Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2
(1983)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 526]
| |
Hoofstuk 10
| |
[pagina 527]
| |
kinderverhale Die voëls kies 'n koning (1968) en Jannie de dobbelaar (1971) en oorverteller van die Oud-Ierse sprokie Guleesh (1971), debuteer met die roman Want ons is van gister (1966), die verhaal van 'n jong student wat in Kommunistiese aktiwiteite aan 'n universiteit verstrik raak en uiteindelik 'n galgdood sterf. Die interpolerende hoofstukke en onnodige vergelykings werk egter steurend, soos ook in die bundel Skerwe (1970) - bestaande uit 'n novelle en vyf kortverhale - waarin enkele van die korter stukke oortuig. In die digbundel Wintervure (1972) roep Van Zyl o.m. 'n jeuglewe op wat onherroeplik verby is. Van die romanskrywers wat tussen 1964 en 1970 hulle verskyning maak, lewer slegs Karel Schoeman en John Miles 'n besondere bydrae tot die Afrikaanse letterkunde: Schoeman wat 'n nuwe nuanse aan die buitestaanderfiguur in die prosa gee, deur suggestie en swye iets van die wesentlike onkenbaarheid van die mens in sy verhouding tot ander mense oproep en met sommige werke iets aan die ‘betrokke’ roman toevoeg; en Miles wat met 'n uiterlike spanningslyn aan die antiheld binne 'n surrealistiese wêreld gestalte gee. Miles debuteer in 1970 met die bundel kort kortverhale Liefs nie op straat nie, terwyl sy romans Okker bestel twee toebroodjies en Donderdag of Woensdag eers in 1973 en 1978 onderskeidelik verskyn. Daarom word sy werk nie in hierdie hoofstuk behandel nie. | |
Karel Schoeman
karel (aanvanklik tromp) schoeman is gebore op 26 Oktober 1939 te Trompsburg, O.V.S. en ontvang sy skoolopleiding aan die Hoër Jongenskool in die Paarl waar hy in 1956 matrikuleer en sy eerste publikasies in Engels in die skooljaarblad verskyn. Daarna studeer hy aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en ontvang in 1959 die graad B.A. met Engels en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke. In 1959 gaan hy oor na die Rooms-Katolieke Kerk, studeer ná sy universiteitsopleiding aan die Katolieke Seminarium in Pretoria ter voorbereiding vir die priesterskap in die Franciskaanse Orde en vertrek einde 1961 na Ierland, waar hy die novisiaat in Killarney en Galway deurloop, alhoewel hy - omdat hy in dié stadium reeds besef dat hy nie meer priester wil word nie - vrygestel word van geloftes. In 1964 keer hy terug na Bloemfontein, waar hy as bibliotekaris en later as vertaler werksaam is en die Hoër Diploma in Biblioteekkunde aan die plaaslike
| |
[pagina 528]
| |
universiteit behaal. Daarna woon hy vir 'n kort tydjie in Johannesburg. In 1968 gaan hy na Amsterdam, waar hy tot 1973 aan 'n biblioteek verbonde is, daarna (1973) heelwat in Europa reis en in die jare 1974-1976 in Glasgow as verpleër werk en opleiding ontvang. Einde 1976 keer hy terug na Suid-Afrika, aanvanklik na Pretoria, waar hy vertaalwerk doen, daarna (1977-1982) na Bloemfontein, waar hy biblioteekwerk verrig. Sedert 1982 is hy verbonde aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad. In 1970 ontvang hy die Hertzogprys vir By fakkellig, 'n Lug vol helder wolke en Spiraal, terwyl Na die geliefde land in 1972 met die C.N.A.-toekenning bekroon word. In 1983 ontvang hy die Recht Malan-prys vir Vrystaatse erfenis. Alhoewel Karel Schoeman tematies by Sestig aansluit deur die politieke betrokkenheid wat uit sommige van sy romans en novelles spreek, is daar in sy werke geen blyke van die tegniese eksperimente van Sestig nie en toon sy prosa eerder 'n verwantskap met J. van Melle deur die atmosfeertekening en subtiele verhoudings tussen mense en met C.M. van den Heever deur die plaasagtergrond en die motiewe van die kontinuïteit van die geslagte en die kringloop van geboorte en dood. Daarby is die politieke betrokkenheid in sy werk eintlik net 'n onderdeel van 'n groter problematiek, nl. die mens in sy eensaamheid, wankelend-brose verhoudings met ander mense, felle bewussyn van die tydelikheid van aardse dinge en die voortdurende verbygaan van alles. Die tipe hooffiguur wat hy by voorkeur uitbeeld, is die introspektiewe aseksuele, afsydige en daadlose karakter wat hom dikwels in 'n vreemde land of omgewing bevind met nostalgiese herinnerings aan 'n gelukkige tyd in die verlede wat onherroeplik verby is, maar wat hy tog vrugteloos probeer herbeleef. Met hierdie aksent op die asketiese gestalte bou Schoeman 'n buitestaanderfiguur op wat weinig kontak met die hede en die werklikheid het, as reisiger of besoeker in 'n ‘onderweg’-situasie verkeer en in sy tydelike betrokkenheid by ander mense met die subtiliteit en broosheid die fynste nuanses van menslike verhoudings suggereer wat uiteindelik tog in onoorkomelike vreemdelingskap en eensaamheid eindig. Teenoor hierdie ‘outsider’-figuur - Pieter (In ballingskap), Anton (Spiraal), Ruud (Op 'n eiland) en George (Na die geliefde land) - staan soms 'n figuur wat nie op herinnerings, wil teer nie maar aktief die lewe wil ervaar of wit help met 'n opbouingstaak, soos Alida (In ballingskap), Elsa (Op 'n eiland) en Carla (Na die geliefde land). Naas die aansluiting by Van Melle en C.M. van den Heever toon Schoeman se prosa 'n stilistiese en ritmiese verwantskap met dié van Virginia Woolf, terwyl die subtiliteit van menslike verhoudings, karige woorde en baie stiltes iets van Tsjechow se dramas oproep. Alhoewel die karakterbeelding een van Schoeman se besondere kwaliteite is, kom daar iets eenselwigs in sy werk deurdat hy dieselfde tipe figuur en dieselfde soort boustof telkens aanwend, terwyl sy ruimtelike situerings (Suid-Afrika, Ierland, Skotland, Nederland, 'n Griekse eiland) as gevolg van die besondere perspektief van die verteller weinig verskeidenheid toon. Karel Schoeman skryf wel enkele gedigte as skoolseun, maar sy gepubliseerde werk is van die vroegste jare af uitsluitlik in prosavorm. As skoolseun in die Paarl skryf hy in standerd IX en X twee romans in Nederlands, terwyl hy op universiteit verskeie romans in Engels oor Suid-Afrika - maar met Afrikaans in die dialooggedeeltes - voltooi wat nooit verskyn nie. Van vroeg af besef hy egter reeds dat Afrikaans sy skryftaal en eintlike medium is en gebruik hy dit konsekwent in sy gepubliseerde werk. | |
[pagina 529]
| |
