| |
| |
| |
Hoofstuk 6
Rondom die verhore
I
Die verbod op Skryt
Die eerste literêre teks van Breytenbach wat in Suid-Afrika verbied word, is Skryt - 'n bundel wat in 1974 reeds 'n polemiek uitgelok het om die toekenning van die Hertzogprys (soos uiteengesit in hoofstuk 5 VII). Omdat die verbod implikasies ingehou het vir die eerste Breytenbach-verhoor, word die gebeure daaromheen hier bespreek; omdat dié verbod 'n toetsgeval vir die nuwe sensuurwetgewing was, word in breër trekke na die algemene diskoers rondom sensuur verwys.
Skryt, wat einde 1972 by die Nederlandse uitgewery Meulenhoff verskyn, kry aanvanklik nie veel aandag van ingeligte lesers en kritici nie. Die vroegste kritiese reaksie op die bundel was in der waarheid redelik gedemp. Van die kant van literatore kom daar in 1973 slegs reaksie van TT Cloete en André P Brink. Cloete (1973: 374) verwys na die ‘opspraakwekkende en onthutsende’ aard van die bundel as gevolg van die politieke inhoud en volgens hom ‘haal dit nie die peil van Breytenbach se ander bundels nie (Oorblyfsels buite rekening gelaat)’. Teen 1980 het Cloete (soos in hoofstuk 5 IV aangedui) nog nie van mening verander nie en verwys hy na Skryt as 'n ‘insinking’ in die digter se werk: die politieke verse in die bundel het ‘vir Breytenbach as digter weinig goeds opgelewer en sy eie digterskap eerder skade aangedoen’ (1980: 178 en 179). In die 1973-uitgawe van sy blokboek oordeel Brink op sy beurt versigtig en ‘met al die voorbehoude van 'n voorlopige uitspraak’ oor Skryt en meen die bundel is ‘minder afgerond’ as die digter se ander werk. In sy 1978-blokboek wysig hy egter sy aanvanklike twyfel in die bundel en prys die ‘essensiële digwaardigheid’ daarvan. In 1980 hersien hy sy vroeë waarde-oordeel radikaler: ‘Myns insiens is Skryt een van die mees déúrgekomponeerde bundels in Breyten se werk en kort en klaar poësie van die suiwerste allooi - óók, en in baie opsigte veral, wat die politieke verse betref’. Brink praat nou van die bundel as een ‘wat stellig mettertyd erken sal word as een van die indrukwekkendste in die Afrikaanse poësie’ (1980b: 1 en 27). In laasgenoemde opstel gee hy 'n oorsig van die resepsiegeskiedenis van Skryt en veral die gedig ‘Brief uit die
vreemde aan slagter’.
Dit is eerder omstandighede rondom die teks wat Skryt sporadies in die kollig plaas: die ophef wat koerantaankondigings maak van die ‘bundel politieke gedigte’ (byvoorbeeld Rap., 24.9.72 wat wyd aanhaal uit Breytenbach se
| |
| |
onderhoud met De Volkskrant waarin hy onder meer uitwei oor sy nuwe bundel ‘moralistiese poësie’ en die taak van die skrywer) wat beloof om ‘niks minder omstrede te wees as die digter nie’ (Rap., 31.12.72); die feit dat dit op die Suid-Afrikaanse winkelrakke kom in die tyd toe dit bekend word dat 'n visum aan sy vrou toegestaan is en die omstrede paartjie op besoek in die land aangekom het; die polemiek rondom die Hertzogprys in 1974 en die verbod in Junie 1975 op die toe reeds byna onverkrygbare bundel.
Op 21 Junie 1975 word met banieropskrifte in die pers aangekondig dat die nuwe sensuurbedeling van 1974 sy eerste Afrikaanse slagoffer geëis het deurdat sensors ‘'n bekroonde Afrikaanse digbundel’ verbied het. In hierdie berigte (byvoorbeeld Beeld en Bu., 21.6.75) word aangevoer dat Skryt in 1972 met die Nederlandse Van der Hoogt-prys bekroon is - wat nié die geval was nie: dit was Lotus wat só vereer is (vergelyk Galloway, 1985: 82). Volgens Die Burger (21.6.75), wat na die Staatskoerant-afkondiging verwys, is die bundel verbied ingevolge Artikels 47(2)b, c, d en e van die Wet op Publikasies van 1974. In Desember 1975 het die Minister van Binnelandse Sake, dr. CP Mulder, egter bevestig dat die bundel nie verbied is omdat dit pornografies is nie, maar omdat dit die staatsveiligheid in die gedrang bring (Bu., 4.12.75).
In sy redaksionele kommentaar sê Beeld (23.6.75) dat die naamlose sensors Breytenbach 'n groot guns bewys het deur sy dooie bundel uit die graf te laat opstaan - die onplesierige gevolge (veral die nuwe herrie tussen owerheid, skrywers en letterkundiges) was ‘onnodig, en dus verkeerd’.
Ook ander Nasionale Perskoerante lewer kommentaar op die nuwe publikasiewet wat ‘klaarblyklik mank gaan aan minstens één gebrek van die oue, naamlik dat dit nie genoeg speling vir gewone gesonde verstand laat nie’ (Bu., 23.6.75 en Vo., 23.6.75). Rapport (22.6.75) vereenselwig hom nié met die uitsprake van sommige skrywers wat die verbod as ‘doelbewuste provokasie’ en ‘'n poging om die skrywers te intimideer’ beskryf nie, maar vind dit ‘'n hoogs eienaardige en onwyse verbod’.
Die besware in hierdie koerante is nie soseer teen die gees van die wet wat bedoel is om ‘ongewenste’ leesstof aan bande te lê nie, maar eerder die feit dat die laat verbod op Skryt 'n prikkel tot herdruk in Nederland sal wees, met die reklame dat dit 'n moedige boek is wat Suid-Afrika nie kon sluk nie.
Ook Perskor se Oggendblad (23.6.75) meen dat ‘'n mens ná die absurde Jannie Kruger-era meer takt verwag het van die mense wat met sy ongelukkige erfenis opgesaal sit’, veral in die lig daarvan dat die verbod ‘geen praktiese betekenis het nie’, aangesien net mense ‘met 'n intensiewe belangstelling in die letterkunde’ die bundel besit en dit nie meer in die handel verkrygbaar is nie. Al stem dié koerant nie met die ‘oordrewe reaksie van Suid-Afrikaanse skrywers en letterkundiges’ op die verbod saam nie, meen hul die verbod op 'n boek wat uit druk is, het nou ‘alle hoop op begrip by skrywers en letterkundiges vir die sensors se moeilike taak en op vertroue in hulle oordeel’ vernietig en ‘opnuut van Breytenbach 'n heldefiguur in die buiteland gemaak’. Die Vaderland (23.6.75) stem met laasgenoemde uitspraak saam. Die Transvaler (23.6.75) waarsku egter ook teen die ongewenstheid om die hele sensuurbedeling op grond van die ongelukkige optrede teen Skryt af te skryf.
| |
| |
Ingeligte lesers is dit eens oor die onnodigheid van die verbod op 'n boek wat reeds uitverkoop is, maar verskil in hul menings oor die literêre gehalte van die bundel. Ernst Lindenberg (wat in 1974 'n minderheidsverslag ten gunste van Skryt en ander Breytenbach-bundels by die Akademieraad ingedien het as protes teen die besluit om die Hertzogprys nie aan Breytenbach toe te ken nie) vind dit ‘een van die beste bundels in Afrikaans’ (Beeld, 21.6.75). André P Brink dink wel nie dis Breytenbach se beste bundel nie, ‘maar tog van die beste in Afrikaans’ (Rap., 22.6.75). FIJ van Rensburg daarenteen beskou Skryt nie ‘'n besonder goeie bundel nie’ - daar kom 'n aantal goeie gedigte in voor, maar ook van Breytenbach se ‘swakstes’ waarin hy hom ‘openbaar as pamflettis en nie as digter nie’; van die nie-politieke gedigte en veral die tekeninge asook die nawoord deur HC ten Berge getuig van ‘swak smaak’ (Rap., 22.6.75). Beswaar teen die tekeninge kom ook van Lina Spies wat sê dat sy sommige ‘obseen’ vind; sy hou oor die algemeen ook nie veel van die bundel nie (Rap., 22.6.75). HCT Müller meen die bundel bevat ‘goeie reëls en onderdele’, maar ook ‘heelwat swakker werk van Breytenbach’ (Rap., 22.6.75). JC Steyn vind dit 'n bundel van ‘ongelyke gehalte’ (Rap., 22.6.75). Waarnemers oordeel ook uiteenlopend oor die tekeninge in Skryt, soos blyk uit die polemiese briefwisseling in Rapport tussen Elza Miles en FIJ van Rensburg (Rap., 29.6.75; 6.7.75; 13.7.75; 20.7.75).
Al verskil hierdie ingeligte lesers in hul evaluering van Skryt (uitgaande van verskillende ideologiese verankerdhede) vorm hulle 'n verenigde front teen die sensuurstelsel vir sover dit die Afrikaanse literêre bestel raak. Volgens Ernst Lindenberg was die verbod seker te verwagte ‘in die lig van die huidige sensuurtoestand in ons land en die amptelike vyandigheid teenoor die jong, ontplooiende Afrikaanse letterkunde’; hy hoop dat ‘letterkundiges met integriteit’ wat dien in die Staat se sensuurrade van hierdie geleentheid gebruik sal maak om te bedank (Bu., 21.6.75). Net soos Lindenberg sê Brink dat hy die verbode teks met sy studente sal bly behandel sonder om enige toestemming te vra. Volgens Brink het die verbod op Skryt ‘die ergste wat van die nuwe sensuurbedeling verwag is, bewaarheid’. Hy sê dat mens die indruk kry dat ‘'n georganiseerde vendetta teen die Afrikaanse letterkunde nou begin het’ wat skrywers ondergronds sal dwing (Beeld, 21.6.75). Jan Spies het dit veral teen die stelsel wat nie rekening hou met die ‘stratifikasie van lesers’ nie (Rap., 22.6.75). Selfs die skrywers en literatore wat nie juis beïndruk is met Skryt nie, keur die ‘heksejag’ wat nou op skrywers geopen is, af (Lina Spies, Rap., 22.6.75) en glo dat die nuwe stelsel met hierdie verbod sy absurditeit toon. FIJ van Rensburg het veral beswaar teen die ‘demonstratiewe element’ in die verbod (dit wil sê die feit dat die stelsel hier gerig is teen 'n teks wat in die verlede lê) asook die gebruik om lede van die gemeenskap in te span as keurders - ‘'n bevolking kan nie gemonster word vir dié soort ding nie’ (Rap., 22.6.75). HCT Müller reken die verbod sou ongelukkig wees as dit
neerkom op 'n maneuver in die ‘algemene kampanje om skrywers hok te
slaan’ (in teenstelling met 'n verbod gebaseer op ‘'n noukeurige oorweging van literêre gehalte’); die verbod beklemtoon ook weer die ontoereikendheid van 'n sensuurstelsel wat nie daarvoor voorsiening
| |
| |
maak nie dat 'n dergelike bundel slegs vir 'n ‘selektiewe leserskring toeganklik bly’.
Terwyl sensuur soms wel brûe slaan tussen literêre segsmanne van uiteenlopende ideologiese oortuiging, dryf dit wîe al dieper in. Dit polariseer tussen dié wat van binne die sensuursisteem probeer ‘versoepel’ en die Afrikaanse letterkunde se belange behartig en dié wat hulle ‘van buite’ teen die stelsel rig. Só het die 1973-verbod op Brink se Kennis van die aand uitgeloop op die afsplitsing van ‘betrokke verligtes’ uit die Afrikaanse Skrywerskring en die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde. In aansluiting by die Gilde-aktiwiteite rig Ernst Lindenberg, Ampie Coetzee en John Miles in 1975 die onafhanklike uitgewersfirma Taurus op met die doel om werke wat om sensuurredes deur gevestigde uitgewers afgekeur of moeilik aanvaar sou word, uit te gee. (Ná sy vrylating word Taurus Breytenbach se uitgewer.)
In hierdie ondersoek is deurlopend aangetoon dat sensuuroptrede teen skrywers nie losgemaak kan word van die algemene onderdrukking van (politieke) dissidensie en andersdenkendheid nie. Die Wet op Publikasies en Vermaaklikheid (1963) en die 1974-Wet op Publikasies is maar net een maatreël wat gebruik word om te sorg dat die status quo nie versteur word nie. (Ander wette wat, volgens Grobler (1986: 30-31), vir hierdie doel ingespan word, is die Wet op Binnelandse Veiligheid, die Wet op Terrorisme, die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, die Wet op Amptelike Geheime, die Verdedigingswet, die Gevangeniswet, die sabotasie-artikel van die Algemene Regswysigingswet van 1962 en ander.) Die Wet op Publikasies en Vermaaklikheid (1963) en die Wet op Publikasies (1974) lê verder ook die norme vir ‘aanvaarbaarheid’ neer en gee wetlike status aan 'n bepaalde literatuuropvatting en aan 'n bepaalde ideologie, gegrond op artikel 1 van die Wet, naamlik: ‘Die strewe van die volk van die Republiek van Suid-Afrika om 'n Christelike lewensbeskouing te handhaaf, word by die toepassing van hierdie Wet erken’. Dié literatuuropvatting lê 'n bepaalde taak aan die skrywer op, naamlik om die Christelike lewensbeskouing te verdedig - ongeag of dit sy oortuiging is of nie. Verder word 'n sosiale funksie, wat neerkom op die bevestiging van erkende en beproefde waardes, aan die kunswerk voorgeskryf. Die Wet dwing nie net 'n bepaalde literatuuropvatting af nie, maar ook 'n bepaalde ideologie. Van der Vyver (1983: 22-24) meen daar kan basies drie besware ingebring word ten opsigte van die ideologiese inslag van die Wet soos vervat in artikel 1 daarvan: Dit berus op die foutiewe, selfs vals, aanname dat dit die strewe van die hele Suid-Afrikaanse bevolking is om die Christelike lewensopvatting te onderskryf; dit bevat 'n bevel dat die kriteria van onwenslikheid geïnterpreteer moet word in die lig van die norme
van
Christelike etiek (ongeag bevolkingsgroepe se godsdienstige oortuiginge); dit word gesien as rigtinggewend vir gemeenskapstandaarde.
Soos afgelei uit die reaksie op sensuur in die algemeen in die sewentigerjare en die reaksie op die verbod teen Skryt spesifiek, kan beswaarmakers teen die sensuurstelsel in vier kategorieë ingedeel word.
‘Verkramptes’ se beswaar is dat die Publikasieraad nie hóu by sy voorskrifte nie, veral ten opsigte van die feit dat die belange van ‘konserwatiefgesinde
| |
| |
mense met sterk godsdienstige oortuigings’ nie meer voorop staan nie. Die Publikasieraad begin volgens hierdie waarnemers ‘ook ander norme toepas’ om 'n beeld van ‘engheid’ af te skud om sodoende meer ‘aanvaarbaar’ te wees vir die buitewêreld sodat 'n ‘gees van bandelose vryheid en liberalisme hier ingang kan vind’ (JA Jooste oor waarom hy nie glo dat die Publikasieraad teen Lotus sal optree nie in Afr., 5.2.71).
‘Betrokke’ skrywers wat in die sewentigerjare toenemend die teikengroep vir sensuur word, beroep hulle in hul afwysing van die sensuurstelsel (op teenstrydige wyse) op die ‘outonome’ aard van die literêre werk. Die implikasies hiervan is dat 'n literêre werk nie getoets kan word aan die norme wat geld vir die ‘werklikheid’ nie omdat dit 'n ‘woordwêreld in eie reg tot stand bring’; die ‘benadering, beoordeling en toets van so 'n werk lê uitsluitlik in die vasstel van die sinvolle verhouding tussen alle onderdele binne die werk self...’ (Brink tydens die appèl teen die verbod op Kennis van die aand, aangehaal in 1985a: 90).
‘Verantwoordelike verligtes’ se besware teen die stelsel spruit uit probleme met ‘tegniese aspekte’ soos of 'n werk as geheel beoordeel word of afgewys word op grond van aanstootlike onderdele ('n aspek wat veral deur FIJ van Rensburg beklemtoon word); die relevansie van estetiese oorwegings en literêre gehalte; die inagname al dan nie van die ‘gemiddelde man’ of ‘waarskynlike leser’; die gebruik van lede van die publiek as sensors; die afskaffing van appèl na die howe, ensovoorts.
Dan is daar waarnemers wat uitgaan van die standpunt dat sensuur in Suid-Afrika 'n politieke aangeleentheid is. Breytenbach se verwerping van sensuur val in hierdie laaste kategorie. Reeds in 1967 verwerp hy die verbod op die werk van swart skrywers as onchristelik en sien hy dit as 'n aanklag teen 'n gemeenskap wat weier om 'n sosiale gewete te ontwikkel en liewer blindweg sy eie norme wil bevestig en regverdig (brief na aanleiding van die CKA-kongres in Va., 23.6.67). In die artikel wat in die Maart 1967-uitgawe van die Unesco Courier verskyn, waarin Breytenbach kyk na die effek van apartheid op kultuur, beklemtoon hy dat die instelling van 'n sensuurraad onbetwisbaar polities gemotiveerd is. Vir hom kan daar nie so iets bestaan as 'n ‘stryd teen sensuur’, soos wat in die sestiger- en sewentigerjare deur ‘verligtes’ gevoer is, sonder onomwonde verwerping van apartheid as sodanig nie:
Complaining about (recent laws which, for example... create a board of censorship) is what I would term ‘giving battle’, a token (or real) resistance to what is considered excessive - whereas the whole ideology underlying apartheid must be abolished before we can think in terms of culture, and therefore in terms of human dignity. Advocating the liberalization of a situation is another way of condoning the status quo. It is like treating the patient for bilharzia without purifying the water. (1967b: 41)
In hierdie stadium reeds glo Breytenbach dat hy, ten spyte van sy uitgesproke verwerping van apartheid, om twee redes toegelaat word om in Suid-Afrika te publiseer: aan die een kant, om te bewys hoe ‘liberaal’ dit daar toegaan; aan die ander kant om te demonstreer hoe ver hy afgewyk het sodat hy daarvoor aangeval kan word. Daarby is hy 'n erkende Suid-Afrikaanse skrywer en moet
| |
| |
hy na buite toe meewerk aan die beeld van die land. Hy verwag egter dat sy werk wel verbied sal word. ‘Nadat die kommunistiese, die swart, die Engelse skrywers verban is, sal hulle begin om die afwykelinge in hul eie geledere weg te stoot’ (De Volkskrant, 6.11.68).
Toe Skryt in 1975 verbied word, stel hy dat hy trots is ‘om gereken te word by die talle swart en Engelstalige blanke Suid-Afrikaanse skrywers wie se werk in die Republiek verbied is’ (Beeld, 21.6.75). In daardie stadium oorweeg hy dit nie om te appelleer teen die verbod nie, want ‘dit is nie moontlik om regverdige uitspraak oor so iets in 'n Suid-Afrikaanse hof te kry nie - dit is in elk geval politieke sensuur’ (Bu., 21.6.75).
Op 11 Julie 1975 word egter berig dat appèl aangeteken gaan word teen die verbod. In Augustus raak dit bekend dat Breytenbach deur die veiligheidspolisie in hegtenis geneem is. Op 14 Oktober 1975 word in Oggendblad berig dat die appèl teen die verbod op Skryt op 6 November verhoor sal word - ‘vier dae voor Breytenbach ingevolge die landsveiligheidswette in die landdroshof sal verskyn’. Die appèl sou namens hom deur André P Brink behartig word. Op 6 November 1975 word berig dat adv. Percy Yutar daarin geslaag het om die appèl onbepaald uitgestel te kry. Hy het aangevoer dat die boek in die hangende saak teen die skrywer gebruik sal word (Vo., en Oost., 6.11.75); volgens regsbeginsels moet 'n siviele saak terugstaan vir 'n strafsaak (Ogb. en Tv., 7.11.75). Brink was baie ontsteld hieroor: ‘Dis nie Breyten wat voor die Appèlraad teregstaan nie, maar sy gedigte’ (Tv., 7.11.75).
Met Breytenbach se skulderkenning en die gewysigde klagstaat het Skryt nié as 'n bewysstuk in die saak gedien nie. Ná die verhoor, waarin Breytenbach skuldig bevind is, word dit bekend dat die appèlsaak teen die verbod op Skryt waarskynlik in Januarie 1976 sal plaasvind. Vir Brink ‘wag daar egter... 'n harde neut om te kraak’, naamlik die verwysing in een gedig na die eerste minister as ‘slagter’. Volgens die koerantberigte is daar ‘betroubaar verneem dat prof. Brink in sy oorspronklike pleidooi sou aanvoer dat die gedig nie na mnr. Vorster verwys nie; in sy bekentenis aan die einde van sy verhoor het Breytenbach egter self sy verskoning aan mnr. Vorster aangebied oor dié spesifieke gedig wat na die Eerste Minister verwys’ (Ogb. en Oost., 28.11.75). Op 21 Desember 1975 berig Rapport dat die appèl amptelik teruggetrek is op versoek van Breytenbach.
Tydens Breytenbach se eerste verhoor is daaroor bespiegel dat, indien hy skuldig bevind word ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, sy boeke verbied sal word; hy sou dan ook nie aangehaal mag word nie, tensy die minister van justisie anders beslis (Oost., 17.11.75). By sy skuldigbevinding ingevolge die Wet op Terrorisme is sy werke nie verbied nie, maar as politieke gevangene mag geen tekste wat tydens sy gevangeskap geskryf is, gepubliseer word nie (Van der Merwe, 1983: 157). (Voetskrif is geskryf terwyl hy in aanhouding was en Seisoen was 'n manuskrip wat reeds drie jaar tevore voltooi is.) Terwyl hy in die tronk was, is 'n bundel met vertalings van sy gedigte - And death white as words - in die ban gedoen. Redes vir die verbod, soos uiteengesit in 'n brief aan David Philip-Uitgewers, is vervat in 'n Gilde-Nuusbrief (1979). Die ‘verswarende omstandighede’ teen die publikasie is suiwer polities van aard:
| |
| |
‘The fact that Breytenbach has since (the prohibition of Skryt) been exposed as a revolutionary terrorist increases the seriousness of the prejudice to the safety of the State as a result of favourable publicity to him.’
In die era van ‘verligte sensuur’ (ingelui deur die aanstelling van prof. Braam Coetzee as Direkteur van Publikasies en prof. JCW van Rooyen as Voorsitter van die Appèlraad oor Publikasies in 1980) word die verbod op Skryt op 8 Junie 1985 opgehef. Die aankondiging in die pers (byvoorbeeld Bu., 8.6.85 en Beeld, 11.6.85) gaan sonder enige ophef verby. Marcus de Jong, bekende Johannesburgse boekhandelaar, sê dat twee uitgawes van die bundel indertyd in Nederland verskyn het. Die een het Nederlandse vertalings agterin, en dié uitgawe is nooit in Suid-Afrika ongewens verklaar nie en was al die tyd vrylik in sy boekhandel te koop (ibid.). (In hoofstuk 7 V kom die betekenis van ‘verligte sensuur’ in die tagtigerjare ter sprake.
| |
II
Die eerste verhoor: 1975
Soos reeds vroeër op gewys, het Breytenbach sedert 1972 betrokke geraak by die ondergrondse bedrywighede van die buitelandse vleuel van die ANC. In 1975 het hy met 'n vals paspoort na Suid-Afrika gekom om lede te probeer werf vir sy organisasie, Okhela. Die veiligheidspolisie was heeltyd op sy spoor en op 19 Augustus 1975 is hy op die lughawe Jan Smuts in hegtenis geneem - op dieselfde dag dat eerste minister Vorster en sy entourage van 'n détente-besoek aan Paraguay en Uruguay teruggekeer het.
Terwyl Breytenbach deur die veiligheidspolisie ondervra is (soos uiteengesit in Breytenbach, 1984a: 23-33), is vriende van hom aangehou en het hulle verklarings afgelê oor hul ontmoetings met hom: eers James Polley en sy vriendin, Megan Riley, asook Glenn Moss, Gerry Maré en Gordon Young; daarna mev. Dürten Rohm en nog later Karel Tip, Norman Lewis, Laurence Dworkin, Nicholas Martens en Horst Kleinschmidt. In Breytenbach se gesmokkelde tronkbriewe is verwysings na hierdie aanhoudings; hy probeer ook vanuit die tronk kontak maak met van hierdie mense (vergelyk onder andere Viviers, 1978: 97, 114, 118, 122-123); in Confessions word ook na hulle verwys (1984a: 25-26, 39-40, 51).
Regter PM Cillié, Regter-president van Transvaal, het besluit om self die verhoor waar te neem en op 21 November 1975 verskyn Breytenbach voor hom om te antwoord op aanklagte ingevolge die Wet op Terrorisme. Die aanklaer was dr. Percy Yutar en hy is bygestaan deur advokate Dennis Rothwell, T Verschoor en JWF van Jaarsveld. 'n Senior advokaat, dr. Piet Henning (in opdrag van mnr. Sam Norval van die prokureursfirma Couzyn, Hertzog en Horak) het namens Breytenbach opgetree. (Vergelyk 1984a: 47-49 waar
| |
| |
Breytenbach vertel hoe dié firma, wat in opdrag van sy familie opgetree het, afgedreig is; sy regsverteenwoordigers was nie bedrewe in politieke sake nie en hy het hulle ook nie gevra om sy saak as 'n politieke saak te hanteer nie om redes wat later uiteengesit word.)
Breytenbach het op die eerste dag van die verhoor skuld erken op die lywige klagstaat waaruit verwysings na wapengeweld, plofstowwe, die optrede van ander mense en die Kommunistiese Party gehaal is (Viviers verwys na die wysigings in die klagstaat en gee 'n samevatting daarvan in 1978: 27-29). Die redes waarom Breytenbach skuldig gepleit het, sou eers tydens die tweede hofsaak duidelik word. Ondanks Breytenbach se bekentenisse op die klagstaat het die staat tog getuies teen hom geroep. Dürten Rohm, Norman Lewis en Nicholas Martens (laasgenoemde twee was die eerste lede van die Atlas/Okhelagroep wat in Parys deur Breytenbach touwys gemaak is in ondergrondse bedrywighede) asook Karel Tip, Glenn Moss en Laurence Dworkin. (Vir Breytenbach se uiteensetting van die drie kategorieë getuies teen hom, kyk 1984a: 51-52.)
