Ons Erfdeel. Jaargang 22
(1979)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 189]
| ||||
Afrikaans en die Nasionale Party
| ||||
[pagina 190]
| ||||
Van oraloor gerugte oor verwydering tussen owerheid en intelligentsia. Laat ons dus kyk na prof. Opperman se aanklag dat ons skrywers die huidige owerheid aan bewind gebring het, maar dat die owerheid nou op ons trap. Om ons stil te kry. Dit is vir ons vandag moeilik om te besef tot hoe 'n mate die ontluiking van die eens veragte ‘Hotnotstaal’ die dinamo was vir die opwekking van die politieke krag van die Afrikaners. En tereg. Taal is die primêre bestanddeel, die draer van alles wat 'n volk is en ondervind het, en wat hom anders as ander volke maak. Uit die revolusionêre geesdrif van die Paarlse Patriotters vanaf 1873, uit die towermag van 'n kleine gedig soos Winternag, 1905, is die spiere van die Nasionale Party gebore. In 1914 het genl. Hertzog die N.P. op Bloemfontein gestig. Met agter hom taalmanne soos J.H. de Waal, C.J. Langenhoven, Totius, Jan Celliers, Malherbe, en Preller, wat met woord en boek gehelp het om die volk bewus te maak, en te begeester tot die eerste oorwinning by die stembus in 1924. Hul leuse: ‘Die taal is heel die volk’. Vandag nog word hulle dankbaar deur die owerheid onthou, sodat 'n kritiese eenloper soos Eugène Marais se eeufees in 1971 vergeet is, maar Totius en Langenhoven oorvloediglik gehuldig is. Sal nog 'n geniale eenloper-skrywer, Louis Leipoldt, se eeufees in 1980 amptelik onthou word? Êrens, toe al, het 'n krakie tussen Afrikaans en Afrikaner begin. Onthou dit was wonderlik in daardie dae om Afrikaner te wees. Arm, geminag, met jou saak reg voor God en mens, revolusionêr jonk in jou hart, met net een vyand: verengelsing, net een eendragtige ideaal: Afrikaans om Afrikaner te wees. Maar - in die kronkels van mag en die tonnels van teenstand het die N.P. begin verander. Bitter verdeeld oor deelname aan Britse sy, het die Afrikaners tydelik die mag in 1939 verloor. Uit ongeduld oor Britse oorheersing het 'n seksie van die Afrikaners glad die ondemokratiese geweld van die Naziisme met Ossewa-Brandwag en Stormjaers nageloop. Om self mag te kan behou, het dr. Malan se N.P. hierdie ekstremiste moes kortvat. Maar daar het stof op Afrikaans kom lê.
In 1948 het die N.P. weer die bewind verower, en soos bekend, om van 'n paar Kaapse setels sekerder te wees, sodat hulle nie weer die bewind kon verloor nie, 'n lang, dwarse stryd aangepak om die land se grondwet verander te kry en die Hooggeregshof te omseil, sodat die bruiner Afrikaners hul stemreg ontneem kon word. Vir 'n paar setels. Lensiesop.
Rasse-ideologie is dus om party-politieke redes bygevoeg. By die stigting van die N.P. in 1914 is die Afrikaanse taal slegs onder die eis van volle tweetaligheid vermeld, en het kleurlinge glad nie in die program van beginsels voorgekom nie. Behalwe onder die paragraaf Asiate, waar kleurlinge, tesame met blankes en naturelle, teen Asiatiese immigrasie beskerm moes word. Dit is ook bekend dat dit genl. Hertzog se oortuiging was dat bruinmense en witmense bymekaar hoort.
Ook dr. D.F. Malan. In 1929 het hy op Smithfield gesê: ‘Vandag is dit die Nasionale Party wat die Kleurlinge dwarsoor die land stemreg wil gee...’ Maar in 1938, te Porterville, het hy omgeswaai. Hoekom? Om meer setels in konserwatiewe Transvaal te kan wen.
