Voorberig deur Anna de Villiers.
Dit was met die grootste huiwering dat ek op aandrang van vriende die versoek van mevr. A. Tickner, moeder van wyle dr. Elizabeth Conradie, ingewillig het om Hollandse Skrywers uit Suid-Afrika Deel II vir die pers gereed te maak. Dit is 'n groot taak om self 'n wetenskaplike geskrif te lewer - 'n haas onbegonne taak om die werk van 'n ander te voltooi.
Aangesien die eindhoofstukke ontbreek het, was dit aanvanklik my voorneme om hierdie hoofstukke volledigheidshalwe self by te voeg. Na rype beraad het ek van hierdie oogmerk afgesien en my beperk tot die voltooiing van die bestaande hoofstukke. In hierdie verband het ek oral waar dit nodig was om 'n paragraaf of voetnoot by te voeg my voorletters agterna geplaas, sodat alles wat uit my pen is, maklik van die werk van dr. Conradie onderskei kan word. Dit spreek vanself dat ek my byvoegings so ver moontlik beperk het en slegs uiters noodsaaklike toeligting ingevoeg het. Diegene wat geïnteresseerd mag wees in die hoeveelheid van my aanvullings kan op aanvraag die getikte afskrif van die manuskrip wat my deur die Suid-Afrikaanse Gesantskap in Den Haag toegestuur is, ter insae kry.
Die uitgawe van hierdie werk is moontlik gemaak deur die grootmoedige vrygewigheid van wyle dr. Bertha Stoneman wat die nodige middele daartoe tot my beskikking gestel het. As tussenpersoon in hierdie verband moet ek ook dankbare melding maak van mej. L. Daws, tans 'n eksekutrise in die boedel van wyle dr. Stoneman en 'n vriendin van dr. Conradie.
Hierdie werk is dus die drieledige bydrae van 'n benoemde prinsipale van die Hugenote-Universiteitskollege, Wellington, 'n oud-prinsipale en die teenswoordige prinsipale.
Wellington, Julie, 1943.