n seën al is dit so sleg vir ander mense dat ek glad niks behoort te doen nie.’ Op 2 Augustus pos Langenhoven die proewe van Die Krismiskinders terug. Op 25 Augustus stuur hy 'n eksemplaar van die ‘beter-gebindenes’ aan Sarah as die ‘Krismiskind’ - 'n toespeling op die datum van haar verjaardag. Langenhoven gebruik in hierdie boek weer sy bekende wêreld as uiterlike agtergrond, hierdie keer - soos in Die lig van verre dae - die Kangogrotte. Van vroeg af word die bekende egter verbind met die geheimsinnige en die magiese. Die grotte is ‘die paleis van die Koning van die Donker’.Ga naar eind132 Die omgewing van die grotte met hulle drupkelders word realisties beskryf, maar iets bonatuurliks begelei die gebeure. Die Kersvader het wel met sy wit baard en kierie iets van sy tradisionele verskyning, maar met sy aanspreking van die egpaar as Neef en Niggie vind daar 'n transponering na die Suid-Afrikaanse wê- | |
[pagina 526]
| |
reld plaas. Iets buitengewoons spreek mee, want hy wil - in antwoord op die tradisionele gasvryheid van die Afrikaner - nie eet nie. Die geskenke wat hy jaarliks bring, is ook ongewoon vir 'n Kersvader. Geleidelik neem die wonderelement in die verhaal oor, veral as die tweeling Aristo en Sontie die verhaal intree en dit vanaf die sesde Krismis begin duidelik word dat Talie, Aristo en Sontie drie vorms van die skeppende kuns verteenwoordig: die musiek, die literatuur en die skilderkuns. Dit word versterk deur die besoeke van die skeppende geeste wat hulle in die verskillende vorme inlei. Opvallend vir die struktuur van die verhaal is die herhalings en die parallelismes, 'n prinsipe wat ook aangewend word as hulle na die grotte weggevoer word en daar as gevangenes van die Koning van die Donker wag totdat hulle na die lig geroep word. Want in diens van die donker kan hulle nie hulle kuns beoefen nie. ‘My kuns’, sê Talie, 'n antwoord wat ook vir haar broers geld, ‘is in diens van die land van die Koning van die Lig. Van daardie diens sal niks wat jy kan doen my afvallig maak nie. My kuns is vir my heilig. My kuns is die kuns van skoonheid, en van soetheid, en van liefde. My kuns is die kuns van die lewe en nie die kuns van die dood nie.’Ga naar eind133 Aan die slot van Die Krismiskinders het Langenhoven sy eie opvatting van die kuns geformuleer, in elk geval dié soort wat hy in sy ‘ernstiger’ werk nagestreef het. Telkens sal ons by hom 'n reaksie vind teen strominge soos die naturalisme, die onnodige distorsie van die werklikheid en 'n beheptheid met die skadukante en die liederlikheid van die mens. Basies was hy 'n kunstenaar van die lig en het hy 'n idealistiese standpunt ten opsigte van sy ambag ingeneem. Na Die Krismiskinders werk Langenhoven aan twee natuurkundige inleidings - 'n ‘sterreboekie’ en 'n ‘waterboekie’ - wat vir hom net so lekker soos sy ‘schnipes’ is. Hy oorweeg ook 'n ‘meetkundeboekie’, maar sien daarvan af toe Kruse vra wie dit vir die Nasionale Pers gaan beoordeel! Ook daarna is hy besig met allerlei ‘nutsboeke’. Terwyl hy in Maart 1927 in Kaapstad is, skryf hy sy klug Die kinderparlement om kinders die geleentheid te gee om toneel te speel en hulle terselfdertyd in die binnekamers van die politieke toneel in te lei. As hy Kaapstad in Julie 1927 weer besoek, neem hy die eerste klad van 'n volgende ‘schnipe’, Die wagtende wêreld, saam om daar oor te skryf. Dit word, soos Die kinderparlement, nog dieselfde jaar gepubliseer. Soos met sy spookverhale maak Langenhoven hier ook gebruik van 'n ‘ware’ pseudoniem, naamlik prof. Hein de Kok, M.A., Litt.D., | |
[pagina 527]
| |
terwyl hy homself tot redakteur reduseer. In die ‘Noot’ vooraf is daar weer 'n skimp op die letterkundiges en hulle gebrek aan styl, soos ook later in die gesprek tussen die twee hoofkarakters: ‘ek kan die leser verseker dat hy geen professorale volmaakthede van taal of styl sal vind om hom teen te stamp nie.’Ga naar eind134 Die verteller van die verhaal, Hein de Kok, is professor in die letterkunde en broerskind van die skrywer Langenhoven. Die ‘Noot’ aan die begin word onderteken deur die redakteur Langenhoven, iets wat nogal vreemd voorkom as die skrywer dan blykbaar self 'n letterkundige is. In aansluiting by Langenhoven se bedenkinge oor die ‘professorale volmaakthede’ van taal en styl by dié soort mense gee die verteller De Kok, wat natuurlik onder die redaksionele jurisdiksie van Langenhoven staan, die sleutel wat die werkwyse verklaar: ‘My oom sê - en hy glo dit al vas; dis 'n obsessie by hom geword - die opleiding tot my soort beroep is daarop aangelê om die opgeleide te verleer om te skryf.’Ga naar eind135 Die wagtende wêreld is die verhaal van twee vriende, Hein de Kok en Adie Adelryk, wat onderskeidelik aan die Klein Karoo- en Groot Karoo-kant van die Klein-Swartberge grootword, saam skoolgaan op die plaas en later in twee dorpse setels van opleiding uiteindelik saam op universiteit beland. Wat in die eerste hoofstuk van hulle opleiding in die verskillende sentra vertel word, klink vir die ingeligte leser sterk outobiografies, want dit is Langenhoven se lewensloop as kind en jongman wat hier as basis dien. Soos nou reeds by herhaling uit Langenhoven se ‘schnipes’ geblyk het, was die wêreld van die Klein Karoo met sy natuurskoon en -eienaardighede, die ryk geskiedenis van sy mense, die legendes en verhale wat hier 'n welige teelaarde kon vind en bowenal Langenhoven se eie agrariese verlede 'n ryk bron wat sy kuns 'n hele lewe lank kon voed. Sodra Langenhoven dan uit hierdie gegewe 'n sekere fondament gevestig het, kan hy, soos hy ook by herhaling reeds gedoen het, die fantastiese sprong maak: Adie slaag daarin om goud uit lood te maak. In die verdere ontwikkeling van die verhaal kom Adie dan te staan voor dieselfde of dan ten minste verwante etiese problematiek as dié van Loeloeraai. Loeloeraai kan die verlossende woord spreek wat die menseras van sy ellende sal verlos, maar dit is sy oortuiging dat die mens sy eie heil en geluk vir homself moet ontdek. Daar is geen kortpaadjie na hierdie kennis en geluk nie. As Adie toegee aan die versoek wat aan hom gestel word, kan hy die lot van die verarmdes en die werkers verlig. In so 'n geval sal die volk van Suid- | |
[pagina 528]
| |
Afrika sy voorspoed verniet kry, nie self verwerf nie. En so 'n volk, so stel hy dit aan die kabinet, leef ‘“parasities...uit die diens van die ander volke van die wêreld, want wat hy in ruil daarvoor gee, het hy verniet gekry en verteenwoordig geen diens wat hy van sy kant bygedra het nie...”’Ga naar eind136 En dit sal die volk in 'n ‘“sedelike hel”’Ga naar eind137 stort. As gevolg van die dilemma word Adie 'n kluisenaar in die Karoo. Later word hy gemartel deur die Bolsjewiste, wat die geheim uit hom wil pers. En uiteindelik word sy geheim saam met sy liggaam in die ys bewaar totdat sy skuld aan die wêreld vereffen is. 'n Mens kan sê dat die slot van die verhaal, wat 'n verwantskap met dié van Die Krismiskinders toon, 'n bietjie troebel is, maar dat dit iets oordra van die morele problematiek van die ontdekker wat deur sy navorsing vir die mensdom 'n kortpad na geluk en voorspoed kan bied, 'n kortpad wat tot 'n geestelike regressie sal lei. Nog voordat hy met Die wagtende wêreld begin het, wou Langenhoven 'n reeks kinderverhale met feetjies as karakters skryf. Sy groot probleem was egter die Afrikaanse woord ‘fee’ waarmee hy in onvrede was. Die woord ‘fairie’ was in Afrikaans vir die Akademie onaanneemlik, al beweer Langenhoven in meer as een brief aan Sarah dat die woord algemeen in die spraakgebruik is; hy, so skryf hy op 11 April 1926, ‘verdom dit om te praat van 'n “fee”’ - dit klink vir hom nes ‘vee’! Op 27 Oktober 1927, toe sy dogter, Engela, reeds ses maande swanger is, laat weet hy Sarah dat ‘die kleine kind’ met ‘ongeduldige geesdrif’ uitsien na die ‘groot gebeurtenis’ terwyl ‘die Ounooi...hard besig (is) met klein kleertjies en goedjies’. Hy self skryf nou weer 'n ‘kinderboekie’ met die oog op die groot gebeurtenis, maar verbrand dit amper twee dae later toe hy hoor dat die mense by die Pers met hulle ewige ‘Hollandery’ ook beswaar teen die woord ‘fêrie’ het. Tog druk hy deur daarmee, al kom hy in sy voorwoord terug op die hele aangeleentheid. Wanneer hy hom tot sy jong lesers rig, sê hy dat hy vir die ‘wondergoedjies’ nie 'n naam kon kry nie en dat hy intussen maar van ‘feemensies’ praat totdat die kindertjies self 'n naam vir hulle bedink. Daarom noem hy dit dan ook Die boekie sonder naam. Die verhaaltjies word aangebied deur tant Effie, volgens die voorwoord vir volwassenes Langenhoven se ‘Fancy’ of ‘Feema’, die persoon wat op sy skouer sit en sê wat hy moet skryf. ‘Elke skrywer wat die moeite van veroordeling wêrd is,’ sê hy, ‘is maar 'n ná-skrywer, 'n opsteller, 'n redakteur, 'n amanuensis - nee, minder nog: 'n telegraafbode om die | |
[pagina 529]
| |
draadlose berigte wat uit die ander wêreld kom, af te besorg.’Ga naar eind138 Die beeld van die ‘telegraafbode’ gebruik Langenhoven ook in sy ‘Beknopte eie lewenskets’ in Aan stille waters. Op 3 Januarie 1928 is Langenhoven besig om die proewe van Die boekie sonder naam te korrigeer, maar hy stuur hulle eers - 'n ongewone lang vertraging vir hom - op 14 Februarie aan Sarah terug. Die rede hiervoor is dat Engela se dogtertjie op 5 Januarie doodgebore word. Langenhoven en Vroutjie is dadelik na Kaapstad en van daar na Laingsburg om Engela en haar man by te staan. Toe hy uiteindelik, terug op Oudtshoorn, die proewe na Kaapstad deurstuur, kom daar 'n ‘In memoriam’ in die plek van die opdrag: Aan enetjie wat nog nie daar was nie
Het ek vooruit my liefde toegedra,
En wagtend hierdie werkie klaargemaak,
En voorin hierdie plekkie oopgelaat
Vir Oupappie se blye toewyding.
Ag, Engela! Net soos jou arms moet maar
Die oopgelate plek hier ledig bly;
My toewyding moet swyg. Gee joue, kind -
Jou liefde vir die hemel hoog genoeg,
Self heilig, heiliger deur droewe leed,
Jou kindjie werd wat vir haar moeder wag.Ga naar eind139
In sy brief wat die proewe vergesel, sê Langenhoven: ‘Ek kan maar nie oor die kleine kind se verlies kom nie en ek sal nooit daaroor kom nie.’ Aan Engela het die ginekoloë gesê dat sy nie weer kinders sal hê nie, en vir Langenhoven - wat self so liefdevol teenoor kinders kon optree en Die Krismiskinders aan die kinders van sy vriende Henry en Queenie Fagan opgedra het - was dit 'n treurige gedagte dat sy geslag met sy enigste dogter beëindig sou word.Ga naar eind140 Wanneer Langenhoven tussen sy joernalistieke werk deur en ná die Parlementsitting terug is op Oudtshoorn, werk hy aan sy aanvullings by 'n stuk of twintig bekende Afrikaanse volksliedjies soos hulle deur Boshoff en Du Plessis opgeteken is of in Joan van Niekerk se liederbundel voorkom. Een van die liedjies, ‘Kompatertjie’, het hy reeds in sy vroeë kinderjare gehoor sing, ‘in 'n soort Nederlandse vorm, tot | |
[pagina 530]
| |
onbetekenis vermink’.Ga naar eind141 Hy was verbaas om by Boshoff en Du Plessis 'n Afrikaanse vorm te ontdek wat op die Nederlandse ‘Het patertje’ teruggaan.Ga naar eind142 Een van die geslaagdste uitbreidings in die versameling is nommer XVII, waar Langenhoven op die struktuur van die klanknabootsende ‘Die hiefel en die fiefel’ met die binnerym en die rymende koeplet voortdig.Ga naar eind143 In Die rooi granaat neem Audrey Blignault dit as uitgangspunt vir een van haar essays.Ga naar eind144 Ou-liedjies verskyn in 1928. Naas hierdie reeks liedjies skryf Langenhoven in die laat twintigeren vroeë dertigerjare ook telkens verse wat hy in Die Burger publiseer. Toe hy deur 'n korrespondent gevra word om by die model van die drie apies wat hulle mond, ore en oë toedruk, 'n Afrikaanse ekwivalent vir die Engelse ‘Speak no evil, see no evil, hear no evil’ te verskaf, stuur hy die volgende teks: Hou toe jou oog teen kwaad;
Teen kwaad hou toe jou oor;
Hou toe jou mond wat kwaad wou praat
Vir ander om te hoor.
En op versoek van 'n ander korrespondent vertaal hy die bekende woorde van president Lincoln, ‘malice toward none, charity for all, firmness in the right’, met die volgende: Teen niemand kwaadgesind,
In almal welbehae;
Teen vyand en teen vrind,
Regvêrdig al my dae.