Daarna het die N.P. 'n nuwe grondwet verkry waarin bruin Afrikaners as nie-blankes verstoot word. Die N.P. het dus meer rassisties geword - soos ons ook kan aflei uit die Ararat van rassewetgewing sedert 1948. Hierdie wetgewing was gemunt op steeds meer beheer. In 'n industrialiserende, landelik ontwortelde en steeds veélkleuriger ineengestrengelde samelewing. Naas 'n politieke vleuel is ook die kultu- | ||||
[pagina 191]
| ||||
rele vleuels, die Akademie in 1909, en die F.A.K. (Federasie van Afrikaanse Kultuur) in 1929 gestig, asook in 1918 'n geheime magsvleuel, die Broederbond, waarvan ek veronderstel is om niks te weet nie. Die Akademie, gestig ter bevordering van Afrikaans, sonder kleur-onderskeide, het nogtans tot dusver as 'n suiwer blanke liggaam opgetree. Die F.A.K. kan ook nie juis van verligtheid verdink word nie.
Mettertyd het blank-wees vir die N.P. belangriker as Afrikaans-wees geword. Tans val die klem veral op blanke eenheid tussen Afrikaans- en Engelssprekendes - ten koste van verbitterde bruiner Afrikaners wat nou hul kinders internasionaal Engels of met Afro-maanhare laat grootword.
Na hierdie kykie na ons amptelike kultuurleiding, terug na ons skrywers. Aanvanklik was hul bydrae veral didakties van aard, om mense Afrikaans te laat lees en skryf. Die platteland is idillies onthou en besing - 'n verlede-gerigte nostalgie wat vandag nog veel van ons letterkunde kenmerk.
Allengs het die lesers se boekbehoeftes asook die skrywers se verantwoordelikheidsbesef verander. Die skryfkuns was nie langer net 'n handperd van die owerheid nie. Nie geskryf vir die gemiddelde van 'n kerkvaste, volksgetroue, vriendelikoppervlakkige soort mens nie. 'n Verruimde blik en veelsydiger verkenning van die wêreld, lei tot 'n eie stem, tot kritiek, tot rebellie.
In die Dertigerjare begin 'n nuwe elite hul lojale verset. Veral in die poësie. Nog nasionaal getrou, en tog vryer daarvan. Die Louw-broers. Elisabeth Eybers. Uys Krige. Opperman. Van Heerden. Blum. Die Veertigers. Die Sestigers met hul veel aanstootliker prosa. Dit alles het natuurlik uitgeloop op Wegener se teorie, 'n wegdrywing van mekaar, 'n verwydering wat sy amptelike beslag gekry het in die Sensuurwet van 1963; volgens apostaat Abraham JonkerGa naar eindnoot(2) se berugte woorde: ‘Politici regeer die land; dit is tyd dat hulle ook die letterkunde beheer’.
Tevergeefs het 155 skrywers en kunstenaars 'n petisie daarteen opgetrek. Graniet-Verwoerd was aan bewind. U moes gesien het hoe sku die skrywersgarde toe nog was om net maar effens krities te piep. ‘Van Wyk Louw het al geteken, weet jy.’ ‘O, het hy?’ ‘Ja, en Frans Venter, weet jy.’ ‘O.’ ‘Ons het al 47 name, weet jy.’ ‘Nee, maar dan sal ek seker ook kan teken...’
Daarop het ander, steeds enger sensuurwette gevolg. Doelbewus wou die owerheid die leisels hou. Oor alles. Oor die uitdyende heelal en oor vullisblikke.
Soos minister Connie Mulder op 6.10.75 gesê het: ‘Ons sal die wet wysig en weer wysig, tot ons volle beheer het’.
En wet na wet hét hy deurgedruk. Toe uitgewers en taalmanne dringend samesprekings met hom gaan voer, kon hy nie meer sy weg oopsien om dit te verander nie: dit was immers klaar op die wetboek. En wat op die wetboek staan, verteenwoordig tog immers die soewereine volk se wil? Of soos twee ander volksleiers, die een 'n minister en die ander 'n kerkhoof, onlangs gesê het: ‘Ons hoef nie 'n boek te lees om te weet of dit sieg is nie’.
Of soos die hoof van ons sensuurmasjien, regter Lammie Snyman verlede jaar in sy uitspraak oor MagersfonteinGa naar eindnoot(3), laat blyk het: Maak nie saak of 'n boek goeie letterkunde is nie, solank dit die ‘gemiddelde’ leser (vermoedelik 'n soort bang dogtertjie van elf jaar) aanstoot kan gee, of solank dit die veiligheid van die staat mag benadeel, dan verbied ons daardie boek.
