Marxisme en die Afrikaanse letterkunde
(1988)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1]
| |
Hoofstuk 1
| |
[pagina 2]
| |
lewensproses daarin verteenwoordig. Ook die fantasieë van die mens se brein is noodwendige sublimasies van sy materiële, empiries konstateerbare lewensprosesse. Moraliteit, godsdiens, metafisika, alle ander ideologieë en bewyssynsvorme wat daarmee ooreenstem behou dus nie langer die skyn van selfstandigheid nie. Hulle het geen geskiedenis, geen ontwikkeling nie; maar die mens deur die ontwikkeling van sy materiële verkeer verander daarmee sy werklikheid, ook sy denke en die produkte van sy denke. Nie die bewyssyn bepaal die lewe nie, maar die lewe bepaal die bewussyn.’Ga naar voetnoot2) Die woord materialisme is hier van primêre belang. Om die mens te verstaan, is dit noodsaaklik om te begin by die materiële voorwaardes vir produksie. Vir Marx is die materiële werklikheid en produksie eintlik die beginpunt van die geskiedenis. Hierdie realiteite staan teenoor die idee en die ideële wat werklikheid 'n produk van die bewussyn wil maak. As idees onafhanklik kan bestaan, kan die idee oor die materiële lewe regeer en die werklike bestaansomstandighede, met die kontradiksies daarin van die mens se bestaan, verwring. Hierdie distorsie van die bewussyn, wat sosiale kontradiksies verberg, kan dan 'n instrument van oorheersing word. In die oorspronklike Marxiaanse konsep is ideologie nie 'n wêreldbeskouing nie, maar 'n definitiewe negatiewe mag, wat dus krities bejeen moet word. Saam met die materialisme gaan die konsep produksie. Die eerste historiese daad was die produksie van middele ter vervulling van die mens se behoeftes. Die eerste praktyk was arbeid, menslike transformasie van die wêreld ter wille van die reproduksie van materiële lewe.Ga naar voetnoot3) En produksie is 'n proses wat onlosmaaklik materieel én sosiaal is: die produksie van materiële produkte en maatskaplike verhoudings. Maar in 'n klasse-maatskappy (lees: op hierdie oomblik 'n kapitalistiese maatskappy, of 'n maatskappy met 'n kapitalistiese produksiewyse) is materiële en sosiale produksie selde in harmonie; daar bestaan dus 'n kontradiksie ten opsigte van die magte en verhoudings van produksie: aan die wortel daarvan lê die onderskeid tussen waarde en gebruikswaarde van produkte, tussen konkrete arbeid en abstrakte waardeskeppende arbeid - maar dis nie nodig om verder daarop in te gaan nie. Op hierdie stadium in die uiteensetting is dit nodig om te betrek die opvattings oor produksie, repressie en ideologie van die Franse filosoof Louis Althusser; want die meeste debatte oor hierdie sake die afgelope twintig jaar was, direk of indirek, gerig op sy lesings van Marx gewees.Ga naar voetnoot4) Mens kan weer begin by die feit van reproduksie; en by die noodsaaklikheid van 'n ‘sosiale formasie’ (Althusser: sosiale struktuur, maatskappy) om kondisies van produksie te reproduseer terselfdertyd as wat dit produseer. Dit is | |
[pagina 3]
| |
dan noodsaaklik dat die politieke voorwaardes vir die reproduksie van produksie-verhoudings geskep word, en hierdie politieke voorwaardes (daargestel deur die heersersklas) is hoofsaaklik ideologies, omdat dit verdoeselend werk ten opsigte van die werklike produksieverhoudings. Ideologie word dan 'n ‘voorstelling’ (in aanhalingstekens omdat dit nie in die laaste instansie bewustelik gedoen word nie) van die verbeelde verhouding van mense tot hulle werklike bestaansomstandighede. Ideologie kom tevoorskyn wanneer die kompleksiteit van sosiale verhoudings 'n klassestelsel geproduseer het; en aangesien voorwaardes waaronder produksiepraktyke uitgevoer word altyd die voorwaardes vir die heerskappy van 'n sekere klas is, dien die ideologiese verdoeseling van kontradiksies die belange van daardie klas. Ideologie is dan ook 'n voorwaarde vir die funksionering en reproduksie van klasse-oorheersing, deur die verdoeseling van die werklike verhouding tussen klasse en van die realiteite van oorheersing en onderdrukking: ‘For ideology to be present, the two conditions which Marx laid down should be satisfied: the objective concealment of contraditions, and the interest of the dominant class. Ideology is not a simple error. It is a particular kind of distortion, dependant upon real contraditions, which demands their solution in practice before it can be overcome.’Ga naar voetnoot5) Wat regerende ordes betref, of die Staatsapparaat, maak Althusser 'n verdeling in 'n repressiewe Staatsapparaat (die