Voorwoord.
Twee dinge het ons jong Afrikaanse kultuur broodnodig: 'n grondige, diepgaande beskawingsgeskiedenis van ons Dietse verlede, 'n deeglike, volledige geskiedenis van Dietse letterkunde in Suid-Afrika. Om die paaie wat naar die toekoms voer te sien, moet 'n mens die paaie ken wat uit die verlede kom. Die verlede is die anker van die hede, maar die kompas van die toekoms. Te weinig ken ons ons kulturele verlede in Suid-Afrika. Vandaar die onvastheid (neiging tot verengelsing), die heers van wanbegrippe (Langenhoven se ‘Dietse Sappery’), ten opsigte van die bestaande Afrikaanse kultuur. Vandaar ook, oor die algemeen, die onsekerheid en onverskilligheid wat betref die toekoms van die Afrikaanse kultuur (noodsaaklikheid van noue aansluiting by die Nederlandse kultuur); die so weinig positiewe vraagstelling by ons Afrikaners: wat verstaan ons onder 'n volwaardige Afrikaanse kultuur, langs watter lyne moet ons ontwikkel om dit te bereik?
Ons Afrikaanse kultuur verkeer nog in sy eerste kinderjare. Ons vernaamste kulturele besit is ons taal, ons Kalvinistiese godsdiens, 'n bietjie letterkunde, en, as erfstuk uit die verlede, ons ou-Hollandse boustyl. Verder besit ons 'n enkele verdienstelike beeldhouer; 'n paar verdienstelike skilders; 'n bietjie Afrikaanse liedere (meestal deur Nederlanders of Vlaminge op musiek geset); 'n ontluikende Afrikaanse toneel; en miskien 'n ontluikende Afrikaanse wetenskap op Stellenbosch.
Seker dis 'n bemoedigende begin. Maar hoe ver staan ons nog nie af van die internasionale peil nie? Waar is ons moderne Afrikaanse boustyl wat kan vergelyk met die ou-Hollandse? Waar is ons Rembrandt, ons Shakespeare, ons Beethoven, ons Michel Angelo?
'n Jong volk leef vorentoe, word gesê. Ons moet vorentoe lewe: vurig, bewus, onkeerbaar. Ons moet wakker word uit die halwe slaap waarmee ons bevange is, ons moet skouers aan die wiel sit in eensgesinde sterk-bewuste krag om ons Afrikaanse ideaal te bevorder. Ons is kinders, in die eerste plek, van die Holland van die 17de eeu. Ons wil, soos ons broers in die Holland van die hede, ook 'n volk word, gesien in die raadsale van die wêreld. Gesien, nie om sy krag naar getal nie, maar om sy krag naar die gees, sy prestasies op gebied van wetenskap, kuns, ens.