Die grootste Afrikaanse koerant, Rapport, het hierop kommentaar gelewer deur twee opskrifte naas mekaar te plaas: | ||||
[pagina 192]
| ||||
Op 27 Julie 1978 het regter Snyman 'n lesing aan die Universiteit Stellenbosch gegee oor Die vervreemding tussen skrywer en volk. Die titel is natuurlik verkeerd: die vervreemding is nie tussen skrywer en volk nie, maar tussen skrywer en owerheid. Doelbewus verkeerd, want só wil die Magshebbers dit altyd: dat wat húlle wil, dan kwansuis dit is wat die volk wil.
Hoekom wil die owerheid so vreesbevange beheer afdwing? Is die skrywers dan so gevaarlik? So moedswillig? Was dit uit moedswilligheid dat 7 bekende skrywers verlede jaar uit die Akademie bedank het omdat Adam Small en ander bruin Afrikaners nie lid daarvan kan word nie? Waarom het behoudende persone soos proff. Merwe Scholtz en T. Cloete of Anna M. Louw uit die Publikasieraad bedank?
Wat die owerheid betref: 'n klein legsteentjie het ek gekry in Rapport, 12.2.78, waar ds. Danie Malan oor sy vader gesê het: ‘Ons het die DoppersGa naar eindnoot(4) bespreek. My pa se opsomming van hulle was dat hulle goeie Afrikaners is, waarmee hy blykbaar bedoel het hulle stem vir die N.P....’
Nog een: in Oktober 1964 was daar 'n hele herrie oor my benoeming tot junior lid van die Akademie. Verontwaardigde ware witmensafrikaners wou bedank en het, anoniem, my in die Transvaler en ander koerante uitgeskel. My boeke wys dan ek is anti-Afrikaans, 'n volksvyand. My boeke geskryf in Afrikaans. Soos uitgewer Koos Human dit gestel het: ‘'n Mens sou dink die duiwel self is gekies, soos veral Pretorianers tekere gegaan het’.
Onthou u ook my vroeëre verwysing na die LV vir Rissik wat skrywertjies wat nie NP-beleid skryf nie, noodwendig as aanhangertjies van 'n ander party moes sien? En onthou u ook nog hoe minister Marais Vilioen tydens die taalfees op 9.10.75 gesê het: ‘Sonder die Afrikaanse taal sou nasionalisme en dus die N.P. nie in Suid-Afrika kon gepresteer het soos hy wel gepresteer het nie... Die N.P. is nog steeds die grootste kampvegter vir die Afrikaanse taal... Die N.P. hoef hom dus nie vandag te steur aan enkele groepies wat nou skielik wil poseer as ál beskermers van die Afrikaanse taal nie’.
Nog erger: Só was die 1975-vierings vir die taalfees op baie dorpe. 'n Lid van die Volksraad of hoë Partyman kom hou die toespraak. Die voorsitter van die plaaslike N.P.-tak bedank hom. Nie een van die twee het 'n boek op hul rakke nie. In die gehoor sit ‘ons mense’ breed agteroor. Die verdwaalde skrywertjie in die buurt, die taalonderwysers, die bibliotekaresse, is nie genooi nie, of het geen sielevoedsel daar verwag nie. Só was dit op baie dorpe Só vermetel.
Of is ons al so gewoond aan hierdie dinge dat ons dit nie meer raaksien nie?
Terloops, ek haal spreekbuise van die owerheid veel meer as skrywers aan, aangesien openbare verhoë en optredes deur ons paternalistiese owerheid oorheers word. Wat hierdie mannetjie betref: ek is niemand se aanhangertjie nie, ek het in 'n nasionale huis groot geword, maar nooit sal ek stem vir 'n party wat my mede-Afrikaners verneder deur velkleur bo ons geliefde Afrikaans te stel nie. So voel baie ander sensitiewe witter Afrikaners vandag. Ons het stemloos geword, soos ons bruiner broers.
