Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 92]
| |
Hoofstuk 3
| |
[pagina 93]
| |
die geskiedenis en die taak van die Afrikaner in hierdie land. In die besonder was die Anglo-Boereoorlog en die reaksie wat daarop gevolg het, 'n belangrike stimulus en 'n tematiese bron vir die literatuur onmiddellik ná 1900, veral wat die poësie betref. Die poësie was inderdaad tot en met 1911 hoofsaaklik ‘die storie van ons sterfte’, al was die verse nie in so 'n mate stryd- en tydgebonde as dié van die Eerste Beweging nie en al het die beste voorbeelde, soos dié van Leipoldt, reeds 'n universele geldigheid besit. Tog is daar reeds in die jare 1900-1915 gedigte wat nie meer so direk met die Beweging in verband staan nie en wat tematies weg beweeg van die Suid-Afrikaanse nasionaal-politieke werklikheid en die problematiek van die Afrikaner en waarin die natuur op 'n sorgvrye wyse besing (Leipoldt) of waarin die leed oor die afsterwe van familielede betreur word (Totius). Ná 1915 word hierdie verhouding tot die Beweging en die verbondenheid met die volk nog losser, al bly 'n digter soos Celliers in 'n hoë mate die registreerder van wat met die Afrikaner op nasionale terrein gebeur. Die poësie word indiwidueler en meer kosmopolities, nie alleen in die werk van die nuwe geslag wat omstreeks 1919 aan die woord kom nie, maar ook in die latere bundels van die ouer digters. In die drama verskuif die aksent van die klugtige en die romanties-geskiedkundige, wat die eerste twee dekades van die twintigste eeu in die werk van Melt Brink oorheers, na die mens en sy probleme, al is dit dan nog dikwels - soos by Grosskopf - die mens in sy maatskaplike verband. In die prosa word die lyn van die historiese avontuurverhaal, wat deur J.H.H. de Waal voortgesit word, by heelparty skrywers - onder andere Jochem van Bruggen - opgevolg deur 'n prosa wat groter realistiese trekke vertoon en wat saamhang met die verandering in die landelike leefwyse van die Afrikaner, selfs al is dit dan ook 'n realisme met 'n sterk humoristiese inslag. Met dit alles is daar, naas die werk wat verband hou of gestimuleer word deur die Tweede Beweging, 'n proses van selfstandigwording aan die gang, reeds lank voordat Afrikaans in 1925 offisieel as landstaal erken word. As 'n mens die literatuur van die eerste dertig jaar ná 1900 bekyk, is dit opvallend dat die poësie aanvanklik 'n hoë vlug toon met die publikasie van enkele verspreide
| |
[pagina 94]
| |
gedigte van Marais, bundels soos By die monument (Totius) en Die vlakte en ander gedigte (Celliers) - albei 1908 -, Martjie (Celliers) en Oom Gert vertel en ander gedigte (Leipoldt) - albei 1911 - en Wilgerboombogies (1912), Ragel (1913) en Trekkerswee (1915) - al drie van Totius. Ná 1915 verskyn daar minder bundels wat as geheel onthou word en is slegs die Gedigte (1919) van Toon van den Heever, Uit drie wêrelddele (1923) van Leipoldt, die Gedigte van Marais (waarvan die meeste in die twintigerjare ontstaan en in 1925 gebundel word), en die versamelings van Visser belangrike nuwe bydraes tot die Afrikaanse poësie. Die digters van die tweede geslag, wat omstreeks 1919 aan die woord kom, bereik oor die algemeen nie die peil van die ouer generasie nie, swyg meestal ná 'n bundel of twee of slaan op die gebied van die prosa of drama 'n heeltemal ander koers in. Die poësie tot 1930 toon reeds 'n groot verskeidenheid wat temas en vorme betref. Naas verse oor die oorlog in sy uiteenlopende fasette (elegies by Totius, sterk patrioties by Celliers en soms verbitterd of wrang-ironies by Leipoldt) is daar gedigte oor die natuur (jubelend-sintuiglik by Leipoldt, allegories-beskouend by Totius en gedetailleerd by Celliers), terwyl die religieuse ervaring (tradisioneel by Totius en twyfelend-sinies by Leipoldt) ook reeds gestalte kry. Wat egter besonder opval, is