Op 25 November bevind regter Cillié Breytenbach skuldig aan die hoofaanklag dat hy 'n aktiewe ondersteuner is van die verbode ANC en stigterslid van die geheime organisasies Atlas (wat doelgerig gestrewe het na die rewolusionêre verandering van die Suid-Afrikaanse samelewing) en Okhela (met dieselfde mikpunte en doelstellings). Verder word hy skuldig bevind aan elf ‘terroristiese dade’ ter bevordering van bogenoemde ‘sameswering’: Hy het Dürten Rohm versoek om besonderhede van meeluistering van telefone te bekom en om metodes van oorskakeling van radiotoestelle na senders te ontwerp of te verkry. Hy het Rohm beweeg om in Augustus 1975 as tussenganger op te tree tussen hom, Barend Schuitema en ander. Hy het Rohm aandadig gemaak aan die tik van die planne vir Revolutionary Action Groups wat deur haar broer, Jobst Grapow, opgestel is. Hy het Horst Kleinschmidt beweeg om van die Christelike Instituut en Spro-cas publikasies en inligting te verkry indien dit tot nut van Atlas en Okhela sou wees. Hy het by wyse van toesprake en lesings die mikpunte en oogmerke van die ANC gepropageer en aan Norman Lewis die bou van 'n infrastruktuur gerapporteer wat die ANC en Atlas kon gebruik in hul (gewapende) stryd teen die Suid-Afrikaanse regering. Hy het aan 'n aantal persone hulp verleen en hulle aangemoedig om opgelei te word in ondermynende en ondergrondse optrede teen regerings (byvoorbeeld geheime metodes van kommunikasie, maatreëls om opsporing of arrestasie te voorkom, vervalsing van dokumente, ontsnappingsmetodes, afluistering, selfverdediging). Hy het Young, Dworkin en ander aangemoedig om inligting en publikasies wat tot nadeel van die Republiek kan wees aan Atlas of Okhela te stuur en Lewis en Martens aangemoedig om te help of te reël dat persone die Republiek onwettig binnekom en verlaat, 'n ondergrondse drukpers te verkry, ensovoorts. Hy het die land onwettig besoek gedurende
Augustus 1975. Hy
het in hierdie tyd lede vir die Okhela-organisasie probeer werf in die SACTU-kantoor, die doelstellings van Okhela gepropageer en die Okhela-manifes aan bepaalde persone oorhandig. Hy het persone gehelp of aangeraai of aangemoedig om inligting oor politieke ontwikkeling in die Republiek aan Okhela te stuur, om persone te werf
| |
| |
vir opleidingskursusse in ondergrondse bedrywighede, om bystand te verleen aan ander om die land onwettig binne te kom of te verlaat (Viviers, 1978: 44-48). Die staat voer aan dat hy deur die getuienis wat afgelê is en die bekentenisse van die beskuldigde ‘bo redelike twyfel bewys het dat die beskuldigde gedurende die tydperk 10 Desember 1972 tot Augustus 1975 in die Republiek en elders, wederregtelik, onwettig en met die opset om die handhawing van wet en orde in die Republiek in gevaar te stel, deelgeneem het aan terroristiese bedrywighede. Daarom word hy skuldig bevind aan die hoofaanklag wat hom ten laste gelê is’ (op.cit.: 48).
Die regter het in sy uitspraak verwys na planne vir ‘geweldpleging’ - 'n bewering wat, soos vroeër op gewys is, juis uit die klagstaat gehaal is voordat Breytenbach skuld beken het. Hy is egter nou daaraan skuldig bevind en dit kon implikasies inhou vir sy vonnis.
Vóór die vonnis uitgespreek sou word, het dr. Henning getuienis ter versagting aangebied. Mev. Cecile Cilliers is na die getuiebank geroep en gevra om 'n beeld te gee van Breytenbach se betekenis vir die Afrikaanse letterkunde en sy plek daarbinne. Oor die Breytenbach-gedigte wat voorgelees is, berig Die Burger (26.11.75): ‘Afrikaans op sy heel mooiste het die Hooggeregshof... vasgevang in 'n greep waaruit niemand rondom Breytenbach hom kon loswikkel nie... Dit was aangrypende oomblikke. Baie mense - en party van hulle polisiemanne - het hard teruggeveg teen die trane van weemoed.’ Net so onwerklik as poësie in 'n ‘terroriste-verhoor’ was die feit dat die ondersoekbeampte in die saak, kolonel Kalfie Broodryk, 'n lansie vir Breytenbach gebreek het toe hy aanvoer dat die beskuldigde, 'n romantikus en skrywer, bitter spyt was oor wat hy gedoen het (Oost., 26.11.75). (Breytenbach se verleentheid oor hierdie twee getuies spreek uit 1984a: 52.) Maar meer as enige ander getuienis ter versagting, was dit Breytenbach se eie verduideliking van sy lewensverloop en optrede wat sy vriende én teenstanders onkant betrap het.
Breytenbach het sy gehoor (die tweede voor wie hy in sy eie land opgetree het) teruggevoer na sy kinder- en jeugjare in die Boland en sy studietyd aan die Universiteit van Kaapstad waar hy die eerste keer mense van 'n ander velkleur op gelyke vlak ontmoet het. Van die mense in hierdie milieu het 'n sterk invloed op hom uitgeoefen. In die loop van 1959 het hy na Parys vertrek, gelok deur die vertellinge van sy kunstenaarsvriende, en dáár vir Yolande ontmoet met wie hy in 1962 getroud is. Die skok van die implikasies van sy huwelik het in 1965 gekom met die visumweiering aan sy vrou en dít was die begin van sy tweeslagtige verhouding met sy land - sy verknogtheid aan sy land en mense het hom bewus gemaak van sy groeiende vervreemding, sy bestaan in 'n lugleegte, en dit het langsamerhand ontaard in 'n haat-liefde-verhouding. Mettertyd het die bohaai oor sy huwelik, sy uitlatings en sy situasie as banneling ander uitgewekenes na hom getrek en geleidelik het hy betrokke geraak by hulle saak en aktiwiteite. Hy het egter deurentyd geglo dat sy optrede nie teen Suid-Afrika gerig was nie, maar teen wat hy as onregverdighede beskou het. Nou ‘beken’ hy egter dat die manier en die metodes waarop hy wou werk vir die groei van die land se beskawing en toekoms verkeerd was, en dat dit waarmee hy met
| |
| |
goeie bedoelings gemoeid geraak het, aan ander mense leed sou aandoen. Hy verklaar dus nou dat hy berou het oor sy optrede en van sy uitlatings omdat hy tot die besef gekom het dat sy bydrae nie op die gebied van die politiek kan wees nie. Hy sou ook graag wou vergoed vir die onreg en die verdriet wat hy sy mense oor die verkwiste jare aangedoen het en hy vra dié om verskoning wat hy beledig het (by name die eerste minister vir 'n kras en beledigende gedig aan hom gerig). Hy bedank verder kolonel Broodryk en die offisiere wat onder hom werk vir die korrekte en menslike wyse waarop hy behandel is (Viviers, 1978: 54-60).
Ná hierdie verduideliking deur Breytenbach was daar min twyfel in die hof dat die straf nie swaar sal wees nie. Selfs die Prokureur-Generaal, Percy Yutar, het dit sy plig geag om die versagtende omstandighede in die saak te noem (op.cit.: 67-68) en het die pleidooi vir 'n minimum vonnis gesteun.
Regter Cillié se bevinding en vonnis op 25 November 1975 het egter teen alle verwagtinge in klem gelê op ‘die erns van die misdaad’. Die persoonlike omstandighede, die betuiging van berou noop hom om 'n ligter vonnis op te lê, maar hy vind dit nie moontlik om die minimum vonnis op te lê nie: ‘In die omstandighede wat vandag bestaan, die klimaat wat nou heers, is wat u gedoen het 'n ernstige bedreiging vir die veiligheid van die staat en die vreedsame naasbestaan van die inwoners van hierdie land. In al die omstandighede het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die vonnis wat ek moet oplê, een is van nege jaar gevangenisstraf en dit word u dan ook opgelê’ (op.cit.: 73-74). (Vir Breytenbach se reaksie op die vonnis, vergelyk Viviers, 1978: 75-76.)
Op 29 Januarie 1976 word Breytenbach se aansoek om appèl afgewys deur regter Cillié. Dr. Henning het daarna 'n petisie opgestel vir die Hoofregter wat ook dít verwerp het. Breytenbach sou geen appèl teen die vonnis van nege jaar kon aanteken nie.
| |
III
Reaksie van die pers en publiek op die eerste verhoor
Daar is dikwels aangevoer dat Breytenbach se verhoor uniek was. Só vreemd dat die spesiale afgevaardigde van die Vereniging van Juriste in Switserland wat die verhoor as waarnemer bygewoon het, sy kop geskud het. Dat daar poësie gelees word in 'n hof, dat die polisie-offisier wat 'n saak teen 'n beskuldigde ondersoek, in die hof vir versagting van sy vonnis getuig, dat die staatsaanklaer redes aanvoer waarom die minimum vonnis opgelê behoort te word - dit gebeur selde in 'n Paleis van Justisie (vergelyk berigte in Oost., 26.11.75 en Rap., 30.11.75). Vir hierdie ondersoek is die verhore egter nie die fokuspunt nie, maar
| |
| |
die reaksie wat dit uitlok (en die implikasies wat dit inhou vir literatuuropvattings en die ideologiese ingebedheid daarvan) en die plasing van die verhore binne die wyer politieke konteks.
Breytenbach se 1975-verhoor vind plaas tydens die hoogtepunt van détente en ‘verligtheid’. Teen hierdie tyd inisieer en ondersteun al die belangrike Afrikaanse koerante 'n ‘verligte’ denkrigting en die behoudende of regse groepe beskik nie oor 'n kommersiële dagblad wat hulle as spreekbuis kon gebruik nie. In hierdie stadium het die vroeëre onderskeid, naamlik verlig/verkramp, wat betref die koerante van Nasionale Pers en Perskor onderskeidelik, dus verval.
Die gebeure om Breytenbach se aanhouding en verhoor was ietwat van 'n verleentheid vir die verligte pers wat hom in 1973 met ope arms terugverwelkom het in die land en wat selfs na sy Somerskooltoespraak 'n saak kon uitmaak vir die opkoms van die ‘nuwe’ Afrikaner (soos uiteengesit in hoofstuk 5 II). Dit het inderdaad tóé gehandel oor die verbreding van die Afrikanerlaer wat ook plek gemaak het vir ‘afwykelinge’ soos die Sestigers. Brink self erken dit as hy sê: ‘Ostracism is less effective since the laager itself has expanded, the concept of “the Afrikaner” has broadened to include a much wider spectrum than before. And so, even when a person is cast out by hardcore conservatives he may still feel himself acceptable to a large variety of Afrikaners within the laager’ (1976: 5). Maar hierdie nuwe Afrikanerlaer het natuurlik ook sy grense en Breytenbach se aandadigheid aan ‘terrorisme’ het hom daarbuite gestel. Dit was dus in 1975 vir die koerante moeilik om dieselfde entoesiasme teenoor hom te handhaaf as wat die geval tydens sy koms na Suid-Afrika in 1973 was. Die probleem word ontduik deur heelhartig saam te stem met die vonnis, maar terselfdertyd Breytenbach se ‘verskoning’ aan te gryp as 'n geleentheid om hom weer binne die laer te kry, sy ‘Afrikanerskap’ so te sê aan hom ‘terug te gee’, ter wille van die Afrikaanse Letterkunde/Kultuur. Die Rand Daily Mail (28.11.75) stel dit wyer: ‘In the circumstances (of his context and confession) many South Africans will probably view him not in anger, as a revolutionary loose in our midst, but more in sorrow, as a talented son of South Africa who chose a misguided and ill-conceived road’. Die begrip ‘jammer’ duik dan ook op in die bepaalde redaksionele kommentare wat hierna bespreek word.
Die Afrikaanse koerante erken almal in 1975 dat Breytenbach sy vonnis verdien. Oggendblad (27.11.75), Hoofstad (28.11.75), Beeld (28.11.75), Rapport (30.11.75) en ander meen die vonnis is in ooreenstemming met die erns van die misdaad waaraan hy volgens eie erkenning skuldig is. Die Vaderland (28.11.75) meen die krasheid daarvan is geregverdig gesien teen die agtergrond van die erns waarmee oortreding van die Wet op Terrorisme bejeën behoort te word. Die Transvaler (26.11.75) voel die ‘oortreder van wet en orde’ verdien sy slae. Al die koerante omseil egter die werklike politieke vraagstukke wat rondom Breytenbach se verhoor opduik deur sy ‘inkeer’ of ‘bekering’ te loof en/of daarvoor te pleit dat mens en kunstenaar geskei word. ‘Verkramptes’ beskuldig die pers op grond van bogenoemde strategieë daarvan dat hulle joernalistieke vernuf gebruik om van Breytenbach 'n martelaar te maak en dat hulle hul nie werklik uitspreek oor Breytenbach se motiewe nie (Afr., 5.12.75).
Sommige reaksies lê klem op Breytenbach se skuldbelydenis. Dirk Richard
| |
| |
van Die Vaderland (28.11.75) ondersteun die bestaan van 'n wet soos dié teen Terrorisme heelhartig en twyfel, soos enige ‘regskape mens’, nie daaraan dat Breytenbach ingevolge dié Wet skuldig is nie; hy gee egter wel toe dat die vonnis vir sommige mense te straf mag lyk in die lig van ‘Breyten se berou, sy samewerking met die polisie, die amateuragtigheid van sy optrede en die Staat se versoek dat die minimum van vyf jaar tronkstraf hom opgelê moet word’.
Die eertydse Treurnicht-blad, Hoofstad (in hierdie stadium onder redaksie van Arthur Blake), gaan verder as Richard se versigtige formulering en druk Breytenbach (noudat hy veilig agter tralies sit, volgens NRC Handelsblad, 7.12.82) aan die volksboesem as ‘die verlore seun wat huis toe gekom het’ vanuit die ‘vreemde’ waar hy die ‘klatergoud van die Paryse kunstenaarslewe’ ten prooi geval het. Hierdie grootmoedige ommeswaai in die koerant se houding is teweeggebring deur die feit dat Breytenbach ‘tot besinning gekom het en besef het dat sy dromer-ideale, gevoed deur die permissiewe, anarchistiese atmosfeer in Parys, nie in die praktiese politiek ten uitvoer gebring kon word sonder dat sy vaderland vernietig word nie’. Dit was die digter se ‘berou oor die dwase, onbesonne dinge wat hy gedoen het’ en sy ‘mannemoed’ om te erken dat hy op 'n dwaalspoor was wat Hoofstad bereid maak om Breytenbach te vergewe: ‘Breyten Breytenbach - sulke seuns het Suid-Afrika nodig. Jy het teruggekom, en as jy jou nuwe drome eendag in ons midde kan verwesenlik sal ons jou verwelkom soos 'n vader sy kind, in 'n ware seisoen in die paradys’ (Hoofst., 28.11.75).
In teenstelling met Hoofstad wat Breytenbach se belydenis in terme van ‘mannemoed’ sien, voel Die Burger dat sy openbare ontkleding en bekering 'n ‘wéinig heroïese vertoning’ was wat sy ‘gewese rewolusionêre vriende (sal noop om) met nog sterker oortuiging as sy eertydse politieke kritici 'n aanklag van verraad teen hom in te bring’. Volgens die redaksionele kommentaar in dié koerant ‘is dit nie aangenaam om 'n mens so te sien breek nie. Hy gaan nou die prys betaal vir 'n gevaarlike onbesonnenheid wat hy te laat as sodanig herken het. Dit is bitter duur en hard, en ons kan jammerte nie uitsluit uit die gevoelens wat dit by ons wek nie’ (Bu., 27.11.75).
Willem de Klerk, die verligte redakteur van Die Transvaler, skryf in 'n rubriek in Rapport (30.11.75) die ‘oorweldigende reaksie van meegevoel en aandoening’ tydens die vonnis toe aan die belydenis van Breytenbach wat geskryf en gelewer was ‘in die taal van die hart met al sy gevoelige ondertone: die hartseer van berou, die brand van selfverwyt, die nederigheid van loutering. Dit was iets van 'n terugkeer na sy plek en sy bloed. 'n Katarsis wat soos loog gesuiwer het.’ En op grond hiervan was die Afrikaner bereid om Breytenbach weer te aanvaar, te herstel en op te neem in die volkskring. De Klerk onderskei dan ook twee sentrale ‘boodskappe’ in Breytenbach se belydenis: die gevolge van vervreemding van jou volk aan die een kant en die gevaar van indoktrinasie aan die ander kant. Alhoewel De Klerk waarsku teen ekstreme aandrang om konformisme aan die volkswil, klee hy sy eie siening van volksgebondenheid in terme soos ‘die mistieke naelstring’, ‘die voedingsbron vir die individu’, ‘'n soort kontrole wat geborgenheid gee’, ‘'n sensitiewe roering van verbondenheid’, ‘'n amper tere verhouding met jou mense’. Verset teen 'n mens se volk moet 'n ‘lojale verset’
| |
| |
wees: ‘Solank jy met jou mense swaarde kruis in liefde en respek, met deernis amper, soos Van Wyk Louw, sal jy staande bly en diens lewer’. Maar as jy ‘denasionaliseer’, as jy ‘skimpend en uit die hoogte volksemosie kleineer’, as jou ‘geregverdigde twis en worsteling met jou volk omslaan in bitterheid en afkeer’, ‘as jy wegdraai en agtertoe klap terwyl jy self uit die kraal wegstap’ dan ‘verdwaal jy in 'n wildernis’. De Klerk se eerste boodskap, afgelei uit Breytenbach se belydenis, is dan: bly binne die Afrikanerlaer, die volkskring, en sorg dat jou verset ‘lojaal’ is en van binne die kraal (dit wil sê verlig, maar nie fundamenteel anders nie), want ‘as die afstand tussen jou en jou volk letterlik en figuurlik te groot word, word hierdie byna mistieke naelstring geknip, en dan gaan iets in jou dood’. Die tweede boodskap wat De Klerk aflei, is dat indoktrinasie dinamiet is: ‘Betrokkenheid wat 'n soort dwanggedagte word, vernietig vryheid en verslaaf sy slagoffer aan sy eensydige slagspreuk.’ Ideologie vermeng met 'n oordosis van emosie en kondisionering, is 'n gif tot verderf, iets wat ‘die lewe van 'n volk kan saboteer’. Hierdie waarskuwing geld vir sowel die kweek van anti-Afrikanerskap as vir dié soort Afrikanerskap wat ‘roekeloos nasionalisme en verengde politieke en kulturele selfgenoegsaamheid stook’. De Klerk is dus roerend teen verkramptheid én ‘radikalisme’.
Van verligte Afrikaanse koerante gaan ook 'n pleidooi op vir die skeiding van mens en kunstenaar, politieke werklikheid en kuns. Oggendblad (27.11.75) meen daar moet 'n onderskeid getref word tussen ‘Breytenbach die digter en Breytenbach die aspirant-rewolusionêr’, want ‘sy beste werke bly vir Afrikaans en vir die Afrikaner 'n kosbare bate’ - selfs sy bitterste verse sal voortaan ‘vanweë sy inkeer en sy erkenning van vervreemding, verwarring en misleiding eerder medelye as gramskap wek’. Die Burger (27.11.75) se siening dat Breytenbach se ‘hoë idealisme wat die vermoë tot selfkritiek kwytgeraak het’, sy ‘talent’ verneder het, word teruggevoer na die uitgangspunt: ‘Die skone en suiwere kan nie in diens gestel word van meer of minder siniese magsbewegings sonder om besoedel te raak nie.’
Dit is die verligte Willem de Klerk wat breedvoerig uitwei oor die kwessie van skeiding. In die redaksionele kommentaar van sy eie koerant, Die Transvaler (26.11.75), waarsku hy teen die veralgemening dat Breytenbach se skrywersvriende en die Afrikaanse skrywers kop in een mus is met hom en dat hul motivering dus ook die ‘uitlewering van hul land en sy mense’ is (ook onder ingeligte lesers is daar die kommer dat die Breytenbach-saak die Afrikaanse literêre wêreld skade aangedoen het). Volgens De Klerk is dit ‘suiwer oordeel’ om te skei: die persoon van die saak (Breytenbach die kunstenaar behou sy meriete los van Breytenbach die skuldige aan terreur); vorm van inhoud (sekere van sy werke is na vorm aangrypende kuns hoewel die inhoud soms aanvegbare politieke ideologie verwoord); individu van groep (dat Breytenbach toevallig 'n skrywer is, maak nie van alle betrokke Afrikaanse skrywers mense wat sy motiewe en metodes deel nie).
As 'n mens kan oordeel volgens die aantal lesersbriewe wat in koerante verskyn het ná Breytenbach se skuldigbevinding en vonnis, het hierdie gebeure heelwat minder reaksie van die publiek uitgelok as die visumdebakel van 1965. Dit is ook duidelik dat die digter nou selfs minder ondersteuning van die publiek
| |
| |
geniet het as toé. Volgens 'n meningspeiling wat in 1975 deur Rapport gedoen is, meen slegs 21,1% van die Afrikaners wat ondervra is dat dit die Afrikaanse letterkunde tot nadeel sou strek as Breytenbach nie langer in Afrikaans skryf nie; 35,6% sê dit sal die letterkunde tot voordeel strek as hy ophou skryf; byna die helfte wou geen mening uitspreek nie. Een uit elke drie Nasionale Party-ondersteuners sê hul sou Breytenbach nie mis nie. Engelssprekendes stem nie saam nie en 30,9% glo dit sal tot Afrikaans se nadeel wees. Dié vraag oor Breytenbach is deur die oorgrote meerderheid beantwoord vóórdat dit nog bekend geword het dat hy in hegtenis geneem is (Rap., 28.9.75). Ondanks die publisiteit en aandag wat Breytenbach in hierdie tyd ontvang, het dit ook geen noemenswaardige verandering aan die verkope van sy boeke meegebring nie (Tv., 29.8.75).
Die Afrikanergehoor wat hom in 1973 toegejuig het vir sy kras Somerskooltoespraak swyg nóú:
As long as he kept on being a great poet... he could count on their uncritical admiration. But not for promoting the revolution; not for driving the whites into the sea or for the smell of spilt blood; not for being castrated and raped. If it came to action he could not count on one in ten thousand of the white population he despised. The blacks, so far as they knew of him, dissociated themselves from him because he was white and a member of the ruling nationality, or in the case of those who were politically conscious, because of his ideas which were unrealistic to say the least. (Cope, 1982: 177)
Die lesersbriewe wat wel verskyn, val uiteen in twee groepe. Aan die een kant is daar die klein groepie wat aangegryp is deur Breytenbach se berou en bereid is om hom weer op te neem in Afrikanerkringe en aan die ander kant is daar die lesers wat meen dat sy straf, in die lig van landsomstandighede, heeltemal ontoereikend is. Net soos in die geval van redaksionele kommentaar in die pers is daar in hierdie briewe nie aanduidings van besinning oor die moontlike legitimiteit van alternatiewe sienings of 'n alternatiewe politieke bedeling vir die land nie.
Lesersbriewe in die eerste kategorie beklemtoon dat Breytenbach se belydenis bepaalde omstandighede uitgewys het wat versagtend inwerk op sy misdaadhede: sy hele agtergrond is een wat hom uiters vatbaar gemaak het vir die oortredings wat hy begaan het (veral die feit dat hy as Suid-Afrikaanse burger nie toegelaat is om met sy eie vrou in sy eie land te woon nie) en verder is hy 'n dromer wat totaal misplaas was in die rol wat hy in die sameswering vervul het (‘Straf regverdig’, Ogb., 2.12.75). Hierdie lesers is verontrus oor ‘'n kunstenaarsiel wat verder versmoor sal word agter vier mure’ en gaan só ver om te sê dat daar by die owerhede gepleit moet word dat nie net Breytenbach se vonnis opgehef moet word nie, maar Yolande die vryheid moet kry om in Suid-Afrika te bly (PW Marais, Tv., 16.12.75 en ‘Gawie op K’, Beeld, 15.12.75). Misdadigers wat ‘waarlik begerig’ is om 'n nuwe bestaan te maak en ‘genoegsame bewys daarvoor gelewer het’ moet sonder voorbehoud ‘in die gemeenskap opgeneem word en soos normale mense behandel word’ (H Purchase, Tv., 11.12.75). Die uitgangspunt in hierdie briewe is (soos wat dit in
| |
| |
1965 die geval was by die lesers wat hul teen die visumweiering uitgespreek het) dat daar plek moet wees vir die uitsonderings op die reël - deur aan Breytenbach amnestie te verleen sal Suid-Afrika aansien wen in die buitewêreld: ‘Ja, selfs die persone wat elke dag besig is om Suid-Afrika te beswadder, sal moet erken dat ons in Suid-Afrika net na menslikheid strewe’ (PW Marais, Tv., 16.12.75).
Koerantlesers in die tweede kategorie (waarvan die meeste briewe in die verligte Die Burger verskyn) staan verbaas oor mense wat geïmponeer is deur Breytenbach se kastige berou en oor die onverdiende meegevoel wat hy losslaan (byvoorbeeld C Jordaan, Beeld, 3.12.75 en ‘Knypie Sout’, Bu., 3.12.75). Wat hy gedoen het, is ‘duiwelse werk’, ‘verloëning’ en ‘verraad’ op 'n skaal wat geen simpatie regverdig nie. Byna al hierdie lesers weeg Breytenbach op teen ‘ons manne op die grens’ en vra onder meer: ‘Wie doen die meeste vir ons taal? Húlle beskerm ons sodat ons taal en volk en land kan voortbestaan’ (‘Suid-Afrikaner’, Beeld, 4.12.75); ‘Waarom pleit ons nog vir (iemand soos Breytenbach)? Pleit ons vir ons eie ondergang...? Dink ons nie aan die Suid-Afrikanerbloed wat op ons grense vloei nie?’ (CF Schoeman, Beeld, 5.12.75). Daar is selfs dié lesers wat meen dat in plaas van ‘nege jaar op staatskoste en in staatsveiligheid aangehou te word’ Breytenbach liewers na ‘ons grense’ gestuur moes gewees het om ‘teen terroriste te gaan veg en te bewys dat hy sy land liefhet’ (A van der Merwe, Bu., 2.12.75). In die lig daarvan dat nege soldate in hierdie tyd aan die grens gesterf het, besluit laasgenoemde leser: ‘Hier in ons mooi land is baie eenvoudige mense met minder intelligensie, skryfvermoë, ensovoorts, wat vir hul land baie meer werd is as die een Breytenbach’. Van 'n vader wie se seun in November 1975 aan die grens doodgeskiet is, kom dié bitter woorde: ‘Ek blameer nie die terroriste aan ons grens vir my seun se dood nie, maar wel die terroriste in ons midde soos Breyten Breytenbach. Ek sou graag 'n koeël deur sy kop wil jaag’
(Va., 28.11.75). (In 1984a: 39 wys Breytenbach daarop dat
die begrip ‘die grens’ 'n mitiese konsep is in die hedendaagse blanke Suid-Afrikaanse bewussyn: ‘The history of the Afrikaner has been one of borders, of the enemy lurking just over the horizon, of buffer states used against a world wanting to take over the lands their ancestors conquered. They were proud of their periods on the border, of the hunts they participated in. But I think (the security police) conceive of their activities inside the country as just an extension of the same hunt and patrolling the same border. Later, when in Cape Town, I often had a similar impression from the prison warders: that looking after me was their way of combating and fighting communism on the frontier’.)
