Letterkunde & krisis
(1990)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd'n Honderd jaar Afrikaanse letterkunde en Afrikaner-nasionalisme
[pagina 47]
| |
Ná 1976Stephen Clingman se kommentaar oor Nadine Gordimer se July's People (1981) kan net sowel van toepassing wees op Schoeman se Na die geliefde land: ‘the novel, arrived at a dead-end of history, searches for the only way out’ (1986: 193). Terwyl Schoeman, Gordimer en in 'n sekere mate ook John Miles (1938) in hierdie tyd stroef begin vooruitkyk, was dit Gordimer wat die tyd 'n naam gegee het: die interregnum. Die motto van July's People kom van Antonio Gramsci. Dit lees: ‘The crisis consists precisely in the fact that the old is dying and the new cannot be born; in this interregnum a great variety of morbid symptoms appear’ (1978: 276). Die verskeie krississe - rondom 1922, 1948, 1961, 1976 - kan nou al ontwikkel het tot 'n oorgang tussen twee sosiale formasies. Daar is skynbaar aanvaarding vir die feit dat 1976 'n waterskeiding was (Swilling, 1987: 408), en dat die heersklas besig was om konsensus te verloor: ‘...it is no longer leading but only dominant, exercising coercive force alone’ (Gramsci, 1978:275-276); alhoewel 'n revolusionêre skeur onwaarskynlik is: ‘For a revolutionary rupture to occur the security forces need to collapse, the state's social base must disintegrate and reformist attempts to reconstitute the goals of structural change must be an unmitigated failure’ (Swilling, 1987: 426). Waar mens in die geval van vorige krisisse kon redeneer dat die opposisiemagte op die terrein van die konjunkturele georganiseer het, daar sal mens nou miskien moet herdefinieer - weer vanuit die Gramsciaanse analise: ‘A common error in historicopolitical analysis consists in an inability to find the correct rela- | |
[pagina 48]
| |
tion between what is organic and what is conjunctural... The distinction between organic “movements” and facts and “conjunctural” or occasional ones must be applied to all types of situation’ (1978: 178). En met spesifieke verwysing na die post-Soweto-situasie: ‘Of course, the impact of Soweto was much broader, deepening the economic crisis into organic crisis and indicating to some sectors of capital that the system's very existence was in jeopardy’ (Saul en Gelb, 1981: 24). Ontnugtering met apartheid, 'n meer ‘organiese’ opposisie, sowel as 'n afname in die ekonomiese oplewing kan gedeeltelik in verband gebring word met barste in die Afrikanerhegemonie. In 1982 praat die koerant Rapport oor Afrikaneridentiteit en wat dit kan beteken, en terselfdertyd is die FAK en die ASB gepreokkupeer met kwessies rondom identiteit. In 1985 word studente van die Universiteit van Stellenbosch verbied om die ANC-jeugliga in Lusaka te ontmoet. Die Vryheidshandves word nou openlik in Afrikaans beskikbaar (Olivier, 1985:96-99). In 1986 neem die regse Konserwatiewe Party oor as die amptelike opposisie in die parlement, en vervang daarmee die redelik liberale verset van die PFP; en in 1987 ‘sluip’ 'n groepie ‘liberale’ en ‘radikale’ Afrikaners uit Suid-Afrika om met uitvoerende persone van die ANC in Dakar te gesels. Aan die kant van die strydende opposisie is dit nodig om kennis te neem van die stygende radikalisering van swartmense na die verkryging van onafhanklikheid in Mosambiek en Angola (in 1975). Hierdie groeiende radikalisasie kan ook gekoppel word aan die wettiging van vakbonde (1979), die verskyning van gemeenskapsorganisasies in Port Elizabeth, Soweto en Kaapstad, die opkoms van radikale studente-organisasies aan die begin van die tagtigerjare, en die lansering van die UDF (1983). Meidag-eise is in Mei 1985 deur politieke organisasies en vakbonde geformuleer (Swilling, 1987: 409), en die Vryheidshandves het heelwat openbare aandag begin kry. Op die kulturele terrein is daar 'n herverskyning van swart letterkunde vanaf die begin van die sewentigerjare. In 1973 het Nadine Gordimer, byvoorbeeld, gesê: Three individual collections (of poetry) have been published within eighteen months. I know of at least two more that are to come this year. An anthology representative of the work of eleven poets has recently been compiled. Poems signed with as yet unknown names crop up in the little magazines: there are readings at universities and in private houses. (1973: 1) | |
