| |
| |
| |
'n Kort Samevatting van die jongste Afrikaanse Letterkunde
Prof. Dr. François Malherbe, van wien we een artikel publiceeren, is een van de markantste figuren in de Zuidafrikaansche letterkundige beweging. Hij is hoogleeraar in de Nederlandsche taal en letterkunde te Stellenbosch, mederedacteur van het uitstekende tijdschrift voor boekenvrienden ‘Ons eie Boek’ en de schrijver van een meesterlijk essay over ‘Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse letterkunde’, waarin ook aandacht geschonken wordt aan de Vlaamsche humoristen. Dr. Malherbe kent onze Vlaamsche literatuur en waardeert onze Vlaamsche auteurs. Daarvan getuigen niet alleen zijn critische opstellen, maar dat bewees hij ook door de uitgave van een bloemlezing, waarin hij, ten gerieve van het studeerende jonge volk van zijn land, een aantal novellen van Vlamingen verzamelde.
De studie van Prof. Malherbe, welke wij hier volgen laten, is in het Afrikaansch gesteld. Het is dank zij de erkenning van de levende volkstaal, het Afrikaansch, als officieele taal, dat de Nederlandsche beschaving zich heeft kunnen handhaven in Zuid-Afrika. Kenners van de Zuidafrikaansche taalbeweging zijn er van overtuigd, dat elke strijd voor het behoud van het Nederlandsch ten slotte de hegemonie van het Engelsch zou in de hand hebben gewerkt.
Het Afrikaansch biedt voor ons, Vlamingen, gewis enkele moeilijkheden bij een eerste lezing. Deze worden echter zeer spoedig overwonnen, wanneer de lectuur zóó geschiedt, dat men den klank der woorden hoort terwijl het oog het eenigszins vreemde woordbeeld opneemt.
We zijn er van overtuigd dat onze lezers het opstel van Prof. Malherbe met een stijgende belangstelling zullen genieten. Het weze het eerste van een reeks artikels uit Zuid-Afrika, waarvan het verschijnen in den ‘Vlaamschen Gids’ bijdragen zal om de banden tusschen de verschillende loten van den Nederlandschen stam te verstevigen.
REDACTIE.
| |
| |
| |
Ontwikkeling.
Wie die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde in oënskou neem, word getref nie alleen deur sy intieme samehang met die volksgeskiedenis nie, maar ook deur duidelike vooruitgang in baie korte tyd. Trouens, die eerste dertig jaar van die offisiële geskiedenis (d.w.s. ná 1875, toe Afrikaans erken is as skryftaal deur die Genootskap van Regte Afrikaners) is maar voorbereidingstyd en word hoofsaaklik gewy aan propaganda vir die Afrikaanse taal as skryftaal. Artistiek kan ons dus maar alleen die laaste dertig jaar neem. En wat sê dertig jaar in die letterkundige geskiedenis van 'n boerevolk, so lank geïsoleerd van die kultuurwêreld en sy bevrugtende invloede, sonder literêre agtergrond en tradisie. En daarby moet herinner word aan die feit dat die volk nog te jonk en ook te besig is met sy politieke stryd om hom die luxe te kan veroorloof van aparte letterkundige strominge en kunslewe - soos in ouer lande die geval is, waar kunssinnige mense allermins in die politiek belangstel. Ons letterkundige kuns kom as 't ware ter loops, is die taaluitbarsting van wie dit politiek nie langer kan verkrop nie of die gedwonge verposing van nasiebou waaraan elkeen sy deel het. En moet ons dan nie met die resultaat verbaas staan nie? Ek sê dit vir die oorhaastiges onder my lesers.
Vanselfsprekend is dit moeilik, by genoemde en ander faktore in werking, om van definitiewe rigtinge in ons letterkunde te praat. Miskien is dit beter dat ons dit ook nie doen nie - en die literatuur 'n kans gee en dit nie dood praat nie...
Eerder kan ons van groeiende letterkundige insig praat en dit oral opmerk. By 'n steeds toenemende getal skrywers en, wat belangriker is, by 'n toenemende getal lesers wat hulle nie meer tevrede stel met 'n boek net omdat hy in Afrikaans geskrywe is en so 'n vaderlandse of godsdienstige strekking het nie. So skep ons 'n wesenlike agtergrond en ondergrond vir die groot kunstenaar van die toekoms. En watter taak lê vir ons, met ons kultuurywer, méér voor die hand as om die weg voor te berei vir wie ná ons sal kom en groter sal wees as onsself?
Eerste fase (plus-minus 1875-1905): Spot en didatiek van die Patriot-digters. Word, sonder meer, nie langer as ernstige literatuur beskou nie.
| |
| |
Tweede fase (plus-minus 1905-1920): Hoofsaak die deur die Oorlog geïnspireerde liriek van Leipoldt (Oom Gert Vertel e.a. Gedigte), Celliers (Die Vlakte e.a. Gedigte, Martjie, ens.), Totius (Wilgerboombogies, Rachel, e.a.) - van besondere innigheid en skoonheid. Prosa van hierdie periode nie van veel belang nie. Die ou soort historiese roman, die intrigeroman met die belang in die storie en sy vaderlandse lesse, maak opgang. Kan vandaag as verouderd beskou word.
