Ons Erfdeel. Jaargang 39
(1996)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 378]
| |
Antjie Krogballade vir 'n 5-jarige huwelik
vanoggend met ontbyt vorm ons die klassieke spotprent:
jy met jou welige hare wat blink om jou nek en ore tros
jou oë penblou en skerp ingestel reeds op vandag se werk
jou hande korreleer presies die argitektoniese opsny
van perfekte spek en eiers
my gesig ongewas, sweterig van ontbyt maak
lê pofferig geplooi, 'n kussinghaal keep my wang
my hare ongekam en my hande vol tissues, hooikoors en kinders
dan wonder ek wat het gebeur?
ek behoort artikels te lees oor hoe om jou man te behou
ek behoort pastelagtige rome vir my vel te koop
fyn hoëhak-sandaaltjies en kettinkies
ek behoort weer Miss Balmain te gebruik en kantsakdoekies
'n breastlift te kry sodat my tieties weer rosig en lewendig
onder jou hande kan vroetel
die leervelle oor my maag en gewese sexy boude te laat wegsny
(die baldadige moeras tussen my bene is goddank tydloos)
en dan?
dan weet ek nog nie verder nie
hoe lank voordat ons mekaar se vleis met naels van die ribbes ruk
mekaar se skedels in vreemde huise oor die matte rol
mekaar se genitalieë saam met uie in bredies rasper
cocktails met mekaar se oë versier:
blou maraschino-kersies dobberend op lang kil martini's?
(drink my altyd so met jou oë...)
ek staan op en laat vir jou 'n roos kantoor toe stuur
sedert ek daardie oggend opgekyk
en jou tussen al die karikature betrap het
het ek jou lief
Uit: Otters in bronslaai, 1981. | |
[pagina 379]
| |
Antjie Krogeerste kersnaweek onder die noodtoestand
ons praat gedemp op die stoep in die skemer
dis asof ore roer in die klimop
in bloed gereep om die huis en heining
onverwagte vorms kom in skadu's staan
ons huiwer
oopgeskeurde pos spil deur gleuwe
iemand hardloop straat op
ons wag
die tuin ritsel in newels van suspisie
sagter begin ons praat
soveel kinders in tronke
soveel arrestasies
die treine stoom rusteloos
is dit wáár?
soveel duisende kinders?
gerugte kruip soos rotte uit fondasies
kerskoekies gemmerbier versier 'n boompie
kinders speel met niggietjies nefies
die kalkoen sis boordensvol gestop met tarragon tiemie en rosyne
onder boë van liggies wieg gesinne in bootjies
die Valsrivier klots donker aan die kiele
klappers spat rat-tat-tat
swart werkers by die aanmeerplek kyk onpeilbaar op
kinders kieliekaai onder slierte lig
ek speel klavier my kinders aangetrek
as Maria, Josef, herder en engel sing:
‘Al was ons nie daar nie
Ons weet dit is waar -’
Uit: Lady Anne, 1989. | |
[pagina 380]
| |
Antjie Krogons dorp
XIII maandae kom die boere dorp toe
met jeeps van onlangse modder bespat
om pienkwang kinders in koshuise te laat
pos, parte en koöperasiemeel plase toe te vat
soggens as hulle stoor toe gaan
kom veertig engeltjies staan
tien met trekkers aan die koppenent
tien met stropers aan die voetenent
tien wat wek
tien wat dek
rondom hulle verrys
'n aardse paradys
woensdae drink dorpsmevroue tee
tot op die sleutelbeen gedieet
in driestukpakkies pak guitige pastelletjies
rondom 'n ronde geelhouttafel en weet: die tee
val tarips-taraps uit die silwer servies
in rippie-rippie rinkel Royal Albert
koppietjies wat tinkel en koer-koer doek
pruil porseleinduiwe op die gehekelde tafeldoek.
buite hardloop kindertjies: Marli, Carli, aspatat
spat Lize, Rize waternat; Cornel en Marisan (of Marizaan
of Mari-Zané) rolskaats met Jacques, Stephan
en Jean-Herman Botha deur die lowerryke straat
vrydae laat meeste plaasvrouens hare doen
vet bosduifies skuif uit duitse motors
wat buffer teen buffer langs die hoofstraat staan
agterin sit Liesbet met die jongste erfgenaam:
| |
[pagina 381]
| |
lag baba lag
jou pappa het gaan jag
met sy teleskopiese Sauer en Sohn 30.08
wielie wielie ons dorp se walies
die vingers deur die tralies
is wit en vet en bloot
buite die lekkergoedhuis
word waaragtig vuur gestook.
Uit: Jerusalemgangers, 1985. |
|