Tirade. Jaargang 35 (nrs. 332-337)(1991)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 26] [p. 26] Elisabeth Eybers Nogmaals facialis Die kaperjolle van verval - beroering vroeër nooit vermoed - ontsteek verwondering en vermaak in oë van omstanders terwyl my glimlag, half diagonaal, versoening sein: my nuwe mond waarvoor'k die egte in moes ruil ontbeer die nimbus van 'n wond, ek dra dit soos 'n skewe hoed om te beduie wat-maak-dit-saak. [pagina 27] [p. 27] Sug Die skemering waarin ek versink kan plots die verlede terugwink eldorado van tintelende lig onuitputlike vergesig oase wat heeljaarlang granietheuwels weelderig omvang uitwaaierend buite die stad so veerkragtig aaneengekrat kinders nog klein en onskuldig hul moeder inkennig onkundig argloos en onbedag op 'n kataklismiese slag deur noodlottige magte verwek wat afwagtend sametrek... verblindende helderheid bly my splintergewyse by hoe dan ook hoef ek nie weer na daardie vulkaan terug te keer [pagina 28] [p. 28] Waarneming Hoe ingewikkeld weerloos is die mens, jy sou hom eerder uit die weg moet gaan, tog kom dit voor dat jy teenoor hom staan sonder gebruiksaanwysing, met die wens dat julle saam iets van mekaar mag leer binne die sober voorbestemde perk. Gaan dan met groot omsigtigheid te werk: van alles waaraan hy hom kan beseer - hy wat so seldsaam letselvatbaar is - sal jy jou nooit volledig vergewis vóór dit te laat is om hom af te sweer. Vorige Volgende