Van die twee debuutnovelles wat in 1965 in Veldslag gepubliseer word, is die titelstuk in Bloemfontein geskryf as Schoeman aan die universiteit studeer, terwyl In ballingskap ná sy Ierse periode op die boot terug na Suid-Afrika voltooi word. Die titelnovelle Veldslag speel af op 'n Vrystaatse dorpie tydens die Anglo-Boereoorlog, maar die groot gebeure van dié oorlog is slegs op die periferie aanwesig. Hoofsaak is die effek wat die wrede ingryping van die oorlog op die rustige lewens van die vrouens op die dorpie het, in die besonder die jong weduwee Esther by wie die gebeure verbygaan totdat 'n gewonde burger deur lede van 'n Boerekommando by haar en haar moeder vir verpleging en herstel afgelaai word. In die twee weke dat hy by hulle bly, kan sy vir die eerste keer sedert haar man se dood weer intiem met iemand praat. As 'n geveg tussen die twee magte naby die dorpie uitbreek, vind die eintlike veldslag van die verhaal in die gemoed van Esther plaas, onderdruk sy die liefde wat geleidelik tussen haar en die burger ontwikkel het en spoor sy hom aan om sy plig as burger te gaan doen, 'n konflik waarmee die novelle aansluit by 'n lang reeks werke in die Afrikaanse letterkunde, van Celliers se Liefde en plig tot Krige se Die arrestasie en Smit se Moeder Hanna. Die aangrypendste toneel in die verhaal is dié waar die perd gekwes met leë saal terugkeer, terwyl Frans se lyk 'n entjie verder langs die pad gevind word. Die gebeure raak soms te lank uitgerek en Hettie word in haar ligsinnige optrede iets van 'n karikatuur. Daarby toon Esther ná haar kort aarseling in die lig van die hopelose vooruitsigte vir die oorlog wat haas verby is en Frans se ernstige siekte en onwilligheid om na die slagveld terug te keer, 'n onwrikbaarheid wat 'n gebrek aan nuansering in haar karakter verraai. In In ballingskap vorm 'n ander tipe gevolg van die oorlog die boustof, nl. die ervarings van vrywillige ballinge wat ná die vredesluiting nie bereid is om onder die Britse vlag te lewe nie en hulle in die koue grysheid van Nederland vestig. In die besonder val die aksent op die oud-stryder Van Reenen wat sy ou lojaliteite behou en met die hulp van Pieter, 'n joernalis, sy wedervaringe en ideale wil te boek stel. Teenoor hom is Pieter die passiewe ‘outsider’ wat alles in Suid-Afrika verloor het, slegs herinneringe aan leed en lyding oorhou en in Nederland hierdie verlede van hom probeer afskud, terwyl Van Reenen se vrou in die nuwe land en lewe wil opgaan. Die sentrale figuur is hulle dogter Alida, wat ander ideale het, nie voortdurend wil teer op die sentimente van 'n ouer geslag nie en wil terugkeer om 'n nuwe Suid-Afrika te help opbou en aan die einde, ten spyte van haar toegeneentheid tot Pieter, na die suiderland gaan om haar te voeg by haar vroeëre minnaar wat al sy besittings tydens die oorlog verloor het. In albei novelles is die buitestaanderfiguur in die persone van Esther en Pieter aanwesig, terwyl die tipiese vrywillige ballingsituasie, wat in so baie van Schoeman se latere werk die boustof vorm, reeds in In ballingskap voorkom. Ná die skryf van Veldslag studeer Schoeman aan die Katolieke Seminarium in Pretoria en gaan hy einde 1961 na Ierland, waar hy meer as twee jaar lank opleiding as priester ontvang. Die Rooms-Katolieke fase in sy ontwikkeling vind
| |
[pagina 530]
| |
neerslag in artikels in Die Brug, lewensketse van Fransiskus van Assisi (1965) en Fransiskus van Sales (1967) en medewerking aan die Kerkwoordeboek (1970) wat hy vir die Katolieke Afrikanersentrum in Pretoria opstel, terwyl sy Ierse verblyf die stimulus is vir 'n reeks vertalings en verwerkings wat hy later onderneem. In Uit die Iers (1970) doen hy 'n keuse uit die mondeling oorgelewerde poësie uit die jare 500 tot 1200 wat deur monnike opgeteken is. Helde van die rooi tak (1973) en Gode, helde en konings (1975) steun met die geskiedenis van veldslae, skeepsreise, besoeke aan die towerland en liefdesverhoudings op die Cúchulainn-saga wat tussen die agtste en tiende eeu n.C. ontstaan het, terwyl in Finn en sy mense (1976) 'n aantal verhale rondom die figuur van die Keltiese mitologiese held Fionn versamel word. Landskap en geskiedenis van Ierland vorm ook die boustof van Berig uit die vreemde (1966) en Van 'n verre eiland (1968), twee dele van 'n ‘Ierse dagboek’. In vergelyking met Ernst van Heerden of Elsa Joubert se reisverhale is daar in hierdie boeke - waarskynlik as gevolg van die beperkinge wat die kloosterlewe hom oplê - min ervaring in die uiterlike sin van die woord, maar eerder 'n verkenning van die Ierse geskiedenis, die ‘siel’ van die volk en 'n besonder gevoelige waarneming van die alledaagse gang van die natuurdinge: die mistige herfs, die winter met sy koue, die grysheid van die dae en die dikwels bedrieglike somer. Daarmee kom daar egter 'n struktuurprobleem in albei die boeke. Terwyl die dagboek gewoonlik op persoonlike belewenisse val soos die ek homself verken, skryf Schoeman van homself weg en word hy waarnemer en historikus, beskrywer van die Ierse volk en landskap. Wat die ek in die klooster doen en wat die presiese aard van sy opleiding is, bly in 'n waas van geheimsinnigheid gehul. Die stimulus wat daar van Ierland uitgaan, bereik sy belangrikste neerslag in die roman By fakkellig (1966). Die werk speel af in Ierland teen die einde van die agttiende eeu terwyl die bevrydende Franse Rewolusie op die Europese vasteland aan die gang is, maar die Ierse boere van die platteland deur die Britse oorheersers en grondbesitters verdruk en verneder word. Dit is 'n stuk geskiedenis wat ook - al is dit vaagweg en op die periferie - 'n parallel met die Suid-Afrikaanse rassespanninge in die sestigerjare van die twintigste eeu vorm. Sowel die wêreld van die boere as dié van die Britse adel word oortuigend geteken en verbind in die David-figuur op wie die verteller konsentreer, wie se bewussyn blootgelê en wie se lewensloop voortdurend gevolg word. As broer van die edelman sir Arthur is David aanvanklik 'n afsydige buitestaander wat 'n afstandelike houding teenoor die boere bewaar en nie in hulle leed en lotgevalle geïnteresseerd is nie. In teenstelling tot Pieter in In ballingskap en die buitestaanders in die latere romans, wat almal in 'n toestand van
| |
[pagina 531]
| |