leër, polisie, gevangenis ens.) en 'n ideologiese Staatsapparaat (godsdiens, opvoedkunde, die familie, die politiek, kommunikasie ens.) - waar die twee apparate nie noodwendig duidelik geskei is van mekaar nie. Die letterkunde is dan vanselfsprekend deel van die hegemonie van die ideologiese Staatsapparaat, en as daardie letterkunde kom vanuit die klas van die heerser moet dit êrens deel hê aan daardie ideologie, sonder dat die een wat binne sy klas leef, bewus is van ideologie as idee. Idees het geïnskribeer geraak binne die rituele wat in die laaste instansie gedefinieer is deur die ideologiese apparaat.Ga naar voetnoot6) Wat skynbaar buite ideologie plaasvind, gebeur in werklikheid daarbinne. Dit kom daarop neer dat ideologie geen buitenste grense besit nie (vir diegene daarbinne), maar terselfdertyd is dit niks anders as buitenste nie (vir die wetenskaplike denke).Ga naar voetnoot7) Die ideologie konstitueer die mens as subjek deur herkenningskodes wat Althusser interpellasie noem. Dit beteken dat mense wat binne 'n spesifieke ideologiese milieu bestaan kodes sal herken wat slegs binne daardie milieu bestaan. Vir die taalstudent is taal die draer van sodanige interpellasies (bv. by die Afrikaanse taalgebruiker woorde soos ‘Afrikaans’, ‘voortbestaan’, ‘differensiasie’, ‘sekuriteitsmagte’, ‘operasionele gebied’ ens.); maar ideologiese interpellasies kan ook binne sosiale gebruike voorkom as fetisje of | |
[pagina 4]
| |
mites.Ga naar voetnoot8) Die herkenningsaspek van die ideologie is uiteindelik niks meer nie as 'n weerspieëling van die subjek in 'n groter Subjek, dus 'n spieël-struktuur, dubbelweerspieëlend, omdat dit noodsaaklik is vir die voortbestaan van beide subjek van beide subjek en Subjek. Interpellasie, herkenning, identifikasie en die mens wat subjek word, het ook implikasies vir die letterkunde in dié sin dat letterkunde 'n ‘kontrak’ met 'n ontvanger daarstel. 'n Leser weet wanneer hy/sy 'n boek van 'n bepaalde skrywer opneem dat dit waarskynlik ‘letterkunde’ sal wees omdat dit ‘op 'n sekere manier’ geskryf is: die teks/outeur interpelleer dus die leser as subjek, die genre produseer die subjek. So kan die genre ‘poësie’ byvoorbeeld gesien word as 'n spesifieke ideologiese kode (vgl. in dié verband M.M. Bakhtin se opstel oor styl in Discourse in the Novel).Ga naar voetnoot9) Om nader te kom aan die letterkunde. Die feit van produksie is ook van toepassing ten opsigte van die literêre werk: dit word onder bepaalde voorwaardes en omstandighede geproduseer, en - metafories gesproke - is dit ook die transformasie van bepaalde grondstof tot 'n spesifieke produk. Literêre produksie kan dan ook gesien word as deel van die premisse van die materialistiese metode: die wyse waarop die mens sy bestaanswyse produseer is in die eerste plek afhanklik van die aard van die werklike bestaansmiddele wat gereproduseer moet word; maar hierdie produksiewyse moet nie eenvoudig gesien word as die produksie van die fisieke bestaan van die mens nie. Dit is 'n besliste soort aktiwiteit van die mens, 'n besliste wyse waarop lewe uitgedruk word, 'n besliste lewenswyse. En soos die mens ekspressie gee aan die lewe, so is die mens. Wat die mens is, is in ooreenstemming met produksie, met beide die wat en die hoe van produksie.Ga naar voetnoot10) Die aksent wat die konsep produksie hier kry is van die uiterste belang, veral met betrekking tot die verhouding teks-kritikus: ‘This production ... is the production of a knowledge. To conceive Marx's philosophy in its specificity is therefore to conceive the essence of the very movement with which the knowledge of it is produced, or to conceive knowledge as production.’Ga naar voetnoot11) As kennis en betekenis produksie is, wat is die ‘literêre werk’ dan? Wat is ‘teks’, ‘produk’? En wat is 'n outeur? In sy bespreking van individualisasie in ons tyd - die tyd van kapitalisme, van die geïndustrialiseerde en bourgeois maatskappy - vra Michel Foucault presies dié vrae: ‘... the idea of the work. It is a very familiar thesis that the task of criticism is not to bring out the work's relationship with the author, nor to reconstruct through the text a thought or experience, but rather to analyze the work through its structure, its architecture, its intrinsic form, and the play of its internal relationships. At this point, however, a problem arises: What is a work? What is this curious unity which we designate as a work? Of what elements is it | |
[pagina 5]
| |
