Die aardse sekerheid van 'n ‘naelstring wat breek’, is opgehef. Die ‘roulynolie vir my krieketkolf’ sal nie weer opklink nie, nóg uit die stem van die seun, en aanstons nóg uit die woord van die digter. Deur die pynlike verlies het die ‘onderdak’ van geluid en spraak, en by implikasie ook dié van die poëtiese aktiwiteit, vir die spreker haar vroeëre allure verloor. Onverwags vervloei ‘is’ en ‘was’, en word hede en verlede gesamentlik ondergeskik gestel aan 'n alternatiewe teenpool, die stilte wat ‘sal wees’.
Dit is egter in, ‘Waarneming’/‘Observation’ dat die genoemde teenstelling ten opsigte van die tydsdimensie noukeuriger geartikuleer word:
‘Dit is my seun’ het ek verwaand verklaar
soos een wat sorgeloos 'n feit aanvaar,
dog plots staan daar slegs één gegewe vas:
dat is wreedaardig snel verword tot was.
Die ommekeer hier bestaan nie alleen in die ‘is’ wat deur die dood tot ‘was’ getransformeer word nie, maar in die spreker se ‘verwaand(e)’ sekerheid wat gefnuik word deur die besef dat maar één feit vasstaan, naamlik dié van eindigheid. Die ongunstige implikasies van ‘verword’, tesame met die potensiële dubbelbetekenis van ‘was’ (as beide synstoestand en substans beide in die slotreël), konsolideer die verganklikheidsgedagte kursories, vars, klankryk en onverbiddelik. Die sprekershouding blyk nog sterker uit ‘wreedaardig’ in dieselfde reël, wat klankmatig en ten opsigte van betekenis resoneer met ‘verword’ en ‘was’, maar paradigmaties kontrasteer met ‘verwaand’ (r1), hoewel klankverbande deur sowel assonansie en alliterasie opgeroep word om 'n sekere dubbelvisie in te voer. So ook staan ‘sorgeloos’ (r2) semanties gesproke teenoor ‘dog plots’(r3) en ‘verword’ (r4) - ten spyte van die berekende klankmatige klankverwantskap.
Verstegnies is hier meer bekende Eybers-kunsgrepe aan die hand, soos die afwisselende paarrym van die eerste en die laaste twee reëls, gesteun deur ‘dog’ aan die begin van r3, waardeur die ommekeer in die spreker se gemoed op 'n ikoniese wyse bevestig word. Die aforistiese slot, nog 'n tipiese Eybers-procedé, dien waarskynlik om die ontnugtering deur een algemene waarheid te maskeer, en die aanvaarding te vergemaklik van haar ‘Waarneming’, soos die titel lui, maar wat semanties sinspeel op meer as observasie. Deur die uitbuiting van taal word dit ook 'n manier om te konstateer dat