passiwiteit en willoosheid verkeer, word David egter geleidelik al hoe meer betrokke by die denkwyse en ideale van die plattelandse bevolking, het hy 'n aktiewe aandeel in hulle versetsplanne en veg hy aan die einde met oorgawe aan hulle kant. Hierdie oorgang van passiwiteit na aktiwiteit - die enigste keer dat dit met 'n ‘outsider’ - figuur in Schoeman se oeuvre gebeur - word aanvanklik gestimuleer deur Alice, wat hom op die plaas en in die omgewing rondneem om die wantoestande self te aanskou en deur haar gesprekke geleidelik 'n ander perspektief by hom ontwikkel. Later word dit versterk deur die onderwyser Liam O Néill, wat as ontwikkelde Ier die erbarmlike situasie van die boere voortdurend by hom latent hou, terwyl O Néill en Séamas Bán hom nog later in aanraking bring met Iere van verskillende stande en ontwikkelingspeil, wat gesamentlik die bevolking in sy verskeidenheid verteenwoordig. Ná Liam O Néill se dood tree David daadwerklik toe tot die stryd, word hy gevange geneem en ter dood veroordeel en hoor hy, kort voordat die voltrekking van die vonnis moet plaasvind, oorbluf van die seuntjie Pádraic dat die mense hom as 'n held beskou en in ballades vereer. In sy beskouing oor die roman wys André P. Brink daarop dat die tydsverloop die gang van die seisoene volg wat opeenvolgend, en met drie hoofstukke oor elke seisoen, strek vanaf die eerste lente, somer en vroegherfs waarin David onder leiding van sy skoonsuster Alice bewus raak van die Ierse landskap en probleme, deur die donkerder herfs en winter waarin hy die realiteite van die boerebevolking beter leer ken tot die nuwe lente waarin die rewolusie 'n aanvang neem, David tot aktiewe verset oorgaan en Pádraic aan die slot as lentekind en simbool van die nuwe lewe sy verskyning maak. Binne Schoeman se oeuvre as geheel is By fakkellig sy eerste belangrike hoogtepunt. Intussen het Schoeman reeds met 'n aantal vies romancées oor die lewe van bekende kunstenaars begin. In Die hart van die son (1965) beskryf hy die lewe van William Shakespeare vanaf sy bestaan as prokureursklerk in Stratford tot toneelspeler en skrywer in Londen en gee hy 'n beeld van die Elisabethaanse Engeland met al sy prag en praal. By geleentheid van Rembrandt van Rijn se drie honderdste sterfjaar skryf hy in Lig in die donker (1969) oor dié beroemde skilder se lewe, terwyl hy in Eroica (1973) Wenen as musiekstad tydens die periode van die Franse Rewolusie skets en daarna die lewe van Ludwig van Beethoven in sy reaksie op die musiektradisies van Haydn en Mozart, sy belangstelling in tydgenootlike politieke gebeure, sy onkonvensionele leefpatroon en uiteindelike eensaamheid as gevolg van doofheid nagaan. In Die walskonings (1978) vertel hy die verhaal van die Strausse van Wenen in die negentiende en vroeg-twintigste eeu. Al hierdie werke is voortreflike inleidings vir ontdekkende jong lesers, maar gee terselfdertyd beelde van kunstenaars se lewens met wie Schoeman 'n verwantskap voel en wat by die basiese temas van sy romans en novelles aansluit. Ná die Ierse impuls word Schoeman - wat in die periode 1964-1968 weer in Suid-Afrika woonagtig is - se werk gevoed deur die Vrystaats-plattelandse agtergrond en
| |
[pagina 532]
| |
die grootstadslewe van Johannesburg. 'n Lug vol helder wolke (1967) speel af tydens die Eerste Wêreldoorlog teen die agtergrond van stilte en verlatenheid van boerewoning en plaas wat in die felheid van die son en die vaalheid van die somer geborge lê. Teenoor die geroetineerdheid van die reëlmaat, alledaagsheid, kleinlikheid en nuuskierigheid van die boere met hulle triviale gesprekke staan Kobus wat verplig is om van sy universiteitstudies af te sien en terug te keer na die familieplaas waarin hy geen belangstelling het nie en wat hy ná die dood van sy vader erf. Teenoor familie en kennisse wat hom aanspoor om die tradisionele waardes te eerbiedig en die verantwoordelikheid teenoor die voorgeslagte en pioniers te handhaaf, is Kobus die buitestaander wat geen woord en taal met dié mense deel nie, die boeie en bande wil verbreek en die lewe as 'n uitdaging en avontuur wil tegemoetgaan. In die woorde van Meester wag hierdie land ‘op grood dade, geweldige dade, maar daar gebeur niks nie. Die mense lewe klein op die eindelose vlakte, en hul stemme raak weg in die stilte. Daar kom geen daad wat deur hierdie ruimte kan uitflits nie, geen geluid wat hier weerklank vind nie.’ Kobus se droom is juis in die woorde van Van Wyk Louw se Die dieper reg dat in hierdie land ‘'n daad geskied/wat opklink oor die aarde en/die jare in hul onmag terge’, alhoewel hy dit nêrens eksplisiet só stel nie en sy afskeid - waarmee die novelle 'n verwantskap met C.M. van den Heever se Somer toon - vaag en enigsins doelloos gehou word. 'n Lug vol helder wolke bevat heelparty tradisionele elemente uit die ouer Afrikaanse verhaalkuns, soos die karakter van Meester (vgl. D.F. Malherbe se Hans-die-skipper), die begrafnistoneel (vgl. M.E.R.) en die ongehude moeder (vgl. C.M. van den Heever se Laat
vrugte en later Wilma Stockenström se Uitdraai), terwyl die erfplaas wat knel, 'n ou motief is wat onder andere by Pasch, Meintjes en Aucamp voorkom. Die berigte wat aanvanklik by Kobus en later in die novelle by Alida aankom en waardeur die omringende karakters soos 'n reeks Griekse bodes optree, toon 'n ooreenkoms met die verwante procédé in Van Melle se Bart Nel en beklemtoon die isolasie van die twee belangrikste karakters, terwyl die liefde tussen Kobus en Alida geleidelik en bevredigend ontwikkel word. Die laaste gedeelte bevat van Schoeman se sensitiefste prosa, al voel 'n mens dat die perspektiefverskuiwing na Alida aan die slot die novelle op pad na 'n roman laat beweeg. Reeds vroeg word verwys na Kobus se bannelingvader wat op Ceylon die digte tropiese woude, vreemde blomme, geur van speserye en geroep van die kaketoe ervaar het, maar terug op die plaas die huis herstel, skape opgepas en nooit weer die voël hoor roep het nie. As afsluitende sikliese element keer hierdie verwysing aan die slot feitlik terloops terug as daar sprake is van Kobus wat weggaan en die golwe teen die kus sal sien spoel: ‘Hy sal die voël hoor roep en die klank volg deur lang gras en digte woude, hy sal gaan.’ Met hierdie verwysing verkry Schoeman nie alleen 'n hegte sluiting in sy novelle nie, maar word die motief van die verantwoordelikheid teenoor die voorgeslagte by wyse van 'n uitdruklike ‘afrekening’ en nuwe inset van die buitestaander tot 'n einde gevoer.