composed? Is it not what an author has written? Difficulties appear immediately...’Ga naar voetnoot12) Sy slotsom, met betrekking tot 'n ‘tipologie van diskoers’, is dat die outeur in sy geïndividualiseerdheid 'n produk van ideologie geword het - losgemaak van sy werklike historiese funksie, geïnventeer deur ideologie - wat in die weg staan van 'n opneem van die subjek binne die diskoers. En wanneer die outeur verdwyn het, hoef ons nie meer te vra wie het gepraat, wie se genialiteit en oorspronklikheid het tot ons gekom het. Dan word ‘die teks’ deel van 'n diskoers waarbinne ander betekenisse gedurig geproduseer word; en dan sal ons eerder vra: ‘What are the modes of existence of this discourse? Where has it been used, how can it circulate, and who can appropriate it for himself? What are the places in it where there is room for possible subjects? Who can assume these various subject functions? And behind all these questions, we would hear hardly anything but the stirring of an indifference: what difference does it make who is speaking?’Ga naar voetnoot13) Dan verander die funksie van die kritiek ook, want betekenis word nie gesoek nie, maar geproduseer; en interpretasie is dan nie die allegorisering van tekste of 'n soeke na dinge wat verbygegaan het nie, maar die oopmaak van die teks tot die storms van die geskiedenis. Wanneer die teks as produksie van betekenis gesien word, altyd binne wisselende diskoerse aan't produseer, dan is dit nie 'n realiteit in sigself geslote, 'n outonome, onafhanklikhe fenomeen nie. Dit staan gedurig in verhouding tot iets, veral dan tot 'n altyd-aanwesige, maar geheimsinnige en altyd-onsigbare geïnskribeerde ideologie: ‘In seeing how the book is made we see also what it is made from: this defect which gives it a history and a relation to the historical.’Ga naar voetnoot14) 'n Mens sou dit effens kon vereenvoudig deur te sê dat letterkunde geproduseer is deur die effek van een of meer ideologiese kontradiksies juis omdat hierdie kontradiksies nie binne die ideologie opgelos kan word nie. Maar die afgestroopte diskoers van hierdie ideologie sal nie ooplê in die teks nie, omdat die ideologiese diskoers alreeds bestaan het voor die literêre realisasies daarvan. Dit is slegs binne die materialiteit van die teks waar die ideologiese gevorm word; die teks is nie 'n blootstelling van ideologie nie, eerder 'n verdoeseling. ‘What art makes us see, and therefore gives to us in the form of “seeing”, “perceiving” and “feeling” (which is not the form of knowing), is the ideology from which it is born, in which it bathes, from which it detaches itself as art, and to which it alludes.’Ga naar voetnoot15) Pierre Macherey het in sy A theory of literary productionGa naar voetnoot16) in dié verband gepraat van die stiltes wat 'n teks nie kan uitsê nie, van 'n besliste afwesigheid waarsonder dit as teks nie sou kon bestaan nie. En 'n kennis van die teks sou 'n bewustheid van die afwesighede veronderstel, van die ‘barste’ of ‘nate’ waardeur die teks hom blootstel (vgl. ook Althusser, Reading Capital: 1983, 19, 27, 28). Om die onsigbare te sien, om die ‘hiate’ binne die volheid van die | |
[pagina 6]
| |
diskoers te identifiseer, die openinge in die digtheid van die teks het mens meer nodig as om stip te kyk; jy benodig 'n geïnformeerde blik ('n ‘armed vision’). Jy moet bewapen wees met die dialektiese denke waar daar geen inhoud is nie, maar totale inhoud, waar die vermoë ontwikkel word om te sien wat iets is deur die gelyktydige gewaarwording van wat dit nie is nie. Dialektiese denke weet ook van die historisiteit van denke, en uiteindelik van geskiedenis, die begin van produksie, ekonomie, klas en ideologie. Dialektiese kritiek vervang die ou absolutes van waarheid en skoonheid ter wille van 'n voorkeur vir die historiese situasie en die historisiteit van die teks.Ga naar voetnoot17) Letterkunde en geskiedenis het nie net 'n ingewikkelde en ineengestrengelde verhouding nie - letterkunde is ook geskiedenis. As die teks dan die jaloers-bewaakte outonomiteit van kritici uit die onlangse verlede moet prysgee en die verhouding tussen die artistieke feit en die groter sosiale en historiese realiteit waaruit dit kom, geartikuleer moet word, is dit vanselfsprekend dat die kritikus verder moet kyk as net woorde op papier. Frederic Jameson gebruik 'n metafoor uit die linguistiek: die teks as parole in verhouding tot die langue van die klasse diskoers; en dis 'n dialogiese proses: die klassediskoers wat as langue funksioneer doen dit as gevolg van 'n antagonistiese