Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 213]
| |
Hoofstuk 9
| |
[pagina 214]
| |
Gelukkige swerwer (1938), Die vallei van die newels (1940), Die wraak van Toeareg (1940), In twee wêrelddele (1941), Twee gelukkige swerwers (1941), Aan die walle van die Nyl (1942), Oor die klipperige pad (1942) en Die oor, weegskaal en die boek (1942) gee hy dikwels aardrykskundige en volkekundige inligting, maar ten spyte van die boeiende relaas van allerlei avonture mis sy verhale die nodige verbeelding wat dit tot literatuur kan verhef. In Die huisgesin van Dawid Barinski (1935) vertel Groeneweg die wedervaringe van 'n Jodegesin in Rusland. Die eerste skrywer wat bewustelik van dierbeelding in sy geskrifte gebruik maak, is die Duitser hans anton aschenborn (1888-1931), wat in Uit die lewe van 'n gensbok (1921) 'n reeks grafiese werke met teks publiseer. In 1925 bewerk Sangiro sy Die adelaar en ander Afrikaanse verhale uit Duits, terwyl J.F.W. Grosskopf in 1930 van hom ‘Mardádi, koning van die kwaggas’ (opgeneem in Ou Leeumelker, 1942) vertaal. Aschenborn illustreer ook verskeie Afrikaanse dierverhale en vertellings, o.m. Sangiro se Uit oerwoud en vlakte en Grosskopf se Ou Leeumelker. | |
n=4 I. Sangiro
sangiro - ‘hasie’, soos die inboorlinge hom genoem het - is die skuilnaam van andries albertus pienaar, wat op 23 Augustus 1894 op Broederstroom in die distrik Pretoria gebore is. In 1907 gaan die gesin na Duits-Oos-Afrika, waar Sangiro in die pragtige omgewing van Kilimandjaro grootword. Later skryf sy moeder 'n verslag oor die gesin se ervarings in die wildernis (geredigeer deur H.J.C. Pieterse onder die titel Baanbrekers in die maalstroom, 1942). In 1913 keer Sangiro terug na Suid-Afrika, waar hy sy verdere opleiding aan die Volkskool op Heidelberg en aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang. In 1921 behaal hy die graad B.A., werk daarna 'n kort tydjie as onderwyser en as redaksielid van Die Burger en vertrek dan na Duitsland vir verdere studie. In 1922 en 1924 besoek hy weer Oos-Afrika, eers op
| |
[pagina 215]
| |
'n jagtog (o.a. vergesel van J.F.W. Grosskopf), daarna as leier van 'n Duitse filmekspedisie. Albei hierdie besoeke lewer stof vir sy werke, eersgenoemde vir Op safari en laasgenoemde vir ‘Rolprentavonture’ uit Simba. In die dertigerjare tree hy op as regisseur van verskeie rolprente en later is hy hoofwildbewaarder in Suidwes-Afrika. Hy ontvang twee keer die Hertzogprys vir Prosa: in 1927 vir Diamantkoors en Twee fortuinsoekers (1926) en in 1945 vir al sy werke. Op 30 April 1979 is hy in die distrik Bloemhof oorlede. Sangiro se werk verteenwoordig die eerste voorbeelde in Afrikaans waarin die dier nie slegs as 'n voorwerp vir die jag gesien word nie, maar waarin hy in so 'n mate 'n persoonlikheid word dat die leser homself met die dier in sy grootse stryd teen die mens kan vereenselwig. Daarnaas beoefen hy in sy latere geskrifte 'n joernalistieke prosa, telkens vanuit die perspektief van 'n ek-verteller geskryf, wat plek-plek deur die beskrywing en veral deur die boeiende en dramatiese weergawe van die ervarings tot literatuur verdig. Afgesien van hinderlike vorme, soos Germanismes, lomp sinsbou en die te kwistige gebruik van die deelwoord en soms 'n neiging in die rigting van 'n bewustelike sierstyl (veral in die beskrywende gedeeltes), skryf hy oor die algemeen 'n behoorlike prosa wat deur sy aangename verhaaltrant altyd boei. Uit oerwoud en vlakte is die bundel waarmee Sangiro in 1921 debuteer, wat daarna in Frans en Engels vertaal word en waarvan jare lank meer eksemplare as van enige ander Afrikaanse boek - met uitsondering van die Bybelvertaling - verkoop is. Dit bestaan - volgens die subtitel - uit drie ‘sketse uit die Oos-Afrikaanse dierewêreld’, maar eintlik kan slegs die kortste van die drie, ‘In die