[pagina 49]
| |
Dit is ook van besondere belang om daarop te let dat die apartheidstaat besig was om sy taal te wysig, besig was om hom te verdedig in 'n nuwe taal van legitimasie, maar nog van dominasie. Daar was 'n neiging om weg te beweeg van ‘ideologie’ as 'n bewuste konsep; ortodokse apartheidsideologie word gediskrediteer, en daar is 'n begin van deurlopende konsultasie met die sakegemeenskap (Marks en Trapido, 1987: 427). Nuwe slagspreuke word gesirkuleer: ‘apartheid is dood’, ‘konstitusionele hervorming’, ‘vrye onderneming’, ‘totale aanslag’, ‘totale strategie’. Maar die mees betekenisvolle ontwikkeling - wat 'n konflikterrein geword het in die Afrikaanse prosa-literatuur (die ‘literêre’ sowel as die ‘populêre’) van die tagtigerjare - is die groei van militêre mag, militarisasie, en 'n vervaging van die grense tussen die siviele en die militêre. Dit het gelei tot die skepping van wat genoem kan word 'n ‘besette staat’. 'n Liaison tussen die militêre en kapitaal het ontwikkel, en die militêr het nou ook die voorvegter en bewaker van kapitalisme geword. Die konsep ‘totale strategie’ is 'n teenrevolusionêre strategie, volgens studente van militarisasie soos Frankel: ‘First, and above all, South Africa's total strategy is an instrument of counter-revolution designed by the political and security apparatus of a beleaguered racial elite...’ (1984: 62). Uiteindelik beteken dit dat 'n nuwe vorm van instemming, veral tussen witmense, 'n nuwe hegemonie, ontstaan het: Total strategy, and its related concepts of total onslaught and total involvement, is basically part of an exercise to construct a language of images with which the military and its small but influential group of civil sympathizers can communicate with the remainder of the elite on a persuasive basis. (1984: 135) Op literêre gebied bied die prosatekste van hierdie tyd die mees direkte pogings om die kontradiksies wat met repressie verband hou, te identifiseer. Dit sluit in kapitalisme (alhoewel geen skrywer dit onomwonde as oorsaak van konflik kan uitwys nie), en militarisasie. In dié verband moet die volgende skrywers beskou word: Wilma Stockenström, André P Brink, Karel Schoeman, Elsa Joubert, John Miles, Etienne van Heerden, Alexander Strachan en Koos Prinsloo. Die poësie is gesofistikeerd en hoogs kompetent, maar steeds binne die gevestigde estetiese en monologiese tradisie, en sonder besondere bewustheid van die interregnum, behalwe in die geval van Antjie Krog, en in party gedigte van Breytenbach (wat | |
[pagina 50]
| |
uit die gevangenis vrygelaat is in 1982, waar hy baie poësie geskryf het, meestal in die tradisie van die Zen-boeddhisme). Die roman Uitdraai (1976), Wilma Stockenström se eerste prosaproduksie, is geskryf binne die tradisie van die plaasroman, maar met 'n kontemporêre bewustheid van ras. Die hoofkarakter is swanger, en die man wat die vader sou kon wees kan van 'n rasgemengde agtergrond kom. 'n Sentrale gebeurtenis is die aborsie wat haar bevry om binne haar eie ras te kan trou. 'n Onlangse, noukeurige dialekties-materialistiese herlees van hierdie teks gee veel meer betekenis daaraan as vorige analises: ‘...die pleeg van die aborsie (kan) (gelees) word as die herstel van die magsbasis van die Afrikaner. Die aborsie sorg dat Cornelia 'n Afrikanervrou bly, of andersom, dat die Afrikanergroep beheer oor haar as produksiemiddel behou en verseker dus dat een van die hoekstene waarop die huidige sosiale formasie gereproduseer word, ongeskonde bly.’ (John, 1988:138-139). Maar die teks bevat ook onopgeloste kontradiksies en ontduikings: anders sou dit 'n radikale analise kon wees van die heersersklas en die strategie waarvolgens hy die mag behou. Of dit kan die uitdraai van die skroef wees wat die heerser se strukture inmekaar kan laat tuimel. Terselfdertyd sou dit egter ook gelees kon word as antagonisties teenoor die belange van die werkersklas. Die komplekse kort teks Die Kremetartekspedisie (1981) handel oor 'n ekspedisie in die tyd van slawerny na 'n verlore stad, om buit te vind, om besittings te akkumuleer. Maar dit eindig op 'n inversie, met die verteller in 'n kremetartboom - 'n ondersteboboom - en sonder besittings. Terwyl dit die verhaal van 'n slavin vertel - en dit sou 'n aanklag teen kapitalisme kon wees - is dit ook 'n postmodernistiese verhaal oor 'n teks, oor skryf, écriture. Die skrif is uiteindelik al wat oorbly. Hierdie teks is die komplekse fusie van novelle en poësie, en oor die woord in sy verhouding van betekenaar tot betekende, maar ook as betekenaar van betekenaar. Soweto 1976, Bram Fischer van die SAKP, Afrikaner-kapitalisme en die Afrikaner-tycoon is die onderling-verbonde prikkels tot Brink se Gerugte van reën (1978). Gedurende beroerde tye in sy land soek die sentrale karakter, 'n ryk mynmagnaat, in sy verlede na sy identiteit - slegs om tot die besef te kom dat hy kontak verloor het met toekomstige Suid-Afrikaanse realiteite, soos aan hom verduidelik word deur sy vriend, 'n kommunis. Die tycoon se seun word die draer van die toekoms. Dit is die | |
[pagina 51]
| |
eerste roman in Afrikaans oor kapitalisme en revolusie; maar die konflikterende magte is slegs die agtergrond tot karakters wat eintlik tipes is. Hier het Brink die elemente geskep vir 'n historiesmaterialistiese intervensie binne die Afrikaanse roman; maar omdat daar nie genoeg bewustheid van ideologie was nie, van die ideologie waaruit hy self skryf, kon dit nie gebeur nie. Sterfgevalle in aanhouding - soos dié van Steve Biko in 1977 - was die aansporing tot Brink se 'n Droë wit seisoen (1979), wat nie deur 'n establishment-Afrikaanse uitgewer uitgegee kon word nie. 'n Wit Afrikaner-onderwyser bots met die veiligheidspolisie wanneer twee swart mense wat hy ken op geheimsinnige wyse in aanhouding sterf. Hy raak betrokke by die ‘politiek’, besef dat hy Afrikanerwaardes sal moet opoffer, en word uiteindelik ‘uitgewis’. Dit is nogal van ideologiese belang dat die verhaal deur 'n middeljarige skrywer van populêre fiksie, die verhaalredakteur van 'n vroue-tydskrif, vertel word. Die teks is selfbewus en wys al die tekens van sy strukturering; 'n strategie wat vanselfsprekend 'n dubbele doel het: om ook die gevoel van outentisiteit te gee. Sodat dit wat aan die einde gesê word, die waarheid van die teks kan bevestig: ‘Miskien is die meeste waarop mens mag hoop, die meeste wat ek my mag aanmatig, presies net dit: om op te teken. Net om verslag te lewer.’ (1979: 261) Maar uiteindelik is dit die waarheid: hierdie teks is 'n roman, geskryf binne die gekanoniseerde literêre. Die vraag sou dan gevra kon word: wat is die belangrikste, die sterftes in aanhouding of die roman? Die selfgesentreerdheid van die teks bly 'n preokkupasie van die Afrikaanse skrywer, terwyl dit by tydgenootlike swart prosaskrywers wat oor soortgelyke sake skryf, nie die geval is nie, vgl. die relevante tekste van Mongane Wally Serote, Sipho Sepamla, Mtutuzeli Matshoba. Met Houd-den-Bek (1982) produseer Brink sy tweede meesternarratief, en nie geheel en al anders as Kennis van die aand nie. Soos in Kennis ontstaan die wit-swart-apartheidsverhouding histories deur die meesterslaaf-verhouding, wat 'n klasseverhouding is. Dié roman - vertel deur dertig vertellers, of gesigspunte - is gebaseer op 'n historiese gebeurtenis, die slawe-opstand van 1825. Dit is die verhaal van die rebellie van slawe teen hulle meesters, en deur die multi-narratiewe struktuur is dit 'n getuienis van diskriminasie en wreedheid. Dit is die historiese werklikheid wat die roman ondubbelsinnig oordra; maar uiteindelik sou mens wou vra: waarom bereik nòg slaaf nòg meester binne 'n Hegeliaanse | |