verhouding tot 'n opponerende diskoers. Die taak van die kritikus is dan nie slegs die rekonstruksie van die parole-langue-verhouding tussen teks en klassediskoers nie; maar om die antagonistiese klassegesprek waarbinne beide funksioneer te rekonstrueer.Ga naar voetnoot18) Die probleem lê by die bymekaarbring van langue en parole: by die bemiddelingsproses. Hier formuleer Jameson die konsep mediasieGa naar voetnoot19). Hierdie literêr-analitiese tegniek van bemiddeling is 'n dialektiese meganisme vir die vasstelling van verbintenisse tussen die formele analise van 'n kunswerk en sy sosiale begronding. Dis 'n transkoderingswerksaamheid wat daarop gemik is om maniere te vind waardeur die teks geopen kan word tot sy ekstratekstuele verhoudings: om 'n kontinuïteit tussen taal as praktyk in die literêre werk en die onsekerheid en onstabiliteit van die daaglikse lewe te bepaal, sodat dié frustrasies gesien kan word as die bepalende situasies, kontradiksies of subtekste waarin die literêre werk 'n simboliese ingryp wil maak. Wanneer die literêre kritiek 'n dialektiese strategie word, en dialogies staan ten opsigte van ideologie, klas en geskiedenis, dan is dit nie meer primêr epistemologies nie, maar eerder eties, besorg oor die verhouding van tekste tot die bestemming van die mens; dan is dit anti-idealisties, materialisties en daarom kontra-ideologies. Die kritiese proses is dan, eerder as interpretatief, blootleggend van die distorsies gevorm deur ideologie. Om Etienne Balibar en | |
[pagina 7]
| |
Pierre Macherey saam te vat: literêre produksies hoort nie bestudeer te word vanuit 'n uitgangspunt van hulle eenheid nie, wat illusionêr en vals is, maar vanuit hulle materiële dispariteit. Mens hoort nie te soek na verenigende effekte nie, maar vir tekens van die kontradiksies wat die tekste voortgebring het en wat as onopgeloste konflikte binne die teks voorkom.Ga naar voetnoot20) Om dan die ou Bybel van die literêre kritiek op die kop te sit: dit gaan nie om ‘the work of art ... as a whole system ...’ om die ‘amount (and diversity) of material integrated’ nie,Ga naar voetnoot21) maar eerder om die ‘amount and diversity of material in contradiction’. Alhoewel die post-strukturalistiese debat in Europa skynbaar belangriker geword het as die kritiese beskouing van ideologie (en daar sou definitiewe sosio-politieke redes voor wees), is die Marxistiese siening van teks 'n lewende en boeiende diskoers in Engeland (veral met Raymond Williams en Terry Eagleton) en Amerika (veral met Frederic Jameson): ‘... the struggle is to remove the text from the void of deconstructive jouissance, and once again assert the necessity for a historical and materialist study of cultural production. Williams calls his current theoretical position “cultural materialism!” which he defines as “the analysis of all forms of signification, including quite centrally writing, within the actual means and condition of their production”.’Ga naar voetnoot22) Die bewustheid van die rol wat ideologie speel, en die dialektiese benadering tot die teks het ook uitgekring en in ander dissiplines parallelle sienings gebring en ander benaderings tot die teks ten gevolge gehad: soos die onbewuste by Freud, ideologie en mite by Lévi-Strauss, ideologie en semiologie, semanalise en die teks as produksie van betekenis (semanalise vind ideologie in die tekstuele produksie van betekenis), en die konsep intertekstualiteit by L. Kristeva.Ga naar voetnoot23) In Suid-Afrika met sy enorme klassekontradiksies, sy repressiewe regeringsvorm, sy ongelyke groei van kolonialisme - deur slawerny en feodalisme tot kapitalisme - is ideologie 'n pynlike teenwoordigheid, en verkeer die Afrikaanse letterkunde in gedurige diskoers. 'n Mens sou die situasie van hierdie letterkunde kon opsom as 'n hegemoniese diskoers: ‘we “hear” only one voice because a hegemonic ideology suppresses or maginalizes all antagonistic class voices, and yet the hegemonic discourse remains locked into a dialogue with the discourse it has suppressed.’Ga naar voetnoot24) Die Marxisme is natuurlik in die eerste plek 'n verset teen klasse-onderskeid. Dié klassieke uitspraak is bekend (alhoewel dit nog nie veel in Afrikaans gehoor is nie): ‘Die geskiedenis van alle maatskaplike lewe wat tot dusver bestaan het, is 'n geskiedenis van klassestryd. | |
[pagina 8]
| |