die feit dat daar betreklik vroeg, naas die gedigte oor die leed van die oorlog en die Suid-Afrikaanse landskap, ook gedigte oor die sielelewe en die eensaamheid van die indiwidu voorkom, veral by Leipoldt. Ook wat die vorm betref, toon hierdie poësie 'n betreklike verskeidenheid. Naas die streng metriese vers is daar 'n eksperiment met die vryer vers by Leipoldt en Celliers, naas die strofiese gedigte die beoefening van die sonnet en die dramatiese alleenspraak by Leipoldt en naas die enigsins lukrake ‘vrye’ versameling verse soos by Celliers en Leipoldt 'n neiging tot samehang, sikliese groepering en 'n groter bewustheid van die bundel as eenheid by Totius. Alhoewel die taal aanvanklik nog 'n sterk Nederlandse inslag het, veral in die werk van Celliers en Totius, is die beste verse van hierdie geslag reeds in 'n behoorlike Afrikaans geskryf en gebruik Leipoldt met sy neiging in die rigting van die praatpoësie op voortreflike wyse die spesifiek-Afrikaanse woord en idioom in sy verse. Die poësie van die eerste generasie is wel beïnvloed deur Nederlandse, Duitse, Engelse en Franse digters, maar hierdie invloede is nie groot of beslissend nie, uiters selde tydgenootlik en in heelparty gevalle slegs die aanleiding tot 'n sporadiese vertaling of 'n vormelike navolging. Die Nederlandse digters wat invloed uitgeoefen het op veral Celliers en Totius, is Bilderdijk, Da Costa en De Genestet met hulle geykte, verouderde verse, terwyl die Tagtigers grotendeels aan hierdie geslag verbygaan. Gezelle beïnvloed wel Celliers en Totius, al gee hy uiters selde aanleiding tot hul beste werk. In die twintigerjare is dit juis die Tagtigers wat 'n groot invloed uitoefen op die nuwe digters - o.m. deur die beoefening van die sonnet - maar hierdie invloed is nie. altyd heilsaam nie en die belangrikste nuwe digter, nl. Toon van den Heever, gee buitendien voorkeur aan Heine en Browning. By die jonger geslag is daar 'n groter indiwidualisme aanwesig wat soms tot 'n sterk wysgerige tipe vers, in enkele gevalle selfs tot 'n geding-met-God, lei, terwyl die liefde en die erotiese in hulle werk veel meer prominent is, die vaderland en die oorlog as temas minder voorkom en die maatskaplike problematiek plek-plek aangeraak word. In 'n groot mate is die digters van die twintigerjare egter 'n kenteringsgeslag wat in 'n sekere sin as die voorlopers en wegbereiders van | |
[pagina 95]
| |
'n nuwe tipe kuns beskou kan word, maar wat eers finaal in die dertigerjare sal deurbreek. Alhoewel die prosa, en by name J.H.H. de Waal se Johannes van Wyk en G.S. Preller se Piet Retief, wat albei in 1906 in boekvorm gepubliseer word, literêrhistories die letterkunde van die Tweede Beweging inlei, vertoon dit aanvanklik yl naas die poësie. Die rede hiervoor is waarskynlik die historiese feit dat die prosa (en die drama) met sy eise van vertelling en karakterisering by die meeste volkere 'n later ontwikkeling as die onmiddelliker en meer belydende liriese poësie is. Die prosa staan dan ook aanvanklik direkter in diens van die Beweging by wyse van betogende stukke (Preller, De Waal, O'Kulis) en om die mense in Afrikaans geïnteresseerd te kry (De Waal), terwyl die geskiedskrywing (Preller) en later ook die essay (Langenhoven) druk beoefen word. Aan die begin is dit egter die avontuurverhaal teen 'n historiese agtergrond met die romantiese driehoeksverhouding tussen held, heldin en skurk, soos dit by De Waal en in enkele werke van Malherbe en Van Bruggen voorkom, wat die populêrste is. Daarnaas beoefen Langenhoven, Marais, Leipoldt en Van Reenen die spook- en spanningsverhaal en kry ons - o.m. deur die groei van die tydskrifwese (Die Brandwag, Die Huisgenoot en Die Boerevrou) - die eerste opbloei van die kortverhaal tussen die jare 1915 en 1925, terwyl die didaktiek met 'n sterk satiriese inslag 'n belangrike deel van die werk van Langenhoven uitmaak. Malherbe word in die twintigerjare die belangrikste eksponent van
