[West-Vlaanderen 1962, nummer 64]
[Voorwoord]
Hierdie uitgawe wat aan Suid-Afrika gewy word, stel een volk, sy gewoontes en kultuurbesit aan 'n ander voor. Dit is soos dit behoort. Bevriende, selfs bloedverwante, volke, wat in een beskawing deel, moet mekaar ken, ja goed ken en mekaar verstaan. So word nog groter vriendskap gebou en behou.
Die verskillende bydraes in hierdie blad is blykbaar bedoel om 'n omvattende beeld van ontwikkelinge sedert 1940 op die gebied van die Afrikaanse taal en kultuur te gee. Daarmee sal die beter begrip waarna soewe verwys is, in België kan ontstaan van die verwante volk wat tot gestalte gegroei het in die suide van Afrika. Dit is des te meer nodig omdat in Europa gewoonlik aan die hele Afrika as Donker of Swart Afrika gedink word, en vergeet word dat in die suide 'n bykans onbewoonde groot landstreek van dieselfde wêrelddeel drie eeue gelede beset is vanuit Europa en tegelykertyd geestelik 'n deel van Europa geword het en 'n stabiele brandpunt in Afrika van die Westerse beskawing en godsdiens is.
Diè beter begrip behoort des te makliker te kom omdat ons volke nie net verwant is nie dog ook ons tale. Dit is vir my steeds 'n bewys van die doeltreffendheid en lewenskrag van ons gemeenskaplike stamtaal dat na drie eeue (met Afrikaans tot 'n groot mate afgesonderd) Afrikaans, Vlaams en Nederlands nog so na aan mekaar staan. Dit bly steeds vir Vlaamse en Nederlandse immigrante na Suid-Afrika 'n aangename ondervinding, byna 'n verrassing, om na 'n reis van duisende myle en in 'n ander Vasteland hulle in 'n omgewing te bevind waar hulle tuisvoel en waar hul verstaan word, en nog meer, waar hulle verwelkom word, nie slegs in 'n nuwe werkkring nie, maar in die gemeenskap, die kultuurlewe en op skool.
Taalverband is sekerlik een van die sterkste redes waaroor verwag word dat wedersydse vriendskap en respek tussen die Dietse volke moet bestaan. Daardeur kan immers kennis van mekaar se probleme en ideale en geloof in mekaar se opregtheid en eerbaarheid maklik oorgedra word.
Wanneer die indruk posvat dat daar verwydering kom, veroorsaak deur wêreldstrominge, ideologieë of internasionale magspolitieke strewe, dan veroorsaak dit droefheid en pyn. In hierdie familie-verband van volke mag daar geen misverstand of twis wees nie.
Suid-Afrika wil graag op elke moontlike gebied sy bande en verbindingsweë, fisies en geestelik, met Europa, en veral met die lande waaruit sy blanke bevolking afstam, behou en versterk. Die kultuur-verband tussen die Afrikaner en die Vlaming waaroor dit veral by hierdie geleentheid gaan, behoort dus ook steeds, van beide kante, besondere aandag te ontvang. Dit is in hierdie gees dat ek die inisiatief van West-Vlaanderen met hierdie uitgawe so besonder hoog op prys stel. Ek wens hom daarmee geluk. Mag 'n vrugbare wisselwerking van gedagtes en belangstelling hieruit voortvloei.
DR. H.F. VERWOERD, Eerste Minister.