In 1931 publiseer hy ook 'n hele aantal gedigte in Die Huisgenoot. Saam met ander verspreide verse neem Sarah dit later in deel XVI van die Versamelde werke op.Ga naar eind145 Met Markus Viljoen as redakteur van Die Huisgenoot is Langenhoven se verhouding met dié tydskrif, na die jare van H.G. Viljoen se redigering, weer herstel. Teen die einde van 1929 bereik hy 'n ooreenkoms met Viljoen om elke veertien dae vir Die Huisgenoot 'n ‘storietjie’ te skryf wat oor ses maande sal loop, 'n ‘reeks van nuwe Geeste op Aarde’ wat ‘dof’ voor sy gees ‘skemer’, soos hy dit in 'n brief van 17 November 1929 aan Sarah noem. Intussen stuur hy die eerste verhale | |
[pagina 531]
| |
vir haar aan. So goed vorder hy daarmee en so suksesvol is die reeks in Die Huisgenoot dat hy hulle in Augustus 1930 vir publikasie in boekvorm gereedmaak. Die wandelende geraamte, soos die versameling in boekvorm heet, bestaan uit veertien verhale. In Die Huisgenoot van 5 Desember 1930 het verder nog ‘Spoke-toe met 'n mombakkies’ verskyn,Ga naar eind146 terwyl ‘Ou Hans Veldkornet op die spoor’ in manuskripvorm bestaan.Ga naar eind147 In 'n groot mate volg Langenhoven hier dieselfde patroon as in Geeste op aarde, maar tog is daar verskille. In sy inleiding sê hy dat voorvalle weggelaat is wat van 'n ‘geestesverval’Ga naar eind148 by die spoke getuig, en dat hy verhale uitgesoek het ‘om die arme belasterde geeste verstandelik te rehabiliteer’.Ga naar eind149 Telkens is daar 'n inleiding by die verhale, sodat in elkeen van 'n raamvertelling gebruik gemaak word. Soos in die verhale van Geeste op aarde verhoog dit die werklikheidsillusie, behalwe dat Langenhoven hier verder gaan met die ontginning van die wêreld wat aan hom bekend was. Hy buit ook telkens die besondere eienaardighede van sy vertellers uit, soos die Hollander in ‘Die laaste roos’ en veldkornet Heyns in ‘Die verdwyning van Flip Loots’ en ‘Die kis’. En in ‘Die vernietiging van die professor’ word die werklikheidsillusie deur die verswyging van name versterk. Die verhale in Die wandelende geraamte speel weer af in die bekende wêreld van Langenhoven: meestal die Klein Karoo, maar in 'n enkele geval ook in die Kouveld al langs die Swartberge aan die Groot Karoo se kant. Om hierdie wêreld te bereik, loop die pad deur die Seweweekspoort van Ladismith se kant af, die pad wat Langenhoven telkens in sy jong jare gery het onderweg na sy verloofde, Helena de Vries. Van oom Dirk sê hy dan in die titelverhaal ook ‘dit (het) baie min geskeel of die ou kêrel...was...my skoonvader’Ga naar eind150 - 'n verdere toespeling op sy vroeë liefdesgeskiedenis. In ‘Die spook van Vergeleë’ kom die beskrywing van die plaas baie ooreen met Gideonshoop naby Klaarstroom, waar Helena de Vries onderwys gegee het, terwyl die inleiding tot die Hollandse skoolmeester in ‘Die laaste roos’ duidelik gemodelleer is op Langenhoven se ervaring van meester Bloemkolk. En as hy van die Huisrivierpas in ‘Die vrou voor die hek’ praat, dink hy terug aan die ou Caledonskloofpad, die voorganger van hierdie pas en die pad wat hy baie kere saam met sy pleegouers op die ossewa afgelê het. Hy skryf: ‘Dit moet 'n veertig jaar wees, of miskien langer, dat die pad oor Huisrivier se Berg aangelê is. Voor die tyd het 'n mens van Ladi- | |
[pagina 532]
| |
smith (Kaap) af na Calitzdorp nie 'n berg oor gery nie maar 'n bergpoort deur, die Caledonskloof. Dikwels as kind het ek daardie poort deurgery; ek is seker ek sou baie van die draaie en driwwe en kranse vandag nog herken; en regtig, ek wens ek kon weer daar deurgaan, een maal vir oulaas. Maar ek twyfel of daar vandag 'n rybare pad bestaan. Op sy beste was meeste van die pad pure rivierbed.’Ga naar eind151 Opvallend, so laat in Langenhoven se lewe, is die talle figure, gebeurtenisse en plekke in hierdie verhale wat raakpunte met sy kinderjare en sy tyd as jongman het. Na afloop van die reeks spookverhale skryf Langenhoven nog 'n verhaal, hierdie keer oor verarmde Afrikaners, wat hy ook vir publikasie in Die Huisgenoot bedoel. Hy besluit egter om dit in toneelvorm om te werk. ‘Die ding kook nou, en hy rol van gebeurtenis tot gebeurtenis’, skryf hy op 23 Desember 1930 aan Sarah, maar hy ‘het die afloop en dus die hele gees en uitwerking verander. Selfs by die storie was ek maar nie met daardie gerieflike goedkoop redding, lived happily ever after, tevrede nie. Dis nou wat dit behoort te wees, stark, grim tragedy.’ Soos in Mof en sy mense handel Petronella, soos hy hierdie ‘tragedie van verarming’ noem, oor die ekonomiese agteruitgang in sy onmiddellike wêreld na die val van die volstruisveerpryse. Voor publikasie in 1931 skryf Langenhoven self 'n bekendstelling wat egter nooit gepubliseer word nie. ‘In hierdie stukkie,’ so skryf hy, ‘wat bedoel is vir eenvoudige spelers en eenvoudige gehore, is daar geen vuiligheid, malligheid, Freudiaanse komplekse, siels-uitpluisings, oortollige fraserny of ander gekunstelde hoë kuns nie. Die persone wat optree is gewone alledaagse mense wat onverdietste Afrikaans praat; en wat hulle te sê het is helder van vorm en vatbaar van inhoud, kort en saaklik en onvervelig. Die klas mense wat hulle is, die welvaart en oorvloed van hulle vroeër jare, die later veragtering tot armoede en gebrek, is deur die skrywer swak en onvolledig geskets uit een vir een treurspel van die werklike lewe wat rondom hom afgespeel is. En dit is voldoende resensie. Geen ander word gevra nie.’ Voor publikasie dra Langenhoven die stuk op aan die ACVV, wat vroeër 'n drama van hom nie wou aanvaar nie. Hy doen ook afstand van alle tantièmes ten gunste van die ACVV. 'n Laaste ‘schnipe’ wat Langenhoven skryf, is weer bedoel as leesstof vir die kinders. Dit verskyn in 1931 as Jantjie Muis en Jakob Slang en is geskryf as ‘Verhaaltjies vir Laer Skole’. Telkens is daar in hierdie vyftal verhale 'n dier of plant - in een geval selfs 'n snytjie brood! - aan | |
[pagina 533]
| |
die woord, maar dan met die tipe vermensliking wat in die dierliteratuur en die sprokie so 'n bekende procédé is. Die twee beste verhale is ‘Jantjie Muis en Jakob Slang’ en ‘Kootjie Totjie’: pragtige vertellings met allerlei avonture en in die trant van Brolloks en Bittergal. Almal kom voort uit die agrariese verlede van die Afrikaner, maar dan - soos telkens by Langenhoven - verbind met 'n fantastiese towerwêreld. Deur die prinsipe van herhaling en netjiese binding vorm elkeen 'n mooi eenheid. En by dit alles tref Langenhoven weer met sy meesleurende verteltrant, sy groot krag as kunstenaar en die belangrikste enkele rede waarom hy so 'n suksesvolle ‘schnipe’-skrywer was. | |
IIILangenhoven se toetrede tot die Nasionale Pers beteken nie net dat hy nou as skrywer van gedigte, romans en kortverhale by 'n uitgewer beland met groot afsetmoontlikhede nie. As politieke figuur en as 'n joernalis wat Afrikaans beter as enigiemand anders kon skryf en wat met sy geestigheid en hekeling vir die Nasionale Party van onskatbare waarde was, is sy bydraes tot De Burger vanaf 1915 wyd en gretig gelees. Jare lank het Langenhoven as Sagmoedige Neelsie in sy sporadiese artikels hekelend en soms striemend op die politieke toneel gereageer. Van die senior joernaliste by Die Burger en die uitgewers by die Nasionale Pers wou egter graag hê dat Langenhoven op 'n gereelde grondslag en by wyse van 'n vaste weeklikse rubriek vir die koerant moes skryf. Op 29 Januarie 1922 skryf Sarah Goldblatt aan hom dat Frederik Rompel van die redaksie en Servaas de Wet, bestuurder van die Nasionale Pers, graag wil hê Langenhoven moet met die komende uitbreiding van die koerant 'n rubriek van sy eie keuse behartig. Daar sou nuwe rubrieke in wees oor landbou, finansies, ryksaangeleenthede, binnelandse sake e.d.m. ‘Maar vir jou’, skryf Sarah, ‘wil hy soveel bladsye afstaan as wat jy in beslag wil neem om te skryf net wat jy wil; preek of kasty, of versies maak of landsake bespreek, of ryksake bespreek, of wat jy voor lus het. In ander woorde hy wil jou die plek gee om tot die volk te praat. Hy sê natuurlik dit is 'n dubbele voorreg: vir de B. om jou te kry en vir die volk om jou te lees, maar hoofsaaklik wil hy jou stem heeltemal, sonder enige redaksionele belemmering hoegenaamd, laat uitkom.’ Die enigste voorwaarde is dat Rompel nomineel | |
[pagina 534]
| |
toesig moet hou en dat die spesifieke karaktertrekke van die Nasionale Pers geëerbiedig moet word. Hulle sal Langenhoven 'n besonder goeie ‘salaris’ aanbied en hulle wil graag hê dat hy so gou moontlik moet begin. Uit Sarah se weergawe van Rompel se woorde is dit duidelik dat die Nasionale Pers nie alleen gretig was om Langenhoven as gereelde rubriekskrywer te hê nie, maar dat hulle feitlik agteroor gebuig het om hom te akkommodeer - 'n aanduiding van hoe gewild hy by die lesende publiek was en watter status hy as skrywer geniet het. Daarom dat hulle hom feitlik carte blanche aangebied het. Klaarblyklik was daar ook by Langenhoven self die behoefte om so 'n rubriek tot sy beskikking te hê. Op 30 Januarie 1922 skryf hy - in 'n brief wat met dié van Sarah moes gekruis het - dat hy graag 'n ‘bestendige reëling’ vir sy skryfwerk sou wil tref, ook met die oog op 'n ‘living wage’ - 'n oorweging wat vir Langenhoven in die lig van die onbestendige element wat daar altyd met 'n politieke loopbaan gepaard gaan, van belang moet gewees het. Hy het juis die vorige jaar sy setel in die Volksraad verloor. Hy was nou wel lid van die Senaat, maar dinge in die politiek kon met 'n handomkeer verander en hom sonder inkomste of heenkome laat. Na sy regspraktyk wou hy nie graag weer terug nie. Daarom sou hy so 'n reëling vir sy werk as skrywer - dié aktiwiteit wat hom die meeste vreugde verskaf het - hoog op prys stel. ‘Met 'n vaste beloning’, skryf hy, ‘in plaas van die letterkundige rukke en stote - nou op die blou berge en dan weer in die vaal modder - sal die rukkie gesondheid wat vir my oorskiet seker beter bewaar word.’ Op 2 Februarie - klaarblyklik nog steeds voor ontvangs van Sarah se brief - sê hy: ‘As ek tog maar my eie uitdrukkingsmedium weer had - soos met die ou Zuid-Westen. Nie dat ek weer so bandeloos sou wees soos ek in daardie dae was nie...Ek is intussen tien jaar ouer en besadigder - en ontnugterder - geword. Maar selfs dan, wat sou dit wees om met 'n klokgeskal deur die land te kon getuig en soebat en oorreed.’ In antwoord op Langenhoven se eerste brief skryf Sarah op 3 Februarie dat De Wet persoonlik aan Langenhoven sal skryf. Op 5 Februarie laat sy egter weet dat De Wet nie van skryf hou nie en net praat as reëlings getref moet word, veral as dit 'n Langenhoven betref! Op 'n ernstiger noot sê sy die hele saak is bona fide: ‘Daar is hoegenaamd geen agterspeletjies nie. De W. is so begerig as kan wees vir jou om vroegtydig af te kom [na Kaapstad - JCK]. Dus ek sal hom kan bly maak met die nuus dat jy betyds hier sal wees.’ | |
[pagina 535]
| |
Na hierdie briefwisseling en Langenhoven se aankoms kort daarna in Kaapstad moet daar nog heelwat samesprekinge met Servaas de Wet en Rompel gewees het. In April 1922 kom De Wet egter by Rompel met die blye nuus dat Langenhoven ingestem het om elke week vir Die Burger 'n artikel te skrywe. Hulle het besef dat dit vir die koerant 'n geweldige wins was om Langenhoven op 'n gereelde grondslag as medewerker te kry, want nou kon hulle lesers iets hê om na uit te sien. Die moeilikheid, so het hulle besef, was egter dat hulle uit ervaring wis Langenhoven kon soms erg lastig wees. In die verlede was hy dikwels heftig en opbruisend, en by meer as een geleentheid het hy sy medewerking onttrek. As vaste medewerker sou hy dus binne die omraming van die redaksie ingepas moes word, maar binne daardie grense volkome vryheid geniet. Op Rompel se vraag of dit aan Langenhoven duidelik gemaak is, het De Wet geantwoord dat hulle nuwe medewerker dit heeltemal besef. Rompel het dus vermoed alles sou in die toekoms van hulle optrede afhang,Ga naar eind152 maar in dié stadium het hy duidelik nog nie besef wat daar alles op hom en die ander redaksielede wag nie! Langenhoven het besluit om sy nuwe rubriek, wat elke Maandag sou verskyn en oor twee kolomme of meer sou strek, Aan stille waters te noem. Hy sou egter steeds van tyd tot tyd onder die naam Sagmoedige Neelsie bydraes van 'n partypolitieke aard en ander polemiese sake los daarvan lewer. As Sagmoedige Neelsie het hy sy toorn dikwels teen genl. Smuts gerig of sy vriend en medetaalstryder Preller aangeval. Aan stille waters sou dan, so was die aanvanklike gedagte, rustiger en meer besinnend wees. Waarskynlik, so stel W.F.J. Steenkamp dit by geleentheid, was Aan stille waters egter die ‘misleidendste opskrif’ wat al ooit vir 'n rubriek bedink is. In plaas van ‘stille waters’ was dit soms ‘'n siedende kolk!’Ga naar eind153 Daar het wel van Langenhoven se verse en besinnende stukke in Aan stille waters verskyn, maar meermale was die bydraes erg strydlustig en soms het die hare behoorlik gewaai, veral as hy sy mense oor hulle taal en ander dinge vermaan of as hy allerlei sondes van joernaliste, skrywers en politici oopgevlek het. By meer as een geleentheid het hy skrywers en letterkundiges soos C. Louis Leipoldt, P.C. Schoonees, M.S.B. Kritzinger en F.C.L. Bosman aangeval en sy geliefde vyande die Sappe gelooi. Enkele kere moes Rompel wel ingryp. In 'n stuk wat Langenhoven in September 1923 voorlê, noem hy genl. J.C. Smuts 'n ‘kind der duisternis’, maar dit word met medewete en instemming van | |