oerwoud’, wat 'n verslag is van 'n daglange waarneming van die wilde diere, 'n skets genoem word. ‘Lotgevalle van 'n leeufamilie’, die verhaal van twee pare leeus wat doodgeskiet en wie se welpies uiteindelik deur 'n jonger leeupaar aangeneem word, en ‘Renosterlewe’, die relaas van die vriendskap tussen 'n renosterwesie en 'n jong seekoeitjie, beweeg eerder in die rigting van kort novelles. In al drie stukke slaag Sangiro daarin om die dier-mens-wêreld deur 'n fyn balans tussen die dierlike en menslike eienskappe van die oerwoudbewoners te handhaaf en hulle met liefde waar te neem en te teken. Die belangrikste beswaar is dat die verteller van tyd tot tyd sy verhaal binnetree deur sekere gewoontes van die diere te verklaar, direkte parallelle met die menslike geaardheid te trek of as moralis na vore te kom deur ‘parenteties’ in te gryp en allerhande beskouinge in verband met die hoofgebeure - o.m. oor wrede jagmetodes (vgl. hoofstuk 6) - mee te deel. Daarteenoor slaag hy egter daarin om in die twee verhalende stukke 'n reeks boeiende en spannende hoogtepunte in 'n funksionele volgorde tot 'n bevredigende einde te voer. Volgens Sangiro se eie verklaring aan P.C. Schoonees (aangehaal in Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging) het hy Uit oerwoud en vlakte begin skryf nadat hy in 1917 by sy herbesoek aan Oos-Afrika sy ‘grootste plesier ... daarin gevind (het) om die diere in hulle eie omgewing gade te slaan’ en die leeus ‘'n weeklank elke maanlignag (te) sit en beskou uit 'n boom’. By sy terugkeer na Stellenbosch het hy die werk voltooi en aan die Nasionale Pers voorgelê. Na 'n aanvanklike afwysing is dit deur bemiddeling van prof. J.J. Smith vir publikasie aanvaar. Ook in die Voorwoord tot die uitgawe verklaar die skrywer dat hy probeer het ‘om die lewe en gewoontes van wilde diere, soos hy dié in vele jare leer ken het, eenvoudig weer te gee’ en dat die omgewing ‘in alle opsigte na die werklikheid geteken’ is. | |
[pagina 216]
| |
Sangiro se beroep op eie waarneming en weergawe word in 'n aansienlike mate geloënstraf deur die sterk ooreenkomste wat Uit oerwoud en vlakte met drie stukke uit die Duitse skrywer Frits Bronsart von Schellendorff se Afrikanische Tierwelt I: Novellen und Erzählungen (1912) toon. Hierdie ooreenkomste geld, soos F.V. Lategan aangetoon het, die ‘tema en inhoud’ van die werke, die ‘siening van die dierelewe’, die ‘lewensgevoel’, ‘die toon en ritme van die ekspressie’ en sommige dele wat woordeliks só sterk ooreenstem dat dit eenvoudig as 'n blatante oorskrywery aan die kant van Sangiro bestempel moet word. Met uitsondering van twee kort stukkies bestaan Von Schellendorff se werk - soos Lategan verder aantoon - ook uit 'n lewensverhaal (‘Löwenleben’), 'n skets (‘Urwald’), waarin die dierelewe 'n dag en 'n nag lank waargeneem word, en die verhaal van 'n klein renostertjie (‘Eines Nashorns Freud' und Leid’) wat met 'n andersoortige dier 'n vriendskap aanknoop. Soos in die geval van Sangiro handel Von Schellendorff se leeuverhaal ook oor 'n leeutroep wat met wit jagters in botsing kom op 'n plek waar 'n renoster deur die jagters as lokaas vir die leeus laat lê is, maar Sangiro se verhaal toon 'n ‘hegter eenheid’ deurdat die handeling meer gekonsentreerd is en deurdat hy 'n ‘sterker dramatiese aanvoeling van die tragiese botsing tussen mens en wildedier’ het. Nog sterker is die ooreenkomstige situasies en temas in die twee sketse, waarin albei skrywers die oerwoudlewe waarneem, terwyl die twee verhale oor die renostertjie ook 'n groot verwantskap met mekaar het, al word die vriendskap in Von Schellendorff se geval met 'n antiloop gesluit en al verskil die besonderhede aanmerklik van mekaar. As 'n mens verder nog op woordelikse ooreenkomste in die twee voorwoorde afkom,