Om darem ook skrywers aan te haal; na die ‘mylpaal’ van die verbieding van Etienne Leroux se Magersfontein: Abraham de Vries: ‘Dit is ondanks herhaalde pleidooie, nie moontlik om die betrokke minister aan die verstand te bring dat geestelike selfmoord nog nooit politieke mag bevorder het nie’. Fanie Olivier: ‘Ons weier om ons langer te laat voorsê en dreig en bangpraat... | ||||
[pagina 193]
| ||||
Met Magersfontein het die nuwe oorlog vir die voortbestaan van Afrikaans in al sy felheid begin’.
André P. Brink: ‘...maak van politieke beheer oor die kuns nou 'n voldonge feit’.
Wilma Stockenström: ‘Ek kan my goed voorstel watter soort mens 'n Magersfontein onwenslik sou vind... Dis die soort mens wat gegiggel het toe hy van die dood van Steve Biko gehoor het’.
Elsa Joubert: ‘Het ons nou gekom tot die gemiddeldheid waarna diktatoriale Marxistiese bewinde streef?’
Ek haal ook nog drie akademici aan:
Dr. Charles Malan van Bloemfontein: ‘Die stelselmatige vervreemding tussen owerheid en skrywer wat 'n aantal van ons vergeefs probeer afweer het, het nou in 'n openlike oorlog ontvlam’.
Prof. P.D. van der Walt van Potchefstroom: ‘Laat ons die letterkunde nie afmaak as die praatjies van renegate of halfmalles nie... Ons eie Afrikaanse letterkunde begin al hoe meer aandui hoe die alarm tik’.
En N.P. van Wyk Louw, kort voor sy dood, oor die sensuurbase: ‘Hulle wil die hele grote nasionale letterkunde na hulle klein ewebeeldjie herskep...’.
Dan noem ek ook nog Rosa Keet, digteres en sekretaresse van die Afrikaanse Skrywersgilde, se opsomming in 1.1.78 se Rapport: In die laatste helfte van verlede jaar is 8 inheemse boeke verbied, 3 daarvan in Afrikaans; die staat het in toenemende mate Suid-Afrikaanse skrywers begin vervolg deur paspoorte te weerhou, klopjagte, teistering deur die veiligheidspolisie, deur manuskripte te konfiskeer of voor publikasie te verbied, asook twee die land uit te dryf.
Ek moet myself liewer nie aanhaal nie; ek het reeds in 1958 'n roman geskryf, Ons die Afgod, ons maak 'n afgod van ons wit vel. Sedertdien skryf ek blykbaar 'n eiesoortige Afrikaans wat net ek kan waardeer. Aan ware Afrikaners is ek darem dank verskuldig vir my steedsverbeterende grammatika. U moet sien hoe hierdie klongGa naar eindnoot(4) 'n komma of dalk Anglisistiese voorsetsel met valkogies regsien. Wetend dat as ek een foutjie maak, ekskuus, begaan, ek onmiddellik kommunis en vyand van Afrikaans is.
In alle erns, nog 'n aspek van hierdie konfrontasie wat mens leer ken, is, jy kan óf kies om ontvlugtend te verengels, óf jy kan vastrap en jou Afrikaansheid nog meer bewys.
As skrywer is Afrikaans my hele lewe; ek is dus bevooroordeeld. Ek verseker u darem ek sal nie u boeke kom verbied, nie met mag se geweldskel kom dreig nie. Soos bv. hierdie twee kerkmanne 'n hele een uitmekaar nie:
Die eerste was ontstoke teen die Hotnotstaal van die destydse Patriot, 26.8.1880: ‘Die nietige, verachtelijke, verfoeielijke, oproerige, tweedracht stokende, ellendige, barbaarsche, hottentotsche Patriot’. Die tweede, dr. J.D. Vorster, het weer verlede jaar 22 krasse woorde (walglik, vuil, vieslik, septies, weersinwekkend, verfoeilik, dekadent, ens.) in een brief in Die Burger, 1.12.77, benodig om die moderne Afrikaanse letterkunde mee te beskryf.