[pagina 536]
| |
Langenhoven deur Rompel geskrap.Ga naar eind154 So iets sou in elk geval lasterlik gewees het, en Langenhoven het dikwels op die rand van laster omgedraai! Om Langenhoven in hierdie laaste dekade van sy hoë produktiwiteit as gereelde rubriekskrywer te hê, was soos C.F.J. Muller tereg opmerk, vir Die Burger 'n geweldige aanwins. ‘Sy onvoorspelbaarheid’, skryf Muller, ‘het sy lesers alewig, tien jaar lank, in spanning gehou oor wat hy die volgende Maandag in sy “Aan stille waters” gaan aanbied. Hierdie bydraes het hy gewoonlik met groot sorg afgewerk en nougeset self Sondagaande in Keeromstraat geproeflees, dikwels met Sarah Goldblatt aan sy sy. Dáár het sy besoeke mettertyd legendaries geword.’Ga naar eind155 Oor hierdie besoeke het meer as een redaksielid van Die Burger later lewendige herinneringe gehad. M.E.R. vertel in haar My beskeie deel dat Langenhoven en Sarah die gewone wêreld vir die redaksielede ‘meteens boeiend interessant laat voorkom’Ga naar eind156 het. Meestal was Sarah Sondagaande op haar pos om Aan stille waters na te sien en om te sorg dat, soos Langenhoven dit self gestel het, ‘geen Jood of tittel’Ga naar eind157 van die finale lesing ontbreek nie. W.F.J. Steenkamp, die resensent van Mof en sy mense, wat van Die Volkstem na Die Burger oorgekom het, kon jare later nog Langenhoven se besoeke Sondagaande onthou. ‘Hy moes’, skryf Steenkamp, ‘voor die subredakteurskamer verby en het vriendelik of kortaf, al na gelang van die bui, gegroet. Die nagsubredakteur het daarná dikwels die een en ander omtrent die setwerk te hore gekom. Langenhoven het in 'n binnekamertjie skuins teenoor die hoofsubredakteur se kamer, op die eerste verdieping en aan die suidekant van die gebou, saam met mej. Goldblatt die nasienwerk verrig. Was die setfoute 'n bietjie talryk of Langenhoven in 'n minder goeie bui, dan het vroeg of laat die gerug van die sterk taal die subredakteurskamer binnegedring, weldra gevolg deur 'n kort gestalte met rooi gesig, vonkelende oë en veglustige snor. Dan moes die setters dit ontgeld. Die funksie van die subredakteur was, so het ek dit altans opgevat, om simpatiek te luister en op die regte moment beskeielik 'n kragwoord of twee by te dra. Dan het die nasienery voortgegaan, met miskien nog so 'n gekruide onderbreking. Twee weke later, weer op 'n Sondagaand, is alles pais en vree, kom Langenhoven die subredakteurskamer lieftallig binne om te sê hoe mooi die setters hulle werk gedoen het.’Ga naar eind158 Ten spyte van die labiele ewewig was Langenhoven trots daarop om die rubriek in Die Burger te hê. Die stukke was nooit laat nie en meer- | |
[pagina 537]
| |
male het hy 'n hele paar bydraes gelyktydig gestuur, veral as hy met 'n roman of met politieke verpligtinge besig was. Slegs enkele kere in die tien jaar dat hy Aan stille waters behartig het, was daar nie 'n aflewering nie. Oor sy spelling en inhoud was hy baie puntenerig en hy wou geen afkortings in sy stukke hê nie. ‘Ek word volgens die lengte van die artikel betaal’,Ga naar eind159 het hy by geleentheid gesê. Maar hy kon ook besonder tegemoetkomend wees. Aanvanklik het hy sy artikels met potlood geskryf. Die setters het egter gekla dat die glimmende potloodskrif onder die elektriese lamp amper onleesbaar was. Van 'n tikmasjien het Langenhoven 'n groot afkeer gehad, want volgens hom het dit altyd ander letters getik as wat die skrywer wou hê. Ook van 'n vulpen het hy nie gehou nie; dié was vir hom 'n ‘leegloper’. Toe Rompel egter aan hom sê die setters kla dat hulle die potloodskrif nie altyd kan uitmaak nie, was sy reaksie onmiddellik: ‘Nee, dan sal ek met ink skrywe. Ek is tog te jammer dat ek dit nie eerder gedoen het nie.’Ga naar eind160 Langenhoven se vingers was daarna altyd met ink besmeer, maar hy het met die vulpen volgehou. En ten spyte van sy afkeer van die setters, die Van Donnerhellings soos hy hulle graag genoem het, was hy die gunsteling van die setters. ‘Sy kopie’, skryf Rompel, ‘was altyd skoon en helder. As daar deurhalings in was, het hy die verbetering met drukletters geskrywe om tog baie duidelik te wees, want niks het hom meer gehinder as om ander mense oorlas aan te doen nie.’Ga naar eind161 Hy het 'n baie duidelike, leesbare handskrif gehad. Soms kon 'n mens wel sien dat hy haastig word, maar in die handskrif was daar geen spoor van die stemming nie. ‘Dit was’, sê Rompel, ‘of die werktuiglike skrywery buite sy hart en brein omgegaan het.’Ga naar eind162 En altyd is 'n mens getref deur die buigsaamheid van Langenhoven se styl: die onverwagte sinswending, die verrassende inval, die geestige effek, die weloorwoë besinning, die oortuigende betoog, die mymering, die elegiese toon. Geen Afrikaanse skrywer van sy tyd kon sy instelling so wissel en telkens van aanslag verander nie. En altyd, deur die wisselende stemmings heen, was die lesers daarvan bewus dat hulle hier met 'n skrywer te make het wat 'n meester van sy ambag is en met 'n geniale mens wat terselfdertyd uitmuntend die kuns verstaan om hom in eenvoudige taal uit te druk. Ten spyte van die briljante intellek was dit 'n doodgewone mens wat sonder enige aanstellerigheid met hulle gepraat het. Hy kon onverskrokke wees, geestig en komies, ernstig en droefgeestig, maar uit alles het die woordskeppende krag van sy | |
[pagina 538]
| |
sterk talent geblyk: sy woordspel en antiteses, sy spreukmatige vermoë, sy logiese oortuigingskrag, sy moraliserings. Langenhoven het die lesers van sy tydvak - 'n tyd toe daar op die platteland nog weinig afleiding was en selfs radio-uitsendings nog skaars gehoor kon word - vermaak met sy geestige verhale en boeiende verteltrant. Maar terselfdertyd het hy hulle oorrompel met sy sterk didaktiese inslag, want dit was 'n tyd toe die Afrikanermens nog groot behoefte gehad het aan geestelike leiding en toe populêr-godsdienstige geskrifte druk gelees is. Met sy moraliserings en spreuke het hy sy mense help opvoed deur die deugdelike, die sedelik hoogstaande, die nuttige en die waardevolle te beklemtoon. Jare lank was dit trouens Langenhoven se patroon om sy aflewerings van Aan stille waters met 'n spreuk te laat begin. En hierdie spreuke het inslag gevind en volksbesit geword, want mense het Langenhoven dikwels as bron aangehaal en die spreuke as ‘oerwaarhede’ verkondig. Tot vandag toe is die woorde ‘Langenhoven het gesê...’ steeds onder Afrikaners in gebruik. Langenhoven se eerste aflewering vir Aan stille waters verskyn op Maandag, 24 April 1922, en die laaste - vir 18 Julie 1932 geskryf - word na sy dood op 1 Augustus 1932 gepubliseer. In sy briewe aan Sarah skryf hy dikwels oor sy bydraes, soms met instruksies oor hoe dit geset moet word. As daar foute insluip, kon hy soms baie vererg raak. Op 19 Oktober 1922 kla hy byvoorbeeld oor die talle setfoute in sy stukke: ‘die ongeluk is dat ek vir 'n goeie artiekel alle respek verloor soos vir 'n nuwe pak klere waar daar 'n vetkol of 'n brandgat aan gekom het.’ Hierdie foute was nie altyd Sarah se skuld nie. ‘Regtig Chief’, skryf sy op 22 Oktober, ‘ek weet nie hoe die foute in jou werk kom nie. Ek lees tog baie versigtig soos dit vir my lyk, en as ek die klaargedrukte stuk voor my sien is dit weer so. Ek weet nie dat dit jou skrif is nie [Sarah bedoel: Ek weet dat dit nie jou skrif is nie - JCK] - ek begint dink dis my verstand. Ek sal my uiterste doen om nie meer foute deur te laat nie.’ Tog het Langenhoven geweet sy kopie is by Sarah in die beste hande. Wanneer hy op 4 Oktober 1923 weer 'n stuk stuur, sê hy dat die bydrae reeds 'n tyd gelede klaargemaak is. Aangesien sy 'n week lank weg was met vakansie, het hy dit agterweë gehou, want hy kan nie die proeflesery sonder haar vertrou nie. In 'n brief van 11 Oktober 1923 wys hy haar op gebreekte letters in 'n bydrae van hom. In sy protes hierteen herinner hy haar aan die tipe lesers wat hy het en die besondere omstandighede waarbinne hy as skrywer werk. ‘Ek sê weer, met alle | |
[pagina 539]
| |
mooiigheid, ek wil dit nie verdra nie. Ons het te doen met mense wat nog moet leer lees. Hulle lees nie wanneer hulle vir hulle moet inspan nie.’ Dikwels stuur hy 'n groot hoeveelheid kopie wat vir 'n hele paar aflewerings gebruik kan word. Wanneer hy op 24 Julie 1923 59 bladsye aanstuur, voeg hy by: ‘Dis 'n goeie klomp werk wat ek hiermee stuur - en 'n klomp goeie werk.’ Maar Langenhoven se klagtes het nie net by foutiewe setwerk gebly nie. In sy artikel oor Aan stille waters sê Frederik Rompel dat daar in al die jare nooit enige moeilikheid tussen Langenhoven en die redaksie as die ‘humble musket bearers’ was nie en dat hy nie ‘een keer...dit nodig geag (het) om sy medewerking op te sê nie’.Ga naar voetnoot163 Dit is wel so dat die redaksie dikwels nie van Langenhoven se ongeduld geweet het nie en dat Sarah meermale die ergste storms gekeer het. Tog kon ook Rompel nie onbewus gewees het van enkele ongelukkige insidente nie. In elk geval weerlê die briefwisseling tussen Langenhoven en Sarah Goldblatt Rompel se uitspraak. Die eerste van hierdie reeks moeilikhede vind plaas as Die Huisgenoot onder redaksie van dr. H.G. Viljoen in Mei 1924 'n negatiewe resensie van Preller oor Die Rubáiyát oorneem. Langenhoven is só ontstig oor die ‘vyandigheid en haat’ van die Pers se kant dat hy die reeds voltooide artikels vir Aan stille waters nie pos nie. In 'n brief van 26 Mei 1924 wil hy van Sarah weet waar die ‘vyandigheid’ en ‘haat’ vandaan kom. Snoek se gevoel is ‘natuurlik die gewone Hollander-haat vir Afrikaans en Afrikaners waar hy die leeftog uit maak wat hy in Holland nie kon kry nie. Maar Viljoen? Wat het ek die man gedoen?’ En hy sluit met die somber vraag of Sarah nie dink hy moet maar die Pers en Die Burger verlaat nie, 'n aanduiding dat die labiele Langenhoven deurentyd 'n haat-liefde-verhouding met sy uitgewers gehad het en dat die wonderlik rimpellose verhouding waaroor so baie kommentators later skryf, nie met die feite klop nie. Op 4 Junie 1924 skryf hy aan Sarah: ‘As daar geen uitleg kom nie gaan ek van die B. weg.’ Sarah was verplig om 'n onderhoud met Servaas de Wet aan te vra en 'n verslag van hulle gesprek aan Langenhoven te stuur. Op 9 Junie skryf hy aan haar: ‘Ek kan nie sê dat dit my bevredig nie. Daar is in die hele verslag nie een enkele greintjie van satisfaksie vir my dat ek in die toekoms beter sal behandel word nie. Snoek is nog daar, V. [Viljoen - JCK] is nog daar, die vyande op die Direksie is nog daar - en regtig ek kan nie, ek kannie teen hierdie stelselmatige moedswilligheid uithou nie.... Dis die ergernis oor die | |
[pagina 540]
| |
