| |
| |
| |
Edith H. Raidt
Afrikaanse idiome en vaste uitdrukkings uit Nederlandse dialekte
1 Inleiding
Hierdie studie is 'n uitvloeisel van taalhistoriese navorsing gebaseer op 19de-eeuse Kaapse koeranttekste, op soek na Afrikaanse spreektaalvariante in die tydperk voor standaardisering.
Idiome is kenmerkend van ongedwonge spreektaal en van spot en satire, daarom is die frekwensie van dié soort uitdrukkings in vroeë Afrikaanse tekste glad nie verrassend nie. Wat wel opval, is die aard van die idiome, hulle herkoms en Kaapse aanpassing, en hulle voortbestaan tot vandag toe. Daar is relatief min oorspronklik Suid-Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings teëgekom; die meeste verraai 'n Nederlandse dialekbasis. Dit steun die opmerking van Arnoldus Pannevis, die Nederlandse onderwyser in Paarl. In September 1879 skryf Pannevis in die Zuid-Afrikaansch Tijdschrift 'n rubriek oor ‘Afrikanismen’, waarin hy o.a. op die volgende attent maak:
Er is eene groote menigte woorden en uitdrukkingen onder de Hollandsch-sprekende bevolking van Zuid Afrika in gebruik, welke doorgans voor Afrikanismen gerekend worden, en het evenwel in zekeren zin niet zijn. Want de quaestie is hier: wat heeft men onder de benaming Afrikanismen te verstaan? Is het een woord of zegswijse dat alleen in Zuid Afrika gehoord wordt? Dan voorzeker is het aantal Afrikanismen veel kleiner, dan men dikwijls denkt of weet. Laat ons ten bewijse hiervan het beknopte lijstje van Afrikanismen beschouwen dat Dr. Changuion onder den titel van ‘Proeve van Kaapsch Taaleigen’ achter zijn ‘Nederduitsche Spraakkunst’ heeft geplaatst. In dat lijstje zal ik een betrekkelijk groot aantal woorden en uitdrukkingen aanwijzen, die ik ook dikwijls in Holland, en wel in het midden der Provincie ‘Zuid-Holland’, en sommige ook elders, gehoord heb. (Pannevis 1879: 531)
In sy bespreking van Changuion se ‘Proeve’ wys Pannevis telkens op Nederlandse dialekvorme en gesegdes wat met die Afrikaanse ooreenstem en dui daarmee hulle herkoms aan. Intussen het heelwat studies soos dié van Mansvelt (1884), Boshoff (1921), Malherbe (1925) en Scholtz (1965 en 1985) die herkoms van 'n groot aantal idiomatiese uitdrukkings en spreekwoorde ondersoek.
| |
| |
In hierdie artikel wil ek aanvullende materiaal verskaf aan die hand van data uit Afrikaanse koerante uit die tydperk 1860-1875 as 'n verdere bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse woordeskat, spesifiek die spreekwoorde en gesegdes. Aangesien in die koeranttekste so opvallend veel idiomatiese uitdrukkings voorkom waarvan baie vandag onbekend of ten minste ongebruiklik is, blyk hieruit ook die invloed van verstedeliking en standaardisering wat tot die verlies van ou uitdrukkings gelei het.
By sommige skrywers is daar 'n besondere plesier in die gebruik van idiomatiese uitdrukkings, moontlik ook om die stuk daarmee ‘platter’ te maak, of eenvoudig nader aan die gewone omgangstaal te laat kom. Die volgende uittreksel uit The Friend of the Free State illustreer hierdie oordadige idiome-plesier:
Hy het zyn loon na zyn werken, en is nou kop onder lyf. Hy het hier met zyn achterste in de boter geval, en een zilver lepel het onze Volksraad in zyn mond gezet, maar hy was nie tevrede nie, en hy wordt zoo hoogvaardig dat hy nie op een stoel wil zit nie. Hy moest op twee stoelen gelyk zit, en nou het hy door de mat van een geval, en de voete van de andere gebreek, en nou leg hy op zyn achterste met zyn gebakke peeren, geheelenal verspot... (Klaas Waarzegger Kz 22/5/1863).
In die vlymskerp en goed geformuleerde briewe van Vijf Stemmetjes uijt Oostenrijk (anonieme skrywer(s) van die Oos-Kaap) in Het Volksblad van 7 Julie 1863 kom daar binne die bestek van 1300 woorde nie minder nie as twaalf idiomatiese uitdrukkings voor:
van stukkie tot beentje; sijn mantel na de wint hang; (iem.) sant in de ooge gooij; naberou is galge berouw; voorsigtigheijt is de moeder van de weijsheit; dit is neussie verbij; so waar as kikvors padda is; as die esels eers hoorns krij, of die kikvorse veere; al is de leugen nog so snel, de waarheijt agterhaal haar wel; smeer botter aan die galg, en dat, as de son warm is, en kijk hoe gou dat weer afsmelt; laat nu verder de weerhaan maar draaij, laat hem maar kraaij; een Malbaar wil altijt de laatste woort.
Aangesien sekere koerantskrywers dikwels aan die woord kom en besonder lief is vir idiomatiese uitdrukkings, word hulle skuilname vermeld, bv. Jan Twijfelaar, Jantje Eenvoudig, Piet Ronduit, Vijf Stemmetjes uit Oostenrijk e.a. Afgesien van Jantje Eenvoudig (T.F. Burgers, vgl. Raidt 1987) en Jan Twijfelaar (L.H. Meurant) is die anonieme skrywers agter die skuilname meestal nie identifiseerbaar nie.