Mag ek 'n raaiskoot waag waarom? 'n Mens maak heftigste stil juis daar waar jy bang is om jou versweë twyfel op 'n ander se lippe te hoor. Jy gebruik dwang juis daar waar ongeloof aan jou eie gewete knaag. In 'n àl luider stilte. Dit is menslik. Menslik ook dat die amptelike owerheid se literêre liefde nooit grootgeword het nie, en vasgehaak het by die Langenhoven-verlede. Toe was die N.P. 'n gelukkige, revolusionêre party; vandag is dit 'n ongelukkige, reaksionêre party. En waar die owerheid se beeld van hul ‘volks’-skrywers nie juis pas nie, is dié beeld so'n bietjie aangepas, word sekere | ||||
[pagina 194]
| ||||
aspekte verswyg of oorbeklemtoon. Natuurlik soos die owerheid se ideologie dit wil hê.
In Langenhoven se beroemde 1914-toespraak oor Afrikaans as voertaal word sy slotsin ‘Die één witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak en nie oor die seewater klaar gekom het nie,’ vertolk as synde goedkeuring van rassisme. (Dié wat hom geken het, weet die teendeel was waar.) Dit moet bloot gesien word as vurige ammunisie in die destydse stryd teen Hollands en Engels.
M.E.R. (Marie E. Rothmann) ook modelskryfster vir ons regeerders, sê van hom: ‘Langenhoven het gesê dat groot landsake nie deur 'n party behandel behoort te word nie’ (haar outobiografie, p. 231). Maar wat opvallend deur haar sobere woorde deurskemer, is haar eie sielswroeging oor wat in haar leeftyd met die N.P. gebeur het: ‘Ons kan nou die uitwerking van magsbesit op onsself sien...’ En in Familiegesprek skryf sy aan haar dogter Anna op 23 Maart 1952 - tydens die roemlose geskarrel rondom 'n ‘Hoër Hof’ om kleurlingkiesers te onteien -: ‘Al onse krisisse was kwessies van selfverdediging teenoor die Engelse; nou is onse eie verhouding tenoor andere - ook Afrikaners - die spil waarom dit draai’. Ook Afrikaners. Dan hunker sy na ‘lemand wat die moed het om terug te ry na die verkeerde uitdraaiplek en die regte weg te soek...’ Daar is nogal baie maniere om 'n skrywer se beeld eensydig te belig tot heilige os. Deesdae word Van Wyk Louw gebruik om reaksionêre waarskuwings aan jong rebelle te rig. Onthou u ook senator Boshoff wat in die senaat beweer het Van Wyk Louw is geen letterkundige nie, hy is 'n opvoedkundige? En bygevoeg het: ‘Daar was 'n tydstip toe Afrikaanse skrywers 'n groot bydrae gelewer het tot die land se letterkunde...’
Hierby was D.J. Opperman se kommentaar: ‘Arme Langenhoven sou onder die huidige wetsontwerp nie sy satires kon geskryf het nie’.
Onthou u ook hoe dr. Verwoerd in 1960 oor die boek Ons Derde Stand sou gesê het: ‘Hulle moet Van Wyk Louw en ds. Botha se koppe inslaan,’ en hoe hy die digter in 1966 woedend verneder het oor sy drama Die pluimsaad waai ver.
