Die vlakte en andere gedigte(1908)–Jan F.E. Celliers– Auteursrecht onbekend Vorige Volgende [pagina 77] [p. 77] Die ossewa. Die osse stap aan deur die stowwe, geduldig, gedienstig, gedwee; die jukke, al drukkend hul skowwe, hul dra dit getroos en tevree. En stille, al stuiwend en stampend, kom stadig die wa agterna, die dowwe rooi stowwe, al dampend, tersij op die windje gedra. Die middag-son brand op die koppe, gebuk in hul beurende krag, hul swaai heen en weer in die stroppe - en ver is die tog van die dag. Dit kraak deur die brekende brokke; die opdra'ens is ver en is swaar, dit knars in die knakkende knokke, maar hul beur en die vrag breng hul daar. So, stom tot die stond van hul sterwe, blijf ieder 'n held van die daad. - Hul bene, na swoege en swerwe, lê ver op die velde verlaat...... Vorige Volgende