Derde Fase (plus-minus ná 1920): Groeiende insig in realisme en psigologies-getroue karaktertekening. Verdienstelike sketse van Leon Maré, veral Die Nuwejaarsfees. Jochem van Bruggen verskyn en word ons suiwerste romanskrywer (Ampie, Die Meisiekind, e.a.). Sy gebied is beperk tot die lewe van die armblanke en die geestelik minder bevoorregtes - tog rig hy hom nie tot die minderbevoorregtes nie, wat 'n groot onderskeid is! Hy is suiwer maar fragmentaries; gebrek aan groot kompositoriese vermoë verhinder hom om 'n volledige roman te skrywe. Maar in suiwerheid van karakterbeelding en veral atmosfeer, indringende en simpatieke humor, het hy nie sy meerdere in Afrikaans nie. En sy werk kan, selfs met genoemde tekortkoming, eervol vertoon word in die buiteland. D.F. Malherbe (Die Meulenaar, Hans die Skipper, e.a.) is 'n ander verdienstelike romansier. Hy ken sy plaas- en visservolk soos weinig andere, is sensitief en dinamies, maar dit skort hom nog aan stilistiese suiwerheid vir 'n gawe geheel.
In die diereverhaal en reisbeskrywing kom Sangiro nummer een; sy werk kan met die beste elders vergelyk word (Oerwoud en Vlakte).
In realisties-satiriese werk en die gemoedelik-humoristiese essay staan die werk van Langenhoven by ons uit (Versamelde Werke).
Die poësie is van minder betekenis in hierdie periode; die ou digters skyn hul hoogste peil vroeër te bereik het, en die jonges gee nog hoogstens blyk van talent. Die belangrikste nuwe stem is dié van die sonnig-menslike en gemoedelik-humoristiese sanger van rose en liefde, die te vroeg heengegane A.G. Visser (Gedigte, Rose van Herinnering). 'n Gedig wat om sy sterk ironies-epiese en wydse gang uit hierdie periode moet genoem word, is Die Pad van Suid-Afrika van Langenhoven.
| |
| |
Alle tydsgrense, hoe oorsigtelik ook, is van betreklike waarde. So wil ek as verdere ontwikkeling, ná Visser, die bundels ‘Gedigte’ van Eugène Marais en Toon van den Heever noem, hoewel van vroeër datum. Ek doen dit om die sterk indiwidualisme van hierdie laasgenoemdes in hul worsteling met die problematiese in eie lewe, hul persoonlike lewensaanskouing in sombere eerlikheid. So ruim die algemene volksentiment meer en meer die plek in vir indiwiduele emosie en sy ekspressie en kom ons nader aan die meer universele liriek. (Dis hierdie rigting wat die gebroeders Louw in die jongste periode in meer moderne gees voortsit).
Uit dit alles blyk dat ons geestelik vryer word, dat ons ook kultureel - soos staatkundig en ekonomies na 1920 - meer uit ons isolement begin tree.
| |
Publikasies van ongeveer 1929 tot 1934.
As ons na die werk in hierdie jare kyk, dan tref ons 'n ware kunswoede, soos ook kultuurwoede, met die aksent soms meer op woede as op kuns en kultuur. Toenemende talent openbaar hom allerweë. Maar die skeppende genie wat sterk konsipieer en die lewenslyn helder laat uitstaan bo die tydelike verskynsels, is nog gering. Ook is daar nog te veel mooiskrywery, neutrale observasie of plat realistiek. Die sterk konsentrasie van suiwere kunsskepping, waardeur alle onsuiwerhede en bykomstighede wegval, ontbreek nog in te veel boeke. Daarin ook nog te veel bewuste didaktiek, te weinig artistieke erns, artistieke gewete, en ook die besef dat 'n kunswerk langsaam moet ryp tot sy volmaakte wese.
En tog, wie oor die werk van die afgelope tydperk vir die Hertzogprys alles onder oë moes neem, sien verblydende verskynsels en gestaltes. Vooruitgang is daar beslis te konstateer.
In 1931 en 1932 was daar geen dramatiese en poëtiese werk, lopende oor die afgelope drie jaar, wat vir bekroning in aanmerking gekom het - dus van besondere betekenis was nie. Maar in 1933 moes die kommissie onder 'n sewentigtal prosawerke verskillende eervol vermeld. In die bekroonde werk, Die Sprinkaanbeampte van Sluis, sit Van Bruggen sy humoristies-realistiese studies voort. Die broers Hobson het intussen welverdiende roem ingeoogs
| |
| |
met hul kleurryke en dramatiese beelding van dierelewe (en Boesmanbestaan) in die Kalaharie. Hul Kees van die Kalaharie en Skankwan van die Duine is waardige voortsetting in die lyn van Sangiro. Ek noem verder alleen die genre Kortverhaal - meteens tot groot populariteit verhef - waarin 'n enkele werk van C.M. van der Heever (soos ‘Verbittering’ in Simson en andere verhale) en Abr. Jonker (soos ‘Droogte’ in Bande) nie alleen tot die beste proza in Afrikaans te tel is nie, maar m.i. naas die beste in Nederland te plaas is. So ook die skets ‘Koors’ van Sangiro. Duidelik is daar in ons jongste prosa die drang tot dieper lewensuitbeelding, die groter lewenswaarheid, toenemende verskeidenheid van stof en motief.
