Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2
(1983)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 298]
| |
Hoofstuk 5
| |
I. Voortsetting van die romantiek, realisme, folkloristiese vertelling en dier verhaalSoos telkens tevore in die Afrikaanse prosa word die romantiese avonture van karakters in die populêre romans vanaf 1955 tot hede dikwels teen die agtergrond van 'n historiese periode gesitueer. Hulle wat die soutkruid afpluk (1961) van Marie du Preez wentel om 'n geykte liefdesdriehoek in die tyd van die Anglo-Boereoorlog, terwyl J.G. du P. Pretorius vir Dit sal weer groei (1963) en Rein Pretorius vir die spanningsverhaal Opdrag vir 'n ruiter (1968) dieselfde tydvak as agtergrond neem. Die geskiedenis van 'n Britse offisier wat tydens die Anglo-Boereoorlog gewond word en 'n kind verwek by die Boeremeisie wat hom op 'n Wes-Transvaalse plaas verpleeg, is die boustof-vir Tucker Vorster in die enigsins wydlopige Die baron van Skoonrivier (1975), terwyl At van Wyk in Kniel, krygsman (1968) meer spesifiek op die lewe van genl. C.R. de Wet konsentreer. Drie skrywers boekstaaf allerlei wetenswaardighede en vertellings oor die Anglo-Boereoorlog. Naas Opsaal: Herinneringe aan die Tweede Vryheidsoorlog (1969), waarin W.H. Ackermann staaltjies van verskeie mense opteken, skryf Nan Lubbe in Die jongste spioen (1969) oor haar kinderdae tydens die oorlog en Jan H. Meyer in Kommando-jare (in samewerking met E.P. du Plessis, 1971) oor sy aandeel aan die stryd. margaret magdel bakkes (gebore | |
[pagina 299]
| |
Aucamp, 1931-), wat in die sestiger- en sewentigerjare 'n groot aantal populêre romans publiseer, lewer haar belangrikste werk met 'n drietal bundels kortverhale: 'n Baksel in die môre (1973; saam met Hennie Aucamp) oor die inwoners van die Stormberge, Wat op die middag verwoes (1977), waarin die gebeure dikwels teen die agtergrond van krisistye (Anglo-Boereoorlog, Rebellie) gesitueer en die gees van 'n vervloë tyd mooi opgeroep word, en Sing vir ons Matilda (1979), 'n bundel nugter, sober verhale oor verskillende mense se reaksies op die dood. Naas die verhale wat teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog afspeel, maak heelparty van die oorwegend romanties ingestelde skrywers ook van 'n kontemporêre milieu gebruik waarteen die gebeure in hulle romans gesitueer word. In die titelnovelle van Atlantis! Atlantis! (1975) beeld Roy Niemann die lewens van drie uiteenlopende mense op 'n eiland en hulle verhoudinge tot mekaar uit. Uitsig op die speelgrond (1975) van dieselfde skrywer speel af in die kleindorpse situasie van 'n skoolkoshuis met allerlei liefdesintriges tussen die kinders en onderwysers. In die geestige misdaadkomedie Zapzap (1975) van Jan Harmse (pseudoniem van Klaas Steytler) dien die snel op mekaar volgende reeks gebeure (bankroof, skietery, ontvoerings en ontsnappings) as basis vir 'n satire op Suid-Afrikaners se leefwyse en gewoontes. Harmse is ook die skrywer van Die wonderwerke van Judas Iskariot en ander vertellings (1977) en Die leeukuil (1982), eg. 'n drietal verhale waarin 'n Bybelse gegewe allegories verdiep word, telkens met 'n wonderwerk as sentrale gegewe en keerpunt. Die romantiek van die see dien as basis vir die versameling hengelstories in Thys van Lille se Saam met die visters in die skuit (1960), terwyl J.A. Luckhoff vir die jeugverhaal Die vistermanne seil (1963) op die tradisionele resep van avontuur, spanning, onheil en romanse steun. Ook in Kobus Myburgh se romans dien die see heel dikwels as milieu vir 'n reeks spannende gebeure, o.m. in Waaiskuim (1968), waarin reisverhaal en roman, feite en fiksie 'n bevredigende verbinding aangaan, en Die bloue skuit (1975), wat 'n kunstenaar se drang na vryheid teen die agtergrond van die sewentiende-eeuse Nederland en die onwettige slawehandel uitbeeld. morkel van tonder (1923-) skryf in Sonop oor Blinkkrans (1963)
oor die lewe van twee plattelandse seuns wat in die stad volwassenheid bereik en vertel in Die koningsbok (1967) die verhaal van 'n man se stryd om sy eie vermoë en krag aan homself te bewys, al word die eenvoudige jagverhaal te bewustelik simbolies ingeklee. In Die lewe is 'n lied (1976) bundel Van Tonder 'n aantal geestig-ironiese essays, terwyl Halfkrone op die oë (1978) oor die griepepidemie van 1918 handel. Drie radiodramas word opgeneem in Sewe stasies en ander hoorspele (1983). In Verby die wit brug (1978) versamel Johan Coetzee 'n aantal kortverhale oor die avontuur, vrees, kameraadskap en probleme van soldate aan die Angolese grens, 'n gegewe waarmee
| |
[pagina 300]
| |
sy werk 'n verwantskap met dié van P.J. Haasbroek, J.C. Steyn en Welma Odendaal toon. 'n Hele aantal skrywers in die tydvak 1955-hede doen ook mee om in die behoefte aan reisverhale te voorsien, soos Hans J. Lombard met Straalvlug na die Ooste (1961) oor 'n reis na Hongkong en Japan, M. Nienaber-Luitingh met In die skaduwee van die Akropolis (1966) oor 'n besoek aan veral Griekeland, Susie McDermid met Ek en die Yanks (1969), haar lewensblye verslag oor 'n aantal jare se verblyf in die Verenigde State, Japie Coetzee met Bakens na Brandberg (1969) oor 'n reis deur die Noordweste en die Richtersveld tot in Suidwes-Afrika en Christine Basson met Reis deur 'n revolusie (1979) oor die toestande in Chili ná die omverwerping van Allende se bewind in 1973. Hiernaas is daar 'n hele stroom skrywers wat die ontspanningsverhaal in sy verskillende vorme beoefen, soos E.J.M. Fraser, C.F. Beyers-Boshoff, Eunice Bosman, S.C. Brink, Elmar Steyn, G. Steyn, Hermie Hendriks, P.J. Fourie, Mike Heine, Marzanne le Roux, Magda Strydom, Fanus Rautenbach, Christine du Plessis, Erika Nöthling, Ena Murray, Joan Kruger, Maretha Maartens, Kobus Louw, Cornelia Kruger, Melanie Boshoff, Madeleine van Biljon, Nelmari Kock en Susan Kruger. Op die gebied van die jeugverhaal word bydraes gelewer deur Ben Olivier, Tonie Roux, Louis Wessels, Johann Jordaan, Johan Coetzee, Cor Nortjé, U.M. Gerryts, Hester Heese, Ans Visser en Rona Rupert. W.O. Kühne sorg vir belangrike kleuterlektuur met sy reeks Huppel-boekies, terwyl Verna Vels die Liewe Heksie-reeks en Louise Smit die Haas Das-boeke skryf. Van die belangrikste werk vir die jeug is dié van leon gerdener rousseau (1931-), wat die avontuurlike Fritz Deelman-reeks lewer, die geskiedenis van Marco Polo van Venesië (1958) en Leonardo da Vinci (Die Florentyn, 1959) weergee, talle legendes oorvertel en 'n versameling Rympies vir kleuters (1974) en Rympies vir kinders (1976) besorg. In Die groot verlange (1974) vertel Rousseau die lewensverhaal van Eugène N. Marais en lewer hy 'n unieke bydrae op die gebied van die biografie in Afrikaans. Die rou werklikheid van die vroeë Afrikaanse realiste is ook wel die boustof in 'n aantal romans, al oorheers die dilemma van die stedelike mens in 'n moderne situasie in die ‘populêre’ probleemroman sedert 1955. Forona Bosman (pseudoniem van Wim Hartman), wat in die gesinsverhaal Aan woelige waters (1966) 'n avontuurlike reeks gebeure op 'n Bolandse dorp weergee, skets in Die transportryers (1966) die lotgevalle van 'n Afrikaanse gesin wat daarin slaag om in die stedelike milieu van Johannesburg hulleself te bly. In Man met die donker bril (1964) teken Gert Basson die voos, sieklike wêreld waarin 'n aantal patetiese karakters - kranksinniges, eendsterte, lokvinke en skurke - gevange sit, terwyl die aktualiteit van dwelmverslawing in Roelf van Rensburg se skokverhaal Gooi hom in die sloot (1971) as motief dien. Helen Cilliers stel in Cornelius (1977) die verbrokkeling van 'n gesin as gevolg van 'n gebrek aan kommunikasie voor. In die outobiografiese Een lewe (1969) vertel die Kaapstadse hartchirurg Christiaan Barnard sy lewensverhaal tot die eerste
| |
[pagina 301]
| |
hartoorplanting van 1967, terwyl hy in samewerking met Siegfried Stander in Verstotelinge (1973) en Die donker uur (1977) 'n geromanseerde behandeling van mediese probleme en gevalle gee. In die novellistiese sketse En kyk 'n wit perd (1975) van Wiets Beukes, telkens met dieselfde groepie karakters as kern, word die kleurverhoudinge in die Suid-Afrikaanse gemeenskap verken, terwyl Elsabe Steenberg - skryfster van kortverhale (Wildegans, wildegans, 1980) en talle goeie werke vir die jeug - in Plek van die bruin geeste (1975) en S.E. Fraser in die ontwikkelingsroman Vir hulle die môrester (1979) die verhaal vertel van 'n wit baba wat deur bruinmense grootgemaak word. Die noodsaaklikheid van menslike verhoudinge vir 'n volwaardige lewe is die hoofmotief in Rina Pretorius-Prinsloo se Die man in die klip (1976), die verhaal van 'n letterkundige wat slegs in terme van stelsels dink en sy skoondogter wat haar hele lewe wegdroom. Die hartroerende en enigsins onwêreldse verhaal van twee verstote dogtertjies in 'n weeshuis is die onderwerp van Die towervuurtjie (1979) deur Schalkie van Wyk, 'n tipe boustof waarmee die roman by die lang stoet weeskinders in die populêre en middelmatige prosa van die twintiger- en dertigerjare aansluit. Fyn karakterbeelding en strak komposisie is die hoofverdienstes van die werk van engela elizabeth helena van rooyen (1939-), wat ook onder haar getroude naam linde populêre romans publiseer. In Die wenteltrap (1970) is die sentrale motief die gedagte dat elke mens skuld het aan sy eie en sy medemens se struikeling, terwyl Kontrapunt (1973) oor die verweefde lewens van 'n aantal verstotelinge handel en Vuurwag (1975) die lewens van mense in die broeiende, ingeslote wêreld van 'n bosplantasie as boustof het. Die jeugverhaal Kaboep en Koer (1977) speel af teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog en gaan oor 'n moederlose kind wat by 'n oom en tante grootword terwyl die vader in Egipte veg. Naas die populêre romantiese en realistiese verhaalkuns word die folkloristiese rigting en die dierverhaal in die Afrikaanse prosa ook deur 'n hele aantal skrywers sedert 1955 voortgesit. pieter willem grobbelaar (1930-) doen belangrike werk op die gebied van die Afrikaanse volkskunde deur sy optekening van volksvertellings (sprokies, kampvuurstories en heldeverhale), volksrympies en volkskundige navorsingswerk (o.m. die reeks Die Afrikaner en sy kultuur), terwyl hy ook oorspronklike werke op volksverhaaltemas baseer en volksverhale uit ander lande verwerk. In Die buffeltemmer (1965) vertel Johann Bekker die verhaal van 'n wit seun wat onder die Matebeles grootword, iets waarmee dit 'n ooreenkoms met F.A. Venter se Wit oemfaan toon. J.L.C. Strydom bundel in Die gekraakte kalbassie (1961), Kosbare kruik (1962) en Mfundusi Malevu (1962) 'n aantal Zoeloenovelles met soms 'n oormaat aan volkskundige kommentaar, terwyl F.J. le Roux in Waar die pad eindig (1975) 'n aantal heroïese dade uit die geskiedenis van die Zoeloevolk oorvertel. Anna Minnaar-Vos - skryfster van Skiet wortel en groei (1975), die verhaal van vyf Britse Setlaarsvroue - lewer in Nomkosi van die Nahoon (1974) 'n oorwegend getroue geskiedkundige verslag van 'n karakter uit die geskiedenis van die sogenaamde ‘selfmoord van die amaXhosa’. Empie Maritz het in Stemme uit die Fundudzi (1974)
| |
[pagina 302]
| |
die tradisie en mites van die Vendavolk as agtergrond. Die wêreld van die Bosveld is die boustof vir Evert F. Potgieter se Tussen rietbos en mopani (1964), D.B. van Wijk se Bosveldstories (1970) en Voetvolk van die Bosveld (1978) deur W.A. Hickey, wat 'n hele reeks werke met diere as hoofpersone skryf, o.m. Twee vir 'n stuiwer (1965), wat skynbaar oor mossies handel maar wesentlik 'n verbloemde waarneming van die mensdom gee, en Vier diere (1969) oor 'n hond, sweetvos, luiperd en kwagga. In Bokmakierie in my fluit (1968) vertel Christo Maritz die verhaal van Masilo, 'n swart seun wat met sy rietfluit 'n hele wêreld van ritme en klank optower maar ten slotte sy idille ter wille van geld en roem opoffer en die bekoring verloor. Die waterbobbejaan (1968), waarvoor jacobus phillippus benjamin venter (1923-) die Scheepersprys vir Jeuglektuur ontvang, speel af in die Bosveld van Marico en het die legende van 'n geheimsinnige mensdier as boustof. Met Pels (1969; oor 'n otter), Bubo (1970; oor 'n ooruil en vleivalk), Salmaklak (1971; 'n legende van die Vaalrivier), Frik (1973), Stoker (1976) en Pòana en sy ratel (1979) sit Venter sy uitbeelding van diere en liefdevolle herinnering aan die verbygegane geslag van landskoonmakers met hulle swaarkry en avontuur in goeie jeuglektuur voort. Die wêreld van Suidwes-Afrika met sy avonture is die boustof vir Bill J. van Niekerk se Ver is die swerwer se horison (1964) en Doe Immelman se talle jagverhale, o.m. Verhale uit Suidwes (1959), Die safari na Omukwai (1960), Vlamme in die Namib (1963), Die groot maroelas (1963) en Die wit hings van die Namib (1968). Belangriker is die groot aantal verhale, mites, fabels en oorvertellings van die Boesman se geskiedenis, gewoontes en leefwyse deur jan jakobus van der post (1927-1971), wat as jong seun 'n lang ruk met 'n groep Boesmans rondgeswerf het, al verloop die meeste van dié vertellings te episodies en al is die folkloristiese besonderhede nie altyd as deel van die verhaal geïntegreer nie. Hierdie werk sluit in Jagters van die duine (1963), Agarob (1963), Gaub (1963), Vonk (1964), Witman van die duine (1965), Kwai (1966), Tjeb (1967), Ngnô (1968), Toordokter van die duine (1968) en Kwê, die verklikker (1970). | |
