| |
| |
| |
Inskripsies in 'n ‘gaapsing’
'n Interpretasie van die pentekening op die omslag van Breyten Breytenbach se digbundel Soos die so (1990)
Etienne Britz
Abstract - Because of his enigmatic style of writing, often consisting of unusual combinations of words and syllables, the South African poet and painter Breyten Breytenbach compels the reader to engage in a questioning mode of reading. The reader marvels at the variety of sometimes contradictory answers following from this questioning. It often appears that one and the same expression conveys opposite thoughts in a polar relationship, and that the central thought fluctuates according to shifts in the reader's imagination. Thus meaning is decentralized; meaning is scattered and recollected in multiple ways in the void created by the poet's creative destruction of conventional language. The drawings which Breytenbach inserts into his collections of poems or uses as designs on the cover, function in the same ambiguous manner. If these pictures are read in the context of Breytenbach's Zen-Buddhist views, they convey a sense of existence in which opposites - e.g. spiritual versus physical matters - appear as complimentary and equal aspects of reality, however radically they might have been juxtapositioned by Western metaphysical thought. A good example of such a polysemous design is the drawing on the cover of the collection Soos die so, published in 1990. (The drawing is reproduced in this article.)
Die Suid-Afrikaanse digter Breyten Breytenbach skryf sedert sy debuut in die vroeë sestigerjare onder invloed van Zen-Boeddhistiese nosies, hoewel ondersoek ook die neerslag van onder meer die Marxistiese ideologiekritiek en van die anargisme in sy essays, verhale en poësie kon aantoon. Vandag vind sy werk aansluiting by die diskoerse van die ‘post-isme’: die poststrukturalisme, postmodernisme en postkolonialisme.
Daar was nooit werklik 'n breuk in Breytenbach se ontwikkeling nie. Onder invloed van veral die Zen-Boeddhisme het hy byvoorbeeld in 'n ‘anti-logosentriese’ of ‘dekonstruktiewe’ modus begin dink lank voordat hierdie name bekend was. En in die jare sestig het hy reeds gewerk met die nosie van 'n leë of afwesige Syn, 'n ‘niet’ wat met geen ideologie korrespondeer nie maar wat wel verlange opwek en voortdurend nuwe inskripsies na sig aantrek.
| |
| |
In sy digbundel Soos die so uit 1990 skryf Breytenbach nog oor dieselfde ‘niet’, wat vir die manlike minnaar byvoorbeeld gelokaliseer kan wees in die vroulike skede, die ‘gaapding’ (volgens die gedig ‘10 Oktober 1988’). Sy eie poësie is vir die digter vergelykbaar met die ‘saad ... wat die gaapding genees’. Dit is vlugtige, verganklike inskripsies van die begeerte, heftige skrif wat uitwaaier of verskiet in 'n ontvanklike vakuum.
Die geslagsdaad kom inderdaad neer op 'n beoefening van ‘poes-modernisme’ (‘kut-modernisme’) soos Breytenbach dit stel in die genoemde gedig. Die ‘gaapding’ sing in hierdie poes-modernistiese kuns mee. Sedert die dood van God - so skryf Breytenbach in een van twee kunsteoretiese essays in Soos die so - ken ons die verskynsel van die ‘gaapsing’, die leë maar resonante sentrum, die gaping of ‘gaapding’ wat sing. (Die dood van God het in die Weste ook meer begrip gebring vir die Taoïstiese nosie van die ‘kreatiewe leegte’; 'n mens moet Breytenbach se Zen-Boeddhistiese agtergrond nie uit die oog verloor nie.)
'n Belangrike rede waarom Breytenbach die begrip ‘postmodernisme’ in die gedig ‘10 Oktober 1988’ vulgariserend herskryf tot ‘poes-modernisme’, is waarskynlik dat hierdie begrip teen 1988 al reeds gekleur was - seker in die Suid-Afrikaanse literatuur - met die ydelheid van 'n nuwe waarheidsbesef, of 'n toonaangewende nuwe stylrigting. Die postmodernisme was besig om 'n nuwe institusie te word, om die stilte te begin oorstem met 'n nuwe, anti-ideologiese ‘ideologie’. Parodiërende aanhaling is een van die maniere waarop Breytenbach soms die outoriteit van gesaghebbende uitdrukkings ondermyn.