Waar Van Bruggen in sy Booia die inboorlinglewe nog nie oortuigend objektief kon beeld nie, kom Mikro en verras ons met die eerste suiwer-menslik indringende roman uit en van die kleurlinglewe: Toiïngs. Die mooi verhaal, die vaste bou, die saaklike styl - iets seldsaams in ons geskrifte - die beeldende dialoog en milieu-tekening, maar veral die liefdevol-indringende aandag maak dit tot 'n boek wat ons aller belangstelling verdien.
In teenstelling met die groot aantal prosawerke was die produksie op die gebied van die poësie in hierdie jare gering - 'n sewetal bundels. Die belangrikste is:
Leipoldt: Skoonheidstroos,
Totius: Passieblomme,
W.E.G. Louw: Die Ryke Dwaas.
Van ons ouer digters is dus nog nie ‘uitgeskryf’ nie. Leipoldt gee 'n ryper verlange na skoonheidsbevrediging en skoonheidstroos in én deur die natuur. Daar is erns van lewensrigting in die berusting van skoonheid asook 'n weelde van beeldende taal. Jammer dat dit nie oral suiwer gehou word nie. 'n Laakbare gemis aan selfkritiek is daar in byna elke boek van Leipoldt. Wat hier veral jammer is omdat ons met 'n wesenlike digter te doen het, een met diep lewensgevoel en ook wydse visioene.
Die bundeltjie Passieblomme van Totius is besonder suiwer en van ontroerende eenvoud. Die verse word saamgesnoer tot 'n skone krans van passieblomme en op die graf van sy ontslape kindertjies gelê. Dis tere liefdes- en smartliriek van onheil oor onrus tot berusting. Mooi is die eenheid van die geheel. Vir my is Totius
| |
| |
die liefste in die eenvoudige, elementêre uitinge van 'n smart-geslae mens. Ja, Totius is voor alles mens, eenvoudig en opreg, wat maar net wil sing van sy menslike vreugde en van sy menslike pyn. En waar laasgenoemde oorweeg, is sy liriek byna altyd in mineur: stil-elegiese klae. Verganklikheid, kortstondigheid, lyding, verdriet by die verlies van wat ons die liefste en die dierbaarste is, dit dwing sy skugtere gemoed tot klaende melodie. En waar sy godsdienstige geloof hom tot berusting maan in die sekerheid van godsvertroue, is dit sekundêr en dra dit die tekens van worsteling met die Heer. So is sy strydvolle berusting nie die maklike selfverdwasing van skynvroomheid en neem hy geen genoeë met gewaande verworvenheid van verstandsredenering nie.
Gedurende sy siekte.
Laat my nie slaap terwyl hy ly,
want as ek slaap sal ek vergeet;
en o, as uit die dromedom,
vir wie dàn wegslaap uit die tyd,
die weerontwaking skielik kom
van môrestond en werklikheid!...
Laat my net sluimer, laat my gees
net maan en maneskynsel wees;
want ook die maan die slaap nie, maar
sy sluimer in die nagwolk net:
slaap nooit in vrede en diep meer in.
En as die skeppingsdinge weer
mekaar verheug ‘goei-môre’ seg,
dan skrik sy nie - haar bleek gelaat
sweef net maar in die bloutes weg.
Laat dit so skemer in my siel;
laat my so sluimer deur die nag;
laat my so rustig-bleek ontmoet
die eerste strale van die dag!
| |
| |
Van hierdie allereenvoudigste liriek kom ons ten slotte tot ons mees verwikkelde kunstenaar onder die jongstes, W.E.G. Louw met sy Ryke Dwaas.
Met hierdie bundel sluit ons literatuur sig tewens aan by die vormgestalte van meer moderne indiwidualisme. So kan dit meer in die besonder 'n vernuwing van ons digkuns beteken.
Louw is nog baie jonk, maar 'n jaar of twintig; die gedigte in sy bundel is geskrywe tussen sy sestiende en twintigste jaar. Tog spreek reeds duidelik daaruit 'n nuwe stem in Afrikaans.
Louw het hom gedrenk aan die nuwere en nuutste digkuns in Nederland. Veral die invloed van Leopold en Geerten Gossaert is kennelik in sy werk. Eersgenoemde se droef-skugter staar op die lewe, wat hy nie kan aanvaar nie, en sy metafisiese heimwee; laasgenoemde se opstandigheid en berou, aanstuwende hartstog en beeldevloed, weerbesielde retorika en allerlei vormwendinge, is dadelik te herken. Maar ons het eerder met verwante sielstruktuur en evokatiewe krag van die meesters te doen as met blote navolging. Die jong digter het voldoende oorspronkelikheid in sy worstelende skuwe wese, en beeld sy indiwiduele sielelewe en stormende lewensgevoel om tot eie taalgestalte. Die elemente van hierdie kuns is dieper en ryker by die meesters, tog is Louw se waaragtigheid en suiwerheid dikwels heel treffend.
So slaan hy by ons 'n nuwe weg in en verbreek hy met sy moderne vorme van vrye ritmiek, sowel na gees as vorm, alle vaderlandse tradisies geskep deur Celliers, Totius en Leipoldt en deur die meeste gevolg.
