Tirade. Jaargang 4 (nrs. 37-48)(1960)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 43] [p. 43] Gebed om die Gebeente D.J. Opperman Heer, waar U noordewind die droë dissel rol en oor die skurwe brakland jaag van Afrika, maar eindelik teen 'n doringdraad met pluksels wol vaswaai terwyl die kraaie en die aasvoëls kla, laat my ook nà die swerf oor vlaktes heen nou rus en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte om my krys: ‘Ek het hom as matroos hier aan die kus...’ ‘Ek: as stoker op 'n trein...’ ‘Ek: in vaalgeel ligte van 'n steenkooldorp se kroeg nog nou die dag gesien...’ Glo omgekoop! Of hy sou skielik blink gesteentes smokkel... blink gesteentes! Selfs dan... Nee, miskien lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die gebeente, wys my, en gee my die drag gebeente van my skoot dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur lood onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf. Snags het ek soms gelê en vrees daar sou iets boos oor hierdie kind nog kom, want in Middelburg se kerk staan duidelik in die doopregister sy geboorte nie na die stand van sy gesternte aangemerk. En, soos wanneer jy tussen vinger en die duim die wit son rol en skitter in 'n diamant, sou hy deur Vrystaat en Transvaal se leiblou ruim uit spieëls ons stryd laat blits en straal van rant tot rant. Maar hy móés sterf: die Dood het self hom eers gejag deur kou riviere van die Kaap, dwarsoor Anysberg tot in die buitekamer op 'n plaas, waar hy een nag in koue sweet moes lê en aan borswater sterf... toe 'n tweede jagter hom van tent na trein, van trein na tent met doringdraad en bajonet bewaak en met gemete sorg van arts en medisyne vir'n tweede dood, o Heer, stadig gesond kon maak. En ná die skynverhoor het hulle hom vertel... voor Graaff-Reinet se sel. O Graaff-Reinet se sel! Hy was gewone kryger, Heer, en geen rebel. O Graaff-Reinet se sel... Eségiël! Eségiël! Vergeef my die gelykenis, Heer: ek weet 'n hond as hy versadig is, verag die been en murg maar bêre dit agter 'n bossie in die grond - behoedsaam, en snuffel met die tweede honger terug: [pagina 44] [p. 44] Teen middernag het op bevel 'n vyf soldate die kalkwit bondel beendre in die kalkwit doek met grawe en lanterns in verskeie gate onder die roosmaryn langs die rivier gaan soek en herbegrawe... toe U die storm word, Heer; ek weet U en die vyand het die nag in die vallei deur geel geflikker in slagreëns mekaar gemeet oor wie uiteindelik my kind se lyk sou kry. Hy moes drie dode sterf, maar hy wat driemaal sterf die sterf nie meer; hy word nou elke dag gesien as 'n matroos, of stoker op 'n steenkoolwerf, in myn of tronk, in sirkustent of 'n kantien - hy leef in hierdie land nou ewig en altyd! Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn... Seën, Here, ál die bleek gebeente van die stryd - ek ken as moeder ná 'n halwe eeu van pyn: een land vol skedels en gebeente, een groot graf waaroor U noordewind die droë dissel waai en spruit en krans vul met die afloskrete van die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai - dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel, en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël. Vorige Volgende