die sondes van apartheid en dat die taal sy amptelike status moet prysgee ter wille van nasionale eenheid. Daar word egter uit die oog verloor dat Afrikaans ook die eerste bevrydingstaal was (die stryd teen Britse oorheersing), en die rol van Engels as koloniale taal van 1803 tot omstreeks 1950 word gerieflik buite rekening gelaat. Voorts het bykans die helfte Afrikaanssprekendes (die bruinmense) net soos die swartmense onder apartheid gely. Dit is ook so dat Afrikaans die afgelope twee jaar danksy die hervormings van president F.W. de Klerk al in groot mate van hierdie stigma ontslae geraak het en dat daar steeds 'n groot mate van goedgesindheid teenoor Afrikaans onder bruinmense en swartmense is.
Die uitslag van die referendum in Maart 1992, waarin die meerderheid Afrikaanssprekende blankes ten gunste van onderhandeling gestem het, moet beslis ook dien om gevoelens teen Afrikaans te laat afneem. 'n Oorkoepelende liggaam, die Stigting vir Afrikaans, is onlangs in die lewe geroep met die doel om die posisie en gebruik van Afrikaans, ‘die vriendelike taal’, onder die hele bevolking te bevorder.
Sekere skrywers in Afrikaans, soos prof. Jaap Steyn en prof. F.F. Odendal, beweer dat die taal 'n geweldige terugslag sal kry as hy sy amptelike status sou verloor. Daardeur sal Afrikaans die hoër taalfunksies (wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag) moet inboet en gereduseer word tot 'n huistaal. Ook sy funksies as onderwystaal, wetenskaptaal en kommersiële taal sal in die slag bly. Ander skrywers, soos prof. André P. Brink en prof. Fanie Olivier, voer egter aan dat Afrikaans daardeur juis bevry sal word van die stigma van onderdrukking en bevoordeling, en dus sal groei en vooruitgaan.
Op onderwysgebied ondervind Afrikaans ook probleme. In feitlik alle swart skole is die voertaal Engels vanaf die vyfde skooljaar. Soos in Nederland, gaan hier ook stemme op dat tersiêre onderrig net in Engels moet geskied, bv. aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Van die 18 universiteite in die land is 10 Engelstalig, 3 tweetalig en 5 Afrikaanstalig.