Twee reaksies van die kant van die wye publiek lok in hierdie tyd heelwat belangstelling uit en daarom word dit van nader bekyk - JH Coetzee se artikel, ‘Die “geval” Breyten Breytenbach’ wat in die Calvinistiese maandblad Woord en Daad verskyn (1976: 13) en Jaap Marais se ‘Linkses meet met dubbel maat oor Breytenbach’ in die konserwatiewe blad Die Afrikaner (16.1.76).
Coetzee lig twee ‘lesse’ uit die Breytenbach-aangeleentheid wat verband hou met die ‘plig’ van die skrywer en die ‘plig’ van die volk onderskeidelik: Die eerste les is naamlik dat die Afrikanerskrywer 'n ‘swaar verantwoordelikheid’ het indien hy aanspraak wil hê op Afrikanerskap en op waardering vir sy werk:
| |
| |
hy moet daarteen waak dat sy kuns ‘verkrag en misbruik’ word vir ‘ondermynende geweld’ waardeur dit net so ‘volks- en vaderlandverraderlik word as die gebruik van landmyne en submasjiengewere’. Die tweede les geld die kunstenaar se volk: ‘Moenie te ligtelik die kunstenaar verstoot en vereensaam en hom in verydeling en verlange die hand laat uitsteek na desperate wraakmiddels nie... as 'n klein volkie wat onder benarde omstandighede leef, kan ons werklik nie bekostig om 'n enkele volksgenoot in die arms van die wagtende wolwe te dryf nie.’ (Daar moet gelet word op die ooreenkomste tussen Coetzee en Willem de Klerk se sienings, veral ten opsigte van volkswil/volksplig.) Twee temas wat uit Coetzee se artikel na vore tree, en waarop Jaap Marais in sý artikel reageer, is dié van ‘volk’ en ‘verraad’.
Marais se sienings hieroor verskil van dié van Coetzee wat hy afmaak as 'n ‘Afrikaanstalige liberalis’ wat op ‘tipies liberale’ wyse fout vind met Breytenbach se metodes, maar tegelyk die Afrikanernasie berispe oor sy vergryp - die pleidooi dat Breytenbach nie verwerp moet word as ‘Afrikaner’ nie, is volgens Marais deel van die ‘liberale strategie’ om die definisie van Afrikanerskap so wyd te trek ‘dat haas elkeen wat nie 'n Afrikaner wil wees nie, of wat besig is om die Afrikanervolk te probeer vernietig, ook ingesluit kan word’ (op.cit.: 7). Soos die verligtes (byvoorbeeld Willem de Klerk en Coetzee) beroep Marais hom op die ‘volk’, maar volgens hom is die volk se kern nie die ‘uitwaarts geneigdes’ nie, maar dié wat ‘na bo en na binne gerig is (en) deur 'n diep verbondenheid aan die oerbronne van die volk intuïtief weet wat reg en wat verkeerd is, wat hoort en wat nie hoort nie...’ en wie se leuse ‘Witmanskap, Afrikanerskap en Suid- Afrika Eerste’ is (ibid.). Breytenbach het hom, deur sy linkse politiek en huwelik met 'n ‘nie-blanke vrou’ uit vrye keuse buite en teen die Afrikanervolk gestel. Hy is 'n verraaier wat hom ‘in 'n oorlog by die vyand aangesluit het’, wat ‘aktief toegetree het tot die oorlog teen sy volk’ - en daarom deur ‘die konsensus van die Afrikanervolk’ verwerp word as Afrikaner, 'n ‘feit wat deur geen argument verander kan word nie’ (ibid.). (Vergelyk hoofstukke 4 II, 6 XI en 7 III vir die historiese verloop van die diskoers rondom Afrikanerskap.)
| |
IV
Reaksie van ingeligte lesers op die eerste verhoor
Die hoofindruk waarmee 'n mens gelaat word as die reaksie van ingeligte lesers op Breytenbach se aanhouding, skuldbelydenis en skuldigbevinding asook vonnis nagegaan word, is een van verleentheid (Jaap Steyn, Rap., 31.8.75 praat selfs van ‘bitterheid’) aan die een kant en 'n leedvermakerigheid aan die ander kant (soos Rykie van Reenen, Rap., 23.11.75, waarneem). In teenstelling met 1965 toe hierdie lesers briewe aan koerante gestuur het vir publikasie en selfs in
| |
| |
polemieke betrokke geraak het, neem hulle reaksie in 1975 die vorm aan van uitlatings teenoor joernaliste wat hul nader om kommentaar. In Confessions (1984a: 55) skryf Breytenbach dat hy weinig ‘prominente literêre figure’ by sy (eerste) verhoor opgemerk het: ‘Fear was at their throat; fear and Schadenfreude. They had rejected me entirely by then; they were not going to be identified in any way with a terrorist’. Selfs nie eens die nuwe ‘rebelle’-vereniging van die Afrikaanse letterkunde, die Skrywersgilde, neem ‘amptelike’ standpunt in oor die verhoor nie (in later jare sou die Gilde hom egter uitspreek oor die omstandighede van Breytenbach se gevangenskap).
'n Gevoel van verleentheid spreek uit die reaksie van sy (eertydse) literêre vriende en lesers wat vroeër sterk vir hom opgekom het (veral gedurende die visumvoorval van 1965); 'n ek-het-jou-mos-gesê-houding spreek veral uit die reaksie van ingeligte lesers wat in die verlede bedenkinge oor Breytenbach se openbare optrede of literêre werksaamhede uitgespreek het. Die argumente vanuit albei hierdie fronte kan saamgevat word onder drie kategorieë: die pleidooi dat die mens en die kunstenaar, sy lewe en werk duidelik geskei moet word; die vooropstelling van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur (soos uitgewys in hoofstuk 5 III) en die bekommernis oor die beeld van die Afrikaanse skrywers in die algemeen. Voordat teruggekeer word na hierdie argumente, word eers gekyk na algemene houdings.
Skrywersvriende soos Jan Rabie, Adam Small en Breytenbach se uitgewer Daantjie Saayman was, volgens koerantberigte, ‘diep geskok en ontsteld’ toe dit bekend word dat Breytenbach reeds op 19 Augustus in hegtenis geneem is (Ogb., 28.8.75, TDN., 27.8.75). Die twee vriende met wie Breytenbach in Johannesburg kontak gehad het en wie se huise deur die veiligheidspolisie deursoek is, Ampie Coetzee en John Miles, lewer nie kommentaar nie (Va., 29.8.75; Hoofst., 29.8.75); volgens een koerantberig het die persoon in wie se studeerkamer boeke met versteekte paspoorte in gevind is, in trane uitgebars toe hy daarmee gekonfronteer is (Va., 29.8.75). Fanie Olivier (een van die jong digters van die sewentigerjare wat die ‘betrokke’ fase van die Afrikaanse letterkunde ingelei het) sien Breytenbach se verset as ‘sinloos’ in die lig daarvan dat hy ‘doelbewus 'n internasionale wet oortree (het) deur Suid-Afrika onwettig binne te kom’ (Rap., 31.8.75). Adam Small se ‘gemoed het vol geskiet’ oor Breytenbach (Va., 28.8.75): ‘My groot vriend, Breytie, was maar altyd 'n bietjie mallerig. Maar God weet, die man skryf wonderlik Afrikaans. Ons weet dat Breytie verlang, en ons weet ook hy moet dit nie só doen nie... As Breytie deurmekaar is met die Kommies, is dit moontlik dat ons hom ook sal wil skiet, maar anders as ander mense, sal ons dadelik huil so groot as wat ons nog nooit gehuil het nie’ (ibid. asook Hoofst., 30.8.75). As dit waar is dat Breytenbach 'n Kommunis is, dan word alles vir hom ‘en vir ons almal wat vir sy digterskap eerbied het... gekompliseer en moeilik, baie moeilik gemaak’ - aldus Small (Va., 2.9.75). Dié woorde van Small by 'n taalsimposium van die SA Akademie op Potchefstroom
eggo die sentimente van Daantjie Saayman in 'n onderhoud 'n paar dae voor Breytenbach se
inhegtenisneming: ‘As Breytenbach saam met die Kommuniste hierheen kom, sal ek hom skiet en agterna oor hom huil’ (aangehaal in Va., 29.8.75). En dit is hoe Etienne Leroux sewe jaar
| |
| |
gelede tydens die Kol-debat gevoel het: ‘Ek sal (jou) optrede miskien veroordeel: ek sal (jou) selfs skiet met my .303 as (jy) my veiligheid en my familie bedreig, maar ons het 'n bloedband as skrywers’ (1968: 4).
In teenstelling met sy skrywersvriende se verleentheid (en distansiëring van sy politieke motiewe) is daar die reaksie van 'n ingeligte leser soos HCT Müller wat ‘ontsteld’ is oor ‘die jongste sinnelose optrede van die digter’, maar wat dit sien as ‘die konkrete kulminasie van 'n lang reeks laakbare uitsprake’. Hy staan ook afwysend teenoor die ‘liggelowigheid van die letterkundiges met wie Breytenbach sosiaal-persoonlik verkeer het’; deur nie 'n ‘gedistansieerde onbevangenheid te behou’ ten opsigte van die digter se politieke loopbaan en betrokke kuns nie, het John Miles, Ampie Coetzee en Ernst Lindenberg die Afrikaanse letterkunde in 'n slegte lig gestel (Rap., 23.11.75). Al ontken TT Cloete Rykie van Reenen se verwysing na die leedvermakerige glimlag waarmee hy by die Breytenbach-verhoor opgedaag het (Rap., 23.11.75) en stel hy dit dat die digter ‘as mens die diepste simpatie by hom wek’, verwys hy tog na sy ‘voorspellings’ tydens die Hertzogprys-polemiek (hoofstuk 5 VII) - en inderdaad ook na sy uitlatings in die ‘Broederbondstuk’: ‘Toe dit agtien maande gelede vir my duidelik geword het dat die situasie gaan ontstaan wat nou bevestig is, het ek reeds gesê dat dit my ontstel’. Tog lei Cloete hieruit af dat hy ‘ook tans... allermins rede het om met genoegdoening in (sy) skik te wees, veral omdat daar vir die beskuldigde dalk 'n swaar straf wag’ (Rap., 30.11.75).
Soos hierbo aangedui, word veral drie argumente gebruik deur ingeligte lesers in hul reaksie op die eerste Breytenbach-saak. Twee van dié argumente word vervolgens uitgelig.
Sowel die lesers wat hul nog altyd vír Breytenbach uitgespreek het as dié wat tot nou toe krities gestaan het ten opsigte van aspekte van sy lewe/kuns, voer argumente aan dat die mens en kunstenaar geskei moet word. Adam Small (Va., 28.8.75) meen Breytenbach se woorde sal oor 200 jaar, ‘wanneer ons al vergeet het hoe die politiek en kultuur nou deurmekaar neuk’, nog bly leef, ‘ondanks sy malheid’. Chris Barnard (Tv., 29.8.75) vind Breytenbach se politiek onaanvaarbaar, maar sal ‘vir sy skryfwerk altyd net die hoogste agting hê’. Volgens Barnard se opvatting is die kunstenaar 'n vakman: ‘'n Man kan 'n Kommunis wees as hy wil, maar as hy 'n goeie skrynwerker is, sal die tafels en stoele wat hy maak, van vakmanskap getuig. Die letterkunde stel insgelyks en uitsluitlik belang in vakmanskap.’ Ook FIJ van Rensburg onderskei tussen die mens as burger en as skrywer: ‘Ek het al die jare gepleit dat as 'n skrywer hom skuldig maak aan ondermynende dinge, die gereg sy gang moet neem. Maar as hy die prys verdien vir sy werk, moet hy dit kry, selfs in die tronk’ (Tv., 29.8.75). DH Steenberg (Tv., 29.8.75) glo dat 'n kunswerk wat as kuns goed is, met ander woorde die toets van die literêre dissipline en algemene geldigheid deurstaan het, onafhanklik van die skrywer se lotgevalle moet voortbestaan. Selfs dié werke van Breytenbach wat nie die toets deurstaan het nie, moet steeds krities gelees word, ‘met die volle inbegrip van die leser se lewens- en wêreldbeskouing.’ (Steenberg laat dus wel ruimte daarvoor dat die teks nie ‘suiwer literêr’ beoordeel kan word nie, want die leser kom daarheen vanuit 'n bepaalde beskouing; hy verreken egter nie die rol wat die literatuuropvatting van die
| |
| |
1. Chris Barnard en Bartho Smit van APB saam met Breyten Breytenbach in Oktober 1964 op die lughawe Orly buite Parys. Dit was 'n maand voor die verskyning van Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes.
2. Breyten Breytenbach, in sy geleende pak klere en strikdas, word deur Yolande gelukgewens met die APB-prys vir sy dubbele debuut.
3. Chris en Annette Barnard, saam met Breytenbach en Yolande tydens die onthaal wat op 28 Februarie 1965 in 'n hotelletjie op die linkeroewer van die Seine gegee is om die bekroning van Ysterkoei en Katastrofes te vier.
| |
| |
4. Die Breytenbachs in hul blyplek van die vroeë sestigerjare: Kamer nommer 5 in die Rue du Sommerard, Parys se vyfde distrik. Chris Barnard beskryf die jong digter jare later as ‘die rustige man met die sagte brystem en die byna weerlose bok-oë en die skaam glimlag’ tussen die dosyne ongeraamde skilderye - ‘'n reeks onthutsende skrikbeelde in olieverf’.
5. Op Sondag, 2 Mei 1965 plaas Dagbreek en Sondagnuus dié foto van Breytenbach en sy vrou naas die berig wat 'n storm om hulle laat losbars. Die byskrif lui: ‘Breyten Breytenbach en sy Viëtnamese vrou in Parys afgeneem. Sy word nie as blanke in SA beskou nie. Mnr. Breytenbach sê hy het 'n visum gekry om sy vrou na Suid-Afrika te bring. Die Minister sê hy weet niks daarvan nie.’
| |
| |
6. Toe sy vrou in 1966 weer eens 'n visum geweier word, neem Breytenbach haar na Swaziland om haar daar aan sy ouers voor te stel. Hierdie foto is in 'n Swazilandse hotel geneem.
7. Die Breytenbach-familie voor hul hut in 'n Swazilandse wildtuin. Van links is Sebastiaan ('n broer), Breyten, Yolande en dan Breyten se ouers, Kitty en Hans Breytenbach - die ‘Ounooi’ en ‘Oubaas’ van Breytenbach se verlangeverse.
8. Ten spyte daarvan dat Breytenbach banneling is as gevolg van sy huwelik, bly sy Suid-Afrikanerskap vir hom 'n ‘innerlike manifestasie’.
| |
| |
9 en 10. Op 14 Februarie 1967 kom die Breytenbachs, ná 'n verblyf van drie maande in Mosambiek en Swaziland, in Tafelbaaihawe aan as passasiers op die Portugese skip ‘Império’. Hulle word toegelaat om die skip te verlaat, in Kaapstad rond te ry en by sy broer te oornag.
9 en 10. Op 14 Februarie 1967 kom die Breytenbachs, ná 'n verblyf van drie maande in Mosambiek en Swaziland, in Tafelbaaihawe aan as passasiers op die Portugese skip ‘Império’. Hulle word toegelaat om die skip te verlaat, in Kaapstad rond te ry en by sy broer te oornag.
11. Breytenbach en Yolande saam met sy uitgewers, Koos Human (links) en Leon Rousseau (regs), tydens die aandoen aan die Kaap. In November die volgende jaar rig die direkteure van Human & Rousseau 'n ope brief aan hom in die pers waarin hulle hul distansieer van sy politieke standpunte. Dit lei daartoe dat Breytenbach sy bande met Human & Rousseau verbreek.
| |
| |
12. Hierdie ongewone foto, wat André P Brink in Parys geneem het, vergesel in Oktober 1967 'n berig met die opskrif: Opslae kom oor Sestigers se drie nuwelinge. Dié drie boeke - wat hier bestempel word as 'n hoogtepunt in die geskiedenis van die Sestigerbeweging - verskyn gelyktydig: Etienne Leroux se 18-44, André P Brink se Miskien nooit en Breytenbach se Die huis van die dowe.
13. Etienne Leroux, André P Brink en Breytenbach by 'n straatkafee in die Rue Soufflot gedurende April 1968, tydens Brink se tweede verblyf in die Franse hoofstad en Leroux se Isistoer.
14. Breytenbach saam met Uys Krige en André P Brink in Parys, November 1968. Vir Krige skryf Breytenbach die juigende ‘Oggendlied’ wat in Kouevuur (1969) verskyn.
| |
| |
15. In die era van ‘verantwoordelike verligtheid’ word 'n visum vir drie maande aan Yolande toegestaan en in Desember 1972 kom die Breytenbachs in Suid-Afrika aan. Vir die eerste maal sedert 1959, toe hy Parys toe vertrek het, is Breyten weer saam met sy ouers op Suid-Afrikaanse bodem.
16. André P Brink het dié foto van sy vriend geneem terwyl Breytenbach ‘rus op Onrus’.
17. Breyten en sy Geel Lotus uiteindelik in die ‘fraaiste kaap in die hele omtrek’.
| |
| |
18. Parys-Onrus: Retoer. Breytenbach in gesprek met Uys Krige.
19. By die see met sy vriende en die buurt se honde. Met sy rug na die kamera staan Jan (Biltong) Rabie en regs 'n buurman van hom, Simon Rappaport. Hy en die ander leer vir Breyten hoe om perlemoen uit te duik.
20. Breytenbach in die kroeg van Matjiesfontein se Lord Milner-Hotel - met die eggo van Olive Schreiner en NP van Wyk Louw - tydens die Karoo-reis waaroor hy verslag doen in 'n Seisoen in die paradys.
| |
| |
21. Skrywers by die Sestigerkongres. Van links na regs: Chris Barnard, John Miles, PG du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Breytenbach, Hennie Aucamp, George Weideman en Wilhelm Knobel.
22. Breytenbach bring sy ‘Blik van buite’ na die Sestigerweek. Schalk Pienaar beskryf dit as 'n ‘drama wat vaudeville uitgedraai het’ en Chris Barnard as 'n ‘genadelose kastyding’ wat dawerend toegejuig is deur die stoere Afrikaners in die gehoor wat groter ‘rebelle’ geword het as die Sestigers.
23. Op 31 Maart 1973 verlaat Breytenbach en Yolande die Kaap - maar nie sonder 'n laaste skop in die rigting van die koerante nie. Hier is Breytenbach aan die hardloop vir Rapport se fotograaf kort voor hy sy nuwe Wuppertallers, sy ‘koeranttrappers’, ingewy het op die einste fotograaf se sitvlak. In 'n ope brief in die pers vra hy later die fotograaf wat hulle met goeie bedoelinge op die lughawe kom afsien het, om verskoning - dis seker nie sy skuld dat ‘die een se treurigheid die ander se nuus’ is nie.
| |
| |
24. In 1975 kom Breytenbach met 'n vals paspoort na Suid-Afrika om lede te probeer werf vir Okhela. Die veiligheidspolisie neem hom op die lughawe Jan Smuts in hegtenis. Op 21 November 1975 begin sy verhoor toe hy voor regter P M Cillié verskyn op aanklagte ingevolge die Wet op Terrorisme. Op hierdie foto drom mense voor die hof saam. Die galery in die Paleis van Justisie was reeds voor nege-uur die oggend volgepak.
25. Die twee vriende met wie Breytenbach tydens sy klandestiene reis in Johannesburg kontak gemaak het en wie se huise deur die veiligheidspolisie deurgesoek is, is hier voor die hof afgeneem: John Miles en Ampie Coetzee.
26. Rykie van Reenen het verwys na 'n leedvermakerige glimlag by TT Cloete wat hier saam met sy vrou, Anna, by die verhoor opdaag. Cloete ontken so 'n houding, maar verwys na sy vroeëre ‘voorspellings’ toe hy aangevoer het dat 'n skrywer soos Breytenbach 'n taal en 'n volk kan bedreig.
| |
| |
27. Die Breytenbach-verhoor was uniek. Poësie is in die hof gelees, die ondersoekbeampte getuig ter versagting van sy vonnis, die staatsaanklaer voer redes aan waarom die minimum vonnis opgelê behoort te word. Maar meer as enigiets anders was dit Breytenbach se eie verduideliking van sy lewensverloop en optrede wat sy vriende én teenstanders onkant betrap en vir hoofnuus in die dag se koerante gesorg het.
28. Al die getuienis ter versagting van die vonnis help niks. Regter Cillié lê in sy bevinding klem op die ‘erns van die misdaad’ en vonnis die ‘maer man met die groen pak’, wat in die vorige maande merkbaar ouer geword het, tot nege jaar gevangenisstraf.
29. Hierdie foto van 'n Breytenbach-tekening verskyn ná die verhoor in die pers met die volgende byskrif: ‘TERUGKEER - op 'n koei en met 'n vuurhoutjie in die hand: Breyten Breytenbach se eie tekening vir die voorblad van sy boek 'n Seisoen in die paradys, wat weens die huidige sensuurbestel nog geen uitgewer kon vind nie... Die religieus-georiënteerde simboliek van die stralekrans van arms en die voorhoof-oog van die wit koei daargelaat, is dit veral die vuurhoutjie in sy onderste linkerhand wat opval. Breytenbach was volgens eie erkenning aandadig aan die opstel van die opruiende Okhela-manifes, en okhela beteken: brandmaak.’
| |
| |
30. Op 20 Februarie 1967 word Voetskrif, die bundel wat Breytenbach in aanhouding geskryf het, aan sy broer Cloete (links) oorhandig deur mnr. Schalk van der Merwe (regs) van Perskor. Die ander op die foto is Chris Barnard en Bartho Smit wat in 1964 gemoeid was met die publikasie van Breytenbach se debuutbundels.
31. Gedurende 1977 wek Breytenbach weer eens opspraak toe hy die tweede maal in die hof verskyn. Hierdie keer is hy daarvan beskuldig dat hy vanuit sy sel kontakte probeer bewerkstellig en planne gesmee het waardeur hy die staatsveiligheid in gevaar sou bring. Hier is Breytenbach buite die Landdroshof op 13 Mei 1977. Die verhoor is uitgestel tot Junie, wanneer hy summier verhoor word in die Pretoriase Hooggeregshof.
| |
| |
32. Tydens die verskyning in die Landdroshof sien Breytenbach weer sy vriende - en vir die eerste keer die versamelbundel Blomskryf, wat deur Taurus uitgegee is. Hier sit Ampie Coetzee met die bundel in sy hand saam met John Miles (regs) en Ernst Lindenberg (links).
33. Breytenbach arriveer by die Hooggeregshof tydens die tweede verhoor.
34. Die verloop van die tweede verhoor bring nie net Breytenbach se lang periode van eensame aanhouding onder die openbare aandag nie, maar stel sy belydenis tydens die eerste hofsaak in 'n ander lig. Uit die feite wat nou na vore kom, blyk dit dat hy nie sy eertydse politieke ideale en literêre betrokkenheid verloën het nie.
| |
| |
35. Ná 'n verhoor van twee weke lank lewer regter WG Boshoff op 16 Julie 1977 sy uitspraak. Breytenbach word onskuldig bevind ingevolge die hoofaanklag en verbandhoudende alternatiewe klagte; hy word skuldig bevind ingevolge 'n klag weens die smokkel van briewe, maar hy word slegs gevonnis tot 'n boete van R50 of drie maande tronkstraf. Terwyl 'n verligte Breytenbach hier uitstap om die res van sy nege jaar tronkstraf uit te dien, broei 'n storm in die literêre wêreld wat uitloop op die ‘betrokkenheidsdebat’.
36. Op 2 Desember 1982 word Breytenbach onverwags uit die gevangenis vrygelaat ná hy sewe van sy nege jaar tronkstraf uitgedien het. Ná 'n besoek aan sy familie in Grahamstad, vertrek hy en Yolande na Frankryk. Hier is hy in Parys afgeneem kort ná sy vrylating, met sy baard vol wit snare - ‘'n silwermyn waaruit ek weinig munt kon slaan’.
37. Die vrygelate digter en sy vrou ‘iewers waar daar sneeu is’ in die suide van Frankryk om sewe jaar se verlange te vergoed.
| |
| |
38. Sedert die middel sestigerjare was Breytenbach herhaaldelik betrokke by polemieke rondom literêre pryse. In 1986 word die nuwe Rapportprys die eerste maal toegeken - aan (‘yk’) - en die patroon herhaal homself. Hier kan Dalene Matthee en Yolande nie hulle vreugde verberg toe aangekondig word dat Breytenbach die wenner is nie. Links agter is Kaia van Heerden.
39. Van staatsgevangenis na staatsteater... en omring deur die (literêre) establishment: regs is Karen en Ampie Coetzee, voor Marjorie Wallace en Jan Rabie en links agter Louis en Liona Eksteen.
40. Mnr Fanie Jordaan, bestuurder van Rapport, wens Breytenbach in sy goue aandbaadjie geluk met sy prys. In die middel gun naaswenner Antjie Krog hom sy oomblik van glorie; regs staan die seremoniemeester, Nic de Jager.
| |
| |
41. In Maart 1987 word Breytenbach 'n visum geweier om sy siek vader te besoek. Dít weer hom egter nie uit die (literêr-) politieke diskoers nie. Vroeg in Julie word berig dat IDASA en Breytenbach 'n ontmoeting gereël het tussen die ANC en 'n Suid-Afrikaanse groep. Breytenbach beklee 'n sentrale plek in die geskiedkundige Dakarsamesprekings.
42. Breyten plant 'n boom vir 'n nuwe toekoms in Ougadougou, Burkina Faso, tydens die Dakar-beraad.
| |
| |
43. Breytenbach kan hom maar nie losmaak van Suid-Afrika nie. Ten spyte van sy kritiek teen die ‘Nuwe Bedeling’, bly sy taak as skrywer en radikale teenstander van apartheid die soeke na ‘the rifts and cracks through which a shift in awareness can be promoted’. Hier is hy saam met nog 'n bekende Afrikaner-dissident, dr. Beyers Naudé, tydens samesprekings tussen wit Suid-Afrikaners, Russe en ANC-ampsdraers in Leverkussen, Duitsland, in Oktober 1988.