Die kloof tussen owerheid en intelligentsia het snel groter geword. Ek wonder hoeveel besef in hoe 'n mate dit is omrede apartheid soos teenoor ons bruin volksgenote toegepas vanaf 1952. D.w.s. teenoor Afrikaans. Dit was 'n Engelse skrywer, Guy Butler, wat van ons letterkunde gesê het: ‘Nêrens in die Afrikaanse lettere is daar 'n gedig of 'n skildery of 'n lied waarvan mens sou kon sê dat dit die beginsel van apartheid beliggaam nie’. In 1960, Sharpeville-jaar, was die moontlikheid van bruin Afrikaners in die parlement, skielik voorbladnuus. Maar na 'n ‘ketterjag’ is dit doodgesmoor. Sewentien jaar later het 'n ander politieke kommentator, Jaap Steyn in Tydskrif vir Geesteswetenskappe geskryf: ‘Byna 80% van die Afrikaanssprekende Kaaplandse blankes beskou 'n Afrikaanssprekende Kleurling wat lidmaat van die N.G.-Kerk is, as Afrikaner. Dis egter 'n gesindheid wat baie N.P.-politici tot dusver geïgnoreer het of selfs teëgewerk het... Politici wat op dié punt nie eens die wil van die meerderheid Afrikaners vertolk nie, eien hulle die ring toe om Afrikaans op hierdie wysete benadeel’. Intussen het die intelligentsia, wit of bruin, gewag vir die bevindinge van die Erika Theron-kommissie. Toe die regering die sentrale aanbevelinge daarvan - nouer inskakeling van wit en bruin - verwerp, was dit die laaste strooi. Op 'n ondergrondse manier is hierdie botsing deel van die wrywing tussen Transvaal en Kaapland wat bv. so maklik op sportgebied voorkom. Krities gesien kan 'n mens twee grafieke trek: een wat die groeiende kloof tussen | ||||
[pagina 195]
| ||||
politici en intelligentsia aantoon, en die ander die N.P. se toenemende rassisme. Die snypunt was min of meer die Hooggeregshof-geding van 1952-56 om die Kaapse kleurlinge hul stemreg te ontneem. Sedertdien toon die grafiek 'n middelpuntvliedende verwydering. Ek herhaal, die kloof tussen owerheid en intelligentsia, al was dit grootliks onbewus, het verband met ons bruiner Afrikanerhelfte. En dus eintlik met Afrikaans. Met die gehalte, met die lewenskrag, die voortbestaan van Afrikaans. Want wat bepaal 'n Afrikaner? Sy wit vel? Dan kan hy net so goed Sweed wees. 'n Afrikaner is iemand wat Afrikaans als lewenstaal praat (2,500,000 amptelik wit, en bruin 2,200,000. Totaal 4,700,000). En basta. Ons het reeds gesien hoe blanker die N.P., hoe minder Afrikaans. Tog het die N.P. Afrikaans vir hom toe-ge-eien. In ons gevaarlike hoekie van die aarde wil die party ons taal na sy beeld verwring, toegekrimp binne sy verstotingsbeleid, 'n moeë, bang ou taaltjie wat net in gister wil leef. Reeds Langenhoven het gesê: 'n Groot saak moet nie in die hande van 'n party beland nie. Is Afrikaans nie groter as 'n ideologie wat op vrees en pigment berus nie?
Vir ons skrywers, dus, is om vurig Afrikaans te wees, dié manier om apartheid te bestry, om kultuur en taal bo ras te stel. Want ons is ons taal. Daarom praat ek, smeek ek so verontwaardig oor hierdie onderwerp. Hande af van Afrikaans. Laat dit groei, groot genoeg vir die wêreld waarin ons worstel. Of anders...
Maar basta. Laat ek kortliks nog iets sê oor twee ander tale. Engels. En Russies. Oor Engels net dit: Waar Afrikaans te kort skiet, sal die wêreldtaal, Engels, oorneem. As ons jongmense nie meer Breyten, Brink, Leroux in Afrikaans mag lees nie, sal hulle moderne werke in Engels lees, later net Engels, Engels word. Ek kan veel meer sê oor die vernedering van Afrikaans deur ons regeerders, maar nog net dit. Onthou u hoe, tydens 'n Turn-halle-vergadering in Ovamboland, met Afrikaans as taal van die meeste sprekers op die verhoog, hoe 'n terroris, ná sy aanslag op 'n Wambo-minister, doodgeskiet is, en hoe die volgende briefie op hom gevind is: ‘Plan wil destroy the puppets?’ In Engels. Die koloniale taal wat toegelaat is om die taal van revolusie te word. Omdat Afrikaans wat self eens revolusionêre taal was, gedwing is om die ja-baas taal van die alleenheerser en die polisie te word. Wat Russies betref: ons letterkunde is nog nie so geknelter soos in Rusland nie, maar ons magsmense met hul magdom dwangwette en gewillige heksejagters is fataal op pad daarheen. Graag verwys ek na Rusland se moontlik grootste skrywers van hierdie eeu, die prosais Solzhenitsyn en die digter Osip Mandelstam. Solzhenitsyn: ‘Letterkunde is die lewende geheue van 'n volk. Dit bewaar in sigself die vlam van 'n land se vervloë geskiedenis, in 'n vorm wat teen verdraaiing beveilig is. Aldus beskerm letterkunde en taal 'n volk se siel. Maar wee daardie volk wie se letterkunde deur die ingryping van mag versteur word. Want dit is nie net die verkragting van die reg om te publiseer nie, dit laat die hart van 'n volk ophou met klop’.