Ons het te doen met 'n ernstige sielbelydenis, met 'n digter en nie met allerlei digterlike uitinge oor verskillende dinge nie. Dus 'n siel wat moet begryp word in die sirkelgang van sy Jugendalter.
Haastige kennismaking sal wel 'n sekere weidse oorgawe kan noteer, maar sal tog gou stuit op newelagtigheid hier en daar, gewaagdheid van beeldspraak wat tot onverstaanbaarheid lei, ens. Inderdaad is hierdie gedigte van 'n jongeling nie van alle jeuggebreke suiwer nie. Terselfdertyd is daar 'n vir sy leeftyd allermerkwaardigste rypheid ook aanwesig.
Ons maak dan kennis met sy worsteling, vertwyfeling en wanhoop, liefde en haat. Hy voel hom die verlore eensame wat
| |
| |
tevergeefs na ewewig in die lewe soek. Deur 'n sterk vriend, deur 'n vriendin, volop vrou, word hy momenteel uit sy eenselwigheid geruk, om dadelik weer daarin terug te val. Hy kan nie die volle lewe aanvaar nie. Daarvoor moet hy sy eie indiwidualisme prysgee. En hy kan dit nie: dis sy suiwerste besit. Tog kan hy ook daarin nie berus nie... So word hy geslinger tussen eensaamheid en gemeensaamheid. Ewige botsing weer tussen sinnelikheid en goddelikheid. Deur die ope sluise van sy sinnelikheid laat hy die lewe binnestroom; dan slaan sy liefde weer om in haat en ruk hy die hartstog uit sy wese omdat dit sy blanke eenselwigheid verwoes. In hierdie sirkelgang is daar vir hom geen vrede nie, geen houvas in die lewe nie. Hy sien hom ten slotte as 'n gans verlore sterfling wat nêrens meer heen kan nie, op 'n dooiepunt in die lewe aangeland. Dit is sy laaste woord.
'n Boerseun van die Karroo, baie vroeg alleen, uit sy droefnis van vereensaming in die Kaapstadse winterdae.
Om boer te wees...
O om 'n boer te wees wat werk
Die liewe lange dae, om saans
Van die lande, en te slaap
Tot die rooidag deur die vensters breek,
En teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
Die ploegstert vas te hou...
O om boer te wees en te werk
In Gods sonneskyn en reën;
Om nooit te twyfel dat Hy weet
Wat of die beste is; om nog te glo,
En voel dat hy, boer alleen,
Met God kan praat, en dank
As laag-druipend daal die reën...
In Stil Aand vertel hy van sy verlange om die koeltes van haar stem om hom te voel; sy het gekom...
| |
| |
Nou sit ons voor die vuur, en speel
Die vlamlig deur ons hare...
Laag waai die reënwind buite deur
In sy latere gedigte - wat lank en breed uitdeinend tot ons kom - vind ons die samevattende belydenis van hierdie siel in al sy dobberinge.
Deur die wyd-ope sluise van my sinnelikheid,
Het ek die vreemde lewe in laat stroom,
Met die felle kolking van swaardringende slag
Tot my binneste kring van volmaakte droom.
So is sy vlekkeloos droom verbreek.
Daar is in tastelose werweling
Van steirende duisternis en lig
Die tweeheid van my hart geopenbaar,
My hande was voor my bleke aangesig.
Tog het 'n blanke bloeisel van verwagting oopgevou...
'n Hoë singing van het bloed deurruis,
Soos in duistere vaart, 'n verre komende wind:
Ek is gebreek - en in gebrokenheid,
In my onvolkomenheid aan jou gebind.
Een oomblik van volmaakte ewewig en dan verval hy weer in troostelose eensaamheid...
Met die aftog van my begeerlikheid
Het swaar die steile wind verbygegaan:
Soos skanderose bloei die wolke ope
Teen die suiwere onmeetlike hemele aan.
Weg van God, van naaste verstoot, in doodsnabyheid en gebrek sien hy die armoede van sy gewaande eenselwigheid en
| |
| |
die verlorenheid van sy menssyn. Nog flits die hoop dat hy eenmaal aan die suiwerheid van die eroos sal genees, maar dan vervaal alles om hom - heelal, liefde, geluk, skoonheid. So sien ons hierdie jong digtergestalte as teen 'n helling staan:
Met leë hande van verlatenheid,
In gans verlore menslikheid, bly staan
Ek half-weg teen die helling, en in trane sien
Die wye spel van steile wolke gaan.
| |
Publikasies in 1935.
Vir Afrikaans is 1935 'n ryk jaar gewees. Poësie, prosa en selfs die drama - ons swak kunssoort - doen 'n sprong na vore. Ewe belangrik is die toenemende insig in letterkundige waardes by die lesers, en die algemeen gevoelde behoefte aan 'n blad uitsluitlik gewy aan gereelde kritiese voorligting, laat Ons Eie Boek ontstaan. Die Skrywerskring in Johannesburg lewer hoogstaande werk. En tenslotte lei nog 'n ander behoefte, nl. om die Afrikaanse boek vry te maak van die beperking wat skrywers dwing om die oog te hou op skoolgebruik, tot die stigting van 'n Boekvereniging in Kaapstad. Die kwessie van meer Nederlands op skool word op die oomblik deur die Akademie oorweeg, alsook die middele waardeur die Afrikaanse boek in Holland en Vlaanderen kan versprei word. Op die een en ander moet hier korteliks gelet word.
