Tirade. Jaargang 36 (nrs. 338-343)(1992)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 209] [p. 209] Elisabeth Eybers Gang van sake Kort en bondig van stuk vademloos van vernuf straal hy inhaligheid het hy haar nooit gehaat maar as haremhoofvrou geëer terwyl hy konstateer hoe onvolwaardig diensbaar aan sy oogmerke sy ontaard - sy met haar blesbokbene met haar geleerde familie haar drang om te formuleer sinsnedes te maneuvreer ten einde, eindeloos verneder, op die been te bly tot sy bely nou kan ek nie meer [pagina 210] [p. 210] Buitestaander Ek het opgegroei buite die literatuur, wel boeke gelees, ook verse geknoop op 'n apokriewe na-aapmanier, ek het perdedrolle vir vye gekoop, uit wanhoop geswig voor 'n emigreergier, hoe later hoe kwater gefunksioneer as die ontbeerlikste liggaamsdeel van 'n erkende denkbeeldige dier. [pagina 211] [p. 211] Breuk Volmaaktheid. Ewigdurendheid. Onwankelbare sorg en trou: te haglik om aan vas te hou as erfenis vir hierdie tyd. My vader, tuis in die geheim van hoofletters wat liefde spel, kon argloos en oortuig vertel dat heil en onheil naatloos rym - enorme vereenvoudiging. Met bitter beterweet geteer het ek vroeg daardie kuns verleer wat alles by mekaar moes bring. [pagina 212] [p. 212] Feesgangers Hoe handhaaf jy jou ewewig teenoor aanbidders van ekstatiese jolyt, breekysterkrete van uitbundigheid, die rou verbryseling van jou binneoor? Wat 'n kartetsestortbui om te deurkruis, tog kom jy vroeër of later heelhuids tuis... Jou eie kermisklanke, strelend vaag, waar dolosgooiers mompel, binnensmonds, waar akrobate op die agtergrond skroomvol die wet van swaartekrag uitdaag laat een bevinding op die ander volg sonder vertoon van oorsaak en gevolg. (Sodra jy die dinge wat blindelings opduik lees om hul samespel te noteer, dan begin jou fees.) [pagina 213] [p. 213] Geslaagde dag 'n Seldsame Januariedag en uitdruklik belig: die son wat sy onbelemmerde roete beskryf - 'n boog van suidoos na suidwes - voortdurend in sig. Kort na halftien kon die geelkoper skyf seëvierend ontsnap aan 'n somber barak, hy slinger 'n gloeiende loper skuins oor die kanaal waar die ysbeslag skitterend is en rimpelloos strak. Wat die son versag en die blote oog teen sy woede bedek soos 'n ragdun doek is die yl en voëlvry verklaarde waas, die aardbodemdamp uit beton en metaal. 'n Dag begelei deur die oerbron van ons bestaan het doelloos dog ook gedenkwaardig vergaan, om halfvýf raap die son, vasgekeer in 'n krimpende hoek, sy sleep uit die water om haastig die aftog te blaas. Vorige Volgende