Ons Erfdeel. Jaargang 15
(1972)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermdElisabeth Eybers: Hertzog-prys vir poësie 1971.Onderdak van Elisabeth Eybers is 'n bundel wat al sy gedigte 'n tuiste onder een dak bied, om in die taal van die bundeltitel te praat. Dit is m.a.w. 'n bundel uit een stuk, as 't ware ‘met een hand’ geskryf, soos daar maar twee ander in ons digkuns bestaan, nl. N.P. van Wyk Louw se Gestaltes en diere en D.J. Opperman se Blom en baaierd. Onderdak is een van die weinige digbundels in Afrikaans waarvan al die gedigte sowat feilloos gaaf en afgerond is. Dit is 'n bundel sonder enige swak gedigte. Dit is 'n merkwaardige bundel ook deurdat dit 'n ganse verskeidenheid aan lewe 'n tuiste in die versvorm bied. Die huisbeeld van die titel word dwarsdeur die bundel volgehou (die nomadiese beelde hou natuurlik ook verband met die huisbeelde), en dit illustreer die eenheid van hierdie bundel.
Binne hierdie eenheid is daar egter ook 'n groot verskeidenheid. Ons wys op 'n paar dinge: ons het in hierdie bundel, soos ook in ander van Elisabeth Eybers, die digteres as intellektueel maar ook die gevoelige vrou. Sy kan sowel fyn berekenend en koel saaklik wees as hartstogtelik en geëmosioneer. Lê naas mekaar bv. Ter sake 26 en By die internis 53, of die gedig Midas 16 waarin albei hierdie kwaliteite voorkom. Daar is bedaarde, oorwoë verse, maar daar is ook verse van 'n wakker sintuiglikheid of warm sinlikheid, bv. Eva en haar man 18 teenoor Eva en haar seuns 19. Teenoor die ‘gestolde’ gevoelens van 'n gedig soos Die enkel taak 5, waarin die verhouding van die vader tot die dogter/digter gegee word, is daar die gevoelige gedig van ‘siel en bloed’, soos Opvoeding 6, waarin die verhouding moeder/kind ter sprake kom.
Om op die verskeidenheid van die bundel te wys, noem ons verder aan die een kant die skerp gevoelens van ironie (‘ons vriend, die ironie’, noem die gedig ‘Hy is nie hier nie’ 59 dit) en satire (vgl. Ode aan kontroleur De Laar 13 en Midas 16); daarnaas is daar gedigte van 'n sekere weerbaarheid of onverskilligheid (Métier 55). Daar is die gerypte aanvaarding van pyn en teleurstelling (Woordeskat 56 en Verraad 57), en dan aan die ander kant weer verse van opwinding en blydskap, soos Geslote park 42 en By die internis 53.
'n Getuienis van die omvattende van hierdie gedigte is bv. die volgende verse uit die kort gedig Konsumentebondslede 15, waarin die vroue gesien word as twee soorte wesens in een ‘behels’:
klein meisietjies wat alles vir soetkoek opeet
en ou vroutjies wat hik van die lag.
'n Mens sien hierdie vreemde kombinasies wat in 'n eenheid ‘behels’ word, in sekere telkens terugkerende formuleringe in die gedigte, soos bv. in Die enkel taak 5, waarin die ‘teer hart en die harde stellings’ in een | |
[pagina 90]
| |
persoon verenig is, of in die verhouding van die digterlike woord en die Woord wat elkeen op sy manier eise stel aan die mens. Ons sien dit verder in die ‘siel en bloed’ van Opvoeding 6, in die gelyktydige ‘wegkwyn en floreer’ van Brontë, Dickenson & Kie. 7, of in die droom én brein van Sigsag 22. Dit is almal, ‘saamgestelde’ gedigte hierdie wat nie enkelvoudig is nie, dis nié gedigte van 'n gemaklike ‘enkel taak’ nie! Ons noem nog 'n gedig soos Pouse 37, waar in die pouse tussen twee uiterstes iets verenig word uit hardheid en teerheid, uit koudheid en warmte. Daar is in hierdie bundel die ‘tussenmens’ wat kreëer (Besoek 23) en wat leef waar ‘teengestelde strome ontmoet’ (Kortsluiting 33).
Ons meen dat dit getuig van groot talent dat Elisabeth Eybers uit ‘halfhede’ gehele kan maak, dat sy inkeer en aandrang, terugdeins en dryfkrag in één beweging kan opneem en onversoenbaarhede kan laat ‘sluit... soos 'n vuis’, soos in Vers vir die afwesige 39. Dit is alleen 'n ryp en wyse gees wat 'n ‘tussenmens’ kan skep soos in Aan 'n ruim sewentigjarige 44, 'n tussenmens wat weet ‘om ongeduld geduldig af te meet’ en op hoë leeftyd te gaan ‘rus’ tussen geboorte en dood:
aan elke kant
die weidsheid van die onbereikte land.