| |
[pagina 96]
| |
breedopgesette romans wat vir die liriese taalgebruik en simboliese voorstelling deur die leidende kritici hoog gewaardeer en as navolgenswaardige voorbeelde voorgehou word, terwyl die wêreld van die dier as boustof dien vir die romans van Sangiro en die Hobsons. Die belangrikste werk word egter gedoen op die gebied van die realistiese prosa van veral Jochem van Bruggen wat met sy eerste twee Ampie-romans (1924 en 1928) 'n definitiewe bydrae lewer en deur die stofkeuse - die ekonomiese moeilikhede van die Afrikaner en sy probleme in die stad - die Afrikaanse prosa tematies verruim. Hiernaas word die blywendste prosa - afgesien van die verdienstelike ‘wellewenskuns’ van Langenhoven (Sonde met die bure, 1921, Doppers en Filistyne, 1922, Herrie op die ou tremspoor, 1925) en die dierverhale van veral Sangiro (Op safari, 1924) - geskryf in die korter genres, soos die briefvorm, wat Langenhoven in Skaduwees van Nasaret (1927) en M.E.R. in Goedgeluk (opgeneem in Onweershoogte en ander verhale, 1927) gebruik, maar veral die kortverhaal, wat met Marais se Dwaalstories (1927) 'n hoogtepunt bereik wat ook later uiters selde geëwenaar sal word. Hoewel vertalings van Engelse, Duitse en Franse prosawerke reeds vroeg voorkom, is daar weinig sprake van direkte en bepalende invloede uit ander tale. Die noemenswaardigste stimuli is dié van die Tagtigers - in die besonder Kloos, Van Deyssel en Querido - op die kritiese prosa en literêre opvattinge van Preller. Tog is die prosa, selfs in die nugter verhaalkuns van Van Bruggen en in die groots opgesette arbeidsromans van Malherbe, nie op dieselfde peil as die poësie van die eerste dertig jaar van die twintigste eeu nie. Een rede hiervoor is dat verskeie leidende outeurs, soos bv. Malherbe, 'n te versierde, liriese prosa met baie onnodige vergelykings beoefen en op dié wyse die vertelling ter wille van die uitbeelding opoffer. 'n Tweede rede is die feit dat die prosa, selfs waar hy met probleme van die mens en sy maatskappy te make het, nie - soos N.P. van Wyk Louw dit in sy Vernuwing in die prosa geformuleer het - bo 'n ‘gemoedelike lokale realisme’ uitstyg nie. Die klein smart en droefheid oorheers, die lewe in sy ontsettende aspekte is volkome afwesig en die hoë vlug van die verbeelding of fantasie ontbreek. Daardeur is hierdie prosa 'n onvolledige beeld van die Afrikaanse maatskappy en mis dit 'n universele dimensie, selfs al word daar binne hierdie beperkinge enkele verdienstelike en selfs voortreflike werke geskep. In 'n nog groter mate mis die drama in hierdie tydvak enige vermoë om bo die kleinmenslike uit te styg. Tot omstreeks 1920 word die Afrikaanse drama oorheers deur die klugte en melodramas van Melt Brink, J.H.H. de Waal en D.P. du Toit, terwyl enkele allegoriese stukke (Langenhoven) en historiese dramas (M.M.
| |
[pagina 97]
| |
Jansen) op 'n enigsins hoër vlak is. In die twintigerjare word nog 'n paar behoorlike blyspele (Die laaste van die takhare van Langenhoven, 1926), 'n paar swak Bybeldramas (Jac. J. Müller en W.J. Pienaar) en heelparty historiese stukke gepubliseer. Die belangrikste bydraes op die gebied van die drama word egter gelewer deur C. Louis Leipoldt, wat met Die heks (1923) en Die laaste aand (1930) iets van die klassieke noodlotsgedagte aan die Afrikaanse literatuur toevoeg, en deur J.F.W. Grosskopf, wat die mens met sy maatskaplike problematiek sentraal stel, 'n hele paar verdienstelike eenbedrywe skryf (Drie een-bedrywe, 1926) en met As die tuig skawe (1926) sowel by die tradisie van die burgerlike drama as dié van die klassieke tragedie aansluit. H.A. Fagan publiseer ook reeds in hierdie jare, maar sy beste werke verskyn eers later. | |
