De Stem. Jaargang 19(1939)– [tijdschrift] Stem, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 239] [p. 239] Drie tydverse Door W.E.G. Louw I 1902-1937 Na die verre Suide het ek afgekyk, onder die Kruisster, na 'n goue land: 'n hemel waar bedags die son nie wyk, 'n see wat sing om steile krans en strand. Op daardie berge is daar vrees en skroom, op daardie vlaktes nie 'n enkel waan, daar kan die hart by vure en sterre droom en in die nag die Stem van God verstaan. O Heer, wat uitgebrei het oor dié velde U grote erns en eenvoudigheid, erbarm U, gedenk ons en vergelde die smaad van daardie wreed-verlore stryd: beskaam die trou nie wat U Naam bely, maak daardie volk weer sterk en groot en vry! [pagina 240] [p. 240] II Aan die leiers van die verlede O sterke name: Kruger, Steyn, De Wet, verbond van hegaaneengeslote krag, één hoë stem wat roep dwarsdeur die nag dat hierdie knegskap ook 'n einde het! Ons hoor dit skaars: die volk is geil en vet, brooddronk en dwaas... Die stryd verflou, die wag met neergevalle wapens, stryk die vlag... Die vyand roof en buit wat niemand red. O ongeskonde harte, diep en trou in daad, in diens en offervaardigheid, eenvoudig, vurig, wat die koers kon hou, verlaat ons nie, dat die gespuis en grou, ontdaan van alle wet en waardigheid, nie breek waar jul gedroom het en gebou... [pagina 241] [p. 241] III Aan die afvallige volk Toe het Jesurum vet geword en agteropgeskop. Deut. 32:15. Omdat ons blind en dronk van eiewaan, eersugtig, nydig, klein van hart en hand, die ware God verlaat, sal hierdie land en hierdie nasie seker nie bly staan; ons het die dure erfenis afgeslaan van vrome voorgeslagte, en die pand van hulle trou en trots soos korrels sand, gedagteloos, ons vingers deur laat gaan... Sy Woord, Sy suiwer wet en streng gebod sal teen die volk getuig wat Hom versaak: die huurling, huigelaar, die suiplap, sot, die hoer in hoë huis, in kerk of krot, dié sal Hy trap in Sy parskuip van wraak, want straffeloos word nooit Sy Naam bespot! Vorige Volgende