Streven. Jaargang 84
(2017)– [tijdschrift] Streven [1991-]– Auteursrechtelijk beschermd[p. 938] | |||||||
Annemarié van Niekerk
| |||||||
Mistiek en die moderne digtersBy moderne digters kom die belangstelling vir die mistiek op 'n eiesoortige manier tot uiting. Alhoewel die groot modernistiese pioniers, Baudelaire, Rimbaud, Mallarmé, Ezra Pound, Wallace Stevens en Celan stewige bande met die christelike mistieke tradisie behou het, het dit nie vir hulle gegaan om die eenwording met Christus, God of die goddelike in die algemeen nie, maar om 'n werklikheid waar menslike ervaring en taal meestal geen greep op het nie, te verwoord. 'n Ander groot pionier, Paul van Ostaijen vergelyk die poësie met die mistieke ekstase wat beskryf word as ‘vervul deur die onsegbare’. Behalwe hierdie, in 'n sekere sin gesekulariseerde rigting, is daar ook baie digters wat nog noue bande met die evangeliese christendom het, maar | |||||||
[p. 939] | |||||||
wat hul verlange na die mistieke eenwording met Christus op 'n eiesinnige en dikwels aweregse manier poëties tot vorm bring. In die Nederlandse taalgebied is Gerrit Achterberg en Gerard Reve opmerklike voorbeelde. In Suid-Afrika is 'n treffende voorbeeld die werk van Sheila Cussons (1922-2004) wat die skryf van poësie beskou het as deel van haar stryd om helderheid te kry oor die wese van God. Van Aardt (1990, blz. 179) noem haar die eerste Afrikaanse digter wat haar digterlike vakmanskap inspan om God te vind. Omdat meeste van haar gedigte die uitdrukking is van haar soeke en verlange na God is dit nie vreemd dat die mistieke belewing so 'n integrale deel vorm van baie van haar gedigte nie.1 Hieronder, 'n klein inleidende deurkyk op haar fassinerende oeuvre. | |||||||
Cussons: uniek binne die Afrikaanse literatuurSheila Cussons is 'n unieke en interessante geval binne die Afrikaanse literatuur, waaraan sy 'n kosbare versameling religieuse poësie toegevoeg het - uniek, omdat ander religieuse poësie in Afrikaans meestal gewortel is in 'n calvinistiese protestantisme, terwyl baie van Cussons se gedigte 'n katolieke en mistieke inslag het. Tradisioneel is katolisisme deur die Afrikaner beskou as ‘vreemd’, soms selfs as 'n religieuse bedreiging: ‘die rooi gevaar’. Dus, toe Cussons se eerste Afrikaanse gedigte met 'n katolieke en mistieke oriëntasie gepubliseer is, is dit aan die eenkant beskou as a Trojaanse perd waarmee vreemde idees tot binne-in die Afrikaner se intieme binnekring - sy poësie - gevoer is. Aan die anderkant, kon die literêre waarde daarvan nie ontken word nie. Die wêreld van die Afrikaanse literatuur moes Cussons dus aanvaar as 'n vreemdsoortige voël, maar nietemin 'n waardevolle een, en haar werk as behorende tot die beste Afrikaanse poësie. Cussons was nie katoliek gebore nie. Sy het oorgeskakel nadat sy na die buiteland verhuis het, eers in 1948 na Amsterdam, toe na Londen en daarna na Barcelona waar sy in 1957 toegetree het tot die katolieke kerk. Gedurende die een-en-twintig jaar wat sy daar gewoon het, het sy voortgegaan om in Afrikaans te skryf. Haar debuutbundel, Plektrum verskyn in 1970. Hierdie goed ontvangde en bekroonde debuut is gevolg deur 'n tweede, Die swart kombuis in 1978. Die titel van laasgenoemde verwys na 'n katastrofiese ongeluk in 1974 toe 'n gasstoof in haar kombuis ontplof het en sy met ernstige brandwonde vir twee jaar gehospitaliseer was, en verskeie veloorplantings en amputasies moes ondergaan. Dit was 'n donker tyd van fisiese en psigiese lyding en aanpassing. | |||||||
