Tirade. Jaargang 32 (nrs. 314-319)(1988)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 46] [p. 46] Elisabeth Eybers Gedichten Papier is geduldig Vir elke knelling van nou en hier vind jy 'n noodluik van papier. Geen bokkesprong of papier is bereid tot lankmoedige medepligtigheid. Wat nouliks bestaan word toevertrou aan papier wat dit omhels en behou. Die ongenaakbare chaos vertoon op papier 'n hartvormige patroon. [pagina 47] [p. 47] Stilte Ek het vergeet, vergeet hoe mens jou blootstel, hoe jy jou laat beseer deur onmatig van 'n ander mens te hou. Jou volsinne het my nooit die les geleer wat jou swye my toevertrou. [pagina 48] [p. 48] Volgens afspraak Mekaar volgens afspraak sien beklink jou houvás op my hart - vermoed ek ten minste. Miskien moet jy ook soms daaroor dink. Droombeelde wat volhard - wáárom kan niemand verklaar - en dan in jou bysyn versink kleur elke afwesigheid. Binne bereik van mekaar gun ons mekaar die tyd. [pagina 49] [p. 49] Pas op 'n Welgeskape roekelose kind vir wie volwassenes dit nodig vind om telkens pas op pas op te beveel bly - meer geluk as wysheid - skaflik heel totdat die jare en 'n donker drang na die absoluut onbesonne sprong saamspan teen al wat haar beveilig het tot dan. Sy leer oplaas die oggendlig ontvang en vashou soos 'n porseleindun bord wat, as sy strompel, sou versplinter word. Die retoriek waarop sy haarself betrap - pas op - kom straks te pas by elke stap. [pagina 50] [p. 50] Hemi-facialis spasme Die ouderdom het haar 'n poets gebak. Nie lank gelede onuitsonderlik vertoonbaar en tot allerlei arglose rymelary in staat raak sy verstrik in 'n primitieve grap toe 'n bloedvatknik bedolwe in die brein plotseling sy eie skertsbevele sein. Betrokke dokters, stemmig in hul skik, karteer hoe, deur beneweling in die steek gelaat, sy nou mismoedig en ontmaskerd agterbly met 'n sidderende lid laag oor die linkeroog en die regtermondhoekkrul spottend omhoog: Janus wat maar oor één gesig beskik. Vorige Volgende