Streven. Jaargang 83
(2016)– [tijdschrift] Streven [1991-]– Auteursrechtelijk beschermd[p. 1016] | |
Forum‘Volksmoord is yolksmoord’Dit is 15 November 1884. Aan die Berlynse Wilhelmstrasse 77 heers groot opgewondenheid. Dertien Europese ministers van buitelandse sake is uitgenooi na die villa van rykskanselier Otto Fürst von Bismarck. Verteenwoordigers uit die Verenigde State en die Osmaanse Ryk is ook teenwoordig. Daar is 'n koek om te verdeel: Afrika. Gedurende die afgelope twintig jaar het steeds meer westerse moondhede met begerige oë na dié kontinent begin kyk, millitêre ekspedisies het wild en wakker gebiede begin opeis. Uit vrees dat die rivaliteit spanning in Europa sal veroorsaak het die rykskanselier 'n konferensie belê waartydens Afrika ‘beskaafd’ verdeel sou word. Duitsland het natuurlik ook sy eie belange en begeertes met betrekking tot hierdie grondstofryke kontinent gehad met 'n spesifieke voorkeur vir Suidwes-Afrika. Dié seggenskap word hom tydens die konferensie ook toegeken. As Bismarck hoogtevrede met die ander besluitnemers oor die kaart buig om die grense van sy nuwe protektoraat te trek, blyk drie daarvan maklik bepaalbaar: die Atlantiese Oseaan in die weste, die Oranjerivier in die suide en die Portugese kolonie Angola in die noorde. Die oosgrens veroorsaak egter 'n geredekawel wat uiteindelik met 'n liniaal opgelos word: 'n loodregte lyn word op die kaart getrek - 'n lyn wat dwarsdeur die Kalahari loop, regdeur die trekgebied waar die inheemse nomadiese stamme al eeuelank vryelik agter hul vee aantrek op soek na weiding en water. Eers heelwat later sou hierdie stamme te wete kom dat hul lot ongeveer 10.000 kilometer verder noord deur onbekendes Europeërs bepaal is. Die geskiedenis van een van hierdie stamme, die Nama's, gelei deur Hendrik Witbooi (1825-1905) word in Conny Braam se onlangse roman | |
[p. 1017] | |
Ik ben Hendrik Witbooi1 tot lewe geroep, waardeur broodnodige aandag gevestig word op die volksmoord wat Duitsland in die vroeë twintigste eeu in Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gepleeg het, 'n slagting wat dikwels nie die nodige aandag kry nie. Joernalis, skrywer en anti-apartheidsaktivis Conny Braam (1948) het 'n lang geskiedenis van betrokkenheid by suidelike Afrika en die stryd teen ongeregtighede in hierdie deel van die wêreld. In 1971 was sy een van die oprigters van die Anti-Apartheidsbeweging Nederland (aabn) wat 'n sleutelrol gespeel het in die verskaffing van inligting aan die Nederlandse publiek oor die doen en late van die destydse apartheidsregime in Suid-Afrika. In haar eerste publikasie, Operatie Vula: Nederlanders in het ondergrondse verzet tegen apartheid (1992) skryf sy oor haar deelname aan Operasie Vula, 'n ondergrondse veldtog (1986-1991) wat gesorg het vir die smokkel van vryheidsvegters na Suid-Afrika en die skep van 'n kommunikasienetwerk vir anc-leiers in ballingskap, in die Suid-Afrikaanse ondergrond, of in die gevangenis. Sedert hierdie eerste boek van Braam het 'n verdere 13 uit haar pen verskyn - onder andere kortverhale, thrillers, reisverhale, historiese romans, biografiese geskrifte - baie met 'n Suid-Afrikaanse aansluitingspunt, soos byvoorbeeld Mandela op de koelkast (2006) wat handel oor haar persoonlike betrokkenheid by die stryd teen apartheid. In 1884 begin Hendrik Witbooi (1825-1905) met sy Nama-volk 'n byna Bybelse trektog vanuit die droogtegeteisterde Kalahari-woestyn na die meer vrugbare noorde. Anders as wat Witbooi en sy mense vermoed het, sou dit nie net 'n stryd teen die droogte word nie, maar ook 'n hardnekkige stryd teen die Duitsers wat pas aangeland het in hul nuwe kolonie en niks sou ontsien om die inheemse mense te onderwerp nie. Die stryd sou jare lank duur en die aanvalle genadeloos. Een van die wreedste was die Bloedbad van Hoornkrans in April 1893 toe 250 Duitse soldate vroeg een oggend die werf van die niksvermoedende Witboois by Hoornkrans aangeval het. Witbooi was besig om in sy joernaal te skryf en die res van die werf besig met vroegoggend besighede toe hulle oorval is - 78 vrouens en kinders en 8 bejaardes is gedood, meer as 'n honderd Witboois gewond, en tagtig vrouens ontvoer. Vir