[pagina 52]
| |
dialektiek selfbewussyn? Is dit as gevolg van strukturele, of ideologiese, blokkades? Besorgdheid oor die teks en die literêre beklemtoon die sonderlingheid en die ‘rol’ van die skrywer in sy/haar maatskappy; en sedert Van Wyk Louw is die skrywer primêr ook intellektueel. Die literêre produk is derhalwe ook die produk van 'n intellektueel. Deur die intellek wil die Afrikaanse skrywer interpreteer, reflekteer, teenstrydighede oplos; maar as Afrikaner is hy/sy deel van die Afrikanerdom en van die apartheidsorde en die ‘nuwe’ kapitalisme, of hulle dit wil of nie. In 'n studie van die situasie van die Afrikaanse skrywer/intellektueel in die laat sewentigerjare skryf Hein Willemse oor Brink se gebruik van die konsep: ‘'n Droë wit seisoen is 'n blik op die organiese intellektueel...'n intellektueel wat rigting wil aandui vir die toekoms en keer op keer sy belang by Afrikanerskap herbevestig’ (1985: 7). Die posisie van die tradisionele intellektueel (in Gramsci se welbekende terminologie) is onderwerp vir Karel Schoeman se roman Die hemeltuin (1979), waarin 'n ouerige Afrikaner-akademikus herinneringe koester oor 'n vakansie veertig jaar gelede op 'n ryk en grasievolle Engelse landgoed, met sy Viktoriaanse waardes, terwyl die Tweede Wêreldoorlog besig was om daardie soort gemeenskap te bedreig. Vanuit sy Suid-Afrikaanse werklikheid word min gesê oor sosiale ontwrigtings. Waar Brink se onderwyser na aan die organiese intellektueel gekom het, is die hoofkarakter hier 'n vervreemde en wil hy aan die buitekant staan: ‘Ek wil my terugtrek en hoop dat die storms my sal ontsien - ek weet nie wat anders mens kan doen nie’ (1979: 19). Hierdie kondisie word goed beskryf deur 'n Afrikaanse politieke wetenskaplike: By gebrek aan identifiseerbare alternatiewe, sal die groot versoeking vir sulke vervreemde Afrikaner-intellektuele wees om hulle van die politieke slagvelde te onttrek op soek na 'n innerlike en apolitieke domein van suiwer en/of kulturele belange. (Du Toit, 1983: 7) Dit is ongetwyfeld die situasie van die meeste Afrikaanse digters en kritici van die sewentiger- en tagtigerjare. Willemse vergelyk Brink en Schoeman as volg: Die hemeltuin staan soos die romans van Brink en Coetzee in die teken van soeke na oplossings in die huidige Suid-Afrikaanse tydsgewrig. Die herinnering aan 'n eens paradyslike orde word passief beleef en die intellektueel se belewing van sy hede lei tot geen daadwerklike optrede nie, maar veel eerder onthouding. Maar ont- | |
[pagina 53]
| |
houding is 'n duidelike politieke keuse. Hier nie oorlewing van die groep, maar wel van die individu. (1985: 9) John Miles se hoofkarakter in Blaaskans (1983) - die eerste roman wat die militêre en militarisasie as basiese ‘premisse’ gebruikGa naar eind9. - is ook 'n onderwyser, soos in Brink se Seisoen, en ook 'n intellektueel, soos in Schoeman se Hemeltuin. Maar hy gaan veel verder as in daardie vroeër tekste: hy blaas 'n militêre basis op nadat hy gepolitiseerd geraak het. In hierdie teks word militarisasie gedefinieer as die noodtoestand waarin mans opgeroep word, mense se privaatheid vernietig word, ander se ruimte platgestoot word (stootskrapers is ideologiese tekens); daar is 'n gelykmaking, 'n sigbare verwydering van alle tekens van politieke protes en 'n repressie