Die uitdrukkings word in alfabetiese volgorde van die hoofwoord gerangskik. Tensy anders vermeld kom die aanhalings uit die koerante The Friend of the Free State (afgekort FFS), Het Volksblad (voorts VB) en De Zuid-Afrikaan (ZA).
| |
| |
| |
2 Aantekeninge by idiome en vaste uitdrukkings
Baadjie: Op zijn baatje kry (FFS 30/8/1861)
‘Op Winburg was oom Daniel de President, allah! hy die op zyn baatje gekry het in de krant, omdat hy de Kafir meide onder de keel kielie.’ (FFS 30/8/1861)
Changuion (1848: 7) vermeld in sy Kaapsch Taaleigen: ‘Hij krijg op zyn baatje; hij krijgt slaag’. Hierdie gesegde is vandag nog algemeen gebruiklik vir ‘'n pak slae ('n loesing) kry’.
Malherbe vind die afleiding van baadjie onseker (1925: 121). Fly voeg egter by, ‘as ons hier te doen het met 'n oorspronklik Nederlandse woord, dan lyk dit veilig om te beweer dat Maleis badjoe 'n rol gespeel het in sy veralgemening in Suid-Afrika’. En hy verwys na Ndl. sinonieme, en dat hulle al by Tuinman voorkom (1720, I:297).
Stoett (1950: nr. 87) vermeld op zijn baadje krijgen, ‘slaag krijgen’ en wys daarop dat 'n baadje 'n Indiese kledingstuk is wat in Maleis en Javaans badjoe heet. Voorts vermeld hy dat in Suid-Nederlands die variant op zijnen baai krijgen bekend is. Hy vergelyk die Ndl. idioom met Dt. einem aufs Wants klopfen, en Eng. to dust one's coat/jacket.
Belofte: Belofte maak schuld (VB 11/4/65)
Hierdie ou uitdrukking kom volgens Stoett reeds in die Saksenspiegel en in Middelnederlands voor. ‘Oorspronkelijk waarborgde niet elke belofte de nakoming. Dit goldt alleen van de vormelijke belofte’ (Stoett 1943: 200). Die uitdrukking het 'n vaste komponent van die Nederlandse en Afrikaanse (ook Duitse) fraseologismes gebly.
Die idioom Belofte maakt schuld is vandag nog in Nederlands gebruiklik (Apeldoorn en Van Riet 1990: 24). Odendal (HAT 1994: 72) wys daarop dat by Belofte maak skuld in hedendaagse Afrikaans dikwels en wie daarop wag, raak gekuld toegevoeg word.
In Botha (1994: 323) word die idioom nie onder belofte vermeld nie maar wel onder skuld - ‘'n mens moet doen wat jy beloof’; hier word bogenoemde uitbreiding of toevoeging niet genoem nie.
Botter: ‘Hy het hier met zyn achterste in de boter geval’ (FFS 22/5/1863)
Stoett (1943: 1618) noem by die Ndl. idioom met zijn neus in het vet (of in de boter vallen) die Groningse vorm ‘mit 't achterste (of mit 't gad) in de botter vallen (Harrebomée I, 1858: 84b) en die Suid-Nederlandse variant met zijn gat in de boter vallen. Die idioom is vandag nog in gebruik met die beteke- | |
| |
nis ‘van een buitenkansje profiteren door op het juiste ogenblik te komen’. (Apeldoorn en Van Riet 1990: 172; Botha e.a. 1994: 39).
Ook in Afrikaans is albei variante nog bekend en gebruiklik: met sy neus/ gat in die botter val, ‘baie gelukkig wees, dit gelukkig tref’ (HAT 1994: 106).
Botter aan de galg smeer
‘Smeer meer botter aan de galg, en dat, as de son warm is, en kijk hoe gou dat weer af smelt’ (VB 7/7/1863)
Die spreekwoord botter aan die galg smeer - vergeefse moeite doen, is vandag nog in Afrikaans baie gebruiklik (vgl. WAT I, 1956: 506; HAT 1994: 106). Ook in Nederlands behoort dit nog steeds tot die gebruiklike spreekwoorde (vgl. Apeldoorn en Van Riet 1990: 40, Het is boter aan de galg (gesmeerd), ‘het is vergeefse moeite, bijv. Om iem. of een situatie te verbeteren’).
Volgens Stoett (1943: n. 323) is die uitdrukking vanaf die 17de een bekend: ‘Het is boter aan de galg’, verder ‘Het is toch boter tegen de galg gekletst’, ook i.v.m. slaan, smijten, smeren, lappen, klappen, plakken.
By Eckart (1893: 69) vind 'n mens Dat es Botter ên der Galge geschmêt, in die betekenis ‘Unwürdigen geholfen’. Ook in ander dialekstreke is die idioom bekend.
Interessant is die uitbreiding in die Afrikaanse sitaat uit 1863 wat eintlik op 'n versterking en verduideliking van die betekenis ‘vergeefse moeite doen’, neerkom.
Stoett (1950: n. 218) wys daarop dat die betekenis van hierdie idioom nog nie voldoende verklaar is nie. Miskien berus die uitdrukking ‘alleen op associatie van boter als iets kostelijks met de galg als laatste stadium in een mislukte levensloop; hangt men eenmaal aan de galg, dan is er niets meer aan te doen, dan helpt geen boter...meer om dit lot te verbeteren.’ Dit wil voorkom of die Afrikaanse uitbreiding hierdie interpretasie steun.