Meer as een gedig in hierdie bundel is so 'n ruspunt tussen grensgebiede, tussen die berekenbare en onberekenbare, die ordelikheid en die chaos, tussen die geslotene en die ope, die voltooide en halwe, die selfvoldane en die smagtende, die rondswalkende en die bestendige. Dit gee aan die gedigte van hierdie bundel die kwaliteit van 'n ontroerde balans; dit is gedigte van 'n vaste vorm, trouens gedigte van 'n baie stewige en klassieke vorm maar gloeiend van warmte en hewigheid. Gedigte soos Ter sake 26 of Kwiksilwertong 32 is daar goeie voorbeelde van. Of om dit anders te stel: daar is sterk gevoelens van teleurstelling, selfs van bitterheid in baie van hierdie gedigte, maar dit is nie poësie van die verydeling nie; dit is poësie van die vervulling, deurdat daar vir die gerypte en begaafde gees 'n heenkome in die vers is, 'n tuiste, 'n versoening en oplossing. Soos Midas in die gelyknamige gedig alles tot goud maak, maak die digteres alles tot taal en tot gedig
Onderdak is 'n bundel vol taalprag, en as 'n mens hierdie bundel lê naas Elisabeth Eybers se debuut van 1936Ga naar eindnoot(1), dan sien ons hoe Afrikaans intussen in haar eie hande ontwikkel het tot 'n verfynde instrument. Sy heretimologiseer woorde, soos die woord ‘onthou’ in Desember 9, wat naas sy eie betekenis ook dié van ‘weerhou’ bygekry het:
Ek hou van jou
maar moes self vort verlede jaar
om iets wat heel was te onthou.
Sy gebruik op haar eie manier ‘ontklede clichés’ (15), skep nuwe woorde soos ‘terugwilligheid’ (38), maar sy bereik nog die meeste deur geen nuwe taal te probeer maak, soos dit sedert die Vyftigers 'n algemene praktyk geword het nie - en dit getuig veel ten gunste van haar.
Hulle wat die taal nie het nie, word in meer as een van die gedigte in hierdie bundel bejammer, maar wie die taal het, is tot alles in staat - en die bundel self is die bevestiging van hierdie oortuiging wat in sovele van hierdie gedigte uitgespreek word. Ek sou as een van die beste gedigte in die bundel wou noem Geslote park 42, waarin deur verfyning en slyp van die gewone woord, en deur die onopsigtelike beelde van die voet en die pad 'n hele lewensgang op die allersubtielste manier opgeroep word. Hier het ons 'n voorbeeld van 'n formeel oorwoë en emosioneel ingetoë gedig, wat beheers deur sy verse en strofes loop en sy gang gaan en teen die einde nuwe weë oopmaak.
Dit is nie maklike en popuiêre poësie hierdie nie, omdat die woorde in hulle volle betekenis hier so uitgediep word; dit het die geslotenheid wat die hoog ontwikkelde poësie dikwels het (Leopold, Rilke bv.). Ons dink in hierdie verband weer aan 'n gedig soos Vers vir die afwesige 39.
Ten slotte moet 'n mens waardering hê vir hierdie bundel omdat dit die gewone lewe en die poësie so naby aan mekaar bring. Dit is die daaglikse menslike bestaan wat hier poësie geword het, die gewone lewe. Die gedig is vir Elisabeth Eybers nie 'n uitvlug uit die lewe nie maar 'n toevlug, 'n onderdak. Dit orden die gewone lewe tot sin.
Elisabeth Eybers het as Dertiger begin, en waar ons ná daardie generasie al die Veertigers, Vyftigers en Sestigers gehad het, het sy dus bly voortwerk deur verskillende generasies heen, nog altyd met nuwe en verrassende dinge gekom, sodat haar digterskap vandag getuig van groot rypheid en rykdom. Saam met Van Wyk Louw het ook sy in haar werk 'n steeds stygende lyn getoon. Die poësie van Onderdak is die werk van 'n digteres wat oor 'n periode van meer as dertig jaar aanhoudig het, | |
[pagina 91]
| |
nooit opgehou het om te verras nie en 'n al groter vermoë gaan toon het om met die vers wondere te verrig.
Prof. T.T. Cloete, Potchefstroom |
|