Breytenbach is ook bekend vir die kripties-assosiatiewe manier waarop hy skryf. Die kreatiewe manier waarop die leser neologismes soos ‘gaapding’ en ‘gaapsing’ moet ontwikkel om sin daaraan te gee, is 'n goeie voorbeeld van die uitdaging wat hierdie soort skryftrant voortdurend aan die verbeelding stel.
Breytenbach versteur die normale leesbaarheid van taal, die situasie waarvolgens 'n taaluiting deur sy konvensionaliteit 'n referensiële indruk wek en 'n bepaalde inhoud ‘voorskryf’ aan die leser. Hy maak sy woorde en sinne vreemd om die leser daarvan bewus te maak dat taal - of altans sy eie taalgebruik! - bestaan uit inskripsies wat ‘die niet struktureer’ na gelang van die manier waarop dit die verbeelding aanspreek. (Die uitdrukking ‘die niet struktureer’ kom uit sy essay ‘Soos die so - gebruiksaanwysings vir 'n skryfdaad’ waarmee die bundel Soos die so ingelei word.)
Die kripties-assosiatiewe trant van die gedigte hou trouens in dat hulle sélf ‘gaapdinge’ of ‘gaapsinge’ is waarin die leser uit begeerte ‘skryf’, waarin hy inskripsies projekteer.
| |
| |
Breytenbach is nie slegs 'n woordkunstenaar - 'n digter, verhaalskrywer en essayis - nie, maar ook 'n kunsskilder en tekenaar. Die illustrasies op die omslag van sy digbundels word byvoorbeeld altyd deur homself geteken of geskilder. Sommige digbundels bevat pentekeninge wat tussen gedigte of groepe gedigte geplaas is en wat 'n spel van woord en beeld skep.
Die kunsgrepe waarmee Breytenbach as digter probeer ontsnap aan manifeste betekenisgewing, aan repressiewe leesbaarheid, vind 'n mens ook in sy skilderye en tekeninge terug. Ook sy illustrasies kan beskou word as veelduidige kriptogramme sonder 'n evidente of ‘sentrale’ betekenis. Die tekeninge is dikwels ‘skryfbare tekste’ wat vir die vindingryke kyker of leser verskillende waardes kan aanneem, ook in soverre hy soek na verbande tussen die gesketste ontwerpe en motiewe uit die digter se poësie.
Die enigmatiese sketse prikkel die leser dus om dekonstruerend te dink en hulle hou verband met die produktiewe verganklikheid van die werklikheid soos Breytenbach dit sien: die vernuwing, verandering, metamorfose (en dus ook vernietiging en verdwyning) waaraan die werklikheid voortdurend onderhewig is.
'n Denkbeeld uit Breytenbach se Zen-Boeddhistiese poëtika wat 'n mens help om sommige van sy tekeninge beter te begryp (of beter te laat funksioneer) is die polêre eerder as binêre koëksistensie van teenoorgesteldes. Die teenstellings man-vrou, gees-liggaam, noord-suid (of westers-oosters), kultuur-natuur, abstrak-konkreet, skryf-lees, geskrewe-gesproke taal, hoë-lae kultuur, sublimiteit-obseniteit ensomeer word deur Breytenbach polêr aangebied in die sin dat hy 'n bepaalde beginsel nooit in 'n oorheersende of sentrale posisie plaas nie. Niks is heilig in Breytenbach se wêreld nie, en alles is heilig, anders as in die wêreld van binêre teenoorgesteldes waar een van die twee opponerende beginsels gewoonlik 'n bevoorregte posisie geniet.
Die destabilisering van interpretasie wat deur Breytenbach se getekende kriptogramme in die hand gewerk word, kom onder meer neer op 'n korreksie van die binêre opposisie teken-betekenis, die tradisionele westerse denkwyse waarvolgens tekens ‘in diens staan’ van die betekenisse wat hulle aandui. Breytenbach ontwerp 'n artistieke teken wat sy eie produktiwiteit, sy mag by die ontstaan en uitwissing van betekenis, kragtig demonstreer.
'n Goeie voorbeeld van 'n omslag-illustrasie wat op bogenoemde wyse funksioneer, is die ingekleurde penskets op die voorblad van die bundel Soos die so. Hierdie tekening word gevolg deur die kunsteoretiese essay getitel ‘Soos die so - gebruiksaanwysings vir 'n skryfdaad’ wat Breytenbach op 31 Desember 1973 geskryf het, ter voorbereiding van die poëtiese ‘dagboek’ wat hy in
| |
| |
1974 sou hou (dié dagboek kon hy in 1988, enkele jare na sy vrylating uit 'n Suid-Afrikaanse gevangenis, voltooi). Die tekening op die omslag en die inleidende essay is trouens intertekstueel aan mekaar gekoppel: die interpretatiewe ontwikkeling van die tekening gaan voort as 'n mens die essay lees, en die essay word op sy beurt toegelig deur die tekening.