SintuiglikheidHierdie tragedie het Cussons, wat ook talentvolle beeldende kunstenares was, nie daarvan weerhou om voort te gaan met haar skryfwerk nie, en ook nie met haar skilder-, teken- en etswerk nie. Hierna volg nog agt poësie bundels, waarmee sy haarself as een van die mees belangrike digters in Afrikaans | |||||||
[p. 940] | |||||||
vestig - 'n digter met 'n besonderse sintuig vir religie en mistiek, maar ook mitologie. Die sintuiglike, veral die visuele, is prominent in haar gedigte, versterk deur haar fyn vermoë om kleur te gebruik in die uitbeelding van o.a. die gevoel van die mistieke ervaring. Behalwe vir die visuele kwaliteit van haar gedigte, besit dit ook 'n akoestiese verfyndheid wat met klanke, woordherhalings, en algemene musikaliteit speel. ‘Orrel’ is 'n goeie voorbeeld van hierdie poëtiese sintuiglikheid wat met ‘al die registers oop’ 'n staat van mistieke belewing betree, ‘tot elk in elk die ander herken’: Orrel
My sintuie is verwisselbaar,
hoor kleure, beluister geure:
skarlaken trompetter, peper is
'n pizzicato en bruin roffel -
En somer, somer veral, trek
deur die neus: son is seepkook.
Wololie van warm lug verras my,
soos die sweet van krygers wanneer
uie stoom in 'n pot - En iemand
is daar, so fyn-sensueel-gesond
dat hy in slaap neute en lou melk is,
en wakker, gloeiende Augustus
in 'n sonbesie-dennebos. En elke
jaargety kies sy sintuie uit -
winter is pure oor - en meng hulle
weer tot elk in elk die ander herken,
en popelend van kreature,
verwikkeld kontrapuntaal, om
die ronde jaar die groot Te Deum
galm, met al die registers oop.
[Uit: Die woedende brood, blz. 19] | |||||||
God in die alledaagse en die alledaagse in GodEen van die sterkste kwaliteite van Cussons se uitbeelding van religieuse en mistieke belewenisse is haar konkrete, fisiese en aardse beskrywing daarvan. Christus word geadresseer op 'n speel | |||||||
[p. 941] | |||||||
se en aardse manier. In die gedig ‘Christ of the burnt men’ is Christus byvoorbeeld 'n ‘skerts-oog blink-oog’ fisiesvoorstelbare man wat haar, die spreekster, uitkies vir 'n ekstatiese avontuur. Die avontuur behels haar lyding, die verbranding in vuur, waardeur sy gesublimeer word en momente van eenheid met die bestaan en die goddelike kan beleef. Hierdie transformasie deur lyding word byvoorbeeld ook gereflekteer in die titel van die bundel, Omtoorvuur uit 1982. Die beeld van 'n suiwerende vuur wys vanselfsprekend heen na die katolieke idee van suiwering en spirituele sublimasie. ‘Christ of the burnt men’ (Thomas Merton)
Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en voet en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma - en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van 'n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van 'n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóu, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was -
- O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
sagsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met 'n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóu vir my te bevry
opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.