II. Die Hollands-Afrikaanse toneel en die opkoms van die Afrikaanse beroepsteaterTot 1925 is die Hollands-Afrikaanse toneel in Suid-Afrika uitsluitlik in die hande van amateurs. In Kaapstad word hierdie aktiwiteite behartig deur die Rederykerskamer Aurora, wat reeds in 1866 gestig is en waarin Melt Brink 'n leidende aandeel het. In Pretoria lei die werksaamhede van G.S. Preller in 1906 tot die stigting van die Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging (A.H.T.V.) met die doel om ‘te ywer vir die stigting en versterking van een nasionaal Afrikaans-Hollandse Toneel en sodoende die landstaal en volksopvoeding te bevorder’. Die eerste program van die A.H.T.V. het o.m. 'n opvoering van Ou Daniel van Harm Oost ingesluit, nie alleen in Pretoria nie, maar ook op die Transvaalse platteland. In die suide word C.J. Langenhoven se werk aanvanklik voor die Christelike Jongeliede- en Debatsvereniginge gespeel en behartig die skrywer self in 1913 'n produksie van Die Hoop van Suid-Afrika op Oudtshoorn. In hierdie vroeë jare doen P.H.C. Pohl belangrike werk op Graaff-Reinet, o.m. deur die voorstelling van stukke deur Langenhoven en De Waal. In die twintigerjare neem die toneelaktiwiteite aanmerklik toe, veral op Stellenbosch, waar 'n studentevereniging bedrywig is met die opvoerings van Die Hoop en Die Vrou van Suid-Afrika van Langenhoven, terwyl daar later ook stukke in die Kaapstadse Koffiehuis op die planke gebring word. In 1926 word 'n Afrikaanse Toneelvereniging gestig, wat o.m. H.A. Fagan se Lenie opvoer. In Bloemfontein sorg die Toneelvereniging van die G.U.K. vir produksies soos Die koerantskrywers, 'n verwerking van Freytag se Journalisten deur J.F.W. Grosskopf. In Natal word M. | |
[pagina 98]
| |
M. Jansen se Afrikaner harte onder beskerming van die Saamwerk-Unie opgevoer. Veral in Transvaal, meer spesifiek in Pretoria, is daar heelwat bedrywighede deur die toneelvereniging Excelsior, wat later met die hulp van die Helpmekaarvereniging stukke soos Lenie (Fagan), Afrikaner harte (Jansen) en Die wêreld draai (Langenhoven) speel. 'n Belangrike stimulus vir die Afrikaanse toneel in die twintigerjare is die besoek van 'n aantal Nederlandse en Vlaamse toneelspelers en voordragkunstenaars, soos Modest Lauwerijs, Louis de Vriendt, Jan Stultjes en Anton Verheyen. Dit is egter veral die aankoms in 1924 van die Nederlandse regisseur Paul de Groot wat 'n belangrike vernuwing in die Afrikaanse toneel bring. In 1926 stel De Groot in Potchefstroom die eerste beroepsgeselskap saam waarvan spelers soos Wena Naudé, Hendrik en Mathilde Hanekom, André Huguenet en Stephanie Faure lede is. Hierdie geselskap is nie alleen verantwoordelik vir die opvoerings van stukke soos Huistoe (Heimat van Sudermann), Oorskotjie (Scampolo van Niccodemi), Lenie, Die heks en Geleende geld (Et dukkehjem - Poppehuis - van Ibsen) nie, maar is ook tot 1929 - wanneer De Groot na Nederland terugkeer - die belangrikste leerskool vir Afrikaanse toneelspelers, selfs al het De Groot se Nederlandse uitspraak 'n nadelige invloed op sommige van sy spelers gehad en al lei sy regie tot 'n te bewustelike en teatrale vertolking van rolle. In 1929 kom die Klein Teater aan die Universiteit van Kaapstad tot stand en kry voornemende spelers die eerste keer die geleentheid om hulle deur 'n akademiese opleiding vir die toneel te bekwaam. Ná 'n kort periode met De Groot stig Hanekom in samewerking met sy vrou en Wena Naudé sy eie geselskap, wat heelwat op die platteland toer en stukke soos S.J. du Toit se Magrita Prinsloo en Oom Gawerjal se dogters en die stemregkoors (deur Hanekom self saamgestel) opvoer. Die oorgrote meerderheid Afrikaanse toneelstukke in dié jare is egter vertalings waaraan A.E. Carinus-Holzhausen 'n groot aandeel het. Die werk wat hierdie eerste geselskappe in heel dikwels ontoereikende teaters met gebrekkige toneelgeriewe en oor groot afstande in die yl bewoonde platteland gedoen het, was belangrike pioniersarbeid waarop latere geslagte kon voortbou. | |