Die tekening op die
omslag van Soos die so toon met die eerste oogopslag 'n naakte man in 'n gekruisigde, opvarende, seënende of meditatiewe posisie. Breytenbach - of ‘Al Skrywende’ soos die digter na homself in die bundel verwys - noem die figuur in sy inleidende essay 'n ‘beskermengel ter versiering’. Hierdie dubieuse ‘beskermengel ter versiering’ met sy infantiele of hermafroditiese liggaamsbou, sy geswolle, kaal hoof en raaiselagtige (bose?) blik sou egter ook Breytenbach of ‘Al Skrywende’ self kon voorstel, die outobiografiese ‘ek’ van die poëtiese dagboek Soos die so.
Daarnaas herinner die figuur aan Christus gekruisig of opvarend na die hemel, aan Boeddha in 'n staat van satori, aan 'n bejaarde wysgeer of 'n intellektuele ‘egghead’, aan 'n baba, of 'n waterhoof... die figuur is volledig ambivalent. Die naakte liggaam en die klein skaamdeel ('n penis?) gee aan hom byvoorbeeld iets eroties maar ook iets pateties.
| |
| |
Dit is asof dit 'n sakrale, mitiese figuur is, maar terselfdertyd 'n figuur gekenmerk deur lyding, verval en ontwyding. Die figuur is geïllumineerd, omgeef van strale. Of is hier eerder sprake van krullerige, uitwaaierende hare of selfs van skaamhare? Is dit 'n ironiese aureool vir die vooraanstaande Zen-Boeddhistiese digter Breytenbach soos hy daaruitsien na sewe jaar van aftakeling in 'n Suid-Afrikaanse gevangenis?
Die verskillende assosiasies, byvoorbeeld die outobiografiese assosiasie in verband met Breytenbach se gevangeniskap, word natuurlik gevoed deur wat 'n mens later in die bundel lees, en deur ander tekeninge in die bundel wat op 'n soortgelyke manier geïnterpreteer kan word. Soos vermeld, is daar 'n intertekstuele en dus 'n prospektiewe en retrospektiewe spel tussen woord en beeld in Soos die so.
Hoewel dit nie op 'n swart-wit fotokopie van die ingekleurde pentekening op die voorblad van Soos die so duidelik sigbaar is nie, verskyn die ‘beskermengel ter versiering’ op 'n vierkantige, oopgevoude stuk bruinpapier. Bruinpapier is goedkoop winkelpapier waarmee pakkies toegedraai word. Kinders in Suid-Afrika gebruik dit dikwels ook om hulle skoolboeke mee oor te trek. Die tekening staan op 'n stuk bruinpapier wat kennelik van 'n oorgetrekte boek afgehaal is: 'n mens kan die gevoude rand van die oortreksel selfs op 'n swart-wit fotokopie sien.
In sy inleidende essay ‘Soos die so - gebruiksaanwysings vir 'n skryfdaad’ verwys ‘Al Skrywende’ na hierdie bruinpapier as die ‘stuk bruinerige winkelpapier’ waarmee hy sy poëtiese dagboek uit 1974 oorgetrek het. Die doel van die oortreksel was om sy ‘verserige notaboek’ ... ‘te bewaar teen roes en klammigheid en kwaad.’
'n Mens sien in werklikheid twee voorblaaie op die omslag van Soos die so: enersyds die oortreksel en voorblad van die ‘verserige notaboek’ waarop die bundel gebaseer is, en andersyds die voorblad van die gepubliseerde Soos die so, waarop die voorblad van die dagboek in 'n ingekleurde pentekening weergegee word. Om die dubbele voorblad te beklemtoon, word die titel Soos die so herhaal: in drukskrif (op die gepubliseerde boek) en in handskrif (op die voorgestelde oortreksel).