Gamaliël: Aan de voete van Gamaliel sit (ZA 1864)
Dit is nie verrassend nie dat die Bybelse spreekwoord met die betekenis ‘die leerling wees van 'n beroemde geleerde’, juis in die briewe van Jantje Eenvoudig voorkom, by 'n predikant dus. Die idioom is op Handelinge 22: 3 gebaseer. Maar dit is tog merkwaardig dat Stoett dit nêrens vermeld nie; ander bronne soos Harrebomée (1858, II:397) noem dit wel (vgl. Malherbe 1925: 176). In hedendaagse Afrikaans is die idioom nog heeltemal gebruiklik (Botha 1994: 85). Die idioom is ook in Duits wyd verbreid.
| |
| |
Grootjie: Loop na jou grootje
‘Ach loop na jou grootje met jou gekheid.’ (FFS 2/12/1875)
= ‘loop na die duiwel, maak dat jy wegkom’
Hierdie frekwente Afrikaanse uitroep is bekend uit Nederlands. Daar is egter 'n semantiese en affektiewe verskil. Van Dale (1961: 723) vermeld ‘loop naar je grootje!’ as 'n skertsende vorm vir ‘maak dat anderen wijs’. Bogenoemde aanhaling het wel daardie betekenis. Maar die Afrikaanse segswyse van vandag is 'n uiting van irritasie en selfs woede in die betekenis van ‘Maak dat jy wegkom! gesê as 'n verwensing vir iemand vir wie 'n mens kwaad is.’ (Botha 1994: 110)
Die uitdrukking kom dikwels in die tekste van Samuel Zwaartman voor (vgl. Ueckermann 1987: 268).
Hond: As jij een hond wil slaan, kan jij altoos een stok krij (FFS 6/9/1867)
= ‘'n mens kan maklik 'n oorsaak vind om iemand te benadeel’.
Dit is 'n bekende en vandag nog heel gebruiklike spreekwoord wat alreeds van 1733 af in Kaapse argieftekste voorkom. Ook in Ndl. (Stoett 1943: n. 932) en Dt. (Eckart 1893: 222) dialekte is dit vanaf die 17de een gedokumenteer.
Veele honde is die arme haas se dood (Vijf Stemmetjes, VB 25/1/1865)
Volgens Malherbe (1925: 206) beteken dit ‘teen 'n oormag kan 'n mens dit nie op die duur volhou nie’, terwyl Kritzinger (1941: 66) en Botha (1994: 143) dit positief omskryf: ‘as persone bymekaar staan, kan hulle makliker 'n swaar werk verrig’. Barnes (1948: 90) en Odendal (HAT 1994: 386) gee albei betekenisse, nl. ‘deur samewerking word veel uitgerig; teen 'n oormag is niks bestand nie.’
Die idioom is in Nederlandse en Duitse dialekte oud met albei betekenisse (vgl. Stoett 1843: 931).
Dit uitdrukking Nes een haassie waar de honde agter is (Vijf Stemmetjes, VB 7/5/1863) kan as 'n variant van bostaande idioom met die negatiewe betekenis beskou word.
Kastaiings: Kastaiings uit die vuur laat haal (VB 31/10/1863)
= ‘moeilike of gevaarlike werk vir iem. doen.’
‘Hulle het ons bovenop voor onze moeite uitgelag en zelvers stilgezit, en voor ons die karstanjes uit die vuur laat haal’ (Piet Ronduit, VB 31/10/1863).
| |
| |
Die gesegde is vandag nog baie bekend (vgl. HAT 1994: 503). Malherbe (1925: 229) beskryf dit as ‘onaangename arbeid vir 'n ander verrig’ en verwys na dieselfe gesegdes in Nederlands, Duits en Frans. Volgens Stoett (1943: n. 1089) is die uitdrukking ontleen aan die fabel, ‘dat een aap die kastanjes uit het vuur wilde halen en bang was zich te branden, hiervoor de poot van een daarbij slapende hond gebruikte.’ Die gesegde was alreeds in die 16de een in Nederland bekend.
Kat: Stuurt een kat na Engeland
‘Als hy terug kom dan is hy zooals een kat die na Engeland gestuurt is en kom terug, zeg nog maauw’ (FFS 3/7/1863)
Hier het ons 'n interessante en misleidende geval van 'n spreekwoord waar 'n mens eers aan 'n sarkastiese verwysing na die verhouding tussen Afrikaners en verengelste Kapenaars sou dink. Bowendien kom dit in 'n sterk bewoorde brief voor van ‘Vrystaat Burgers’ waarin kwaai kritiek op 'n volksraadslid gelewer word omdat dié ‘voor de gekleurde is’. Des te groter is die verrassing om in Eckart (1893: 250) die volgende (Westfaalse) gesegde te vind: Stürt 'n Katt na Engeland, se sall as 'n Katt wêrum kômen. Moontlik het ons hier met 'n Nederduitse eerder as 'n Nederlandse idioom te doen.
Kikvors: So waar as kikvors padda is (ZA 4/8/1864, VB 7/7/1863)
In 'n brief van Vijf Stemmetjes uijt Oostenrijk wat wemel van idiomatiese uitdrukkings lees ons:
‘Nou, as dit so waar maar is as kikvors padda is, dan moet 't met die krant naar gesteld wees’.
En Jantje Eenvoudig skryf in sy sarkastiese verweer in die kerkstryd:
‘Das een koddige saak, so waar as kirkvors padda is.’
Dit beteken dus ‘sowaar, inderdaad’.
Scholtz (1965: 119) bring die gesegde in verband met die skertsende bevestigingsformule So waar as kikvors met padda getrou het (vgl. Malherbe 1925: 286). M.i. is hier egter ook 'n ander verklaring moontlik. In die 19de een was die Afrikaanse woord padda besig om die Nederlandse kikvors te vervang. Juis in hierdie oorgangsfase word kikvors dus met padda gelyk gestel, so waar as kikvors = padda is.