die Witboois, met hul ongeskrewe reël dat vroue, kinders en bejaardes onder geen omstandighede die teiken van 'n aanval mag wees nie, was dit hul eerste belewing van die skending hiervan en 'n ontnugtering betreffende die gevegsetiek van die Europese indringers.2 Om hul ‘beskawingsoffensief’ te rasionaliseer het die koloniseerders alles in hul vermoë probeer doen om Hendrik Witbooi as 'n wrede en primitiewe man uit te beeld. Die waarheid was egter dat hy, behalwe vir sy krygsvernuf en -etiek, 'n besonder intelligente en taalgevoelige man was met 'n uitsonderlike skryftalent. Dagboeke, geskrifte en honderde briewe van hom aan Duitse goewerneus, Engelse magistrate en Afrika-leiers het behoue | |
[p. 1018] | |
gebly3 in 'n argief wat Braam benut het om in haar nuwe boek 'n waarheidsgetroue beeld van Witbooi - die man, die leier, die krygsheld en die skrywer - te bied. Uit sy briewe spreek sy liefde vir die Khoisan, sy waardering vir lesse geleer by sendeling Olpp, sy verontrusting oor die westerse kredietstelsel wat sy vryheidsliewende nomadiese volk tot werkslawe maak en sy intense verdriet as hy besef dat Keizer Wilhelm ii die totale vernieting van die inheemse bevolking eis. Só skryf Witbooi (deur Braam in moderne Nederlandse vertaal) aan majoor Von Leutwein: ‘Ik begrijp het niet. Waarom blijft u mij toch aanvallen? Nooit heb ik de Duitse keizer beledigd met woord of daad. God heeft ons ieder een eigen land gegeven. Waarom begrijpt hij dan niet dat ik moet strijden voor de vrijheid van mijn land en mijn volk? Daarom verzoek ik u nogmaals: accepteer de vrede die ik u aanbied en laat ons verder met rust. Met groetenis. Ik ben hoofdkaptein Hendrik Witbooi.’4 Die antwoord wat Witbooi ontvang sluit die volgende mededeling in: ‘Zijne Majesteit heeft mij instructie gegeven, om als je je niet onderwerpt, een oorlog tegen je te voeren die tot je totale ondergang leidt.’5 Ook die Hereros (ook inheems tot hierdie gebied) is deur Generaal Von Trotha laat weet: ‘Binnen de Duitse grenzen zal vanaf heden iedere Herero, met of zonder geweer, met of zonder vee, worden doodgeschoten. Ik accepteer niet langer vrouwen en kinderen. Ik zal ze terugdrijven en anders eveneens laten doodschieten. Dit zijn mijn woorden aan de Herero.’6 Na 'n jarelange bloedige en uitmergelende stryd en steeds groter troepemagte slaag die Duitsers uiteindelik daarin om 110.000 lede van die inheemse bevolking van Suidwes-Afrika uit te wis (80% van die Herero's en 50% van die Nama's), Hendrik Witbooi dood te skiet, en die oorlewendes op 9 September 1906 na Shark Island te deporteer. Binne sewe maande op hierdie eiland sterf 70% van die gevangenes; van die 1300 Nama's was daar maar 40 oor. Die oorlewendes word op 8 April 1907 weer verskuif, dié keer na 'n kamp buite Luderitzbaai, uit die oog van diegene wat die hawe van Swakopmund aandoen. Hier word die lewendige skedelhandel wat op Shark Island begin is, rustig voortgesit. Skedels van duisende inheemse slagoffers van Duitse aanvalle of kampe is na Duitsland gestuur vir ontleding met die doel om die antropologiese teorieë oor Europese supremasie te bevestig. Die keiser was tevrede met sy sukses in Suidwes-Afrika en uit alle oorde het lof ingestroom. Ook President Theodore Roosevelt, kort vantevore vereer met die Nobelprys vir Vrede, laat die Duitse keiser weet: ‘Welk een buitengewone veldtocht heeft u ondernemen. Hoe zwaar moet het voor uw troepen zijn geweest te ervaren hoeveel meedogenloosheid vereist is beschaving te brengen tot in de verste buitenposten van dit donkere continent.’7 In 1915 is die bordjies egter verhang. Die Duitse koloniale leër in Suidwes-Afrika word deur Suid-Afrikaanse troepe onder Britse bevel verslaan. Generaal Botha gee die opdrag dat alle | |
[p. 1019] | |