is dit duidelik dat Sangiro wel deeglik Von Schellendorff se werk as voorbeeld gehad en in 'n groot mate 'n stuk afgeleide literatuur geskryf het,
| |
[pagina 217]
| |
selfs al gee 'n mens toe dat hy deur die dramatiese weergawe van die gebeure sy voorbeeld oortref. Die sterk verwantskap en veral die stukke wat woordeliks ooreenkom, is egter 'n ernstige aanklag teen 'n werk wat jare lank as een van die hoogtepunte van die ouer Afrikaanse prosa beskou is. Sangiro se belangrikste bydrae lê dus nie op die gebied van die inlewing in die denke en emosies van die dier, soos hy dit in Uit oerwoud en vlakte gedoen het nie, maar in die aangename, spannende en dikwels geestige vertellings oor sy wedervaringe tydens die ekspedisies in Oos-Afrika. In Op safari (1925) lewer hy verslag van die ‘drie musketiers’ (onder wie J.F.W. Grosskopf) se seereis na en tog in Oos-Afrika en gee hy vanuit die standpunt van die jagter 'n boeiende siening van die natuur en die diere en 'n lewendige relaas van die ontberinge op die reis en die avonture tydens die jag. Anders as in Uit oerwoud en vlakte, waar die dier sentraal en die mens op die periferie gestaan het, is die jagters en veral die vertellende en ervarende ek-figuur (wat as Sangiro self bekend staan en met geesdrif en humor maar ook soms met weemoed vertel) die hoofsaak. Blykens die inset van die verhaal vertel die ek hier vanuit 'n agternaperspektief en skep hy 'n werklikheidsillusie deur die herhaalde aanspreking van die leser en deur die herbevestigings van die outentisiteit van sy weergawe. Juis deur die aanwesigheid van hierdie ekverteller veroorsaak die vooruitskouings en die raadgewings aan voornemende jagters nie struktuurbreuke soos in die geval van Uit oerwoud en vlakte nie. Wat Sangiro hier lewer, is in die beste sin van die woord joernalistieke prosa, waarin die fragmentariese aanbiedingswyse, die geestige vertellings en die saaklike kommentaar volkome op hulle plek is. Slegs die te bewustelike woordkuns, soos in die beskrywing van die eerste aanblik van Kilimandjaro in hoofstuk IV, doen nog afbreuk aan die gehalte van hierdie prosa. Die Oos-Afrikaanse wêreld dien ook as boustof vir Simba (1944), wat uit drie dele bestaan. Die tweede deel, ‘Rolprentavonture’ (in 1948 ook afsonderlik uitgegee), sluit die nouste aan by Op safari deurdat Sangiro hier verslag lewer oor 'n tweede tog na Oos-Afrika, hierdie keer as leier van 'n Duitse filmekspedisie. Die opset is basies dieselfde as dié in Op safari, behalwe dat daar nou - naas die ek se waarneming van en avonture met die diere - 'n geestige kyk van die verteller op sy onbeholpe Europese reisgenote kom wat die kostelikheid van die situasies nog verder verhoog. ‘Ngésomit’ is die relaas van Sangiro se talle ervarings met die leeus en die inboorlinge van Oos-Afrika, telkens met liefde maar in die slothoofstuk ook met groot deernis oor die verganklikheid van 'n mooi stuk wêreld geskryf. Hoofstuk V, ‘Avontuur in die Koueberge’, vorm 'n boeiende teenhanger vir ‘Lotgevalle van 'n leeufamilie’ uit Uit oerwoud en vlakte deurdat die wedervaringe van die vier leeus en die welpies hier vanuit die standpunt van die jagter vertel word. Die derde afdeling, | |
[pagina 218]
| |
‘Simba’, begin as 'n verdere jagtog op leeus, maar ontwikkel dan tot die verhaal van die gevangeneming van 'n jong welpie, Sangiro se wedervaringe met hom en sy reis na Duitsland om die leeutjie aan 'n dieretuin te besorg. Die slot, waar die skrywer ná vier jaar se afwesigheid weer voor die leeu se hok staan en op die roep van die naam Simba geen blik van herkenning kry nie, is een van die aangrypendste momente in Sangiro se werk. Afgesien van hierdie twee boeke, wat as sy belangrikste bydraes beskou moet word, beweeg hy met Diamantkoors en Twee fortuinsoekers (1926), twee ‘sketse uit die lewe van diamantdelwers’, op die gebied van die realistiese