Die Sanlam-versameling.
‘Sanlam’ staan vir ‘Suid-Afrikaanse Nasionale Lewensassuransiemaatschappy’. Die Sanlam-kunsversameling, wat reeds as een van die belangrikste versamelings in Suid-Afrika beskou word, is slegs 'n paar jaar oud. Vyf-en-vyftig stukke, ongeveer een-derde van die Versameling, is onlangs uitgesoek en in Pretoria en Kaapstad vertoon.
Toe die Versameling begin is, was die doel om die kantore van die direksie en personeel te versier en die publiek daarin te laat deel deur sekere skilderye op die maatskappy se jaarlikse kalenders te laat afdruk. Soos dr. Bokhorst, Direkteur van Kaapstad se Nasionale Kunsmuseum, dit in die inleiding tot die katalogus stel: ‘Elke afsonderlike kunswerk moes dus “iets te sê” hê vir die persone wat in die betrokke kantoor werk, asook vir hul besoekers. Gevolglik is daar meesal werke van ouer, bekende en algemeen gewaardeerde kunstenaars aangekoop.’
Frans Oerder (1867-1944), Hollander van geboorte, word as die ‘Vader’ van skilderkuns in Suid-Afrika beskou en dit is daarom goed dat sy kuns - portret, landskap en stillewe - verteenwoordig is. Van hom is daar tekeninge en olieverfskilderye, maar die mooiste stuk is ongetwyfeld ‘Stillewe’, 'n ruiker fyn Hollandse veldblommetjes in 'n swaar eenvoudige koperpot teen 'n donker agtergrond.
Oerder is in Rotterdam gebore en het as jong man vir 'n paar jaar na Suid-Afrika gekom. Vir dertig jaar was hy weer in Europa, hoofsaaklik in Holland, maar het sy laaste jare in Suid-Afrika deurgebring en is in Pretoria oorlede.
'n Suid-Afrikaanse kunstenares wie se faam buite haar landsgrense gestrek het, is Irma Stern (1897-1966) Van haar is daar verskeie werke in die Versameling maar die uitstaande is die portret ‘Maleiermeisie’, waarin bruin, geel, groen en rooskleurtinte oorweeg. Die Maleierbevolking het vir Irma Stern en vir ander Suid-Afrikaanse kunstenaars meermale geïnspireer. 'n Ander kenmerk van die Versameling, waarin Suid-Afrika se voorste kunstenaars deur hul beste werke verteenwoordig word, is ook dat die onderwerp dikwels tipies Suid-Afrikaans is.
Neem nou maar vir Pierneef. Jacob Hendrik Pierneef (1886-1957) het op aanmoediging van Oerder kunsopleiding aan die Rotterdamse Akademie gaan geniet. Hy was landskapskilder, ook nie net skilder van die Suid-Afrikaanse landskap in die algemeen nie, maar veral van dié van die Laeveld van Transvaal en die omgewing van Pretoria. ‘Landskap met Berge’, 'n olieverfskildery in sy vroeë styl waaruit sy bewondering vir Hugo Naudé, 'n ouer landskapskilder blyk, en ‘Plaas naby Derdepoort’ in die kenmerkende Pierneef-styl is daarom baie mooi
Walter Battiss het in 1964 die Erepenning van die Akademie ontvang en is 'n Suud-Afrikaanse kunstenaar wat geruime tyd reeds in die buiteland erkenning geniet. Die twee-dimensionele neiging en helder kleur verleen 'n sterk dekoratiewe karakter aan sy werk. Hiervan is ‘Aandmark in Afrika’, 'n olieverf - skildery 50×50 cm groot, 'n goeie voorbeeld.
toevoegings tot die Sanlam-versameling.
Van Hugo Naudé (1869-1941) is daar 'n gevoelvolle landskappie uit die Bolandse omgewing van Worcester waar die kunstenaar lewenslank gewoon het, getitel ‘Breërivier’.
Volschenk (1853-1936), Suid-Afrika se eerste professionele kunstenaar, was ook 'n Bolandse boerseun wat by uitstek die landskap van sy omgewing geskilder het, aanvanklik in die donker kleure en romantiese gees van die negentiende eeuse Europese skildertradisie. Die Sanlam-landskap ‘Uitsig langs die Vetrivier’ is 'n baie goeie voorbeeld van sy vroeë styl, voordat hy in Europa die werk van die Impressioniste leer ken het en sy palet ligter geword het. 'n Mens sou graag ook 'n later Volschenk, in sy kenmerkende styl, hiernaas vertoon wou sien.
Nà Oerder, Volschenk, Naudé en Pierneef volg daar in die Suid-Afrikaanse kuns ander landskapskilders. 'n Mooi Kaapse landskap van die Hollands-gebore Pieter Wenning sou die Versameling baie verryk. Nietemin, deur die landskappe wat wel vertoon is - soos ‘Maan en Skaduwees’ van Bertha Everard (1873-1965), ‘Umdonipark, Suidkus, Natal’ van Edward Roworth (geb.