amptelike Duitse dokumente in beslag geneem word en 'n verslag opgestel word oor die omvang van die wandade deur Duitsland gepleeg. Na aanleiding van hierdie dokumente verskyn in 1918 die verslag getiteld Report on the natives of South-West Africa and their treatment by Germany, ook bekend as die Blue Book. Alhoewel hierdie verslag vir die Britte ook om eie belang gegaan het, naamlik die verkryging van finale beheer oor die kolonie, was dit ook 'n besondere dokument deur Braam beskryf as ‘een ongeëvenaard betrouwbaar en veelomvattend onderzoek naar de stelselmatige uitroeiing van de inheemse bevolking van Zuidwest-Afrika.’8 In 2003 is hierdie verslag herdruk as Words Cannot be Found - German Colonial Rule in Namibia, an annotated reprint of the 1918 Blue Book. Maar die Witboois het nie gaan lê nie. Hendrik Witbooi se kleinseun, Hendrik Samuel Witbooi, een van die nasate van die oorlewende Nama's sou later sy grootvader opvolg en saam met die Herero-leier, Hosea Kutako tussen 1950 en 1960 'n menigte protes-petisies opstel, gerig aan die Verenigde Nasies, teen die Suid-Afrikaanse koloniale oorheersing van Suidwes-Afrika. Sy neef en opvolger, ook 'n Hendrik Witbooi, het weer by hom die stryd oorgeneem as vise-voorsitter van SWAPO (The South West African People's Organisation), jarelank betrokke by die bevrydingstryd wat eers in 1990 tot 'n einde sou kom. In 1995 word hy benoem tot vise-president van Namibië toe hierdie laaste kolonie in Afrika onafhanklikheid verkry. Maar daarmee is alles nog nie afgehandel nie. Duitsland is nog in besit van vele skedels uit Namibië. In 2011 het 'n afvaardiging van Namibiese regerings- en tradisionele leiers wel daarin geslaag om 20 hiervan (11 Nama- en 9 Herero-skedels), dekades lank in die besit van die Berlynse Mediese Historiese Museum, terug te neem na Windhoek. Die antropologiese kolleksies van die Medizinhistorisches Museum van Het Charité Universitatsmedizin in Berlyn en die universiteit van Freiburg is egter nog in besit van 'n onbekende aantal Herero- en Nama-skedels. En dan was daar ook nog 'n agterstallige ekskuus. In Augustus 2004, tydens die 100-jarige herdenking van die Herero-opstand teen die Duitse besetting, het Duitse Minister Heidemarie Wieczorek-Zeul in die opbenbaar erken dat Duitsland histories en moreel verantwoordelik is vir die uitwissing van die inheemse bevolking van Namibië tussen 1904 en 1907, maar dat daar in plaas van die betaling van kompensasie ontwikkelingshulp verleen sal word en ook sterker Duits-Namibiese bande. Haar uitspraak is destyds egter nie deur die Duitse regering beaam nie. Op 6 Julie 2015 het 'n afvaardiging van Namibiese leiers, prokureurs en gemeenskapsleiers na Berlyn gereis in die hoop om Duitse President Joachim Gauck te ontmoet en aan hom 'n petisie te oorhandig, getiteld ‘Genocide is Genocide’ waarin 'n beroep op die Duitse regering gedoen word om amptelik historiese verantwoordelikheid te erken vir die volksmoord op die Herero- en Nama-volke meer as 'n eeu ge | |
[p. 1020] | |
lede. Gauck het die delegasie verwys na 'n laer amptenaar. Die beledigde Namibiese afvaardiging het by monde van hoofman Rukoro gedreig dat as Duitsland nie bereid is om skuld te erken nie, ‘the whole of Africa will be united behind the Ovaherero and Nama of Namibia, and Germany will be the new international exile state guilty of war crimes and crimes against humanity’9 Ook Ngondi Kamatuka, 'n afstammeling van die slagoffers en hoof van ‘The Association of Ovaherero Genocide in the United States’ het haar teleurstelling laat hoor: ‘The wound of dehumanisation and brutality that the Ovaherero and Nama people suffered at the hands of Imperial Germany has never healed, and it will never heal until justice is done.’10 In die Duitse parlement is daar 'n mosie ingedien deur parlementslid Niema Movassat, waarin daar gestel word dat ontwikkelingshulp iets anders is as ‘restorative justice’ waardeur ongeregtigheid allereers erken moet word. Selfs Turkse president Erdogan het Duitsland van huigelagtigheid beskuldig omdat hulle die massamoord van die Armeense mense deur Ottomaanse troepe as volksmoord sien, maar nie hul eie massamoord op die inheemse mense van Suidwes-Afrika nie. Op 13 Julie 2016 het die Duitse ministerie van Buitelandse Sake aangekondig dat samesprekings sal begin tussen die Duitse en Namibiese regerings met die doel dat Duitsland voor die einde van 2016 amptelik sy skuld sal uitspreek. Volksmoord is volksmoord. Met haar boek Ik ben Hendrik Witbooi help Connie Braam ons om nie te vergeet wat in Namibië gebeur het nie. |
|