In die voorafgaande stuk het ek kernwoorde soos teks, materialistiese of historiese determinisme, wyse van produksie, produksieverhoudings, dialektiek, ideologie en marxisme taamlik dikwels gebruik. Die feit dat dinge slegs in verhouding tot ander bestaan (dus ‘relasioneel’) gee natuurlik aan al hierdie begrippe relatiewe waarde. Die Strukturalisme wat sy ontstaan in die Franse Cartesiaanse tradisie van die intellek gehad het, het gesoek na fundamenteles, na die onderliggende ordenings vir disparate verskynsels - soos Lévi-Strauss in sy antropologiese bloedskande-prohibisie-studies basiese strukture in die gees wou vind, die ‘reëls’ waarvolgens 'n mens se verstand of bewussyn sou funksioneer.Ga naar voetnoot26) Die doel was ‘... to contribute to a better knowledge of objectified thought and its mechanisms ...’Ga naar voetnoot27) Jacques Derrida se tekste n.a.v. Lévi-Strauss se opvattings het redelik onlangs 'n desentrering van die konsep van die noodsaaklikheid van die kern gebring: dat strukture nie kan bestaan sonder 'n kern(‘centre’) nie; en in die latere werk van Lévi-Strauss vind hy: ‘what appears most fascinating in this critical search for a new status of discourse is the stated abandonment of all reference to a center, to a subject, to a privileged reference, to an origin, or to an absolute archia’.Ga naar voetnoot28) Ook die denkpatrone van die metafisika is bevraagteken deur Derrida se gebruik van die alternatiewe dialektiek van ‘differance’ (om te verskil en terselfdertyd te verskuif - in Engels ‘differ’ en ‘defer’). Dit kom daarop neer dat die metafisika se formulering van teenstellings, waar die kontrastering prioriteite maak, ongeldig is omdat die opposisies wat geskep is dan binne 'n hiërargiese orde staan en nie gelyke waarde kan hê nie: ‘We could thus take up all the coupled oppositions on which philosophy is constructed, and from which our language lives, not in order to see opposition vanish, but to see the emergence of a necessity such that one of the terms appears as the difference of the other ...’Ga naar voetnoot29) | |
[pagina 9]
| |
Wat het dié ‘dekonstruksie’ met Marxisme en met die letterkunde te doen? Die raakpunte tussen hierdie twee ‘stelsels’ van dink is merkwaardig en waar hulle geïntegreer kan word sou dit miskien die verwysingsraam waarbinne mens na die letterkunde kyk aansienlik kan vergroot. Die dekonstruksie kan beskou word as 'n grondige linguistiese nihilisme;Ga naar voetnoot30) 'n denkwyse wat alle waardes in die Nietzsche-tradisie nihileer; basies anti-outoritêr is ‘... a rejection of the logic power and domination in all their forms, and advocation of difference against identity, and a questioning of state universalism’.Ga naar voetnoot31) En saam met Marxisme sien dekonstruksie alles as afhanklik van verhoudings, die onmiddellike en oorspronklike is bemiddel en afgelei, daar is geen ideële betekenis nie, geen finale ideaal nie (geen ‘Deutsche Ideologie’ nie). Derrida se ontkenning van absolutes is soos Marx se ontkenning van 'n absolute ‘bewussyn’ wat die mens se bestaan kan reël. Deur die saamdink van hierdie twee denkrigtings word daar nie 'n metode vir die lees van 'n teks voorgestel nie, want 'n metode veronderstel norme en norme veronderstel absolute waardes. Verskeie elemente sou by die lees van 'n teks teenwoordig moet wees: die bewustheid van relasionisme, die besef van determinisme, van die teks as 'n wêreld wat uitreik na verandering - en ook verset kan wees, die bereidwilligheid tot dialektiek; maar veral die waarneming van ‘difference’ i.p.v. relegerende opposisies. En bo-alles: geen absolute konsepte nie; want alles kan gedekonstrueer word. En omdat alles waardes gedevalueer kan word, en alle kennis genihileer, is dit goed om by die begin te begin. Wat is taal? Wat is teks? Moderne taalteorieë berus op Ferdinand de Saussure se Cours de linguistique générale, waar die onderskeid tussen teks - langue - en spraak - parole - gemaak word, en die konsep van taal as teken geformuleer is, met 'n signifié (‘signified’), 'n ‘saak’, en 'n signifiant (‘signifier’), 'n ‘teken’. Hy het veral beklemtoon dat die verhoudings tussen elemente belangrik is - en in taal is dit slegs deur verskille dat elemente betekenis verkry.Ga naar voetnoot32) Die Strukturaliste - veral Michel Foucault - het egter vertroue verloor in die verhouding wat teken met saak het, sodat die aandag meer op die teken gevestig is, wat daarop uitloop dat die Strukturalis se teks 'n diskoers oor Diskoers word (en by Foucault die ontbinding van Diskoers self). Die wantroue in die verhouding het ontstaan omdat die verband tussen teken en saak nie eenduidig, lineêr, is nie, die woord kan meer as een saak beteken; daar bestaan dus 'n ‘fout’ in alle verbale voorstellings van die reële.Ga naar voetnoot33) | |