[Uit: Die swart kombuis, blz. 81] | |||||||
[p. 942] | |||||||
Die alledaagse ruimte word 'n ruimte van transisieHierdie skynbaar konflikterende jukstaponering van die verhewe en die mees basiese manifesteer ook in die ruimtes waar haar poëtiese wêrelde afspeel. Hiermee onderskei sy haar ook van baie van haar calvinistiese kollega-digters. Haar gedigte gebruik byvoorbeeld plekke soos die kombuis, die toilet of die varkhok as ruimtes vir potensiële transendensie. Hiervan is ‘Die werf’ 'n mooi voorbeeld: Die werf
Die varkhok het nie gestink nie:
hy't heerlik kras-suur-vrot geruik,
en die gulsige snoete in draf en karkoere
en onnoemlike modder was die wonderlikste
mees uitdagende slegte maniere denkbaar -
Ek was lief vir die varkhok ver verwyderd
aan die onderent van die werf,
agter 'n ry sipresse, en het graag op sy muur gesit
om die woeste reuk diep in te snuif
en my te verwonder aan diere so skaamteloos
vraatsugtig wat selfs met hulle neusgate vreet;
en hulle lelike swaar gesigte met die dom
witbewimperde ogies was soos iets uit Grimm
of Andersen. Ja-nee, die varke was Iemande,
soos prinse deur krom ou hekse vermom
of Circe se swyn-matrose -
Byna blind van son het ek oor hulle gedroom,
tot moddermals, so sterk en magtig-soet
deur my jong are die magiese betowering
van al my jeug se somers getrek het -
Terug in die huis:
Liewe Vader mens kan dit nie hou nie
het Ouma vroom oor die hitte geklae
en, hel maar dis warm, onomwonde
van my effens meer wêreldse ma:
hoe sou hulle verstaan dat die bloedige dag
en die varkhok
vir my hemel was, 'n sprokie sonder weerga -
| |||||||
[p. 943] | |||||||
Ook die verlore paradys was net buite die huis:
'n groot ou pruimboom met sondige vrugte
wat net soos ons uit die hoogte geval het,
en as jy een optel kon jy betyds nog sien
hoe die kwaad weer haastig terugkruip
in die gekweste weefsels in -
O verlore werf, ek kon die hele Ou Testament
in jou vind, en die Griekse legendes en Andersen.
[Uit: Die swart kombuis, blz. 14] | |||||||
Estetiek en mistiekBo alles het Cussons die skryfproses self as 'n mistieke handeling en 'n belewing beskou - 'n ineenstrengeling van die estetiese en die mistieke, of soos Carina Janse van Rensburg dit beskryf: ‘digkuns is mistieke handeling, is kontemplasie wat uitloop op mistieke belewenis, is proses wat uitloop op die “trillende verlossing” van mistieke eenwording, is handeling van “gefragmenteerde syn” wat “reik na heelheid”’. 'n Sny brood
Hóé om die soet wanneer
brood en spoeg mekaar herken
presies te definieer:
U liggaam is legio en subtiel -
maar al my denkende
smaaktepels weet: as net die woord
gevind kan word, maak elke
duister en tergende en verwikkelde
ding meteens verbasend sin.
[Uit: Die sagte sprong, blz. 53] Die sagte sprong
Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: 'n aanraking van die verstand
lig soos 'n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees?
| |||||||
[p. 944] | |||||||
: Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos 'n sagte sprong -
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet u vasvat wees?
[Uit: Die sagte sprong, blz. 60]
Hierby hoort ook, ironies, die uitspreek of benoeming van die onvermoë om die mistieke belewing goed te verwoord. In haar gedig ‘Bergpaadjie’ (Die swart kombuis, 1978) beskryf sy die hoogste punt van mistieke belewing wat ‘al skrywend’ bereik word en die digteres haarself ekstaties in die teenwoordigheid van God (‘wind’) bevind, maar oninstaat om die volheid van die belewenis (intellektueel én gevoelsmatig) te beskryf - 'n bekende ervaring in die mistiek: ‘Jy sê: lees jou gedig vir my, maar hoe kan ek wat skrywende, in klippe opgebreek het, en 'n antieke geheue en gebreekte pot / hoe kan ek wat skrywende / die wilde tiemie geword het / wat geur in die wind / en ongeletterd soos God.’
In 2004 sterf Cussons op 82-jarige ouderdom in Kaapstad. | |||||||
Bronnelys
|