Tirade. Jaargang 37 (nrs. 344-349)(1993)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 109] [p. 109] Elisabeth Eybers Dink jy soms Dink jy soms aan die Bybelse mot en roes - indringers wat woekersugtig verwoes - en aan dit wat daarteen gevrywaar bly, vra nie waar en hoe? En aan listige roet wat eindeloos neersif tot alles vergly in 'n chaotiese grou moeras, aan die onstelpbare strome bloed waarvan buurmense naarstig mekaar ontlas terwyl griewe gevoed word en niemand versoen, aan hoe jý moet gedy en daarnaas nog boet deur straks aan ontbinding mee te doen? O, argloos verseil in die dwase stoet dwaal die dwaser liefde wat alles vergoed... [pagina 110] [p. 110] Ewewel Die stadige, plotseling versnelde proses van aftakeling lewer bes moontlik 'n les oor wat jou voorlopig te doen staan, 'n wenk om halsoorkop nog daaraan aandag te skenk. Ewewel op 'n onbewaakte moment van verstrooide begrip word jou blik afgewend, vervul van die nulvolle dividend met dieselfde d vir begin en end. [pagina 111] [p. 111] Envoi Soete, subtiele, verdagte rym, by bitter ontwrigting welriekende lym, ek dank en verwens jou van kindsbeen af vir die ywer waarmee jy my weg wil lok van 'n verstandige lewenswandel om volgens jou vreemde mandaat te handel. By uitstek 'n sprietligte towerstaf word jy soms 'n gebiedende trommelstok, versluierde fluistering of sagte getok wat gedurig nuwe gegewens verskaf, 'n eggo wat hulpbehoewend omkyk of self 'n helpende hand uitreik. Heeldag na korrekte opvattings geluister soek ek troos in die ondernemende duister; jou boodskap oorstelp my, goedgunstige rym, ek suig dit die volgende dag uit my duim. Vorige Volgende