[pagina 10]
| |
Dit sou weer Derrida wees wat die konsepte van die Strukturaliste dekonstrueer. Sy kritiek kom daarop neer dat die Strukturaliste die teken isoleer in sy patroon van strukture en hom outonoom bestudeer - die ‘ideële’ literêre teks as ‘suiwer letterkunde’. Hy redeneer dat ‘betekenis’ nie a priori 'n konsep is nie: dit word deur taal - veral in die konteks ‘writing’, skrif - gemaak. Die verhouding tussen teken en saak bestaan; maar só dat saak sonder teken niks is nie. Taal - skrif - máák betekenis, máák byvoorbeeld ideologie (en kan ook negatiewe funksies hê, omdat dit klassifiseer, indeel, margineer ens.): ‘It creates meaning by enregistering it, by entrusting it to an engraving, a groove, a relief, to a surface whose essential characteristic is to be infinitely transmissible.’Ga naar voetnoot34) Daar is dus geen ideële sake (‘signifieds’) wat nie deur skrif gemaak is nie, en die teken (‘signifier’) staan daarom nie sekondêr t.o.v. betekenis nie. (Marx se kritiek op idealisme lê ook daarin dat die ideële slegs moontlik is op die basis van die materiële praktyk van taal.)Ga naar voetnoot35) In elementêre voorbeelde wys Derrida daarop dat die betekenis in 'n mate onafhanklik is van die saak, soos bv. in die sin ‘die sirkel is vierkantig’, of as iemand sou sê ‘ek is dood’.Ga naar voetnoot36) Hierdie sinne beteken letterlik t.o.v. ‘inhoud’ niks nie, maar hulle is wél taal. Die belangrike teendeel is nou ook afleibaar: taal is nie 'n medium om een of ander ideële weer te gee nie. ‘By a slow movement whose necessity is hardly perceptible, everything that for at least some twenty centuries tended toward and finally succeeded in being gathered under the name of language is beginning to let itself be transferred to, or at least summarized under, the name of writing. By a hardly perceptible necessity, it seems as though the concept of writing - no longer indicating a particular, derivative, auxiliary form of language in general ... no longer designating the exterior surface, the insubstantial double of a major signifier, the signifier of the signifier - is beginning to go beyond the extension of language. In all senses of the word, writing thus comprehends language.’Ga naar voetnoot37) (Kursivering oorspronklik). Hierdie siening van Derrida is radikaal in dié sin dat die teks, skrif, totaal losgemaak word van die sekondêre posisie wat dit sedert Plato en De Saussure gehad het. Skrif is nou nie meer die neerslag van taal, die nagelate spore van denke nie, die imitasie van 'n imitasie nie, die bemiddelaar tussen ‘waarheid’ en ontvanger daarvan nie, maar outonoom: die skrif kan die skrif self sê: | |
[pagina 11]
| |
‘It is when that which is written is deceased as a sign-signal that it is born as language.’Ga naar voetnoot38) Deur 'n heel elementêre voorbeeld vanuit die Afrikaanse romankuns kan ek miskien illustreer waarin 'n mens dié emansipasie van skrif sou kon sien. Ek haal die eerste paar sinne van C.M. van den Heever se Somer (1935) aan: ‘“Soe!” roep die wandelaar uit en laat sy bondeltjie goed sak. Sweet glans onder sy hoedrand uit en beweeg stadig oor sy warm, deurvoorde gesig. “Soe!” Die hitte slaan uit sy klere op. Van die hoogte waar hy nou staan, kan hy ver oor die vlakte heen kyk. Agter hom lê die blou reeks berge soos die voue van 'n konsertina. Al verder blou die yl, bewerige randjies weg tot dit vergaan in die onsekerte van die verte se dynserigheid. Eienaardige stuk wêreld wat hy agter hom gelaat het! In die skaduwee van 'n rietskraal bloubos gaan hy sit, en 'n weidadige vrede kom hier in die strepie koelte oor hom. Dit voel so rustig en verruimend hier, of jy in 'n diep kuil koel water swem. En rondom hom dein die landskap, groots en met die verre kimme in die wasige skoonheid.’Ga naar voetnoot39) Die wêreld geskep in dié teks is van 'n wandelaar in 'n warm landskap. Mens kan 'n onderskeid maak tussen die saak waarna die teks verwys - die beskrywings van die handeling (m.a.w. die tradisionele, sekondêre funksie van taal), en die teks wat hom as skrif aanbied. Die handeling wat beskryf word, is van 'n beswete en stowwerige wandelaar wat 'n hoogte bereik en rus in 'n bietjie skaduwee - koel en tevrede. Daar is egter 'n klein teenstrydigheid: hoe kan die ‘strepie koelte’ van 'n ‘rietskraal bloubos’ hom laat afkoel? Maar die koelte wat hy ervaar is nie soseer