Tirade. Jaargang 33 (nrs. 320-325)(1989)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 107] [p. 107] Elisabeth Eybers Opgawe Al die gure gewaarwordings warrelig verwek uit krenkbaarheid, instulping, selfsug en so het my weggaan geteken. Eenselwigheid, 'n ononthegbare binnehuid, strek tussen my en die strak grou-en-groen plattegrond wat verdwaasde asielsoekers gasvry verstrik. Ruimte, misterie, wanorde, tragiek van 'n maatloos ontembare kontinent was in my gevesel, hoe kon ek krimp tot voorgeskrewe omgewingsmimiek? Ek ondervra die verlede nog steeds, sprokkel destyds gesmokkelde brokkies liriek. Winterse wysie 'n Sondagdigter ongeag die dag van die week: tot hierdie slinkende gilde het ek gesink. Ek merk hoe die ongerymdheid aangroei en dink dat ek nie soos 'n outydse grammofoonnaald mag bly steek dog die steeds weer te voorskyn gebaggerde dag moet ontmoet vrywillig en onvoorwaardelik en te voet, wie weet onderweg nog iets tintelend vind om te doen en my sus of so met 'n newelige uitkoms versoen. [pagina 108] [p. 108] Trauma Wie onverhoeds die brandyster hoor sis sal daardie skerp geritsel nooit vergeet, speeksel oorspoel sy tong hoewel hy weet dat dit sy eie intieme skroeigeur is wat hy voortaan dag in dag uit moet blus. Vademekum Verse versin mag nooit alte tydrowend wees. Die maaksels wat jy as noodsaaklik beskou moet ontstaan danksy of ondanks en met snode verwaarlosing van die handelinge wat jou die reg skenk om te bestaan. Reken meer eer aan die letter dan aan die gees. Rym is gevaarlik. En - nog 'n dringende wenk - veronagsaam veral wat andere daarvan dink. Vorige Volgende