Raster. Nieuwe reeks. Jaargang 2003 (nrs. 101-104)(2003)– [tijdschrift] Raster– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 151] [p. 151] Charl-Pierre Naudé Gedichten 'n Deur na binne Jy sê, vriend, dat openheid nodig is sodat waarheid kan gedy, en eerlikheid vra glo om deursígtigheid. Dúidelikheid. En hélderheid. Líg, ja líg vir die snelweg na Damaskus. Gun my die verskil: wat nóu nodig is, is heimlikheid, en 'n duister wil ... Segment vir segment kruip die eerlikheid in diskreetheid. Werklik, waar vlêrmuise onwelkom is kan niks goeds van kom nie. Selfs die Goeie moet 'n oog kan toemaak. En waar die rede sluimer, word die skone gebore. Selfs die alledaagse word eers merkbaar as dit oorgeblaas is in duisternis: [pagina 152] [p. 152] 'n nuwe spesie skoenlapper, ontdek in 'n stikdonker habitat. Tweeduisend fame onder die see. In 'n duikboot, op die bo-arm van 'n bootsman getatoeer; en in 'n kluis, die wêreld se oudste skatte, vyf ronde knoetse goud so oud soos die Farao: 'n bak skitterende lemoene, net gister gepluk. Die dag sélf het donkerte nodig om lig af te gee: 'n binnehof, 'n deur wat uitloop op 'n geslote patio, wat nooit gesluit word nie en altyd oop staan. Eeue lank reeds word die ganse universum deur dáárdie deur gesmokkel. Diewe weet dit nie. En die polisiehelikopter daarbo, sien dit ook nie raak nie; 'n deur na binne: horisontaal verbloem; vertikaal versteek. Oop, soos die nag. In die geheim van die dag. [pagina 153] [p. 153] Vampiere Vampiere in Malawi, berig die koerant. Die president reik selfs 'n verklaring uit: ‘Wys my 'n vampier, dan stop ons hom in die tronk.’ Maar wie behoef bewyse, as die lyke daar is? 'n Meisie van so agttien, léég gesuig en styf soos 'n stok, twee slagmerke in haar nek; haar hande onnatuurlik groot en benerig rus soos valkvlerke op haar wydogige borste. En die hoofman se seun in sy kruis geknak teen 'n ploegskaar, toe niemand gekyk het nie - bene wat invou óm die uier van sy fallus, en nie 'n druppel bloed oor in die res van sy lyf nie! Drie weermagjeeps van Lilongwe haas dié kant toe na 'n dorp, nog drie sóóntoe na 'n noodgebied: om wag te hou in die nagte, maar tevergeefs. Die vampiere sluip deur, altyd nog 'n lyk in die môre; soms nie eers merke nie, net 'n pubis wat bult soos nuwe piesangs; of 'n buik wat staan soos 'n dier se skrik. Waar is die lyke? vra die rondgaande kommesaris. Hulle word onmiddellik begrawe, as beswering, fluister die priester en kriskras sy bors. Die soldate bevestig dit; van hulle sterf ook, een het so op sy stewels ineengesak, arms om sy ri gevleg soos 'n wingerdstok, of 'n slang om die Hermesstaf van geneeskunde. Selfs die vn se vigs-kliniek word oornag 'n teiken. Om deure te grendel of toe te spyker help ook nie, die vampiere loop deur mure. Vampiere: sommige sonder tande, met spuitnaalde; hulle trek bloed en loop weg daarmee in sakkies. Die mense aanvaar dit al, sê die hulpwerker; sien selfs uit daarna, met 'n groeiende begeerte. Snags land sy op my dak en hurk daar naak, sê 'n man; van onder af sien ek die varkleerbeursie wat sy vasknyp in haar mik, déúr die sink... ‘Sy wag haar oomblik af en ek wag vir haar.’ [pagina 154] [p. 154] 'n Kerkhoffie met kerse flakker soos 'n verjaardagkoek. 'n Troue, maar net een staan voor die kansel: 'n visgraat van 'n meisie wat smoorverlief is op háár vampier, 'n bruidegom in absentia. Al hoe meer lanterns dwaal sonder mense, 'n stat het net 'n hond, maar iémand voer hom snags. Fluisterings dryf: ‘kan nie wag nie’ en ‘waarom môre...’ terwyl jonges glimmend dans in 'n dorpsaal soos maskers op stokke in 'n ou, ou karnaval. En soos in verre noorderstreke waar die mense lang seisoene van donkerte ingaan, gaan die lewe voort, in die ryk van die skimme. Vorige Volgende