II. Streekliteratuur, herinneringskuns, skets en essaySoos in die kleinrealistiese prosa van die veertiger- en vroeë vyftigerjare is die voorstelling van dorps- en plaastipes binne 'n regionale milieu, soms met die gebruik van 'n spesifieke streektaal, een van die belangrikste strominge in die verhaalkuns sedert 1955, terwyl die herinnering aan 'n idilliese verlede in 'n bepaalde streek, die oproep van 'n vergange leefwyse met sy besondere gewoontes
| |
[pagina 303]
| |
en gebruike en die anekdotes van volkse tipes uit 'n spesifieke kontrei die boustof vir heelparty skrywers vorm. Daarnaas word die skets en essay, sowel met 'n joernalistieke as 'n meer wysgerige inslag, ook deur 'n hele paar outeurs beoefen. In die sketsmatige vertellings van gert daniel janse pretorius (1912-1975), gebundel in Boetatjie (1957), Spokie (1958), Die seun van Doodloopstraat (1959) en Tot siens, Boetatjie (1963), word die gemoedelike verhaal van 'n seun uit Distrik Ses vertel. Die tipies humorrealistiese inslag van hierdie vertellings kom ook voor in Pretorius se uitbeelding van die nukke en streke van 'n ander Kleurlingkarakter in Johnnie (1958) en Tot siens, Johnnie (1963), terwyl hy in Gelowiges en Fariseërs (1958) die lewens van eenvoudige mense op 'n plattelandse dorp, in die roman Stil vrou van die see (1958) die bestaan van bruin vissers en in Spoelklippies (1963) die lewensloop van ouer mense as boustof het. In Die hele dorp weet (1958) van Santie Grosskopf word 'n huwelikskrisis op 'n plattelandse dorp beleef deur die oë van die egpaar se dogtertjie wat met haar naïewe onskuld vir 'n oplossing sorg, al is die geheel nie vry van 'n neiging tot didaktiek nie. Jan Schutte se tweedelige Die Du Plooys van Soetmelksvlei (1960-1961), wat as gewilde radiovervolgverhaal uitgesaai is, handel oor die vereensaming maar ook humoristiese lewe van twee eiesinnige bejaardes met 'n raak tipering en skildering van die plaasagtergrond. In die vertellings van Datei (pseudoniem van P.C.J. Jordaan), wat in Ure met horings (1960) en Ure vol seesand (1964) gebundel is, word 'n dag in die lewe van onderskeidelik 'n vrou en 'n gesin met 'n sterk geestige en satiriese inslag en met 'n bevredigende uitbeelding van tipes voorgestel. In 'n Spyker vir Slypsteenkop (1974) neem p.g. hendriks (pseudoniem van pieter pistorius, 1920-) die gewoontes van die swartman en die landelike leefwyse in die Bosveld van jare gelede as boustof, terwyl die liefde vir en kennis van die Waterberg meespeel in Roep van die tsetlo (1979), die verhaal van 'n seun wat, soos vroeër by Johannes Meintjes, 'n keuse tussen universiteitsopleiding en boerdery moet maak. Die ervarings van 'n jong onderwyser by 'n nuwe skool, soms fragmentaries, anekdoties en met 'n episodiese voortgang van gebeurtenis tot gebeurtenis, is die boustof van 'n Soort bevryding (1977). In Werktuig van Adonai (1978), wat oor die profeet Jona handel, sit Hendriks die tradisie van Malherbe se Bybelromans voort, terwyl hy in 'n Monument vir Elias Hardehand (1980) vanuit 'n raamvertelling die verhale van 'n baasverteller uit die Bosveld opteken. Die werk van Hendriks het reeds die liefdevolle herinnering aan 'n bepaalde streek as agtergrond, 'n tipe boustof wat by heelparty skrywers sedert 1955 voorkom. So ryk was my lewe (1956) deur Nic Potgieter is die in die eerste persoon vertelde lewensverhaal van die skrywer se blindgebore vader wat op 'n Vrystaatse plaas
| |
[pagina 304]
| |
grootword en in die eerste deel van die roman sketsmatig en by wyse van anekdotes oor sy jeug vertel. In die enigsins wydlopige, sketsmatige roman Nie met hande gebou nie (1959) deur I.J.V.H. Fourie word 'n beeld gegee van die outdyse leefwyse op 'n plaas in Griekwaland-Wes. andries charl cilliers (1898-1980) skryf in Die silwer soom (1959) en Lewensavontuur (drie dele, 1971-1973) reminisserend oor sy kinderjare op 'n Bolandse plaas, studiejare in Suid-Afrika en Duitsland en werk as hoogleraar op Stellenbosch, terwyl Jan Bosman in die stilisties eenselwige sketse in Blomme van gister (1960) sy jeug in die Boland herbeleef. In Kerssnuitsels (1962) en Die sestiende koppie (1965) gee petronella van heerden (1887-1975) amper by wyse van 'n mosaïek die bont patroon van haar dinamiese, onrustige lewe as 'n Vrystaatse landdrosdogter net voor, gedurende en ná die Anglo-Boereoorlog, haar skoolopleiding op Philippolis en aan 'n Wellingtonse ‘seminary’, kennismaking met bekende historiese figure, universiteitsopleiding aan die ou ‘Victoria College’ op Stellenbosch en later in Nederland, en haar werk as eerste Suid-Afrikaanse vroulike mediese praktisyn in die Vrystaat en Kaapstad. peter henry nortjé (1920-), wat veral as skrywer van jeuglektuur bekend is en in Bly of gly (1975) vermaaklik verslag lewer van 'n Europese reis, situeer die gebeure in Die groen ghoen (1960) op die plaas Sewefontein in 'n afgesonderde kloof tussen die Winterhoek- en Kougaberge. Terwyl die plaaslewe by Nortjé sterk geïdealiseer en geromantiseer word, gee dot serfontein, skrywersnaam van susanna jacoba krog (1925-), in Systap onder die juk (1969), Ek is
maar ene (1972) en Amper my mense (1974) sketse uit die lewe van die ‘vreeslose Vrystaters’ van haar jeug, telkens met die optekening van die geskiedenis, anekdotes en vermaaklike bedrywighede van volkse tipes. Serfontein is ook die skryfster van die trilogie So min blomme (1966), Onder skewe sterre (1969) en Sonder klein trou (1974), wat op die Vrystaatse dorp Laval afspeel en die lotgevalle van sy mense oor 'n periode van baie jare uitbeeld, terwyl sy in die roman Rang in der staten rij (1979) - 'n aanhaling uit die Vrystaatse volkslied - die ontwikkeling van Frank Ingram vanaf Stellenbosse kweekskoolstudent tot volwassenheid weergee, telkens met die gebruik van outentieke vertellings en 'n uitstekende kennis van die historiese tydvak. Dot Serfontein se beste werk is Die laaste jagtog (1982), waarin 'n dertiental voortreflike kortverhale opgeneem word. Die verhale wissel tematies van jag, stokperdjie-manie en 'n poging om 'n familieplaas terug te wen tot die liefde tussen twee ouer mense en die verhouding tussen 'n bejaarde en haar kinders. Alhoewel die bundel dus by temas van die vroeëre Afrikaanse prosa aansluit, toon
| |
[pagina 305]
| |
haar kortverhale met die aanwending van humor, die ontwikkeling en innerlike rypwording van die karakters en die sluitende eenheid wat sy telkens bereik, 'n kwaliteit wat die meestal wydlopige ouer vertellings mis. In Latjieboud en die horingsmanooi (1972) deur Theuns Kotzé en Namakwalandse kroniek (1973) deur H.A. Rossouw word vertellings en sketse uit die Noordweste gebundel, terwyl D.M. Greeff, soos vroeër Minnie Postma in Toon Prens en Herman Charles Bosman met sy Schalk Lourens-verhale, in Klip in die slingerpad (1970), Die horing wat groei (1974) en Oom Hennerik Vermaak word verbrand (1975) 'n bobaas-verteller uit die Noordweste met sy spekskietery en lewenswysheid aan die woord stel. Die produktiefste skrywer van sketse en vertellings uit die Noordweste (Namakwaland, Boesmanland en die Richtersveld ) is abraham adam josef van niekerk (1931-), wat in Die soutryers (1964), Kelkiewyn en koggelaar (1969), Bittergousblom (1974), Herneuter (1975), Soos twee windswaels (1979), Op pad na Port Jollie (1979), Die klipsweet sit aan my voetsool vas (1981) en Kerf 'n stokkie (1981) die bestaanstryd in 'n barre wêreld weergee, die verbygegane leefwyse en mense van dié streek oproep en daarmee allerlei kultuurhistoriese wetenswaardighede boekstaaf. In Optelgoed (1970) bundel Van Niekerk 'n aantal diamantsmokkelstories uit die Noordweste en in Veldvolkverhale (1976) skryf hy oor klein episodes uit die daaglikse lewe en gewoontes van klein diertjies, soos jakkalse, skerpioene, bobbejane en bontmuishonde, terwyl hy in Sening en sy maats (1980) by die tradisie van die kosskoolverhaal aansluit en in Twee maal elf is twaalf (1973) volksrympies bundel. In Verlange is verniet verskyn 'n keuse uit Van Niekerk se werk, voorafgegaan deur 'n inleiding van A.P. Grové. Anna Jordaan versamel in Iemand soos tant Breggie (1976) 'n elftal sketse van 'n Rôeveldse eiewyse tante met 'n skerp tong. Oor die barre wêreld anderkant Dordrecht handel die breë en genuanseerde beeld op 'n verbygegane wêreld in Noklander (1977) van G.D.J. Venter, terwyl aletta adriana viljoen (1911-) in Gister se môre (1974) die lief en leed van 'n bruin gesin op die plaas Putfontein in die Britstownse distrik weergee. Wat in hierdie roman opval, is die episodiese vertelwyse wat aan elke hoofstuk 'n sekere selfstandigheid gee, die gebruik van streektaal in die dialoog om die spraakwerklikheid van die karakters te suggereer en - in teenstelling tot Mikro se Toiings-trilogie - die afwesigheid van 'n patronerende houding by die blanke landheer. Met die voortgang van geboorte tot huwelik en dood toon Gister se môre 'n verwantskap met
| |
[pagina 306]
| |
M.I. Murray se Witwater se mense, al val die aksent veel meer op die humor van die spesifieke situasies. suzanna magdalena martha van rensburg (gebore Swart; 1919-1974) skryf in die postuum gebundelde Soet Anysberg (1976) en Breë weg, smalle weg (1978) oor haar Bredasdorpse jeug met die aksent op die lewenspatroon van die mense wat sy as kind geken het en met 'n nostalgiese waardering vir dié leefwyse, iets waardeur haar werk 'n ooreenkoms vertoon met dié van C.G.S. de Villiers en gedeeltelik ook Audrey Blignault. Nie spesifiek tot 'n bepaalde streek beperk nie, maar meestal gesitueer in Suidwes-Afrika, die Kalahari en die Noordweste, is die gemoedelike vertellings met allerlei kwinkslae wat Jan Spies in Pilatus tot molshoop (1977) versamel. Naas die regionale vertelling beoefen 'n hele paar skrywers die skets en essay. Ook die klein dingetjies (1957) en 'n Rusplek langs die pad (1964) van John van der Berg en Sketse uit die lewe (1958) van A.J. Bruwer word ontsier deur 'n te lerende en wysgerig-mediterende inslag. Onderhoudend en met 'n geestige kyk op die sake van elke dag is Voor my venster verby (1961) en Die naakte waarheid (1964) van Aat Kaptein en Die elfde uur (1962) van Dirk Kamfer; die beste werk van dié twee joernaliste toon 'n verwantskap met die stukke van Carmiggelt. In Klip en klei (1968) en Tyd en dae (1982) bundel die Kaapstadse filosoof marthinus versfeld (1909-), skrywer van Berge van die Boland (1947; saam met W.A. de Klerk), Oor gode en afgode (1948), Wat is kontemporêr? (1966), Die buitelewe (1970) en Wyn en wysheid (1978; saam met Merwe Scholtz en I.L. de Villiers) ‘wysgerige’ essays met 'n boeiende wisselwerking tussen die konkrete en abstrakte, terwyl die Stellenbosse geoloog matthys suzann taljaard (1908-1966) in die postume Enthout en Wind in die solder (albei 1970) outobiografies-reminisserend oor die outydse leefwyse in Namakwaland en op Stellenbosch skryf. In die verhale, sketse en vertellings in Oor mense, diere en dinge (1975) beoefen die komponis stefans grové (1922-) 'n vertroulike tipe vertelkuns oor die lewe in sy verskeidenheid, soos kalwerliefde, 'n kerkbasaar en die heimwee van 'n
| |
[pagina 307]
| |