gees van die behandeling wat my opvreet. De W. praat van takteloosheid aan V. se kant. Takteloosheid biedem. Dis moedswillige vreugde oor die geleentheid om my seer te maak. Ek het jou reeds geskryf, en ek herhaal - maar jy het in die laaste tyd nie al my briewe deurgelees nie - ek herhaal dat Viljoen lieg dat Pr. [Preller - JCK] hom gevra het om die resensie oor te neem. En as dit so was maak dit die saak nie beter nie.’ Hy oorweeg nou om na Pro Ecclesia op Stellenbosch oor te gaan, want hy wil ‘nou eenmaal onder hierdie soort verdommery nie meer buk nie’. Alhoewel die saak uiteindelik wel geskik word en Langenhoven met Aan stille waters en sy publikasies by die Nasionale Pers voortgaan, weier hy alle bydraes vir Die Huisgenoot. In briewe aan Sarah praat hy van Viljoen se ‘onbekwaamheid’ en hy vra: ‘Waar het hy in die eerste plaas aan sy aanstelling gekom? Die Nas. Pers. had mos nie die verskoning dat hy vir hulle onbekend was nie.’ Langenhoven kon dus by herhaling erg emosioneel raak oor setfoute, resensies en wat hy as onbillike of doelbewus haatlike optredes teenoor hom beskou het. In haar veelvuldige latere artikels oor die verhouding tussen Langenhoven en die Pers het Sarah ook, soos Rompel vroeër, hierdie sake netjies verswyg. Billikheidshalwe moet 'n mens darem noem dat dié uitbarstings dikwels kwalik langer as 'n brief geduur het. Soms kon Langenhoven se gemoedstoestand selfs in die loop van 'n enkele brief van hewige irritasie na uitbundige vreugde omswaai. In dieselfde brief waarin hy Sarah vra of hy nie maar van Die Burger moet weggaan nie, skryf hy dat hy weer besig is met 'n nuwe boek en dat hy nou weekin en weekuit daaraan skryf - ‘en ek kan jou nooit sê hoe dankbaar ek is dat die stemming voortduur nie’. Maar selfs mindere dinge as negatiewe resensies kon Langenhoven laat oorkook. Op 3 Februarie 1925 skryf hy aan Sarah: ‘Ek sien in Saterdag se 'Burger', in die 'Kuns en Lettere'-kolom - is dit Hiemstra se werk? - dat Joggom van Bruggen ons grootste romanskrywer is; dat Herrie en Berrie - Dr. SchooneesGa naar voetnoot164 en Dr. die ander van Bruggen - hemel - 'n leerboek oor die letterkunde uitgegee hetGa naar voetnoot165 (ek moet hom in die hande kry); en dat Jan Celliers en Ds. Louw en die onsuksesvolle Slamaaier-bekeerderGa naar voetnoot166 (waarom probeer hy nie by die Jode nie?) 'n klompie Gesange-vertalings uitgegee het maar dat hulle nie by Totius se Psalm-werk kom nie, en dat Langenhoven se Gesange benede melding is vir vergelykingsdoeleindes. Wanneer sal die oorsaaklose haat van die Burger-redaksie teen my ooit op 'n end kom? Seker nie so lank | |
[pagina 541]
| |
as ek altyd met soet nederigheid en diensvaardigheid wat hulle van geeneen van hulle afgodjies kry, by hulle bly nie.’ So omgekrap is hy oor die ophemeling van ander se werk en die verswyging van sy eie dat hy Die Burger telegrafies in kennis stel dat hy Aan stille waters staak. ‘Hulle het nou so lank oorsaak gesoek om van my ontslae te raak,’ skryf hy op 7 Februarie 1925 aan Sarah, ‘hulle sal goddank bly wees dat hulle eindelik hulle sin gekry het.’ Uiteindelik is ook hierdie probleem weer opgelos en het Langenhoven met sy rubriek voortgegaan, al het die verhouding met die Pers altyd 'n element van onrus bevat. Tog was Langenhoven dikwels meer as inskiklik en bereid om 'n stuk terug te neem as dit volgens die oordeel van Rompel nie in enigiemand se belang was om dit te laat publiseer nie. In sulke gevalle, so vertel Rompel, was dit Langenhoven se gewoonte om die artikel dadelik stukkend te skeur en in die snippermandjie te gooi.Ga naar voetnoot167 Reeds in Julie 1922 het Langenhoven dit oorweeg om van die eerste Aan stille waters-stukke saam met sy Gesange - wat in hierdie tyd ook in die rubriek verskyn het - in boekvorm op te neem en die Sagmoedige Neelsie-stukke apart te bundel. Van 'n keuse uit Aan stille waters kom egter aanvanklik niks nie, terwyl hy die Sagmoedige Neelsie-bydraes, meestal stukke wat deur die politiek van die dag ingegee is, nooit versamel nie. In 1928 besluit hy om 'n keuse uit die artikels uit sy rubriek sedert die aanvang saam te stel. In 'n brief van 7 Junie 1928 skryf hy aan Sarah hy is ‘bitter hartseer oor die klomp stukke wat ek moet weggooi om op die klein deeltjie te kom, stukke wat dit regtig nie verdien nie’. Eintlik, sê hy, moes ‘alles gepubliseer (gewees het)’, want volgens ‘geen standaard waar ek van weet is wat ek nou uitsoek goed en wat ek laat bly sleg nie’. Langenhoven se keuse uit Aan stille waters verskyn vroeg in 1929, gevolg deur 'n tweede in 1941 wat Sarah, met die uitsondering van een artikel, vir die Nasionale Pers se Kwarteeu-serie uit die bydraes van 1931 en 1932 saamstel. Dit is die omvangrykste werk in die Langenhoven-oeuvre en in samestelling en diversiteit vergelykbaar met Ons weg deur die wêreld. P.C. Schoonees noem Aan stille waters ‘die dagboek van Langenhoven se siel’,Ga naar voetnoot168 'n karakterisering wat Rob Antonissen met instemming aanhaal.Ga naar voetnoot169 Hierdie kensketsing is veral waar van ‘Lied van die harlekyn’ en ‘Brief van die harlekyn’,Ga naar voetnoot170 waarin Langenhoven aansluit by die Pierrot-figuur uit die tradisie van die Commedia dell'arte, wat hy waarskynlik uit Shakespeare se ‘fools’ geken het, nou | |
[pagina 542]
| |
toegepas op die kunstenaar wat die mense moet vermaak. Inderdaad verwoord Langenhoven hier, regstreekser as elders in sy oeuvre, sy intiemste binnelewe: sy beroep as skrywer-harlekyn wat hy lank voor N.P. van Wyk Louw as sy ‘ambag’Ga naar voetnoot171 omskryf, sy oorgevoeligheid wat hom teen resensente laat uitvaar, sy diep verborge wanhoop terwyl hy aan die sotte humor moet meedoen en sy ‘anderstigheid’Ga naar voetnoot172 wat dikwels nie deur die mense begryp word nie. In dié verband haal hy aan uit J. Arthur Thomson se What is man?: ‘Mental instability is...the tax that has to be paid for genius’,Ga naar voetnoot173 'n aanhaling wat 'n belangrike sleutel is tot Langenhoven se insig in sy eie gemoedsgesteldheid. Schoonees se omskrywing van Aan stille waters as ‘die dagboek van Langenhoven se siel’ wek egter verkeerdelik die indruk dat ons hier uitsluitlik met intieme belydenisse te make het. Dit is allermins die geval, want die twee versamelings val juis op deur die groot diversiteit in die bydraes, meestal weg van die binnelewe van die ek. Naas toesprake waarin Langenhoven logies betoog, vind 'n mens hier die fyn spottende aanslag en satire, naas geestige situasies in die daaglikse lewe die mymeringe van 'n denkende mens en die ywer en hartstog van die idealis wat sy volk tot groter hoogtes wil voer. Slegs in enkele gevalle kan daar van direkte belydenisse gepraat word. Eerder kan sy omvangryke briefwisseling met Sarah Goldblatt die ‘dagboek van Langenhoven se siel’ genoem word. Aan stille waters begin met 'n beknopte, geestige lewenskets waarin erns en spot, feitelikheid en fantasie fyn verbind word. Dit word gevolg deur 'n reeks limerieke, versies, vertalings, raaisels, spreuke, toesprake, vermanings, mediterings en kort verhaaltjies waarin die karakters Stoffel, Soetlief, Grietjie en Vroutjie feitlik as neweprodukte van Doppers en Filistyne 'n rol speel. Langenhoven vertaal dikwels uit digters soos Cowper, Burns en Longfellow wat nie tot die hoofstroom van die negentiende-eeuse Engelse poësie behoort nie, uiters selde of nooit uit werk van groot meesters soos Shelley, Keats en Byron. Die verse handel meestal oor speelse liefde of natuurverskynsels, meermale met 'n didaktiese inslag en geskryf met die gebruik van vaste metriese en strofiese skemas. Van die beste stukke in die eerste afdeling is die geestige bydraes, soos ‘My spook-ontmoeting op die En-See-See’ en ‘Neelsie en Vroutjie veg 'n duel’,Ga naar voetnoot174 waarin Langenhoven die soort verbinding van fantasie en werklikheid wat ons in sy ‘schnipes’ aantref, voortsit. Dikwels verstrek hy ook in die stukke biografiese inlig- | |
[pagina 543]
| |
ting, al word dit weer meermale met sy geestigheid verweef. So weet ons byvoorbeeld uit 'n bydrae soos ‘Die voorgestelde motor’ dat Langenhoven self nooit 'n motor besit het nie. ‘Maar hoe uitstekend 'n motor ook vir my sou deug,’ skryf hy, ‘vir hom sou ek nie deug nie. Met my eerste rit sou ek ewemense doodtrap - en dis nog nie so erg nie, ander motorbesitters doen dit almal - maar ek sou myself verongeluk deur ingedagte afgronde in te ry. Dan nog liewer moes ek 'n perd hê, of al was dit 'n donkie, wat nie te onverbiddelik gehoorsaam is aan sy bestuurder nie. (Maar moenie nou weer daarvoor kollekteer nie. 'n Perd is vir my te wild en 'n donkie te mak.)’Ga naar voetnoot175 Die sketse en verhale van die tweede afdeling van Aan stille waters het baiekeer 'n sterk mediterende inslag en dikwels is dit, soos telkens in hierdie tipe werk van Langenhoven, ou mense wat as karakters optree. Telkens, soos ook in die eerste afdeling, kom die skeppingsproses en die skryfaksie ter sprake en gedurig word dinge aangespreek wat ons na Langenhoven se eie lewe op Oudtshoorn kan herlei. ‘Toe ons vanmelewe hierdie erf kom bewoon het’, skryf hy in ‘Self-onderhoud’ in 'n gedeelte wat duidelik op Arbeidsgenot slaan, ‘...was die erf 'n kale woestyn. Elke boom wat hier staan (buiten 'n bamboes wat ek geplant het vir sweepstokke en pypstele, en 'n pereboom wat ons hier kom kry het en wat ons vir die laaste tien jaar sukkel om uit te roei omdat hy onder die grond dra en oral waar jy hom nie wil hê nie lote opskiet nes 'n wilde populier) elke boom, sê ek, is deur Vroutjie hier geplant en grootgemaak.’Ga naar voetnoot176 Hy self is nie lief vir tuinmaak nie, maar vind sy vreugde in waterlei - 'n uitspraak wat hy opvolg met 'n fyn beskrywing van die hele proses waarin hy ook die leser as deelgenoot deur regstreekse aanspreking betrek. Sommige besonderhede wat hy in fiktiewe verhale invleg, kan toespelings op sy eie lewe of ervarings in sy distrik wees, soos die karakter Gideon, wie se moeder vyf dae na sy geboorte dood is in ‘Die skaduwee van die skyndood’,Ga naar voetnoot177 en die val van die vere in ‘Die versmaaide uitleg’.Ga naar voetnoot178 Een van die uitmuntendste essays van Langenhoven, ‘In memoriam’, handel oor die dood van Langenhoven se geliefde sipresboom na 'n langdurige droogte. ‘Moenie glo dat hy een van die vaal stywe kersregoppes was wat by die kerkhowe groei nie’, begin sy beskrywing van die boom. ‘Dit was die donker-groen geurige sipres met wyd-spreidende takke...’Ga naar voetnoot179 Onder die skaduwee wat hierdie takke in die tuin gemaak het, was Langenhoven se geliefde skryfplek. As hy nou oor die dood van sy boom mymer, | |
[pagina 544]
| |
dink hy na oor die dood van 'n geliefde mens en momente uit sy eie werk wat onder die boom, sy ‘eintlike ambagswinkel’,Ga naar voetnoot180 ontstaan het. En na die lang uitweiding kom hy dan uiteindelik by die droewige relaas van die droogte, die magtelose pogings om die boom van 'n gewisse dood te red en hoe Vroutjie in sy afwesigheid die dooie boom laat uitkap het. Aan die slot van die essay neem die boom 'n feitlik menslike gestalte aan en word die gemis ervaar soos die verlies van 'n geliefde familielid. Selde het Langenhoven so voortreflik daarin geslaag om mymering en uitbeelding, vertelling en kensketsing, relaas en lering só te verbind dat die een feitlik osmoties in die ander oorgaan. Die didaktiek wat dikwels hinderlik-opsigtelik by Langenhoven kan word, bly hier tot suggestie en 'n onderstroming beperk. Maar ook ander stukke in dié afdeling behoort tot die beste prosa van Langenhoven, soos ‘Die vlieg’,Ga naar voetnoot181 wat een van sy skitterendste geestige karakteriserings is, ‘Mymeringe van 'n grysaard’,Ga naar voetnoot182 waarin een van sy bejaarde figure die woord voer, die aangrypende ‘Oor die sloot’Ga naar voetnoot183 oor die dood van sy hond en ‘Garingtolletjies en vrugtepitte’,Ga naar voetnoot184 wat Vroutjie se ywer voor die naaimasjien uitbeeld terwyl sy kleertjies maak vir Engela se baba wat by die geboorte gesterf het, 'n stuk wat voor dié gebeurtenis geskryf is en in die lig daarvan 'n skrynende element bykry. Orals in hierdie sketse en verhale word die leser getref deur Langenhoven se praatstyl en die wyse waarop hy met die taal kon speel. Dikwels word sy stukke deur 'n te losse struktuur of opsigtelike lering ontsier, maar telkens verras hy sy leser deur die verbluffende kyk op sake en die oorspronklike woord of beeld wat daarmee gepaard gaan. Wat sy beheer oor Afrikaans betref, is daar nie 'n enkele tydgenoot wat hom kon ewenaar nie. En dit is geen geringe prestasie nie, want Afrikaans het in die twintigerjare nog maar oor 'n uiters beperkte woordeskat beskik en was 'n onvaste taal waarin baie dinge nog vir die eerste keer gesê moes word. Skrywers soos D.F. Malherbe en Gustav Preller wou aan Afrikaans 'n sekere ‘waardigheid’ probeer gee deur 'n stilistiese koers te kies wat met die uitbuiting van die ‘hoë’ styl van Tagtig vir die ontwikkeling van die literatuur skadelik was. Indertyd is hierdie rigting deur die kritiek hoër geag as die gewoner werk van Langenhoven en skrywers soos M.E.R. Dit sou trouens tot die vyftigerjare duur voordat daar finaal 'n herwaardering en suiwerder evaluering sou kom. Die slotgedeelte van Aan stille waters bevat ‘gewigtiger’ stukke, | |
[pagina 545]
| |