III. Kritiek en polemiekeTerwyl die kritiek tydens die periode van die Eerste Beweging om begryplike redes grotendeels afwesig was en in hoofsaak beperk bly tot die aanmoediging van tydskrifredakteurs, is dit nie meer in dieselfde mate die geval ná 1900 nie, hoewel heelparty van die boekaankondigings en -beoordelings nog in diens van die Tweede Beweging staan. Die eerste tydskrif wat ná die oorlog in Kaapstad verskyn, is De Goede Hoop (1903-1925), waarvan jan hendrik hofmeyr de waal (1871-1937) van 1903 tot 1914 die redakteur was. In hierdie tydskrif moedig De Waal - ten spyte van die duidelike pro-Hollandse gevoel van sy direksie - Afrikaans as skryftaal aan deur die publikasie van heelwat oorspronklike werk en verwelkom hy die nuwe literatuur by wyse van kritieklose besprekings van o.m. Totius, Celliers, Malherbe en Leipoldt se eerste bundels. De Waal se verdienste lê daarin dat hy vir heelparty skrywers die geleentheid tot publikasie gebied en die nuwe Afrikaanse letterkunde aan die lesers | |
[pagina 99]
| |
bekendgestel het, selfs al was daar geen werklike leiding in sy redigering nie en al gee hy in sy kritiek weinig blyke van literêre insig. In teenstelling tot hierdie eensydige ophemeling van alle Afrikaanse geskrifte is gustav schoeman preller (1875-1943) die eerste literator wat krities teenoor Afrikaanse werke staan, wat - onder invloed van Tagtigers soos Kloos, Van Deyssel en Querido - 'n suiwer estetiese maatstaf teenoor die literatuur gebruik en wat in sy werk 'n duidelike besef van die waarde van die onvervangbare woord openbaar. Teenoor die tydgenootlike mening in vel hy in 1906 'n hoofsaaklik negatiewe oordeel oor Melt Brink, terwyl hy in sy bespreking van De Waal se Johannes van Wyk in dieselfde jaar sy opvatting oor die woord in die literêre kunswerk formuleer. Hy hoop naamlik dat De Waal in sy latere werk ‘alleen gawe, ronde, hele woorde (sal) inspan, en mooi agtermekaar, so's 'n span breed-gerugde vaarlandse osse, wat gelijkweg beur om sijn mening te trek en te draag’ en dat die literêre kunstenaar sy ‘woorde (moet) navoel, en wik en weeg iedereen, sodat iedereen naderhand weer inbom, en dreun en gons so's die ko'els van 'n pompom, in plaats van so's 'n uitgewaaide ou stofstorm op ons neer te sak’. Met hierdie uitspraak word Preller, soos Opperman dit geformuleer het, ‘'n Afrikaanse Van Deyssel’ (Wiggelstok, p. 13). Preller se opstelle verskyn hoofsaaklik in die jare 1906-1910 in die Pretoriase koerant De Volkstem. Afgesien van resensies skryf hy ook inleidings tot die uitgawe van Die vlakte van Celliers en tot Marais se Gedigte, terwyl hy in 1930 'n bundel Literariese interludieë uit sy kritiese geskrifte saamstel, wat egter nooit gepubliseer is nie. Met die stigting van Die Brandwag (1910-1922), wat aanvanklik deur Preller en W.M.R. Malherbe, vanaf 1911 tot 1919 deur Malherbe alleen en vanaf 1919 tot 1922 uitsluitlik deur Preller geredigeer word, neem jan kamp (1862-1923) Preller se funksie as resensent oor. In die jare 1912 tot 1916 bespreek hy verskeie Afrikaanse geskrifte, o.m. die bundels van Celliers, Leipoldt en Totius, en antwoord hy ook op
| |
[pagina 100]
| |