| |
[pagina 533]
| |
Terwyl 'n Lug vol helder wolke heelparty van die clichés van die plaasroman oorneem, maar ook vir 'n verfyning van dié tradisie sorg, sluit Spiraal (1968) aan by die stadsromans van die veertigerjare, meer spesifiek by Willem van der Berg se Reisigers na nêrens met sy uitsiglose en lewensmoeë karakters. Die verhaal speel af in 'n losieshuis in 'n eens gesiene buurt van 'n stad ‘met mynhope’, waar private huise geleidelik deur onpersoonlike woonstelgeboue verdring word. In hierdie verwaarloosde losieshuis is Frau Jablonska, wat van Europa na Suid-Afrika gevlug maar haar man ná 'n motorongeluk verloor het, die hospita wat in haar loseerders se wel en wee geïnteresseerd is, terwyl die buitestaander Anton se perspektief op sake die fokuspunt van die novelle vorm. Elkeen van die drie loseerders is in 'n verhouding betrokke: Ingrid is op die getroude Stephen verlief, Nadine word meegevoer deur die oppervlakkige losbol Basil, en die ingekeerde Anton is verstrik in 'n hopelose en onbeantwoorde liefde vir Ingrid. Deur middel van lang gesprekke word die doelloosheid, eindeloosheid en leegheid van hierdie vier mense in die losieshuis uitgebeeld, terwyl die tonele - soos Elize Botha opgemerk het - by voorkeur op Sondag as die ‘leë’ dag van die week gesitueer is. Telkens val die aksent op die eensaamheid en sinloosheid van die karakters se bestaan, al kom daar in die gesprekke tussen Ingrid en Anton tog 'n ander moontlikheid na vore: dat geloof in 'n barmhartige en genadige God vir Ingrid 'n uitkoms bied, terwyl Anton deur sy skryfwerk iets van die verbygaande kan vasvang: ‘daar is 'n patroon, daar is iets in die gang van die tyd en die verwarring van insidente, alhoewel hy nog nouliks die buitelyne daarvan kan uitmaak.’ Daarmee swaai die novelle weg van Reisigers na nêrens en bied die slot die moontlikheid van 'n nuwe begin vir hierdie mense. Terwyl Reisigers na nêrens met sy verskuiwing van karakter tot karakter iets van 'n filmiese konstruksie vertoon en die eenselwige gesprekke tot herhaling en verveling lei, bied die toespitsing op vier karakters met hulle subtiele verhoudings tot mekaar die moontlikheid van 'n hegte konsentrasie, iets wat nog verder versterk word deur die feit dat alle gebeure deur die perspektief van Anton tot die leser kom. Hierdie konsentrasie is ook een van die belangrikste struktuurelemente van Op 'n eiland (1971), die eerste roman van Karel Schoeman uit sy tweede Europese periode van 1968 tot 1976. Soos in Spiraal val die aksent op vier karakters: die Suid-Afrikaanse skilder Johan wat saam met sy Nederlandse vrou Hilde en babaseuntjie Julien op 'n Griekse eiland woon en besoek ontvang van die in Suid-Afrika
| |
[pagina 534]
| |
gebore maar tans in Amsterdam gevestigde verteller Ruud, en later ook van die skryfster Elsa wat in Parys 'n woonstel met Hilde gedeel het en nou deur Europa reis. Die gebeure op die eiland word lank ná afloop daarvan vertel as die verteller reeds terug is in Amsterdam, flardes van sy Mediterreense somerverblyf oproep en vir homself in 'n soort onthouprosa bestendig bewaar. Daarom dat die opsommende gedeeltes soms na dagboekaantekeninge klink, die werkwoordsvorme tussen die presens en verlede tyd wissel en wendinge soos ‘terwyl ek by hulle was’, ‘daardie oggend’, ‘só onthou ek daardie somer’ en ‘(h)oeveel aande het ons so sit en gesels’ van tyd tot tyd voorkom. 'n Mens voel egter dat die aanbod vanuit 'n later punt in die tyd as die romangebeure met hierdie procédé te yl verspreid lê, nie prominent genoeg figureer nie en hoegenaamd geen rol in die aanvang en slot speel nie, iets wat aan die begin verkeerdelik die indruk wek dat die verteller sy verhaal vertel soos die gebeure algaande ontwikkel. Met die aksent op die uiterlike waarneming van landskap, boot en medereisigers is die fokus aanvanklik op die reismotief, terwyl die slot, ná die innerlike belewenisse van elk van die vier karakters op die eiland, weer uitsluitlik waarnemend op die uiterlike gerig is. Deur die haas woordelikse ooreenkoms tussen die eerste en laaste sinne van die roman en deur die herhaling van woorde en frases soos ‘hoekie’, ‘skadu van 'n reddingsboot’, ‘opgestapelde bagasie’ en ‘teen die wind sal beskut’ is aanvang en slot sterk op mekaar gerig. Daar kan dus gepraat word van 'n sikliese element wat begin en einde na mekaar toe buig, iets van 'n sirkelgang laat voltooi en van die geheel 'n hegte eenheid maak. Die afgeslotenheid van die eilandbestaan en die feit dat nie een van die besoekers Grieks só magtig is dat hulle gemaklik met die inwoners kan kommunikeer nie, reduseer die vier sentrale karakters tot 'n ‘argipel van enkelinge’ wat deur die stiltes en verlatenheid heen na mekaar probeer uitreik, al is hulle dan ook gedoem om vreemdes vir mekaar te bly en omslote in hul eensaamheid te wees. Die roman - wat soos Spiraal nie in hoofstukke verdeel is nie maar in drie geledinge aangebied word - gee agtereenvolgens 'n beeld van die aankoms van die verteller, die groeiende vriendskap van Johan en Ruud, die besoek van Elsa en haar toegeneentheid teenoor Hilde, en die afloop waar Ruud en Elsa weer vertrek. Nêrens in sy oeuvre het Schoeman soos hier daarin geslaag om die broosheid en onvolkomenheid van die verhouding tussen mense deur middel van gesprekke, gebare, suggesties en stiltes so suiwer op te vang nie. As Ruud op die eiland aankom, gewaar hy betreklik gou reeds sekere barste in die huwelik van sy gasheer en gasvrou, terwyl Johan se gevoelens vir Ruud, ná 'n aanvanklike periode van afsydigheid, geleidelik deur die gesprekke heen in die tweede segment van die roman uitgroei tot momente van
| |
[pagina 535]
| |