fisies nie as geestelik; die teks kwalifiseer ‘rustig en verruimend’ asof hy in 'n ‘diep kuil water’ swem: die geestelike ervaring bring die liggaamlike lafenis. Gedeeltes van die teks gaan egter verder en onderstreep en motiveer die wandelaar se ervaring op 'n wyse wat nie heeltemal binne die konvensionele teken-saak-verhouding staan nie, nl. deur die bewusmaking van homself as teks. Met die ‘natuurbeskrywende’ sinne (‘al verder blou die yl, bewerige randjies weg tot dit vergaan in die onsekerte van die verte se dynserigheid’, en ‘En rondom hom dein die landskap, groots en met die verre kimme in wasige skoonheid’) word geen handeling weergegee nie; daar word eerder ‘poëties’ beskryf - mooi, ritmies en herhalend. En dis nie versierend nie, dit is die verteller se genot wanneer hy oor die natuur praat - dit is die teks wat deur die feit dat hy hom as poëtiese skrif aanbied, nie net ‘beskryf’ nie, maar as skrif motivering gee vir die plesier van beide wandelaar en verteller. Nou kan mens natuurlik nog verder gaan en dié voorbeelde van skrif wat nie direk handelings beskryf nie - dus nie sekondêr funksioneer nie - isoleer en die motivering in die skrif sien. Dit sou dan waarskynlik sê dat die natuur mooi, idillies en suiwer is, maar die stad die teenoorgestelde. En as jy dieper kyk, sal | |
[pagina 12]
| |
daar vir jou in die skrif 'n ideologie geskryf staan van verset teen verstedeliking, teen die materialistiese determinasie van die twintiger- en dertigerjare in Suid-Afrika. Wanneer die teks meer gesofistikeerd raak, bestaan die moontlikheid dat die grense tussen teken en saak vernietig kan word, dat die teks skrif word wat in sigself saak is: ‘It is...an act...which will destroy the barriers between sign and signified.’Ga naar voetnoot40) Breyten Breytenbach se gedig l.l. (lotus) uit die bundel Lotus is 'n hardnekkige opheffing van die teken-saak-verhouding. Niks bestaan buite die teks nie, die teks is finaal die skrif op papier. en Aum Mani Padme Hum
die perd van lug
galop deur die lug
die ros van asem
met die ruiter van syn
die lug is 'n blou tent
met die kreukels van wind
en die son die banier
want die tent aanwys
die Groot Taak is
om van honderolle
sterre te maak
en die Groot Niet te vertrap
en bo is reeds die eerste ryp
die hemel is 'n land van sneeu
snags is iedere voël teen nag so rou
'n skelet, die silhoeët van 'n skree
en die maan 'n silwer kreet
die ryp sneeu knetter
maar jy hoef dit nie te vrees
inteendeel kom
ons gaan stap
al langs die donkerte van heuwels
waar bome hoog soos die nag
die nag in groei
sien jy? daar is die niks
al die woorde is net skimme
| |
[pagina 13]
| |
wat soos perde van asem
deur die niet galop
en kom weer saam met my binne
waar die donkerte fluit
kom lê op my wete
kom lê op my tong, my skaduwee
want daardie skaduwee moet ek
uit die mondnag skud
en met daardie skadu as mes
bloots en skrylings op daardie tong
moet ek al jou blare oop kan vou
tot hier waar jy gepêrel is tot
die blinde, selfvervullende pêrel
ruik jy nou nie die sterre nie?
alles kom uit gewaarword op
en sink weer daarin terug:
die perde eet pêrelsGa naar voetnoot41)
Die eerste reël is ellipties en volg op ‘l.l’ en ‘(lotus)’ - en dis belangrik dat die hakies gesien word, dat die ‘titel’ van die gedig tussen hakies is, dus nie heeltemal 'n aanduidende en kategoriserende titel is nie. Die woorde in die eerste strofe be-teken (perd, lug, galop ens.), maar staan in so 'n verhouding tot mekaar dat geen sinvolle betekenis opgeroep kan word nie. Daar bestaan letterlik niks in hierdie strofe nie, behalwe lug. Maar die taal bestaan wel. In strofe twee is daar 'n poging om lug, wind, son te ‘konkretiseer’ deur 'n metafoor, as tent met kreukels en banier - om dus daarvan 'n saak (‘signified’) te maak. Maar die metafoor - of die saak - kom nie weer voor nie, het dus geen betekenis nie. Al wat dit sê, is dat dit op poëtiese wyse sê. Die derde strofe klink na 'n konvensionele mededeling: die aankondiging van 'n doelstelling, 'n poëtiese credo. Die credo is om die banale te omvorm tot die skone, om te herskep, en om sin te maak deur die niet te vernietig. Die Groot Taak is dus om die Groot Niet te vernietig - en dit kan gedoen word deur iets te maak. Skepping is dus vernietiging, en die teenstelling werk negerend. Dan begin die teenstellings: die ryp wat bo is, die hemel wat 'n land is, voëls wat snags silhoeëtte het, klank wat vorm het en vorm wat klank het. In terme van betekenis word die onmoontlike gegee, sodat betekenis in die konvensionele sin verval en slegs die taal as teks oorbly. En die teenstellings duur voort, plus 'n spel met die teken-saak-verhouding op so 'n wyse dat teken en saak t.o.v. dieselfde woord heeltemal verskil, en deur daardie verskil implisiet kommentaar lewer op die onbetroubaarheid van die verhouding. Vergelyk ‘ryp’ en ‘ryp’: die een is van winter, die ander van somer: sneeu wat ryp is val, soos ryp vrugte van bome; | |