Verwey se artikels in De Beweging. Onder die bekwame leiding van Malherbe kry Die Brandwag die medewerking van heelparty belangrike outeurs uit hierdie jare en handhaaf die blad 'n hoë peil. johannes françois elias celliers (1865-1940) publiseer hierin (later ook in Die Huisgenoot, De Volkstem, Die Burger en Die Volksblad) sy toesprake en artikels oor 'n geïdealiseerde nasionale werklikheid en 'n volksliteratuur, later (1933) gebundel as Kuns in lewe en kultuur. eugène nielen marais (1871-1936) se resensies verskyn in Die Brandwag van 1920 en 1921 en hy openbaar homself as 'n gevoelige leser van die poësie wat ook 'n duidelike besef van die essensiële arbeid het wat die finale produk voorafgaan. Gestimuleer deur die sukses van Die Brandwag en as reaksie teen die tweeslagtige taalbeleid en onbenullige literêre rubriek van De Goede Hoop rig die Afrikaanse Taalvereniging in 1914 Ons Moedertaal op, 'n blad wat in 1916 opgeneem word in Die Huisgenoot onder redaksie van johannes jacobus smith (1883-1949) en C.J.L. Ruysch van Dugteren. Hierdie blad kry van die begin af die samewerking van die belangrikste skrywers, en ná die beëindiging van Die Brandwag in 1922 word dit die toonaangewende Afrikaanse tydskrif waaraan verskeie jonger kritici aktief meedoen. Smith self skryf weinig kritiese artikels, maar as redakteur vestig hy sy medewerkers se aandag voortdurend op die belangrikheid van suiwer taalgebruik. As versorger van Leipoldt se tekste verander hy nie alleen die spelling en gewone grammatikale foute nie, maar skryf hy soms hele reëls ingrypend oor. In hierdie jare skryf johannes friedrich wilhelm grosskopf (1885-1948) enkele gevoelige resensies in Die Huisgenoot, Die Volksblad en De (Die) Volkstem, waarin hy detailkritiek by wyse van kommentaar op taal en versvorm lewer. Ook christiaan frederik louis leipoldt (1880-1947) resenseer in Die Huisgenoot en in De Volkstem (waarvan hy 1923-1925 assistent-redakteur was) enkele digbundels en prosawerke, dikwels in 'n persoonlike styl met die gebruik van digterlike beelde en met opmerkinge oor die tegniese aspekte van 'n kunswerk. Naas die kritici wat as tydskrifredakteurs beoordelend optree en die resensente wat ook kunstenaars is en daarom dikwels uitsprake in verband met die kunswerk self en sy genetiese stadia maak of beeldend oor die literatuur skryf, is daar in hierdie jare ook 'n aantal literatore wat 'n literêr-akademiese opleiding (in Nederland) gehad het, wat universiteitsposte in Suid-Afrika beklee, heelwat resensiewerk, veral in Die Huisgenoot, doen en aan die eerste Afrikaanse literêre polemieke deelneem. Hierdie ‘akademiese’ kritiek begin met die Gentse dissertasie van gerrit besselaar (1874-1947) oor Zuid-Afrika in de letterkunde (1914), wat nie alleen die Afrikaanse letterkunde nie, maar ook werke wat in ander tale in Suid-Afrika ontstaan het, ter sprake bring, hoofsaaklik gerig op 'n Nederlandse leserskring. Van veel groter belang vir die Afrikaanse literatuur is die Amsterdamse proefskrif van lydia van niekerk (1884-1929) oor De Eerste Afrikaanse Taalbeweging en letterkundige voortbrengselen (1916), waarin sy 'n historiese oorsig oor die Beweging gee en daarna die poësie en prosa uit Die Patriot en Ons Klyntji bespreek, dikwels met gebruik van Tagtigernorme en met korrekte taal en suiwer vorm as maatstawe. eduard christiaan pienaar (1882-1949) se Utrechtse dissertasie oor die Taal en poësie van die Twede Afrikaanse Beweging (1919) is in Afrikaans dié kritiese geskrif by uitstek waarin die letterkunde as die weerspieëling van die nasionale werklikheid gesien word. Hiermee dokumenteer hy wel vir die eerste keer die geskiedenis van die | |
[pagina 101]
| |
Tweede Beweging, maar deur sy aksent op die nasionale werklikheid laat hy aan heelparty belangrike gedigte nie reg geskied nie. Sy maatstawe is dan ook oorwegend buiteliterêr, al beklemtoon hy die belangrikheid van die spesifiek-Afrikaanse woord en wend hy dit as norm in sy beoordelings aan. Pienaar se eensydige en konserwatiewe benadering van die letterkunde bring ook mee dat hy in later jare weinig of geen begrip toon vir jonger digters wat, volgens hom, aan die Afrikaanse nasionale werklikheid ontrou geword het nie en dat die keuse in sy Digters uit Suid-Afrika (1917, daarna veertien maal herdruk tot 1947) erg ongelyk is. Die waardevolste