dikwels geleentheidsredes of toesprake. In ‘8 Mei 1925’,Ga naar voetnoot185 die datum toe Afrikaans as amptelike taal erken is, bring hy die Afrikaner se situasie in verband met die Babiloniese ballingskap van die Jode, terwyl hy in ‘Vyf-en-dertig jaar gelede’Ga naar voetnoot186 sy pro-Engelse toespraak as student vermeld en die agtergrond skets wat hom destyds daartoe beweeg het om pro-Engels te wees. In ‘Om te handhaaf en te hou’Ga naar voetnoot187 praat hy oor die erfenis wat die Voortrekkers ons gelaat het en wys hy op die ‘oorstelpende meerderheid’ van die swart bevolking van Suid-Afrika. In vergelyking met baie politici wat hierdie problematiek verwaarloos of doelbewus vermy het, sê Langenhoven uitdruklik dat die blanke ‘regverdig’ moet bly en moet ‘waak teen onreg en onderdrukking’,Ga naar voetnoot188 'n uitspraak waarmee hy 'n voorloper word van N.P. van Wyk Louw se idee van ‘voortbestaan in geregtigheid’. 'n Stuk soos ‘De krib onzes Heeren’Ga naar voetnoot189 is gedeeltelik 'n klein voorspel tot Van Wyk Louw se herhaalde besinnings oor die heldedom, terwyl sy skerp reaksie op die styl van baie beroepsresensente in ‘Die siel van die Afrikaanse taal’Ga naar voetnoot190 aan Van Wyk Louw se soortgelyke besware in Lojale verset laat dink. In Aan stille waters II het Sarah Goldblatt 'n verdere versameling bydraes uit Langenhoven se rubriek gebundel, sonder dat hulle soos die eerste tematies of volgens genre gerubriseer is. In 'n stuk soos ‘Slegte namaaksels’Ga naar voetnoot191 is Langenhoven weer besig met sy geliefde vyande: Afrikaners wat hulle lywe Engels of Hollands hou: die jingo's en die Dietse Sappe. Van die twee soorte, sê hy, lyk die Dietse Sap vir hom die verspotste, want ‘hy wil 'n dooi ding opgrawe wat hier gesterf het omdat hy hier geen lewenskrag had nie’.Ga naar voetnoot192 Op 'n ernstiger trant skryf hy in ‘Die Unie en Afrikaans’Ga naar voetnoot193 hoe pres. Steyn en genl. Hertzog as lede van die Nasionale Konvensie moes aandring op die erkenning van Hollands, omdat alle ander besprekings sonder nakoming van daardie voorwaarde nutteloos sou gewees het. Niemand het eers in daardie stadium aan Afrikaans gedink nie. Vandag nog vind 'n mens in Afrikaans soms 'n onbeholpe uitdrukking, een van die pryse wat ons vir ons laat ontwaking moet betaal. ‘Vir die Engelssprekende leerling’, skryf hy, ‘is daar Engelse skole met 'n skooltradisie deur lange generasies opgebou. Ons moes eenkant bakstene aandra om ons allereerste skoolgeboue op te rig terwyl ons anderkant met die abc-boek en spelreëls besig was.’Ga naar voetnoot194 Van Nederlandse kant is daar vir ons hulp te kry wat ons nie van Engels kan kry nie, maar dan moet ons keer, skryf hy | |
[pagina 546]
| |
na aanleiding van 'n toespraak van prof. Smith, ‘om nie ons eie opsy te stoot om vir die vreemde plek te maak nie...Ons is niemand se arm familie om liefdadigheid en minagting te ontvang nie.’Ga naar voetnoot195 Tussen al die vermaaklike en geestige bydraes deur skryf Langenhoven telkens oor politieke en literêre sake van die dag. Daar is artikels oor die afstap van die goudstandaard, waarteen hy gekant is, die Statuut van Westminster, die Vrede van Versailles en die ‘taktvolle minsaamheid (en)...staatsregtelike bekwaamheid’Ga naar voetnoot196 waarmee Hertzog in 1926 ons soewereine onafhanklikheid verkry het. Wat die leeslus van die Afrikaner betref, bepleit hy 'n boekrak vir elke huisgesin en betreur hy dit dat 'n mens op die gemiddelde dorp nie 'n Afrikaanse boek te koop kan kry nie. Oor die Suid-Afrikaanse Akademie is hy nie gunstig te spreek nie, al het dié liggaam - so formuleer hy dit ironies - ‘langsamerhand 'n nuttige plek in ons 'kulturele' samelewing verwerf(:)...Wanneer hy 'n boek met 'n prys bekroon, weet jy om versigtig te wees voor jy die boek koop want daar het 'n sterk waarskynlikheid ontstaan dat hy onleesbaar sal wees.’Ga naar voetnoot197 En dat hy nie baie ingenome was met die stilistiese hoogdrawenheid van D.F. Malherbe se romans nie, lei 'n mens af uit die feit dat hy hom nog altyd ‘Klokgrassies’ noem, ‘na sy lieflike werkie van 'n agtien twintig jaar gelede. Teenswoordig is hy ontevrede met die naam; hy wil liewer onthou word aan sy hoër werke van die later jare. Maar vir my is hulle te hoog.’Ga naar voetnoot198 Telkens in die bydraes tot hierdie tweede versameling Aan stille waters-stukke kom Langenhoven se eie ervarings of herinneringe aan sy jeugjare ter sprake. Nadat hy die eerste en enigste keer in sy lewe 'n lugreis onderneem het, skryf hy 'n vermaaklike denkbeeldige onderhoud met 'n joernalis oor sy indrukke. In een van die toesprake wat hy afdruk, verwys hy na 'n vergadering wat hy tydens 'n verkiesing op die sportterrein sou toespreek ten einde die ‘massas van kiesers wat sou toestroom’,Ga naar voetnoot199 te akkommodeer. Op die aangekondigde uur daag daar toe net 'n stuk of ses toehoorders op, want die ‘teëparty had naamlik 'n plan uitgedink om die kiesers van my vergadering weg te hou. Hulle had 'n vliegtuig bestel om op dieselfde uur 'n besoek aan Oudtshoorn te bring en op die vlaktes aan die ander kant van die dorp neer te daal.’Ga naar voetnoot200 Wanneer sy sambreel by die Senaat wegraak en hy 'n kennisgewing aanbring met die versoek dat die agbare kollega wat dit geneem het, dit op die rak moet terugsit, ontvang hy nie minder nie as nege en dertig sambrele! Elkeen het hom verbeel hy is die skuldige, gedagtig | |
[pagina 547]
| |
aan vorige sambrele van Langenhoven wat weggeraak het. In 'n vermaaklike stuk oor die voorval oorweeg hy nou 'n uitverkoping van die agt en dertig ander sambrele!Ga naar voetnoot201 Toe hy sy tande moet laat trek, lei dit tot twee van sy geestigste stukke: ‘Sonde met die tande’, wat op 11 Julie 1932 in Die Burger verskyn en in Aan stille waters II opgeneem word, en die ewe vermaaklike ‘My tande’ in Die Burger van 12 Maart 1923 - 'n voorloper van die latere stuk. Wat sy en Vroutjie se gewoontes betref, sê hy dat hulle albei nie van 'n hotel hou nie omdat hy nooit leeg word nie en ook nie van 'n losieshuis nie omdat hy nooit vol word nie. Daarom, met 'n versweë verwysing na Sarah Goldblatt, gaan hulle maar altyd by 'n ‘jongejuffrou’ tuis wat pas 'n Baby Austin gekry en hom Herrie gedoop het. In ‘'n Grysaardsdroom’Ga naar voetnoot202 skryf hy 'n fantasie oor hoe hy en Vroutjie saam met Saartjie in die motor sal ry, 'n verbeeldingsvlug waarin hy sy eie Sonde met die bure en Herrie op die óú tremspóór betrek. In aansluiting by 'n tipiese karaktertrek waarby hy ook in U dienswillige dienaar stilstaan, sê hy in ‘Agtelosige korrespondente’Ga naar voetnoot203 dat hy van nature ‘vergeetagtig, kort van gedagte, stadig van vernuf, agtelosig’ is. ‘Maar van hierdie gebreke’, gaan hy voort, ‘is ek bewus; ek het 'n lang lewenstyd gehad om met hulle, en hulle gevolge, kennis te maak. Daarom het ek my daarop toegelê om op my hoede te wees en van verdubbelde omsigtigheid 'n gewoonte aan te kweek. Jy sal my nie sien van 'n tafel af opstaan of uit 'n kamer loop sonder om weer, en somtyds weer en weer, om te draai om te kyk of ek nie daar iets laat lê het nie.... Vroutjie ly nie aan my gebreke (of aan haar eie) nie; daarom het sy dit nie nodig gevind om haar gewénd te maak om daarteen te waak nie. Nie te lank gelede nie sit ek en sy die aand ná ete weerskante van die tafel en briewe skryf. (Sy skryf maklik, ek skryf swaar, maar dis ook 'n swakheid waarteen ek my gewénd gemaak het om my te verset.) Kyk sy op, tussen een brief en die volgende - díe wat sy net klaar had was 'n lange aan haar dogter wat op kuier was in Skotland - en sy sit my en uitlag omdat ek my brief weer en weer uit die koevert haal om nou seker te maak dat dit die regte brief is vir die adres wat ek van plan is om op te sit en dat daar nie bladsye uitgelaat is of ander dinge ingesit is wat nie daar hoort nie. Ek laat haar maar lag - ek sien haar enige tyd liewer lag as andersins. Die volgende aand wou sy weer skryf, maak haar skryfkissie oop, bars teen my uit: “My in den hemel, nog toe, Kerneels, hier is die eerste bladsy van my dogter se brief agtergebly!” Dit was my beurt om te lag, maar ek sê jou mos ek het versigtigheid aangekweek.’ | |
[pagina 548]
| |
In sy tyd was Aan stille waters die gewildste rubriek in 'n Afrikaanse koerant en tot vandag toe een van die geslaagdste ondernemings van dié aard in die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek. Menige leser, so skryf Frederik Rompel, het aan lede van Die Burger se redaksie gesê dat ‘as hy so besig was dat hy geen tyd kon vind om 'n koerant te lees nie, hy tog steeds Maandag se Burger met Stille Waters weggebêre het om dit te geniet as hy net 'n halfuur kon afknyp’.Ga naar voetnoot204 Dit kon Langenhoven regkry, omdat hy so eenvoudig, op die man af en boeiend kon skryf. En daarby het lesers meestal nooit geweet wat om te verwag nie, want Langenhoven kon met sy veelsydigheid oor baie en uiteenlopende sake skryf en sy menigvuldige grille het aanleiding gegee tot woedende aanvalle en snydende satires naas logiese betoë en stemmige meditasies. Werklike stiltes het Aan stille waters selde beleef, want die stuwende, onstuimige Langenhoven kon nooit lank op een plek bly stilsit nie. Naas sy oorrompelende styl was die veelkantigheid van die mens Langenhoven juis die rede waarom hy gretig gelees is en lesers reikhalsend na die verskyning van sy rubriek uitgesien het. | |
IVLangenhoven het lank nie net met behulp van sy ‘schnipes’ aan die publiek leesstof verskaf en met Aan stille waters tot hulle kennis en opvoeding bygedra nie. As redenaar het hy by herhaling op uitnodiging opgetree om oor onderwerpe van uiteenlopende aard te praat. Enkele van hierdie redes versamel hy in 1923 in Die opdraande pad. Maar by redes het dit nie gebly nie. In die twintigerjare skryf hy 'n hele aantal boeke waarmee hy die lesende publiek op 'n verskeidenheid gebiede wou inlig, in die besonder die skoolgaande jeug en die talle lede van sy volk wat nie die voorreg van veel onderwys geniet het nie. 'n Mens kan dus sê dat hy 'n soort leke-onderwyser wou wees wat met 'n aantal ‘nuts’-boeke sy mense wou opvoed. In dié opsig was hy 'n voorloper van die hedendaagse ‘people's education’. Van hierdie ‘nuts’-boeke handel oor onderwerpe wat ver van die letterkunde verwyder is en gebiede van die natuurwetenskappe aanraak, terreine waarin Langenhoven van vroeg af baie geïnteresseerd was. Hy het geen naskoolse opleiding in dié rigtings gehad nie, maar hy kon op gesellige trant wetenskaplike onderwerpe uitpluis en ingewik- | |
[pagina 549]
| |
kelde sake glashelder uiteensit. Só onderhoudend kon hy skryf dat niemand, soos P.J. van Biljon dit stel, ‘steeks geraak (het) as die onderwerp so stilletjies in 'n wetenskaplike rigting gestuur is nie. Hy neem sy leser as 't ware aan die hand en lei hom ongemerk tussen die slagysters van moeilik verwerkbare feite deur.’Ga naar voetnoot205 In die tweedelige Van die aarde na die sterre, wat hy in 1926 publiseer, die eerste van die natuurwetenskaplike studies wat hy voltooi, skryf Langenhoven 'n inleiding tot die sterrekunde met die aksent op die ontwerp en redelikheid van die heelal. Hoe meer die mens leer, sê hy, ‘hoe dieper word die verpletterende besef van ons nietigheid teen die Oneindige Ewige - ons, oomblikswesentjies op 'n warrelende sandgreintjie om 'n vlietende vlammetjie swewend oor die afgronde van die ruimte’.Ga naar voetnoot206 Die twee boeke is die verdere uitbouing van 'n reeks artikels wat hy reeds in Het Zuid-Westen gepubliseer het. Hulle sluit met die kerngedagte van die minutieuse kleinheid van die mens teenoor die almagtige grootheid van die heelal en die Skepper by soortgelyke voorstellings elders in sy oeuvre aan, soos byvoorbeeld in Die Hoop en Die Vrou van Suid-Afrika. Die werk aan die ‘sterreboekie’, so skryf hy op 6 Julie 1926 aan Sarah, het aan sy gees 'n ‘heerlike afleiding’ verskaf, maar van al die uitputting het hy flou geword en moes hy ‘kooi-toe’. In die lig van die onbillike behandeling wat hy so dikwels van resensente ontvang, het hy uit ‘skone desperaatheid, om nie mal te word nie,...die sterreboekie geskryf om daargunter in die hemel te soek na wet en redelikheid’. So 'n uitspraak gee weer 'n aanduiding van die persoonlike inset waarmee Langenhoven selfs 'n geringe skryftaak onderneem het en watter terapeutiese verligting sy werk vir hom was. Ter aanvulling by die ‘sterreboekie’ voltooi hy ook 'n ontwerp vir 'n sonnewyser waarop die ure van die dag, die jaargetye en die datums van die jaar gewys word. Oor sy ontwerp skryf hy op 30 Augustus 1926 'n artikel in Die Burger. Hy hoop dat elke skool so 'n sonnewyser kan laat bou. Na voltooiing van die ‘sterreboekie’ is Langenhoven besig met 'n ‘waterboekie’ wat hy vir skoolleerlinge skryf, teen die agtergrond van sy eie bemoeienis in die talle watersake wat hy behartig het. Hy noem die boek Water en sy aard en dra dit by publikasie in 1928 op aan A.I. Perold, wat sy feite kontroleer. Soos Van die aarde na die sterre is die boek bevatlik geskryf, met die gebruiklike afwisseling van betoog en beeld en met 'n toespitsing op die bekende Langenhoven-wêreld van | |