[pagina 14]
| |
maar ryp met betrekking tot vrugte is somer, en dit gaan hier om winter. Dus weer 'n negerende teenstelling. Dan volg daar 'n mededeling, 'n handeling word voorgestel: kom ons gaan stap, in die nag langs donker heuwels waar donker bome groei, waar ons dus niks kan sien nie. Hoe kan ons dan stap? Weer is daar letterlik niks: woorde is skimme en bevat nie ‘sake’ nie. Maar hulle bestaan wel - in die skrif op papier; hulle het sélf die sake geword. Die res van die gedig is oor woorde, as sake, gekonkretiseer in die geliefde as bemiddelaar. 'n Ander moontlikheid word ook beproef: die woord as klank; maar dit word opgehef in die laaste reël, in die niks van die fonetiese effek van ‘die perde eet pêrels’. Deur transformasies hoop hy om die kennis van die geliefde te bereik, van die pêrel in die lotus (ook nou 'n ver-taling, transformasie, van die ‘onbekende’ woorde in die eerste reël). Maar tot hier het woorde, wat skimme is, nog niks gesê, beteken, nie. Hoopvol vra hy nou aan die einde: ‘ruik jy nou nie die sterre nie?’ Het die honderolle toe sterre geword? Waarom ruik hulle dan? Ek meen dat mens hier 'n teks het waar skrif net skrif is, net aanhoudend probeer sê dat hy homself sê. 'n Teks wat hom konsekwent self dekonstrueer, soos daar van Shelley gesê is: ‘Shelly's poetry is the record of a perpetually renewed failure...’ ‘The language which tries to efface itself as language to give way to an unmediated union beyond language is itself the barrier which always remains as the woe of an ineffaceable trace. Words are always there as remnant, “chains of lead” which forbid the flight to fiery union they invoke.’Ga naar voetnoot42) Hierdie benadering kan, as dit so konsekwent deurgevoer word as wat die teks, of gepaste gedeeltes van die teks, toelaat, die aksente t.o.v. die funksie van skrif taamlik drasties verander. Ek sê opsetlik ‘as wat die teks toelaat’ omdat daar, in Roland Barthes se terminologie, ‘lisible’ en ‘scriptible’ tekste is. Die ‘lisible’ veroorsaak ‘plaisir’ ('n gemoedelikheid waarskynlik), en die ander ‘jouissance’ - genot en ontsetting: ‘plaisir is sayable, jouissance is not’.Ga naar voetnoot43) Die teks is 'n produk, gemaak deur intellektuele arbeid binne 'n milieu waar spesifieke wyses van produksie, produksieverhoudings en politieke ideologieë bestaan. Dit kom dus vanuit 'n gedetermineerde werklikheid; maar die teks is nie 'n representasie of elementêre weerspieëling van daardie werklikheid nie. Nie 'n sekondêre refleksie nie. Die nie-verteenwoordigende van skrif is die tema van een van Derrida se argumente in Of Grammatology. Sy verheffing van skrif ontstaan hier as kritiek op Rousseau en Lévi-Strauss se sienings van taal. By Rousseau is skrif slegs | |
[pagina 15]
| |
aanvulling tot spraak, supplementêr,Ga naar voetnoot44) 'n bemiddelende representasie van denke. Derrida se redenasie kom daarop neer dat 'n aanvulling iets aanvul wat nie volledig is nie; dit werk supplementêr en voeg toe deur vervanging van wat nie daar is nie. So kom dit dan in die plek van; en as dit representeer dan is dit omdat dit waarvoor daar ingestaan word nie teenwoordig is nie, die plek daarvan word dan ingeneem. 'n Leemte word gevul deur ‘volmag’ (‘proxy’) as teken; en a.g.v. daardie volmag verkry dit as teken eie bestaansreg sonder afhanklikheid van die saak waarvoor dit gestaan het. Hier is dan 'n dekonstruksie van die hele tradisionele denkwyse oor skrif sedert Plato, soos verteenwoordig in dié uitspraak van De Saussure: ‘Language and writing are two distinct systems of signs; the second exists for the sole purpose of representing the first.’Ga naar voetnoot45) En as skrif nie meer, elementêr, gesien word as 'n verteenwoordiging van spraak nie, dan is dit ook nie van geïdealiseerde spraak nie, en ook nie van denke nie. Die implikasie t.o.v. teks en ideologie is dan dat die skrif self ideologie kan wees: ‘Thus, literature is viewed, not as a secondary reflection of something else, but as a real social force, existing in its own right, with its own determinations and effects.’Ga naar voetnoot46) |
|