Die belangrikste gebeurtenis op die gebied van die poësie is die bevestiging van die vernuwing, deur W.E.G. Louw begin, by 'n viertal Kaapse jong digters.
Ons het reeds daarop gewys hoe Toon van den Heever en Eugène Marais literêr-psigologies as oorgang kan beskou word tot die nuutste uitinge in die digkuns. Die vernuwing kan veral gesien word as 'n streng individualisme wat homself rekening afvra, nie ten opsigte van die volksentiment nie, maar van eie innerlikste lewe. Daarom is daar ook in hierdie kuns nie die optimisme oor die rooidag van ons volksbestemming en die geesdrif oor ons kuituur nie, maar meestal droefheid en nood om die problematiese van die bestaan, smart om menslike onvolkomenheid, berou om verlore lewe... Maar ook en veral stryd, stryd op die
| |
| |
weg van volhardende individualisme. Besieling is gesoek in die vreemde. Maar dis nie die Tagtiger-individualisme wat in die eerste plaas hier 'n krag was nie, nie hul sinsbedwelming en trotse afkeer van die maatskappy nie; eerder was dit die Nederlandse verskuns van omstreeks 1910, met sy protes teen die lewe, lewenstwyfel en verlange na rus, wat aan sommige jongeres hul eie stem besorg het.
Dat by hul die aksent verplaas word van die volkstryd na die sielestryd, wie sal hom daaroor verbaas? En te meer as hy luister na die leë ydelheid van soveel lippetaal oor volk en vaderland in ons dae, na die gebrek aan erns en lewenswaaragtigheid by soveel woorde oor kultuur, na die potsierlike rondedans van politici en filantrope, na die huiglary om die menigte te behaag... Ek vra, is dit 'n wonder dat skuwe nature hul liewers afsonder om in eie dieptes te grawe na die sin van hul bestaan en daar te worstel om die behoud van hul siel? So gesien is ook die jongste digkuns in verband te bring met die huidige tydsgewrig.
Die belangrikste verskyning hier is Van Wyk Louw met sy bundel Alleenspraak. Treffend reeds die titel in die lig van wat ons so pas opgemerk het.
In hierdie Alleenspraak leer ons 'n digter ken met 'n sterk hang na mistiek, na opgaan in die wesenlikheid van die dinge in hulle elementêre skoonheidsfeer, waarby hy met die gevoel van menslike gebondenheid en onwetenheid soms tot ontroerende verset geraak. Waar die verset aangroei tot individualistiese trots, is dit nie so geslaagd te noem nie. So kry ons dan aan die een kant sy stadig-vorsende wil om binne te dring in die wese van die verskynsele, om sy mistieke roos te pluk; aan die ander kant sy arm-menslike hunkering in onmagsbesef, sy klaende mensehart. Langs die weg van intellektuele besinning streef sy kuns na 'n oplossing.
Veel hiervan is reeds met mooie besonkenheid en suiwerheid van hart gebeeld, ook met treffend nuwe plastiek. So begin dit met die suiwere Dennebosse..., gevolg deur Grense, waarin subtiele klankekspressie:
| |
| |
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heil'ge, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
Van Wyk Louw is die digter van sielehuiwering voor die lewens- en liefdesmistiek: so ook in My venster is 'n blanke vlak... waar hy wag op ‘magiese deursuiwering’...
...dat hierdie siel deursigtig word
in vreemde voorgevoelde lig
tot kring bo kring opglans en straal
dat wat ek nog verlore waan,
in hierdie stille skemering
hul vorming en gestalte kry,
tot ek my eensaamheid besit,
volmaak, as kosbare gewin,
van duister wense en van smart
die uiterste deurstraalde sin.
Vergelijk ook Ek het die Aarde nie gesien. Starende op die yle vlug van beeld en kleur het hy eindelik gewaar ‘die wit vlam - wit geheime roos - van skrik en heerlikheid...’
Nou is my oë dwaas en dof,
en leeg van mindere dinge;
nou is my lewe huiwering,
nou is ek tot 'n kind gemaak
en al my woorde is stameling,
| |
| |
Eindeloos slepend ruis dit in:
Nou 's daar geen lied meer,
Ook sy liefdesgedigte is van 'n nuwe, huiwerende toon van innigheid. Uit En nou dat ons gaan:
Waar alles wat mooi was, veryl, lief, tot mymering
hier in die later en eensamer dae -
net nog die ou leed waai deur die skemering -
hoe sal ons skuil teen die stille en trae
gewaai van die leed en die stadige vlae
wat drup oor ons siele se huiwering?
Maar die hoogtepunt in sy liefdesliriek en mistiek is Gesprek van die Dooie Siele. Twee gestorwe geliefdes druk hulle twyfel uit of die stemme wat hul van mekaar hoor, nie maar die herinnering van die verlede is wat uit hulself opwel nie. Die hartstog van die een skyn eindelik deur te dring tot die ander, geheel in God uitgestort:
| |
| |
‘'n Vreemde vlam van woorde klim,
'n verre bewing, bo die kim
van hierdie blanke stil bestaan,
waar ek my grote Godsweg gaan
verlore tussen lug en kim.’