44. Breytenbach tydens die ‘Watervalberaad’ tussen Afrikaanse skrywers en die ANC - 'n gebeurtenis wat plaasvind in Julie 1989 en wat dus buite die bestek van hierdie ondersoek val, maar wat lei tot nuwe groeperinge binne die Afrikaanse literêre konteks.
| |
| |
skrýwer behoort te speel by die lees van 'n teks nie.) In 'n beskouing van die gedig ‘En toe het hy homself gekritiseer’ uit Kouevuur bekyk Ampie Coetzee (Rap., 7.12.75) die digotomie mens-digter, en die digter as profeet, in Breytenbach se poësie. Breytenbach, wat die opvatting verbreek het dat die skrywer nie in sy werk gesien mag word nie, het ín sy poësie sy misnoeë met die woord vergestalt. Deur die pyn en wonde van die daad te kies bewys hy vir homself sy mens-heid. Dit noop Coetzee om te vra: ‘Sal hy... nou... aan die woord glo? Want vir ons, Afrikaners wat ons taal liefhet, gaan net “die rofies in die spieël” oorbly. Maar is die woord, die woorde van hierdie dolosgooier, nie ál wat ons het nie; nie ook belangriker as die futiele daad nie?’ (Hiermee gee Coetzee aanduidings van sy eie literatuur- en ideologiese opvatting wat op hierdie punt ooreenstemming toon met dié van Brink soos hieronder uiteengesit.)
Van die kant van sy kritici gaan ook pleidooie op vir die skeiding mens en kunstenaar. TT Cloete (Rap., 30.11.75) beroep hom op hierdie skeiding; Jaap Steyn (Rap., 31.8.75), wat meen dat die geval Breytenbach toon dat ‘die skuld vir alles’ nie outomaties op apartheid gepak behoort te word nie, reken dis ‘goed dat die digter Breytenbach om sy literêre werk geëer word’, maar dat die ‘politieke naïeweling Breytenbach tot held en martelaar opgebou word, moet so ver moontlik voorkom word’. Ook Louis Eksteen (Hoofst., 2.12.75) wat Breytenbach se optrede kritiseer as deel van die ‘internasionale aanslag teen die bestaande orde’ en die ‘orde en wet van die staat’ bo alles stel, reken dat ‘'n mens die saak agter die persoon moet skei van die persoon self’. Vir al hierdie lesers staan die belang van die Afrikaanse taal en kultuur voorop; hulle reageer dus Afrikaans-sentries (vergelyk hoofstuk 5 III).
Die bekommernis wat ná die Breytenbach-verhoor in literêre kringe heers oor die beeld van die Afrikaanse skrywers vloei deels voort uit 'n vooropstelling van Afrikaans en die Afrikaanse kultuursaak; andersyds is dit ook 'n poging tot selfbeskerming van die kant van die skrywers wat in verleentheid gestel is deur die aangeleentheid. Volgens Die Vaderland (3.12.75) meen skrywers dat sekere Afrikaanse skrywers se teenwoordigheid by die Breytenbach-verhoor hulle almal onder verdenking geplaas het. Die saak het hul beeld as skrywers benadeel omdat 'n vooroordeel dat hulle hul kuns, soos Breytenbach, vir nie-literêre doeleindes kan gebruik, ontstaan het. Chris Barnard is van mening dat Afrikaanse skrywers nou ‘gedwonge is om selfsensuur toe te pas’ (hy sien dit as 'n ‘soort sielkundige reaksie wat 'n nadelige uitwerking op 'n skrywer se skeppende vermoë het’) terwyl uitgewers selfs banger sal wees om enigiets te publiseer wat riskant lyk. Hy verwerp ‘die neiging dat die meeste skrywers nou oor dieselfde kam geskeer word as Breytenbach’ en skryf dit toe aan persberigte wat op ‘moedswillige wyse’ alle skrywers ‘onder verdenking’ wil plaas (Va., 3 en 4.12.75).
André P Brink en PG du Plessis stem egter saam met Barnard dat daar deeglik met die vooroordeel rekening gehou moet word (Va., 3.12.75). Vir FIJ van Rensburg is dit 'n belangrike saak: ‘Die Afrikaanse letterkunde en jong skrywers moet nie nou in die gedrang kom ná die digter Breyten Breytenbach se skuldigbevinding dat hy die Wet op Terrorisme oortree het nie. Daar is reeds 'n neiging om hulle as 'n slaansak te gebruik.’ Alhoewel hy glo dat daar by
| |
| |
sekere skrywers wel die neiging bestaan om ‘hul kuns vir nie-literêre doeleindes te gebruik’, dit wil sê om maatskaplike, politieke en ekonomiese idees te verkondig, moet daarteen gewaak word om alle skrywers hiervan te verdink: ‘Ek weier om te aanvaar dat alle Afrikaanse skrywers hul kuns op hierdie manier gebruik.’ Sy bekommernis is oor 'n ‘kragtige letterkunde’ wat nie geknou behoort te word nie omdat ‘'n gesonde letterkunde een van die belangrikste gronde vir die voortbestaan van 'n volk’ is (Tv., 26.11.75; Va., 4.12.75).
Die reaksie van André P Brink, vóórste segsman van ‘betrokkenheid’ in die sewentigerjare, op die eerste Breytenbach-verhoor verdien spesifieke vermelding, veral in die lig daarvan dat hy self erken dat díe saak 'n ‘sleutelsituasie was in die ontwikkeling van sy eie politieke insigte’ (Rap., 30.5.76). Aanvanklik het dié omstrede skrywer nog op kenmerkende wyse gereageer op die aanhouding van die eerste groep mense wat by die saak betrokke was: ‘Hierdie inhegtenisneming, tesame met die aanhouding van SASO-ampsdraers, is nog 'n strooi op die kameel se rug en toon hoe onverdraaglik die afwyking van die regsoewereiniteit geword het. Dit bewys hoe skynheilig détente is’ (Bu., 27.11.75). Kort ná die verhoor het Brink gesê dat die ophef wat oor die Breytenbach-verhoor gemaak word ‘eintlik belaglik is - dit is 'n berg wat van 'n molshoop gemaak is’ (Beeld, 28.11.75). Aan Cloete Breytenbach het hy gesê dat Breyten ‘'n fout gemaak het deur die eerste minister om verskoning te vra oor sy dade teen Suid-Afrika’; dié verskoning het die ‘skrywersbeweging in Suid-Afrika geen goed gedoen nie’ (Va., 8.12.75). Later sou Brink egter hierdie uitlatings van hom kwalifiseer of terugtrek. Op 12 Desember 1975 erken hy naamlik aan Tempo dat hy ‘te vinnig gepraat het’ toe hy laasgenoemde uitlating gemaak het en dat hy dit ‘onder die emosionele spanning van die hofsaak gemaak het’; hy het ‘Breyten se verskoning nie objektief gesien nie’. Tydens die polemiek in 1977 sê hy dat sy uitspraak oor die aanhouding van mense rondom die Breytenbach-saak nie gerig was teen die feit van Breytenbach en ander se arrestasie of die feite van die saak wat later aan die lig gekom het nie, maar dat dit
bedoel was as ‘protes teen 'n stelsel
waarvolgens mense vir 'n onbepaalde tyd aangehou kan word sonder dat 'n aanklag teen hulle ingebring word’ (Bu., 18.2.77).
Brink, vir wie die tyd rondom die Breytenbach-verhoor 'n tyd van persoonlike spanning was (vergelyk briewe in Viviers, 1978: 106; Welz, 1977: 146), se ‘nuwe insigte’ blyk veral uit die artikel wat hy vir The New Review skryf oor die Breytenbach-aangeleentheid, naamlik ‘The Breytenbach file’ (wat ter sprake kom in die gesmokkelde korrespondensie gedurende die vroeë tronkjare - vergelyk Viviers, 1978: 102 en 105-106, asook 'n onderhoud met Rapport, 30.5.76). In die New Review-artikel (1976: 3-8) ontleed Brink die motiewe agter Breytenbach se optrede soos volg: Hy was, anders as Mandela of Fischer, aangespoor deur private en persoonlike oorwegings wat hom terselfdertyd tot 'n hoogs uitbuitbare gebruiksartikel gemaak het vir parasiete wat hom misbruik het vir hul eie belange (vergelyk hieroor Jack Cope, 1982: 165-182 en Breytenbach, NCR Handelsblad, 11.12.82 en 1984a: 79). Brink se artikel is egter veral daarop gerig om dit duidelik te maak dat hy self reeds sedert 1968 verskil van Breytenbach se ideologiese vertrekpunte. Terwyl hý die geloof in die
| |
| |
geskrewe woord behou het en in die vitale en vormende invloed wat die skrywer in die Suid-Afrikaanse konteks het, kon Breytenbach dit nie verstaan of aanvaar nie en hy wou dus ‘bewys’ dat daar méér was as woorde.
Brink stel dit in hierdie artikel dat hy glo dat Breytenbach se belydenis in die hof nié gelewer was onder druk van sy ondervraers of regsverteenwoordigers nie; dit was egter ook nie 'n ontkenning van dit waaraan hy vir so 'n lang tyd geglo het nie, maar ‘a reflection of his intention to find that personal and private wholeness disrupted by the demands of his own social conscience and aggravated by the pressure of his exile’ (op.cit.: 7). Brink voer aan dat Breytenbach se belydenis nie vergelyk kan word met Bram Fischer se hofverklaring in die sestigerjare nie. Vir Fischer was dit naamlik nodig om sy beginsels en optrede in die hof te verdedig - in daardie stadium was die hele gang van sake in die land van só 'n aard dat 'n mens waardering kon hê vir die feit dat hy geglo het dat hy geen ander keuse gehad het as dié vir radikale ingrype nie. Maar die destydse gang van sake het, volgens Brink, verander sodat daar in Breytenbach se geval wel 'n ander opsie bestaan - ‘and it says much for his integrity and his insight that he chose it’ (op.cit.: 8). Hierdie opsie - wat dan ook die een is waarvoor Brink hom hier uitspreek - is dié van geleidelike verandering of verbetering, selfs van détente:
One may have every reason to be cynical about the motivation of the once much vaunted and now rather shaky emergence of ‘détente’ in South Africa: but in this case the fact seems to me more important than the motive. A process of change has been initiated; a principle of change has been acknowledged (and rather than jeopardised or stopped, both the principle and the process have been accelerated by the Angolan adventure): from here on an historical process develops in its own inexorable way, gathering its own momentum... The chances of a significant measure of success achieved through violent revolution seem to me, in spite of Angola, remote. I am not a patient person by nature; but in this situation the much despised concept of gradualism may well have much in its favour. (ibid.)
In die onderhoud met Rapport (30.5.76) oor sy New Review-artikel beklemtoon Brink dit weer dat hy tydens die Breytenbach-verhoor tot die insig gekom het dat ‘geweld niks kan oplos nie’. Die gebeure om Breytenbach en die wyse waarop hy self die futiliteit van sy optrede bely het, het dit vir Brink ‘moontlik gemaak om dieper as ooit tevore die waansin van gewelddadige oplossings in te sien’. Iets anders wat tot hierdie sienswyse bydra, is die détente-ontwikkeling wat die ‘moontlikheid van ander soorte oplossings sterker maak’. In teenstelling met die sestigerjare toe die ‘onregte en misstande in Suid-Afrika... simptomaties van 'n basies negatiewe en destruktiewe rigting in die hele Suid-Afrikaanse politiek was’, is die onregte wat in daardie stadium voorkom vir Brink ‘oorblyfsels uit 'n vroeëre periode wat nog met ons is ten spyte van die feit dat die rigting van die geskiedenis in Suid-Afrika... verander het na 'n positiewe’. Vir Brink lê die oplossing van die land se probleme dus nie (meer) in 'n fundamentele of radikale verandering nie, maar in ‘elke poging om met redelikheid en menslikheid antwoord te soek op 'n grondslag van natuurlike historiese evolusie’.
| |
| |
In die laat sewentigerjare verkondig Brink die leerstelling van die mag van die literêre woord (vergelyk sy opstelle in 1983a). Die woord word draer van die waarheid sodat ‘skryf as sodanig 'n bevestigende daad in die naam van die lydende mens en sy strewe na vryheid (word)’ (Olivier, 1987: 8). Hierdie mag wat Brink toedig aan die woord is 'n uitvloeisel van sy opvatting van die skrywer as openbare gewete en blootlegger van die waarheid (ibid.). In die tagtigerjare reageer waarnemers uiteenlopend op hierdie uitgangspunte van Brink (kyk hoofstuk 7 X).
| |
V
Die verskyning en ontvangs van Voetskrif en Seisoen
Vroeg in 1976 verskyn Voetskrif, die bundel wat Breytenbach in aanhouding geskryf het. Later die jaar word 'n Seisoen in die paradys, wat reeds in 1973 geskryf is, gepubliseer. Die reaksie op hierdie tekste staan in die teken van Breytenbach se ‘bekering’ tydens die hofsaak. ‘Wat Perskor betref, is Breyten Breytenbach die verlore seun wat teruggekom het’, het mnr. Schalk van der Merwe, hoof van Perskor Boeke op 20 Februarie 1976 in Johannesburg gesê toe hy Voetskrif, wat opgedra is aan Yolande en die ondersoekbeampte Kolonel Broodryk, aan sowat twintig mense bekend gestel het (Hoofst., 21.2.76).
Terwyl die verskyning van Voetskrif by die uitgewery Perskor, die opdrag aan Kolonel Broodryk en die bundel se bekroning met die Perskorprys Breytenbach in diskrediet bring by sy (radikale) vriende wat reeds verwar is deur sy belydenis van ‘opregte berou’ (sien hieroor Ena Jansen in De Volkskrant, 6.12.82 en Adriaan van Dis in NRC Handelsblad, 7.12.82), word die bundel as 't ware met trompetgeskal verwelkom in die Afrikaanse pers en geloof deur kritici.
Die Transvaler (16.2.75) glo dat ‘'n nuwe Breyten Breytenbach gebore is uit die skokervaring wat (hom) te beurt geval het met sy inhegtenisneming, aanhouding, verhoor en vonnis van nege jaar tronkstraf’ en gee sy lesers ‘'n kykie in die diepste en teerste emosie’ van die skrywer in aanhouding deur van die verse uit Voetskrif te plaas (dit val saam met 'n reeks artikels oor Breytenbach waarin sy broer Cloete sê dat ‘'n opregte bekering’ by die digter plaasgevind het - Tv., 16-23.2.76). In hierdie tyd hef die SAUK ook sy verbod op Breytenbach op nadat sy naam vir jare nie gebruik is of sy werk nie genoem is nie - en dit met 'n bespreking deur FIJ van Rensburg wat Voetskrif aanprys as ‘nie net een van die mees besondere bundels in Breytenbach se poësie nie, maar in Afrikaans’ (Rap., 29.2.76).
Die verskyning van Voetskrif lok ook kommentaar uit van die publiek. Mees omstrede hiervan was die reaksie van dr. Koot Vorster, assessor van die Algemene Sinode van die NG Kerk en broer van die eerste minister, by die opening van 'n vrouediensbyeenkoms van die NG Kerk vir Noord- en Wes- | |
| |
Kaapland. Hy beskou dit naamlik as 'n ‘tragedie’ dat, ‘terwyl ons seuns aan ons grense sterf’, Breytenbach in die gevangenis sit en skryf. ‘Die ink is skaars droog dan word dit deur die pers gejaag en terwyl die drukkersink nog nat is, word hierdie onsin deur groot letterkundiges as kuns uit die boonste rakke opgehemel’ (Beeld, 11.3.76). Vir Vorster is die feit dat 'n ‘volksvyand’ se ‘snert’ aan ‘ons seuns en meisies aan ons universiteite’ opgedis word as goeie letterkunde, deel van die ‘stryd om ons bloed’: ‘Op maatskaplike gebied en letterkundige terrein, op politieke vlak en op kerklike erf, word alles in die stryd gewerp om ons van ons eiendom te beroof en ons tot een groot vaalgrys massa slawe, volgens die resep van die Kommunisme “een volk, een kerk en een wêreldregering” te maak’ (ibid.). Teenoor Rapport (14.3.76) erken Vorster dat hy nie self Voetskrif gelees het nie en ook nie van plan is om dit te doen nie; hy grond sy aanval op die resensie van FIJ van Rensburg wat hy oor die radio gehoor het. In 'n brief in Rapport (21.2.76) verdedig Vorster sy sienswyses verder en stel hy dit dat hy die boek nie hóéf te lees nie, maar kan beoordeel ‘in die lig van die getuienis wat in die hof uitgekom het’; hy wil hom immers nie uitspreek oor ‘letterkundige gehalte’ nie.
FIJ van Rensburg (Rap., 28.3.76) beskou só 'n stelling as ‘onhoudbaar’. Hy wys weer eens (soos ná afloop van die verhoor) daarop dat hy self nog altyd ‘gepleit het om nugterheid teenoor Breytenbach se werk’, in plaas van ‘matelose verering’ of ‘blinde verguising’. Alhoewel die digter se politieke optrede vir Van Rensburg ‘van redelik vroeg af verwerplik’ was en hy dit volkome aanvaarbaar vind dat hy in die tronk is, het hy waardering vir 'n ‘groot deel van sy werk’ - bowendien staan Voetskrif vir hom in die teken van ‘berou en ommekeer’. Vir Van Rensburg lê die groot verskil tussen homself en Vorster daarin dat laasgenoemde ‘glo dat ons op die oomblik net een taak het: om skanse op te rig’; hy self glo ‘dat agter daardie skanse ons geesteslewe moet voortgaan’. Die Afrikanervolk kon dit immers nie bekostig dat daar ‘'n breuk in sy geestestradisie ontstaan nie’; militêre paraatheid en skeppingslewe moet in 'n ‘sowel-as’-verhouding staan: ‘Elke goeie ding wat in Afrikaans geskryf word, is net so 'n bevestiging van die Afrikanervolk se reg op voortbestaan in hierdie land en in die wêreld as watter ander onderneming ook al’. Van Rensburg se mikpunt is dus net soos dié van Vorster gerig op die ‘voortbestaan van die Afrikanervolk’ - al vertrek hy vanuit 'n ander hoek.
JA Loader van die departement Semitiese Tale, Universiteit van Pretoria, voel dit sy plig om op Vorster se uitlatings te reageer, veral omdat laasgenoemde se sienswyses vertolk kan word as verteenwoordigend van kerklike opinie in die algemeen - 'n indruk wat kan bydra tot die reeds bestaande wrywing tussen kerk en kunstenaar (iets wat bevestig word deur Jeanne Goosen in die rubriek ‘Straat af’ in Hoofst., 13.4.76). Loader meen die prinsipiële grondslag van Vorster se verdediging (in Rap., 21.3.76) skep 'n verleentheid vir die kerk en teologie en kan nie teenoor denkende mense verantwoord word nie. Loader se kritiek is gerig teen die idee dat oordele gevorm kan word aan die hand van tweedehandse inligting en dat Vorster se redenasie stry teen die prinsipes van die eksegetiese wetenskap wat berus op die interpretasie van literêre produkte: Die gebeurtenisse en omstandighede rondom 'n literêre werk kan nie as
| |
| |
uitgangspunt vir beoordeling geneem word nie; die teks moet sentraal staan. Eers moet die vorm en inhoud daarvan ontleed word voordat dit in verband met historiese omstandighede gebring word. Die onaanvaarbaarheid van die persoon van die kunstenaar kan nie as kriterium vir teksoordeel gebruik word nie. Vorster se optrede is ‘'n teksboekvoorbeeld van die selfgenoegsaamheid wat vervat is in 'n geslote sisteemdenke waar die vermoë ontbreek om klanke in die wêreld rondom hom ernstig te neem en te interpreteer’ - dit verteenwoordig ‘'n verstarde wysheid wat die betrekking met die werklikheid en aktualiteite van die wêreld verloor het’ (Rap., 11.4.76).
Wat betref die ontvangs van Voetskrif deur ingeligte lesers (kyk Bibliografie C vir verwysings) is dit opvallend dat sommige lesers - wat in 1975, toe Breytenbach in diskrediet was en die Afrikaanse letterkunde daardeur ‘skade berokken is’, so aangedring het op die skeiding van kuns/werklikheid en kunstenaar/mens - nou die ‘agtergrondgeskiedenis’ van die bundel en/of Breytenbach se ‘bekering’ in berekening bring of laat meespreek in hulle waarde-oordele. ('n ‘Bekeerde’ Breytenbach hou immers nie gevaar in vir die status quo aan die een kant of vir die saak van ‘betrokke’ skrywers aan die ander kant nie.)
Annari van der Merwe skryf die groot belangstelling waarmee daar op hierdie bundel gewag is, toe aan redes wat ‘uit die aard van die digter se oënskynlike politieke ommeswaai ten tye van die verhoor, nie suiwer literêr kan wees nie’; as lesers egter op ‘belydenispoësie en verduideliking gehoop het, was dit tevergeefs’. Vir sommige lesers bevestig die bundel egter wel ‘dat sy betuiging van berou in die hof geen leë gebaar was nie’ en die bundel word gesien as 'n geleentheid vir Breytenbach ‘om hom deur sy skryfwerk te rehabiliteer en te regenereer’ (komende van FIJ van Rensburg wat, soos vroeër aangetoon, die bundel hoog aanslaan - Rap., 28.3.76). Ander lesers formuleer dit versigtiger en betrek nie soseer die skuldbelydenis nie, maar die gevangeniservaring. PD van der Walt meen byvoorbeeld dat die ‘agtergrondgeskiedenis’ bydra tot die leeservaring en aan die gedigte van onthou en verlang 'n dringendheid en intensiteit verleen wat die bestes 'n ontroerende leesgebeurtenis maak. Gerrit Olivier beklemtoon dat die bundel méér is as 'n ‘kuriositeit van biografiese belang’, maar ontken nie dat Voetskrif die ‘resultaat is van Breytenbach se resente ervaringe’ nie. Abraham H de Vries waarsku egter teen die ‘gevaar’ van die gebruik van die agtergrondgeskiedenis by die beoordeling van Voetskrif.
Hoewel kritici daarop wys dat Voetskrif nie soseer opvallende ‘vernuwing’ in Breytenbach se poësie bring nie (Brink, Cloete, Olivier, Van der Merwe) word die bundel entoesiasties ontvang as 'n ‘nuwe hoogtepunt’ in Breytenbach se oeuvre - veral ná die ‘insinking in sy vorige twee bundels’ (Cloete, Olivier, Johl). André P Brink sien Voetskrif in sy geheel as 'n ‘indrukwekkende toevoeging tot 'n indrukwekkende digterskap’, maar meen dat 'n finale oordeel teruggehou moet word tot al die feite om die publikasie daarvan opgeklaar kon word.
Twaalf jaar ná die Afrikaanse Pers-Boekhandel sy eerste omstrede prystoekenning aan Breytenbach gemaak het, sorg hy weer vir nuus deur Voetskrif te bekroon. Tydens die informele oorhandigingsgeleentheid het Elize Botha,
| |
| |
sameroeper van die beoordelaarspaneel, wat verder bestaan het uit WEG Louw en Ernst van Heerden, 'n kort motivering gegee vir die eenparige bekroning van Voetskrif. In sy reaksie op die toekenning sê Brink dat dit bewys dat daar by die keurkomitee ‘slegs suiwer literêre oorwegings gegeld het en nie aan die man agter die boek gedink is nie’ (Ogb., 2.3.77). Anita Lindenberg glo die werk is die bekroning absoluut werd, maar vind dit jammer dat Breytenbach ‘nou eers begin pryse wen, aangesien hy beslis Suid-Afrika se sterkste jong kunstenaar is’ (ibid.). AP Grové sê die feit dat ‘'n baie goeie keurkomitee die beoordeling gedoen het’, bewys dat dié werk wel die heel beste was (ibid.). Hoe ‘suiwer literêr’ hierdie besluit egter wel was, sou moeilik vasgestel kon word; 'n mens moet immers in ag neem dat die aanbeveling gemaak is in 'n tyd toe die Afrikaanse literêre establishment nog diep onder die indruk was van Breytenbach se ‘bekering’.
Die bedenkinge wat Brink in sy 1976-resensie gelug het, word bevestig toe nuwe feite oor die publikasie van Voetskrif tydens die tweede Breytenbachverhoor op die lappe kom. In 'n gesmokkelde brief aan Brink, wat tydens die hofsaak as getuienis voorgelê word, noem Breytenbach Voetskrif 'n ‘slapgat’ bundel wat in 'n maand geskryf is en wat hy nie kon hersien of korrigeer nie. Die ‘opdrag’, afgesien van dié vir Yolande - ‘was op dringende’ versoek (Welz, 1977: 142; Viviers, 1978: 103; NRC Handelsblad, 11.12.82). In Confessions skryf Breytenbach soos volg oor die aandeel van kolonel Broodryk (‘Huntingdon’) in die publikasie van die bundel:
The very existence of this volume was exploited by Huntingdon. He saw herein one more way to manipulate me and simultaneously to improve his image and, he hoped, his acceptability to the literary community among the Afrikaners. He did not want to be known as a cultural barbarian, and in any event he was intuitive enough to understand that the real threat to the Afrikaner would come from within their own ranks - so, farsighted, he already had to lay the first lines of infiltration into the ranks of the Afrikaner writers from whom he suspected subversive ideas or rebellious noises in time to come. He insisted quite brazenly that the volume of verse should be dedicated to him. It was a naked instance of horsetrading: you dedicate this to me and I allow you to have it published. (1984a: 138)
Volgens Breytenbach was die res van die bundel ook gesensor deur Broodryk self (Welz, 1977: 142; Viviers, 1978: 103) - die ‘grappigste weglating’ was 'n vers getiteld ‘Help’ waarvan die teks bestaan het uit ‘help!’ Breytenbach sien dit as ironies dat ‘my nemesis, the man who was - however insiduously - trying to have my guts and to flip me inside out, at the same time acted as my literary agent - in fact creating or giving me the possibility of survival’ (1984a: 138).
‘Die jaar 1976 het begin met die publikasie van Breyten Breytenbach se digbundel Voetskrif; sowat die laaste publikasie van literêre betekenis uit dieselfde jaar is sy “reisboek” 'n Seisoen in die paradys; en as mens in terme van literêre pryse moet dink, dan het hy hier min of meer 'n wenkombinasie soos laas in 1964 met Katastrofes en Die ysterkoei moet sweet’ (André P Brink, Rap., 23.1.77).