prosa, waarmee dit 'n ooreenkoms toon met Imker Hoogenhout se Op die delwerye uit dieselfde jaar. In Trekvoëls (1938) skryf hy op onderhoudende wyse twee semi-wetenskaplike artikels oor die gewoontes van migrerende voëls, veral ooievaars, kraanvoëls en kraaie, terwyl hy in die skets ‘Koors’ (in Die Nuwe Brandwag van Mei 1929 en daarna opgeneem in Nuwe Afrikaanse kortverhale, 1932) 'n voortreflike weergawe van 'n jong seuntjie se yl en hallusinasies tydens 'n tog na Oos-Afrika gee. Hierdie skets, wat op Sangiro se eie ervarings as kind in 1907 gebaseer is, kan as die eerste voorbeeld in Afrikaans van die uitbeelding van 'n namelose angs beskou word en is deur sy weergawe van afwykende waarnemings die verre voorloper van N.P. van Wyk Louw se latere voorstellings in ‘Die swart luiperd’ en Opperman se ‘Koggelbos’. In sy laaste werk, En die Oranje vloei verby (1951), bundel Sangiro tien sketse oor die wêreld van Namakwaland en Boesmanland, al is hy meer geïnteresseerd in die mense en tipes - o.m. in die spesifieke woorde en stelwyse van sy karakters, die aard van die Boesman en Ovambo en die vroeë geskiedenis - as in die diere of natuur van hierdie streek. Alhoewel die stukke enigsins fragmentaries aandoen en 'n ooreenkoms toon met Lawrence Green se To the river's end, boei Sangiro deur sy weergawe van hierdie woestynwêreld en -mense en kan sy boek vergelykenderwys naas dié van die Hobsons oor dieselfde gebied gestel word. Met die onopgesmukte, tooilose prosa wat hy hier aanwend, bereik hy 'n groter suiwerheid as in sy vroeëre werke, waar die woordoordaad plek-plek nog hinderlik aandoen. Daarby is Sangiro se anekdotiese inslag in die losser sketsmatige vorm meer op sy plek en verkry hy telkens besondere effekte met sy geestige kyk op sake en die regstreekse dialoog van die Namakwalander. Sangiro se blywendste werk lê dus op die terrein van die joernalistieke prosa, waarmee hy 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse verhaalkuns lewer. Deur sy skatpligtigheid aan 'n Duitse voorbeeld kan Uit oerwoud en vlakte vandag nie meer die hoë aansien van vroeër geniet nie, terwyl Op safari en Simba deur die simpatieke siening van die dier en tropiese landskap, die geestige weergawe van situasies en die
| |
[pagina 219]
| |
talle anekdotes en jagavonture as belangriker werke beskou moet word. Ook met die kort skets ‘Koors’ en met die beeld van die Noordweste wat hy in En die Oranje vloei verby oproep, lewer hy 'n wesentlike bydrae. In die Afrikaanse literatuur is Sangiro die joernalis-by-uitstek wat sy jagavonture en waarneming van mense op 'n vlot en onderhoudende wyse kan weergee. | |
II. G.C. en S.B. Hobsongeorge carey (28 Augustus 1890 - 13 November 1945) en samuel bonnin hobson (17 September 1888 - 6 Augustus 1965) is, ná Meurant, Zwaartman (Cooper) en Hoogenhout, die eerste gebore nie-Afrikaners wat 'n belangrike bydrae tot ons letterkunde lewer en daarby die eerste voorbeeld van twee outeurs wat - hoofsaaklik op die gebied van die dierverhaal - hulle boeke gesamentlik skryf. Soos sy broer is G.C. Hobson in die distrik Graaff-Reinet gebore, waar hy sy jeugjare deurbring. Later verhuis die gesin na Betsjoeanaland, waar hy die geleentheid het om die Kalahari goed te leer ken. Daarna gaan boer hy, neem deel aan die Eerste Wêreldoorlog en tree dan toe tot die staatsdiens, waar hy tot met sy dood werksaam is. S.B. Hobson ontvang sy opleiding aan die Rhodes-universiteitskollege en word daarna onderwyser, skoolhoof, inspekteur van skole, sekretaris van onderwys en later lid van die Kaapse Provinsiale Raad en voorsitter van Rhodes se universiteitsraad. Alhoewel hulle huistaal Engels was, vind hulle Afrikaans 'n geskikte medium om hulle waarneming van diere in uit te druk, omdat hulle hul ‘veldondervindinge’ - volgens eie mededeling - in Afrikaans opgedoen