'n Geheel ander digtergestalte is I.D. du Plessis. Ek noem sy bundeltjie Stryd minder om die artistisiteit as om die lydensbekentenis daarin. Stryd staan onder die woorde van die tragiese mens Jakob Israel de Haan:
In onrust geboren, word ik gedreven
Tot waar de dood mij kust.
Inderdaad is daar treffende punte van vergelyking tussen die werk van die twee digters. In albei kom tot ons 'n onbeheerste bieg van bekoring en rampsaligheid, waarby geen rus te vind is nie, nòg vir die toekoms nòg in die herinnering van die jeug - dié is alleen één verwyt van verspeelde kanse. By Du Plessis is die artistieke tekortkominge groter as by die Nederlandse digter, maar van belang vir ons is veral ook hier die menslikheid van die digter. Ook waar die artistieke gebreke hinder, moet die leser op hierdie menslikheid bedag wees: die hartstog bruis oor die retorika heen. Die stryd gaan teen ‘bloedrooi luste’, teen ‘rooitongvlamme van die hartstog’ - te kragtig vir die vlees om te verduur. In Anathema vervloek hy die lot, sy magteloosheid en die skande van die neerlaag. Die Karroo, wat met soveel vaderlandse sentiment bestraal is, word vir hom die beliggaming van sy eie sielsdroogte en fataliteit: (Die koppies sou eers voorwêreldlike monsters gewees het)
...So het Medusa-oë, slang-omring,
Versteende aandag van jul afgedwing.
Teenoor hierdie uiterste gebondenheid plaas ons ten slotte die romantiese vryheidsug en swerwersdrang van die jong Uys Krige, wat jarelank in romaanse lande rondgeswerwe het op soek na avontuur - waarby die skrale loon van hande-arbeid en voetbalspeel liggaam en siel aanmekaar moes hou. In sy bundel Kentering is hy die sanger van skoonheid, van jeug en jonge liefde, van geluk en van die smart om die kortstondigheid van die geluk. Hy is die romantiese troebadoer, die wanderlustige jongeling, wat
| |
| |
ons sy kleurryke siel openbaar; sy lied sing onder stralende nuwe hemele, met tog altyd om sy hart die kwelling van die weemoed en die heimwee. Hy het sy Afrikaans getroetel en verfyn in die skool van romaanse ritme en woordlenigheid. Dit op segself is al van belang teenoor allerlei jeugdige tekortkominge. Alleen een voorbeeld: die klankekspressie en ritme van die weemoed...
Belangrike prosa ook het in die afgelope jaar verskyn. Die name wat veral hier te noem is, is Mikro, C.M. van der Heever en Abr. H. Jonker.
Mikro, die indringende skrywer oor kleurlinglewe, gee in Pelgrims verdere hoofstukke van sy Toiïngs-verhaal. Hy is geen rou realis nie, al gaan sy boeke oor ‘rou rieme’ - soos die titel van 'n ander werk lui wat ook in die jaar verskyn het. Sy Toiïngs en Pelgrims is juis heel idealisties, veel idealistieser as Ampie. En tog is hy suiwer genoeg kunstenaar om nêrens die werklikheid te vervals nie, maar hy kies dié dinge waarmee hy dan sy eie en geregverdigde idealistiese beeld weef. Sy stylekspressie toon dan 'n werklikheid wat ons direk aanvaar as waar en terselfdertyd as nobeler dan die alledaagse omdat dit, deur sy skoonheid van indringende aandag in die algemene menslikheid wat anders verborge bly onder die bruin veile en liederlike lewe, vir ons 'n simbool lewer van ons eie bestaan met sy aspirasies, sege en nederlaag, ons aller soek na geluk onder die eensame hemel... Maar dit veral is die kuns van Mikro - en daarin is hy soos niemand anders geestelik verwant aan Van Bruggen - dat hy met dieselfde ongekunstelde eenvoud en waaragtigheid die natuurkinders beeld, hul naïewe, skugtere, hartstogtelike en deemoedige
| |
| |
mentaliteit openbaar, en dit nie doen uit die hoogte en met neerbuigende meerderheidsbesef nie, maar van die menslike vlak van humoristiese betragting. So herinner elke blad van naïewe humor aan Van Bruggen. Maar hy het die geluk dat hy op 'n geheel ander gebied sy humoristiese blik kan laat gaan en sy eie oorspronklikheid kan handhaaf. Die tyd sal moet leer of hy met sy plastiese en beeldende gawe ook genoeg kompositoriese verbeelding besit om die grootse konsepsie van die roman te bereik - wat Van Bruggen ons nog nie kon gee nie. Hoewel dit skyn asof hierdie soort humoristiese styl eerder tot episodiese verhaalkuns aanleiding gee, is die sosiale laag van Mikro se beskouing tog ryk en gekompliseerd genoeg vir die opset van die roman. Weliswaar het die verhewe gang en die vaste bou van Toiïngs knap komposisie reeds getoon, maar die verhaal Pelgrims beantwoord nog alleen aan die eersgenoemde kwaliteite van beelding en het nog nie tot roman uitgegroei nie. Dis alleen verdere hoofstukke van die Toiïngs-verhaal. Maar as sodanig beskou ons dit 'n baie welkome bydrae. En een wat niemand wat die tipiese kleurlinglewe in Kaapstad wil ken, mag voorbygaan nie.