Dit is ironiese sameloop van omstandighede wat veroorsaak dat Voetskrif en
| |
| |
Seisoen weer, soos sy dubbele debuut in 1964, by Perskor (die ou APB) verskyn. Seisoen, wat geskryf is ná Breytenbach en sy vrou se ‘negentig dae’ in Suid-Afrika gedurende 1973, het by aanvanklike voorlegging aan die skrywer se destydse uitgewer, Daantjie Saayman van Buren, probleme gekry. In Rapport (13.10.74) is berig dat Saayman, uitgewer van die verbode Kennis van die aand, voor die vraag te staan gekom het of hy Seisoen onveranderd moet publiseer. Met die Hooggeregshof-uitspraak van 3-0 teen Kennis het sake vir hom as uitgewer moeilik geraak: ‘Ek moet nou by die lees van 'n manuskrip dubbel probeer oordeel: Eers wat ek dink, en dan wat ek dink die Publikasieraad sal dink!’ Hy weier om die manuskrip voor publikasiedag aan die Publikasieraad voor te lê; hy sal egter ook nie daarvan hou om dele uit te sny nie - en die skrywer sal in elk geval daarteen gekant wees. Breytenbach weier dan ook om aan die werk te verander (ST., 20.10.74). Die manuskrip is nie deur Buren gepubliseer nie omdat Saayman sy uitgewery gesluit het (Tv., 12.8.75).
Uiteindelik word Seisoen in 1976 gepubliseer - ‘drie jaar na die skrywe daarvan en intussen het die situasie van die skrywer verander’ (Ogb., 30.11.76). Oor hoe dit gekom het dat Seisoen (en Voetskrif) juis deur Perskor gepubliseer is, bestaan uiteenlopende menings. Volgens uitgewer Bartho Smit het hy, nadat hy Voetskrif gepubliseer het, ‘via Cloete (Breytenbach) 'n versoek van Breyten ontvang om na die manuskrip, waarvoor daar toe reeds byna drie jaar lank geen uitgewer gevind kon word nie, te kyk’ (Beeld, 25.7.77). Perskor het aangebied om Seisoen, met bepaalde snitte, uit te gee. Uit die gesmokkelde tronkbriewe blyk dit dat Breytenbach van Perskor gebruik maak omdat hy verplig is om aan te hou ‘staatmaak op die dienste - as bemiddelaar by die Eerste Minister - van Bartho se baas, ene (Marius) Jooste’ (Viviers, 1978: 161 en 188). Die rede waarom hy hierdie oú manuskrip weer opdiep was ‘in order not to have my voice cut off entirely’ (1984a: 139).
Die Afrikaanse pers maak, in die lig van Breytenbach se ‘bekering’, 'n groot ophef van die verskyning van Seisoen: ‘Dis seker nie onwaarskynlik dat 'n Seisoen in die paradys vanjaar se grootste Afrikaanse verkoper in die Kerstyd sal word nie’ (Rap., 21.11.76); ‘'n Boek van Breyten Breytenbach waarop Afrikaanse lesers al die afgelope vier jaar in spanning wag... verskyn vir die eerste keer oor 'n week of twee by Perskor’ (Va., 26.11.76); ‘Seisoen is 'n intens persoonlike belewenisdokument, amper 'n pelgrimstog, en ook 'n spieël van wat die oë van die teruggekeerde verlore seun gesien het. Vandag, vier jaar later, is daardie spieël nog glashelder’ (Va., 9.12.76).
Kritici (kyk Bibliografie C vir verwysings) verwelkom en prys deur die bank die reisjoernaal as ‘van die fynste prosa wat ons in Afrikaans het’ (Va., 9.12.76 en Hoofst., 18.2.77); 'n ‘hartseer lofsang’ selfs in sy ‘baldadigheid van woordspel, fantasie, wisseling van prosa en poësie en deurmekaargooi van style’ (Abraham H de Vries); 'n ‘triomfantelike geheel... van versoening, integrasie’ (André P Brink); 'n ‘boeiende en briljante relaas’ (PD van der Walt); ‘'n voortreflike stuk werk waarin die vakmanskap, die taalvernuf en die veelsydigheid van Breyten Breytenbach duidelik na vore kom’ (Fanie Olivier).
Die meeste van die kritici verwys, op die een of ander manier, na Breytenbach se ‘bekering’. ‘HW’, resensent van Die Vaderland, meen die omstrede dele is
| |
| |
geskrap ná Breytenbach verhoor is en ‘'n verandering van geesteshouding jeens die Regering ondergaan het’. Abraham H de Vries kan ook nie nalaat om te vermeld dat die skrywer se situasie sedert die skryf van Seisoen verander het nie; hy verwys spesifiek na die gesprek met Panus wat hy as ‘'n sleutel tot die stryd van 'n digter met homself en sy omstandighede’ sien. De Vries glo dat die Seisoen-argument, ‘hardloop jy weg van beide die sosiale... en die persoonlike verantwoordelikheid’ (1976: 139), in Breytenbach se ‘bestaansbelydenis’ tydens sy verhoor voortgesit word. Brink sien Seisoen ook as verslag van ‘die baie nuwe velle wat die swerwende slang onderweg sal afwerp, al sy nuwe dode en geboortes en reïnkarnasies’; die reis is nie net ‘terugkeer’ nie, maar ook ‘reïntegrasie’. Volgens hom roep die teks dié vraag op ‘vir die nie-literêre maar sommer net min of meer denkende en voelende mens’: ‘Watter oordeel roep 'n bewind op homself af wat so 'n gees tot 'n uiterste wanhoopsdaad dryf en hom daarna in die gevangenis smyt?’ PH Roodt (Rap., 6.2.77) vergelyk laasgenoemde uitlating van Brink met Breytenbach se woorde in die hof (‘Ek is jammer oor die onbesonne en dom dinge wat ek gedoen het...’) en besluit: ‘Hier het ons aan die een kant die groot man (twee woorde) Breytenbach: vol wysheid, smart en berou; aan die ander kant: die heer Brink vol bravade... Daar is iets makabers en treurigs aan 'n mens (erger nog: 'n vriend) wat 'n ander se ongeluk en berou minag en dit desnieteenstaande vir sy eie klein politieke speletjies wil gebruik. Dis jammer dat Brink dié hofwoorde wil doodpraat. Die verklaring in die hof was sekerlik ook 'n repudiëring van die “onbesonne” politiek in
'n Seisoen in die
paradys.’ Minder as twee weke later beroep Brink hom egter wel op Breytenbach se ‘bekering’ as hy Aat Kaptein daarvan beskuldig dat hý nie werklik Breytenbach se berou aanvaar in die sin van ‘relativering van die verlede’ nie (Bu., 18.2.77). Sy uitlating in die resensie van Seisoen, waarteen Roodt dit het, plaas Brink in hierdie brief in die konteks van die 1965-visumweiering wat Breytenbach tot sy ‘wanhoopsdaad’, sy ‘oomblik van futiele geweld’ gedryf het.
Toe Seisoen uiteindelik verskyn het, was dit met snitte. Volgens Bartho Smit (Beeld, 25.7.77) was dit op versoek van Breytenbach self wat gevra het dat Smit enigiets wat sy ‘posisie in die tronk sou kon bemoeilik’ moet uithaal - op voorwaarde dat dit in oorleg met Ampie Coetzee en John Miles gedoen word. In gesmokkelde briewe aan Brink vertel Breytenbach dat Seisoen om ‘taktiese en finansiële’ redes ‘gekater’ by Perskor gaan verskyn; hoewel ‘Ampie en John darem probeer keer het’, glo hy dat Smit en Chris Barnard ‘seker die botoon sal voer’ - hy self het die veranderde manuskrip nie gesien nie (Viviers, 1978: 104 en 188; Bu., 8.7.77). In 'n brief aan Yolande skryf Breytenbach ‘dat Cloete bietjie deur Bartho om die bos gelei kan word’; hy vrees veral ‘dat Bartho dink of maak asof hy dink dat Boetie gesprekke met my gevoer het oor die weglatinge in die teks waarop Bartho besluit het. Blykbaar bo en behalwe die weglatings van Ampie en John en ook sonder dat hulle daarvan geweet het. En hy dink miskien selfs dat Boetie my toestemming daarvoor gekry het. Dis alles nie waar nie. Inteendeel, elke keer as hy my sien, verseker Boetie my dat nie te veel uitgesny is nie, ensovoorts - behalwe die laaste keer in September toe hy my
| |
| |
vertel het dat Bartho verder gegaan het met die weglatings van die kêrels’ (op.cit.: 161).
Ná hierdie uitlatings in die tweede hofsaak aan die lig gekom het en Breytenbach se ‘bekering’ in 'n ander lig gestel is, verweer Bartho Smit hom in 'n brief aan Beeld (25.7.77) deur hom daarop te beroep dat hy die manuskrip, met die nodige regshulp, met 'n fyn kam deurgegaan het en die voorgestelde snitte voorgelê het aan Coetzee, Miles en Lindenberg wat deur hulle bygebring is: ‘Daar moet onthou word dat Seisoen geskryf is voor Breytenbach se “bekering” waarmee hy ons almal met 'n kluitjie in die riet gestuur het’. Smit beklemtoon dat niks uit Seisoen gesny is ‘sonder goedkeuring van (Breytenbach) se drie beskermhere nie’ en die snitte is gedoen om ‘Breyten te beskerm’. Met die deurlees van die galeie is los sinne wat aanvanklik ‘misgekyk’ is, met toestemming van die driemanskap geskrap. Volgens hierdie brief is daar ‘hoogstens altesaam 10 of 12 folio's uitgesny’ uit die manuskrip van oor die 300 folio's. In 'n artikel in Die Vaderland (18.7.77) word Smit egter anders aangehaal: ‘Altesaam sowat 30 bladsye is verwyder’.
In 'n artikel in Stet (1985: 4) vertel Truida Lijphart dat sy in September 1984 die ‘driemanskap’ een vir een uitgevra het oor wat hulle nog kan onthou van die snitte wat hulle aangebring het. Hulle het al drie onthou dat 'n stuk oor Robbeneiland gesny is, een oor 'n besoek aan Sobukwe en hulle was nie seker of die stuk oor die veiligheidspolisie moes uitkom nie. Hulle glo nie een dat klein fragmentjies en los sinne hier en daar in die teks geskrap is nie. 'n Vergelyking wat Lijphart met die Nederlandse en Engelse vertalings gemaak het, toon egter talle verskille - op baie plekke ontbreek in die Afrikaanse teks 'n sin of woord, afgesien nog van langer fragmente. Onder die weggeraakte fragmente, wat Lipjhart in hierdie artikel aanvul, is daar volgens haar ‘die mooiste of ontroerendste stukkies van die hele boek’; buitendien onderbreek die weglatings die kettings van motiewe wat dwarsdeur die boek loop. Die vertalings is nie verbied in Suid-Afrika nie - ‘dit het dus nooit baie sin gehad om die Afrikaanse uitgawe so te vermink as die uitgesnyde dele tog vryelik verkrygbaar was nie’.
Meulenhoff het gewerk met 'n tiposkrif wat hulle laat vertaal het. Lijphart weet nie of hierdie tiposkrif dieselfde is as Perskor se bron nie en sy kon nie 'n kopie van die oorspronklike manuskrip, wat wel in omloop was in Suid-Afrika, in die hande kry nie. Die Perskor-bladproewe in SASKI se besit bevat nie die uitgelate dele wat deur Lijphart gestet is nie. 'n Lysie met ‘politieke probleme’ maak melding van langer passasies wat uitgelaat is (byvoorbeeld dié oor Robbeneiland, die besoek aan Sobukwe en die veiligheidspolisie) asook sinne en sinsnedes. Daar is ook 'n lysie woorde wat ‘aanstootlik’ is en daarom weggelaat is.
| |
| |
| |
VI
Skryf en/of publiseer: 'n Polemiek
Vroeg in 1977, terwyl Breytenbach nog in eensame aanhouding is, ontstaan daar in Die Burger se briefkolomme 'n polemiek na aanleiding van Abraham H de Vries se brief oor die uit die gevangenis gesmokkelde Lehnberg-verhaal (Marlene Lehnberg was die berugte ‘skêr-moordenares’ wat in 1975 tot twintig jaar tronkstraf gevonnis is en in 1986 vrygelaat is) en die beplande wetgewing van die minister van gevangenisse teen sulke ongewenste praktyke. De Vries was besorg daaroor dat sodanige wetgewing sou verhinder dat Breytenbach in die tronk kon skryf en van daaruit publiseer: ‘Wie wil nou toesien dat, weens die onverantwoordelikheid van sensasiejoernalistiek, 'n stuk Afrikaanse letterkunde nege jaar lank in die tronk gestop word saam met Breytenbach?’ De Vries beroep hom in sy pleidooi op skryf en publikasie-geleentheid vir Breytenbach op historiese voorbeelde soos Oscar Wilde, Francois Villon, Ezra Pound, asook op Genet, Solzjenitsen en Achterberg wat ‘geld gemaak het uit eie misdaad’, maar sonder wie ‘die letterkunde darem baie armer sou gewees het’ (Bu., 22.1.77).
Hierdie brief lok kommentaar uit van Aat Kaptein (eienaar van die uitgewery Culemborg wat De Vries, Ingrid Jonker en Etienne Leroux se debute gepubliseer het) wat voel dat Breytenbach wel toegelaat moet word om in die tronk te skryf (‘in die naam van menslikheid en in belang van ons taal’), maar nie om te publiseer nie (Bu., 27.1.77). Hierdie siening lei weer tot teenreaksie van Frans Venter, André P Brink en De Vries. Die Burger gee die laaste woord in die debat aan Aat Kaptein. Omdat hierdie debat verteenwoordigend is van die soort reaksie wat rondom die verhoor hoogty gevier het, word dit bespreek.
Kaptein voer vyf redes aan waarom Breytenbach nié toegelaat moet word om te publiseer nie. Die publikasie van sy tekste sou daarop neerkom dat daar 'n onderskeid getref word tussen die digter en die terroris: ‘Ons kan nie oor die digter Breytenbach praat sonder om oor die veroordeelde man te praat nie’ (Bu., 10.2.77). Kaptein meen Breytenbach ‘is nie verniet vir nege jaar in die tronk gestop nie: elke staat het die reg en die plig om homself en sy mense te beskerm’. Vir hierdie leser weeg die ‘veiligheid van sy land’ méér as ‘oorweginge van artistieke aard (want) met gedigte hou jy die vyand nie buite die grense nie’ (Bu., 27.1.77).
Dit sou 'n teken wees dat Breytenbach se ‘betraande politieke paljas’ (Bu., 27.1.77) in die hof sy vorige optredes kanselleer. Kaptein haal dan wyd aan uit vroeëre uitsprake van Breytenbach om te beklemtoon dat dit nie, in die belang van die letterkunde, vergeet moet word nie dat Breytenbach hom oor 'n lang tyd beywer het vir ‘'n gewelddadige rewolusie’ in sy land: ‘Waar op aarde word dit nog gevind dat mense só lief is vir hul eie letterkunde dat hulle bereid is om alles (selfs gewone oordeelsnorme) op te offer vir één digter?’ (Bu., 10.2.77).
| |
| |
As hy toegelaat word om te publiseer sou dit 'n presedent skep wat sou ‘uitrimpel tot op die strandjies van Robbeneiland’ (Bu., 27.1.77). Dit sou 'n ‘liberale beeld’ verleen aan die regering en daardeur Breytenbach se siening bevestig dat hy toegelaat word om in Suid-Afrika te publiseer sodat dit kan lyk of die owerheid liberaal is (Bu., 10.2.77). Dit sou 'n knou wees vir 'n ‘volk se nasionale selfrespek’ (ibid.). En volgens Kaptein is dit juis 'n volk se ‘nasionale selfrespek’ wat hom in staat stel om ‘elke vorm van verraad te behandel met die veragting wat dit verdien’ (Bu., 11.2.77).
De Vries, Venter en Brink - wat almal meen dat Breytenbach ook toegelaat moet word om te publiseer - tref 'n onderskeid tussen Breytenbach die politieke figuur en Breytenbach die digter. De Vries stel dit dat die man Breytenbach ‘oor sy verraad’ in die tronk sit, maar dat dit ‘suiwer onsin’ is om te sê dat sy poësie en die publikasie daarvan ‘verraad’ is (Bu., 19.2.77). Venter voel Kaptein se clichés oor die prioriteit van staatsveiligheid is ‘irrelevant omdat dít nie is waaroor die gesprek gaan nie’; Kaptein ‘preek vir die Kommuniste en die militantes, want geen enkele verantwoordelike Suid-Afrikaner en sekerlik geen enkele beduidende Suid-Afrikaanse skrywer het nog ooit, in enige opsig, met die owerheid fout gevind omdat Breytenbach vir sy wilde en gevaarlike politieke manewales gestraf is nie’. Máár, hoe ‘verwerplik Breytenbach se politieke doen en late ook al is, sy bydrae tot Afrikaans is voortreflik. Daarom gaan dit hier om veel meer as net Breytenbach se persoon. Dit gaan om die Afrikaanse letterkunde... En dit in 'n jaar dat ons met soveel ophef Taalfees gevier het!’ Sy pleidooi is: ‘Straf die man, maar laat die digter dig, laat hom publiseer. Afrikaans het hom bitter nodig!’ (Bu., 1.2.77). Venter meen dat ‘selfs die mees deurwinterde dwarstrekker’ nie met Kaptein sal stry dat Breytenbach ten regte ‘vasgetrap, verhoor en gestraf’ is vir sy politieke oortredings nie - ‘ons is dit almal roerend eens dat Breytenbach erg gesondig het en dat hy na verdienste gestraf is’, maar die dígter Breytenbach moet toegelaat word om te publiseer, ‘ter wille van Afrikaans’ (Bu., 22.2.77). Brink (Bu., 18.2.77) stem volledig saam met Frans Venter se ‘uitmuntende bydrae’ tot die
Breytenbach-debat; ook hy aanvaar soos
‘elke redelike mens dat Breytenbach gestraf moet word vir sy wetsoortreding’, maar die ‘kern van die saak’ is dat ‘een van ons grootste digters nie die swye opgelê moet word nie’. (Hierdie debatspunt moet in die konteks van die wyer diskoers om Afrikaans gesien word, soos uitgelig in hoofstukke 5 III en 7 IV.)
Hierdie briefskrywers distansieer hulle met groot nadruk van Breytenbach se politieke beskouing en veral van sy onderskrywing van geweld. De Vries herinner Kaptein daaraan dat eersgenoemde hom reeds in 1968 in die openbaar gedistansieer het van Bryetenbach se politiek en die ‘man hard genoeg aangespreek het’ in ‘sulke sterk taal dat die redakteur aangedring het op meer parlementêre taal’ (Bu., 19.2.77). Brink, wat Breytenbach se huidige posisie sien as uitvloeisel van ‘sy oomblik van futiele geweld’ beklemtoon dit dat hy ‘deur baie jare met Breyten geargumenteer het oor die rol van geweld’ en vir dié wat nog twyfel ‘bevestig ek dat ek vandag - anders as in 'n kort periode ná 1968 - vir géén saak 'n morele oplossing in geweld sien nie. (Daarom ook nie in die konstruktiewe (sic.) geweld van 'n bewind wat sy teenstanders dryf tot so 'n
| |
| |
blindheid dat hulle naderhand dink geweld ís al wat oorbly nie.)’ (Bu., 18.2.77).
Daar word 'n beroep gedoen op Breytenbach se ‘opregte’ berou en sy insig in die ‘futielheid van geweld’. Venter noem Kaptein se ongeloof in die opregtheid van Breytenbach se bieg ‘'n tragiese gebrek aan insig’; hy self sien Breytenbach se ommekeer in die hof as uitvloeisel van ‘die haglike tweestryd in Breytenbach tussen mens en digter, sy opsetlike uitlewering van homself as burger, om gestraf te word, sodat die digter in hom bevry kan word’ (Bu., 1.2.77). Breytenbach het, volgens Venter, ‘sy les geleer’ - ‘hy het na sy vaderland teruggekeer om vir sy politieke dwalinge te boet’ en mense soos Kaptein, wat dit nie kon insien nie, is ‘naïef’ (Bu., 22.2.77). De Vries tipeer op sy beurt Kaptein se ongeloof in Breytenbach se bekering as ‘doodgewone beterweterigheid’ en 'n gebrek aan ‘deernis’ (Bu., 19.2.77). Vir Brink is die kern van Breytenbach se berou dat dit ‘die verlede relativeer’ (Bu., 18.2.77). (‘Verligtes’ sou enkele maande later in 'n verleentheid wees toe ‘onthullings’ tydens die tweede Breytenbach-verhoor die digter se ommekeer in 'n ander lig geplaas het.)
Klem word (soos in 1965 met die visumweiering) geplaas op die uniekheid van die Breytenbach-geval. Venter glo Breytenbach se geval ‘is sekerlik uniek en daar is tog wat te sê daaroor dat hy anders behandel moet word’ (Bu., 1.2.77). De Vries maak Kaptein se argument dat toelating aan Breytenbach om te publiseer 'n presedent sal skep, af as belaglik omdat Breytenbach se geval so uniek is: ‘Watter ander Afrikaanse skrywer of digter, trouens watter skrywer of digter in enige taal, sit op Robbeneiland? En selfs al sou daar een wees - van wie ek nie bewus is nie - het hy drie maal 'n literêre prys gekry omdat sy werk drie jaar deur drie verskillende keurkomitees aangewys is as die heel beste van daardie jaar? Breytenbach het die CNA-prys drie maal gekry. Wie sit op Robbeneiland - of in enige Suid-Afrikaanse tronk - wat al die Reina Prinsen Geerligsprys ontvang het én die APB-prys...? Of die ekwivalente van hierdie pryse in enige taal? Watter ander gevangene kan dus met dieselfde literêre agtergrond aansoek doen om publikasievergunning?... Om publikasievergunning aan Breytenbach as presedent te beskou, lyk my selfs op 'n manier grappig. Want mnr. Kaptein se gevreesde anargie en losbandigheid kan slegs dan losbars as daar twee, drie, ses skrywers in Suid-Afrikaanse tronke sit met gelyke meriete of meer. Bid jou aan. Hierdie land se naam is nie Soviët-Afrika nie, dis Suid-Afrika. Kom ons hou dit so!’ (Bu., 2.2.77).
Die briefskrywers staan krities teenoor bepaalde fasette van die politieke stelsel in Suid-Afrika. Venter glo dat Breytenbach as gevolg van die visumweiering in 1965 rede gehad het om ‘tot in sy diepste vesel verbitterd te wees’ en dat dít, alhoewel dit hom nie ‘'n permit verskaf het om sy eie land te beswadder soos hy gedoen het nie’, wel sy ‘verbittering, sy blinde en dwase verset’ verklaar (Bu., 22.2.77). Brink staan krities teenoor 'n regering wat met die visumweiering ‘'n hipergevoelige man begin dryf het tot waar hy uiteindelik 'n wanhoopsdaad gepleeg het’ en hy protesteer teenoor 'n stelsel wat mense vir 'n onbepaalde tyd kan aanhou sonder dat 'n aanklag teen hulle ingebring word (Bu., 18.2.77). Hierdie briefskrywers se kritiek is beperk tot bepaalde fasette van die amptelike beleid. Hulle spreek hul egter in hierdie polemiek nie uit oor
| |
| |
Afrikaner-nasionalisme en die beleid van apartheid as sodanig nie. Hulle beklemtoon deurentyd hul afkeer van geweld en die feit dat hulle ideologies verskil van Breytenbach, die rewolusionêr, maar lewer hier nie kommentaar op bepaalde sake wat Breytenbach dwarsdeur sy openbare politieke loopbaan en selfs tydens sy hofverklaring afgewys of bepleit het nie, byvoorbeeld: die totstandkoming van ‘'n Suid-Afrikaanse identiteit’; 'n kompromislose afwysing van rassisme; die uitgangspunt dat 'n wit minderheidsregering in Suid-Afrika onwettig is; die siening van demokrasie as een-mens-een-stem en dus 'n swart meerderheidsregering; die aangrype van geweld as laaste instrument tot bevryding in die lig daarvan dat alle ander wettige metodes swart Suid-Afrikaners ontneem is.
| |
VII
Die tweede verhoor: 1977
Gedurende Junie-Julie 1977 wek Breytenbach weer eens opspraak toe hy die tweede maal in die hof verskyn. Hierdie keer is hy daarvan beskuldig dat hy vanuit sy sel kontakte probeer bewerkstellig en planne gesmee het waardeur hy die Suid-Afrikaanse staatsveiligheid in gevaar sou bring. Kort ná sy vrou hom in Oktober 1976 besoek het in Pretoria-Sentraal, waar hy nog steeds in eensame opsluiting aangehou was, het die veiligheidspolisie hom in kennis gestel dat hy weer aangekla gaan word op sewentien klagte ingevolge die Wet op Terrorisme, die Strafproseswet, die Wet op Gevangenisse.
Die staat het sy saak gebou om die getuienis van die bewaarder Pieter Gerhardus (Lucky) Groenewald wat na bewering, teen alle reëls in, gesprekke met Breytenbach begin voer het en toe aan die veiligheidspolisie gaan vertel het wat daar gesels is oor ontsnapping, Okhela, paspoorte en briewesmokkel. Pleks van hom te berispe, albei aan te kla of Breytenbach volgens tronkvoorskrifte op dieetstraf te plaas, het die veiligheidspolisie - wat nog steeds gehoop het om lede van Okhela aan te keer - met Groenewald as pion 'n spel begin speel (Viviers, 1978: 83). ‘Hy was die lokaas, die geplante spioen wat met 'n bandopnemer onder sy uniform versteek op die loopvlak gestaan en hul gesprekke opgeneem het. Hy was die man wat die briewe een vir een aan die veiligheidspolisie oorhandig het om dit te laat fotostateer voordat hy dit gaan aflewer het. Hy was die duurste posbode in Suid-Afrika - altyd geneem op staatskoste, altyd saam met 'n paar veiligheidsmanne om briewe te gaan aflewer...’ (ibid.). (Vergelyk Breytenbach, 1984a: 213-214 vir die digter se siening van ‘Lucky the Pimp’.)
Die ondersoek van die veiligheidspolisie is in alle geheimhouding voortgesit en eers op 10 Mei 1977 het Alf Ries van Beeld die nuus die wêreld ingestuur: Breytenbach gaan weer aangekla word - onder meer op grond daarvan dat hy
| |
| |
wou ontsnap. Ander dinge waarvan die klagstaat melding gemaak het, was dat Breytenbach tussen 17 April 1976 en 19 Oktober 1976 met die opset om die handhawing van wet en orde in die Republiek in gevaar te stel, deelgeneem het aan terroristiese bedrywighede deur onder meer die doelstellings van Okhela te bevorder; dat hy Groenewald gebruik het om briewe aan mense in en buite die gevangenis te neem of aan hom te bring; dat hy Groenewald opgelei het in ondergrondse tegnieke; dat hy Groenewald meegedeel het dat, vanweë die swart onluste, die tyd geleë is om grootskeepse sabotasie in Suid-Afrika te pleeg; dat hy Groenewald gewerf het om as terroris in die buiteland opgelei te word. Onder die alternatiewe aanklagte het die skryf van briewe waarop hy nie geregtig was nie, die oorhandiging van briewe aan Groenewald en ontvangs van ander briewe die grootste deel uitgemaak (Viviers, 1978: 84-85).