het. Oor hulle samewerking het S.B. Hobson verklaar dat ‘die inspirasie ... (vir) negentig persent my broer s'n, die taal en styl myne’ is en dat hy ‘merendeels oorvertel ... wat ... (G.C.) aan die hand gedoen het’. Hierdie samewerking geld egter hoofsaaklik vir die dierverhale; die ander werke - selfs waar G.C. Hobson se naam as mede-outeur verskyn - is haas uitsluitlik die arbeid van die ouer broer. Vir Kees van die Kalahari ontvang hulle in 1930 die Hertzogprys vir Prosa, terwyl S.B. Hobson later met 'n eredoktoraat deur die Rhodes-universiteit vereer word. Alhoewel die Hobsons in die Afrikaanse letterkunde veral bekend is as skrywers van dierverhale, is hulle werk nie uitsluitlik daartoe beperk nie. Op die voorposte (1932) speel af in die tydperk van die republieke Stellaland en Gosen en gee op die patroon van die tradisionele historiese avontuurroman 'n beeld van die vroeë diamanthandel en die ruwe mense en wilde wêreld van dié periode. Die vertelling geskied egter te episodies, die reeks gebeure is te verbandloos en die hoofkarakter (wat op die geskiedenis van die perdedief Scotty Smith gebaseer is) ontwikkel ná die belowende inset in 'n blote avonturier. In Geluksvlei (1937), waarin die lewe in die Karoo verheerlik word, oorheers die direkte inligting aan die boer en gaan uitbeelding en karakterisering grotendeels verlore. Aan Jannie (1943) bestaan uit 'n twintigtal briewe waarin 'n vader oor die plaaslewe aan sy seun op Stellenbosch skryf en daarby telkens aan hom advies en wyse lering verskaf. Alhoewel die boek in 'n aangename, onderhoudende geselsprosa geskryf is, word daar te min rekening gehou met die bewustelike en berekende omgang met die leser wat die briefvorm vereis en raak die moralisering op die lange duur hinderlik. In Broers (1947), wat ná | |
[pagina 220]
| |
die dood van die jonger broer verskyn, skryf S.B. Hobson oor sy jeugjare, sy ervaring as inspekteur, as Engelssprekende in 'n oorwegend Afrikaanse gemeenskap en verstrek hy inligting oor die agtergrond van die boeke en die aard van die samewerking tussen die twee broers. In 'n vyftal werke neem die Hobsons die wêreld van die Kalahari (in een geval ook die Noordoos-Transvaal) as agtergrond waarteen die diere en primitiewe mense van dié gebied lewe. Die inleiding daartoe is Kalahari-kaskenades (1929), 'n dierefantasie vir kinders, waarin die jakkals - soos in die Middeleeuse Van den vos Reynaerde - die geleentheid kry om talle skelmstreke uit te haal. Alhoewel die diere ook 'n belangrike aandeel aan Skankwan van die duine (1930, uitgebreide uitgawe in 1936) het, val die aksent op die Boesmans en verskaf die skrywers in die loop van die verhaal heelwat inligting oor die seremonies en bygelowe van hierdie ras, sonder dat dit na opsigtelike informasie lyk. 'n Beswaar teen die boek is egter dat die sentrale karakter in die eerste deel van die verhaal te veel op die periferie beweeg en die hoofhandeling deur newefigure gedra word. In vyf verhale wat in drie bundels verskyn, bereik die Hobsons die hoogtepunt van hulle oeuvre en is hulle werk vergelykbaar met die dierbeelding van Sangiro. Hierdie verhale is Kees van die Kalahari (deur hulself in Engels oorvertel as Adoons of the Kalahari) en Kloes (1929), wat oor die geskiedenis van 'n trop bobbejane en die lotgevalle van 'n jakkalsfamilie onderskeidelik handel, Buks (1933), wat langs die Limpopo in Noordoos-Transvaal afspeel en die verhaal van 'n ratelfamilie vertel, en Vlam van die Bantomberge en Grys (1945), wat die lewe van wildehonde en 'n muishondfamilie onderskeidelik as boustof het. Teenoor die bosryke tropiese oerwoud en die skildering van die roofdiere in Sangiro se werke het die Hobsons meestal die kaal woestynwêreld van die Kalahari as agtergrond en val die aksent in hoofsaak op kleiner diere wat in 'n bestaanstryd gewikkel is en 'n lang reeks spannende avonture deurmaak. Afgesien van die feit dat