vlugtige liggaamlike kontak waardeur Johan die wesentlike onvolkomenheid van die toenadering tussen mens en mens wil ophef. Vanuit die aanvanklike aandag aan tasbare, konkrete dinge wat die reisende verteller rondom hom waarneem, groei die roman dus uit tot 'n besinning oor en veral uitbeelding van die kortstondigheid van menslike verhoudings as sodanig. In hierdie proses laat val die verteller die aksent in die besonder op Johan, terwyl veel minder aandag gegee word aan die vriendskap tussen Hilde en Elsa, wat as katalisator ‘die sluimerende elemente tot 'n punt van kontak dryf en nuwe verbintenisse laat ontstaan’ (H.C.T. Müller, Die Huisgenoot, 3.12.71). Ruud self bly die passiewe buitestaander wat hoofsaaklik waarneem, weinig oor homself meedeel en ook in die gesprekke terughoudend is, al het hy tog 'n uiters sensitiewe aanvoeling vir die onvolkomenheid van menslike verhoudings en die onvermydelike alleenheid waartoe die mens gedoem is: ‘Daar is eilande wat deur geen mens bereik is nie, wit strande wat deur geen voet betree is nie; daar is fonteine van helder water waarvan niemand ooit gedrink het nie. Daar is gebiede wat op geen kaart vasgelê is nie en kuste waaraan daar nooit 'n naam gegee is nie; geen oor hoor daar die geroep van die voëls of die slag van die branders nie, die afstande ongemeet en die dieptes ongepeil - o ja, daar is eilande.’ Elize Botha se opmerking dat daar in die opsommende gedeeltes blyke is van 'n vriendskap tussen Ruud en Johan waaraan Ruud 'n aktiewe aandeel het (Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig, p. 534), is wel korrek, maar dit is beperk tot enkele geïsoleerde gevalle wat die eenheid van die roman nie ernstig aantas nie. Ten spyte van die enigsins lompe hantering van die agterna-perspektief is Op 'n eiland met sy konsentrasie op vier karakters, die pragtige ontwikkeling van die verhoudings deur die drie geledinge heen, die suggesties en stiltes in die Tsjechowiaanse gesprekke en die beeld van menslike eensaamheid en isolasie Karel Schoeman se bevredigendste werk en een van die hoogtepunte in die Afrikaanse prosa as sodanig. In die sewentigerjare skryf Schoeman verder 'n vyftal romans of novelles waarmee hy - ná Opperman se Voëlvry - die motief van die moontlike of gewisse ondergang van die Afrikaner en van die Westerse kultuur en lewensvorm in hierdie land verder uitbou. In dié opsig sluit hy aan by die ‘betrokke’ literatuur van Breytenbach, Brink, J.C. Steyn en andere, al val die aksent by Schoeman nie in die eerste plek op 'n maatskaplik-politieke problematiek nie, maar op die mens in sy eensaamheid en sy vreemdelingskap as sodanig.
Na die geliefde land (1972) word êrens in die toekoms gesitueer wanneer 'n rewolusie reeds in Suid-Afrika plaasgevind het en 'n ongeïdentifiseerde groep vreemde magshebbers met diktatoriale en dwangmaatreëls aan die bewind is. Die roman handel oor die besoek van George wat vanaf sy vyfde jaar in Europa - meer spesifiek in Switserland, tradisioneel die neutrale en ‘onbetrokke’ land - woon. Hy
| |
[pagina 536]
| |
is die seun van 'n Suid-Afrikaanse diplomaat wat weens die rewolusie nie kon terugkeer nie en maak deel uit van 'n groep Suid-Afrikaners wat net betyds kon wegkom en - soos sy moeder - teer op herinnerings aan die ‘geliefde land’ wat radikaal verander het en waarvan hulle 'n valse beeld ronddra. Die titel van die boek kan, soos verskeie kommentators opgemerk het, 'n toespeling op F.A. Venter se Trek-tetralogie of Paton se Cry, the beloved country wees, maar funksioneer eers werklik ironies as 'n mens dit lees teen die agtergrond van Thomas Boydell se My beloved country, een van die boeke uit die sestigerjare wat die Suid-Afrikaanse rassebeleid probeer regverdig het. Die doel van George se besoek ná die dood van sy ouers bly enigsins vaag en ongemotiveerd, maar hy kom gedeeltelik om die erfplaas Rietvlei te besoek, sake in verband daarmee in orde te bring en dit te probeer verkoop, al is sy reis óók 'n soeke na eie identiteit deur die verlede binne te gaan. Tydens sy besoek blyk dit egter dat Rietvlei totaal verwaarloos en verwoes is en dat die Afrikaners op naburige plase in voortdurende vrees vir polisie-optrede lewe, terwyl hulle volkome geïsoleerd van die buitewêreld en van die nuwe bewindhebbers krampagtig aan hulle ou tradisies en leefwyse probeer vasklou en in die geheim 'n patetiese versetspoging probeer organiseer. Wat hierdie groep Afrikaners deurmaak, is dus die geestelike én letterlike hel wat die gevolg van 'n onnatuurlike isolasie is. Die leefwyse wat hulle probeer handhaaf, kom in werklikheid neer op outydse Boere-byeenkomste met ingelegde kosse, baie drank, volksmusiek, triviale, neulerige gesprekke oor vervloë dae en die tradisionele rassistiese maatstawe en ideale van vroeër wat 'n kontras vorm met George se verfynde leefwyse in Switserland, waarna telkens verwys word. In 'n groot mate is hulle ‘the stock characters of early Afrikaans fiction.’ (Sheila Roberts, Standpunte, XXXV: 3, Junie 1982) en word daar in hulle optrede deur die terugspeling op ouer skrywers soos Celliers, Totius, Keet en C.M. van den Heever 'n ‘uitgediende’ literêre tradisie opgeroep, terwyl die ballinge in Europa in hulle herinneringe terugdink aan die sonskyn, ‘blou lug en helder wolke’ van die ‘geliefde land’, 'n verwysing waarmee Schoeman - soos D.J. Hugo (Blokboek, p. 17) tereg opmerk - sy eie 'n Lug vol helder wolke, wat ‘in die ‘ou’ bedeling’ afspeel, laat resoneer. George probeer met die boere gesels, maar hy bly basies die ‘outsider’ wat nie hulle ideale kan deel nie en (vgl. Ruud in Op 'n eiland) min van homself meedeel. Soos Henry van Eeden vroeër word hy tog teen wil en dank meegesleur in die bittereinders se stryd en word 'n beroep op hom gedoen om te bly en te help veg, al is daar van die begin af vir hom nooit 'n keuse nie en bly die bedoeling van sy koms slegs om 'n paar dae lank te vertoef. Teenoor George en die ander omringende karakters staan Carla wat - soos Alida in In ballingskap - die verlede probeer afskud, uit die drukkende klein maatskappy wil wegkom en hiér - en nie in Europa waarheen George haar uitnooi nie - 'n nuwe toekoms saam met die vreemde bewindhebbers wil ingaan. ‘Ek is moeg vir al julle drome en herinnerings,’ sê sy vir George. ‘(E) k wil nie in die verlede leef nie, ek wil nie kom treur oor 'n toegegroeide ou blomtuin nie. Daar is werk om te doen, die lewe moet aangaan.’ Later sê sy: ‘(E) k wil nie vasgevang raak in herinnerings soos al die mense hier rondom my nie, ek wil nie my hele lewe lank loop en omkyk oor my skouer nie. Ek wil my deel bydra, nie eenkant sit en verkommer in 'n droomwêreldjie nie. Ek wil iets uitrig; ek wil lewe ...’ Soos hy aan die begin gekom het, vertrek George aan die einde weer, 'n procédé wat ook | |