Daar is 'n boek-binne-'n-boek op die geïllustreerde voorblad, en die twee boeke is in werklikheid dieselfde boek. Vertolking: Soos die so is 'n selfreflektiewe teks; die bundel verwys uit die staanspoor na sigself-as-teks. Die spel met die dubbele voorblaaie beklemtoon ook die onderlinge wisselwerking
| |
| |
tussen ervaring en tekstualisering waaraan Breytenbach as nie-essensialistiese denker glo. Soos die so is immers ‘uit die lewe gegrepe’ as outobiografiese dagboek, maar hierdie ‘werklike lewe’ - waaraan die bruinpapier ons help herinner - was kennelik al 'n soort teks, wat kunsmatig herskryf is tot die gepubliseerde bundel Soos die so.
Daarmee het ons nog nie aan die einde gekom van die implikasies van die bruinpapier as oortreksel en tekenpapier nie.
Een van die motiewe van Soos die so is die verganklikheid. 'n Dagboek is 'n gebaar gerig teen die verganklikheid, en om daardie rede het ‘Al Skrywende’ dan ook sy ‘verserige notaboek’ met bruinpapier oorgetrek: om dit so lank moontlik ‘te bewaar teen roes en klammigheid en kwaad.’ Maar nou is ‘'n stuk bruinerige winkelpapier’ natuurlik geen effektiewe verweer teen die verderf nie; dit beklemtoon juis dat elke verweer teen die dood haglik en futiel is.
Die bruinpapier is dus 'n ironiese teken binne die pentekening. Volgens Breytenbach se visie kan die kuns nòg die digter, nòg enige ervaring of gedagte wat hy wil neerpen, werklik ‘verewig’; alles is uiteindelik weerloos en armoedig en blootgestel aan ontbinding soos goedkoop pakketpapier. Juis in die skamelheid van bruinpapier is egter ook 'n kwaliteit van lewensegtheid opgesluit. As Zen-Boeddhis skryf en teken ‘Al Skrywende’ daarop omdat dit nie die ydel pretensies het van ‘kwaliteitspapier’ nie.
Reeds in die heel eerste gedig wat Breytenbach in sy debuutbundel die ysterkoei moet sweet in 1964 gepubliseer het, het hy geposeer as 'n proletariese of nie-elitistiese digter op weg na sy graf, 'n sogenaamde ‘maer man met 'n groen trui’ wat weet dat ‘sluwe eende op my graf sal kak.’ Vir so 'n prinsipieël arm en deemoedige digter/skilder is ‘bruinerige winkelpapier’ uiteraard die geskikte skryf-of tekenpapier, en die aangewese boek-oortreksel.
Indien 'n mens die figuur in die pentekening op die omslag van Soos die so as 'n gekruisigde of opvarende Christus (of as 'n ander spirituele figuur) sien, val dit jou op dat hy op 'n soort heuweltjie of mishoop oordek of gevul met woorde verskyn. Dit is asof die figuur opdaag en sweef oor (of uit) die top van 'n klein Golgotha. Die ‘graffiti’ (woorde) waarmee dié heuwel oordek is, laat jou vermoed dat met hierdie Golgotha of mishoop 'n derde aansig gegee word van die poësiebundel Soos die so, en dat die selfrefleksiewe spel geleë in die ‘verdubbelde voorblad’ dus verder ontwikkel word. Hierdie vermoede word bevestig as jy die pentekening op 'n heeltemal nuwe manier betrag; as jy die kriptogram dus dekonstruerend herskryf.
| |
| |
Wanneer 'n mens die tekening op bogenoemde wyse hersien, kan dit jou meteens opval dat daar nie alleen sprake is van 'n klein skaamdeel wat aan die ‘beskermengel’-figuur behoort nie, maar ook van 'n groot geslagsorgaan, en van twee bene met hierdie geslagsorgaan in die kruis. Aan die onderpunt van die kruis is daar 'n klein opening wat kennelik as anus gesien kan word: 'n anus waaruit ontlasting in die vorm van woorde val.
Hoewel dit 'n aantasting van Breytenbach
se dekonstruktiewe tegniek is, kan 'n mens noord en suid, hoog en laag, bo en onder, heilig en onheilig vir 'n oomblik van mekaar onderskei en die tekening in twee dele sny om die bene-met-skede-enanus in die onderste gedeelte beter te kan sien. Die metamorfose van die ‘beskermengel’ tot skaamdeel is dan ook duideliker sigbaar (in die boonste gedeelte).
Die groot geslagsorgaan sou 'n manlike of vroulike geslagsdeel kon wees. Daar was trouens al in die geval van die ‘klein skaamdeel’ van die ‘beskermengel’ sprake van 'n hermafroditiese ‘tussen-orgaan’.