werk doen hy met sy dokumentering van gegewens oor Die triomf van Afrikaans (1943), al is hy deur sy sterk anti-Engelse gesindheid nie altyd wetenskaplik betroubaar nie. Met die verskyning van pieter cornelis schoonees (1891-1970) se Amsterdamse proefskrif oor Die prosa van die Twede Afrikaanse Beweging (1922) kom daar, ná Preller se herwaardering van Melt Brink en sy oordeel oor Johannes van Wyk, die eerste grondige kritiek waarin suiwer estetiese maatstawe konsekwent deurgevoer word. In die eerste druk van sy dissertasie kom hy met 'n herwaardering van die Afrikaanse prosa aan die hand van Tagtigermaatstawe en spreek hy negatiewe oordele uit oor die werk van Von Wielligh, De Waal en Langenhoven. Hierdie uitsprake lei tot 'n sterk reaksie in Die Burger deur C.J. Langenhoven, wat vir die res van sy skrywersloopbaan 'n groot minagting vir die kritici het en weier dat sy boeke geresenseer word. Ook deur letterkundiges soos Kamp, Besselaar, S.P.E. Boshoff, Pienaar, J.R.L. van Bruggen en veral F.E.J. Malherbe word Schoonees daarvan beskuldig dat hy nie die kultuurhistoriese agtergronde betrek nie, die eise van die Tagtigers eensydig toepas en in sy waarde-oordele nie altyd reg laat geskied aan die beste werke, soos dié van Langenhoven en Jochem van Bruggen, nie. By herhaling was Schoonees verplig om sy standpunt duidelik te formuleer en in 1928 word die polemiek tussen hom en Malherbe in Die Huisgenoot nog heftiger voortgesit. Alhoewel Schoonees die estetiese ideaal die eerste keer uitvoerig ná Preller gestel het, later - in bundels soos Kleingoed (1929), Dink vir jouself (1940), Verskeidenhede (1948) en Tien jaar prosa (1950) - van die eerste literêr-kritiese essays in Afrikaans skryf en sy analises van die prosa voortsit en saam met J.R.L. van Bruggen die eerste Inleiding tot die studie van die letterkunde (1925) skryf - is dit jammer dat hy in die tweede en derde drukke van sy Prosa (1927 en 1939) sy kritiek ingrypend versag het en met sy verdere byvoeging verskeie minderwaardige werke, soos D.F. Malherbe se romans, goedkeurend bespreek en stilisties bevredigend gevind het. Daardeur het hy 'n rigting aangemoedig wat nie bevorderlik was vir die ontwikkeling van die Afrikaanse prosa nie. Uit sy opstelle stel D.J. Opperman 'n keur onder die titel Die tweede verdieping (1962) saam. Kort ná die begin van die polemiek oor Schoonees se proefskrif kom daar ook 'n verskil van mening oor Toon van den Heever se bundel Gedigte. Met die verskyning hiervan in 1919 is dit gunstig ontvang deur Eugène Marais, Lydia van Niekerk en J.F.W. Grosskopf, terwyl G. Dekker in Die Banier beweer het dat Van den Heever beïnvloed is deur Browning, hom aan retoriek skuldig maak en onsuiwer beelde gebruik. Ook E.C. Pienaar staan in die tweede druk van sy Taal en poësie afkeurend teenoor die bundel omdat Van den Heever die klassieke mitologie in sy werk gebruik en poësie met filosofie verwar, al het hy heelwat waardering vir sommige | |
[pagina 102]
| |
vaderlandse gedigte. Reeds in 1920 antwoord C.P. Bresler op Dekker se resensie, maar Pienaar se standpunt word eers in 1924 in Die Huisgenoot gekritiseer as Abr. H. Jonker daarop reageer en dan self 'n baie gunstige beskouing oor Van den Heever se poësie skryf. Pienaar verdedig homself, terwyl Jonker gesteun word deur Lydia van Niekerk en Theo Haarhoff. In die twintigerjare verskyn nog drie Amsterdamse dissertasies, t.w. françois ernst johannes malherbe (1894-1979) se Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse letterkunde (1924), gerrit dekker (1897-1973) se Die invloed van Keats en Shelley gedurende die negentiende eeu in Nederland (1926) en frederik christiaan ludolph bosman (1898-1981) se Drama en toneel in Suid-Afrika, 1652-1855 (1928) en 1856-1912 (1980). Van hierdie proefskrifte het dié van Bosman die minste invloed