Verdere uitbou van die kuns van C.M. van den Heever, na sy mooi impressionistiese styl in die roman Droogte en die strakheid van menslike betragting in Simon en andere Verhale, word gelewer in sy bundel Vuurvlieg en Sterre en veral in Somer. Gebreke in karaktertekening en in komposotoriese eenheid, wat nog die twee eersgenoemde werke aangekleef het, word nou oorwin; suiwerder eenheid word verkry. Somer is Van den Heever se gaafste werk. Dis eintlik geen roman nie en wil ook nie as sodanig beoordeel word nie. Dis 'n breeduitgewerkte natuurstemming van somergeweld, waarin subtiel verweef is die weemoed van afskeid, wat alle krag en weelde immer vergesel. Hierdie dualistiese grondstemming, wat die styleenheid van die werk bied, word orals simbolies en filosofies beeldend verwerk. Direk kom dit tot ons uit die somergeluk en -heimwee van 't tot vrou ontloke meisie, wat voor die afskeid staan van wat die somer in haar laat ryp het.
Verhaal? Daar is nie veel daarvan soos die gewone leser dit verstaan nie. Die verhaal is die natuurgebeure self - die groei, volwassenheid en afskeidshuiwering van die Somer. Daardeur
| |
| |
plasties-simbolies verwerk die aankoms van 'n vreemdeling, vol arbeidsdrang; sy kragsgenot in die magtige koringweelde en die koestering van 'n rypgeworde liefde; die skoonheid nog van die dorsvloer wat die somerweelde vermaal; sy onherroepelike afskeid na waar die arbeid van 'n nuwe somer wag - afskeid van wat die somerkrag laat ontluik het, dus ook van die liefde. Geen Wynand bestaan meer nie. Alleen 'n vreemdeling, ‘'n rondloper’, het gekom en gegaan, onderhorig aan die natuurwet wat alles omvat.
Die motief word verder versterk deur verskillende grade van somergenot en afskeidsmart gesien by drie boere en 'n seun van een van hul. En nogeens herhaal die motief sig met die afspiegeling van blanke ervaring in die lewe van die kleurlinge. En magtig bo die kleine lewe van die mens heers die natuurgeweld in ewige wettelikheid. Wat die natuur opgebou het tot voldrae krag, kan hy met een haelstorm verwoes en blydskap verander in rou - rou om aardse besitting en rou om die jong lewe wat in somervolheid afgemaai word. So kom met die verwagting die desillusie, met die volgroeide blydskap die voldrae pyn. En alles is lewe, lewensontwikkeling.
Die natuurgeweld, afgesien van die simboliese idee, spesiaal die somervolheid en -vernietiging, asook die arbeid van die oes, is nog nie sterker in ons letterkunde gegee nie. Daar is weinig wat die skone gang van die prosa versteur, behalwe 'n enkele keer die wat opsetlike bybring van die natuur as agtergrond vir sekere gevoelens of vermoedens. Die simboliek van die geheel is sterk genoeg en kan daarsonder volstaan.
Mooi vordering ook toon Abr. H. Jonker, na sy verhale van uitboer deur droogte: Die Plaasverdeling en Die Trekboer, in sy jongste bundel verhale, Najaar, 'n teenhanger van Bande. Albei hierdie verhale bevat 'n sekere grondgedagte, of liewers is gebore uit 'n sekere lewensstemming, en is dus psigologies vir ons meer as blote versamelings kortverhale, soos dit ook artistiek meer bevredig om in 'n bepaalde verhaal gekonsentreerde lewensgevoel te vind (wat die eenheid verkry) - lewensgevoel wat van verhaal tot verhaal ander belewinge en gestaltes openbaar, maar wat tog die geheel saamsnoer om die grondstemming, en daarmee 'n bepaalde lewensmoment van die outeur registreer, 'n bepaalde stadium in sy geestelike ontwikkeling.
| |
| |
In Bande het die aksent geval op die smart van gebondenheid binne die lewensgrense; in Najaar val die aksent op die vreugde binne, dikwels om, die gebondenheid van grense. Soos dáár die woord van Goethe gegeid het:
Ag, al ons lye selfs, sowel as al ons dade
Die lê ons lewensgang aan bande....
so hier die woord van Schiller:
Een oomblik uitgeleef in Paradysvreug
Word met die Dood selfs nie te swaar geboet.
Die ontwikkeling loop dus van tragiese verset teen die lewe tot aanvaarding van die vreug, sy dit nog binne die folterende kader van die smart.
'n Eienaardige vaderlik-moederlike trek val hier by Jonker op, 'n skugter bedwonge aanhaling van die kind, 'n vertroudheid met die smart van ontbering: ‘God, hoe vereensamend is verdriet tog nie!’ Dit is op die oomblik vir my sy skoonste attribuut, een wat hom weer nuwe koers gee.