Indien die groot orgaan as manlike deel gesien word, is daar sprake van 'n ereksie en van 'n eikel (die kaal hoof van die ‘beskermengel’).
Indien 'n mens 'n vroulike deel sien, vorm die bene van die ‘beskermengel’ die skede of skaamlippe, of anders is daar sprake van 'n groter, geopende skede - van 'n nogal duiselingwekkende ‘gaapding’. Dit hang af waar 'n mens die klitoris plaas. Die stralekrans van die beskermengel of Christus/Boeddha is in hierdie konstruksie klaarblyklik skaamhare.
| |
| |
Glashelder is dit alles uiteraard nie. 'n Mens kan selfs nie met volle sekerheid beweer dat dit hier om 'n soort pornografiese frontaansig van iemand se onderlyf gaan nie: die tekening suggereer immers ook iets van ‘boude’ (billen). Ook voor en agter word deur Breytenbach nie as binêre opposisie voorgestel nie!
Die ontwyding van die beskermengel/Christus/Boeddha/egghead/portret-van-Breytenbach wat plaasvind indien 'n mens 'n groteske penis of vagina en 'n ‘poephol’ in die tekening sien, hoef die leser nie oormatig te onthuts nie want eintlik is ‘Al Skrywende’ hier bloot besig om sy polêre denkwyse en sy besondere soort deemoed te demonstreer.
Vir iemand wat vertroud is met begrippe uit die poststrukturalisme soos die ‘seksualiteit’ van die teks of die ‘plesier’ van skryf en lees, hoef hierdie ‘pornografie’ ook nie al te verbasend wees nie. Selfs die Marxistiese ideologie-kritikus wat sensitief is vir die vervreemding tussen kuns en natuur, tussen gees en liggaam of tussen idee en praktyk, mag hom hier tuisvoel. Want wat ‘Al Skrywende’ hier doen, is om metafisiese gestaltes radikaal met fisiese gestaltes te vereenselwig. In soverre die mitiese figuur in die tekening Breytenbach sélf voorstel, word die hoë begrip ‘digter’ of ‘kunstenaar’ byvoorbeeld met die lae begrip ‘skyter’ of ‘doos’ (kut) verbind: hierin is die deemoed van die konstruksie juis geleë.
Breytenbach neem stappe in sy inleidende essay ‘Soos die so - gebruiksaanwysings vir 'n skryfdaad’ om seker te maak dat sy leser die vulgêre aspekte van sy omslag-ontwerp nie sal miskyk nie.
Hy skryf byvoorbeeld dat sy ‘verserige notaboek’ (dit wil sê sy poëtiese maar ook vieserige, morsige dagboek) in 1974 gevul sal word met 'n daaglikse ‘ontlasting van strepies en vlekke’ of met 'n ‘kotsketting van woorde’. Hy sal elke dag ‘'n hap uit die tyd byt, dit kou en insluk en verteer en aan papier afvee.’ Sy boek sal daarby ‘ook nagemmer’ wees; dit wil sê sy notaboek sal vergelykbaar wees met 'n armsalige, geïmproviseerde kamerpot waarin sy gedigte snags soos uitwerpsels sal val.
Die klein Golgotha op die pentekening is dus inderdaad (ook) 'n mishoop, en 'n beeld van 'n digbundel wat opgevul is met woorde soos met stoelgang. Daar is nie 'n binêre teenstelling en 'n hiërargiese verhouding tussen 'n gewone mens wat snags in 'n noodgedwonge sfeer van sy ‘nagemmer’ gebruik moet maak, en 'n digter wat die wemelende kompaksie van sy ‘taalvoedsel’ in die vorm van 'n ‘kotsketting van woorde’ of 'n ‘ontlasting van strepies en vlekke’ loslaat nie. Dít is die punt van die klein Golgotha wat ook as mishoop gesien kan word.
| |
| |
Die woorde van die ‘graffiti’ op die donker heuwel kan 'n mens met 'n sekere inspanning min of meer lees: ‘soos’, ‘ewenas’, ‘net soos’, ‘opsommend’, (en?) ‘insluitend’, ‘dié’, ‘hierdie’, ‘aldus’, ‘op hierdie manier’, ‘genoeg’ en ‘in orde’. ‘Uitblus is ons aller voorland’ skryf Breytenbach in sy inleiding. En ook alle inskripsies word uiteindelik uitgeblus. Uitings bly op papier agter soos uitwerpsels. Ook van die toereikende en inklusiewe opsommings van ons lewens kry ons later wel genoeg, soos van voedsel wat reeds metabolies verwerk is.