op die ontwikkeling van die Afrikaanse kritiek, al dokumenteer hy daarin obskure gegewens oor die vroeë toneel. Ook later sit hy sy studie oor die Hollandse en vroeë Afrikaanse geskrifte voort en skryf (meestal ongelyke) oorsigte oor die geskiedenis van die Afrikaanse drama. Daarteenoor is Malherbe 'n invloedryke kritikus, wat as resensent in blaaie soos Die Huisgenoot, Die Burger en Tydskrif vir Wetenskap en Kuns optree, later (1935-1955) die literêre blad Ons Eie Boek redigeer, by herhaling manuskripte vir uitgewers keur en heelparty bloemlesings uit die Nederlandse en Afrikaanse prosa saamstel. In sy kritiese geskrifte, wat, naas Humor, gepubliseer is in Die kort-verhaal as kunsvorm (1929), Aspekte van die Afrikaanse literatuur (1940), Lewensvorme (1941), Wending en inkeer (1948) en Afrikaanse lewe en letterkunde (1958), verskuif hy die aksent in die Afrikaanse kritiek - in teenstelling tot dié van E.C. Pienaar - na die siel of gees van die skepper en word die kunswerk vir hom 'n psigiese projeksie wat die geheimsinnige binnelewe van die skrywer openbaar. Dié benaderingswyse, wat onder die invloed van o.a. Dirk Coster staan, lei daartoe dat Malherbe heel dikwels in 'n liriese vervoering oor 'n roman of gedig uitwei. Alhoewel hy hiermee soms die geesdrif vir die literatuur kan opwek, beoefen Malherbe meermale 'n tipe prosa wat onhelder en onsamehangend is en wat deur die afwesigheid van logiese betoog nie 'n heilsame invloed op die Afrikaanse kritiek uitgeoefen het nie. In die outobiografiese Agter die oomblik (1977) skryf hy oor sy jeug, studentedae op Stellenbosch en in Europa, en oor sy deelname aan die literêre en kulturele lewe in Suid-Afrika. Op 'n hoër peil as dié van Malherbe is die kritiese geskrifte van Dekker. Die meeste van sy opstelle verskyn in Die Burger, Die Huisgenoot, Koers, Ons Eie Boek en later ook Standpunte, terwyl hy meewerk aan die kwartaalblad Die Nuwe Brandwag (1929-1933), waarvan hy saam met H.G. Viljoen die redakteur is. Dekker is die eerste kritikus wat oorsigtelik oor die hele Afrikaanse literatuur skryf (Afrikaanse literatuurgeskiedenis, 1935, twaalf maal herdruk tot 1972), terwyl sy kritiese opstelle in Causerie en kritiek (1934) en Oordeel en besinning (1964) gebundel word. Afgesien hiervan maak hy 'n studie van Die Afrikaanse psalmberyming (1938) en is hy die samesteller van deeglike bloemlesings, o.m. uit die werk van die Tagtigers en die Nederlandse Goue Eeu. In sy kritiek probeer hy heel dikwels die ‘kunstenaarspersoonlikheid’ rekonstrueer deur die ‘grondtoon’ of die ‘lewensgevoel’ in 'n bundel of 'n oeuvre na te gaan. Met so 'n tipe benadering betrek hy heelwat werk van 'n skrywer, terwyl die enkele gedig hoofsaaklik ter sprake gebring word om 'n bepaalde aspek van die bundel, oeuvre of ‘kunstenaarspersoonlikheid’ duidelik te illustreer. Die gevaar | |
[pagina 103]
| |
hiervan is dat hy die analise van die enkele gedig kan verwaarloos en eerder beskrywend as evaluerend te werk kan gaan, iets wat hy nie altyd kon vermy het nie. Tog was hy in staat om in Afrikaans die eerste detailkritiek (na aanleiding van Leipoldt) te lewer, om orals in sy literatuurgeskiedenis insiggewende opmerkings te maak oor 'n enkele werk of 'n hele oeuvre en deur sy wye belesenheid verbande met ander literature te trek, selfs al was sy oordeel (veral oor die werk van debutante) nie altyd suiwer nie en al moes hy van tyd tot tyd sy uitsprake wysig of nuanseer. Deur sy sintetiese benadering, waardeur hy nougeset aandag gee aan die hele oeuvre om die ‘kunstenaarspersoonlikheid’ te agterhaal, vermy hy die onbeheerste liriese vervoering van Malherbe en bly sy eie persoonlikheid gewoonlik op die agtergrond. Met dit alles is Dekker die eerste Afrikaanse kritikus wat 'n werklik wetenskaplike benadering ten opsigte van die literatuur het. |
|