Soos die eerste keer, was daar nou weer 'n summiere verhoor - hierdie keer deur die waarnemende Regter-president, regter WG Boshoff. Breytenbach se vrou het die hulp ingeroep van die prokureurs Andrew Williamson en John Brand wat adv. Johann Kriegler, en Ernesto (Ernie) Wentzel gevra het om namens Breytenbach te verskyn (in 1984a: 184 en 221 vertel Breytenbach van sy respek vir hierdie mense). Hierdie keer sou dit 'n ‘suiwer politieke verhoor’ wees (op.cit.: 221), in teenstelling met die eerste toe daar juis probeer voorkom is dat die verhoor 'n politieke aangeleentheid sou word (Viviers, 1978: 75).
Ná 'n twee weke lange verhoor waarin die gesmokkelde briewe as bewysstukke voorgelê is en Groenewald en Breytenbach in kruisverhoor geplaas is, lewer regter Boshoff uitspraak. Op grond van die onbetroubare getuienis van Groenewald, die feit dat daar geen bewys was van die bestaan van 'n Okhela-organisasie in die Republiek of van Breytenbach se beweerde deelname aan terroriste-aktiwiteite nie (hierdie uitspraak verskil drasties van die eerste wat betref Breytenbach se bewegings in 1975), word hy onskuldig bevind op die hoofaanklag en verbandhoudende alternatiewe klagte; hy word skuldig bevind op 'n klag vir die smokkel van briewe, maar as gevolg van die feit dat hy uitgelok is om soveel briewe moontlik te skryf, word hy slegs gevonnis tot 'n boete van R50 of drie maande tronkstraf. (Die uitspraak is opgeneem in Viviers, 1978: 205-217; Breytenbach se ervaring van die verhoor in 1984a: 222-229.)
Prof. Charles-Albert Morand, wat deur die Internasionale Kommissie van Juriste afgevaardig was om die eerste Breytenbach-verhoor by te woon, se verslag is vrygestel terwyl die tweede verhoor aan die gang was. In Beeld (30.6.77) verskyn 'n berig waarin Morand aangehaal word oor sy siening dat die eerste verhoor 'n ‘elegante spektakel’ was; sommige van die aanklagte illustreer volgens dié waarnemer die ‘perversiteit van die onderdrukkende stelsel wat in Suid-Afrika van krag is’. Morand merk op:
The Breytenbach case constitutes a remarkable success for the government. It has helped to impress upon the white community the image of a vast subversive conspiracy. It must be expected that the government will exploit this favorable situation by intensifying the repression... In the political context... the Breytenbach trial, like many of those which preceded it, is to be seen as a lever which enables the white government to legitimate and reinforce its dictatorial powers and to pursue its policy of apartheid. (In Dreyer, 1980: 50-51)
| |
| |
Die verslae van mnr. Martin Garbus, wat die tweede verhoor as 'n waarnemer vir die ‘International League for Human Rights’ bygewoon het, beskuldig die Suid- Afrikaanse regters daarvan dat hulle opdragte van die regering kry en beskryf die regters as ‘elegant facades covering one of the most vicious police states in the world’ (Oost., 21.7.77). Hierdie ‘venynige aanval op Suid-Afrikaanse regters en howe’ word deur Suid-Afrikaanse regsgeleerdes as die ‘grootste onsin’ bestempel (Oost. en Ogb., 21.7.77). Tydens die eerste verhoor het die Afrikaanse pers die stand van regspleging in Suid-Afrika geloof. Willem de Klerk (Rap., 30.11.75), byvoorbeeld, het verwys na die regter wat koelkop gebly het en die ‘trotse tradisie van Suid-Afrika se regspraak gehandhaaf het’ deur 'n ‘korrekte vonnis’ uit te spreek. In die lig van gebeure rondom die saak wat later bekend geword het, word hierdie siening ietwat gerelativeer. In die tagtigerjare word die ‘onpartydigheid’ van die Suid-Afrikaanse howe 'n debatspunt, soos onder meer blyk uit 'n artikel in Weekly Mail (1-7.8.86) waarin, na aanleiding van hofuitsprake wat die algemene noodtoestandmaatreëls bevraagteken, daarop gewys word hoe dit gebeur het ‘that after some thirty years of court-rulings favouring the state, we now seem to be witnessing a judicial shift in the other direction, in favour of the individual’.
Een aspek rakende die verhoor wat hier uitgelig kan word omdat dit implikasies inhou vir die ideologiese konteks en vir literatuuropvattings, is die feit dat Breytenbach se getuienis asook die geheime briewe wat in die proses openbaar geword het, sy opspraakwekkende ‘belydenis’ tydens die eerste hofsaak in 'n ander lig plaas. Uit feite wat nou aan die lig kom, blyk dit duidelik dat Breytenbach nie sy eertydse politieke ideale en literêre betrokkenheid ‘verloën’ het nie, en dat sy ‘ommekeer’ die gevolg was van ‘'n sekere druk wat uitgeoefen is’, ‘pogings wat deur die veiligheidspolisie en later ook deur ander oorde’ aangewend is om hom te oorreed om nie 'n ‘politieke aangeleentheid’ van sy saak te maak nie - met ander woorde om nie ‘van die geleentheid gebruik te maak om 'n aanval te doen op die Regering of op aspekte van die Regering se beleid nie’ (Viviers, 1978: 75; Breytenbach, 1984a: 48). Dit kom ook nou aan die lig dat destyds aan Breytenbach voorgehou is dat, indien hy ‘saamwerk’, hy alle rede het om te hoop op die minimum vonnis en dat, watter vonnis ook al opgelê word, die veiligheidspolisie enige poging tot vertoë vir 'n vroeë ontslag sou steun. Sy behandeling in die gevangenis sou ook afhang van sy mate van samewerking met die veiligheidspolisie (ibid.). In Confessions (1984a: 48) vertel Breytenbach in 'n voetnoot dat so 'n onderneming gedoen is met die medewete van die hoogste gesag - naamlik Jimmy Kruger (die destydse minister van justisie) en die ‘Sitting Bull’ (die eerste minister) self.
Breytenbach se ‘skuldbelydenis’ in die hof en sy apologie aan min. Vorster verkry dus ander implikasies in die lig van hierdie ‘ooreenkoms’ met die veiligheidspolisie/staat. Uit die gesmokkelde tronkbriewe (Viviers, 1978: 98; 102; 128-129), opmerkings teenoor Adriaan van Dis ná Breytenbach se vrylating (NRC Handelsblad, 11.12.82) en Confessions (1984a: 47-49) blyk ook ander beweegredes vir sy belydenis. Hy wou nie een van die mense wat rondom sy saak aangehou en ondervra is, verkoop of brandmerk nie. Hy wou nie aan die staat die geleentheid gee om via sy saak 'n aanval te loods op NUSAS, die
| |
| |
Christelike Instituut en ander organisasies wat betrokke is by vakbondaangeleenthede nie, omdat die mense met wie hy saamgewerk het uit hierdie kontekste kom. Hy wou nie die jong Afrikaanse skrywers en studente vervreem nie. Hy kon hom nie voorhou as verteenwoordiger van die ANC nie, want hy het immers ondergronds in die organisasie gewerk. Hy wou nie sy familie onder groter druk plaas nie. Ook die psigologiese omstandighede van urelange ondervraging en eensame opsluiting het bygedra tot die deemoedige verklaring.
Wat ook al die redes daarvoor was, Breytenbach is oorreed om ‘saam te werk’ - in die proses het hy egter, soos Lazarus (1986: 179) dit stel, ‘“over-cooperated”, even to the extent of praising the Security Branch effusively for its treatment of him’. Hy het ten einde toegegee aan die druk en die ooreenkoms aangegaan met sy aanklaers. Ten spyte van hierdie ooreenkoms het latere pleidooie om opskorting van Breytenbach se vonnis nie geslaag nie.
Op 19 Augustus 1985 onthul die Pretoria News en The Star dat Breytenbach in 1975 verwag het om 'n effektiewe vonnis van slegs één jaar uit te dien in terme van die ooreenkoms wat hy met die staat aangegaan het. Die destydse minister van justisie het die ooreenkoms goedgekeur, maar het dit ontken ná Breytenbach gevonnis is. Die koerante het in besit gekom van beëdigde verklarings deur Breytenbach, Percy Yutar, Piet Henning en Johann Kriegler. Die terme van die ooreenkoms was: dat Breytenbach skuldig sou pleit op 'n gewysigde klagstaat; dat die staat dit sou aanvaar en op sy beurt 'n pleidooi vir die minimum vonnis van vyf jaar steun; dat Breytenbach nie soos 'n politieke gevangene behandel sou word nie, maar geregtig sou wees op die voorregte van 'n gewone gevangene - insluitende vroeë vrylating; dat die staat en die veiligheidspolisie 'n aansoek vir sy vrylating ná een jaar gevangenisstraf sou steun. Breytenbach se vrylating het egter eers ná sewe jaar plaasgevind toe sy regsverteenwoordigers begin het om regstappe te doen op grond van die verklarings wat hulle bekom het van die partye betrokke by die ooreenkoms. Yutar het wel in 1975 die pleidooi vir minimum gevangenisstraf gesteun, maar die regter het Breytenbach tot nege jaar tronkstraf gevonnis. Volgens die berigte in Pretoria News en The Star ontken min. Jimmy Kruger enige kennis van so 'n ooreenkoms: ‘It would have been impossible to make such a deal without a Cabinet decision.’ Yutar wou nie kommentaar lewer nie.
Volgens 'n ander berig in The Star (19.8.85) vertel Yutar in sy beëdigde verklaring, geteken 28 November 1979, van 'n besoek aan min. Kruger ná die verhoor om die inwerkingstelling van sy onderneming te bespreek. Yutar het geglo dat min. Kruger sy optrede goedgekeur het. Drie jaar later het hy en adv. Johann Kriegler die minister gaan spreek oor Breytenbach se vrylating op parool. Gedurende hierdie ontmoeting het die minister ontken dat Yutar hom voor die hofsaak geraadpleeg het; hy het ook gesê dat Yutar geen reg gehad het om so 'n ooreenkoms aan te gaan nie. Yutar ‘deeply resented Mr. Kruger's attitude’ (ibid.). In sý beëdigde verklaring vertel Piet Henning dat hy op die dag van Breytenbach se vonnis meegedeel is dat die hof moontlik 'n langer vonnis as een van vyf jaar kan gee. ‘We were told not to worry, since the real sentence was determined by the agreement.’ Breytenbach se verklaring in Desember 1979 lui dat hy gebly het by die voorwaardes van sy ooreenkoms met die staat.
| |
| |
Dit was vir hom 'n groot skok toe hy, in weerwil daarvan, tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis is. Hy het geglo sy tydperk van gevangenisstraf sou bepaal word deur die ooreenkoms en dat hy ná 'n jaar vrygelaat sou word. Die owerhede het egter nie net hierdie deel van die ooreenkoms gebreek nie, maar ook die onderneming dat hy nie soos 'n politieke gevangene behandel sou word nie. In sy verklaring sê Breytenbach se vader dat hy gedurende die verhoor deur Yutar meegedeel is dat Breytenbach nie langer as 'n jaar in die tronk sal wees nie as gevolg van sy goeie samewerking met die staat. Ten spyte van al hierdie verklarings het voorleggings deur Breytenbach se regsverteenwoordigers aan die nuwe eerste minister, mnr. PW Botha, misluk. In Maart 1979 het min. Jimmy Kruger parool aan Breytenbach geweier.
| |
VIII
Reaksie van die pers op die tweede verhoor
Die verhoor self en veral die gesmokkelde briewe wat as getuienis dien, sorg weke lank vir sensasionele hoofopskrifte in die Afrikaanse koerante. Volgens ‘verkrampte’ bronne is die keuse van opskrifte, vir menings, kommentaar, foto's en die beklemtoning van berigte alles deel van ‘'n beplande aksie van die pers om van linkse skrywers helde te maak, hoofsaaklik omdat hulle belangrike veranderingsagente is wat 'n nuwe politieke bedeling vir swartes wil bewerkstellig’ (Afr., 29.7.77).
Die amptelike (redaksionele) kommentaar op die hofuitspraak is egter veel meer bedees as die sensasionele belangstelling wat die verloop van die verhoor self uitgelok het - al dink alle waarnemers nie so nie. Die Afrikaner (22.7.77) beskuldig die ‘Regeringsgesinde Afrikaanse koerante’, sáám met die ‘Engelse koerante, linkse Afrikaanse skrywers en ander liberaliste’ daarvan dat hulle ‘gejubel het oor die uitspraak’ - ‘sowel Afrikaanse as Engelse koerante kon nie genoeg beskrywende woorde vind om die tonele na die regter se uitspraak aan die lesers oor te dra nie’. Dit is veral Rapport wat vanuit hierdie oord geroskam word oor die feit dat die blad deurgaans drie senior verslaggewers by die verhoor gehad het (onder andere die assistent-redaktrise Rykie van Reenen en die kunsredakteur Coenie Slabber) en dat daar die Sondag ná die hofuitspraak ‘drie volle bladsye aan die Breytenbach-saak en kommentaar gewy is’, afgesien van 'n berig op die voorblad en 'n eerste hoofartikel. Die Durbanse koerant Tempo (22.7.77) meen dat ‘as hierdie bladsye suiwer bedoel was om die uitspraak weer te gee of menslike aspekte van die verhoor te beklemtoon, sou niemand gekla het nie. Dit is per slot van rekening die taak van die pers om sulke dinge te doen. Maar die indruk wat geskep is, is eerder dat die koerante probeer om van Breyten Breytenbach 'n simpatieke figuur te maak, byna soos 'n martelaar. Dit kan nie gedoog word nie. Die feite is dat hy op sy ongelooflik
| |
| |
dom en kinderagtige manier probeer het om sy land te na te kom. Daarvoor kan niemand simpatie hê nie’. Volgens Die Afrikaner (29.7.77) ‘stem dit denkende mense tot kommer dat Afrikaanse koerante, wat moeitevol met die geld van Afrikaners opgebou is, vandag hulle simpatie gee aan linkses, die kritici en ondermyners van die sedelike waardes van die Afrikanervolk. Waarom moet 'n held gemaak word van 'n man wat in sy skryfwerk net afbrekend teenoor die Witman en die Afrikaner opgetree het en wat op politieke gebied geheul het met die magte wat rewolusionêre verandering in Suid-Afrika beoog?’
In werklikheid was 'n ‘verligte’ koerant soos Rapport se amptelike kommentaar op die hofuitspraak veel meer ingetoë as wat uitsprake hierbo laat vermoed. Al wys die koerant se voorbladberig (op 17.7.77) na die verskil in die bevindings tydens die twee verhore oor die sogenaamde Okhela-organisasie en dié se verhouding met die verbode ANC, en ook op die verskil in getuienis oor Breytenbach se beweerde ondermynende bedrywighede tydens sy besoek in 1973 aan Suid-Afrika, word in die redaksionele kommentaar bo alles klem gelê op die feit dat die ‘verloop van die verhoor weer eens die absolute onberispelikheid van die regspraak in Suid-Afrika bevestig het’. 'n ‘Newe-aspek’ van die saak wat volgens Rapport nou die aandag van politici moet kry, is die kwessie van verblyfreg aan Yolande Breytenbach: ‘Deur aan mev. Breytenbach verblyfreg te gee, kan ons ook ons politieke geloofwaardigheid, wat al 'n paar knoue weg het, 'n bietjie aansien gee’. Rykie van Reenen se artikels oor die verhoor in die rubrieke ‘Op die randakker’ en ‘Dink weer’ - wat veral vir Die Afrikaner aanstootlik was - beklemtoon wel die ‘human interest’-aspekte van die verhoor, maar is krities ingestel teenoor Breytenbach se geswig voor die ‘rewolusie-lokstem’ (‘Dink weer’, Rap., 26.6.77) en oor die ‘bitter pil van verraad’ wat ‘in hierdie dae verwerk moet word in verband met die skraal man met die warm, vinnige glimlag’ (Rap., 26.6.77). Die ‘verraad’ waarna Rykie van Reenen verwys, hou verband met uitsprake in die gesmokkelde briewe wat daarop dui dat Breytenbach se ‘belydenis’ en ‘ommekeer’ tydens die eerste verhoor nie ‘eg’ was nie. Sy hoop dat die verhoor implikasies mag inhou vir
‘die denke en geesteslewe en toekoms van die
land’ en beklemtoon die feit dat die uitspraak 'n mens weer (ná die ‘fantasie, verdigsel, verraad, teenverraad, verdraaiing en valse voorstellings’) ‘op die vaste grond van 'n geregtigheid gebring het wat die werklikheid in diepte en met deernis sien’, maar Breytenbach is vir haar 'n toonbeeld van iemand wat nié ‘volkome weerbaar’ is nie en bowenal ‘grensloos naïef’ (Rap., 17.7.77).
Die Noordelike dagblaaie beklemtoon in hulle kommentaar op die hofuitspraak almal die kwaliteit van die regspraak in Suid-Afrika en hulle voer almal redes aan tot verontskuldiging van die veiligheidspolisie se optrede in die saak. Die Vaderland (18.7.77) meen ‘die verhoor en vonnis van Breyten Breytenbach strek ons regbank tot eer’. Al het die ‘vraagtekens oor die Afrikaanse digter en die saak as geheel nie almal verdwyn nie’ (veral in die lig daarvan dat sulke ernstige aanklagte in die eerste plek teen hom aanhangig gemaak is en dat hy, by skuldigbevinding, die doodvonnis opgelê kon word), reken dié koerant dat 'n verguisende aanval op die veiligheidspolisie onbillik sou wees: ‘Die Veiligheidspolisie se hoop was dat die Breytenbach-korrespondensie voorbokke van Okhela
| |
| |
uit die buiteland na Suid-Afrika sou lok... 'n billike en begryplike optrede’. Die finale beslissing oor die aard van die aanklagte het ook nie by die veiligheidspolisie berus nie, maar by die Prokureur-generaal, advokaat Nothling. ‘Die gevolg van die mistasting met die aanklagte het nie ons regbank aangetas nie. Maar dit het wel skade gedoen aan die beeld van Suid-Afrika en sy Veiligheidspolisie.’ Willem de Klerk van Die Transvaler (18.7.77) verwys ook na die teenstelling tussen die vonnis en die uiters ernstige aanklagte wat dit kan laat lyk ‘asof 'n berg van 'n molshoop gemaak is’. As sake ‘in perspektief’ gesien word, moet egter in ag geneem word dat ‘die Veiligheidspolisie geprobeer het om ander lede van die beweerde Okhela-organisasie, die sogenaamde wit vleuel van die ANC, vas te trek’ - ‘oor van die metodes wat gebruik is, kan gedebatteer word, maar nie oor die oogmerk van die polisie om die veiligheid van die Staat en onskuldiges te verseker nie... die feit is dat Suid-Afrika te doen het met 'n Kommunistiese vyand wat hom nie aan aanvaarde norme steur nie’. 'n Rubriekskrywer van Hoofstad (19.7.77) glo die belangrikste uitvloeisel van die verhoor is ‘die demonstrasie van onpartydige regspraak deur 'n Suid-Afrikaanse Hooggeregshof... (wat) 'n voorbeeld (gestel het) van die blindheid van die gereg vir Staatsbelang en -wense. Die saak is op sy meriete... oorweeg en die uitspraak onbevrees deur die regter gegee.’
In teenstelling met die noordelike Perskor-koerante, spreek die dagblaaie van Nasionale Pers hulle ook uit oor ‘Breytenbach die digter’ of die implikasies van die verhoor vir die Afrikaanse literêre toneel. Vir Die Volksblad (18.7.77) is dit ‘jammer dat 'n Afrikaanse digter, wie se werke aan sommige universiteite voorgeskryf word en wat al hoë bekronings ontvang het, vir die tweede keer in die hof tereg moes staan op onder meer 'n aanklag ingevolge die Wet op Terrorisme’. Al is Breytenbach vrygespreek op dié aanklag, het dit wat in die hof aan die lig gekom het, ‘vrae laat ontstaan of sommige Afrikaanse skrywers nie die Afrikaanse taal wil gebruik vir literêr-politieke doeleindes wat nie met die volksbelang te versoen is nie’. Die ‘gees’ wat uit die gesmokkelde briewe straal en die ‘ruwe taalgebruik’ daarin kan volgens Die Volksblad ‘die Afrikaner se vertroue in die Afrikaanse skrywer, wat hom tog ook van geestesvoedsel moet voorsien, so 'n skok toedien dat die verhouding tussen volk en skrywer noodlottige skade berokken word’. In die lig van uitsprake in die briewe meen dié koerant dat dit nie sal pas om van Breytenbach 'n martelaarsfiguur te maak nie. 'n Pleidooi vir affirmatiewe of ‘neutrale’ kuns volg: ‘As die digter ook soldaat is, soos al gesê is, is dit seker nie te veel gevra dat die Afrikaanse skrywer ook vír Suid-Afrika die wapen sal opneem nie, is die minste wat hy kan doen om nie téén Suid-Afrika stelling in te neem nie’.
Die Burger (18.7.77) is bekommerd dat die Breytenbach-saak ‘die ernstige verwydering wat klaar tussen die Afrikaanse skrywer en die gemeenskap bestaan’, kan vergroot. Dié koerant meen dit is van kardinale belang om te besef dat die saak ‘teen die persoon Breytenbach was, en seer seker nie teen die Afrikaanse skrywerskorps as sodanig nie’. Die Burger meen daar is 'n dubbele gevaar daaraan verbonde as die verhoor en uitspraak gebruik gaan word om aksies ‘vir’ of ‘teen’ sekere aspekte van die Afrikaanse letterkunde te voer: ‘Dit kan die verdeeldheid en groepvorming wat tot dusver meer smorend as iets
| |
| |
anders onder die Afrikaanse skrywers gewerk het, laat voortduur en vererger. En dit kan die ongelukkige polarisasie tussen die Afrikaanse skrywers en die Afrikanervolk laat toeneem.’ Dié koerant beskryf die ‘kloof van vervreemding tussen skrywer en gemeenskap’ as die ‘bittere vrug van pogings om die literatuur te misbruik as 'n wapen in die Suid-Afrikaanse magstryd, om deur literêre aktivisme sekere politieke doeleindes te bereik’. Die redakteur van Die Burger (met sy lang tradisie van ‘verligtheid’) maak geen geheim van sy afkeurende gevoel teenoor ‘'n selektiewe literêre “establishment” (wat) deur 'n groep opstandiges tot stand gebring (is) wat met groot onverdraagsaamheid 'n bepaalde koers ingeslaan het en in die proses kleinerend losgetrek het teen die Afrikaner, sy instellings, sy gesag en selfs sy taal, wat die skrywers se medium vir die profetiese woord aan hul volk moet wees’. Die Burger se pleidooi is ‘vir die groot korps van Afrikaanse skrywers wat nog as vakmanne hul taak daarin sien om 'n eerlike literatuur te beoefen’ - dit beteken nie dat die literatuur 'n ‘susmiddel’ moet wees nie, wel ‘bestraffing’ wat die Afrikaner ‘wil red, nie verdelg nie’ (laasgenoemde wegwyser vir die aard van die literatuur word onderskraag met 'n verwysing na NP van Wyk Louw se Lojale verset).
Dit is opvallend dat nie een van die Afrikaanse koerante, wat tydens die eerste verhoor soveel klem gelê het op Breytenbach se ‘bekering’, nou daarna verwys in die lig van die onthullings daaroor nie.
| |
IX
Reaksie van ingeligte lesers op die verhoor met klem op die ‘betrokkenheidsdebat’
Met die verskyning van die eerste berigte dat Breytenbach weer verhoor gaan word op aanklagte dat hy uit die gevangenis probeer ontsnap en wette oor landsveiligheid oortree het, ontken sy skrywersvriende dat hulle hom gehelp het. Vir Uys Krige is dit natuurlik dat 'n man wat in die gevangenis is, sal probeer uitkom - maar hy het hom ‘beslis nie gehelp nie’; Ernst Lindenberg vind dit ‘'n baie snaakse ding’ dat Breytenbach onder streng bewaking met ander mense in verbinding kon tree - hy het hom nie gehelp nie; Ampie Coetzee en André P Brink (wat soos later sou blyk, betrokke was by die smokkeling van briewe) wil niks van die saak sê nie of verkies om te wag vir die hofsaak om te sien wat in die spel is voordat hulle kommentaar lewer. John Miles, daarenteen, is spyt dat Breytenbach dit nie reggekry het om te ontsnap nie. Bartho Smit, destydse voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, sê ‘dit sal bitter jammer wees as Breytenbach iets gedoen het wat sy saak verder versleg’; Etienne Leroux is ‘stomgeslaan’ (al hierdie skrywersreaksies is aangehaal in Vo., 11.5.77).
Ná die hofuitspraak is medeskrywers verheug oor die vonnis. Chris Barnard
| |
| |
is verlig oor die hele aangeleentheid: ‘Uit menslike oorwegings is dit goeie nuus dat Breyten op die hoofaanklag onskuldig bevind is. Ek kry daai ou eintlik verskriklik jammer.’ Jan Rabie meen die hele hofsaak was bedoel om ‘ons Afrikaanse skrywers by te kom... én in diskrediet te bring’. Breyten was ‘maar net 'n pion in die spel’ en ‘dalk was dit 'n illustrasie van die vyandskap van die owerheid teenoor die skrywer. Maar dit is 'n onverdiende ding teen die skrywer.’ Brink, wie se naam gereeld opgeduik het tydens die verhoor, se reaksie oor die ligte vonnis was: ‘Wragtie. Is dit so? Rêrigwaar? Dit is wonderlik.’ Hy meen dit is jammer dat die aanklagte teen Breytenbach nie vooraf deegliker deur die staat oorweeg is nie, ‘dan kon 'n hele onnodige saak vermy gewees het’, want die verhoor het Suid-Afrika ‘geweldig skade berokken’ - gelukkig is die ‘feit dat Breyten op sulke verspotte aanklagte verskyn het, deur die uitspraak reggestel’. Brink voeg daaraan toe dat hy dink ‘'n mens moet Breyten met 'n soort digterlike vryheid beoordeel. Sy lewe is eintlik 'n gedig en hy moet in dié lig beoordeel word’ (al hierdie reaksies is aangehaal in Tv., 16.7.77). Ampie Coetzee is baie verlig en dankbaar oor die uitspraak; hy ontken gerugte dat hy self onder groot persoonlike spanning verkeer het tydens die verhoor. Ofskoon hy meen dit is ironies dat so 'n groot saak aangepak is om tot só 'n uitspraak te lei, voel hy dat juis een van die goeie gevolge van die saak was dat die afsondering waarin Breytenbach aangehou is, aan die lig gekom het (Tv., 16.7.77).
