Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933
(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 28]
| |
I.NA die Tweede Vryheidsoorlog, toe ons ‘op moedverloor se vlak’ was, toe dit gelyk het of smart en dowwe wanhoop die volksiel versmoor het, klink plotseling hier en daar 'n stem op, yl en teer, traanverdronke, fluisterend 'n weemoedige hoop: Môre pluk ons blomme - môre
as die reen en mis eers o'er is,
as die modder opgedroog is,
as die son ons toelag - môre!
Die gesmoorde snik van 'n onbekende digter, onbekend, want hy was die volk, die heimwee-klag van 'n Joubert Reitz, die tot suggestiewe, kristalsuiwere sang en diep simboliek vervloeide natuurstemming van Marais se ‘Winternag’ - dis die sagte drup-drup van die eerste verlossende trane wat die volksiel van verbystering gered het. En dan gebeur die wonder, dan bloei dit op, die kuns van Celliers, Totius, Leipoldt.
Celliers wat met 'n weemoedige glimlag droom van die so wreed verstoorde huislike geluk, fier vertel van heldedade of met forse stem aanspoor tot volharding en trou. Hy skilder ons die natuur in sy grootsheid en in sy intiemheid, ligte pastelle oorglans deur die goue luister van die Afrikaanse landskap, met sy deinsterige vergesigte en sonnige vlaktes, sy vervloeiing van sagte tinte. Totius, die Calvinis, met sy visionêre krag en profetiese blik, die digter wat ontroerd kla oor die lyding van die Moeder, maar ook die boetprofeet en die siener wat agter en in dit alles Gods heilige Wil en Raadsplan sien. Totius, die stemmingsdigter wat sag ween oor eie leed en sielsverdriet, maar wat ook met fluisterende innigheid getuig van sy gemeenskap met sy God. Totius, die simbolis, vir wie die uiterlike verskyninge veropenbaringe is van 'n dieper geestelike waarheid. | |
[pagina 29]
| |
Leipoldt, die hewig voelende - fel skryn in sy poësie die smart van sy volk op! Leipoldt, met al sy sintuie genietende van die natuur, juigende ‘somer en son en safier vir my’, maar ook die vereensaamde individualis, wat moedig alleen sy stryd stry, die grenseloos pessimistiese, slegs tydelik bedwelm deur die roes van natuurvreugde om weer te ontwaak tot sy eensaamheid en pessimisme. Die werk van hierdie digters is nie vlekkeloos nie, dit reik nie tot die toppe van die wêreldkuns nie - verre daarvan! Maar hierdie digters is beroer deur die ewigheidshuiwering temidde van die tydelike verskyninge en het ontroerd daarvan getuig - dit stempel hulle tot digter. Hulle het verlossende uiting gegee aan wat duister gebroei het in die volksiel, aan sy dowwe smart, sy heimwee na die verwoeste geluk, na die verlore vryheid, aan sy hoop en Godsvertroue. Hulle het daardeur nie alleen die grondslae gelê vir ons letterkunde nie, maar in die wordingsproses van ons volk 'n roeping vervul wat nie maklik oorskat kan word nie. Dit sal moeilik gaan om 'n duideliker voorbeeld te vind van die waarheid dat die belang van die digter se werk uitstyg ver bo die enge grense van die kuns. * * * Van hierdie trits word Leipoldt die minste begryp in die diepste kern van sy digterpersoonlikheid en van sy kuns. Die feit dat die ontwikkelingstadium waarin ons as volk verkeer, meebring dat ons in die kunstenaar nog te seer in eerste en laaste instansie die bewuste en direkte tolk van die volksiel verwag, speel ongetwyfeld 'n groot rol in hierdie verskynsel. Want Leipoldt is in diepste wese 'n individualis, nie die individualis van die jongeling se ‘Sturm und Drang’-periode met sy romantiese selfbeklag en ‘Weltschmerz’ wat ons stadigaan ook al leer duld het nie, maar 'n digter van 'n hoogs ingewikkelde sielstruktuur wat deur sy karakter gedoemd is om 'n eensame te wees. As ons nie een van ons belangrikste kunstenaars 'n groot onreg wil aandoen nie en onsself nie wil verarm deur een van die interessantste verskyninge in ons jong letterkunde onopgemerk te laat bly nie, moet ons probeer om 'n beeld te vorm van hierdie digter in sy ontwikkelingsgang. Dan mag ons nie bly staan by sy eerste bundel nie. Leipoldt is vir te veel van ons alleen die digter van Oom Gert Vertel en ander Gedigte, een van die kostelikste skatte van ons literatuur, en van 'n paar algemeen bekende latere gedigte. Sy latere bundels bevat die heel besondere skoonheid van 'n heel besondere digter waarmee ons ons moet verryk. Alleen op dié wyse kan ons ook 'n objektiewe oordeel vorm oor sy jongste digwerk.Ga naar voetnoot*) Elke kunswerk moet, wat sy artistieke waarde betref, op | |
[pagina 30]
| |
sy eie meriete beoordeel word, maar die heel individuele liriek van Skoonheidstroos kan moeilik begryp, en dus na waarde geskat word, sonder 'n insig in Leipoldt se digterpersoonlikheid soos hy hom in sy vorige bundels geopenbaar het. My strewe sal dus wees om 'n beeld te gee van hierdie digterpersoonlikheid tot in sy jongste werk. | |
II.