ontheemde mens. In Prisma (1974), Granate en kosmos (1976) en Pleidooi vir die tydhouer (1978) verskyn Aletta Lübbe se bespiegelende geselsstukkies oor die verbygaan van dinge, nostalgies-humoristiese sketse oor die verlede en wellewenskuns met 'n fyn deernis vir die medemens. | |
III. Realistiese kuns op pad na die eksperimentele1. Anna M. Louwanna margaretha bassel, wat onder haar nooiensvan louw skryf, is op 31 Desember 1913 op die plaas Soetwater in die distrik Calvinia gebore. Sy studeer op Stellenbosch en later ook aan die Universiteit van Kaapstad, en ná haar huwelik vergesel sy haar man op 'n studiereis deur die V.S.A., waar sy kursusse in kuns en joernalistiek volg. Later onderneem sy ook uitgebreide besoeke aan Wes-Europa, die Skandinawiese lande, Rusland en Israel. Ná hulle terugkeer uit die V.S.A. vestig die egpaar hulle in Kaapstad. Vir haar roman Twenty days that autumn ontvang sy in 1964 die Olive Schreiner-prys, vir Die voortreflike familie Smit in 1968 die Scheepersprys en vir Die groot gryse en Kroniek van Perdepoort die W.A. Hofmeyr-prys in 1971 en 1977 onderskeidelik. Vir laasgenoemde roman word sy in 1976 met die C.N.A.-toekenning en die Hertzogprys bekroon. Anna M. Louw se eerste stukke verskyn in 1945 in Die Huisgenoot en later publiseer sy ook kortverhale, vervolgverhale en novelles in Die Huisvrou, Die Brandwag, Tydskrif vir Letterkunde, Naweekpos en Sarie Marais, waarvan Tweede liefde (Naweekpos, 1954-1955), Huis van wraak (Die Huisgenoot, 1955), Duister bestemming (Naweekpos, 1956-1957) en Die Groot Trek van die Du Toits (Sarie Marais, Mei 1957) die belangrikste is. Van die kortverhale wat sy in die jare 1952-1960 skryf, versamel sy 'n negetal in 'n Geseënde dag (1969). Hierdie verhale is egter dikwels te wydlopig, eindig meestal onbevredigend deurdat die drade nie behoorlik saamgevat word nie of die slot
| |
[pagina 308]
| |
melodramaties aandoen, en styg nie uit bo die middelmaat van die verstrooiingslektuur nie. Geslaagder is Die koms van die komeet (1957; vgl. Abr.H. Jonker se kortverhaal ‘Die persman’ in Bande) waarin die eksistensiële krisis by 'n aantal mense deur die verandering in die natuurlike gang van sake ná die verskyning van 'n komeet die hoofmotief vorm. In plaas daarvan dat, soos Rob Antonissen opmerk, Anna M. Louw die afgronde van menswees tydens hierdie krisis onthul, soos Defoe in Journal of the plague year en veral Camus in La peste, steek die gebeure vas in die ontwrigting van die kleinburgerlike lewe en lei die verskyning van die komeet tot sektedwepery, histerie en neuroses totdat alles aan die einde - ná die opheffing van ‘het uur u’ - tot die normale terugkeer. Daarby is die analogie tussen Maria Vercuyl en haar ongewenste kind wat nêrens welkom is nie, 'n te bewustelike, geforseerde en weinig funksionele analogie met Maria en Christus, terwyl die dialoog soms - soos vroeër by W.A. de Klerk - in 'n filosofiese gepraat verval wat ook Louw se prosa aantas en ontkrag. Die wyse waarop mense - 'n blanke Afrikaner, Engelssprekende, bruinman en swartman - op 'n krisis reageer, is verder die boustof vir 20 Days that autumn, wat oor die onluste in die Kaapstadse swart woonbuurtes Langa en Nyanga ná Sharpeville in 1960 handel en waarin die gebeure dag vir dag, feitlik by wyse van 'n geromanseerde dagboek, op mekaar volg. Die vermaaklike Die voortreflike familie Smit (1962), wat oorspronklik in Sarie Marais gepubliseer is en later as basis vir 'n filmdraaiboek dien, is die verhaal van 'n Rôeveldse familie in die stad, soos vertel deur die gesin se Matriekdogter wat die ideaal het om haar studie aan die universiteit voort te sit. Die boeiendste karakter is egter Oupa Smit wat met sy plattelandse gewoontes en onaanpasbaarheid in die stad vir talle geestige situasies sorg en 'n milder manifestasie van die tradisionele patronerende pater familias in die Afrikaanse prosaliteratuur verteenwoordig, o.m. deurdat hy 'n onpraktiese swakkeling maar juis daardeur 'n uiters beminlike karakter is. Hierdie afwisseling op 'n tradisionele tipe figuur kom ook voor in die ongepubliseerde hoorspel Twee broers ry saam (1957) en in die titelkarakter van die klugtige Oom Kolie gee raad (1965; drie bedrywe), 'n drama waarin die geestige oordrywing tot die karikatuuragtige lei en die ontknoping te lank uitgerek word. Ondanks vlot dialoog is Anna M. Louw se twee eenbedrywe, Grond (opgeneem in Gerhard J. Beukes se Uitgesoekte eenbedrywe, 1948) en Die beskermengel (opgeneem in Ken Swart se Die beskermengel en ander eenbedrywe, 1962), nie heeltemal bevredigend nie. Grond, die verhaal van 'n mislukte goudsoekery op 'n Vrystaatse plaas en die onmin tussen 'n egpaar, word ontsier deur 'n te opsigtelike simboliese verdieping en 'n te verrassende, onvoorbereide ommekeer aan die slot, terwyl Die beskermengel, waarin 'n gemaksugtige skrywer deur die drie vrouens in sy lewe gekonfronteer word, met te veel ongeloofwaardige situasies werk. Met drie werke waarin persoonlike waarneming en belewing deur histories-geografiese inligting verbreed word, lewer Anna M. Louw 'n bydrae tot die reisverhaal in Afrikaans: Agter my 'n albatros (1959), wat op 'n besoek aan verskeie Wes-Europese lande gebaseer is, Dié wat met die fluite loop (1967), wat hoofsaaklik oor 'n reis deur die Skandinawiese lande en Rusland handel, en Die derde tempel (1978), waarin sy - soos vroeër S.J. du Toit en Totius - indrukke van 'n besoek aan Israel gee, hoofsaaklik om haar belewing van die Bybel met die konkrete ervaring van die reis aan te vul. Soms het 'n mens die gevoel dat sy in hierdie reisverhale te veel op die bekende toeriste-attraksies ingestel is en met die informa- | |
[pagina 309]
| |
tiewe intermezzo's die verslag tot 'n reisbrosjure vervlak, al vergoed sy daarvoor met die plek-plek persoonlike belewing en oorspronklike siening. Met vier publikasies - Die onverdeelde uur, Die banneling: Die lyfwag, Die groot gryse en Kroniek van Perdepoort - lewer Anna M. Louw haar belangrikste bydrae tot die Afrikaanse prosaliteratuur, al is nie almal op dieselfde hoë peil nie. Hierdie werke sluit ten nouste aan by die ouer historiese roman of realistiese kuns deur die optrede van histories-‘legendariese’ karakters of tipes, soos die tradisionele sukkelaar of die geykte, tirannieke en hardvogtige vader en die gebruik van Kleurlingkarakters as deel van 'n newe-intrige wat die sentrale gebeure begelei. Deur die aanwending van 'n wisselende fokale gerigtheid, terugflitse, ontchronologisering van die materiaal, o.m. deur 'n besondere soort agterna-perspektief, en die ontplooiing van die tipe tot karakter wyk sy egter af van die tradisionele Afrikaanse roman. Met die oopvlekking van die goeie en die bose in die enkele mens of 'n hele klein gemeenskap sluit sy aan by 'n lang reeks wysgere en skrywers, van Augustinus en Thomas Aquinas tot Tolstoi en Dostojewski. Deur die simultaneïteit van hede en verlede, deureenskuiwing van twee tye en twee agtergronde en die wyse waarop 'n karakter met sy hele verlede na die toekoms toe beweeg, toon haar werk 'n verwantskap met Joyce, Proust en veral Faulkner, terwyl sy Patrick White se besondere metode volg om 'n sekere simboliese betekenis aan bepaalde verskynsels te heg en die realistiese op 'n geslaagde wyse met 'n allegories-simboliese laag te verbind. Met dit alles bring sy 'n sinvolle verdieping van die familiesage en van die problematiek van goed en kwaad wat reeds vroeg in die Afrikaanse prosa sy verskyning maak. Die deureenskuiwing van hede en verlede neem 'n aanvang in Die onverdeelde uur (1956), wat oorspronklik in Sarie Marais verskyn het. Die verhaal begin met die aankoms van Jan van Rensburg, sy vrou Elmien en hulle seun Collie op die ou familieplaas met die doel om Jan se sterwende broer Giel te besoek. In die naglange waak by die sieke tot sy dood word die lewens van die drie sentrale karakters en hulle verhouding tot mekaar dan agtereenvolgens vanuit verskuiwende fokuspunte opgeroep: Giel, wat die verwaarloosde plaas met die hulp van Jan en met Elmien as sy vrou weer opnuut wou opbou (vgl. die refreinmatige ‘Ons sil die mense wys ...’); Jan, wat geen aanleg of sinnigheid in die boerdery gehad het nie en sonder Giel se medewete besluit om in Kaapstad op die spoorweë te gaan werk; Elmien, wat onderwyseres by die plaasskooltjie word, Giel se onvermoë om sy ware gevoelens teenoor haar in woorde te formuleer, verkeerd interpreteer as 'n gebrek aan ware belangstelling en later met Jan trou; en Giel, wat vereensaamd met die brandende verlange op die plaas agterbly en vrugteloos probeer om 'n sukses van die boerdery te maak. Tussen hierdie grepe uit die verlede is die hede van die sterwende man, soos Rob Antonissen dit stel, ‘'n ewe tasbare aanwesigheid; en herinnering en hede
| |
[pagina 310]
| |
kulmineer sáám waar hulle saamvloei in die ‘onverdeelde uur’ waarin Giel en Elmien, dié twee wat eintlik tot één-wees voorbestem was, uiteindelik vir die eerste en laaste keer bymekaar is, en uitsluitend vir mekaar’ (Kern en tooi, p. 172). Die verhaal toon 'n hegte konstruksie deurdat die lewens van die drie sentrale karakters oor 'n periode van veertig jaar in die bestek van die één onthullende en openbarende sterwensnag saamgetrek word, 'n tipe situasie waardeur die verlede, soos ook in Elise Muller se Die wilde loot, 'n tasbare aanwesigheid in die hede word. Wesentlik werk Anna M. Louw hier met die ou patroon van die liefdesdriehoek, maar soos M.E.R. in Goedgeluk en Van Melle in Bart Nel vóór haar bied sy deur die afwesigheid van die tipiese romanskurk die verhoudinge meer genuanseerd aan. Giel, die karakter wat die volledigste ontwikkel word, is volgens Antonissen die tradisionele ‘sukkelaar’-tipe (van León Maré en Jochem van Bruggen) wat hier tot karakter uitgroei, al is Abr.H. Jonker (Die plaasverdeling) en C.M. van den Heever (Somer) hierin haar voorlopers. Die twee belangrikste leemtes in die verhaal is die karakter van Collie, wat met sy kinderagtige optrede en ongeloofwaardige toekomsdrome oneg aandoen, en veral die verhouding tussen Jan en Elmien, wie se toenadering tot mekaar, uiteindelike huwelik en verdere lewe oor 'n periode van veertig jaar nie volledig genoeg ontwikkel is nie. Met Die banneling: Die lyfwag (1964) en Die groot gryse (1968), wat oor die lewe van Paul Kruger handel, lewer Anna M. Louw twee historiese romans wat soos F.A. Venter se Trek-tetralogie van 'n deeglike voorstudie getuig, o.m. deur die raadpleging van H.C. Bredell se dagboek en studies oor die geskiedenis van Transvaal en die Anglo-Boereoorlog. Deur die besondere hantering van die chronologie en die deureenskuiwing van hede en verlede verteenwoordig Louw se romans egter 'n belangriker groeipunt op die gebied van die historiese roman, al is Venter se Geknelde land 'n geslaagder werk as die eerste van die Kruger-tweeluik. Die banneling: Die lyfwag vertel die geskiedenis van Kruger se ballingskap vanaf sy vertrek uit Mosambiek, sy vrugtelose pogings om in Wes-Europa militêre steun vir die twee republieke te kry, sy verblyf in Nederland en Suid-Frankryk en sy dood in Switserland. Dit alles word egter vertel vanuit 'n agterna-perspektief wat op Bredell, die ‘lyfwag’ van Kruger, gefokus word terwyl hy ná die dood van die President sy dagboeke orden en die voorafgaande vier jaar by wyse van ’terugflitse’ opnuut beleef. Die rede vir Bredell se herbelewing, wat - alhoewel dit nie as 'n ek-vertelling nie, maar in die derde persoon gegee word - ooreenkomste met die dramaties-monologiese struktuur vertoon, is die skuldgevoel dat hy ontrou teenoor Kruger was: dat hy sy taak as ‘lyfwag’ as 'n soort knegskap geïnterpreteer en met weinig
| |
[pagina 311]
| |