Die verhoor en veral uitlatings en standpunte in die gesmokkelde tronkbriewe wat tydens die hofsaak openbaar gemaak word, gee in die tyd ná Breytenbach se tweede verhoor aanleiding tot 'n polemiek onder literatore en skrywers oor ‘betrokkenheid’ en die ‘kaping’ van Rapport se boekeblad. Dit sou in 1978 verder uitkring met die debat oor die rol van die Afrikaner-intellektueel tydens die verskyning van JC Steyn se Dagboek van 'n verraaier.
Die aanklaers in eersgenoemde polemiek meen die gesmokkelde briewe ‘bevat soveel verdoemende dinge op die gebied van letterkundige verhoudinge dat die literêre lewe vir 'n hele tyd vorentoe onmoontlik dieselfde sal kan wees as wat dit die laaste aantal jare was’, want hierdie briewe ‘het soos min ander dinge maskers afgeruk’ (Beeld, 18.7.77) en bewys gelewer van die ‘vals moraliteit’ van Breytenbach en die ‘klein groepie’ rondom hom (Vo., 27.6.77) wat ‘ou vriende in die rug steek’ (Beeld, 18.7.77). FIJ van Rensburg (Beeld, 18.7.77) verwys in hierdie opsig spesifiek na Chris Barnard, Bartho Smit en DJ Opperman wat so deur Breytenbach ‘in die steek gelaat is’. Die hofsaak en briewe het volgens Van Rensburg nie net die Afrikaanse literêre wêreld in 'n krisis gedompel nie, maar dit hou implikasies in vir die Afrikaner se geesteslewe as sodanig (Vo., 27.6.77). Dit was inderdaad 'n krisistyd vir ‘verligtes’ wat al meer onder verdenking geplaas is deur die gebeure rondom Breytenbach én vir die ‘betrokke’-literatuuropvatting wat nog steeds 'n ongemaklike alliansie probeer aangaan het met die outonomie-opvatting.
Tydens hierdie debat kon ‘aanklaers’ en ‘aangeklaagdes’ nie meer so maklik ingepas word in die tradisionele verdeling van ‘verkramp’ teenoor ‘verlig’ soos in die sestiger- en vroeë sewentigerjare nie. Teen hierdie tyd was ‘verlig’ reeds lankal die ‘verantwoordelike’ houding en albei kampe het hulle immers daarop
| |
| |
beroep. Die hoofaanklaers, literatore FIJ van Rensburg en Merwe Scholtz, verwerp albei ‘ekstremisme na beide kante’ en sien hulself as ‘ewewigtige’ (dit is ‘verantwoordelike’) Afrikaners wat kampvegters is vir 'n ‘kragtige, kreatiewe Afrikanerdom’ (Van Rensburg in Beeld, 20.5.77; Rap., 17.7.77; Vo., 20 en 22.8.77 en Scholtz in Rap., 24.7.77; ook die TV-debat van Van Rensburg en Scholtz). Van Rensburg spreek hom dan ook skerp uit téén die Nasionale Party se afwysende houding teenoor die letterkunde asook teen die sensuurstelsel (wat nie die werk as ‘geheel’ in ag neem nie) en hy pleit vir 'n ‘vrugbare, waarlik oop verhouding’ van die Afrikaanse kerke en kultuurliggame met die kuns (Beeld, 20.5.77). Die ‘aangeklaagdes’ in die debat (Breytenbach en ‘die klein groepie rondom hom’) is volgens die aanklaers 'n groepie ‘aktiviste’ in opstand teen die landsbestel en daarop uit om die Afrikaanse taal te verneder (Van Rensburg, Rap., 16.6.77).
In werklikheid is die meeste aangeklaagdes in die ‘betrokkenheids’-debat nié ‘radikaal linkses’ nie - hoogstens ‘betrokke verligtes’, effens links van die ‘ewewigtige verligtes’. Die hoof-aangeklaagde in die debat, André P Brink, het hom immers, soos ander verligte Sestigers, in die tyd ná Breytenbach se eerste verhoor onomwonde gedistansieer van Breytenbach se ‘radikale politiek’. Soos die ander Sestigers het Brink Breytenbach se ‘bekering’ aangegryp as bewys dat sy soort radikalisme ‘futiel’ is - Brink het hom in die openbaar uitgespreek vir ewolusie, geleidelike verandering, détente en daarop gewys dat die verligte Sestigers al deel is van die nuwe, uitgebreide ‘Afrikanerlaer’.
Naas persoonlike aanvalle van albei kante (wat hier ter syde gelaat word), kom bepaalde argumente voor by die ‘aanklaers’.
Hulle het dit bowenal teen ‘betrokke’ letterkunde. Van Rensbureg meen die literatuur is deur die gedagterigting van ‘betrokkenheid’ misbruik ‘vir doeleindes waarvoor dit nie bestem is nie’ omdat dit die letterkunde ‘tot 'n sosiaal-tegniese instrument’ omskep sodat dit ‘'n wapen in die magstryd van die land’ kan word (Rap., 17.7.77). Scholtz het dit teen Brink en Breytenbach se ‘variëteit van betrokkenheid’ wat nie meer die ‘saak van die letterkunde’ dien nie (Rap., 24.7.77). Hulle is albei gekant teen die deureenspeling van kuns en werklikheid; teen 'n opvatting wat Van Rensburg omskryf as een wat die kuns ‘konfrontasie laat opsoek met die elkedagse werklikheid (en) die grens tussen kuns, politiek en die ander groothede van ons tydgenootlike wêreld volkome uitwis’ (Beeld, 23.7.77). Hulle het dit teen die verheffing van die ‘Brink-Breytenbach-gesigspunt’ (‘betrokkenheid as gedagtegang’) tot ‘kriterium vir literêre noodsaaklikheid en belangrikheid’ (Scholtz), dit wil sê teen ‘monopolievorming’ ten opsigte van 'n bepaalde literatuuropvatting (Van Rensburg).
Volgens hierdie waarnemers het die letterkunde 'n ‘eiendomlike funksie’ en hoort dit tot ‘'n gebied en 'n vlak wat geen ander grootheid s'n is nie’ (Van Rensburg, Rap., 17.7.77 en Beeld, 23.7.77). Scholtz glo daar is genoeg skrywers en lesers wat ‘weet waar dit om gaan in literatuur wat werklik sy sout werd is’ (Rap., 24.7.77). Hierdie ‘eiendomlikheid’ word egter nie uitgespel in die betrokke artikels nie. Aanduidings van wat hulle beskou as literêre kriteria kom egter wel voor. Volgens Scholtz se uiteensetting van werke wat waarlik tél onder
| |
| |
die eietydse literatuur, lyk dit of die tyd bestee aan die skryf van 'n werk iets met die grootheid daarvan te make het (André P Brink, in Rap., 24.7.77, verwyt Scholtz daaroor dat hy só 'n maatstaf tot waardekriterium verhef); Van Rensburg weer meen dat ‘eensydigheid’ afbreuk doen aan 'n literêre werk: ‘Wat noodsaaklik is, is 'n helder, oop oog, wat bereid is om na álle kante te kyk.’ (Brink verwerp in bogenoemde artikel een-, twee of veelsydigheid as literêre kriterium.)
Etienne Leroux (Vo., 25.7.77) meen die ‘behoudende literatore’ eis van die skrywer om ‘ter wille van sy kunstenaarskap die drif van die sosiopolitieke werklikheid as mens afsydig (te) aanvaar’ - die volk daarenteen eis dat ‘die skrywer hulle besonder politieke siening moet verwoord’. Die eise oor die ‘eiendomlike’ van die literatuur van die kant van Van Rensburg en Scholtz is egter nié so polities-belangeloos (dit wil sê ‘ideologievry’) nie. Van Rensburg eis immers van die letterkunde dat dit ter uitbouing van ‘'n kragtige, kreatiewe Afrikanerdom’ moet dien (in teenstelling met die ‘ondermyning’ van die staat) én ter opheffing van Afrikaans (kyk hierbo aangehaalde artikels en briewe). Al is Scholtz teen 'n ‘geburokratiseerde’ letterkunde en een wat ‘bloot welaangenaam, skokvry en verliteratuurd’ is, het hy dit teen 'n bepaalde ‘variëteit van betrokkenheid’. Dit impliseer dat 'n ánder ‘variëteit’ (affirmatiewe letterkunde? lojale verset?) wel aanvaarbaar sou wees.
Enkele fasette uit die ‘aangeklaagdes’ se reaksie word hier uitgelig omdat dit implikasies inhou vir literatuuropvattings en die ideologiese ingebedheid daarvan.
Die hoof-aangeklaagde ten opsigte van die eensydigheid van die Rapport-boekeblad, Brink, ontken dat hy ‘betrokkenheid’ as literêre kriterium gebruik. Hy beroep hom daarop dat hy ‘op suiwer literêre gronde’ waarde-oordele uitspreek en dat die kriterium wat vir hom saak maak ‘die kwaliteit van voorstelling’ is (of dit verskil of gelyk is aan wat Van Rensburg die ‘eiendomlike’ van die literatuur noem en Scholtz ‘dit waaroor dit werklik gaan in goeie literatuur’ is nie duidelik nie, maar die klem is tog wel op ‘literatuur as literatuur’). Waar Brink wel 'n werk ‘literêr swak’ gevind het, maar tog ‘relevant vir die groot debat oor Suid-Afrika’ stel hy dit dat hy ‘duidelik onderskei tussen literêre maatstawe en die politieke of ander opinie’. Hy verwys na vroeëre uitsprake deur homself om die aanklag te weerlê dat hy ‘betrokke literatuur wou/wil verhef tot eksklusiewe rigting’ (Rap., 7.8.77).
Die aangeklaagdes beroep hulle, soos hulle aanklaers, op 'n skeiding van letterkunde en kwessies ‘rondom’ die literatuur. Lindenberg (Beeld, 19.7.77) neem Van Rensburg kwalik dat hy hom besig hou met ‘die vuil bedryf rondom die kuns’ en raai hom aan om liewer oor Breytenbach se werk in 'n vaktydskrif te skryf. Brink (Beeld, 19.7.77) meen Van Rensburg is ‘besig met nie-literêre ekshibisionisme’ en hy distansieer hom daarvan. (HCT Müller, Beeld, 21.7.77, en Van Rensburg, Beeld, 23,7.77, vind dit albei vreemd dat sulke verwyte kom van mense wat juis die kuns ingetrek het in die gebied van dinge rondom die kuns in die alledaagse werklikheid.) Lindenberg (Rap., 31.7.77) herinner Van Rensburg daaraan dat hy wat Lindenberg is in 1974, tydens die Hertzogpryspolemiek oor Skryt, onderskei het tussen Breytenbach die mens ‘wat skuldig
| |
| |
bevind is’ en die skrywer wie se werk en die betekenis daarvan nie aangetas is deur wat gebeur het nie. Hy beklemtoon dit dat ook Breytenbach se beskouings niks te make het met die gehalte van sy werk nie. Die implikasie is dus dat, ook vir Brink, die letterkunde ‘outonoom’ is. Hy self spel egter nie in hierdie debat uit hoe hy wel die verhouding fiksie/werklikheid in die ‘betrokke’ werk sien nie sodat die debat nooit in 'n werklike besinning oor verhoudinge soos literatuur en samelewing, skrywer en samelewing of skrywer en literatuur ontwikkel nie ('n verwyt wat Brink op sy beurt voor die deur van sy aanklaers lê).
Die aangeklaagde ‘aktiviste’ is self ideologies gekant teen Breytenbach se radikalisme (vergelyk uitsprake hierbo aangehaal) - selfs Chris Barnard (Rap., 31.7.77) wat meen daar moet vir alle soorte stemme plek wees in die koor en Etienne Leroux (Vo., 25.7.77) wat, alhoewel hy ‘so what?’ vra ten opsigte van die feit dat daar onder Afrikaanse skrywers diegene is wat op die politieke spektrum wissel van regs tot radikaal links, rewolusionêre/radikale/gewelddadige ingrype as verraad afkeur.
Al sou sommige dit in latere tekste doen, gee die ‘betrokke verligtes’ nêrens in hierdie debat aanduidings van wat hul ‘betrokkenheid’ presies behels nie. In die lig van vorige polemieke en die afwysing van ‘rewolusionêre ingrype’ is dit ‘lojale verset’ waarop hulle hul, net soos hulle ‘ewewigtige’ verligte aanklaers, beroep. In hierdie verband kan ook daarop gewys word dat die skrywers wat tydens die eerste verhoor Breytenbach se ‘bekering’ aangegryp het as bewys van die ‘futielheid van geweld’ nou heeltemal swyg oor die feit dat dit ‘vals’ bewys is (en Breytenbach dus nog by sy ou politieke insigte bly).
‘Aanklaers’ en ‘aangeklaagdes’ in hierdie polemiek word dus gebind deur gedeelde uitgangspunte en doelwitte. Die verskille tussen die twee kampe lê daarin dat verskillende variante van die outonomie-opvatting ter sprake is (in die geval van die skrywers was hul skeppende aktiwiteit in der waarheid hul ‘teoretiese’ literatuuropvatting voorúít) en dat daar ideologiese graadverskille bestaan het ten opsigte van wat gesien is as ‘lojale verset’.
Johl (1986) wys op hierdie variante in die outonomie-opvatting. Scholtz was 'n grondlegger van die Stilistiek op Linguistiese Grondslag, 'n dissipline wat aanvaar dat die literêre werk 'n objektiewe bestaan het; dit is 'n ‘gevormde vorm’ wat deur organisasie tot onafhanklikheid of selfgenoegsaamheid geïsoleer is (op.cit.: 51-61). By Van Rensburg val die klem op die aspek van (strukturele) organisasie waardeur werklikheidsmateriaal of verbeeldingsmateriaal deur bemiddeling van die taalmedium in 'n nuwe bedoelingsgeheel verenig word (op.cit.: 61-68). Ook vir Lindenberg is eenheid (konsentrasie of hegte integrasie) 'n waardekriterium. Ten opsigte van die verhouding teks en werklikheid teleskopeer hy twee teoretiese modelle: Coleridge se organisme-metafoor en 'n mimesis-standpunt (op.cit.: 68-71). Gedurende die sestiger- en sewentigerjare is Brink se literatuurbeskouing gerig deur 'n mimetiese of 'n mimeties-kreatiewe instelling waarvolgens die teks 'n nuwe, 'n ‘seepbelwêreld’ was waarin die ‘buitewêreld’ binne die moontlikhede en grense van die taalmedium herskep word (op.cit.: 107-114).
| |
| |
| |
X
‘Détente’, hervorming en onderdrukking van dissidensie
Oorsigberigte in die pers beskryf teen die einde van 1975 dié betrokke jaar as ‘'n rooiletterjaar in die Suid-Afrikaanse politiek (wat) gewissel het van détente-suksesse tot stembusteleurstellings vir die Regering; van die kleurlingkrisis tot die inflasie- en onderwyskrisis’ (Va., 10.12.75); 'n jaar van ‘ekonomiese resessie, geweld en terrorisme’ (Tv., 31.12.75) en 'n jaar waarin ‘die skadu van die Kommunistiese Rooi Beer oor al groter dele van die wêreld geskuif het - ook oor Angola en Suid-Afrika’ (Vo., 30.12.75). In teenstelling met die hoop dat 1976 'n beter jaar sou wees vir Suid-Afrika, word dit toe ‘een van die moeilikste jare in sy geskiedenis’ (Tv., 25.12.75), een waarin die regering deur die ergste ekonomiese, diplomatieke en strategiese terugslae in sy onlangse geskiedenis getref is (TW., 21.12.76) en wat onthou sal word vir geweld op die grense, onrus in die stede, verlaagde lewenstandaard en onomkeerbare inflasie (FM., 24.12.76). Die jaar 1977 bring toenemende isolasie van die buitewêreld - en wapenboikotte teen die land (TC., 27.12.77); binnelands word die verpligte militêre dienstydperk verdubbel, toegeslaan op dissidente organisasies en koerante en 'n vlaag protes ontketen deur die Biko-tragedie (WP., 31.12.77) - dit word die jaar ‘waarin swart onluste voortgewoed het en waarin die Regering van sy buitengewone magte gebruik moes maak om ondermyners aan die man te bring’ (Hoofst., 30.12.77). Dié drie jaar word afgesluit met 'n rekordoorwinning vir die Nasionale Party wat die anti-Carter-sentiment uitbuit en 'n buitengewone verkiesing uitroep om sy mandaat te bevestig. Teen 1978 was daar duidelike aanduidings van interne spanninge in die Party en met die
breekspul van die ‘Inligtingskandaal’ kom die Vorster-era in die Suid-Afrikaanse
politiek tot sy einde.
Gedurende 1975 verbind die eerste minister homself en die regering tot 'n ‘strewe na vrede, samewerking en ontwikkeling’ in Suider-Afrika en in Afrika as 'n geheel. Met betrekking tot sy binnelandse program van aksie stel hy dat die derde fase van die apartheidsbeleid nou aangebreek het waarin die klem val op ‘onafhanklikheid’ aan ‘tuislande’, die hoeksteen van ‘aparte ontwikkeling’ (SAIRR, 1976: 1-2). Die Transkei word op 26 Oktober 1976 die eerste tuisland met onafhanklike status. Die feit dat Transkeise burgers hul reg op Suid-Afrikaanse burgerskap moet prysgee, lei tot 'n gesamentlíke verklaring van die ander selfbesturende tuislande dat hul nie van voorneme is ‘to opt for so-called independence’ omdat hulle nie bereid is om hul geboortereg as Suid-Afrikaners en hulle deel ‘of the economy and wealth we have jointly built’ prys te gee nie (SAIRR, 1977: 3-4). Tog aanvaar president Lucas Mangope op 6 Desember 1977 onafhanklikheid vir Bophuthatswana; in 1978 word Venda die derde onafhanklike tuisland. Grondeisgeskille, veral van die kant van Transkei en Ciskei, versomber voortdurend die tuisland-scenario. Die VVO verwerp Transkei as toekomsmodel vir groot-apartheid, veral op grond van die feit dat die
| |
| |
grondverdeling ten opsigte van die ‘tuislande’ die blankes met die grootste deel van Suid-Afrika laat, asook met die vernaamste hulpbronne en industrieë, terwyl die arm en afgeleë streke aan die swart bevolking toebedeel is (Van Jaarsveld, 1982: 598).
Breytenbach verwys na die ‘tuislandbeleid’ as deel van die ‘verdeel-en-heersstrategie’. Einde 1972 het hy voorspel dat 'n ‘skyn van territoriale onafhanklikheid’ verleen sal word, maar dat die ‘onafhanklikheid’ by gebrek aan ekonomiese lewensvatbaarheid 'n leë begrip sal bly. Die ekonomiese mag sal in die hande van die wit minderheid en/of van die buitelandse kapitaliste bly. Die etniese verskeidenheid van die swart volk word dus deur die maghebbers misbruik (1972e: 67).
Die val van die Portugese koloniale ryk in Afrika en die instelling van swart (tussentydse) regerings in Mosambiek en Angola lei tot 'n herformulering van Vorster se streekstrategie. Een aspek daarvan behels 'n verdere uitbreiding van militêre magte (Davies, 1984a: 182). 'n Ander was die begin van 'n nuwe diplomatieke politieke inisiatief wat bekend staan as détente (die beleidsrigting waaroor Brink so positief is in die tyd rondom die eerste Breytenbach-verhoor). Volgens Van Jaarsveld (op.cit.: 569-570) was min. Vorster se bedoeling ‘'n ontspanningsbeleid in Suider-Afrika en 'n vredesoffensief... wat 'n vreedsame naasbestaan kon verseker en 'n einde maak aan die guerillabedrywighede’. Davies (1984a: 44) daarenteen meen détente was ‘orchestrated and conceived by BOSS’ en die doelwit daarvan was ‘a search for influential allies within the Organization of African Unity’. Omkoopprosedures, geheime diplomatieke kontakte (dikwels gereël deur BOSS se kontakte in Westerse intelligensiedienste), besoeke deur minister Vorster aan 'n paar Wes-Afrika-lande en 'n ontmoeting met pres. Kaunda van Zambië (Breytenbach verwys in 'n gesmokkelde brief na hierdie voorval - Viviers, 1978: 98) is (saam met geringe binnelandse aanpassings ten opsigte van ‘klein apartheid’) gebruik ‘to give credence to “dialogue” as a viable alternative to “confrontation”’ (Davies, 1984a: 44).
Ten spyte van aanvanklike suksesse het die détente-beleid in 1976 misluk as gevolg van twee gebeurtenisse: Suid-Afrika se betrokkenheid in die Angolese burgeroorlog gedurende Oktober 1975 tot Maart 1976 en die Soweto-opstande van 16 Junie 1976 tot 19 Oktober 1977 (Van Jaarsveld, 1982: 576). Die Suid-Afrikaanse inmenging in die Angolese burgeroorlog, was strydig met min. Vorster se verklaarde buitelandse beleid om nie in buurstate in te meng solank hulle nie met Suid-Afrika se sake inmeng nie. Op 20 November 1975 is bekend gemaak dat Suid-Afrikaanse troepe die grens na Angola oorgesteek het ‘om die waterwerke by Ruacana en Calueque te beskerm’. Die pers is ingevolge die Verdedigingswet gedwing om terughoudend te skryf oor die mate waarin Suid-Afrika by die stryd in Angola betrokke was (vergelyk oorsigberigte in Va., 10.12.75 en Beeld, 27.12.75). Die regering het ook nie die wêreld uitvoerig ingelig oor sy steun aan die UNITA/FNLA-alliansie, as teenvoeter vir Russiese ondersteuning aan die MPLA, nie. Die ongunstige reaksie wat die Suid-Afrikaanse inmenging vanuit die swart Afrikastate ontlok het (op grond van hul volslae afkeer van apartheid) en die teëstand van die VSA-Senaat teen betrokkenheid in die Angolese konflik, lei tot 'n Senaatsbesluit gedurende die
| |
| |
Januarie 1976-sitting van die kongres om wapenhulp aan die UNITA/FNLA te verbied. 'n Gedeeltelike onttrekking van Suid-Afrikaanse troepe begin op 21 Januarie. Teen middel Februarie het die MPLA die grootste deel van Angola beheer en die totstandkoming van die Volksrepubliek van Angola afgekondig. Teen Junie dieselfde jaar plaas gebeure binne Suid-Afrika self die finale demper op détente-inisiatiewe.
Terwyl Breytenbach in die tronk gesit het vir sy ‘pogings tot verwoesting van die Suid-Afrikaanse bestel’ het sy broer Jan in Angola geveg teen ‘die terroriste en Rooi magte wat suidwaarts aan die aanspoel was’. In 1964, toe Breyten gedebuteer het, het sy broer die sogenaamde ‘Recce’-kommando gevestig; in dieselfde maand toe Breyten gearresteer is, het Jan op 'n geheime sending na Angola vertrek - sy opdrag was om 'n nuwe taakmag in die suide van Angola op die been te bring ‘om terrorisme en geweld teen Suid-Afrika te bestry’. Teen die tyd dat onafhanklikwording op 11 November 1975 aanbreek, het sy taakmag reeds verseker dat die grootste deel van Angola in die hande van Suid-Afrikaanse en FNLA-magte was (Van Wyk, Hg., 29.6.86; Jan Breytenbach, 1986).
Die datum van Breytenbach se eerste verskyning voor regter Cillié in 'n summiere verhoor op aanklagte ingevolge die Wet op Terrorisme, naamlik 21 November 1975, volg op die bekendmaking dat Suid-Afrikaanse troepe die grens na Angola oorgesteek het. Eers tydens sy tweede verhoor word een van die redes duidelik waarom Breytenbach so geredelik skuld erken het op die aanklagte teen hom tydens die eerste verhoor. Hy is naamlik, soos reeds uiteengesit, deur die veiligheidspolisie oorreed (gerugsteun deur 'n belofte van 'n minimum vonnis en vroeë vrylating) om nie 'n ‘politieke aangeleentheid’ van sy saak te maak nie. Indien Breytenbach wel van die hofsaak gebruik sou gemaak het om die wêreldaandag te vestig op die apartheidsbeleid, kon dit 'n verleentheid skep vir die regering wat toe juis aan die een kant ‘amptelik’ besig was met sy détente-offensief en, aan die ander kant, sy ‘nie-amptelike’ inmenging in 'n buurstaat se sake. In Confessions (1984a: 48) betrek Breytenbach die feit dat hý nie toegelaat was om 'n ‘political showtrial’ van sy saak te maak nie direk op die Angolese offensief:
You must remember that the trial took place during the ‘secret’ invasion of Angola by South African troops. What a heavensent gift, propagandawise at least, my capture must have been to the government! No wonder such a big fuss of it was made in the papers. (Poor editors - prevented by law from writing about the real war being waged.) If, as a bonus, I could be prevented from using the court as a political platform - well, then the good little Nationalists could really wag their tails. (And, come to think of it, when one now remembers how much backstabbing there was going on between the CIA and the Greys concerning Angola, it becomes clear why BOSS was so uptight and anti-CIA).
In die briewe wat Breytenbach en Schoon in die tronk aan mekaar skryf, is daar verwysings na die gebeure in die Portugese kolonies. Schoon skryf byvoorbeeld: ‘Jy weet seker dat daar nou Marxistiese regerings in Angola en Mosambiek is. Die onverbiddelike kom al hoe nader en jy en ek gaan nog saam in die strate
| |
| |
dans wanneer ons ons land se bevryding vier’ (Viviers, 1978: 140). In 'n brief aan Schoon verwys Breytenbach na ontwikkeling rondom ‘Zimbabwe’ en ‘Namibië’ en die opbou van Kubaanse troepe op die Angola-Namibië grens (op.cit.: 143).
'n Waarnemer soos Van Jaarsveld (1982: 605) sien die val van die Portugese kolonies in die lig van die feit dat dit ‘Swart-Afrika tot teen Suid-Afrika se grense laat vorder het’. Die mislukking van Vorster se vredesoffensief in Afrika het gewig verleen aan die eertydse minister van verdediging, PW Botha, se siening dat die land se militêre mag uitgebrei moet word op die beginsel ‘wie vrede wil hê moet vir oorlog voorberei’ (op.cit.: 599). Sedert 1976 ‘voer Suid-Afrika (dus) in 'n tyd van dekolonisasie 'n Derde Vryheidsoorlog van lae intensiteit teen Swart-imperialisme om sy behoud, soos hy in die 19e eeu 'n Tweede Vryheidsoorlog teen die Britse ryk in 'n tyd van Blanke-imperialisme moes voer’ (op.cit.: 605). Davies (1984a: 44-45) glo dat die ineenstorting van die détente-streeksbeleid senior militêre strategiste tot 'n kritiese herevaluasie van die streeks- en veiligheidsbeleid gebring het: ‘These criticisms covered both important aspects of the organisation of military interventions in the regions and the existing approach towards winning regional allies, which relied on influencing individual “decision makers” rather than the objective environment within which decisions were made.’ In die 1977 Verdedigingswitskrif - die dokument waarin hierdie generaals vir die eerste keer 'n uitleg gee van en 'n beroep doen op die aanvaarding van hul ‘Totale Strategie’ - is geargumenteer dat die mobilisasie van sowel ekonomiese, politieke én ideologiese as militêre hulpbronne nodig is om die belange van die apartheidstaat te verdedig en te bevorder sowel op streek- as op binnelandse vlak. Dit is hierdie ‘totale beleid’ wat die hoeksteen van die ‘Nuwe Bedeling’ sou word.
