Tirade. Jaargang 18 (nrs. 193-200)(1974)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 488] [p. 488] Elisabeth Eybers Drie gedichten Besoeb aan 's-Graveland Ek, buitestaander, gaan toevallig saam: dáár, sedert die onskendbare appél, verkeer jou ouers reghoekig ingeraam, uiteindelik met niks meer te vertel. Tog toef ons 'n toepaslike kwartier en loop weer verder langs die sober rye, die datumpare wat soos deur 'n kier 'n skraal gerug versprei van vóór die swye. Rondom die donker borswering van bome blaker Augustus ongebruiklik fel, verinnerlik die strakgekerfde vrome slagwoorde so eenstemmig opgestel. Dan wys jou arm: my naamgenoot, kyk daar... 'n Vae, voorbarige familielid, nie eens jou grootvader... Bevrore staar ek na die marmer akte, swart op wit. [pagina 489] [p. 489] Individualis De mensen sterven en zijn niet gelukkig wapper naas die deur van die skoenmaker op die hoek: muurskildering van 'n amateur in gangbare heelalverdriet. Die hobbelrige kinderskrif pryk maandelank: geen verfkwas waag om vonnis van 'n nihilis vol dampige ontnugteringsdrif of neo-transendentale angs met ruwe hale weg te vaag. Hoewel nog nooit opvallend kloek wandel ek weer vandag daarlangs en ondiepsinnig vergewis ek my dat 'k leef en selfs, danksy jy-weet-wat, stomgelukkig bly. [pagina 490] [p. 490] Vier goue adelaars Vier goue adelaars het na Engeland teruggekeer. Die tintelende hemelakrobate bou hul enorme neste in 'n verlate weiland en word deur skildwagte beskerm. Eeue gelede is die edel swerm met donderbusse en gaffels uitgeroei of na die agterliker vasteland verjaag waar hulle al in die Middeleeue by die jag, verblind, slegs op die koningspols mog ry. 'n Meer verligte tydvak het gedaag, nou durf hulle weer in 'n groen graafskap broei: die langvervloë eensame verwate en luisterryke kaftanpotentate word fluisterend eerbiedig ingehaal. (Natuurliefhebbers weet te konstateer dat hierdie ras se deur-die-weekse dis veldmuise, slange, ongediertes is en dat hulle verder veelal aas verteer, dus geen bedreiging vir die dartel lam.) [pagina 491] [p. 491] Terselfdertyd en duskant die kanaal weerklink 'n onheilspellender tamtam. Vier goue adelaars het daar neergedaal, vier geel Japanners het hier opgestyg: dié feite het ek op één dag geleer. Verband, indien aanwesig, word verswyg. 18.9.'74 Vorige Volgende