geesdrif uitgevoer het terwyl die begeerte voortdurend by hom was om terug te keer na Transvaal en daar daadwerklik 'n aandeel aan die stryd te hê. Die agternaperspektief waaruit alles aangebied word, die tweespalt tussen plig en eie begeerte, die jaloesie op ander figure rondom Kruger en eie minderwaardigheidsgevoel lei tot 'n boeiende innerlike dramatiek soos die verhaal telkens na Bredell by sy tafeltjie met die dagboeke in Clarens en die hede van die vertelling terugbeweeg. Die nadeel van dié procédé is egter dat die verteller, wat op Bredell gerig is, dikwels die gebeure in 'n bepaalde toneel vooruit weet en met sy latere kennis die onmiddellikheid van die aanbod versteur. Daarby laat die skryfster haar verhaal in so 'n mate deur die historiese dokumente dikteer dat haar roman die karakter kry van 'n verslag wat plek-plek tot 'n nugter, informatiewe relaas verdor of in fragmente uiteenval. 'n Mens het die gevoel dat Anna M. Louw die historikus gaandeweg Anna M. Louw die romanskryfster verdring. Basies dieselfde tegniek, maar dan geslaagder aangewend, kom voor in Die groot gryse, waarvan die titel aan 'n gedig van P.C. Boutens oor. Kruger ontleen is. Die verteller in hierdie roman is gerig op ‘die ou man’ in Clarens wat aan die einde van sy lewe ‘gesigte’ sien waarin ‘die verlede ... broksgewys aan hom teruggegee word’, 'n procédé wat medies deur die verteller geregverdig word as ‘‘wakende drome’ (,) 'n bekende verskynsel ... van 'n verswakte bloedsomloop’. Agtereenvolgens herbeleef ‘die ou man’ dan sewe selwe of voorstadia van homself, gestaltes wat 'n bepaalde fase in sy ontwikkeling as mens verteenwoordig en met wie hy speels of ernstig in debat tree ten einde ‘'n opgaaf van sy lewe (te maak)’, tot 'n juister perspektief ten opsigte van sy dade te kom en uiteindelik te weet wat God met hom wil. Nog meer as in die geval van Die banneling: Die lyfwag maak Anna M. Louw dus hier gebruik van die dramaties-monologiese struktuur. Die ‘ou man’ word telkens gekonfronteer met sy vroeër selwe, agtereenvolgens Paultjie, Pollie, die Veldkornet, die Kommandant-generaal (vgl. N.P. van Wyk Louw se Kruger breek die pad oop), die Vader, die President en die Voorbidder. Telkens kom daar deur die gesprekke met en betigtigings van hierdie vroeër selwe 'n afrekening met homself en 'n worsteling om die insig dat God - in ooreenstemming met Prediker 3 - alles op Sy eie tyd doen (vgl. N.P. van Wyk Louw se Dias) en dat die ongeduld, veglus en hovaardigheid van vroeër ‘die smet van aardse sonde’ was wat hy nou van hom moet afwerp sodat hy die laaste onbekende kan binnegaan: ‘die loog van siele waaruit hy sal moet opstaan’. Soos in die eerste Kruger-roman kry 'n mens hier 'n voortdurende wisseling van verlede en hede soos die verhaal van die vroeëre selwe na ‘die ou man’ in Clarens as sentrale ervarende persoonlikheid beweeg. Die tegniek, wat wesentlik 'n verbinding van dramatiese monoloog, bewussynstroom en terugflits is, het nie alleen die voordeel dat die gewetenstryd as herhaalde vertrekpunt in die verhaalgegewe domineer nie, maar bind ook die uiteenlopende ervarings tot 'n hegte eenheid saam. Een beswaar teen dié procédé is egter dat die skryfster daarmee, soos ook in Die banneling: Die lyfwag, die dramatiese onmiddellikheid van die gebeure opoffer en tot afgehandelde verlede reduseer, al is dit 'n verlede wat in die gedagtewêreld van ‘die ou man’ aktief in die hede werksaam is.'n Belangriker beswaar is die feit dat Anna M. Louw, soos André P. Brink (Voorlopige rapport, p. 158) opgemerk het, in die herbelewing van die verlede presies dieselfde tegniek gebruik vir ander lede van die Kruger-familie en mense rondom die President ten einde bepaalde aspekte van hulle | |
[pagina 312]
| |
verhouding tot die sentrale figuur nader toe te lig. Die eenselwige wyse waarop die verlede in die roman ervaar word, skep die indruk van 'n doelbewuste manipulasie wat ook ‘die ou man’ se herbelewings onder verdenking stel, veral as die oorwegend chronologiese - en daarom psigologies onjuiste - volgorde van die ‘gesigte’ betreklik vroeg in die handelingsverloop eksplisiet geregverdig word: ‘Die gesigte wat eers rond en bont gespring het, loop nou pad langs van die begin af na 'n einde toe. Dis of die Here hóm, wat nooit stories wou lees nie en dikwels geweier het om te luister - omdat stories 'n versoeking tot leuens is - nou 'n storie wil vertel.’ In haar knap beskouing oor Die groot gryse wys Elize Botha daarop dat Kruger se vereenselwiging met Christus en sy lydensweg uit die gesigspunt van die President 'n ondenkbare identifisering verteenwoordig ‘wat nie te rym is met die geestelike gesteldheid wat deur die boek gekonstitueer is nie’ (Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig, p. 492). Afgesien van die feit dat die Nagmaalstoneel, soos Botha opmerk, histories nie getrou gelokaliseer word nie, moet die leser van die roman sonder die byhaal van die geskiedkundige getuienis tot die gevolgtrekking kom dat Kruger onder die bediening van die Nagmaal gesterf het, iets wat op 'n sekere onvolledigheid of 'n ongeoorloofde sprong in die teks dui, veral in die lig van die aangehaalde histories-korrekte woorde (‘dis vir my soet en salig om naby God te wees’) en die roman se slotparagraaf wat onmiddellik daarop volg. Met hierdie slotparagraaf, wat uitsluitlik oor die ligging van die Kruger-sterfhuis aan die Lémanmeer handel en geografiese inligting oor die totstandkoming van dié ‘groot water’ verstrek, wil Anna M. Louw blykbaar, soos D.J. Opperman met die slot van Joernaal van Jorik, die suggestie oordra van die grootheid van die natuur teenoor die nietigheid van die enkele mens se lewe, dat ‘net die mis en die water ... die water ...’ uiteindelik oorbly. Hierdie insig word in Die groot gryse egter by wyse van hinderlik-informatiewe, geografiese besonderhede oorgedra en met die ‘Nou’-inset van die paragraaf verskuif die fokuspunt weg van ‘die ou man’ tot 'n moment ná Kruger se dood, moontlik die hede van die romanleser se ervaring. Daarmee word die slotparagraaf egter 'n epiloog wat nie organies met die res van die roman verbind is nie. Anna M. Louw se indrukwekkendste werk is die groots opgesette Kroniek van Perdepoort (1975), wat nie, soos die Kruger-tweeluik, op een sentrale karakter gefokus is nie, maar 'n hele verskeidenheid figure uit dieselfde familie nader belig. Die roman handel oor die lotgevalle van die Lotriets oor 'n periode van verskillende dekades. Aan die begin van die twintigste eeu kom die Bolander Koos Lotriet hom
| |
[pagina 313]
| |
op die plaas Perdepoort aan die voet van die Swartberge vestig. Met die jare bou hy 'n spogplaas op en dien hy in verskillende bestuursliggame en verenigings, al word hy en sy vrou - as gevolg van sy hoogmoed, wat aan hom die bynaam Koos Nek gee - nooit volledig in die gemeenskap opgeneem nie. Ná sy dood sit vier van sy seuns - Attie Hardehand, Jan Pampoen, Klaas Kamer en Kobus Karba - die boerdery voort, terwyl die jongste, Chris Predikant, in die teologie studeer. Nie een van hierdie seuns is egter vergelykbaar met hulle vader wat werkywer, idealisme en deursettingsvermoë betref nie en die hele familie, ook die kleinkinders, toon tekens van verval en agteruitgang: ‘Elke worp het sy kwar ... maar Koos Nek se worp is almal kwarre.’ Attie, die beste van hulle almal, se hele uitkyk op die lewe word in so 'n mate deur vrekkigheid en hebsug gekleur dat dit sy grootste ideaal is om die ander broers van hulle gedeelte van die plaas te ontfutsel, terwyl Jan, Kobus, Klaas en Chris deur afguns, drank- en vraatsug, traagheid en wellus onderskeidelik gepla word, al is daar by elkeen die verlange om bo hierdie dinge uit te styg. Die gebeure speel af vyftien jaar ná Koos Nek se dood, sentreer rondom sy herbegrafnis wat nodig geword het omdat Attie die grond vir 'n nuwe spanspekland wil gebruik en eindig met die selfmoord van Kobus Karba terwyl Klaas Kamer 'n ontmoeting met die duiwel het. Kroniek van perdepoort sluit aan by die ouer Afrikaanse verhaalkuns deur die gebruik van 'n plaasmilieu as agtergrond, tipiese situasies en figure, soos die tradisionele patronerende landheer, die Joodse winkelier en hoteleienaar (vgl. Jochem van Bruggen), bruin karakters wat in parallelle situasies die hoofhandeling begelei (vgl. D.F. Malherbe en C.M. van den Heever) en bekende temas, soos die vadersvloek (A. du Biel se Die misdade van die vaders) en die optrede van aktiewe bose magte (Jan Lion Cachet se Sewe duiwels en wat hulle gedoen het). As geheel sluit dit aan by die tradisie van die familiesage, bou die rigting van Van Bruggen se Kranskop I: Oupa verder uit en roep werke soos Galsworthy se The Forsyte saga in die herinnering. In teenstelling tot die tradisionele Afrikaanse roman is die swakhede in die figure egter nie tipiese beperkinge nie, maar word hierdie eienskappe simbolies-allegories verdiep sodat die familie in sy totaliteit die voortdurende aktiwiteite van verskillende doodsondes illustreer, al word die figure - anders as in Leroux se Sewe dae by die Silbersteins met sy argetipiese gestaltes - tot volwaardige karakters ontwikkel. Daarby bly die problematiek van die goeie en die bose nie tot die tradisionele beperk nie, maar het dit raakpunte met Dostojewski se verkenning van die mens se diepste afgronde (bv. in die slottoneel, waar Iwan se ontmoeting met die duiwel in Die gebroeders Karamarov, soos ook in N.P. van Wyk Louw se ‘Heerser en humanis’, meespeel), terwyl Augustinus en Thomas Aquinas se wysgerige beskouinge oor goed en kwaad 'n invloed op die problematiek van die roman het, in so 'n mate dat die ideële laag plek-plek tot stukke ongeïntegreerde filosofie aanleiding gee. Afgesien van die aansluiting by Patrick White met die simboliese waardes wat in bepaalde natuurdinge - soos die wind, paddas en rivier - en kenmerkende diere as tekenende en beskrywende aanduidings vir die karakters gelê word, toon Kroniek van Perdepoort 'n verwantskap met die werk van William Faulkner, in die besonder met Absalom, Absalom! (die invloed wat die gestorwe vaderfiguur en die herinneringe aan hom op 'n hele gemeenskap het, die vergelding vir die hoogmoed en die degenerasie van 'n familie) en gedeeltelik met The sound and the fury (die bewussyn | |
[pagina 314]
| |
van die verlede in die hede en die achronologiese volgorde van die gebeure). Met hierdie achronologiese struktuur, waarmee Anna M. Louw die temporele eksperimente van Die onverdeelde uur en die twee Kruger-romans verder uitbou en verwikkel, swaai Kroniek van Perdepoort weg van die tradisionele Afrikaanse prosakuns. Die roman word verdeel in drie dele wat agtereenvolgens op Sondag 9 Maart, Saterdag 8 Maart en Vrydag 7 Maart afspeel, 'n procédé wat, soos J.P. Smuts opgemerk het, vir 'n terugwaartse beweging in die tyd sorg en van die tweede en derde dele 'n reuse-eksposisie maak, terwyl die interpreterende leser vanaf die tweede deel met sy meerdere kennis en voorwete 'n ander standpunt ten opsigte van die toekoms as die handelende karakters het. In die eerste deel roep 'n verskeidenheid figure by wyse van anekdotes, karaktersketse en vertellings Koos Nek en sy gesin op, sodat die leser met herhaalde wisseling van perspektief en gerigtheid 'n beeld kry van wat die gemeenskap van hierdie mense dink, alles verbind deurdat die verskillende tonele almal tydens die kerkdiens of tydens en onmiddellik ná die middagete plaasvind en die herbegrafnis van Koos Nek as vertrekpunt het. Hierteenoor gee die tweede deel, met dieselfde voortdurende verskuiwing van fokus, 'n beeld van die Lotriet-broers kort voor en tydens die byeenkoms vir die herbegrafnis, sodat dit gesamentlik 'n ‘beeld van binne’ aanbied. Die eerste helfte van die derde deel word verbind deurdat Attie Hardehand van plaas tot plaas ry om die broers in kennis te stel dat die begrafnis die volgende dag 'n uur later sal plaasvind, terwyl die tweede helfte deur die springende gang, willekeurige opeenvolging en uitvoerige toespitsing op een van die broers enigsins verbrokkel. Soms het 'n mens die gevoel dat die verteller met sy bewustelike intrede die aanbod en chronologie sonder enige duidelike funksie versteur, dikwels deur tussen hakies opmerkings te maak wat nie ter sake is nie. Die tonele met die bruinmense op Ertmanstasie word nie genoegsaam ontwikkel om as volwaardige parallel vir die hoofhandeling te dien nie en beweeg - selfs met die optrede van Fielies en Mietjie as regstreekse skakels met Kobus Karba - te veel op die periferie van die roman. Met die springende gang en verskuiwende aandag aan verskillende ‘toevallige‘ en bloot waarnemende karakters is die verhaal aan die begin enigsins ‘koersloos’, terwyl die sintaktiese onvoltooidheid en talle interpolasies stilisties plek-plek minder bevredig. Ten spyte van hierdie besware is Kroniek van Perdepoort een van die merkwaardigste romans van die sewentigerjare.