Sag en fyn, want byna as sprokie verwerk, hierdie grondgedagte in Antula-Jan. Dis die simpele verhaal van 'n jong, tinger vroutjie, eintlik maar 'n dogtertjie nog, hoewel reeds ag-en-dertig jaar as sy in die huwelik tree met 'n eenvoudige, goeie man - haar oorstelpende huweliksgeluk. In kinderlike trant ruis die vertelling voort - waarvan melodie en ritme aan Van Schendel laat dink: vergelyk die verhaal Vreemdelingen in my Moderne Hollandse Kortverhale - tot waar die dood eers haar man en kindertjies kom weghaal, maar die glimlag van eens gewete mooi haar op die lippe laat, en haar so laat ryp tot die vrede van die dood, zes jaar later, wat sy vooruit tot op die datum kon bepaal, ‘soos Antula-Jan alle dinge wat baie diep verborge lê, sommer vanself sonder beredenering vooruit geweet het.’ En daar waar sy nou loop, as jonkvrou met haar kindertjies, op sterbesaaide hemelstraat, hoe weinig begryp die swak-gelovige mensies haar voorkennis, loutering deur leed, haar wil tot dood-syn?
Dié oomblikke wat alles moet vergoed, en hier so skoon verbeeld, kan die leser ook in ander verhale nagaan. En ook, meer tegnies gesien, hoe hierdie selfbeheersing tot rustiger verteltrant en artistieker bou aanleiding gee.
| |
| |
Verder is daar nog verdienstelike kortverhale te noem van P. de V. Pienaar (Ruth e.a. Verhale), J. van Melle (Oom Freek le Grange se derde Vrou) en andere.
Ons dramatiese literatuur moet nog groei om te bloei. Reeds vroeër het verskyn Die Heks en Van Noot se laaste Aand van Leipoldt. Hoewel geen volledige dramas nie, is hul tog van die suiwerste en sterkste dramatiese proewe in Afrikaans. 'n Besonder verdienstelike toneelskrywer is J.W. Grosskopf. Sy Esau en As die Tuig skawe verwerk landelike motiewe en hoewel die botsing nie altyd breed genoeg gemotiveer of opgelos is nie, is hy een van ons suiwerste kenners en beelders van die landelike mentaliteit. In Die Peswolk (Drie Eenbedrywe) het hy in meer simboliese rigting treffende werk gelewer.
Die drie beste werke onder die dramatiese produksie van die afgelope drie jaar is Die Ouderling e.a. Toneelstukke van H. Fagan, Hantie kom huis-toe van P.W.S. Schumann en ‘ ...En hadde de Liefde niet’ van Eitemal. Eersgenoemde gee in die titelstuk die botsing van oud en niet in teologiese oortuiging en wat daarmee saamhang; suiwerder eenheid bied die stuk Ou-sus - sterk daarin word die vereensaamde lewe van 'n oujonknooi wat haar moeder moet versorg verbeeld, haar eg menslike hunkering en die ironie van die lot. Besonder af ook is Ruwe Erts, die eenbedryf van 'n mislukte eksperiment om 'n armeblanke-meisie te beskaaf. Suiwer en knap beeld Fagan die lewe en sy maatskaplike probleme.
‘...En hadde de Liefde niet’ is die tragedie van liefdeloosheid, of liewers sielloosheid, by alles-vergetende eersug om rykdom, invloed, mag. Hoewel tegnies nie so af soos die werk van Fagan nie, is dit tog 'n sterk drama met kruisende lewensweë en stukke treffende dialoog. Na tegnies hegter geslotenheid van handeling moet die skrywer strewe, soos ook na nog meer onthulling van karakter.
In Hantie kom huis-toe lê die armblankedom voor ons oop in al sy naakte verwording; die stof daarin word streng beheers en die geheel is ewewigtig gekonsipiëer, al is die enigsins mistieke slot nie geheel oortuigend nie.
......................................
| |
| |
Ons dramatiese uitinge is nog sporadies en toon minder lyn as die prosa en die poësie, al is die belangstelling van die beste meer sosiaal en individueel ingestel en minder patrioties geïnspireer as in die verlede die geval was. Van die Afrikaanse letterkunde in die algemeen kan die vooruitgang kort saamgevat word as volg: van propaganda vir Afrikaans, deur diepe vaderlandse watere na die hoogtes van innerlike skouing.
Prof. Dr. FRANÇOIS MALHERBE.
Stellenbosch, 1 Februarie 1935.
| |
Naskrif.
Vir wie nader wil kennismaak met die Afrikaanse letterkunde, word die boeke in die bostaande aanbeveel. Werke oor die literatuur is die volgende: Dr. L. van Niekerk: Die Eerste Afrikaanse Taalbeweging en zijn letterkundige voortbrengselen, Swets & Zeitlinger, Amsterdam; Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, Nasionale Pers, Kaapstad; Dr. P.C. Schoonnees: Die Prosa van die Tweede Beweging, J.H. de Bussy, Amsterdam; Dr. F.E.J. Malherbe: Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse Letterkunde, Swets & Zeitlinger, Amsterdam.
Wie gereeld op die hoogte wil bly van wat daar van kwartaal tot kwartaal in Afrikaans verskyn (en ook oor Suid-Afrika in ander tale), vind breedvoerige kritieke van alle belangrike werke in die driemaandelikse Afrikaanse tydskrif Ons Eie Boek, onder redaksie van François Malherbe, Jacques Malan en Abr. H. Jonker (Adres van Administrasie en intekening: 104 Loopstraat, Kaapstad; intekening, vooruit, 4 shilling per jaar; buiteland, 5 shilling).
|
|