van weerstand, of dit van links of van regs kom. In terme van die politiek van instemming is Miles se teks 'n diskoers oor die verlies van die hegemonie en die eskalasie van repressie. Vanaf die begin van die roman is die hoofkarakter gedurig besig om, doelbewus, met sy omgewing te identifiseer. Dan begin hy identifiseer met die materiële bestaansomstandighede van mense, soos deur hulle sosio-politieke realiteite gedetermineer, veral hulle wat woon in die ‘onafhanklike tuislande’. Hy probeer ook vasstel watter handelinge by implikasie kon plaasgevind het voor die teks bestaan het; handelinge wat nou van die teks 'n historiese dokument gemaak het. Dit bring mens dan by die Geskiedenis, en die waarde daarvan as herinnering. Op verskeie plekke is daar siniese verwysings na die Geskiedenis: Geskiedenis is die Groot Doel, die toekoms word deur die verlede bepaal, die mag van die verlede kan nooit vergeet word nie, die Afrikaner kan sy geskiedenis nie vergeet nie. Maar die teks wys dat geskiedenis niks meer is as gebrekkige verbeelding nie - daarom moet dit altyd opnuut herinterpreteer word. 'n Herinterpretasie van die Slagtersnekrebellie, waarop deel van die teks gebaseer is, lei die hoofkarakter tot dié slotsom: ‘Mense wat sinvolle patrone in die geskiedenis kry, kom noodwendig by terugskouing daarby uit, jy kan nie vooraf weet hoe die geskiedenis gaan lyk nie’ (1983: 249) In terme van die historiese materialisme sou mens in die versoeking gestel word om te sê: die materiële bestaansomstandighede in die hede bepaal hoe die verlede gelees word. Miles se teks is in 'n groot mate 'n omsetting van die Slagtersnekgeskiedenis. 'n Mens sou kon vra: is dit 'n gewaarwording | |
[pagina 54]
| |
van die materiële situasie van ander wat veroorsaak het dat 'n moderne, wit, Afrikaanse skrywer sy geskiedenis negatief sou herinterpreteer? Of is dit 'n poging tot die ont-idealisering van die Afrikaner se geskiedenis en sy verlede? Blaaskans sou miskien ook beskou kon word as een van die meesternarratiewe: dit besit die historiese basis, elemente van die legendariese, die heroïese, en die besorgdheid met tekstualiteit. Alles is egter omgekeer, en hierdie teks sou 'n herinterpretasie, selfs ‘herroeping’, van daardie soort narratief kon aandui, wat aansluit by die groeiende onsekerheid tussen Afrikanerintellektuele oor apartheid, nasionalisme, selfs kapitalisme - as dit nie vir die feit was dat die weerstand van hierdie teks teen militêre mag nie sterk genoeg deur later skrywers deurgevoer is nie; en die ou soort meesternarratief kom weer voor met Etienne van Heerden se Toorberg (1986). Wat van hierdie literêre modus gaan word, sal om ideologiese redes veral boeiend wees om waar te neem. Terwyl Brink, Miles en die skrywers na hulle volhard het in die skryf van 'n tekstueel-bewuste, hoogs gestileerde, maar hoofsaaklik realistiese literêre wyse, is Elsa Joubert se ‘grensroman’ Die laaste Sondag (1983) simbolies, selfs allegories. Sy vertel van 'n grensgemeenskap, hulle simbole, hulle vertoiingde kultuur, hulle haat en hulle bose wraakgedagtes. Plekhanov se woorde weerklink helder in 'n toepassing op haar teks: The history of literature shows that man has always used one or other of these means (symbolism or realism) to transcend a particular reality. He employs the first (i.e. symbols) when he is unable to grasp the meaning of that particular reality, or when he cannot accept the condition to which the development of that reality leads. He resorts to symbols when he cannot solve the difficult, sometimes insoluble problems. (Jameson, 1971: 337) Regdeur sy geskiedenis was die Afrikaner aan die een of ander grens, of was hy aan die grense vasstel, besig om mense te verdeel. Grense, die apokaliptiese en militarisasie het deel geword van Afrikanerprosaliteratuur sedert die sewentigerjare. 'n Onlangse ontwikkeling is die prosateks geskryf ‘van binne’, waar die soldaat die verteller is, en waar die outeur 'n soldaat is. Een so 'n outeur het gesê: Waar vorige skrywersgenerasies intellektuêel met sosiale en politieke vraagstukke geworstel het, beleef die jonger skrywer die bestel aan die lyf in die sin dat almal verplig is tot militêre diens. (Rapport, 1986: 15) | |