My land is nie meer myne nie;
My volk is doodgestry;
My moed is nie meer heldemoed -
O God, vergewe my!
Oom Gert vertel. - Hoe baie het menigeen van ons nie te danke aan hierdie gedigte nie. Die eerste kennismaking hiermee was soos 'n ruk in die siel. Hier het ons plotseling voor 'n hartstogtelike mens gestaan, nie 'n digter, nie 'n literator nie, maar 'n mens wat storm en juig, kla of bitter spot, verslae snik. Ek kan vir myself getuig dat Leipoldt die digter is wat my laat besef het dat kuns meer is as skone jongelingsdrome, weemoedige mymeringe oor teergetinte lugte by sonsondergang, dat kuns is heilige, vreeslike erns, dat dit 'n vuur is wat skroei en wond. Leipoldt openbaar hom in hierdie verse in al die hartstogtelikheid van sy temperament. Wat Verwey in 1894 van Kloos gesê het: ‘Hij is dan toch maar de hartstochtelijkste mensch van Nederland’, kon in 1911 met dieselfde reg van Leipoldt gesê word ten opsigte van Suid-Afrika. Die sielstoestand waarin hy toe verkeer het, het hy later self beskrywe: Ja, ek was op die vlakte
Waar mense moed verloor:
Daar het ek in my siel gebewe;
Daar bitter, bitter smart deurlewe;
Daar baie dinge aangehoor -
Sy gevoel van Reg en Menslikheid het deur die onreg en die jammer sy volk aangedoen, 'n skok gekry wat gedreig het om alles in sy siel te ontwrig. Hierdie smart en verontwaardiging moet hy uit, direk, hewig. Direk, ja - maar tussen die heftige ontroering en die uiting daarvan lê die louteringsproses wat hom tot 'n groot digter maak. Nie met die Geuseliedere, daardie ruige sange van haat en spot, van vaderlandsliefde en Godsvertroue, moet ons hierdie poësie vergelyk nie, maar met Vondel se ‘Geusenvesper’. Vondel se onsterflike gedig het een van die wêreld se grootste hekeldigte geword om- | |
[pagina *5]
| |
KONINGIN WILHELMINA DER NEDERLANDEN
(in de tijd van de Anglo-Boerenoorlog). | |
[pagina 31]
| |
dat dit uitstyg bo die toevallighede van tyd en volk en omstandighede en 'n vlammende aanklag teen, 'n kreet van ontsetting oor alle skaamtelose geweld geword het. Ook Leipoldt se oorlogsverse styg uit bo die toevallighede van tyd en volk en omstandighede, bo die smart van 'n klein volkie wat aan die einde van die negentiende eeu deur 'n magtige volk meedoënloos vertrap word, bo die stryd tussen Boer en Brit. Dit word 'n vloeksang teen alle brute geweld wat die nietige vermorsel. Sy gevoel het daardeur nie verbleek tot 'n gedagte, 'n verstandelike konsepsie nie, dit het verdiep en verhewig tot die universele gevoel wat in die onreg en geweld die skrynende openbaring sien van die geweld wat deur die eeue heen op aarde heers, dit het gewin aan felheid en ontsetting oor soveel smart en onreg. Nêrens kom dit so sterk uit as in die slampamperliedjie oor die kriekie nie; hier het hy sy wilde smart geobjektiveer, heeltemal losgemaak van die gebeurtenisse: Of moet jy, dag in, dag uit, maar sanik,
Kriekie, tot ek dol word van jou dreun?