Kikvors kom ook in 'n ander brief van Vijf Stemmetjes voor:
‘Daar is veule mense die hulle ortodoks noem, maar hulle verstaat de sin van die woort so min as een kikvors. (VB 12/5/1863)
| |
| |
Verdere variante van die skertsende bevestiging, maar dan met die betekenis ‘nooit nie’, is
‘Dit sel ons eers gelowe as die esels hoorns krij, of die kikvorse veere, eerder nie.’ (VB 7/7/1863, weer eens van Vijf Stemmetjes).
Geen Nederlandse of Duitse ekwivalente kon gevind word nie. Die uitdrukking was vir Malherbe nog gewoon, maar is vandag nie meer bekend nie.
Kloek: ‘Iem. Een beetje kloek maak’ (VB 25/2/1864)
Ouw Cornelis, 'n frekwente skrywer van koerantbydraes, skryf aan die ‘Editeur’ om 'n saak reg te stel:
‘Nou zal ik ver jou een beetje kloek maak daaroor.’
Dit was 'n heel gebruiklike gesegde in die 19de een en kom o.a. voor in Meurant se Zamenspraak, verder in briewe in FFS 2/11/1871, VB 23/5/1872, en Burghersdorp Gazette 1/1/1875.
Hierdie uitdrukking met die betekenis ‘iem. oor iets inlig’ is vandag geheel en al verouderd (vgl. WAT VI: 337). Nóg HAT (1994) nóg Botha (1994) vermeld dit. In ouer Nederlands tot en met die 19de een was dit egter baie gewoon (Scholtz 1965: 120).
Koek: Iets voor soete koek opeet / opvreet (ZA 28/4/1864)
‘Niet dat ik alles wat in datselve kom aanneemt en as soete koek opeet’ (Jantje Eenvoudig, ZA 28/4/1864)
In Afrikaans beteken hierdie vandag nog gebruiklike uitdrukking ‘alles glo wat jou vertel word’ of ‘jou alles laat welgeval’ (HAT 1994: 971, Botha 1994: 332), hoewel lg. betekenis vandag minder gebruiklik is.
In Nederlands is die uitdrukking iets voor zoete koek opeten / slikken / opnemen blykbaar eers sedert die 19de een bekend en dan met die twee betekenisse ‘iets gewillig verdragen, doen alsof men het onaangename niet bemerkt’, en ‘iets goedwillig geloven’ (Stoett 1943: n. 1214).
Kluitjies: Kluytjes bak / kook
‘Word daar nie onder hulle ook nie gevind nie die soo banja kluytjes kan kook nie?’ (Jantje Eenvoudig, ZA 3/10/1864)
‘... om voor den lesers van een krant, so een pot onsmakelike en onbekookte kluytjes sop op te scheppen’ (Jantje Eenvoudig, ZA 28/4/1864)
‘Schryver wy bezweer u voor, dat u zure kluitjes zal bak’ (FFS 24/4/1863)
Samuel Zwaartman skryf in sy Kaapsche Schetsen (1871: 92):
| |
| |
‘Moet nie leuns ver hom vertel, want op die punt zal hij zeker ver julle wen, want een goeije agent kan baajen de waarheit draai, anders zou hij nooit een zaak wen nie, daarom is dit nie zonde als een agent kluitjes vertel, vraa gems ver de predikant.’ (Kaapsche Schetsen 1871: 92. Vgl. Ueckermann 1987: 278).
Opvallend is die feit dat die gesegde in so veel variasies voorkom en relatief frekwent was. Dit is ook opmerklik dat al die vroeë woordelyste na kluitjie verwys. Pannevis (1880: 92) gee ‘Kluitji: leugen (nuance in de beteekenis van het oud Hollandsche woord dat later klucht word)’. Dit sluit aan by wat hy reeds vroeër in sy rubriek ‘Koloniale woorden en uitdrukkingen’ (Zuid-Afrikaansch Tijdschrift, Julie 1879: 391) geskryf het: ‘kluitje, leugen. Dit is het Oud-Hollandsche kluit, dat later klucht word; dus eigenlijk een grap.’
Mansvelt (1884: 81) vermeld: ‘Kluitji, een vrij tastbare onwaarheid’. Ook hy verwys na die verband met klucht. Verdere verwysings kry 'n mens by Kern (1890) en in die Patriotwoordeboek.
Stoett (1943: n. 1192) vermeld nie die kombinasies met bak / kook / vertel nie, slegs iem. met een kluit(je) in het riet sturen met verwysing na dieselfde idioom in Afrikaans en dat kluitje in Wes-Vlaandere en in Suid-Afrika die betekenis grapje het, soos in die 17de een (vgl. Malherbe 1925: 238).
Die uitdrukking kluitjies bak, vertel, verkoop, kook = leuens vertel, is vandag nog bekend en gebruiklik (WAT VI: 404; HAT 1994: 544; Botha 1994: 190).
Kole: Bij my hole (VB 23/6/1864)
vgl. by myn zole (Jantje Eenvoudig, ZA 4/8/1864)
‘En wie denk oom Klaas ziet ik toe weer raak bij mij kole war diezelfde rooi baart kerel.’ (Jan Twyfelaar, VB 23/6/1864)
‘Jij het bij mijn kool nie in armoed groot geworde nie.’ (ZA 26/5/1887)
Hierdie versterkende uitdrukking in die betekenis ‘vir seker, beslis’, kom in verskeie variante voor. Mansvelt (1884: 84-5) skryf: koli of kool kom voor in bij mij kool of koli waar = ‘zeker waar’, en hy voeg by, dat 'n mens ook bij mij seks of chedome sê. Lg. laat hom dink aan die Hollandse vorme chedome, god-dome, dus 'n soort vloek.