In 'n tyd van toenemende isolasie, stygende inflasie en groeiende ontevredenheid onder die bruin en swart Suid-Afrikaners word die binnelandse politieke beleid van die laaste Vorsterjare gekenmerk deur twee pole: aan die een kant was daar stappe ter afskaffing van diskriminerende maatreëls, sogenaamde ‘klein-apartheid’; aan die ander kant (veral ná die Sowetoopstand) is dissidensie op al groter skaal onderdruk.
Sedert 1975 word doelbewus gewerk in die rigting van meer buigsame maatreëls ten opsigte van die toelating wat bruin- en swartmense in hotelle, gelisensieerde restaurante en teaters in blanke gebiede (die ‘oopstel’ van die Nico Malan-teater ontketen aanvanklik heelwat protes). Op sportgebied word ‘gemengde’ uitnodigingspanne toegelaat om teen oorsese rugby- en kriekettoergroepe te speel. Die regering doen stappe om die loongaping tussen die verskillende bevolkingsgroepe te vernou; werkreservering in die boubedryf en elders word verslap; opleidingsfasiliteite vir swart werkers word uitgebrei; swartes word opgeneem in die rade van tuislandkorporasies en tuislandleiers word uitgenooi om voorstelle in te dien ten opsigte van toestromingsbeheer; stedelike swartes word toegelaat om grond te bekom in terme van 'n huurpagstelsel en professionele swartes en handelaars om hul eie spreekkamers, winkels of kantore in stedelike gebiede te besit. Verskillende kommissies word in hierdie tyd aangestel om bepaalde knelpunte te ondersoek en aanbevelings te maak - | |
| |
die Theron-kommissie ten opsigte van sake rakende die ‘Kleurling’-gemeenskap; die Wiehahn-kommissie ten opsigte van wetgewing wat verband hou met arbeidsverhoudinge; die Riekert-kommissie ten opsigte van alle ander wetgewing wat verband hou met die benutting van mannekrag (SAIRR, 1976: 3-4; SAIRR, 1977: 4-5; SAIRR, 1978: 5-6).
Ten spyte van hierdie aanpassings was daar teen 1976 nog geen amptelike beleid vir die swartes binne ‘wit’ stedelike gebiede nie; hulle is gesien as ‘uitlanders’ of vreemdelinge uit die tuislande. ‘Dit het duidelik geword dat polarisasie en konfrontasie tussen Blank en Nie-Blank dreig’; ‘die skrif was aan die muur’ en op 16 Juie 1976 beland die Nasionale Party ‘in een van sy grootste krisisse sedert 1948’ met die Soweto-opstand wat tot 19 Oktober 1977 landwyd uitgebrei het (Van Jaarsveld, 1982: 587 en 593).
Die onmiddellike oorsaak van die Soweto-opstande (vir 'n uiteensetting van gebeure sien SAIRR, 1976: 51-82) was die druk wat op swart skoliere geplaas is deur die ‘Bantoe-onderwys’-sisteem (wat met sy onderbegroting gelei het tot oorvol skole en verslegtende studie-omstandighede) wat die apartheidsideologie afgedwing het op 'n toenemend stellinginnemende en militante studentegemeenskap. Die breekpunt het gekom met die afkondiging dat Afrikaans die medium van instruksie moet wees vir die helfte van die vakke wat aangebied word by swart sekondêre skole.
Terwyl hy in eensame aanhouding is, verneem Breytenbach brokkies nuus oor die Soweto-opstande en verwys hy daarna in sy gesmokkelde tronkbriewe (Viviers, 1978: 98, 105, 106, 126, 143, 148-149). In 'n brief aan Breytenbach sien Brink (op.cit.: 166) die opstande as die begin van ‘die omwentelinge’: hy meen 'n uitbarsting gaan die verskriklikste wees juis vir dié wat klaar die swaarste kry en vra: ‘Is die die moeite werd om 'n land te beërwe as hy lyk soos Viëtnam?’ Breytenbach sê aan Schoon: ‘Things seem to be moving, however desperately - and at what bloody cost will it be? How I'd love to be outside’ (op.cit.: 98).
Volgens waarnemers soos Davies (1984a: 34) het die 1976-opstande ingrypende effekte gehad op sowel die toekomsrigting van massaverset as die reaksie van die dominante groepe. Belangrik ten opsigte van die massaverset was dat groot getalle deelnemers aan die 1976-opstande besef het dat die bestaande metodes van verset ontoereikend is. Ná Soweto het duisende jong swartmense die land verlaat op soek na militêre opleiding. Die meeste van hulle het aangesluit by die ANC en sy militêre vleuel Umkhonto we Sizwe. Dit, saam met die veranderde streeksituasie, het gelei tot 'n herlewing van gewapende stryd in Suid-Afrika - nou op 'n baie groter skaal as vroeër. Massaverset sedert Soweto was egter nie beperk tot die gewapende stryd nie. Behalwe vakbonde het 'n groot aantal nuwe gemeenskapsorganisasies en burgerlike verenigings (sowel wettiges as semi-wettiges) ontstaan, terwyl talle van dié wat vroeër bestaan het aanpassings gemaak het. Die belangrikste kenmerk hiervan was 'n swaai na die werkersklas wat nodig was om die massabasis te vergroot wat nodig is vir die groei van die versetbeweging.
Van die kant van die Nasionale Party-regering is die swart opstande ‘deur doeltreffende polisie-optrede gedemp’ en die kabinet het onderneem om ‘wet
| |
| |
en orde met krag te herstel, maar geen aanduiding van 'n ingrypende koersverandering gegee nie’ (Van Jaarsveld, 1982: 593). Sedert 1975, en toenemend sedert die Soweto-opstande, het die regering hom gewend tot verskerpte veiligheidsmaatreëls en die getal aangehoudenes het toegeneem: gedurende die tydvak Junie 1976 tot September 1977 is 2 430 mense aangehou (SAIRR, 1978: 144), onder wie die Swart Bewussynsleier Steve Biko wat in opspraakwekkende omstandighede in aanhouding sterf. Al meer persone en organisasies is ‘stilgemaak’ deur hulle te verban, of in te perk, soos in Oktober 1977 gebeur met die Christelike Instituut en sewentien Swart Bewussynorganisasies.
Onder dié persone wat in 1975 gevonnis is, was twee wittes: Raymond Suttner, 'n senior dosent in regte aan die Universiteit van Natal, wat skuldig bevind word aan oortreding van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en tot 7½ jaar gevangenisstraf gevonnis word (SAIRR, 1976: 63) en Breytenbach. (Breytenbach verwys na Suttner in Viviers, 1978: 130 en 1984a: 225.) 'n Aantal blankes word rondom die Breytenbach-saak aangehou. Dit gee aanleiding tot 'n vlaag van protes teen aanhouding sonder verhoor. ('n Berig in Bu., 27.11.75 gee 'n oorsig van die kommentaar wat op protesvergaderings en elders gelewer is.) Petisies en ope briewe aan die minister is geteken deur akademici van die Universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand.
Ook ander onderdrukkende maatreëls word ingespan, soos die verbanning van mense uit die land (SAIRR, 1976: 46; SAIRR, 1977: 106), die weiering of terugtrekking van reisdokumente (ibid.), die kontrole op publikasies en vermaak en die dreigement van die instelling van 'n Koerantwetsontwerp in terme waarvan die regering beheer oor die pers sal kan uitoefen deur die instelling van 'n statutêre perskode en persraad (SAIRR, 1978: 3). Op 19 Oktober 1977 word dan ook direk ingegryp in die perswese toe die swart koerant The World verbied word en sy redakteur Percey Quboza in aanhouding geneem is.
Die tyd sedert 1975 word ook, naas toenemende swart ontevredenheid en onderdrukking van die kant van die dominante groep, gekenmerk deur verskuiwings in die blanke politiek. Vorster se beleid van ‘versagting van apartheid’ het nie oorgegaan tot ‘opsienbare snelle veranderinge’ nie, omdat hy, in die lig van die stryd tussen die ‘verligte’ en ‘verkrampte’ vleuels van sy party ‘nie in die geskiedenis (wou) deurgaan as 'n man wat Afrikanervolkseenheid verbreek het nie’ (Van Jaarsveld, 1982:578). In hierdie tyd was daar egter veral twee belangrike politieke kragte binne die wit magsblok wat ‘hervorming’ wou bespoedig. Davies (1984a: 37-38) noem dié kragte ‘monopoly capital’ (wat toenemend 'n alliansie tussen Afrikaner en nie-Afrikaner monopolieë geword het) en die ‘top echelons of the military’. Eersgenoemde het aangedring op die afskaffing van bepaalde openlike vorme van diskriminasie en die verslapping van maatreëls ten opsigte van die vertikale en horisontale mobiliteit van arbeid en werksopleiding. Voorste militêre verteenwoordigers beskou sommige aanpassings as noodsaaklik vir die versekering van 'n militêr weerbare staat. Dit was veral ná 1976 dat daar toenemende politieke samewerking tussen hierdie twee groepe gekom het.
Gedurende 1977 het die verligte vleuel 'n openbare debat aan die gang gesit
| |
| |
oor 'n nuwe grondwetlike bedeling. Die gedagte was om af te sien van die Westministerstelsel en 'n grondwet wat aangepas is by die veelrassige bevolkingstruktuur van Suid-Afrika in te voer. Dit sou neerkom op drie gelykwaardige parlemente (vir blankes, bruines en Asiate) met seggenskap in ‘eie sake’ en medeseggenskap in ‘gemeenskaplike sake’.
Op 21 Augustus 1978 is Staatspresident Diederichs oorlede; op 20 September kondig premier Vorster aan dat hy weens gesondheidsredes uit die politiek tree, maar hom beskikbaar stel as kandidaat vir die Presidentskap. Op 28 September wys die koukus van die Nasionale Party PW Botha as nuwe eerste minister aan. Botha, in wie se visie Suid-Afrika bedreig word deur die oprukkende kommunisme, en vir wie ‘militêre oorweginge 'n belangrike plek in sy kyk op die posisie van die land’ inneem (Van Jaarsveld, 1982: 581), se eerste bewindjaar staan in die konteks van die ‘Inligtingskandaal’. Eers ná die stof daaromheen gaan lê het, kon hy sy beleid wat neerkom op ‘aanpassing of ondergaan’, ontplooi.
| |
XI
Volkskrisis, kultuurkrisis en nuwe groepvorming teen die einde van die sewentigerjare
Breytenbach se eerste verhoor (wat die Afrikaanse letterkunde soveel ‘skade’ berokken het omdat die hele skrywerskorps verdink is van ‘ondermynende’ motiewe) vind plaas in dieselfde jaar dat 'n monument onthul word in die Paarl ter wille van die ‘blanke’ oorsprong van Afrikaans. Die tweede verhoor vind plaas ná die Soweto-opstande waarby juis die haat jeens Afrikaans die lont by die kruitvat was.
Die twee Breytenbach-verhore het dus plaasgevind in 'n klimaat van, aan die een kant, toenemende swart verset teen die status quo (én toenemende onderdrukking van andersdenkendheid van die kant van die regering) en, aan die ander kant, toenemende introspeksie aan die kant van Afrikaner-intellektuele, vanuit die literêre bestel gestimuleer deur onder andere JC Steyn se ‘private ache’ oor volk en taal (soos verwoord in Dagboek van 'n verraaier) en deur JJ Degenaar se lesing van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena wat uitloop op formuleringe oor ‘strukturele geweld’ en die rol van die Afrikaner in die totstandkoming van 'n ‘konsosiasie-demokrasie’ (die debat hieroor in Die Burger is opgeneem in Degenaar, 1980: 65-92). Dit is 'n tydperk wat uitmond in die Nasionale Party se nuwe grondwetlike voorstelle (wat nog steeds die swartman uitsluit) en die groot debat (ook in die literatuur) ‘om Afrikaneridentiteit en -eksklusiwiteit, die aanpasbaarheid van die Afrikanervolk en sy kanse op oorlewing’ (Johl, 1986: 122).
Die jare 1974-1978 was ‘traumatiese jare’ vir die Afrikaner(-skrywer). Johl (1987b: 33) noem dit ‘die Afrikaner se eintlike Rubicon’. Dit is nie net die
| |
| |
ontwikkelinge en die gebeure op die politieke front wat aanleiding gee tot 'n ‘volkskrisis’ nie, maar ook dié op kultuurfront.
Die Afrikaanse letterkunde is in hierdie tyd uit sy suur verdiende ivoortoring geruk en in die ‘strydperk’ geplaas. Die verskuiwings, alliansievorming en polarisering wat die mite van ‘Afrikanereenheid’ die nekslag toedien op politieke terrein, word geëwenaar deur skeurings en polariserings binne die Afrikaanse literêre establishment. Ook hier krummel die eenheid onderling en tussen skrywers en hul begeleide kritici wat gedurende die voorafgaande dekade moeisaam opgebou is teen 'n meermale vyandige leserspubliek. Ook hier is ideologiese verskille, grondliggend aan uiteenlopende literatuuropvattings, die oorsaak.
In 'n tydperk dat die Afrikaner-intellektueel herbesin oor sy taal en kultuur, dat die Afrikanerhistorikus FA van Jaarsveld geteer-en-veer word oor sy Geloftedag-uitsprake en 'n openbare diskoers gevoer word oor Afrikanermeningsvormers se verbintenis al dan nie met die Broederbond ná Wilkens en Strydom se openbaringe in The Super-Afrikaners (1978), wentel die debat in die Afrikaanse literêre establishment om die aard en funksie van die woordkunswerk en die rol van die Afrikaanse skrywer. Dit kry gestalte in argumente vir of teen ‘betrokkenheid’ (soos uiteengesit in hoofstukke 5 V en 6 IX).
Die ontrafeling van die problematiek van die rol van die skrywer ten opsigte van die groep, die stelsel en die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap, lei soms tot vreemdsoortige - en weersprekende - pogings om te onderskei tussen die verskillende ‘stemme’ van die skrywers, soos blyk uit die reaksie uit skrywersgeledere op Breytenbach se ‘terrorisme’ (hoofstuk 6 IV en VI) en uit ingeligte lesersreaksies op ‘omstrede’ tekste soos Sewe dae by die Silbersteins, Kennis van die aand en Magersfontein, o Magersfontein!. Veral by Brink, vóórste segsman vir ‘betrokkenheid’, lei dit, soos reeds aangetoon is, tot uitsprake wat die praktiese funksie van die literêre teks wil versoen met en verskans agter sekere uitgangspunte van die outonomie-benadering.
Teenoor die strategie om ‘betrokkenheid’ te probeer versoen met die outonomie-benadering, staan daar sedert die laat-sewentigerjare die vernuwende denke van 'n nuwe ‘groepie’ binne die literêre bestel. (Johl, 1986: 128 beskryf dié denke en formulerings as 'n ‘meer fundamentele en aggressiewe’ strategie wat neerkom op ‘die aftakeling van bestaande opvattings en waardes’.) Ampie Coetzee se ‘ommekeer’ in die laat sewentigerjare geld hier as opvallende voorbeeld. Uit sy bydrae tot die Kol-debat rondom sosiale betrokkenheid blyk sy outonomistiese literatuuropvatting duidelik (kyk hoofstuk 5 V). Selfs die teks oor betrokkenheid, Poësie en politiek, lewer op sigself weinig bewys van 'n radikaal ‘nuwe’ kyk op die funksie en aard van die letterkunde en bly in hoë mate ‘tradisioneel’. Sô byvoorbeeld word ‘betrokkenheid’ as tematiese gegewe behandel en word daar nog steeds op die strukturele toets vir ‘estetiese waarde’ gesteun. (Selfs sommige eietydse resensente was teleurgesteld deur die verwagtinge wat Coetzee geskep het - vergelyk AvZ, Vo., 24.8.76 en Anoniem, DSW, 18.4.77.) Reaksie op kritiek van HCT Müller (in Standpunte 130 en 133, asook Inspan, Okt. 1978) bring Coetzee egter vir die eerste keer tot die uitspreek van 'n meer fundamentele breuk met die heersende literatuuropvatting, die
| |
| |
Afrikaanse establishment en die politieke status quo: ‘Die letterkunde kan nooit belangriker wees as die lewe nie. Die letterkunde is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die letterkunde nie... ek weier om getrou te wees aan 'n eksklusiewe Afrikaanse letterkunde, aan ons wit demokrasie, aan Afrikaneridentiteit gehandhaaf met geweld’ (1978: 66 - kyk ook sy uitsprake rondom Afrikaans in hoofstuk 7 IV).
Teen die tweede helfte van die sewentigerjare was daar spanning tussen ‘betrokke verligtes’ en eertydse betrokkenes wat 'n nuwe, radikaler inhoud aan ‘betrokkenheid’ wou gee (vergelyk die talle artikels onder dié noemer in Donga). Die verbod op ‘radikale’ tekste - soos Miles se Donderdag of Woensdag en lyfblaaie - versnel polarisering. Literatore getuig selfs in die hof téén die Afrikaanse literatuursisteem (vergelyk Galloway, 1983: 275-278 vir 'n bespreking van die Taaldoos-verhoor waarin HCT Müller en DH Steenberg as getuies van die staat optree). Charles Malan noem hierdie ‘ekstremiste’, die nuwe betrokkenes, die ‘breyteneske boksombende’ wat ‘polêre gorilla-aanvalle’ uit ‘dongas’ rig (1977: 2).
By hierdie ‘groepie’, veral gesentreer rondom die ‘little magazines’ Donga en - 'n bietjie later - Inspan en Taaldoos, was daar tekens van 'n nuwe bewustheid, 'n meer radikale identifisering met Afrika en met mede-Suid-Afrikaners. Welma Odendaal, Rosa Keet en enkele van hulle medewerkers soos John Miles en Ampie Coetzee, stel hulle byvoorbeeld krities op teen die eksklusiwiteit van die Afrikaanse letterkunde (Coetzee, Donga, Nov. 1976) en teen die Afrikaanse Skrywersgilde wat eksklusief Afrikaans wil bly (Donga, Jul. 1976, Sept. 1976, Nov. 1976). In die redaksionele kommentaar van die eerste uitgawe word gestel dat ‘Donga reeds verby 'n Gilde kyk en hom werp by die lot van “alle skrywers in hierdie land”’ (Jul. 1976); hulle wil voorsien in die behoefte aan ‘'n klas mense, digters en skrywers, wie se visie en gemeenskaplike kunstenaarskap hulle verby die historiese toevallighede van kleur en ras en taalverskille moes rig’ (Sept. 1976). 'n Oorspronklike redaksielid, PJ Haasbroek, word gevra om te bedank omdat hy die indruk geskep het dat Donga verbind is met die Afrikaanse Skrywersgilde (Nov. 1976); eertydse stigterslede distansieer hulle van dié vereniging wat ‘onbesorg’ bly oor die lot van Breytenbach omdat ‘hulle buitendien nooit van sy politiek gehou het nie’ en wat verval is in ‘vertroeteling, huldiging en oorverheerliking van gestorwe, afgetrede en skadelose skrywers’ (Coetzee, Nov. 1976).
Die Dongagroep sien hulself as ‘die jonger Afrikaners’ wie se wortels diep in Afrika lê en wie se taak dit is om daardie wortels bloot te lê. Dit gaan vir hulle om ‘'n nuwe idioom, 'n nuwe denkrigting: 'n betrokkenheid met Afrika - want ongeag ons taal- of kleurgebondenheid, is Afrika ons gemeenskaplike ervaringsveld’. Donga wil dus in die tyd dat Soweto brand, ‘die isolasie waarin skrywers van verskillende groepe hulle bevind, breek’ om wedersydse begrip en verryking te bespoedig (Jul. 1976). Die credo is 'n ‘Suid-Afrikaanse identiteit’ en 'n ‘Suid-Afrikaanse letterkunde’ (Sept. 1986; Nov. 1976) in teenstelling met ‘maklike’ betrokkenheid. Redakteur Peter Strauss waarsku teen die ‘exploit (ation) (of) one's situation for easy rewards’ en teen pretensie. Dit moet nie gaan om ‘a simple unity and community of interests between South African
| |
| |
writers of all kinds on the sentimental grounds that we are all South Africans, all writers’ nie, want só oppervlakkig sal dit skade doen aan ‘the artist's project of understanding the particularity of his experience’. Die strewe moet wees na ‘profoundly involved work’ en na ‘exploitative work’ (Nov. 1976). In Inspan (1978) waarsku Coetzee teen ‘betrokke’ skryf as literêre modeverskynsel omdat dit vals is.
Teen die einde sewentigerjare, terwyl Breytenbach in die tronk sit en geen bydrae kan lewer tot die kultureel-politieke diskoers nie, gaan daar stemme op vir ‘gedurige rebellie’ teen ‘ongeregtigheid’. Dit is inderwaarheid die bottende begin van 'n wegbeweeg binne die Afrikaanse literêre establishment van die verligte kyk op onderdrukking - wat onderdrukking bloot in terme van kleur sien - na 'n gerigtheid op die manier waarop mag in die land aangewend word. En binne hierdie diskoers eggo daar duidelike klanke van Breytenbach se voor-tronk argumente ten opsigte van Afrikanerskap, die Afrikaanse taal en kultuur en die rol van die skrywer (soos uiteengesit in hoofstuk 5).
Terwyl die Afrikaner-intellektueel egter in die post-Soweto-jare worstel met sy identiteit, sy rol in die samelewing, die voortbestaan van sy taal, betrokkenheid en sensuur, bly die grootste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking onbewus van die (literêre) uitinge daarvan. Die sentrum van die Afrikaanse literêre sisteem, aan die ander kant, bly weer geslote vir sover dit bewuswording en beïnvloeding van die kant van die florerende swart kultuur, wat saam met ander vorme van massaverset groei, betref. En Breytenbach word in sy tronksel daarvan geïsoleer.
| |
Samevatting
Met verloop van tyd het Breytenbach al meer onvergenoeg geraak met sy rol van ‘woordterroris’ vanuit 'n gekanoniseerde posisie binne die Afrikaanse literêre sisteem. Dit was nie meer vir hom voldoende om deur die poëtiese verwoording van alternatiewe sienings verandering teweeg te probeer bring. Hy het al meer gevoel dat sy ‘literêre’ kontestering nie veel meer bewerkstellig het as 'n lastige irritasie nie; hierdie tekste is heel waarskynlik nie eens gelees deur die groep met wie se lot hy hom verbind het nie. As 'n uitkoms uit die teenstellings waarin hy hom bevind het, het hy hom algaande tot ‘konkrete’ deelname aan die swart bevrydingstryd gewend.
In 1975 is eers sensuuroptrede teen hom gebruik as deel van die oorkoepelende strategie wat gerig is op sisteemverskansing. Sy onwettige terugkeer na die land en sy bewegings (wat van die begin gemonitor was deur die veiligheidspolisie) het egter die maghebber die geleentheid gegee om met ander wetlike maatreëls en regspleging in te gryp om sy versteurende invloed lam te lê. Met die lokaas van 'n ligte vonnis is Breytenbach omgehaal om ‘saam te werk’ en nie die hofsaal te gebruik as politieke verhoog nie. Die saak word dan 'n propaganda-oorwinning vir die staat.
Die nie-lesende publiek, wat ironies genoeg nooit onderskei het tussen Breytenbach die mens en die digter nie, maar verwag dat die digter ‘volksdigter’ moet wees wat aanvaarde norme verdedig, brandmerk hom as ‘verraaier’
| |
| |
en werp hom uit. Die ‘verligtes’, vir wie dit oor die jare al moeiliker geword het om Breytenbach se radikale oorskryding van sisteemgrense te verdedig, word in 'n krisis gedompel deur sy skuldigbevinding as ‘terroris’. As uitkoms uit die kanoniseringsdilemma en die vertrouenskrisis rondom die Breytenbach-verhore, beroep die ‘verligtes’ hulle al dringender op 'n skeiding tussen mens en werk. Die ‘verligte’ nasionale Afrikaanse pers gebruik hierdie onderskeid ook as koöpteringstegniek: Breytenbach se ideologie word totaal verwerp, maar sy ‘verskoning’ tydens die eerste verhoor en sy ‘bydrae’ tot die ‘Afrikaanse kultuur’ word aangeprys om hom weer binne die laer te kry, hom soos die ‘verlore seun’ terug te ontvang.
Die Sestigers het aanvanklik die onderskeid mens/werk gebruik om hulle teen sisteemdruk te verweer. Ten tye van Breytenbach se verhore, wat ook die Afrikaanse literêre sisteem onder verdenking geplaas het, gebruik hulle dit om hulle binne die sisteem te verskans. Deur Breytenbach se ideologie te verwerp, maar sy ‘suiwer literêre bydrae tot Afrikaans’ aan te prys as iets wat losstaan van dié verwerplike ideologiese vooronderstellings, probeer hulle die agterdog teen hulleself neutraliseer.
Die gebeure rondom die verhore dra grootliks by tot die skipbreuk van ‘betrokkenheid’ as ideologiese, teoretiese en kritiese uitgangspunt. Aan die een kant kom dit al meer onder verdenking as gevolg van wat sommige skrywers en literatore ervaar as ‘voorskriftelikheid’ en die opdring van 'n bepaalde soort betrokkenheid, naamlik opstand teen die politieke status quo. Aan die ander kant raak dit al meer verstrik in teenstrydighede wat spruit uit die pogings om dit te versoen met die outonomiebenadering en met ideologies ‘aanvaarbare’ kontestasie: ‘lojale verset’.
In 'n tydvak waarin dit al moeiliker geraak het vir enige herskrywer om sistemiese skeidings te handhaaf in die lig van die interaksie tussen sisteme (selfs die regering kom met 'n ‘totale strategie’), het pogings om dié tekste wat gerig is op eietydse problematiek in die keurslyf van 'n outonome woordwêreld in te pas anachronisties begin lyk. ('n) Nuwe literatuuropvatting(s) (en ideologiese vooronderstellings) wat op ‘radikaler’ wyse rekenskap wou gee van die verband tussen teks en ‘werklikheid’, skrywer en mens was aan die opkom. En hierdie nuwe opvatting(s) wat in skeppende én besinnende tekste begin uitdrukking vind het, sou lei tot nuwe ‘groeperinge’ binne die Afrikaanse literêre bestel. |
|