[pagina 550]
| |
Grasveld, Klein Karoo en Groot Karoo. Hy begin met die boekie in September 1926, maar omdat Kruse en Snoek minder geesdriftig is oor dié soort werk, skuif hy dit vir eers opsy. ‘My vyande’, so sê hy na aanleiding van negatiewe kritiek in 'n brief van 20 September 1926 aan Sarah, ‘het daarin geslaag, met aanhoudende verguising, om die publiek onder die indruk te bring dat ek 'n kwaksalwer en sjarlatan is wat op die laaste gebied indring waar ek geen vakkennis het nie.... Lyk vir my daar is niks op aarde waarvoor my diens deug nie; ek kan netso goed maar doodgaan as 'n nuttelose beslaner van die aarde. My vyande het hulle doel bereik.’ Die ‘meetkunde-boekie’ waaraan hy reeds heelwat werk gedoen het, laat vaar hy heeltemal, maar die ‘waterboekie’ word tog later voortgesit en verskyn in 1928. Voor dit kon verskyn, voltooi hy ook Die goeie burger, waarin hy vir die jong leser lesse oor die burgerlike lewe en pligte oordra, nou met die verhaal van Wildeman - 'n soort Tarzan-figuur - wat by bobbejane grootword as uitgangspunt vir die lering. Maar dit is veral op die gebied van die Afrikaanse taal en letterkunde dat Langenhoven sy wesentlike bydrae, ook as didaktikus, kon lewer. Wanneer die Parlement in 1925 Afrikaans as amptelike taal erken, voel Langenhoven verplig om vir die Engelstalige lede 'n grammatikale inleiding tot Afrikaans op te stel soos hy dit vroeër vir sy Engelse vriende op Oudtshoorn met The royal road to Cape Dutch gedoen het. In Desember 1925 is hy druk besig met sy ‘practical grammartjie’, 'n werk wat hom behoorlik vashou. ‘Die moeilikheid’, so skryf hy op 29 Desember 1925 aan Sarah, ‘is om hom behoorlik te gradueer, om nie te herhaal nie, om nie te antisipeer nie...en veral om te weet wat om uit te laat - wat kan uitgelaat word sonder om die leerling te mislei. Ek moet agteruit en vooruit gaan en verander en aftrek en byvoeg en oor en oor oorskryf. Maar ek hou my geduld - hemel, ek is darem 'n geduldige man - en ek begint die werk al amper netso te geniet as aan 'n Almal se Boek. Dis so mooi om die logiese plan onder my hande te sien groei. Regtigwaar amper alweer 'n schnipe. 'n Uitstekende ding vir my rustelose siel - rusteloos, rusteloos, alweer - dat ek op die gedagte gekom het van hierdie stukkie werk.’ Op Oujaarsaand 1925 is die hele boek, wat hy A first guide to Afrikaans noem, klaar en op 2 Januarie 1926 pos hy dit aan Sarah. Hy dra dit op aan die Engelstalige lede van albei huise van die Parlement uit erkentlikheid vir hulle ‘cordial and unanimous support of the amendment to our Constitution which made | |
[pagina 551]
| |
Afrikaans an official language of the Union’. Die boek bestaan uit 'n inleiding tot die grammatika van Afrikaans, telkens met oefeninge, en 'n behandeling van die spelling, woordeskat, werkwoord, selfstandige naamwoord, volgorde van woorde, voornaamwoord, bywoord, ander grammatikale verskynsels, idiome en aanbevelings vir verdere lees. Die reaksie op A first guide to Afrikaans, wat in die middel van 1926 verskyn, lei tot een van Langenhoven se heftigste uitbarstings. In sy artikel oor Aan stille waters sê Frederik Rompel dat Langenhoven in 'n bydrae tot sy weeklikse rubriek in Die Burger by geleentheid heftiger as ooit tevore gereageer het op ‘'n bekende letterkundige’ wat hom aangeval het. Rompel vermeld nie die naam van dié kritikus of watter boek van Langenhoven die negatiewe kritiek uitgelok het nie. Die stuk was vir die redaksielede te skerp om gepubliseer te word, maar terselfdertyd wou hulle sorg dat Langenhoven nie - soos sy gebruik was - die bydrae opskeur nie. Rompel skryf: ‘Daar is meesters in dergelike letterkundige polemieke, beroemde voorbeelde in die buitelandse letterkunde, maar soos Langenhoven daardie slag sy teenstander afgemaak het, het hy dit nooit tevore en nooit na die tyd gedoen nie. Alle buitelandse illustere voorgangers het hy daarmee oortref. Hartstogtelik was sy taal, die vonke van sy genialiteit het gespat, die vonke van sy woord ook, en die hele betoog is opgevoer na 'n skitterende klimaks. 'n Oomblik het ons dit jammer gevind om 'n dergelike letterkundige produk nie te laat verskyn nie, maar ons het uiteindelik gemeen dat dit vir alle partye, ook vir Langenhoven self, beter sou wees as dit nie die lig sou sien nie. Onderwyl hy lees, en ons luister in stygende, tot geesdrif groeiende bewondering, het die gedagte by ons geryp dat dit nie vernietig mag word nie. Hoe kon ons dit red? Ons het geweet dat Langenhoven sy artikel nie sou laat druk as ons dit sou afraai nie. Maar dan sou dit tegelyk ook vernietig word. Ons het bedenktyd gevra, kon dit te gemakliker doen, omdat Langenhoven diep verontwaardig was en dit 'n oorwinning op sy hartstogtelike woede sou wees waarvoor hom beraad moes gegee word. Dadelik het hy daarin berus. Toe hy weg was, het ons na prof. Smith gegaan, wat baie invloed op hom gehad het - wisselwerking trouens, want Langenhoven se invloed op prof. Smith was eweneens aansienlik. Ons het die professor gevra om ook sy eerlike oorredingskrag op Langenhoven te laat geld om die artikel nie in druk te laat verskyn nie. Maar daarmee was die skitterende stylproduk nog nie gered nie. Mej Sarah Goldblatt, sy sekretaresse, moes ons help. Sy | |
[pagina 552]
| |
het daarin geslaag om die stuk in hande te kry, en toe dit aldus in veiligheid was, het ons Langenhoven versoek om dit agter te hou. Ook hierdie slag het hy hom deur die raad, veral van prof. Smith, laat lei. Vandag bestaan die artikel nog. Dit behoort tot Langenhoven se letterkundige nalatenskap.’Ga naar voetnoot207 Uit 'n ondersoek van Langenhoven se dokumentasie is dit gou duidelik dat die skitterende artikel waarna Rompel hier verwys, geskryf is na aanleiding van 'n resensie deur dr. D.B. Bosman oor A first guide to Afrikaans. Bosman, in daardie stadium lektor en later professor in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad, het in 1916 in Groningen gepromoveer met 'n studie oor Afrikaans en Maleis-Portugees - in 1923 omgewerk in Oor die ontstaan van Afrikaans - waarin hy in 'n groot mate die teorieë van D.C. Hesseling beslissend weerlê. Rompel praat wel van 'n letterkundige, nie 'n taalkundige nie, maar uit die dokumentasie is daar geen twyfel dat dit juis Bosman se negatiewe bespreking was wat weer die ‘rooi-warm lawa’ van Langenhoven se ‘toorn’ laat vloei het nie. Die aanduiding van Bosman as letterkundige moet maar as 'n klein onsorgvuldigheid - of mistifikasie? - aan die kant van Rompel gesien word. Bosman se resensie bereik Langenhoven se oë terwyl hy op 17 Junie 1926 besig is om 'n brief aan Sarah te skryf en kort nadat hy op 'n negatiewe resensie oor dieselfde boek in die Cape Times gereageer en 'n venynig-onbillike repliek daarop ontvang het. In 'n byvoeging tot die brief, wat hy vir publikasie in Aan stille waters aan haar deurstuur, skryf hy onder die titel ‘Weer 'n resensent’ sy eerste reaksie. ‘Hemeltog,’ so begin hy, ‘waarom kan 'n mens wat werk, nie met jou werk voortgaan nie dat jy altyd moet pad-skoonmaak? In 'Die Burger' van Woensdag, 16 deser, sien ek weer 'n resensie, hierdie slag tog met 'n naam daarby, maar net so vyandig soos die vorige naamlose in die 'Cape Times', van my Engelse Afrikaans-gids. Ek wil nie daarop reageer nie; ek sit nou hier vol werk, en ánder werk as om ander werkers uit te skel. Buitendien, wat Dr. D.B. Bosman van my werk dink is van min belang; dit sou vir die publiek meer belangrik wees om te verneem wat ek van syne dink, as dit vir my die moeite wêrd was om dit te publiseer. Maar op een puntjie moet ek wys. Hierdie parmant, wat in Holland of Duitsland een van die doktors-tietels opgetel het wat daar rondlê, sodat dit verstand vereis om hulle mis te loop, wil vir my kom Engels leer. Hy ken geen Afrikaans eens nie.’ En Langenhoven gaan voort: ‘Ek hoop | |
[pagina 553]
| |
“Die Burger” betaal hom nie méér per kolom as wat ek vir hierdie kolomme ontvang nie.’ By hierdie reaksie het dit egter nie gebly nie. Die volgende dag telegrafeer hy sy protes aan Die Burger. As hy telegrafies 'n reaksie ontvang, telegrafeer hy aan Sarah: ‘Redaksie getelegrafeer protesterende teen resensie Bosman. Antwoord ontvang bevat nie eens betuiging leedwese stop Indien redaksie volstaan hierdie vyandige handelswys en Bosman se onregverdigheid dan hou Waters Donderdag vandag albei terug en verwag instruksies aangaande boekGa naar voetnoot208 manuskripte Dingsdag gestuur. In elke geval hou stuk vandag betreffende resensie terug stop Chief.’ In 'n verdere telegram aan Sarah sê hy: ‘Hartseer siek onder aanhoudende vervolgery en onreg alle kante. Groete.’ In 'n brief van 19 Junie 1926 aan Sarah skryf Langenhoven hy kan verstaan as lede van die redaksie hom nie goedgesind is nie en as hulle met gretigheid so 'n stuk van Bosman publiseer. Hy begryp dit egter nie dat die hele redaksie agter Bosman staan en weier om hom te repudieer nie. Wat hom veral seermaak, is dat dit nie 'n vyandige of neutrale blad is wat die resensie opneem nie, maar die blad waarvoor hy werk en die uitgewers wat sy boeke publiseer. ‘Hoe kan ek in sulke omstandighede voortgaan met my dodelike vyande in my binnekamer?’ vra hy. Voorlopig moet sy egter sy reaksie op Bosman agterweë hou. As gevolg van die hele debakel, so gaan hy voort in 'n brief van 21 Junie, het hy die verdere werk aan die tweede deel van sy ‘sterreboekie’ vir eers ‘opsygegooi’. Intussen kan hy nie ‘daardie lae ellendeling van 'n Bosman so laat ontsnap nie’. Hy sluit dus 'n nuwe reaksie op die resensie vir publikasie in Aan stille waters in. Hierdie nuwe stuk wat Langenhoven skryf, is dan die artikel waarvoor Rompel die hulp van prof. Smith en Sarah ingeroep het: prof. Smith om Langenhoven teen publikasie te adviseer, en Sarah om die stuk van konfiskering deur Langenhoven te red en te bewaar. Aangesien dit 'n skitterende voorbeeld van Langenhoven se polemiese prosa is, word dié artikel, wat hy onder die titel ‘Weer 'n kontinentale matriek-produk’Ga naar voetnoot209 skryf, hier in sy geheel weergegee: Daar is mense in wie die twee uiterstes, snobisme en vulgarisme, mekaar ontmoet. Aan die een kant word sulke mense gekenmerk deur kruiperige verafgoding van vermeende hooghede van rang en stand wat op geen verdienstelikheid berus nie. Aan die ander | |
[pagina 554]
| |
kant betoon hulle 'n volslae gebrek aan die eerbied en ontsag wat hulle verskuldig is aan hulle meerderes, dit kan wees in jare, in kultuur, in volksdiens in ander opsigte. | |
[pagina 555]
| |
wegspringplek van 'n lewe van voortdurende selfontwikkeling en diensbaarheid. Nog minder was die vreemde onderskeiding by hulle 'n merkteken van denasionalisasie. Ek hoef nie name te noem nie: daardie dienaars van die volk het hulleself bekend gemaak, nie deur vreemde bewyse nie, maar deur wat hulle hier kom doen het. Soos Moses het hulle die kultuur van Farao gebruik in die diens van Israel. Ons weet wie hulle is. | |
[pagina 556]
| |
matriekstandaardjie se hoogte 'n ander se bevoegdhede te kritiseer wat 'n lange lewenstyd van studie agter sy rug het waarteen 'n populêre doktersgraadjie eenvoudig ongeleerdheid beteken. Tegelyk is die seun 'n tiepe van die snobisme teenoor vreemde kastige kultuur, en vulgariteit teenoor die meerderheid binne sy eie nasie, waarteen dit nodig is om ander seuns te waarsku. Die leser sal waarskynlik nog nie sy naam gehoor het nie - en sal dit wel nie in die toekoms dikwels hoor nie. Ek bedoel Doctor D.B. Bosman. | |
[pagina 557]
| |
deur Doctor Bosman misgelees as 'n advertensie dat die metode van die boek nuut is, en gee hom aanleiding tot 'n omslagtige vertoon van doctors-tesis-waardige geleerdheid om te wys dat die plan nie nuut is nie! | |
[pagina 558]
| |
Afrikaans het die Engelssprekende Parlementslede sekerlik ons volk 'n eer aangedoen - 'n groter eer as wat hy het van sy eie afbrekende lede van Doctor Bosman se gehalte. Reeds in die Provinsiale Raad in 1914 had ek Engelse ondersteuning, waarsonder daar vandag nog geen Afrikaans op ons skole sou gewees het nie. Daarsonder sou ook die erkenning van Afrikaans deur die Parlement verlede jaar onmoontlik gewees het. En daarvoor het ek hulle uit my volle hart bedank, en hulle verdien dit. Doctor Bosman verdien bitter min dank vir wat hy nog vir Afrikaans gedoen het. Hy was een van die getuies voor die gesamentlike Selek Komitee verlede jaar, en van geen waarde hoegenaamd nie. Sy getuienis sou eerder aan die verkeerde kant getel het as hy nie, gelukkig vir die saak, sonder gewig was nie. Daar is Afrikaners wat so venynig aanhou met afbreek wat deur hulle meerderes opgebou word, dat dit somtyds vertroostend is om vir Engelse hulp te kan dankbaar wees. | |