| |
[pagina 221]
| |
dié spesifieke wêreld nie die moontlikhede bied vir die tipe skildering wat 'n mens in Sangiro se verhale aantref nie, toon hulle werk 'n sekere resepmatigheid deurdat die bestaan van 'n bepaalde dier telkens gesien word in sy driflewe, sy voortdurende soektog na kos, sy gevegte met ander diere en deurdat haas elkeen in een of ander stadium 'n ernstige verwonding opdoen of terugslag ondervind waarvan hy dan langsaam herstel. Daarby is die natuurbeskrywings - wat by die Hobsons soberder is as by Sangiro en hulle werk in die rigting van die realisme laat beweeg - nie altyd funksioneel geïntegreer met die handeling nie en lei die herhalings van soortgelyke tonele, idiome, konstruksies en motiewe tot 'n sekere eenselwigheid, al doen die kontras tussen die bestaanstryd en die teer moederinstink, soos dit tot uiting kom in die versorging van die kleintjies, besonder mooi aan. Oor die algemeen kan die Hobsons kernagtig en saaklik waarneem en deur middel van kort sketse 'n nugterheid bereik wat vir die weidse siening van Sangiro vergoed, selfs al voel 'n mens dat die verhaal as geheel te veel in 'n blote opeenstapeling van spannende avonture gemanipuleer word of dat newemotiewe (soos die wedervaringe van die luiperdfamilie in Kees van die Kalahari) nie bevredigend met die hoofhandeling verbind is nie. Vir die kleiner ‘gemeenskaplike faktor’ tussen die mens en die kleiner diere wat as karakters optree, probeer die Hobsons vergoed deur herhaalde toespelings op en parallelismes met menslike situasies en gewoontes, dikwels ook deur die idoom in die rigting van die dier te dwing (bv. ‘tandgemeen’, ‘hande-drie-voete’ e.d.m.) waardeur hulle 'n ligte geestigheid bereik. Die verteller bly egter nie altyd getrou aan sy uitbeelding nie deurdat hy dikwels meer weet as sy karakter en die leser gevolglik voorlig, oor die gebeure veralgemeen, informasie oor die aard en gewoontes van die diere verskaf of die geheim van die verhaal verklap. Terwyl 'n mens voel dat Kees nog effens episodies in sy opset is, kan Kloes op grond van sy strak bou en die uitbeelding van die meedoënlose lewe in die woestyn (o.m. die groot windstorms as bopersoonlike mag) as die Hobsons se beste werk beskou word. In die Afrikaanse prosa kan Sangiro en die Hobsons in baie opsigte as polêre figure gesien en - soos J.J. le Roux en, ná hom, D.J. Opperman aangetoon het - met sekere voorbehoude as verteenwoordigers van die Dionusiese en Apolliniese kunstenaars onderskeidelik beskou word. In Sangiro se werk oorheers - volgens Opperman - die Dionusiese gevoel, wat tot uiting kom in ‘lang welluidende sinne’, die ‘bekoorlike (heimwee-) toon’ en die erupsie wat tot ‘didaktiek en allerlei stilistiese ontsierings’ lei, terwyl die ‘geheimsinnige oerwoude en sy grootwild ... draers van sy gevoelslewe’ word. Daarteenoor val die aksent by die Hobsons op die verstand deur die ‘rustige waarneming van die kleindier in die woestynstreek’, die ‘sistematisering van feite tot wiskundige opbou van die verhaal, afwerking van alle besonderhede’ en die ‘kalme sin’ - alles tipies van die Apolliniese kuns. Terwyl Sangiro dus dikwels romanties-gekleurde waarnemings van die grootwild gee, skep die Hobsons ‘'n sintetiese beeld van die dier in sy omgewing’ (Verspreide opstelle, p. 45). As gevolg van die eenselwigheid van hulle wêreld, die eendersheid in die ervarings van hulle dierekarakters, die bewustelike manipulasie van die avoriture tot 'n reeks dramatiese gebeurtenisse en die stilistiese gebreke van hul werk moet die kuns van die Hobsons laer aangeslaan word as dié van Sangiro. As noukeurige waarnemers van die kleinwild en van die woestynwêreld lewer hulle egter 'n waardevolle bydrae tot die dierverhaal in Afrikaans. |
|