Op die rug van die tier (1981) is die verhaal van Wynand Vercuyl, vertaler-faktotum by 'n uitgewery wat as gevolg van 'n besparingsveldtog die trekpas kry en sy tyd gebruik om op versoek van mnr. Wessels, sy gewese baas, sy lewensverhaal te skryf. Hierdie verhaal, wat in die eerste persoon vertel word, strek van sy geboorte, deur die dertigerjare tot by die onluste van 1976 en vertel van sy liefde vir sy eerste vrou en hulle egskeiding, sy seun se verhouding met 'n vrou en die kind wat daaruit gebore word, sy liefde vir 'n ander vrou wat 'n blote ‘dwaallicht’ blyk te wees en
| |
[pagina 315]
| |
die terugkeer van sy eerste vrou en hulle vreemde versoening. Dié streng persoonlike verhaal word geplaas binne die konteks van die politieke gebeure van Sharpeville en die onluste van 1976, iets waarmee die skryfster haar hooffiguur wil verdiep tot 'n soort Jorik en 'n reisiger tussen groter magte, al voel 'n mens dat daar te min wisselwerking met dié gebeure is. By wyse van briewe kom daar telkens 'n gerigtheid op die eertydse uitgewershoof, 'n procédé waarmee dit vir die leser duidelik moet wees dat Vercuyl se hele vertelling in werklikheid 'n verslag aan mnr. Wessels is. Die verhaal kry egter algaande so 'n eie momentum dat hierdie gerigtheid verlore gaan en die briewe as hinderlike interpolasies in die verhaalgang ervaar word. Besonder steurend is die waantonele, veral die eerste ontmoeting ná soveel jaar met sy gewese vrou en die toneel waarin Vercuyl in 'n droom meen sy skoondogter is dood en die baba huis toe neem om self groot te maak. Hierdie tonele gee aan die leser Vercuyl se sterk begeerte om sake te laat verloop soos hy hom dit voorstel, maar hulle werk verwarrend en die leser voel 'n sekere opsetlike misleiding aan. Terwyl die allegoriese figure in Kroniek van Perdepoort in verskillende karakters beliggaam word, is hulle in Op die rug van die tier as ‘skedelgenote’ en kwelgeeste in die hoofkarakter aanwesig: Grapjas, Jongeling, Vrek, Vryer, Agie, Slimmerd en Verbeelder. Die gesprekke met dié figure lei soms tot 'n binnedebat, maar 'n mens voel dat hulle nie so markant aanwesig is om die bestaan van die hooffiguur werklik angswekkend en treiterend te maak nie. Die skryfster benut dus nie die volle moontlikhede van dié tegniek nie en put nie die drakrag van haar stof uit nie. Dit alles maak van Op die rug van die tier 'n insinking na die hoogbloei wat haar werk met Kroniek van Perdepoort bereik. Anna M. Louw is dus allereers die skryfster van Kroniek van Perdepoort, waarmee sy die problematiek van goed en kwaad in die Afrikaanse prosa ná Lion Cachet en Leroux op 'n sinvolle wyse verder voer. Ook met Die onverdeelde uur en die Krugertweeluik verteenwoordig haar werk 'n wending in die verhaalkuns, veral deurdat die tradisionele boustof chronologies op 'n eksperimentele wyse gehanteer word. Werk van gehalte lewer sy verder met haar reisverhale en 'n jeugroman. | |
2. Elsa Joubertelsabé antoinette murray steytler, wat onder haar nooiensvan joubert publiseer, is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Ná voltooiing van haar skoolloopbaan aan die Hoërskool La Rochelle op haar tuisdorp studeer sy aan die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad. Sy gee aanvanklik onderwys, is twee jaar lank verbonde aan Die Huisgenoot en onderneem daarna 'n omvattende reis deur Afrika en Europa terwyl sy van tyd tot tyd vryskutwerk as joernalis doen. Ná haar troue met die skrywer Klaas Steytler vestig sy haar in Johannesburg en later Kaapstad, en by herhaling onderneem sy reise deur Europa, Afrikalande en die Verre Ooste. Vir Ons wag opdie Kaptein word sy in 1964 met die Eugène Marais-prys bekroon, terwyl sy in 1979 die W.A. Hofmeyr-, C.N.A.- en Louis Luyt-prys ontvang vir Die swerfjare van Poppie Nongena, waaraan in 1981 ook die Britse Royal Society of Literature-prys toegeken word. Soos Anna M. Louw is Elsa Joubert die skryfster van 'n aantal reisverhale. Water | |
[pagina 316]
| |
en woestyn (1956) is die verslag van 'n reis deur Oos- en Noord-Afrika vanaf die oorsprong van die Nyl tot by sy mond wat sy in 1948 afgelê het en waarmee sy o.m. die wêreld van Sangiro en Aschenborn opnuut verken. In Die verste reis (1959), die vervolg hierop, reis sy veral deur die Mediterreense lande (Italië, Portugal en Spanje) wat reeds vroeër in Uys Krige se reissketse figureer, terwyl sy in Swerwer in die herfsland (1968) besoeke aan Wes-Duitsland, Wenen, Istanbul, Griekeland en Kreta bring. In drie verdere reisverhale, Suid van die wind (1962), Die staf van Monomotapa (1964) en Die nuwe Afrikaan (1974), besoek sy onderskeidelik Mauritius, Réunion en Madagaskar, Mosambiek en Angola. Telkens is daar 'n sosio-politieke uitgangspunt en motief ten grondslag van haar reise deur die Afrika-lande, omdat sy in die besonder wil nagaan hoe die verskillende lande die probleem van volkereverhoudings en die botsing van verskillende kulture hanteer. In teenstelling tot Anna M. Louw konsentreer sy nie net op die bekende toeriste-attraksies nie, maar staan sy oop vir alle moontlike indrukke en toon haar verhale 'n besondere gevoeligheid vir atmosfeer, veral die broeiende, drukkende sfeer van Afrika. Met die voortdurende afwisseling van persoonlike belewing en informatiewe mededelings van geskiedkundige, geografiese of volkekundige aard toon haar reisverhale 'n groot verskeidenheid. Daarby ontvang sy die inligting dikwels van medereisigers, toevallige metgeselle of amptenare wat as begeleidende karakters die mededelings in die dialoogvorm maak, 'n procédé waardeur sy van 'n dorre relaas wegswaai en aan die verslag 'n dramatiese element gee. Met hierdie werkwyse behoort haar reisverhale tot die beste wat nog op dié gebied in Afrikaans geskryf is. Teleurstellend, daarenteen, is die tien kortverhale wat sy
in Melk (1980) bundel en wat met die probleem van volkereverhoudings in Suid-Afrika of in ander Afrika-lande ten nouste met haar reisverhale verband hou. Alhoewel ‘Agterplaas’ met sy sober vertelwyse en die titelverhaal met sy joernalistieke aanbieding beïndruk, mis die meeste stukke die gespanne lyn van die goeie kortverhaal, word hulle dikwels bederf deur 'n gebrek aan eenheid of 'n tekort aan die nodige skakels, doen die beskrywende gedeeltes -
| |
[pagina 317]
| |
wat in die reisverhale op hulle plek is - hinderlik aan en getuig meer as een stuk van 'n onvermoë wat taalgebruik betref. Tussen Elsa Joubert se reisverhale en haar novelles is daar, sowel wat boustof as agtergrond betref, 'n besliste verband. Alhoewel die milieu in Die Wahlerbrug (1969; hersiene uitgawe 1981), die verhaal van 'n vrou wat op reis in 'n Europese stad ontvoer en van haar reisdokumente ontneem word, doelbewus vaag bly, is daar sekere raakpunte met die voorstelling van München in Swerwer in die herfsland. Die beskrywing van die agtervolging deur eindelose kamers en sale en die vrou se angs lei tot 'n verbinding van die moderne spanningsverhaal en die hallusionêre droomwêreld van Kafka. Daarmee toon Die Wahlerbrug 'n verwantskap met die allegoriessimboliese inslag van Leroux se romans. Die vrou se doellose gang deur die stad word 'n lewensreis waarin sy op soek is na haar eie identiteit, al bevredig die verbinding van reële en surrealistiese vlakke nie heeltemal nie en kom daar te veel tonele voor wat nie op die tweede vlak funksioneer nie. Veel nouer is die verband tussen die uitbeelding van Afrika, die verhoudings tussen mense en die botsing tussen kulture in die reisverhale en 'n drietal romans waarmee Elsa Joubert 'n bydrae tot die sogenaamde ‘betrokke’ literatuur lewer. Alhoewel hierdie romans, wat die verhaalgang betref, nog betreklik tradisioneel opgebou word, toon hulle reeds die bevrugtende invloed van die moderne roman deur die gebruik van die terugflitstegniek, die opbou van 'n werklikheidsillusie deur die skyn van historiese outentisiteit en die aansluiting by die ‘sosiale realisme’ van die ‘New Journalism’ met sy vervlegting van fiksie en feitelike verslaggewing.
Ons wag op die Kaptein (1963; in 1982 as To die at sunset in Engels vertaal), wat 'n berig in Die Transvaler van 15 Maart 1961 as uitgangspunt het, speel af in Angola en strek oor een dag waarin 'n groepie blankes op 'n eensame plantasie in Noord-Angola deur 'n swart guerrillabende gevange gehou word tot die aankoms in 'n helikopter van 'n kaptein wat die finale afrekening kom doen. In hoofsaak handel die novelle egter oor Ana-Paula, wat sewe of agt jaar voor die begin van die verhaal vir Carlos as bruid na Angola vergesel het, ná die ontdekking van sy twee basterkinders en haar eie kinderloosheid 'n ander liefdesverhouding aanknoop en met die jare haar lewe in wanhoop en verbittering slyt in 'n land waarin sy wesentlik ontuis is. Hierdie verlede word deur Ana-Paula in 'n reeks terugflitse herbeleef in die hitte
| |
[pagina 318]
| |
en stilte van die dag terwyl sy saam met die ander op die koms van die Kaptein wag. Alhoewel die ervaring van hierdie terugflitse deur die eindelose wag aanneemlik gemaak word, doen die streng chronologiese volgorde van hierdie herbelewings psigologies oneg aan, terwyl die wydlopigheid in die terugflitse die eenheid van die novelle skaad. Daarby verkry die terugflitse in so 'n mate 'n eie outonomie dat ook ander karakters se gedagtes, motiewe en emosies, wat aan die hoofpersoon nie bekend kon wees nie, deel van die terugflits word, iets waardeur die geloofwaardigheid van die herbelewings as die ervarings van Ana-Paula verlore gaan. Alhoewel die novelle die botsing tussen die primitiewe en Westerse beskawing en die Westerling se ontuis-wees in Afrika as boustof het, word die tragiek van 'n vrou wat aan 'n hele vasteland met sy broeiende, gistende onheil en sy geweld ten onder gaan, nie deurgevoer nie. Ana-Paula bly tot aan die einde 'n vereensaamde mens as gevolg van persoonlikheidsgebreke en die wanverhouding met haar man en haas alle ander karakters, terwyl die insig in die menslikheid en menswaardigheid van die basterkinders teen die slot te veel terloops bly en nie 'n dominante deel van die verhaal word nie. In sy beskouing oor die roman wys A.P. Grové daarop dat die Kaptein wat teen die aand aankom, gesien word ‘as die groot en neutrale Regter wat die mens en sy dade sal weeg’ en voor wie se koms ‘wit en swart, vriend en vyand in 'n soort besef van medeskuld en bondgenootskap na mekaar toe (dryf)’. Hierdie simboliese verdieping na 'n apokaliptiese einde misluk egter, omdat die swartes se vrees vir ‘hulle man’ nie aanneemlik gemaak word nie en ‘die kaptein in sy helikopter in die letterlike sin van die woord 'n moderne deus ex machina’ (Oordeel en vooroordeel2, pp. 210-211) is. Die broeiende tropiese atmosfeer van Afrika, wat reeds in Ons wag op die Kaptein voortreflik opgeroep is, dien ook as agtergrond vir Bonga (1971), meer spesifiek die Zambezi-vallei van Mosambiek en die Massangano-gemeenskap wat al in ‘Livingstone of Lacerda?’ in Die staf van Monomotopa ter sprake gekom het. Basies handel die roman oor die samekoms van twee mense, Bonga en Inacia Maria, uit die wêreld van die gedeeltelik primitiewe halfbloede by Massangano en die betreklik beskaafde blanke gemeenskap van Tete onderskeidelik. By Bonga is daar die drang om los te kom van sy donker ondergrond en op te styg na die lig wat hy in sy obsessionele belangstelling in die Kerk en in die blanke vrou vind, terwyl Inacia Maria deur haar liefde vir Bonga juis die sensuele, primitiewe en dierlike in haar samestelling voed. Die verhaal word vanuit 'n agterna-perspektief aangebied as 'n afgehandelde stuk verlede wat ‘selfs die mees toegewyde geskiedskrywers van die laat 19de eeu nie kon uitpluis nie’. Met hierdie skyn van historiese egtheid as werklikheidsillusie - 'n illusie wat in die eerste deel van die roman by herhaling
| |
[pagina 319]
| |