In sy inleidende essay ontluister Breytenbach die digterlike inspirasie of skeppende drang deur dit die digter se ‘máákbehoefte’ te noem. Sý Muse is dus, enersyds, 'n primitiewe natuurdrang, en sy dagboek-roetine vloei letterlik voort uit 'n daaglikse behoefte.
As 'n mens daarop let dat die ‘beskermengel’ 'n infantilistiese aspek het - dit lyk effens na 'n baba of waterhoof - word jy herinner aan 'n bekende nosie uit die kontemporêre Franse psigo-analise dat ontlasting die baba se ‘eerste produk’ is. Die groter figuur met oopgespreide bene op die voorblad van Soos die so gee hom oor aan 'n seëvierende maar terselfdertyd gruwelike en infantilistiese bevrediging van 'n ‘máákbehoefte’. In soverre die figuur 'n outobiografiese simbool is, is Breytenbach kennelik besig met selfdekonstruksie, en met 'n parodiëring van die outobiografie as egosentriese skryfwyse.
'n Ontluisterende dekonstruksie van die oënskynlik sakrale tekens in die ‘gaapsing’ op die voorblad van Soos die so moet 'n mens nooit laat vergeet dat jy steeds polêr moet dink in jou interpretasie van Breytenbach se werk nie. Die neologisme ‘gaapsing’ is byvoorbeeld al reeds 'n polêr-saamgestelde woord, want ‘gaap’ is 'n lelike manier vir 'n leegte of holte - 'n mond - om oop te gaan, en ‘sing’ is 'n mooi, estetiese manier. Die kuns wat Breytenbach se leser moet aanleer, is juis om sy inskripsies in die gaapsing gelyktydig of ten minste alternerend te voltrek, om te lees met die besef dat elke inskripsie 'n wankelbare gebaar is. Wie hoogmoedig lees, kan die moontlikhede van Breytenbach se werk nooit snap nie.
| |
Literatuur
Die artikel hierbo het ontwikkel uit 'n studie wat ek saam met 'n magisterstudent van die Universiteit van Stellenbosch, me. Madeleine Huysamer, van
| |
| |
die digbundel Soos die so en van die toepaslike sekondêre literatuur gemaak het. Hierdie studie is verwerk in me. Huysamer se magistersverhandeling Breyten Breytenbach se digbundel Soos die so: 'n ondersoek (Stellenbosch, Januarie 1997; studieleier E.C. Britz). Me. Huysamer is tot 'n sekere hoogte mede-skrywer van hierdie artikel. Tydens die studie is werke van onder meer Roland Barthes, Jacques Derrida, James Olney, Douwe Fokkema, G.G. Harpham, Linda Hutcheon, Ann Jefferson, David Robey, W. Liebenberg, U. Musarra-Schroeder, Ryan Rory, Alan Watts, Patricia Waugh, K. Weintraub en Ernst Wood geraadpleeg om insig te verkry in begrippe wat toepaslik is op die werk van Breyten Breytenbach en op Soos die so; soos die begrippe teks, poststrukturalisme, postmodernisme, outobiografie, metafiksie, parodie en Zen-Boeddhisme. Hoewel hierdie bronne in die agtergrond van my interpretasie van die pentekening op die omslag van Soos die so speel, kan hulle nie in hierdie kort artikel ter diskussie gestel word soos in die vermelde magistersverhandeling nie. Die verband of wisselwerking tussen die kontemporêre literatuurteorie en Breytenbach se persoonlike poëtika is 'n onderwerp wat eenvoudig te veel ruimte verg om hier aan die orde te stel. Uit die bronnelys van die magisterstudie kan wel vier langer werke vermeld word wat vir 'n oningewyde leser 'n goeie introduksie tot Breyten Breytenbach se werk bied:
Breytenbach, Breyten 1990.
Soos die so. Johannesburg: Taurus. |
Brink, André P. 1971.
Die poësie van Breyten Breytenbach. Kaapstad: Academica. |
Ferreira, Jeanette 1985.
Breyten: die simbool daar. Kaapstad: Saayman en Weber. |
Galloway, Francis 1990.
Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr. |
Viljoen, Louise 1988.
Breyten Breytenbach se (‘yk’): 'n semiotiese ondersoek. Ongepubliseerde proefskrif. Universiteit van Stellenbosch. |
|
|