Marxisme en die Afrikaanse letterkunde
(1988)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina VII]
| |
InleidingHierdie boek wil 'n alternatiewe benadering tot die Afrikaanse letterkunde beproef deur enkele prosatekste as voorbeeld te neem. Dit is nie 'n literêrsosiologiese studie wat die maatskappy vanuit die letterkunde wil verklaar nie; eerder 'n Marxistiese benadering vanuit 'n siening dat 'n letterkunde gedetermineer is deur dieselfde magte wat ook die aard van 'n maatskappy bepaal. Alhoewel dié ondersoek nie literêr-sosiologies is nie, sal dit nietemin sekere eienskappe in die totstandkoming en ontwikkeling van die Afrikaner se ideologie onderstreep. Soos byvoorbeeld sy strewe om ‘baas’ in sy ‘eie land’ te wees,Ga naar voetnoot1) of die feit dat die Afrikaner aanvanklik teen kapitalisme en imperialisme was as eksploitasie, maar dat hy tog mettertyd die vrye ondernemingstelsel as sy uiteindelike redding gesien het. Die rol van die intellektueel tydens die dertiger- en veertigerjare van hierdie eeu was belangrik vir die formulering van 'n ideologie, maar die sosiale historikus vergeet dikwels dat die geskrifte van akademici, ekonome, kulturele en geestelike leiers nie die enigste tekste is nie: ‘A writer is an imaginative historian, who is able to get closer to contemporary facts than social scientists possibly can.’Ga naar voetnoot2) Die romans van die tyd het mense geskep wat in die oorgang van 'n feodale na 'n geïndustrialiseerde maatskappy verlore geraak het, vervreemdes wat terug gehunker het na die idille van die plaas, maar deur ekonomiese omstandighede gedwing is om ander uitkomstes te vind. Mense wat in die tekste van daardie tyd gemaak is, die bywoners, Ampie, Sjakkie, Portjee, Faantjie Delport was nie net fiktiewe karakters nie, maar ideologiese proefkonyne wat in die laboratorium van die ekonomie die formule vir die Afrikaner moes vind. Die romanskrywer wie se wêreld histories en materialisties gedetermineer is, kon nie teoretiseer en doelbewus programme opstel soos die intellektueel nie; die gedetermineerde teks waarin sy karakters hulle eie heil moes uitwerk het meer as enigiets die onstuitbare verloop van die geskiedenis van die Afrikaner tot kapitalisme gewys. | |
[pagina VIII]
| |
Ek wil daarmee beweer dat die literêre teks 'n belangriker ideologiese kondisionering, of verset daarteen, is as wat gewoonlik gedink word; omdat die letterkunde nie 'n aparte, estetiese en ‘verhewe’ bedryf is nie, al is die teks ook hoe ingewikkeld. Dis deel van 'n bewuswordingsproses wat uitloop in die aanvaarding of verwerping van 'n ideologie. In my benadering tot die teks wil ek probeer om Marxisties te kyk mie gesien slegs as 'n bemiddelaar tot betekenis nie: dit is betekenis. Byvoorbeeld: in sy ontleding van die periferale status van gekleurdes (hulle ‘wat net saam met die baas gekom het’) in D.F. Malherbe se Die meulenaar wys Jakes Gerwel op die ideologiese gekondisioneerdheid wat die teks onbewus openbaar in die neiging om hiërargies - eintlik rassisties - te beskryf. Daarin word hulle deel van die milieubeskrywing, deel van die natuur soos dit telkens vanuit 'n blanke karakter se oog gesien word. Dus nie as mense in eie reg nie, maar as deel van die décor.Ga naar voetnoot3) Die keuse van prosatekste vir die proefneming is deur die aard daarvan bepaal. Bywoners en Ampie staan binne die feodale tydperk, Die onterfdes aan die begin van kapitalistiese akkumulasie en die erkenning en aanvaarding van 'n proletariaat. Nadat kapitalisme die dominante ideologie van die Afrikaner geword het, met die daarmee gepaardgaande eksploitasie en onderdrukking, het die diskoers van bevryding ook die Afrikaanse roman binnegedring. Twee tekste van Karel Schoeman word in terme daarvan ondersoek: Om te sterwe en Na die geliefde land. Ten slotte word Die Kremetartekspedisie, ten spyte van die modernisme daarvan, gelees as 'n verset teen klas, akkumulasie en eksploitasie. En omdat hierdie teks uit stiltes geskep is, is die bespreking daarvan ook 'n poging om Marxisme en Dekonstruksie te verenig, as deel van 'n voortgesette proses om literêr-kritiese alternatiewe tot die Formalisme en Strukturalisme te vind.
It has sometimes been contested that speech clothed thought ... But has it ever been doubted that writing was the clothing of speech? For Saussure it is even a garment of perversion and debauchery, a dress of corruption and disguise, a festival mask that must be exorcised ... by the good word ... One already suspects that if writing is ‘image’ and exterior ‘figuration’, this ‘representation’ is not innocent. The outside bears with the inside a relationship that is, as usual, anything but simple exteriority. The meaning of the outside was always present within the inside, imprisoned outside the outside, and vice versa.
(Jacques Derrida, Of Grammatology) | |
[pagina IX]
| |
The question is not what literature's political effects are but what they might be made to be - not in a forever and once-and-for-all sense but in a dynamic and changing way - by the operations of a Marxist criticism.
(Tony Bennet, Formalism and Marxism)
We are not concerned with the very poor. They are unthinkable, and only to be approached by the statistician or the poet.
(E.M. Forster, Howards End) |
|