latent gehou word, maar wat later op die agtergrond raak en eers in die slothoofstuk weer voorrang verkry - wil die verteller dan die dryfvere agter ‘die oënskynlik sinlose, byna waansinnige uitwissing van Massangano, 'n aringa of nedersetting van halfbloede aan die oewer van die Zambezirivier’ nagaan. Dié besondere vorm van werklikheidsillusie kom reeds in rudimentêre vorm by C.J. Langenhoven en Eugène N. Marais voor en word later deur André P. Brink in 'n Oomblik in die wind verder verfyn. In Bonga voel 'n mens dat hierdie ‘historiese’ illusie aanleiding gee tot 'n verskeidenheid motiewe wat almal moontlik tot die uitwissing van Massangano kon gelei het, iets wat die basiese botsing tussen twee wêrelde en leefwyses vertroebel en die geheel selfs tot 'n tradisionele liefdesdriehoek (met Vas d' Areujo as derde persoon) vervlak. Soos in die geval van die neurotiese Ana-Paula in Ons wag op die Kaptein groei die roman dus nie uit tot 'n daadwerklike botsing van twee beskawings nie, o.m. ook omdat - soos André P. Brink opgemerk het - die alwetende verteller bo sy karakters staan en met 'n meerderwaardige verhewenheid op hulle doen en late neerkyk. Ten spyte van hierdie besware gee Bonga 'n bevredigende beeld van die ontwikkeling van 'n primitiewe mens en sy groei na die lig van die beskawing, rerwyl die geheel 'n boeiende ‘Afrika’-variasie bied op die eeue-oue boustof van die botsing tussen twee beskawings, leefwyses of families, wat in werke soos Esmoreit, Gloriant en Romeo and Juliet voorkom. Alhoewel Elsa Joubert in Bonga die historiese egtheid as werklikheidsillusie aanwend, sê die skryfster in 'n nawoord dat die verhaal nie 'n geskiedkundige basis het nie en die karakters almal ‘denkbeeldige persone’ is. In Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), haar belangrikste werk, sê Elsa Joubert, hierdie keer in 'n nota voorin die roman, dat die verhaal ‘gebaseer (is) op die feite wat (sy) ingewin het oor die lewe van Poppie Rachel Nongena, geb. Matati’ en dat dit 'n ‘ware verhaal’ is waarin sy probeer het ‘om een gesin se belewenis ... so getrou dit vir (haar) moontlik was, te beskryf’, sonder om iets by te voeg ‘wat nie deur Poppie of haar gesinslede self beleef is nie’. Die swerfjare van Poppie Nongena bestaan uit sewe dele en drie en tagtig episodes en vertel die verhaal van 'n swart vrou wat op Upington gebore is, haar jongmeisiejare op Lambertsbaai deurbring en daar met 'n Xhosaman uit die Ciskei in die huwelik tree. As gevolg van die bepalings van die Groepsgebiedewet moet hulle Lambertsbaai verlaat en na Kaapstad gaan, waar die
| |
[pagina 320]
| |
tydelike verblyfvergunnings ingevolge die ‘paswet’ en die burokratiese wyse waarop dit toegepas word, die hoofkarakter uiteindelik daartoe dryf om haar met haar kinders in die Ciskei - 'n land wat sy vroeër nooit geken het nie - te vestig, terwyl haar man alleen agterbly om vir die onderhoud van die gesin te werk. Ná haar man se dood keer sy terug na Kaapstad, word haar verblyfvergunning deur die regte kontakte gemaklik opgelos en belewe sy die opstand van die kinders tydens die onluste van 1976. Met die nota voorin word die egtheid van die verhaal doelbewus beklemtoon en die fiktiewe op die agtergrond gehou of selfs as faktor uitgeskakel. Deurdat die roman in 'n groot mate aangebied word as die regstreekse vertelling van die hoofkarakter en ander swartmense, maak die verhaal die indruk van 'n direkte verslag of optekenings waarmee dit 'n verwantskap toon met die vervlegting van fiksie en feitelike joernalistiek in die ‘New Journalism’. Wat sy boustof betref, is werke soos F.A. Venter se Swart pelgrim en Alan Paton se Cry, the beloved country die verre voorlopers, terwyl die tegniek om die swartman met sy besondere idioom, woordkeuse, sinsbou en primitiewe denkwyse aan die woord te stel, aan G.H. Franz se Moeder Poulin en Rabodutu, die eensame laat dink. In vergelyking met Franz, wat uitsluitlik van 'n monoloog deur die hoofkarakter gebruik maak, is daar by Elsa Joubert in die wyse van vertelling 'n afwisseling tussen Poppie en die ander figure enersyds en 'n simpatieke alwetende verteller andersyds wat hom in so 'n mate op sy karakters instel dat hy in hulle idioom praat en dinge op hulle wyse sien. Ten nouste roep die geskiedenis van die daaglikse stryd teen 'n onregverdige en 'n onmenslike stelsel en die eindelose vernedering en smart wat die enkele mens of 'n hele bevolkingsgroep as gevolg daarvan ervaar, Adam Small se Kanna hy kô hystoe en veral Joanie Galant-hulle in die herinnering - verder terug ook werke soos H. Beecher Stowe se Uncle Tom's cabin en Multatuli se Max Havelaar wat die leser van 'n skreiende onreg bewus wil maak. Die swerfjare van Poppie Nongena is in 'n groot mate die kroniek van ontsaglike lyding en wentel tussen twee belangrike historiese gebeurtenisse: die onluste van 1960 in die Kaapstadse swart woonbuurtes wat op Sharpeville volg en die opstande van 1976 onder die kinders. Alhoewel 'n mens die gevoel het dat sommige tonele te wydlopig raak en te ver van die hoofhandeling wegswaai, konsentreer die verhaal tussen dié twee datums op Poppie se swaarkry met haar gesin en die ontbering wat wetlik op haar afgedwing word. Die verbinding van persoonlike en maatskaplike problematiek lei egter nie tot 'n tweespalt in die roman nie, aangesien alles wat met hierdie gesin gebeur, die gevolg is van veronregting waarteen Poppie as enkele mens | |
[pagina 321]
| |
bykans niks kan doen nie. En wat vir Poppie geld, geld ook vir die ander figure in die verhaal. Terwyl die gebrek aan duidelike differensiëring tussen karakters in 'n roman met 'n ander tipe opset 'n belangrike beswaar kon gewees het, is die ‘eenselwige’ wyse waarop die figure hier dink, praat en optree, juis funksioneel om 'n hele veronregte groepsgestalte te skep wat hulle standpunt nouliks kan formuleer, 'n gebrek aan artikulasie wat die herhaalde gebruik van die onderbeklemtoning so skrynend maak. Omdat die roman wesentlik hierdie beeld van 'n enkele mens én 'n groep in sy lyding wil gee, is die beswaar van Eliza Botha dat Poppie se blanke ‘teëspelers’ nie ‘dieselfde veelkantige, verwikkelde gestalte’ (Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig, pp. 430-431) as sy self het nie, heeltemal irrelevant. In verband met die sewende en slotgedeelte van die roman maak Gerrit Olivier die opmerking dat Poppie verdring word deur die ander karakters wat oor die 1976-onluste verslag lewer en sodoende haar sentrale posisie prysgee. Die feit dat Poppie hier op die agtergrond staan, nie aktief aan die onluste deelneem nie en net die berigte hoor, is egter hoogs funksioneel om die gedagte tuis te bring dat 'n nuwe geslag nou die handeling oorneem, die stryd voortsit en besig is om hulle eie toekoms te skep. Daarom dat Mosie vir haar kan sê: ‘ek like nie hierdie riots nie, ek like dit nie dat die kinders die owerhede tease en seerkry nie, of lat hulle my kar stop en skree donate! donate! totlat ek vir hulle petrol vir hulle petrol boms uittap nie. Maar my sustertjie ek kan nie dit help nie, daar's iets in my hart wat sê: At last. Maar ek druk dit af in my hart, want hierdie manier is nie die Here se manier nie. En dan kom dit weer in my hart: At last.’ En aan die einde sê Poppie: ‘Die kinders sal moet sien lat hulle regkom ... Oor alles het ek gekom, dink sy, maar nou het ek geleer, hieroor kan ek nie kom nie. Want dis nou uit my hande uit geneem, dis nou oorgegee in my kinders se hande. Dis nou my kinders wat voortgaan.’ Met Die swerfjare van Poppie Nongena slaag Elsa Joubert daarin om met die gebruik van die swartman se Afrikaans 'n beeld van veronregting op te bou wat terselfdertyd 'n felle aanklag is teen die wetgewing waardeur mense in 'n stelsel ingedwing word. Meer as haar ander simboliese en ‘Afrika’-romans en haar goed geskrewe reisverhale is hierdie roman haar wesentlike bydrae tot die Afrikaanse literatuur. | |
3. Henriette Grové
hester henriette grové (gebore Venter) is op 26 September 1922 in die Potchefstroomse distrik gebore. Ná haar skoolopleiding aan die Hoëskool Gimnasium op haar tuisdorp studeer sy aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege. Daarna gee sy meer as twee jaar lank onderwys en tree dan in die huwelik met die letterkundige A.P. Grové. In die jare 1949-1959 woon sy in Pietermaritzburg en sedert 1960 in Pretoria. Sy ontvang die W.A. Hofmeyr-prys saam met M.E.R.,
| |
[pagina 322]
| |
Elisabeth Eybers en Ina Rousseau vir Kwartet (1958), die Eugène Marais-prys vir haar dramas (1966), die C.N.A.-toekenning en W.A. Hofmeyr-prys vir Jaarringe (1967), die Republiekfeesprys vir Winterreis: drie vertellinge (1971), die Perskorprys vir Toe hulle die Vierkleur op Rooigrond gehys het (1976) en die Hertzogprys vir Ontmoeting by Dwaaldrif met inagneming van haar ander dramas (1981). Henriette Grové se eerste verhale verskyn van 1947 af in Die Taalgenoot, Die Brandwag, Die Huisgenoot, Naweek, Sarie Marais en Standpunte, en 'n vyftal word in 1957 in die bundel Kwartet saam met die werk van drie ander skryfsters opgeneem. Afgesien van die twee kinderboekies Die verlore skoentjie (1948) en Bimbo en Prins (1950) is haar eerste selfstandige publikasies egter op die gebied van die drama: die twee radiospele Die goeie jaar (1958) en Die glasdeur (1959). Die goeie jaar (twee bedrywe) speel af op 'n grensplaas tussen die Vrystaat en Basoetoland in die tagtigerjare van die negentiende eeu en het die mag van die verlede en die sondes wat van die ouers op die kinders oorgedra word, as sentrale tema. Die hoofkarakter is die oorheersende moeder, Debora Davel, wat uit 'n familie van onwettige dranksmokkelaars stam, maar deur haar huwelik in die geleentheid gestel word om die verwaarloosde erfplaas opnuut op te bou en die verband ná vyftien jaar se harde werk af te betaal. Teenoor haar is haar asmatiese man Tobias bedlêend en siek van selfverwyt as gevolg van sy aandeel aan Gert Buitendach se dood tydens 'n onwettige handelstransaksie met die Basoeto's. Sy drang om hierdie skuld te openbaar, lei tot die boeiende spel van lig en donker in die drama en het ook sy neerslag in die seun Hannes wat die duisternis vrees. In die tweede bedryf beleef Tobias 'n terugflits waarin die omstandighede in verband met Buitendach se dood aan die gehoor oorgedra word, 'n tipe ervaring wat psigologies uit die karakter se siekte en foltering oor die jare heen voortvloei en wat die verlede op 'n dramatiese wyse in die spel gestalte laat vind. Teenoor Debora, wat haar lewenspeil deur haar huwelik probeer verhoog, finaal met haar familie
breek en 'n klipmuur tussen hulle plaas en Rooibos laat bou, hunker haar dogter Martina - o.m. deur haar verhouding en voorgenome huwelik met Tys Buitendach - na die gemoedeliker en minder gedwonge lewe van die bure. As Hannes aan die slot uit vrees vir die duisternis
| |
[pagina 323]
| |
uiteindelik sy vader verwurg en dit blyk dat Martina 'n kind van Tys verwag, gee Debora opdrag dat die bakenmuur tussen die twee plase afgebreek word, 'n simboliese daad waarmee sy haar harde werk oor baie jare heen tot 'n futiele poging reduseer. Wesentlik ook 'n onthullingsdrama is Die glasdeur (twee bedrywe), 'n stuk wat ‘omstreeks 1942 op 'n afgeleë plaas êrens naby die Vrystaatse grens van die Kaapprovinsie’ afspeel. Terwyl die aksent in Die goeie jaar op die dade van die verlede val, handel Die glasdeur oor die drome van drie oujongnooiens wat hulle hele uitkyk op die lewe deur een gebeurtenis in die verre verlede laat bepaal. Die drama begin as twee bejaarde susters en hulle niggie, wat van die ‘grootpad’ af woon en by wie die lewe verbygegaan het, op die koms van 'n susterskind wag wat 'n tyd lank om gesondheidsredes by hulle kom woon. Hierdie gebeurtenis stuur hulle gedagtes terug na veertig jaar tevore toe die gewonde burger Gustave Lindemann tydens die Anglo-Boereoorlog een nag by hulle aangekom het, 'n week lank deur hulle verpleeg is en uiteindelik in hulle huis gesterf het. Die uiteenlopende gestaltes wat elkeen van die vroue van Lindemann opbou, beklemtoon hulle eie verlangens of hartstogte en hulle perspektiwiese geslotenheid, soos gesuggereer deur die verskillende kleure van die glasdeur waardeur hulle verkies om die buitewêreld waar te neem. Vir Suster, wat van die ‘mooi dinge’ in die lewe hou, voorkeur gee aan die gedempte blou skemerlig en wie se kamer met prente en kraletjies versier is, was Lindemann 'n fyn mens wat - te oordeel na die boekie met versies wat sy in sy saalsak gevind het - in kultuurdinge geïnteresseerd was. Vir Drieka, daarenteen, wat die lewe deur die geel ruite waarneem, was hy 'n ruiter en 'n daadmens wat met die spieël in sy saalsak as heliografis boodskappe gesend het en waarskynlik op pad was om geheime dokumente af te lewer, terwyl Willemien met haar voorkeur vir die rooi glas hom in die eerste plek sien as 'n man wat die liefde van 'n vrou ten volle kon beantwoord, soos ook blyk uit die troupand wat sy by hom gevind het. Hierdie uiteenlopende perspektiewe word teen mekaar uitgespeel in 'n dialoog wat veral in die tweede bedryf sterk toeneem in vaart. Uiteindelik vra hulle die jong seun - wie se besoek die ander dramatiese moment in hulle lewens verteenwoordig, op wie hulle ook hulle onderskeie hartstogte en sienings van die lewe projekteer en wat vir elkeen sprekend op Lindemann lyk - om uitsluitsel oor die saak te gee. In 'n poging om hulle perspektiwiese kyk op te hef, stamp hy die glasdeur aan die slot stukkend sodat hulle in die volle lig vir die eerste keer ‘almal goed kan sien’. Terwyl Die goeie jaar in hoofsaak op die uiterlike gebeure van 'n verlede konsentreer en veral die eerste bedryf 'n werklik dramatiese dialoog mis, word die verlede in Die glasdeur simbolies gefiltreer en kom 'n boeiende spel van skyn en werklikheid, droom en daad, en verlede en hede tot stand in 'n drama wat met 'n gespanne dialoog en 'n sterk dramatiese gang werk. Albei stukke is nog tradisioneel deur die situering op 'n plaas en die optrede van wesentlik kleinburgerlike karakters, al swaai Henriette Grové met die gebruik van die terugflitstegniek in Die goeie jaar en met die aanwending van die simbool en die herbelewing van die verlede deur middel van 'n gestileerde spel in Die glasdeur reeds weg van die tradisionele Afrikaanse drama. Naas ongebundelde essays en sketse vir die radio - bv. die reeks Briewe aan Mariet, waaruit 'n voorbeeld deur Elize Botha in Afrikaanse essayiste (Kaapstad, 1965) opgeneem is - skryf Henriette Grové in die vyftiger- en vroeë sestigerjare | |