Die gesegde word in Kritzinger (1941: 85) en Barnes (1948: 118) as ‘by my kool’ - ‘by my woord van eer’ vermeld; dit kom ook in Botha (1994: 197) voor, maar nie in HAT (1994) nie.
Jantje Eenvoudig se by myn zole! is by niemand anders teëgekom nie.
‘Hulle mag, by myn zole! wel wens net so liberjaal te wees as hy was.’ (ZA 4/8/1864)
| |
| |
‘... om mense om de geloof te verbrand, op te hang of de kop af te slaan..., sal julle nog, by myn zole!, heengaan...’ (ZA 12/1/1865)
Dit is moontlik dat hier die Engelse by my soul! 'n bykomende rol gespeel het, hoewel dit bloot as 'n wisselvorm van die bogenoemde variante kon ontstaan het.
Vir Bij my sekse sien Siks, Seks
Kop: Kop in de skulp trek (Jantje Eenvoudig, ZA 3/10/1864)
Hierdie uitdrukking hou verband met die Nederlandse in zijn schulp kruipen (Stoett 1943: n. 2041), en die Afrikaanse in jou skulp (dop) kruip, d.w.s. jou terugtrek of onttrek aan iets, meestal uit vrees (vgl. Malherbe 1925: 313)
Botha (1994: 199, 323) gee die uitdrukking as kop intrek en om in jou skulp / dop te kruip - ‘om bang te wees om iets aan te pak of voort te sit’.
Kous: Met de kous op zijn klapperdop (Vijf Stemmetjes, VB 19/3/1863)
Met die kous op die kop (Piet Ronduit, VB 31/10/1863)
‘... waardoor hij een keer... een verschrikkelijke blou oog voor betaling gekrege het, daarover gaan klaag het, en met de kous op zijn klapperdop na huis moes keer’ (VB 19/3/1863)
In hedendaagse Afrikaans is hierdie uitdrukking nog bekend: met die kous op / oor die kop terugkom, ‘sonder welslae terugkom’ (HAT 1994: 579). Dit is nie in Malherbe (1925) opgeneem nie.
Klapperdop of klapperdot word deur Mansvelt (1884: 80) vermeld as skertsende woord vir kop. Dit kom in 19de-eeuse tekste dikwels voor (Lätti 1978: 199), vandag is dit egter verouderd.
Heelwat variasies van hierdie gesegde kom in die koeranttekste voor wat die gewildheid aandui. Die volgende uittreksel uit 'n samespraak illustreer dit:
‘Ik het hulle kouse laat uittrek, en het over hulle koppe laat trek. Hulle is regte verspot, en hulle kijk nou deur die kouse net als deur een sluier, want de rand van de kouse is tot op hulle neuse, en de voetzoolen hang agter hulle nekke.’ (FFS 10/7/ 1868)
Hier is twee idiome gekombineer, nl. iem. die kous oor die kop trek en iem. met die kous oor / op die kop (wegstuur). Albei idiome is vandag nog bekend (WAT VIII: 43)
Die Afrikaanse idioom sluit direk aan by die Nederlandse met de kous op het hoofd (of op den kop) thuiskomen, ‘van eene vergeefsche reis thuisko- | |
| |
men, niet geslaagd zijn: thans veelal gezegd van een examen of een huwelijksaanzoek.’ (Stoett 1943: n. 1262)
Stoett wys ook op talle sinonieme gesegdes en op die moontlike herkoms en verklaring daarvan. Die uitdrukking gaan selfs verder terug as 17de-eeuse Nederlands.
Vgl. ook Botha (1994: 203) vir die gebruik in hedendaagse Afrikaans met die kous oor / op die kop terug / huis toe te kom - ‘om teleurgesteld te wees, om sonder sukses terug te kom’.
Mantel: Zyn mantel draaij zoals de wint waaij (FFS 3/7/1863)
‘Frans Cloete draaij zyn mantel zooals de wint waaij; hy is ook niet veel shillings waart.’ (Brief van ‘Vrystaat Burgers’)
Sy mantel na die wind draai / hang is vandag nog gebruiklik (Malherbe 1925: 259, HAT 1994: 646; Botha 1994: 236). Van Dale (1961: 1167) gee de mantel (de huik) naar de wind hangen. In hedendaagse Nederlands is die segswyse nog heel gebruiklik, hoofsaaklik met die variant de huik (=kapmantel). Volgens HAT (1994: 400) en Botha (1994: 152) is albei variante in Afrikaans bekend; in die spreektaal kom egter byna uitsluitlik mantel. voor. Dit is interessant dat Stoett (1943: 377) slegs de huik naar de wind hangen vermeld.
Die ooreenkoms met die Duitse Den Mantel nach dem Wind hängen / drehen (Vgl. Wahrig 1986: 862) is duidelik.
Patats: De pattata zal niet uitkom nie (VB 12/2/1863)
‘Nu kan u zien en die publiek ook, wat voor schandelijke dinge die mense doen, dan praat zulle almal veel van die zonde van de liberjaale, - maar hulle dog de pattata zal niet uitkom nie.’ (VB 12/2/1863)
‘Hy mot maar stil bly oor die danse, anners kom die petattas nog uit.’ (ZA 26/2/1863)
In hierdie vorm is die gesegde nie meer bekend nie, daar is egter 'n duidelike verband met die uitdrukking met die hele mandjie patats uitkom, ‘met die hele saak voor die dag kom, alles uitlap’ (HAT 1994: 787; vgl. ook Botha 1994: 280 en Malherbe 1925: 288).
Scholtz (1965: 126) verwys na 'n verwante Nederlandse idioom in Harrebomée (1855/1870: 420): daar heb je 't heele mandje met de knollen.
