dwerghe (meestal dwergies). Dit is opvallend dat die woorde met gh 'n hoë gebruiksfrekwensie het en dat die minder gebruiklike woorde op meer as een manier kan uitgespreek word. As ek my gevolgtrekkinge mag vooruit loop, wil ek die vermoede uitspreek dat die verboë vorme met gh in Afrikaans as selfstandige woorde oorgelewer is en nie in Afr. so gevorm word nie, m.a.w. die Afrikaanse kind vorm berg-berge maar leer berghe van sy omgewing. Afleidinge op -ing het byna altyd die stemlose frikatief, bv. berging, versorging.
Daar is min woorde met g of ekwiwalente in posisie (b). Afgesien van gevolghe vind ons nog (kroon)vervolgher naas vervolger, wilgher (of wilker) naas wilger en wilg, en ook die minder gewone woord verbolghe. Daarteenoor staan volgende (dikwels vollende), vervolgens (selde met gh), delging, verswelgende ens.
Die intervokale posisie (c) lewer groot onreëlmatighede in Afr. In talle gevalle, o.m. in woorde op -ing vind ons reëlmatig g, bv. vervoeging, belegging, verhoging, wroeging. Daarenteë het die meeste ‘sterk deelwoorde’, wat in Afr. meestal gewone adjektiewe is teenoor nuwe swak deelwoorde, sinkopee van g, bv. bedroë (bedrieg), beleë, geboë (gebuig), afgeleë, verkreë (verkry). Waar die gh wel voorkom, staan dit voor 'n onbeklemtoonde slotsillabe met dowwe e. Slegs neghe en sy afleidings is algemeen en beskaaf. Die Uitspraakwoordeboek van Le Roux en Pienaar waarsku nadruklik teen die letteruitspraak nege wat op skool gepropageer word, en vind die uitspraak neë plat. Die gh kom in 'n hele aantal ander woorde voor, maar dit word slegs in 'n paar gevalle as beskaaf erken.
In Bosman en Van der Merwe se Tweetalige Woordeboek (1946), wat tot onlangs as een van die gesaghebbende boeke aanvaar is, vind ons die verboë vorme: brûe(ns)-brugge; rugge-rugte-rûe; egge-êe; mae-mage. Die Groot Woordeboek (1951) uitgegee deur Van Schaik het: brugge-brûe-brûens; rûe(ns)-rugge(ns); egge-êe; mae-mage; va(g)e. In hierdie gevalle dui die spelling g wel gh aan, glo ek.
Wat die ander gh- vorme betref, wil ek ons bekendste fonetici siteer. Prof. P. de V. Pienaar verklaar: ‘Veral in die Noorde vind ons ... 'n uitspraak met gh... in... oghe, daghe, hoghe, eghe, moeghe, ploeghe’. (Die Afrikaanse Spreektaal p. 62); en prof. T.H. le Roux sê dat gh voorkom in die verboë vorme van laag, oog, tuig, maag, kraag, ruig, traag - almal naas die gebruikliker gesinkopeerde vorme (Afrikaanse Taalstudies, 1948 p. 71). Ek het self in die oostelike Vrystaat groot geword met brugghe, rugghe, egghe, oghe en moes dié uitspraak op skool afleer. Die gh-vorme kom ook algemeen voor in die Afrikaans-sprekende dele van Natal.
Dit is natuurlik baie gewens om die verspreiding en status van die gh-vorme noukeurig vas te stel, maar ondersoek hierna lewer onverwagte moeilikhede op. Dit is nie moeilik om te konstateer dat die vorme veral in sekere streke van Transvaal, Vrystaat en Natal die meeste voorkom en baie minder in die Boland (omgewing van Kaapstad), maar ondervraging van studente aan die Stellenbosse Universiteit wat van alle streke in die Unie kom, het getoon dat daar 'n baie sterk vooroordeel teen die gh-vorme bestaan. Daarby het hulle dikwels skynbaar teenstrydige verklarings gedoen wat by verder ondersoek juis geblyk het. Die gh-vorme kom heel dikwels sporadies voor in omgewings wat dié uitspraak oor die algemeen nie ken nie. Die meeste informante is dit met mekaar eens dat dit meer voorkom onder ou inwoners, onder minder opgevoede mense, en onder Kleurlinge. Ek het self egter vas-