Nadezhda Mandelstam, vrou van die digter, wat sy verse dertig jaar lank gememoriseer het in die hoop dat hulle dalk eendag gedruk sal kan raak, skryf in haar outobiografie:
‘Hoe meer mense daarby betrek en gekompromiteer kan word, hoe meer verraaiers en nuusdraers en polisiespioene sou daar wees, en hoe groter die getal mense wat die regime ondersteun en begeer dat dit duisende jare moet duur.’ En elders: ‘Ons was almal dieselfde; of skapies wat gewillig slagpale toe kom, of | ||||
[pagina 196]
| ||||
eerbiedige handlangers van die laksmanne’.
Maar sy vertel ook iets wat sing in 'n skrywermens se hart. Sy en haar man beland as ballinge in die soveelste dorpie. Mense was bang om met hulle te praat. Net die kinders nie. So kom 'n knaap na haar man en vra hom: ‘Omie, is jy 'n generaal?’ ‘Nee, boet, hoekom vra jy?’ ‘Omdat omie so regop loop.’ So trots. In die land waar Stalin gesê het: Daar is twee magte. Ek. En die poësie. Dis tyd om op te som. Hier is dan my balansstaat: Soos alle regerings maar het die N.P. 'n belangrike administratiewe rol wat betref materiële aspekte van onderwys, tweetaligheid, kultuursubsidies en so meer; maar pote eerder as hande wanneer dit by die skeppende of geestelike aspekte van 'n taal kom. Ek sidder soms as ek hoor watter amptenaarsgebombas vanuit Pretoria of vanaf die SAUKGa naar eindnoot(5) as Afrikaans die wêreld indreun. Of vergelyk Eugène Marais se ‘Dans van die reën’-gedig, met bv. dít van 'n dr. P.J. Meyer: ‘Die Afrikaner se volledige werklikheid is die werklikheid gevat in en deur sy vernemend-begrypend-verklarende gemeenskaplike moedertaaldenke vanuit sy Protestants-Christelike geestesinstelling...’ Ek kan nog uitwy oor aspekte van taalvervalsing deur regeringsamptenare; soos bv. minister J. Kruger se onlangse vertolking van ‘Dit laat my koud’ as synde gans anders as ‘It leaves me cold’; of bespiegel oor die verbywaai van verlepte herfsblare soos Segregasie, Apartheid, Parallelle Ontwikkeling, Plurale Betrekkinge... Soos die Kaapse Vlakte dit noem: ‘Die seimde ou parseltjie, net elke slag met 'n anner label’Ga naar eindnoot(6).
Alles tesame, reguit gestel: Die Nasionale Party het 'n gevaar vir Afrikaans geword. Dit is verstommend dat 'n Afrikaanse regering Afrikaans morsdood wil steriliseer en administreer:
Deur met bekrompe sensuurdwang die krities-skeppende siel van die taal te versmoor.
Deur rassisme gebore in wit Europa om ons Afrika-taal se nek te hang.
Deur die helfte van die Afrikaners met apartheid tot in die arms van Engels of swart nasionalisme te vervreem. Deur as volwasse alternatief Engels te bevorder.
In ons grootste nasionale digter se woorde: ‘Ek twyfel of selfs Lord Milner 'n meer doeltreffende middel sou kon bedink het om Afrikaans te kniehalter en aan Engels in Suid-Afrika vrye teuels te gee’. Saam met Langenhoven roep ons uit: Afrikaans is te groot 'n saak om aan politici te behoort! Sonder 'n gesonde, geliefde, vrye Afrikaans waarin al ons sielsprobleme onbevrees reggedink, reggedroom, reggeleef kan word, sal daar binnekort geen Afrikaners meer wees nie! 'n Grootmens smeek nie. Namens al ons skrywers smeek-eis ek dus nou van ons owerheid: Vat die doodshand van sensuur weg van die hart van Afrikaans voor u dit dooddruk. Luister na wyse M.E.R. en draai om op die verkeerde pad, en beëindig alle vorms van apartheid tussen alle Afrikaners. Of anders. |
|