Neusie: Dats voor hulle neussie verby! (Jantje Eenvoudig, ZA 23/9/1864)
Mansvelt (1884: 111) gee die idioom Dat is jou neus verbij! met die belangrike opmerking: ‘niet als in 't Ned., daar krijg je niets van; maar men gebruikt 't
| |
| |
in den zin van: dat is mis! Jij moet gauwer zijn om mij te foppen.’ Dit is presies hoe Jantje Eenvoudig dit gebruik en hoe dit vandag nog toegepas word.
Die snedige of soms sarkastiese uitdrukking dis neusie verby, ‘die kans is verlore’, is nog baie bekend in Afrikaans (HAT 1994: 698; Malherbe 1925: 272).
In Nederlands is dat gaat zijn neus voorbij (Harrebomée 1850: II, 123) en in Nederduits dat geit din Nês vorbi (Eckart 1893: 383) bekend. By Stoett word dit egter nie vermeld nie.
Pype: Mense na hulle pype laat danse
‘Mense die voor hulle so na hulle peype laat danse’ (Jantje Eenvoudig, ZA 1864)
Na iem. se pype dans, ‘alles doen wat 'n ander wil hê’ (Kritzinger 1941: 127; HAT 1994: 830; Botha 1994: 290) is nog steeds 'n bekende gesegde. Hoewel daar 'n duidelike ooreenkoms met Eng. dance to someone's tune bestaan, is die parallel met die Nederlandse naar iemands pijp(en) dansen ewe sterk. Stoett (1943: n. 1824) toon aan dat die segswyse alreeds in die 16de een in Nederlands gebruiklik was en oor die eene heen frekwent gebly het.
Sand: Iemant sant in de ooge gooy (Jantje Eenvoudig, ZA 28/4/1864)
Volgens Stoett (1943: n. 2624) was die uitdrukking iem. zand in de oogen strooien / werpen al in die 17de een bekend. Dit word nie in Malherbe (1925) vermeld nie.
Sand in die oë strooi / skop (HAT 1994: 895; Botha 1994: 306), ‘om die bos lei, kul’, is nog steeds gebruiklik in Afrikaans en ook in Nederlands (Apeldoorn en Van Riet 1990: 256), ‘iemand zand in de ogen strooien.’
Siks: Siks / seks. Bij mij seks
Hierdie versterkende uitroep is 'n variant met verdere variante van bij mijn kole (sien kole), ‘inderdaad, vir seker’; die volgende is opgeteken:
‘Bij mij sekse’, in 'n samespraak in De Boerenvriend 2/2/1866;
‘Bij mijn sakse!’ in 'n brief uit Riversdal in Het Volksblad 13/3/1873
‘By mijn sex’, uit die vyfde gesprek van Klaas Waarzegger Jr. in De Zuid-Afrikaan van 6/12/1873
‘Bij mij seks!’ uit 'n brief in Het Volksblad 29/4/1875
Soos reeds aangedui, verwys Mansvelt (1884: 84) na hierdie interessante uitdrukking. Hy gee egter geen verklaring nie. Malherbe (1925: 306) meen stellig dat by my siks / seks ‘ongetwyfeld van Duitse oorsprong’ is. Hy verwys na Hd. Meiner Six, meiner Sechs, eufemisties vir die eedformule bei
| |
| |
meiner Seele, as ontstaan uit meiner Treu met dialektiese uitspraak drei wat vervang word deur sechs. Hierdie verklaring berus op Behagel se etimologie. Dit kon nie in Eckart (1893) opgespoor word nie.
Die uitdrukking is vandag nog as by my siks bekend (Botha 1994: 311; HAT 1994: 916). Odendal aanvaar klaarblyklik Malherbe se etimologie.
Splinter: De splinter in ander sijn oog op merk, en de balk in sijn oog vergeet. (Vijf Stemmetjes, VB 12/5/1863)
Die uitdrukking wat gebaseer is op Matteus 7:3 is nog steeds gebruiklik in Afrikaans: Die splint(er) in 'n ander se oog sien, maar die balk in jou eie te vergeet (HAT 1994: 990; Botha 1994: 339) as ook in Nederlands. Stoett (1943: n. 1680) wys op die bekendheid van die uitdrukking en op ou bewysplase vanaf Latyn en Middelnederlands.
Stukkie: Van stukkie tot beentje. (Vijf Stemmetjes, VB 7/7/1863)
Hierdie gesegde wat ‘geheel en al, van a tot z’ beteken, is volgens Malherbe (1925: 325) 'n minder bekende variant van die meer gebruiklike van stukkie tot brokkie. Lg. is vandag nog bekend (HAT 1994: 1042; Botha 1994: 359), hoewel dit bv. nie in Kritzinger (1941) en Barnes (1948) vermeld word nie. Van stukkie tot beentjie word deur Botha (1994: 359) nog as variant genoem.
Gaan 'n mens die herkoms van die gesegde na, dan blyk dat dit 'n vervorming van die Nederlandse van stukje tot beetje moet wees. Stoett (1943: n. 2215) beskryf hierdie uitdrukking, in die betekenis ‘van het eene stukje tot het andere, achtereenvolgens alle deelen van eene zaak, meest als bepaling bij ww. als vertellen en derg.’, en hy wys daarop dat dit in die 17de een alreeds in die teenswoordige vorm heel algemeen was. Ander variante wat hy uit ouer bronne aanhaal, is o.a. van stuk tot beet, van stuk tot stuk, en die Friese fen stikje ta bytse. Die oorgang in ouer Afrikaans van beetje tot beentje hou verband met die verlies van beetje wat deur bietjie vervang is. Aangesien die uitdrukking in die vorm van stukkie tot beentje eintlik geen sin gemaak het nie, is dit deur brokkie vervang en hiermee sluit dit dan weer direk by die ouer Nederlandse vorm en betekenis aan.