[pagina 55]
| |
Twee divergerende maar ook soortgelyke tekste ‘van binne’ is 'n Wêreld sonder grense (1984) deur Alexander Strachan en Om te awol (1984) deur Etienne van Heerden. Die een gaan oor die aard van veg, die ander oor dié van vlug; maar albei het een ding gemeen: ‘Ek is moeg vir oorlog’ (Grense, 1984: 48) en ‘Ek het genoeg gehad’ (Awol, 1984: 22). Die alternatiewe is: veg en word deel van 'n strydlustige familiestruktuur, of vlug en vlug uiteindelik van alles. Die keuse wat Strachan maak, is die mees skrikwekkende, maar die een naaste aan die Suid-Afrikaanse realiteit. Sy teks, 'n opeenvolging van verbandhoudende kortverhale, bring die ideologie van stryd na vore. Dit vertel van 'n jong man wat sy tuiste op 'n Suid-Afrikaanse plaas verlaat om by die recces aan te sluit en uiteindelik Swapo-guerillas te vermink. Hy raak vervreem van die siviele lewe, sy verhouding met vroue raak versteur, en uiteindelik moet hy 'n vriend om die lewe bring om beheer oor te neem van 'n groep Suid-Afrikaanse soldate wat die SAW uitdagend verontagsaam. Die laaste episode kan gelees word as 'n simboliese, oedipale tranformasie wanneer hy herenig word met 'n nuwe familie, die militêre. 'n Navorser van 'n onlangse studie van hierdie teks kom tot die slotsom: This narrative, produced under capitalism, ends up refusing the contradictions inherent in its own social formation. It then uses the patriarchal slipway to move the ideological space into the feudal mode of production. It is in this sense that 'n Wêreld sonder grense is 'n reactionary text. (Munnik, 1987: 64) Militêre en polisiegeweld, groter verdrukking, sensuur op die media, 'n ongesonde ekonomie, die verlenging van die noodtoestand is die krisis van die laat tagtigerjare in Suid-Afrika. Waar staan Afrikaans, as 'n terrein van stryd, in hierdie beroerde tye; en wat sal word van die Afrikaanse letterkunde as dit 'n letterkunde bly, geskryf vanuit 'n bankrot tradisie, hoofsaaklik deur wit intellektuele vir wit intellektuele, 'n aparte letterkunde? 'n Antwoord lê moontlik in 'n kortverhaal van Koos PrinslooGa naar eind10. waarin Afrikaans, en veral waarvoor dit staan, bedreig word deur die geskiedenis, waarin die geskiedenis van die witterige Afrikaanssprekende pioniers en koloniseerders van die suidelike deel van Afrika gesien kan word as 'n bedreiging vir skryf as gevolg van ideologiese aanpaksels. Daar is tekens dat Afrikaner-intellektuele ernstig oor die verlede nadink en die weë vir die toekoms heroorweeg. Afrikaanse | |
[pagina 56]
| |
skrywers se ontmoeting met uitgeweke skrywers van die ANC in Julie 1989 by die Victoria-waterval kan geïnterpreteer word as die begin van 'n afsplitsing van die hegemonie. Hierdie besluite uit die gesamentlike persverklaring ná die konferensie is histories betekenisvol: Die konferensie het ons wedersydse begrip verryk. Die konferensie het hom daartoe verbind om te werk vir 'n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese en demokratiese Suid-Afrika... Die Afrikaner-skrywers van prosa en poësie wat hulle onvoorwaardelik vereenselwig het met hierdie verklaring - Breyten Breytenbach, André P Brink, Jeanette Ferreira, Jeanne Goosen, Ryk Hattingh, Antjie Krog, André le Roux, John Miles, Victor Munnik, Welma Odendaal, Fanie Olivier, Hans Pienaar, Koos Prinsloo, Etienne van Heerden, Lettie Viljoen, Johan van Wyk - het klaarblyklik besluit om te kies vir 'n ander Suid-Afrika. |
|