[pagina 537]
| |
in Op 'n eiland voorkom en een van die konstantes in Schoeman se latere werk word. Die roman hou in sy somber toekornshlik 'n angswekkende en onthutsende visioen vir die leser voor, maar in sy uitbeelding van hierdie groep Afrikaners met hul verouderde leefwyse en hulle wêreldvreemdheid in 'n krisissituasie tas Schoeman die geldigheid van sy hele voorstellingswêreld aan. In haar kritiek op die roman in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig formuleer Elize Botha eensydignegatief en uit die stelwyse en tersydes van haar betoog skemer 'n politieke vooroordeel deur, al is die basiese besware in die meeste gevalle geldig. Volgens haar bring Schoeman die waarskynlikheid van die wêreld-van-die-boek in die gedrang as George sê dat hulle in die buiteland nooit baie gelees het van wat daar in Suid-Afrika gebeur nie, terwyl hy met sy aankoms op die lughawe en besoek aan sy streek van herkoms orals aanduidings van 'n ordelike sisteem en kommunikasienetwerk kry. Die portrette van Voortrekkers, politieke figure en staatsleiers aan die mure en die fees op Kommandodrift met sy uitweidings oor trivialiteite en skynbaar doellose handelinge gee 'n karikatuurbeeld van die Afrikaner wat anachronisties aandoen en 'n ‘werklikheidstellende konflik’ vir die leser veroorsaak. Daarby word die leser - in aansluiting by Schoeman se hele tegniek om fyn suggestief te werk en so min as moontlik in hierdie toekomsfantasie te konkretiseer - voortdurend in die onsekerheid gelaat oor wie die ‘hulle’, die nuwe maghebbers in die land werklik is. Volgens D.J. Hugo is hierdie ‘vaagheid omtrent wie regeer, ... 'n wins. Afgesien daarvan dat dit verhoed dat die roman in die aktuele bly vassteek, dra dit by tot die dreigende atmosfeer wat geskep word’ (Blokboek, p. 19). Dit is wel die geval dat 'n skrywer met so 'n tipe onsekerheid besondere effekte kan bereik, soos Etienne Leroux, wat met die ontwykende Salome-figuur in Sewe dae by die Silbersteins die moontlikheid van die verskyning voortdurend latent laat bly, selfs tot die gesluierde intrede aan die slot. In die geval van Na die geliefde land, wat tog in 'n groot mate 'n realistiese wêreld opbou, word dit egter 'n opsetlike mistifikasie, iets wat veral hinderlik aandoen in die voorlaaste hoofstuk waar enige duidelike uiterlike beskrywing van die polisiemanne wat die huis binnestorm, doelbewus agterweë gehou word. Minder gelukkig was Schoeman met sy volgende drie ‘betrokke’ werke. Die noorderlig (1975) speel af tydens die vroeglente in Amsterdam, waar die Suid-Afrikaanse handelskunstenaar Paul hom gevestig het en waar hy in die bestek van een dag in aanraking kom met drie figure uit sy verlede: sy afgetrede Bloemfonteinse Nederlands-professor en sy vrou en 'n studentevriendin Ina, wat met 'n diplomaat getroud is en op vertrek staan na Suid-Afrika waar haar man adjunk-minister sal
| |
[pagina 538]
| |
word. In hulle omwandeling deur Amsterdam soek hulle die verblyfplekke op van hulle gemeenskaplike digteres-vriendin Estelle wat as gevolg van die arrestasie en aanhouding van haar vriend selfmoord gepleeg het. Die hoofpersoon is, soos Ruud en George vroeër, 'n passiewe buitestaander wat in sy verhouding met Estelle in die verlede en nou ook teenoor sy vrou in die hede 'n onvermoë tot daadwerklike kommunikasie toon, terwyl die novelle basies met die konfrontasie van die hede (Amsterdam) en verlede (Suid-Afrika) werk en die momentele kontak tussen mense en hulle onoorkomelike enkelingskap uitbeeld. 'n Mens het egter die gevoel dat die hooffiguur se bestaan in die hede te vaag is en dat die toespelings op die literêre en veral politieke aktualiteit (verteenwoordig in die figuur van Estelle en dié van die vrywillige banneling-Afrikaner in die persoon van 'n bruinman wat in Amsterdam verbitterd leef) te periferaal bly en nie tot volwaardige motief uitgroei nie. Terwyl Na die geliefde land in 'n ongedefinieerde toekoms ná 'n rewolusie gesitueer is, speel Om te sterwe (1976) af in 'n periode van terroriste-aanslae wat 'n volskaalse oorlog voorafgaan en waartydens die idilliese bestaan in die ‘vroegre boereparadijs’ deur petrolrantsoenering, tekort aan lewensmiddele, verskerpte waaksaamheid en angs tot 'n letterlike grenssituasie uitgroei, al is daar - soos in Na die geliefde land - nog steeds met die kuiery van die vroue, die byeenkoms van die leeskring en die partytjie-lewe 'n poging om die tradisionele leefwyse voort te sit. Die hoofaksent val op Martha en Hendrik, die buitestaander-egpaar wat hulle in hul eie werk verdiep en afsydig staan van die gemeenskap, maar wie se seun Ernst die universiteit verlaat het en by die vyandige magte aangesluit het. As Hendrik deur 'n landmyn om die lewe kom, word die plase met die oog op 'n tweede front ontruim en vlug Martha - soos haar grootmoeder vroeër tydens die Anglo-Boereoorlog - die berge in, net om aan die einde met vreemde soldate gekonfronteer te word. Die ‘toekoms’ wat hier opgebou word, toon raakpunte met die eietydse aktualiteit (Angola, Zimbabwe, Namibië), terwyl die spanning voortdurend latent bly. Soos in die geval van Na die geliefde land werk die roman egter met 'n anachronistiese en karikaturale tipe Afrikaner waarvan die hooffigure vaag aandoen, die Ernst-karakter se dryfvere en daadwerklike aktiwiteite in newelagtigheid gehul is en die slot deur sy vaagheid en onbeantwoorde vrae die roman op 'n onbevredigende punt laat eindig. In Afrika: 'n Roman (1977) word die handeling gesitueer in Glasgow, waar Gisela bestek opneem van haar kortstondige verhoudings met ander mense, haar onvermoë tot kontak en gevolglike enkelingskap, die grysheid, doodsheid en verlatenheid van haar verblyf in die koue Skotland en verlange na Afrika waarin terselfdertyd die hunkering na 'n volkome selfstandige persoonlikheid gesimboliseer word. Alhoewel die eensaamheid van die hoofkarakter bevredigend aangebied word, bly sy in laaste instansie 'n vae figuur, terwyl die novelle as geheel met die aankoms en vertrek van die Gisela-karakter (vgl. Op 'n eiland en Na die geliefde land), die wisseling van die seisoene (vgl. By fakkellig) en die situering by 'n Duitse hospita in 'n woonstel (vgl. Spiraal) weinig meer as 'n herhaling van vroeër werk word. Schoeman se geslaagdste roman uit die laat-sewentigerjare is Die hemeltuin (1979), 'n werk wat ná sy terugkeer na Suid-Afrika in 1976 geskryf is. Die verhaal handel oor die besoek aan Londen van 'n Suid-Afrikaanse akademikus, Nikolaas, wat veertig jaar tevore in Oxford gestudeer en intussen wêreldberoemd op sy | |
[pagina 539]
| |
vakgebied geword het. Die dag voordat hy 'n eretoekenning sou ontvang, ontmoet hy sy jeugvriendin Prudence wat weens haar deelname aan 'n organisasie met die doelstelling om aan politieke en ander verdruktes in alle dele van die wêreld hulp te verleen, ewe beroemd geword het. Hierdie herontmoeting lei in die tweede en omvangrykste deel van die roman tot die herbelewing, vanuit Nikolaas se perspektief, van 'n somer wat hy in 1937, veertig jaar gelede, op die landgoed van die Chalmers-gesin deurgebring het, terwyl die verhaal afgesluit word met 'n kort derde deel waarin Nikolaas ongeveer 'n maand ná die vakansie 'n musiekkonsert in Londen bywoon saam met Gerda, 'n Duitse vriendin wat ook op uitnodiging van die Chalmers-gesin die somer op die landgoed was. Die somer van 1937 speel af in die idilliese en paradyslike ‘hemeltuin’ wat die Chalmers-gesin vir hulself geskep het en waarin die Victoriaanse leefwyse van 'n vorige eeu met gesprekke, teedrinkery, uitstappies in die omgewing, bywoon van konserte en die speel van croquet en tennis selfgenoegsaam voortgesit word terwyl die nuusmedia praat oor Franco se bloedige stryd in Spanje en Hitler en sy Nazi's wat voorbereidings tref vir 'n tweede wêreldoorlog. Maar hierdie verwikkelinge raak die Chalmers-gesin nouliks: die meeste van hulle toon haas geen belangstelling in wat op die Europese vasteland aangaan nie. Alleen Prudence wil (soos vroeër Alida in In ballingskap en Carla in Na die geliefde land) iets daadwerkliks aan die leed en lyding van die Spaanse en Duitse vlugtelinge doen, terwyl Nikolaas - as voortsetting van Schoeman se ‘outsider’-figuur - totaal afsydig daarvan staan. Die teenstelling tussen - soos Anita Lindenberg dit gestel het - ‘jeugdige potensiaal en uiteindelike bereiking (Die Vaderland, 26.2.81) bly egter nie net tot die Nikolaas- en Prudence-karakters beperk nie. Die rustige lewe op die Chalmers-landgoed op die vooraand van ingrypende politieke en militêre gebeure vorm 'n versweë parallel met die werklikheid waar Suid-Afrika vandag voor dieselfde krisis staan, 'n verouderde leefwyse sal moet verwerp en 'n ‘morele keuse’ sal moet doen. Alhoewel bekende temas en situasies uit vorige werke hier voorkom, slaag Schoeman deur die fyn organisasie, sensitiewe karaktertekening en die kuns van suggestie om met Die hemeltuin een van sy beste werke te lewer. Naas die roman en novelle het Schoeman se belangstelling intussen ook na die drama begin uitgaan. Hy verwerk of vertaal Friedrich Schiller se Maria Stuart (1973), Anton Tsjechow se Die kersieboord (1975), Pieter Langendijk se Die huweliksbedrog (1976), Herman Heijermans se Op hoop van seën (1978) en Arthur Schnitzler se Liebelei (1981) in 'n Afrikaans wat oor die algemeen goed speelbaar is. In die sewentigerjare publiseer hy ook 'n drietal televisietekste - die eerste gepubliseerde stukke vir dié medium in Afrikaans - wat deur die figuur van die buitestaander, subtiliteit van menslike verhoudings en die politieke aktualiteit op die periferie by Schoeman se romans en novelles van dié tyd aansluit, terwyl die besondere tegnieke van die televisieteks gaandeweg subtieler aangewend word. Besoek (1975) werk met
| |
[pagina 540]
| |
heelparty konstantes in Schoeman se oeuvre (die aankoms en terugkeer van die buitestaanderhoofpersoon, die poging om 'n stuk verlede sinryk vir homself te maak, die selfstandigheid van alle menslike verhoudinge, die onvermoë tot werklike kontak en die fyn suggesties tussen die woorde deur), maar word bevredigend verbind met 'n aanwending van die tegniek van die spel-in-die-spel wat in hooftrekke 'n herhaling is van belangrike momente uit die mislukte verhouding met sy vrou en die wisselwerking tussen verlede en hede en spel en werklikheid wat só ontstaan. In Die somerpaleis (1976) maak Schoeman ook gebruik van bekende vroeëre motiewe (die oppervlakkige lewe van lede van die gegoede maatskappy met hulle vervlakkende waardes teenoor die hooffigure wat verby hierdie dinge wil reik en die onvervuldheid en tydelikheid van menslike waardes), maar nou word hulle ingeskakel by die hoër motief van die vernietiging van ideale, hier spesifiek die ondergang van die beskawing