Tering: Terin naar die nerin maak (Piet Ronduit, VB 31/10/1863)
‘Die Parlement zijn mense die zoo geleert is, weet mos jummers dat zulke haarlie terin naar die nerin moet maak.’
Dit is vandag nog bekend, die tering na die nering sit, ‘jou uitgawes volgens jou inkomste reël’ (HAT 1994: 1077; Botha 1994: 368).
| |
| |
Stoett (1943: n. 2250) wys op die wye verspreidheid van die gesegde de tering naar de nering zetten, en ook dat dit al vanaf Middelnederlands bekend is. Dit word nie in Malherbe (1925) vermeld nie.
Uil: Nes een uil onder die vohels lijken (Piet Ronduit, VB 31/10/1863)
Piet Ronduit gebruik die idioom in een van sy heerlik spontane briewe wat deurspek is met idiomatiese gesegdes:
‘Hij gaat daar en hij kom weer na die Kaapstat met die kous op die kop, dan zal die mense hom uitlag voor dat die Grehemstatters hom gepier het, en hom nie meer aankijk, en dan zal hij mos nes een uil onder die vohels lijken.’
Die gesegde word deur Malherbe (1925: 336) vermeld met die betekenis ‘iem. wat deur sy gedrag of deur opvallende, spotwekkende kleredrag die voorwerp van spot en skerts word.’ Hy verwys na Nederlands wat de uil onder de vogels / kraaien ken, en na die Duitse uitdrukking wie die Eulen unter den Krähen. In Stoett word dit egter nie vermeld nie.
Water: Gesteelde waters is soet
‘Is gestoolde waters nie soet nie’ (Jantje Eenvoudig, ZA 28/4/1864)
Sommige uitdrukkings lewer verrassings op. By bogenoemde gesegde is 'n mens geneig om dit as 'n eg Kaapse skepping te beskou, veral as in gedagte gehou word dat daar gedurig rusies tussen boere was oor die verskuiwing van grensbakens en die waterbron op die buurman se plaas.
Stoett (1943: n. 2488) wys egter op die Engelse idioom stolen waters are sweet, en in 'n voetnoot by n. 2488 vermeld hy die Middelnederlandse uitdrukking ghestolen water sijn die soetste. Hy maak egter nie daarop attent dat die idioom uit Spreuke 9:17 afkomstig is nie: ‘Gestolen waters zijn zoet.’ Dit is interessant dat hierdie gesegde by 'n predikant (T.F. Burgers, skuilnaam Jantje Eenvoudig) voorkom. Die skrywer maak dus van 'n ou Nederlandse en bowendien 'n Bybelse idioom gebruik. Engelse invloed kon ook 'n rol gespeel het.
Witvoetjie: Witvoetjie soek
‘De Parlementsmannen wat witvoetje bij de Gorneur [sic] wil zoek.’ (Piet Ronduit, VB 31/10/1863)
Die idioom witvoetjie soek, ‘probeer om iem. se guns te bekom, veral deur inkruiperig te wees’, is nog steeds gebruiklik (vgl. HAT 1994: 1285; Botha 1994: 427; Barnes 1948: 245). Dit kom egter nie by Malherbe (1925) voor nie.
| |
| |
Die uitdrukking is 'n variant van die Nederlandse een wit voetje hebben bij iemand, ‘bij iemand in de gunst, in de pas staan’ (Stoett 1943: n. 2460). Soos Stoett aantoon, was die uitdrukking sedert die 16de een bekend en het sy ontstaan te danke aan 'n vroeër gewoonte dat perde met vier wit voete die poorte van Vlaamse stede tolvry mog binnery. Stoett verwys in hierdie verband na die Afrikaanse witvoetjie soek - ‘trachten in iemands gunst te komen’.
| |
3 Slotopmerkings
Uit hierdie ondersoek word duidelik dat daar baie idiome van Nederlands dialektiese herkoms in die laat 19de-eeuse Afrikaanse tekste te vinde is, veral in dié wat plat wil wees met die weergawe van streektaal. Dit is 'n ryk terrein wat nog verder ontgin en beskryf moet word om iets van die kleurvolle omgangstaal van die vorige een te laat sien. Hoewel heelwat van die gesegdes in sekere sosiolekte nog bekend is, het hulle in stedelike en ‘Standaardafrikaans’ verlore geraak, 'n bewys dus dat verstedeliking en standaardisering 'n direkte uitwerking op die idiomeskat van 'n taal het.