[pagina 559]
| |
wees nie. Daar is dieselfde gebrek aan begrip van 'n eenvoudige boekie; dieselfde bewys van onbekendheid met die Engelse taal (en toeskrywing daarvan aan 'n ander); dieselfde shall- en willeselary; dieselfde veroordeling van onbegrepe stellings; dieselfde mentaliteit, kontinentaliteit, brutaliteit; dieselfde nydige venyn teenoor 'n meerdere. Had dit by daardie eerste stuk in die ‘Cape Times’ gebly, dan sou ek vas oortuig gewees het dat dié ook Doctor Bosman se werk was - deur iemand anders in Engels oorgesit, of die Engels geredigeer maar nie terdeë nie. Maar toe kom daar die twede stuk - die oneerlike antwoord op die uitdaging. En daarmee, is ek netso vas oortuig, kan Doctor Bosman niks te doen gehad het nie. Al was hy tot soiets kapabel - en dit dink ek nie - dan sou hy eenmaal te simpel gewees het om die plan in die gedagte te kry. Watter veronderstelling bly daar dan oor? Dat daar 'n opsettelike kollaborasie was, selfs met die eerste ‘Cape Times’-stuk, waar Doctor Bosman by betrokke was, is ook uitgeslote. Iemand, of meer waarskynlik 'n kliek, het ongetwyfeld gejuig oor die geleëntheid om die gehate Langenhoven straffeloos aan te val, want die ‘Cape Times’ se reviews is anoniem en weerlegging word nie toegelaat nie. Maar Doctor Bosman het met sy naam voor 'n dag gekom. Dus hy had nie die minste idee van moedswillige onreg nie - sover van lyf-wegsteek, spog hy. Hy beskou dat hy roem het van die ding. Dus by hom is dit loutere, suiwere, skone, reine, onvervalste domheid. Wat bly daar dan oor? Dit: hy is geraadpleeg geword deur die anonieme skurk of hy het hom (met 'n idee om te spog oor die kordaatstuk) sy ‘Burger’-resensie gewys voor hy dit daar ingelewer het. As hierdie vermoede juis is dan was Doctor Bosman netso ongelukkig met sy keuse van geselskap as ‘Die Burger’ en die ‘Cape Times’ met hulle keuse van vakkundige beoordelaars. | |
[pagina 560]
| |
liewe mense moet tog verstaan dat ons nie kan boeke hê sonder skrywers nie, en dat skrywers, uit die aard van hulle geskiktheid vir hulle roeping, fyn saamgestel is en nie grof soos vulgêre resensente nie. Jy kannie 'n sakoorlosie se binnegoed met 'n koubeitel deur 'n snoodaard laat omroer en verwag dat hy sal aanhou met loop nie. Ons het te min skrywers, en die wat ons het word oud en gaan dood; ons het die diens van elke dag van hulle lewe nodig. Maar daar is iets wat meer materieël is en ewe onontbeerlik. Ons het uitgeërs nodig; ons mark is klein; elke boek beteken die waag van 'n groot kapitaal. In hierdie geval het daar nou die vernaamste Engelse blad van die land gekom en die volle vertroubaarheid van sy reputasie as borg gegee om sy lesers te waarsku dat die boek nie alleen nie goed is nie maar benede alle veragting sleg. Daarná kom die vernaamste Afrikaanse blad van die land - die blad waarop die skrywer gereëld en reeds jare-lank meewerk, die blad wat deur dieselfde firma uitgegee word as die boek - en hy bevestig die waarskuwing van die ‘Cape Times’. En albei waarskuwings is totaal ongeregvêrdig en ongegrond, in die een geval gebaseer op skurkery, in die ander geval op onnoselheid. In albei gevalle is dit 'n soort onreg waarvoor geen verhaal by die regbank te kry is nie. En hierdie soort straffelose veronregting van ander mense en kwaadwillige afbreuk van wat ons teen soveel koste opbou, deur onverantwoordelike en niksbeduidende leeglopers en luiaards, het mode geword. Om dié toenemende euwel te bestry is daar geen ander middel nie as om die resensente te resenseer, die uitskellers uit te skel, die seermakers seer te maak; om die holligheid van die pretensies van gediplomeerde sjarlatane en mombakkieslasteraars aan die kaak te stel. In die belang van die groot werk wat daar vir ons te doen is, en vir die voortsetting van die sware stryd wat daar te voer is, is dit nodig om die brandsiek vee sigbaar te brandmerk. Dis nodig om uit ons bitter-verdiende klere die motte uit te skud wat van gate vreet lewe. Hoewel Rompel in sy artikel te kenne gee dat Langenhoven heeltemal inskiklik was en deur Smith oortuig is om sy reaksie op Bosman agterweë te hou, was daar tog weer sprake dat hy Aan stille waters wou beëindig. Op 27 Junie 1926 laat weet hy Sarah dat hy nou ‘natuurlik’ geen bydraes stuur nie: ‘Ek kan eenvoudig nie al wou ek ook. En ek | |
[pagina 561]
| |
wil verdomp ook nie.’ As Smith egter in Die Burger op Bosman reageer, is Langenhoven diep dankbaar, hoewel hy agterna spyt kry dat hy hom laat oorreed het om sy reaksie terug te hou. Uiteindelik, na 'n onderbreking van 'n maand, skryf hy op 15 Julie aan Sarah dat hy weer met sy rubriek voortgaan. Die aanhoudende kritiek op sy werk laat hom egter van tyd tot tyd krapperig voel. ‘Daar is nie 'n damn fool in die land nie’, skryf hy op 24 Julie 1927 aan Sarah, ‘of hy is my meerdere en skoolmeester.’ Ook die ‘sterreboekie’ waarmee hy voorlopig opgehou het, word voltooi. In November 1931, nadat hy reeds in 1928 Water en sy aard en Die goeie burger afgehandel het, voltooi Langenhoven 'n versameling Opstelle, vir die grootste deel stukke uit sy Aan stille waters-rubriek, waarby hy vrae en oefeninge vir gebruik op hoër skool byvoeg. Sy belangrikste ‘nuts’-boek oor die stylleer is egter Hoe om te skrywe, wat hy in 1931 saam met prof. E.C. Pienaar van Stellenbosch onderneem, al is die grootste gedeelte van die boek deur Langenhoven self geskrywe. Reeds in 1922 was daar by Langenhoven die plan om 'n ‘stylboek’ saam met J.J. Smith te skryf, want in 'n brief van 29 September 1922 sê Sarah Goldblatt dat Kruse baie in sy skik is met die gedagte en reken die boek sal met die samewerking van ‘die stylman en die taalman’ 'n ‘goudmyn’ wees. Van dié plan kom egter niks nie. Wanneer Langenhoven op 24 Junie 1931 'n eredoktoraat van die Universiteit van Stellenbosch ontvang en Pienaar hom na afloop daarvan gelukwens en in die geledere van die ‘Akademiese Fariseërs’ welkom heet, roep Langenhoven hom opsy om die plan van 'n eenvoudige handleiding by die skryfambag uiteen te sit. Pienaar was dadelik bereid om saam te werk en reeds op 11 Julie stuur Langenhoven die voorlopige ontwerp met 'n manuskrip van 180 bladsye. In die brief wat die eerste proewe vergesel, sê Langenhoven: ‘Dat ek fragmentaries begint is om ons in staat te stel om stap vir stap saam te gaan.... In geval my algemene styl...nie vir u aanneemlik is nie, sal u dit sonder aarseling sê en dan moet ons dit maar betreur dat incompatibility of temperament in die pad staan. Ek kan my maar nie tot deftigheid bekeer nie; en u is nie, soos ek, sonder 'n reputasie om te verbeur nie.’ In 'n brief van 15 Julie kom Langenhoven met 'n alternatiewe plan, maar Pienaar was tevrede met die oorspronklike ontwerp. In die weke wat volg, het Pienaar aan Langenhoven se teks niks verander nie maar sy voorstelle en aanvullings afsonderlik gehou, met genommerde verwysings na die oor- | |
[pagina 562]
| |
spronklike teks. Daarop is alles aan Langenhoven teruggestuur ter oorweging en moontlike inlywing. Tussendeur het Langenhoven in briewe aan Pienaar nog verdere kommentaar gelewer en tydens sy besoek aan Kaapstad ook persoonlike samesprekinge met Pienaar op Stellenbosch gehad. Op 11 November 1931 is alles afgehandel. Die drukproewe was reeds einde November gereed en op 13 Februarie 1932 het die eerste eksemplare van die pers gekom.Ga naar voetnoot211 Pienaar wil te kenne gee dat sy en Langenhoven se samewerking sonder enige haakplekke verloop het,Ga naar voetnoot212 maar die briefwisseling tussen Langenhoven en Sarah Goldblatt vertel 'n ander storie. Op 2 September is Langenhoven só die josie in vir Pienaar en sy ‘kinderagtige damnfool vitterytjies’, soos hy dit in 'n brief aan Sarah stel, dat hy alle samewerking wil beëindig. Tog bedink hy hom, maar op 4 September kla hy teenoor haar van hoofpyn. ‘Waarskynlik’, so skryf hy, ‘die moeilikheid met Prof. P. meer as enige liggamelike oorsaak. Eergistraand in die begin van my brief vir jou geskryf dat verder saamwerking onmoontlik was. Gisteroggend voor ek gepos het geskryf ek sou maar darem aangaan, miskien kom die moeilikheid met persoonlike besprekings reg. En nadat ek die brief gepos het weer my Ms. en die prof. se aantekenings gevat. En weer vies geword dat ek jou agterna wou telegrafeer dat die eerste deel van my brief maar moet staan. En so voel ek nou. Dis nie 'n saak van 'n woordjie of tegniese term hier en daar wat ek nou verplig is om uit Holland te neem nie. Prof. Pienaar wil hele sinne verander en dit vervang deur ander wat sleg gestel is of verkeerd van inhoud.’ En op 7 November laat Langenhoven Sarah weet dat hy ‘tot barstens toe vol’ is vir Pienaar. ‘Ek had 'n brief klaar geskryf vir hom om te sê ek is nie 'n skooljongetjie nie en as ek dit was dan wou ek 'n meester hê wat weet wat hy praat, maar dit darem maar laat bly. Maar ek vrees ons onderhoud anderweek sal op 'n breuk uitloop.’ Tog kom sake tydens die gesprek op Stellenbosch weer reg en verloop die onderhandelinge sonder enige ernstige haakplek. As hulle die laaste aand van mekaar afskeid neem en Pienaar Langenhoven bedank vir die ‘besonder aangename en leersame medewerking’, antwoord Langenhoven: ‘Dis 'n godswonder dat ons dit reggekry het; maar dit was vir my 'n kostelike dissipline op my ou dag om 'n slag nie my eie baas te wees nie.’Ga naar voetnoot213 Hoe om te skrywe raak heelparty fasette van die skryfkuns aan, maar | |
[pagina 563]
| |
konsentreer veral op die stylleer, met aandag aan woordkeuse, sinsbou en paragraafverdeling. Verder staan die skrywers stil by sake soos leestekens, ‘taaleie’, onnatuurlike parenteses, figuurlike taalgebruik e.d.m. As hulle dit het oor ‘waarheid’, beklemtoon Langenhoven en Pienaar dat daar in ‘alledaagse verdigsel’ nie ‘onmoontlike dinge’ moet gebeur nie. ‘Waar dit opsetlik 'n verhaal is van 'n onmoontlikheid, soos 'n kindersprokie waar toornaars en feë wonders verrig, moet ook die loop van die verhaal binne die perke van die grondveronderstelling gehou word.’Ga naar voetnoot214 As dit 'n geval is van iets so onwaarskynliks as die verskyning van 'n spook, ‘sal die skrywer, as hy sy ambag verstaan, juis die bykomende voorgrond en omgewing en agtergrond met die allergewoonste alledaagse toestande en omstandighede vul.’Ga naar voetnoot215 Hierdie uitsprake is in 'n baie groot mate 'n presiese aanduiding van Langenhoven se eie praktyk - nie alleen vir sprokies soos Brolloks en Bittergal en spookverhale soos dié in Geeste op aarde en Die wandelende geraamte nie, maar ook vir ‘schnipes’ soos Sonde met die bure en Loeloeraai waar hy die olifant en die besoeker van Venus vir sy lesers aanneemlik moet maak. En wanneer Langenhoven en Pienaar uitwei oor die verantwoordelikheid van die skrywer om die smaak van die lesende publiek te vorm, heg hulle groot waarde aan eerlikheid en toon hulle 'n afkeer van ‘sensasielus’ en die prikkeling van ‘onreine drifte’Ga naar voetnoot216 - iets wat ook die werk van die idealistiese didaktikus Langenhoven deurgaans kenmerk. ‘Op ons...rus 'n verdere en besondere verantwoordelikheid’, sê hulle in 'n uitspraak waarin die besondere tydsomstandighede en die taalstryd van die Afrikaanse skrywer ter sprake kom. ‘In die dae wat verby is het ons ongeletterde voorgangers vir ons 'n spreektaal gevorm. Aan ons, hulle geletterde opvolgers van die nuwe tyd van vandag, is die taak toevertrou om die spreektaal verder tot 'n skryftaal te vorm. Ons is die eerstelinge van die nuwe saaiers; die saad vir die groei van die toekoms is in ons hande. Waar ons verwaarloos, waar ons verwerp, waar ons vervals, saai ons vir die oeste wat ná ons sal kom die swakheid van verrotting en die kwaad van bederf. Om daarteen te waak het ons al ons liefde nodig. Wie nie hartstogtelik sy moedertaal eer en bewonder en bemin nie, laat hom nie die onbeskaamde vermetelheid hê om homself tot skrywer te benoem nie. Hy is die hoogte van so 'n roeping nie werd nie en sy werk sal die laagte van sy waarde verraai.’Ga naar voetnoot217 Uit 'n uitspraak soos dié sien 'n mens weer met watter verantwoordelikheid Langenhoven sy taak as Afrikaanse skrywer by die aanvang | |
[pagina 564]
| |
van die skryftradisie in sy taal gesien het. Van 'n suiwer estetiese ideaal is daar by hom geen sprake nie. Die tydsomstandighede, so het hy sy taak geïnterpreteer, het dit van hom vereis om ook volksopvoeder te wees. En volksopvoeder was hy nie net deur die leeslus van sy mense aan te wakker nie, maar ook deur vir hulle kennis by te bring wat hulle as geletterdes en beskaafde mense moes hê. Dit doen hy deur die talle ‘nuts’-boeke wat hy in dié jare skryf. En omdat hulle onderhoudend geskryf is, het hulle 'n aanmerklike invloed op die leespubliek gehad. | |