in Suid-Afrika, soos die somerpaleis van die Chinese keisers wat deur plunderaars verwoes is. Ook in Die jare (1976) kry 'n mens, soos in Besoek, 'n obsessie met ‘de dingen die voorbijgaan’, hier voorgestel in die Krynauw-figuur wie se literêre werk ná baie jare na waarde geskat word en wat nou die verfilming van een van sy jeugherinneringe bywoon. Soos in Besoek werk Die jare - maar nou veel heftiger - met die spanning tussen verlede en hede, herinnering en werklikheid en kuns en waarheid, sodat die teks één dramatiese stuk hoogspanning word. Terwyl die ou man die verlede wil besweer deur die verfilming so getrou as moontlik aan die werklikheid te hou, reduseer die regisseur dit in terme van sy kunsopvattinge tot 'n spel waarin hy 'n hoër waarheid bo 'n toevallige en vir hom irrelevante werklikheid verkies. Aan die slot val kunswerk en werklikheid, film en herinnering egter saam as Krynauw na sy jeug in die persoon van sy swartgeklede moeder beweeg en die wisselwerking tussen die tye daarmee opgehef word. Ná sy vroeëre ‘Ierse dagboeke’ doen Schoeman in die sewentigerjare verslag van sy verdere reise in twee boeke waarmee hy sy tweede Europese verblyf ‘afsluit’. In Koninkryk in die noorde (1977) verbind hy die persoonlike ervaring van die Skotse landskap en mense met die objektiewe verslag van die historiese agtergrond en die grootse verlede van hierdie volk, terwyl hy in Onderweg (1978) by wyse van vier en
| |
[pagina 541]
| |
twintig sketse 'n soort Afscheid van Europa skryf wat te veel bloot enumererend, uiterlik-beskawend en eenselwig word, al bevat die boek tog stukke gevoelige prosa en sluit die basiese idee van die afskeid baie nóú aan by een van die hoofmotiewe in Schoeman se werk (vgl. veral ‘Omsien in verwondering’, na 'n titel van Annie Romein-Verschoor). Ná sy terugkeer na Suid-Afrika, maar veral in die periode 1977-1982 as hy in Bloemfontein woon, spits Schoeman hom toe op navorsing in verband met die Vrystaatse geskiedenis. Hierdie werk vind neerslag in die monumentale Bloemfontein: Die ontstaan van 'n stad (1846-1946) (1980) waarin hy die geskiedenis van die stad vanaf sy beskeie aanvang as klein dorpie, deur die republikeinse periode en Anglo-Boereoorlog tot in die twintigste eeu nagaan, terwyl hy in Vrystaatse erfenis (1982) 'n studie van die argitektuur van die Oranje-Vrystaat vanaf die inboorlingkuns tot die republikeinse tydperk maak. In albei studies gebruik Schoeman sowel gepubliseerde as argivale bronne, albei getuig van 'n enorme voorstudie en in albei wys hy op dinge wat verlore geraak het as gevolg van 'n gebrek aan belangstelling. In Die dood van 'n Engelsman (1982) skryf hy oor die vroeë jare van die Oranje-Vrystaat en veral oor die Cox-moorde van 1856: die verhaal van Charles Leo Cox wat in 1856 gevange geneem is op grond van vermeende moord op sy vrou en twee kinders en later verhoor en tereggestel is, alhoewel die aanklagte teen hom hoofsaaklik op omstandigheidsgetuienis berus het. Die reaksie van Engelstalige inwoners van die republiek het jare later steeds nog rimpelinge veroorsaak en in 'n stadium was daar selfs die moontlikheid van 'n Engelse Slagtersnek, maar vandag is die hele aangeleentheid gereduseer tot dokumente ‘in argiewe, briewe en verklarings van mense wat lankal dood is’ en weet niemand meer selfs waar Cox ter ruste gelê is nie. Dat die studie dus - soos André P. Brink beweer - te kort gaan aan ‘enigiets wat na 'n werklike visie lyk’ (Rapport, 31.10.82), is juis nie die geval nie, aangesien die uiteindelike ‘motief’ van die hele boek pragtig aansluit by Schoeman se gedagte van die verloregaan van dinge, wat 'n sentrale tema in sy oeuvre is. Minder gelukkig was Schoeman met Die reisiger (1980) waarin hy fiktief voortborduur op 'n kort episode uit die lewe van C. Louis Leipoldt, nl. in die winter van 1908-1909 toe hy op die private jag van Joseph Pulitzer, die Amerikaanse koerantmagnaat, as medikus saamgereis het. Waar ek gelukkig was (1981) is die verhaal van Erica, wat ná 'n liefdesteleurstelling haarself vil 'n kort periode in Bloemfontein, stad van haar vroeë kinderjare, vestig om te help met die ontwerp van 'n optog vir die herdenkingsfees van die Bloemfontein-konvensie van 1854. Afgesien van die dikwels satiriese kyk wat sy van die stad en sy gewoontes het, word sy betrek by die lewens van 'n aantal kunstenaars en hulle vriende, terwyl sy telkens haar kinderjare en die geluk saam met haar oupa probeer oproep en herbelewe. Die verhaaldraad van die roman is yl, maar die satiriese element vergoed in 'n ruim mate daarvoor. Ga naar voetnoot+ | |
[pagina 542]
| |
Karel Schoeman se oeuvre toon 'n sekere eenselwigheid deur die herhaling van dieselfde soort karakters, situasies en boustof, maar aan die ander kant blyk hieruit juis die geobsedeerdheid waarmee hy basiese temas telkens vanuit 'n ander hoek belig. Sy werk munt veral uit deur die uitbeelding van die buitestaander wat nie in staat is tot werklike kontak met sy medemens nie en slegs momenteel 'n vlugtige aanraking kan beleef. Daarby bereik hy fyn nuanses en subtiliteit in die dialoog, terwyl die tematiek van die sirkelgang van dinge, die verbygaan van alles en die wesentlike eensaamheid van die mens sy werk oorheers. Hy toon - behalwe vir die dikwels periferale politieke ‘betrokkenheid’ wat uit sommige romans en novelles spreek - weinig aansluiting by Sestig en reik eerder in sy werk terug na ouer skrywers soos Van Melle en C.M. van den Heever. Met die karige woorde en baie stiltes waarvan hy gebruik maak, bereik hy hoogtepunte in werke soos By fakkellig, Op 'n eiland, Die jare en Die hemeltuin, terwyl 'n Lug voel helder wolke en Na die geliefde land geslaagde momente bevat. Van die roman- en novelleskrywers ná Sestig tot omstreeks 1970 is hy verreweg die belangrikste figuur. |
|