[pagina 324]
| |
heelparty ongepubliseerde hoorspele, soos die satiriese Demus en die goggas en Die bokamer, 'n drama oor 'n bedlêende oumagrootjie wat haar hele familie tiranniek regeer. In Halte 49 en twee monoloë (1962) bundel sy 'n drietal stukke, andermaal vir die radio geskryf. In die alleenspraak ‘Vrou en spieël’ word daar met behulp van selfaanspreking, stilering van ander se woorde en weergawe van gesprekke 'n beeld opgeroep van die oppervlakkige, ‘gekultiveerde’ partytjielewe wat die sprekende karakter bo huislikheid en natuurlikheid verkies en waarmee sy haar man na 'n jonger vrou wegdryf. Sterker - o.m. deur die effektiewe heen-en-weer-beweging tussen hede en verlede - is die gestalte in ‘Die ou vrou en die dood’, wat vroeg in haar lewe twee kinders aan die dood moes afstaan, in die loop van 'n lang lewenstog verniel en afgetakel word, later haar volwasse en ouer-wordende seun nie meer herken nie, slegs die vroeggestorwe Peet en Katrina as enigste onvervreembare besit in haar gedagtes behou en uiteindelik met volkome vertroue die deur vir die dood as laaste gespreksgenoot en minnaar kan oopmaak. Minder geslaag is die omvangryker titelstuk met sy beeld van 'n aantal fabriekswerkers wat per bus onderweg huis toe uit hulle triestige bestaan in 'n geïndustrialiseerde omgewing probeer ontvlug deur drome oor baie geld, 'n vakansieplaas en groot motors, terwyl 'n ongeïdentifiseerde Hy en Sy (vgl. Elisabeth Eybers se ‘Busrit in die aand’ uit Die stil avontuur) die aktualiteit probeer ontkom deur hulle verlange na 'n ongekompliseerde jeugtyd, idealisering van 'n plekkie waar hulle los sal wees van die onverbiddelike voortgang van die tyd en 'n verhouding waarin hulle paradyslik as mense tot mekaar sal staan. Die gestileerde oproep van situasies en die gebruik van 'n koor wat die dialoog van die
man en vrou begelei, daarop kommentaar lewer en hulle suiwerste drome telkens banaliseer, is die belangrikste kwaliteite van die spel. Daarteenoor word die drama egter in so 'n mate - ook deur die platvloerse dialoog - verstik deur die aktualiteit dat die simboliese laag van die busrit as 'n lewensgang (met die kondukteur as verteenwoordiger van 'n hoër orde) nie tot sy reg kom nie, terwyl die pakkie tamatiepruime wat val en iets van die verlange na die ongerepte eenvoud van 'n geïdealiseerde bestaan moet suggereer, vergelykbaar is met die ‘opheffing’ van die simbool aan die eindes van haar vorige twee dramas en die indruk van 'n sekere resepmatigheid in Henriette Grové se werk maak. In Ontmoeting by Dwaaldrif (1980), 'n radiodrama wat vir die Leipoldt-jaar geskryf is, skep sy 'n besondere situasie deur die ontmoeting tussen Leipoldt en Pieter Erbeveld, een van die digter se ‘persoonlike kwelgeeste’ wat in verskillende vorme sy verskyning in die oeuvre maak. Erbeveld se versoek dat Leipoldt sy skanddood moet regstel, sy naam aan die vergetelheid moet ontruk en sy ‘stof’ weer moet laat ‘praat’, lei tot 'n boeiende debat oor die begrip ‘vryheid’ en veral die verskil tussen ‘feite’ en ‘versies’, die
| |
[pagina 325]
| |
historiese feitelikheid van die geskiedkundige en die waarheid wat die digter deur sy vers ontdek. Wat Henriette Grové dus hier doen, is nie alleen om Leipoldt se verse oor Erbeveld en Van Noodt te ‘verwerk’ nie, maar om - by monde van Erbeveld as karakter wat Leipoldt se gevaarlike omgaan met feite kritiseer - téén die voorbeelde in te skryf. Om die waarheid te bereik, sê die karakter Leipoldt egter, moet 'n skrywer ‘altyd bypraat en byskryf, anders glo niemand jou nie’. Teenoor Erbeveld se waarheid en dié van die Hollandse goewerneur Zwaardecroon bou Leipoldt sy eie waarheid op, feitlik as 'n variasie op Coleridge se ‘suspension of disbelief which creates poetie faith’. Die werklike, historiese figure is dood en vergete, woorde soos ‘pyn’ en ‘smart’ en ‘ellende’ klink geweldig yl en dit het weinig sin vir Erbeveld om Leipoldt met sý waarheid te ‘wurg’. In ‘Van Noodt se laaste aand’ kom Leipoldt deur die haat en nyd en wrok uiteindelik by die liefde uit - 'n hoër waarheid wat voorrang eis bo die haat waarvan Erbeveld praat. Alhoewel die opset van hierdie drama betreklik klein bly en die terugflits- en revokasietegnieke konvensioneel aandoen, bereik Henriette Grové tog iets besonders deur skrywer en karakter oor die verwerking van 'n tema met mekaar in debat te laat tree en daarmee 'n interessante variasie op die tradisionele voorstelling van die verhouding tussen waarheid en fiksie of werklikheid en kuns te bring. Met twee stukke van groter omvang lewer Henriette Grové ook 'n bydrae tot die verhoogdrama. Die onwillige weduwee: 'n Kunsmatige klug in drie bedrywe (1965) handel oor Margaretha van der Bank wat testamentêr en deur die aandrang van familie en gemeenskap gedwing word om voortdurend die nagedagtenis van haar gestorwe eggenoot met allerlei vorme van roubeklag in ere te hou totdat daar uiteindelik verlossing kom as die bebrilde professor Prosema haar uit vrye keuse en sonder enige belangstelling in haar geld as vrou neem en daarmee ook van sy eindelose abstraksies ontslae raak. Soos N.P. van Wyk Louw se Koning-Eenoog is die stuk 'n satire op valse waardes in die samelewing en menslike gebreke oor die algemeen, terwyl die gedagte dat elke persoon die reg het om sy eie lewe te ontplooi en geluk alleen te vinde is indien die indiwidu sonder onderdrukking na eie aard kan ontwikkel, reeds vroeër (bv. in ‘Die liefde sal steeds seëvier’ uit Roosmaryn en wynruit) by Henriette Grové voorkom en 'n geestige variasie is op 'n sentrale tema in die werk van H.A. Fagan (bv. Lenie). Soos in haar vroeër werk maak Henriette Grové ook hier gebruik van gestileerde handelinge en kooreffekte wat saam met die dikwels kollektiewe optrede van karaktergroeperings (bv. die drie vryers), die dubbelsinnigheid en meerduidigheid van woorde en die herhaalde detonerende uitsprake van die weduwee tot die geestigheid bydra. Daarteenoor is die spel tussen skyn en werklikheid in die tweede toneel van die tweede bedryf minder oortuigend as die toneelaanduidings definitief tralies en grendels voorskryf en daarmee die dubbelsinnigheid ophef, terwyl die irreële sprokiesagtige milieu van die derde bedryf (wat met sy gebruik van 'n liefdesdrank en die ‘goeie fee’ by dramas soos Macbeth, A midsummer night's
dream en Peer Gynt aansluit) die vermenging van verskillende dramatiese
| |
[pagina 326]
| |
tradisies en die ‘kunsmatigheid’ van die subtitel te ver voer. Toe hulle die Vierkleur op Rooigrond gehys het (1975), wat in drie ‘aflewerings’ verdeel word, handel oor die lewe van S.J. du Toit, meer spesifiek oor sy rol tydens die anneksasie van die Republiek Gosen en sy repudiëring as gevolg hiervan deur Paul Kruger. Die drama begin in 1904 terwyl die trein met die stoflike oorskot van Kruger onderweg na Pretoria by die Paarlse stasie aandoen. Met Du Toit as die ‘organiese sentrum’ van die drama en die Poort-egpaar en mev. Du Toit as ‘toeskouers’ word momente uit die hoofpersoon se verlede by wyse van terugflitse, gestileerde dialoë en gedramatiseerde vertellings herbeleef. Die bindende motief ten grondslag van die uiteenlopende tonele is Du Toit se soeke na die waarheid met betrekking tot sy verhouding teenoor Kruger, sy geloof in die woord as draer van die waarheid en sy oortuiging in verband met 'n verenigde Suid-Afrika. 'n Mens het egter die gevoel dat Du Toit as hooffiguur by tye te veel soos 'n karakter uit 'n drama van Van Wyk Louw praat, die dialoog in 'n ideologiese debat met die gebruik van die bekende argumente ten gunste van Afrikaans ontaard en dat die gestileerde terugflitse soms verspot aandoen. Daarby tree die vier karakters wat die verlede as toeskouers herbeleef, nie konsekwent strukturerend op nie en verkry die terugflitse te veel van 'n eie outonomie. Van die meer populêre verhaalwerk wat in die vyftigerjare van Henriette Grové in tydskrifte gepubliseer word, verskyn onder die skuilnaam Linda Joubert. Die briefroman Meulenhof se mense (1961; oorspronklik in 1956 as vervolgverhaal in Sarie Marais en in 1980 deur Stephan Bouwer as televisiedrama verwerk) is die ontrafeling van die geheim van die Vermeulen-susters wat deur geldnood gedwing word om 'n loseerder, die jong onderwyseres Annemarie Herbst, in te neem. Agtereenvolgens onthul verskillende karakters die liefdesintriges en vetes aan Annemarie wat dit op haar beurt alles aan haar verloofde skryf. Alhoewel die geheel netjies beplan word en die dialoog baie natuurlik is, het die onthullingstegniek die gevolg dat haas elke karakter te gemaklik inligting verskaf en 'n prater word, terwyl die briefskryfster self met haar afluistery en uitvraery te veel 'n blote nuuskierige agie bly. Ten spyte van die feit dat daar aandag gegee word aan die verhouding tussen Annemarie en haar verloofde, val die aksent te uitsluitlik op die geskiedenis van die Vermeulens met te min aandag aan die briefskryfster se werk as onderwyseres. Met die enigsins sinistere ou-wêreldse karakters, die geheimsinnigheid en beklemming en die afbranding van die opstal aan die einde, waarmee die verlede simbolies vernietig word, toon die roman 'n verwantskap met die tradisie van die ‘Gothic
| |
[pagina 327]
| |
novel’. By hierdie tradisie sluit Henriette Grové ook in Die laat lente (1962) aan, 'n roman wat meer as toevallige ooreenkomste toon met Daphne du Maurier se Rebecca. Soos in Meulenhof se mense verkeer die hooffiguur in Die laat lente in 'n vreemde omgewing, het sy te make met karakters wie se optrede deur die verlede beïnvloed word en bepaal die geleidelike onthulling van die geheime deur verskillende persone die basiese gang van die roman. Alhoewel die ontknoping vernuftig is, het 'n mens die gevoel dat die handeling te veel op die verlede gekonsentreer word en dat die geheel iets van 'n legkaart vertoon. Op 'n aansienlik hoër vlak is die verhale wat in die bundel Roosmaryn en wynruit (1962) versamel word. Die oorheersende motief in die bundel is die verlange na die ver plekke, die eksotiese en die uitsonderlike, maar uiteindelik vind die karakters die oplossing in die aanvaarding van die patroon en die burgerlike bestaan. Dikwels lei hierdie motief tot 'n spanning tussen droom en realiteit, romantiese vlug en eise van die daaglikse lewe of skyn en werklikheid, wat aan die verhale 'n hegte struktuur gee. Alhoewel die karakters meestal kleinburgerlike tipes is wat nie die mens in sy diepste nood openbaar nie en die netjiese sluiting soms die indruk van 'n hokus-pokus-speletjie wek, is verhale soos ‘Die musiekles’, ‘Die draer’ en ‘Die grootwiel’ - waarin die hoofkarakter, in teenstelling tot die meeste ander stukke, die onsekerheid van 'n avontuurlike lewe sonder geroetineerdheid verkies - kleinkuns van 'n besondere orde. Dikwels is 'n naïewe verteller aan die woord wat op 'n aanvanklik omslagtige wyse en met die gebruik van geestige en ironiese effekte vertel, meestal met die aanwending van die volkstaal, kleurryke idioom en besondere beeldspraak wat een van die kwaliteite van die bundel is. Met 'n drietal bundels, waarvan Kwartet (1957; saam met M.E.R., Elisabeth Eybers en Ina Rousseau) vyf verhale, Jaarringe (1966) twaalf (met twee reeds in Kwartet) en Winterreis (1971) 'n verdere drie ‘vertellinge’ van groter omvang bevat, lewer Henriette Grové haar belangrikste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Met die verlange na die ver plekke en die bevryding uit 'n verstikkende burgerlike bestaan toon die verhale 'n tematiese verwantskap met dié in Roosmaryn en wynruit, terwyl hulle ook tegnies by die meer populêre verhale aansluit deur die gebruik van die kind of naïewe, onderontwikkelde grootmens as verteller, die polêre spanning wat vir 'n hegte eenheid sorg en die oomblik van konflik (dikwels opstand teen die burgerlike moraal en reëls) as hoogtepunt van die spanningslyn. Veel meer as in die Linda Joubert-verhale gee hierdie werk egter 'n spel van skyn en wese of leuen en waarheid, belig dit verskillende perspektiewe op die mens, val die aksent op die verstrengeldheid en verwikkeldheid van wat die lewe in werklikheid is en vorm ‘die onherroeplikheid, die onverbiddelikheid van die voortgang van die tyd’ (soos Henriette Grové dit self in Gesprekke met skrywers 3, p. 65 noem) 'n belangrike motief in veral die latere verhale.
