Voorwoord
Met hierdie Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur beoog ek 'n sistematiese beskrywing van die hele gebied van ons letterkunde vanaf sy oorsprong tot die skeppende werk van vandag. Daarvoor het ek vyf hooffases onderskei, 'n indeling wat m.i. die meeste reg aan die ontwikkelingsgang as geheel laat geskied: 1) Die oorsprong van die Afrikaanse letterkunde (1652-1875); 2) Die periode van die Eerste Afrikaanse Beweging (1875-1900); 3) Tweede Beweging en selfstandigwording (1900-1930); 4) Dertig en verdere verbreiding (1930-1955); en 5) Sestig en die hedendaagse letterkunde (1955-hede). In die eerste band word die literatuur tot 1940 behandel, terwyl die tweede band die gebied van 1940 tot hede sal beslaan. Skrywers wat voor 1940 gedebuteer maar hulle werk na dié datum voortgesit het, se oeuvres word egter reeds in die eerste band volledig beskryf, aangesien ek 'n versnippering van figure sover as moontlik wou vermy. Slegs in een geval (deel III, hoofstuk 5) het ek dit nodig gevind om die lyn tot vandag toe deur te trek.
Naas korter oorsigte is die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur reeds deur twee outeurs uitvoerig behandel, nl. G. Dekker in sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis (1935; twaalfde uitgawe 1972) en Rob Antonissen in Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede (1955; derde uitgawe 1965). Die eer kom Dekker toe dat hy die eerste was om die hele gebied te dek, sy oorsig by herhaling aan te vul en van nuwe studies kennis te neem, maar sy indelings en periodiserings toon ernstige gebreke en sy behandeling van outeurs is nie sonder feitelike onjuisthede nie. Daarteenoor was Antonissen in staat om met sy skerper afbakenings, chronologiese verbandlegging en integrale behandeling van skrywersfigure 'n bevredigender beeld van die historiese verloop te gee, terwyl sy besprekings van bepaalde outeurs van sy juiste insig en oordeel getuig. In sy poging om sy oorsig kernagtig en beknop te hou, raak hy soms te kripties, al bly sy boek 'n ryk bron waaruit die ondersoeker van vandag baie kan put.
In my eie oorsig kon ek dankbaar gebruik maak van die waardevolle arbeid van Dekker en Antonissen, die bestaande studies oor spesifieke outeurs en tydvakke uit ons literatuur en die soms voortreflike beskouinge wat daar veral in die afgelope drie dekades en meer oor afsonderlike gedigte, romans en dramas gepubliseer is. Deur die duideliker perspektief wat die jare én die voortgesette bestudering van die literatuur bring, was ek in staat om veral vanaf die dertigerjare nuwe afbakenings te maak en ander verbande te lê, terwyl die ondersoeke van bepaalde kunswerke my interpretasies en waardebepalings in sommige gevalle aanmerklik van dié in die bestaande twee literatuurgeskiedenisse laat verskil. Wat suiwer feitelike inligting betref, kon ek, naas die bibliografiese arbeid van P.J. Nienaber, gebruik maak van die gegewens in die Letterkundige Dokumentasiesentrum (later SENSAL, Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkunde-navorsing) in Pretoria, die Nasionale Letterkundige Museum in Bloemfontein en veral die waardevolle versamelings van N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw en D.J. Opperman in die Carnegie-