VIn Ons weg deur die wêreld en Aan stille waters, en verder verspreid in sy oeuvre, lê stukke en uitsprake waaruit 'n mens iets in verband met Langenhoven se geloofsoortuiging en sy standpunt ten opsigte van die kerk te wete kan kom. 'n Mens sou trouens verwag dat 'n volksopvoeder wat binne die Afrikanervolk werksaam is, hom die een of ander tyd oor die godsdiens sou uitlaat. 'n Ortodokse gelowige was Langenhoven egter nie. Sy sterk indiwidualisme en afkerigheid van die kudde het verhinder dat hy 'n gereelde kerkganger kon wees. Maar onverskillig ten opsigte van die godsdiens was hy nie. Hy het trouens 'n kinderlike geloof in God gehad en die God-mens Christus was vir hom 'n vreemde misterie wat hom voortdurend geboei het. Teen die einde van sy lewe het hy hom toenemend in die Bybel verdiep en 'n deeglike studie daarvan gemaak aan die hand van die talle vertalings - tot selfs 'n vertaling in die Pitman-snelskrif! - wat hy besit het. In een van sy bydraes tot Aan stille waters het hy al die wens uitgespreek om in sy ‘eenvoudigheid’ 'n boekie oor die letterkunde van die Bybel te skryf, maar gemeen dat hy waarskynlik nie 'n uitgewer daarvoor sou vind nie.Ga naar voetnoot218 Wanneer hy egter deur die studentevereniging Polumnia op Stellenbosch uitgenooi word, spreek hy hulle op 14 April 1932 toe oor ‘Die letterkundige skoonhede van die Bybel’, een van die belangrikste redes wat Langenhoven ooit gelewer het. Dit verskyn in Die Huisgenoot van 6 Mei 1932Ga naar voetnoot219 en die manuskrip skenk Langenhoven, pragtig deur hom in leer ingebind, aan Polumnia. Kort daarna begin hy in Die Huisgenoot met Die Bybelverhaal met die doel om vir ‘eenvoudige lesers, veral jongmense en kinders ..., daardie verhaal in agtereenvolgende kort stukkies...oor te vertel’.Ga naar voetnoot220 Hy vorder met hierdie oor- | |
[pagina 565]
| |
vertelling tot by die geskiedenis van die rigters, maar onderbreek dit dan vir 'n ander werk, naamlik die Bybelroman Die mantel van Elia, 'n onvoltooide werk bestaande uit een en veertig geskrewe bladsye waarmee hy tot op die laaste aand van sy lewe besig was. Na sy dood versorg Sarah Goldblatt 'n faksimilee-uitgawe van die handskrif en neem sy die teks in deel XIV van die Versamelde werke op. Langenhoven se belangrikste werk met 'n religieuse tema is Skaduwees van Nasaret. Wanneer hy op 10 Januarie 1927 die voorlopige manuskrip aan Sarah stuur, sê hy dat hy in breë trekke die figuur van Christus daarin geteken het, ‘so oneindig onvolmaaktelik as ek Hom verstaan’. Hy vra haar verder om dit aan prof. Smith en die Fagans voor te lees en hulle oordeel te verneem of dit vir die reeks ‘Almal se boeke’ geskik is. Verder wil hy haar hulp hê met die Joodse name wat daarin voorkom, want hy kry nie in die Nuwe Testament name wat na sy sin is nie. Skaduwees van Nasaret verskyn nog in 1927 in die reeks ‘Almal se boeke’. Dit bestaan uit agt briewe, twee ‘egte’ en ses ‘verdigte’ briewe. Die briefvorm is hier uitnemend geskik om die religieuse en lewensbeskoulike osmoties deel te laat word van die verhaal, wat rondom die figuur van Jesus sentreer. Die briefskrywer rig hom telkens op 'n vriend of 'n vreemdeling aan wie hy iets oor die Christelike geloof of hoofmomente uit Christus se lewe oordra. In elkeen van die verdigte briewe is 'n ander skrywer aan die woord, en Langenhoven slaag uitmuntend daarin om die styl en sfeer af te wissel. Teenoor die informatiewe, onbetrokke styl van die skrifgeleerde staan byvoorbeeld die sterker gevoelslading van Pontius Pilatus, wat hom tot 'n vriend in Rome rig, en die emosionele brief van Martha aan 'n vriendin in Egipte. Die geheel bestaan uit betreklik willekeurige grepe uit die lewe van Jesus, maar dit vorm tog 'n eenheid deurdat die geheel ingebed word tussen die twee ‘egte’ briewe aan die begin en einde van die boek. Die viertal verse aan die einde sluit nie regstreeks by die verhaalgang aan nie. Die eerste van die twee ‘egte’ briewe rig Langenhoven aan 'n Joodse vriendin. Hierdie vriendin was nie Sarah Goldblatt, soos taamlik algemeen aanvaar is nie, maar 'n sekere mev. Hermann (gebore Friedlander), wat 'n lewenslustige en sjarmante dame was en wat saam met haar literêr belese man goeie vriende van Langenhoven en Sarah geword het.Ga naar voetnoot221 In die brief aan die Jodin sit Langenhoven uiteen waarom hy die boek geskryf het. Sy doel was nie om Jode te bekeer nie, want ‘ek is op verre na nie so 'n goeie Christen dat ek my persoonlik die reg | |
[pagina 566]
| |
kan aanmatig om mense soos jy en jou man te vra - al sou dit help - om op te hou om goeie Jode te bly nie’.Ga naar voetnoot222 Hy skryf dit omdat sy hom by geleentheid 'n boek oor die lewe van Jesus present gegee het en hy intussen ook ander boeke oor die onderwerp gelees het. Sy eie boek volg nie dié wat hy gelees het nie, maar is ‘eenvoudige sketsies, gebrekkig geteken deur die hand van 'n leek maar met die innige hulde van liefde, om een en ander se belangstelling op te wek om na die bron self terug te gaan’.Ga naar voetnoot223 ‘Sketsies’ is ook nie die regte woord nie, want wat hy gee, is - met 'n toespeling op die titel van die boek - maar net 'n skaduwee. En tog is 'n skaduwee, ‘al is hy 'n distorsie,...'n afwerpsel van die werklikheid’.Ga naar voetnoot224 Wanneer Langenhoven weer op 18 Januarie 1927 aan Sarah skryf, sê hy dat hy by die manuskrip wat sy reeds het, ‘Nog 'n egte brief’ byvoeg, hierdie keer 'n brief van die skrywer aan ‘'n twyfelende student’. Hy het nog nooit, so gaan hy voort, met sy ‘persoonlike godsdienstige oortuigings te koop geloop nie - nie omdat ek bang of skaam was nie, maar omdat ek geen waarborg het dat ek reg is nie, en dus geen gevaar behoort te loop om ander mense op dwaalspore te lei nie’. Wanneer hy egter geen kwaad sien in wat hy te sê het nie, laat hy hom ook deur niemand afskrik nie. En as hy die ‘student-brief’ klaar het, skryf hy die volgende dag aan Sarah dat hy nog nooit ‘'n lang kettingredenasie so gekonsentreerd uitgewerk (het) nie’. Daar sit ‘die gedagtes van 'n halwe lewenstyd’ in die brief. ‘Ek dink’, gaan hy voort, ‘baie daarvan sal selfs vir die Sub nuut wees. Ek dink byna die Sub sal soos Agrippa sê: Jy beweeg my byna om 'n Christen te word. Maar jy weet mos van al die jare af van my onwrikbare Gods-geloof en van my aanbiddende veréring van Jesus.... En daar is nie 'n reël van dogmatiese teologie of anti-teologie in die boek nie.’ Oor wie die ‘twyfelende student’ is aan wie Langenhoven hierdie ‘egte brief’ skryf, werp die dokumentasie op Stellenbosch geen lig nie. Langenhoven dui die brief egter by implikasie aan as 'n belangrike sleutel tot sy eie geloof in God, sy siening van Jesus en sy opvattinge oor die godsdiens. Daarom is dit nodig om hierdie brief in besonderhede te bekyk. Langenhoven begin deur te sê dat hy ook, net soos sy jong vriend, in sy jeug aan sy geloof getwyfel het en daarvoor by die ‘Doctors en Saints’ van wie Omar Khayyám skryf, om hulp gaan aanklop het. Toe hy student was op Stellenbosch, het hy toegang gehad tot die boekery | |
[pagina 567]
| |
van 'n senior teologiese student, maar die ‘Saints’ het hom teleurgestel. Die magdom apologetiese werke wat hy deurgesnuffel het, was 'n power verdediging vir die geloof. Liewe ou mense het hom van redenasie probeer wegskrik deur die ‘vlamme van die hel hiernamaals’Ga naar voetnoot225 vir hom voor te hou, maar dié ‘metode van redenasieverbod was vir (hom) nog minder tot seën as die ander van drogredenasie’.Ga naar voetnoot226 Hy het na 'n logiese verklaring gesoek. En dít kry hy in die natuurwetenskap. Ons studie van die hele skepping, so was sy oortuiging, word moontlik gemaak deur die logiese orde wat daarin aanwesig is en waaraan die mens deur sy eie rede deel het. Hierdie redelike vermoë is trouens dié eienskap wat hom bo ander skepsels verhef. In die redelikheid van die skepping ontdek Langenhoven dus 'n redelike God. ‘Te meer’, sê hy, ‘omdat die algemene skepping onbewustelik redelik is, moet die Skepper bewustelik redelik wees.’Ga naar voetnoot227 Juis daarom moes hy die leer van die ‘ongelowige Doctors’Ga naar voetnoot228 verwerp. Hulle redenasies het vir hom op een van twee hipoteses neergekom: 'n ongeskape en onbestierde heelal waarin daar volmaakte wet en orde heers sonder 'n heerser; of 'n God wat ‘'n uitgangspunt en toegangspunt en middelpunt en saamvatting van natuurkragte (is), 'n gevoellose intelligensie van onverbiddelikheid; nie 'n persoon nie maar 'n prinsiep’.Ga naar voetnoot229 Albei hipoteses was vir Langenhoven verwerplik: die eerste was ‘'n kranksinnig-sotte stelsel’Ga naar voetnoot230, die tweede was as ‘metafisiese abstraksie’ nie beter as ‘volslae ateïsme’Ga naar voetnoot231 nie. ‘En die redenasie van my verwerping self’, skryf hy, ‘het my op net so 'n noodsaaklike weg tot die essensiële van my geloof teruggelei. Want daardie smagte van 'n kind na sy Vader, het die dan nie uit dieselfde gees voortgekom as die vermoë tot logika nie?’Ga naar voetnoot232 So vind Langenhoven dan die Skepper terug deur sy liefde, al is dié oneindig kleiner as die liefde van God. Hy vind verder dat selfs die onwaardigste mens 'n deugbesef het, en daarmee die erkenning van wat goed en reg en rein is. God is dan vir hom die Redelike, die Liefdevolle en die Heilige. En hierdie besef lei hom na Jesus, in wie die rede, liefde en heiligheid vergestalt word. Jesus wys 'n weg vir die mens aan en is self 'n Wegwyser, ‘veiliger en sekerder as wie van ons ook vir sy broer kan wees’.Ga naar voetnoot233 Daardie weg, ten slotte, ‘is nie 'n weg van dogmatiese belydenis nie, ook nie 'n weg van konvensionele vroomheid nie, maar 'n weg van diensbaarheid, van geluk deur opoffering, van oorwinning deur onder- | |
[pagina 568]
| |
werping.’Ga naar voetnoot234 So kom Langenhoven dan tot die kern van wat Jesus vir hom beteken: die inspirasie vir sy lewe, ook en veral vir sy taak as skrywer en taalstryder. Want in laaste instansie wou Langenhoven met sy skeppende werk en met sy ywer vir Afrikaans 'n diens aan sy minderbevoorregte mense lewer. Uit 'n teologiese standpunt mag daar besware wees teen hierdie onortodokse siening van God en Jesus en die wyse waarop Langenhoven vir homself tot aanvaarding en geloof kom, maar aan sy erns en sy oortuiging kan daar nie getwyfel word nie. 'n Mens is hier trouens baie naby die eintlike bron wat Langenhoven vir die hele duur van sy skeppende vaart en sy taalywer kon voed. | |
VIVir 'n eindoordeel oor Langenhoven se skeppende werk is dit nodig om die tydsomstandighede waarbinne hy moes optree, in berekening te bring. Hy staan aan die begin van 'n skryftradisie in 'n taal waarin daar voor hom weinig of geen noemenswaardige literêre produkte was nie, met 'n potensiële leserspubliek vir wie lees nie 'n ‘natuurlike’, alledaagse aktiwiteit was nie. 'n Skrywer wat hom in so 'n situasie bevind en daarby 'n sterk didaktiese inslag het, moes noodwendig toegewings vir sy kuns maak. En tog was die kritiek indertyd nie by magte om Langenhoven se eintlike en belangrike bydrae na waarde te skat nie. Dikwels is minder belangrike werke van hom te hoog gewaardeer, terwyl 'n groot deel van sy oeuvre as populêre volkskuns afgemaak is. Slegs as essayis is hy indertyd erken. Maar by alle afsonderlike werke verby lê Langenhoven se wesentlike bydrae as skrywer daarin dat hy Afrikaans skryfbaar gemaak het en met sy werk kon illustreer dat die gewone spreektaal op skrif bruikbaar is. In teenstelling tot baie van sy tydgenote wat die heil van Afrikaans in 'n geaffekteerde stilistiese waardigheid wou vind, het hy die alledaagse taal van die gewone boer en werker gebrandskat en daaraan 'n nuwe glans gegee. Daarom kon hy aan die einde van sy lewe aan die slot van sy laaste werk, die outobiografiese U dienswillige dienaar, die volgende indrukwekkende woorde skryf: ‘In ons wonderlike Afrikaans, gebore uit die nederige behoeftes en die ongekunstelde siel van die onbevoorregte plattelander, die boer en die bywoner, die veewagter en die daglo- | |
[pagina 569]
| |
ner, waarin jy alles kan sê, van die laagste tot die hoogste, van die vuilste tot die reinste, van die lelikste tot die skoonste, beter as in al die hoogontwikkelde tale van die wêreld, het ek gevind my pêrel van grote waarde waarvoor dit 'n goedkoop prys sou gewees het, as ek tot die betaling geroepe was, om al my ander besittings af te staan.’Ga naar voetnoot235 |
|