| |
[pagina 328]
| |
Soos in ‘Die musiekles’ en ander stukke uit Roosmaryn en wynruit is die verteller in ‘Die Betlehem-ster’ in Kwartet 'n jong dogtertjie wat met haar tipiese idioom, beperkte perspektief en omslagtige aanbod die verhaal vertel. Die uitgangspunt vir die hele vertelling is Lena se poging om Dina Swart se stories oor die buite-egtelike verhouding van haar vader tot leuens te reduseer, daarmee nog 'n ‘trappie van die Waarheid’ in die Sondagskool te vorder en uiteindelik die begeerde Ster te verower. Basies werk die verhaal egter met die teenstelling tussen haar moeder se geordende, geregimenteerde maar saai huishouding en die gemoedeliker, losser lewe by 'n ander vrou na wie haar vader wegvlug. As Lena ná haar waarneming van hierdie lewe Dina Swart se ‘stories’ bevestig kry en, nadat sy uit 'n boom geval het, die vreugdevolle samesyn van haar vader en die ander vrou in die huis beleef, vertel sy doelbewus 'n leuen oor die toestande daar ten einde haar moeder nie seer te maak nie. Daarmee verloor sy egter alle aanspraak op die Ster en - as eindpunt van die spanningslyn - ruk sy die haak af waaraan dit sou gehang het. Verwant aan ‘Die Betlehem-ster’ is die spanning tussen die verteller se mense met hulle spaarsin en veroordeling van 'n uitspattige lewe en die De Beers se roekelose maar gelukkiger leefwyse in ‘Die dag van môre’, terwyl die spanningslyn sy hoogtepunt bereik as die verteller - soos Lena wat die haak afruk - die ‘deugdelike’ windmeul ten aansien van die vreugdevolle balonne van die De Beer-kinders aan stukkies kap. In albei stukke dra die verhaal iets groters en omvattenders oor as wat vir die kind met haar beperkte kennis en ervaringsveld moontlik is, sodat daar 'n diskrepansie tussen die perspektief van die verteller en die ruimer perspektief van die verhaal ontstaan. In ‘Die swart haan’ maak die ek-verteller, wat in teenstelling tot die vorige twee verhale nie die hoofpersoon is nie maar 'n belangstellende buitestaander, op 'n eiland in die Maleise argipel kennis met die egpaar Botha: die vrou wat haar Suid-Afrikaanse leefwyse met hoenders, groentebeddinkies, portrette van voorvaders in ovale rame en die ordelike reëlmaat van die wekker in die broeiende tropiese klimaat voortsit, terwyl haar man hom oorgee aan die primitiewe, eksotiese en sinlike van die Ooste en die swart haan, wat met sy gekraai iets van sy vrou se ordelikheid evokeer en daarmee die magiese bekoring en ritmiese swaai van die danseresse versteur, met 'n mes in die nekvleis tot stilte dwing. Dieselfde spanning tussen 'n ordelike, planmatige lewe enersyds en die drang na 'n eksotiese, avontuurlike bestaan andersyds vorm ook die grondslag van ‘Die ver plekke’, 'n teenstelling wat op die een of ander wyse reeds voorkom in ‘Ouma Eileen se hangertjie’, ‘Hanteer versigtig’, ‘Spieëltjie, spieëltjie, aan die wand’, ‘Die arme Dorie’, ‘Malie en haar teleurstelling’ en ‘Die groot wiel’ in Roosmaryn en wynruit. As juffrou Truida vir die tweede keer in haar lewe die geleentheid kry om die eentonige reëlmaat van haar bestaan op te hef en saam met die vriend uit haar jeugjare die ‘ver plekke’ te besoek, besluit sy andermaal daarteen en draai sy die lamp by sy vertrek verder af, iets waarmee sy in werklikheid wil sê dat sy nie kan bekostig om so ‘luidrugtig’ te lewe nie en waarmee haar optrede 'n treffende ooreenkoms met dié van Nelie in Fagan se Ousus toon. In die gemoedeliker ‘Tant Nelie se veerpluime’ berus die spanning op die karakterteenstelling tussen die ingetoë Ursula en die selfsugtige, hoogmoedige Kittie. Tussen dié twee moet die verteller dan 'n keuse maak, soos in ‘Die optelsom’ en ‘Hanteer versigtig’ uit Roosmaryn en wynruit, terwyl die skryf van 'n verhaal - soos vroeër in ‘Eind' goed, alles goed’ - deel van | |
[pagina 329]
| |
die boustof vorm. Met die voltooiing van die verhaal-binne-die-verhaal (die relaas van hoe die resep uit die Maré-familie geraak het) illustreer die skrywer-verteller sy onvermoë om 'n storie bevredigend te sluit, iets wat reeds deur sy ‘onwennigheid’ aan die begin in die vooruitsig gestel is. Die verhaal self word egter voltooi deur 'n terugkeer na die inset (die gesprek met die kinders, die afloop van die ek se verhouding met Kittie en sy keuse van Ursula tot vrou) wat die ‘storie’ tog ‘mooi’ laat eindig en struktureel 'n bevredigende balans aan die geheel gee. In die bundel Jaarringe keer die teenstelling tussen die kind en die volwassene se wêreld en die verlange na 'n ander bestaan as motiewe terug, terwyl Henriette Grové ook hier dikwels van die kind of onverwikkelde boeretipe as verteller gebruik maak, die gebeure op een sentrale karakter betrek en dikwels met 'n dramatiese slot die mens uit sy beperktheid wil lig of van sy geroetineerdheid wil laat loskom. Nog meer as in Kwartet het die verhale te make met die verwikkeldheid van die mens in sy gang van geboorte tot dood, in sy liefdeslewe of in sy konfrontasie met die ouderdom, dikwels met die gebruik van sterk teenstellings en die uitbuiting van taalwaardes. ‘Die middelboom’ werk met die teenstelling tussen 'n man uit 'n vrugbare geslag en die kinderloosheid van die hooghartige Greyvenstein-egpaar wat hulle huis agter digte bome teen die wêreld beskut. Ná haar man se dood laat die vrou, wie se plante - as begeleidende motief by die onvrugbaarheidstema - nie wil groei nie, die bome uitkap, meer spesifiek - tydens die handelingsverloop van die verhaal - die middelboom wat as falliese simbool die steriliteit in haar lewe verteenwoordig. In haar patologiese drang om eenmaal moeder te word, verwys die vrou by herhaling na Bybelse uitsprake en voorbeelde en berei sy 'n feesmaal wat eintlik 'n bisarre huweliksfees word, net om aan die einde aan beroerte te sterf, 'n slot wat reeds effektief aan die begin van die verhaal voorberei is. In ‘Kom herwaarts getroues’, wat deur 'n ouerige man - die Kersvader by die Cash-en-Carry-basaar se feesvoorstellings - vertel word, is die teenstelling 'n boeiende variasie op die spanning tussen die gewaagde of uitspattige en die alledaagse of burgerlike in Henriette Grové se vroeër werk, soos dit bv. in ‘Die dag van môre’ of ‘Die Betlehem-ster’ voorkom. Die spanning tussen Antjie Crous,
wat o.m. in haar rol as Eva net met 'n paar vyeblare bedek is en die belangstelling van die Josef-karakter wek, en die huislike, ordinêre en enigsins versukkelde Maria lei tot 'n pragtige verstrengeling van skyn en werklikheid deurdat die rolle wat hulle speel, algaande werklikheid word, al probeer Maria by geleentheid met die naam Jaap in plaas van
| |
[pagina 330]
| |
Josef die skyn en toneelspel ophef en tot die werklikheid deurdring. As die geveg aan die einde alle skyn - ook die bietjie wat daar in hierdie voorstellings met hulle kommersialisering en uitbuiting van die vroulike liggaam van die ware Kersfees oor was - finaal vernietig het, kan 'n kind as laaste stukkie ironie uit die puin 'n kartonster en die Christus-pop uitkrap. In ‘Venesië agter 'n bruin gordyn’ wil die romantiese skooldogter-vertelster haar kunsonderwyseres sover kry om die verhouding met haar ‘minnaar’ voort te sit en Venesië as die stad van haar drome en skilderye te besoek. Soos die vrouefiguur in ‘Die ver plekke’ is hierdie moontlikheid egter vir Juffrou Thea uitgesluit, omdat sy agter die bruin gordyn van haar werkkamer op haar doeke en met haar kunsvoorwerpe 'n eie wêreld opbou wat as ontvlugting en beskerming teen die aanslae van die werklikheid moet dien. Die perspektiwiese gebondenheid word hier, as variasie op Die glasdeur, die noodlot van die skilder wat slegs in voorwerpe of plekke geïnteresseerd is indien hulle as boustof vir die kunswerk kan dien. Daarom dat die dogter uiteindelik aan die einde die gordyn afruk (vgl. die glasdeur wat in die hoorspel stukkend geslaan word) sodat Juffrou Thea vir die eerste keer ‘waarlik (kan) sien’, al is sy te veel kunstenares om ‘die ongenadige brand deur die ruit’ te verduur. In ‘Gebed om 'n wonderwerk’ word die wonderwêreld van die Duitse grootmoeder se wit Kersfees deur haar kleindogter herskep as sy lekkers aan die volkies gee en die ysblokkies op die dorstige Karoo-aarde afgooi. Soos ‘Die Betlehem-ster’ handel drie van die verhale oor huweliksonmin: in ‘Die familietrek’, die minste van die drie, 'n man se tevergeefse poging om van sy verlede en die werklikheid van 'n buite-egtelike kind weg te vlug; in ‘Vakansie
vir 'n hengelaar’ 'n vrou se futiele wag dat haar man se voorliefde vir vroue moet end kry, net om aan die einde met die realiteit van die ouderdom te sit, terwyl die skrywer-verteller die dilemma van 'n onvoltooide verhaal vir homself moet oplos; en in ‘Liesbeth slaap uit’ (deur Stephan Bouwer as televisieteks verwerk en gepubliseer in Tema en tegniek, Pretoria/Kaapstad 1980) 'n beskermde, opgevoede kind, wat liefde in oorvloed by haar ouers kry, se eerste ervaring van 'n brute wêreld waarin hierdie waardes afwesig is of telkens - by monde van haar jeugvriendin - gebanaliseer word en sy getuie is van 'n huwelik waarin geen verhouding meer moontlik is nie. By hierdie verhale sluit die ongebundelde ‘Douw en Fransiena’ (Standpunte, XX: 6, Augustus 1967) tematies aan: 'n Vrou wat haar man na 'n huwelikslewe van twaalf jaar verlaat, terug by haar ouers deur die ontdekking van haar plaasonderwyseres se briewe aan 'n fiktiewe minnaar tot die insig kom dat die liefde die enigste is wat oor die verganklikheid seëvier en uiteindelik haar man in volle oorgawe kan aanvaar. In ‘So vroeg-vroeg in die môre’ en ‘Vingeroefening op swart en wit’ onderneem Henriette Grové by wyse van afwisseling 'n ekskursie in die tegniek van die ‘ware verhaal’ sonder simbole, vergelykings, teenstellings of konflik en 'n tipografiese eksperiment met die spaarsame gebruik van woorde onderskeidelik. Die hoogtepunt van die bundel en van Henriette Grové se kortverhaalkuns as sodanig is ‘Dood van 'n maagd’, 'n oujongnooi se terugskouing op haar hele lewe en konfrontasie met die dood terwyl sy sterwend is na 'n
| |
[pagina 331]
| |
kankeroperasie. Soos vroeër In ‘Die ou vrou en die dood’ (Halte 49) vind die belewing plaas vanuit die beperkte ruimte van die hospitaalkamer waar Frieda Martyn as sentrale ervarende karakter gefolter word deur die verlede, o.m. deur die obsessie en waan dat sy aandadig is aan 'n kindermoord. Teenoor die enkele kamer is daar die ‘paaie’ wat weglei na hoofmomente en -fases in haar lewe: haar kinderjare, haar vroeë jeug (met die wegbly van die menstruasie), haar latere jeug (met die religieuse opwekkingsdienste) en die middeljare (die begin van haar siekte). Algaande word haar belewing in die hospitaal 'n verstrengeling van goed en boos met as begeleidende motiewe die voorstelling van die Breë en Smalle Weg, die verskillende soorte musiek wat op die orrel uitgevoer word en die begrippe bloed, pad, vuur, stank, skaap e.d.m. wat deur die hele verhaal sirkuleer. Telkens val die aksent in hierdie herbelewing op die teenstrydigheid van dood en lewe, 'n spanning wat aan die slot kulmineer as die gewas wat haar lewe vernietig, soos 'n fetus weer begin te groei en sy gevoed word deur twee druppe wat met bloed en glukose - ‘Gog en Magog’ - gevul is. En tog eindig die verhaal nie in hierdie uitsigloosheid nie. Geen dood is moontlik sonder lewe nie; telkens word ‘die dood tot 'n stralende kleurveel lewe (verteer)’ en kan die aardse bestaan met 'n ‘loof die Heer’ eindig. Aansluitend by ‘Dood van 'n maagd’ is al ‘drie vertellinge’ in Winterreis, met die tyd as telkens terugkerende motief, 'n terugskouing in die verlede in met die doel om dinge te ken en te deurgrond. In ‘Haar naam was Hanna’ word dit 'n soeke na die onderliggende redes vir die selfmoord van 'n ou vrou in 'n tehuis. Dit roep 'n ander selfmoordgeval uit Alethea Joubert se jeug in die herinnering, 'n gebeurtenis wat telkens by krisismomente in haar lewe 'n definitiewe invloed gehad het. Uiteindelik transendeer sy haar eie nood by die besef, waarin die motto uit Job, 1:21 meespreek, dat die mens as sodanig ‘arm, ellendig en kleinvoëltjie-kaal (is). Ewig te vroeg gebore, skuifel ons aan deur ons dae met onklaar ledemate en sintuie wat net halfpad onderskei’. Maar as God die mens met Sy bloed voed, ‘sal die blinde oog sien en die kanker se groei gestuit word; die horrelpoot sal huppel en ons naaktheid ewig geklee wees in u genade’. Hierdie vreugdevolle uiteinde is ook aanwesig in ‘Wie onthou vir Kinna’, 'n terugreis wat Dirk Lotter onderneem om iets van die geluk van sy jeug saam met Kinna terug te vind. Ten spyte van die mens se magteloosheid teen die dood wat alles uitwis en sy verlange om 'n klip te wees wat ‘geen orgaan (het) om die sterflikheid te registreer nie’, bemerk hy aan die slot in die bewegende mielies en blomme iets van Kinna en die lewe wat onverganklik ‘straal’, soos Fransiena (in ‘Douw en Fransiena’) vroeër gevind het dat die liefde die enigste pantser teen die verganklikheid is. In die lang en verwikkelde titelstuk werk Henriette Grové soos in ‘Dood van 'n maagd’ met 'n verstrengeling van hede en verlede in die weergawe van die sentrale karakter se reis na Wes-Duitsland om
| |
[pagina 332]
| |
die stad Hofburg te besoek van waar haar grootmoeder in 1870 na Suid-Afrika vertrek het. Die rede vir hierdie reis is nie alleen om die wêreld van die grootmoeder te sien nie, maar om 'n verklaring te vind vir die idiotekind wat sy in die wêreld gebring het. Soos in ‘Dood van 'n maagd’ word daar ook hier met 'n reeks parallelismes en kontraste gewerk: die reis van die grootmoeder na Suid-Afrika - die reis van Anna Amehlia na Hofburg; die groen heuwels van Duitsland - die suurgrond, braklande, sandslote en klip van Afrika; die Anglo-Boereoorlog, waarin die grootmoeder se seun Franz gesneuwel het - die uitwissing van Hofburg tydens die Tweede Wêreldoorlog toe twintigduisend mense gedood is en feitlik niks van die stad oorgebly het nie. Alhoewel die geheel met sy parallelle reise andermaal Henriette Grové se konstruksievermoë illustreer, vind die heen-en-weer-beweging tussen twee tye en ruimtes in vergelyking met ‘Dood van 'n maagd’ nie altyd met gemotiveerde oorgange plaas nie en word dit op die lange duur 'n te gemaklike tegniek. Met die gebruik van die terugflits, gestileerde spel, besondere simboliek en onthulling van 'n stuk verlede is dit veral die hoorspele wat onder Henriette Grové se dramatiese werk opval, terwyl sy met verhale en romans die populêre Afrikaanse lektuur verryk, al word te veel van die stukke 'n blote legkaart van verhoudings en neig die tematiek na 'n sekere eenselwigheid. Dit is egter met die spel van skyn en wese en die perspektiewe op die mens in haar kortverhale en vertellinge in Kwartet, Jaarringe en Winterreis dat sy haar beste werk lewer. Wesentlik is haar temas, milieu en tipe karakters dieselfde as dié van die ouer Afrikaanse prosa, maar deur die besondere aanwending van die verteltegniek, die uitbuiting van die enkele woord en idioom, die verwikkelde konstruksie, die gebruik van die ironie en die omvattender siening van die mens is haar verhale iets nuuts in die Afrikaanse kortverhaalkuns. |
|