| |
Literatuur
A. Boeke en artikels
Apeldoorn, C.G.L., & Rob van Riet |
|
1990 |
Spreekwoorden verklaard. Utrecht: Prisma. |
|
Barnes, A.S.V. |
|
1948 |
Afrikaanse spreekwoorde, gesegdes en ander uitdrukkingen. Kaapstad ens. Nasionale Boekhandel Beperk. |
|
Boshoff, S.P.E. |
|
1921 |
Volk en taal van Suid-Afrika. Pretoria: J.H. de Bussy Bpk. Kaapstad: Holl.-Afr. Uitgewers-My. |
|
Boshoff, S.P.E., & G.S. Nienaber |
|
1967 |
Afrikaanse etimologieë. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. |
|
Bosman, N. (red.) |
|
1995 |
'n Man van woorde. Feesbundel vir Louis Eksteen. Pretoria: J.L. van Schaik 1995: 92-104. |
|
Botha, R.P., G. Kroes & C.H. Winkler |
|
1994 |
Afrikaanse idiome en ander vaste uitdrukkings. Johannesburg: Southern Boek-uitgewers. |
| |
| |
Changuion, A.N.E. |
|
1848 |
Proeve van Kaapsch Taaleigen. Bijvoegsel tot de Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld. Rotterdam: J. Van der Vliet. |
|
Du Toit, S.J. |
|
1908 |
Afrikaanse Taalskat. Fan Spreekwyse, Gesegdes en Uitdrukkings. In: Van der Merwe, H.J.J.M. 1971: 225-262. |
|
Eckart, R. |
|
1893 |
Niederdeutsche Sprichwörter und volkstümliche Redensarten. Braunschweig: Appelhans & Pfenningstorff. |
|
Harrebomée, P.J. |
|
1858-1870 |
Spreekwoordenboek der Nederlandsche Taal. 3 dele. Utrecht |
|
Kern, H. |
|
1890 |
Woordenlijst van het Transvaalsch Taaleigen. In: Van der Merwe 1971: 41-50. |
|
Kritzinger, M.S.B., A.M.M. de Villiers, & E.J. Pienaar |
|
1941 |
Afrikaanse spreekwoorde, gesegdes, ens. Pretoria: J.L. van Schaik Beperk. |
|
Lätti, M. |
|
1978 |
Die taalgebruik in Ons Klyntji 1896-1906. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg. |
|
Malherbe, D.F. s.j. |
|
[1925] |
Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme. Bloemfontein: Nasionale Pers Bpk. |
|
Mansvelt, N. |
|
1884 |
Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon. Kaapstad: C.J. Martin. |
|
Merwe, C. van der, H. Waher & J. Hambidge (reds.) |
|
1994 |
Rondom Roy: Studies opgedra aan Roy F. Pfeiffer. Kaapstad: Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Kaapstad. |
|
Merwe, H.J.J.M. van der (red.) |
|
1971 |
Vroeë Afrikaanse woordelyste. Pretoria: Van Schaik Beperk. |
|
Pannevis, A. |
|
1879 |
Afrikanismen. Zuid-Afrikaansch Tijdschrift, September 1879: 531. |
|
1880 |
Lys van Afrikaanse woorde en uitdrukkings. In: Van der Merwe 1971: 59-127. |
|
Raidt, E.H. |
|
1987 |
Kerkstryd of taalbeweging? Die Afrikaanse geskrifte van Jantje Eenvoudig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 27(4), Des. 1987: 328-340. |
|
1989 |
Die taal van 'n ‘liberjale’ predikant. In: R. Gilfillan, & A. de Vries, Op die wyse van die taal. Kaapstad: Vlaeberg Uitgewers, 169-179. |
|
1990 |
Taalvariasie in negentiende-eeuse Afrikaans. Tijdskrif vir Geesteswetenskappe, 32(4), 240-256. |
|
1994 |
‘Afrikanismes’ of ‘Nederlandismes’? In: Van der Merwe e.a. 112-122. |
|
1995 |
Idiomatiese uitdrukkings en spreekwoorde in ouer Afrikaans. In: N. Bosman (red.), 92-104. |
|
Scholtz, J. du P. |
|
1965 |
Afrikaans uit die vroeë tyd. Kaapstad: Nasou Beperk. |
|
1985 |
Afrikaanse woorde en uitdrukkinge - eiegoed of erfgoed? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 25(4), Des. 1985: 235-290. |
|
Schuermans, L.W. |
|
1865-1870 |
Algemeen Vlaamsch Idioticon. Leuven. |
| |
| |
Stoett, F.A. |
|
19435 |
Nederlandsche spreekwoorden, spreekwijzen, uitdrukkingen en gezegden. Zutphen: W.J. Thieme & Cie. Dle. I en II. |
|
19517 |
Nederlandse spreekwoorden en gezegden. Geheel opnieuw bewerkt door C. Kruyskamp. Zutphen: W.J. Thieme & Cie. |
|
1984 |
Klein spreekwoordenboek der Nederlandse taal. Bewerkt door C. Kruyskamp. Zutphen: Thieme & Cie. |
|
Teirlinck, I. |
|
1908-1923 |
Zuid-Oostvlaandersch Idioticon. 3 dele. Gent. |
|
Tuinman, Carolus |
|
1720 |
De Oorsprong en Uitlegging van dagelijks gebruikte Nederduitsche Spreekwoorden. 2 dele. Middelburg. |
|
Ueckermann, F.J. |
|
1987 |
Die Afrikaanse geskrifte van Samuel Zwaartman. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg. |
| |
B. Periodieke Publikasies
The Friend of the Free State. 1860-1875. Bloemfontein. |
Het Volksblad. 1860-1875. Kaapstad. |
De Zuid-Afrikaan. 1860-1875. Kaapstad. |
Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift. Kaapstad 1879. |
| |
C. Woordeboeke
HAT |
|
|
1994 |
Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal.3 F.F. Odendal e.a. (reds.). Johannesburg: Perskor. |
|
WAT |
|
1956-1984 |
Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Dele 1-7, Pretoria: Die Staatsdrukker. |
|
1991-1994 |
Dele 8-9, Stellenbosch: Buro van die WAT. |
|
Patriotwoordeboek |
|
1902 |
Heruitgegee deur H.J.J.M. Van der Merwe. 1971. Pretoria: J. Van Schaik Beperk. |
|
Van Dale |
|
1961 |
Groot Woordenboek der Nederlandse Taal8. C. Kruyskamp, 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff. |
|
Wahrig |
|
1980 |
Deutsches Wörterbuch. Gütersloh: Bertelsmann Lexikon Verlag. |
|
WNT |
|
1864-1990 |
Woordenboek der Nederlandsche Taal. Leiden: M. Nijhoff. |
|
|