Is jou lofsang maar 'n kriekie-klaaglied,
En jou deuntjie, kriekie, maar 'n kreun?Ga naar voetnoot*)
Die kriekie is sy volk, dis alles wat klein en swak is en waarvan die lewensklag se dieper sin nie besef word in hierdie wêreld van ruwe geweld nie. Hierdie universele lewensgevoel het Leipoldt tot humoris gemaak, tot die tragiese humoris wat die smart, as dit dreig om hom te oorweldig, oorwin, en van hoër, versoende standpunt die grillige teenstelling sien tussen ons diepste lyding en die kleinmenslike, en tog so ewigmenslike, vorme waarin dit sig uit of waaragter dit probeer om sig te verberg, die teenstelling tussen ons heiligste gevoelens, ons suiwerste ideale en die banale werklikheid waardeur hulle beperk word - die besef van die betreklike van alles! Maar telkens verkwyn hierdie glimlag wat soveel diepe deernis, soveel eie lyding openbaar; die lippe bewe, hy kán nie meer glimlag nie, en in die bomenslike inspanning tot selfbeheer vertrek sy mond amper tot 'n spotgryns ‘wat Liefde alleen verstaan’. Ons ken almal hierdie Leipoldt, vir wie die oorlogsmart nie 'n weemoedige herinnering is, ‘'n lied van lang verlee’ nie, maar 'n vreeslike realiteit, 'n oop wond wat brand van wrede pyn. Hierdie verse is die felle smartkreet van 'n gewonde siel. Deur geen digter is ons oorlogsmart so hewig, so direk verwoord nie. Hoe word in die verhaal van Oom Gert die smart van die ou boer wat ‘maar grawe uit (sy) eie hart’, juis des te skrynender uit- | |
[pagina 32]
| |
gebeeld waar hy dit wil bedek of ontvlug deur allerlei onderbrekinge van sy verhaal en uitweidinge oor beuselagtighede. Ampie die eerste lewende mens in ons letterkunde! - nee, in ons roman, maar nie in ons letterkunde nie. Want hier staan hy voor ons, die eerste lewende mens - Oom Gert, met sy stem hees van ontroering. Wat 'n wrede humor waar Leipoldt die sterwende kampseuntjie op die wysie van 'n lokasieliedjie spottend toesing om maar te sterwe: Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies en sê ame!
Met 'n smartgryns spot hy: Hier in die kamp is alles stil,
Net maar die wind waai soos hy wil;
Net maar jyself kan kreun en steun:
Niemand sal hoor nie, niemand, seun!
Sy kreun is mos ook maar die deuntjie van die kriekie!
Maar na die roue smart van verse soos die volgende waardeur die droë hoes van wegkwynende kinders kug: Kinkhoes en tering sonder melk:
Bitter vir jou is die lewenskelk!
na die wrange humor van: Daar is jou plek, by die graffies daar -
Twee in 'n kissie, 'n bruilofspaar!
kom die versoening: Al wat jy wen, is dat ons onthou:
Meer was die vryheid as kind of vrou!
en nou klink dit nie meer spottend nie, maar getroos, berustend: Vou maar jou handjes dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en sê - ame!
Wie het die bitterheid van die vernederende vrede so vertolk soos Leipoldt in ‘Vredeaand’? Terwyl die menigte op straat joel en tier, sit die man by sy bottel soetwyn en spoor met hese spotstem aan om saam te drink en hoera te skreeu: Drink, drink jou glas! Die son skyn deur die wyn:
Is dit te soet, of smaak dit soos asyn?
| |
[pagina 33]
| |
Maar ook hier weer die versoening as hy dink aan die vrou; en nou wil hy weer drink, nou sal dit nie smaak soos asyn nie: behou
Die beste wat ons nasie het - die vrou!
Gooi neer die glas; die stukkies skop opsy:
Daaruit sal ons geen ander heildronk drink
As dié aan haar! Maar roep, man, tot dit klink:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Leipoldt is 'n sterk dramatiese natuur. Daarom kan hy hier sy smart so fel uitlewe in sy skepping van hierdie halfdronk, verbitterde boer, met sy hese stem, sy ruige taal, sy retoriek waaragter 'n vreeslike smart brand: Nou is die storie uit: die leë glas
Staan droog, wat vroeër so vol met water was;
Die put wat eenmaal water het gegee,
Is vol met trane, souter as die see -
So brak as ooit 'n pan in die woestyn,
Waarop die son al dae helder skyn -
En bitter net soos gal, want in die put
Het al ons volk hul trane afgeskud;
En ons moet daarvan drink, die jare deur,
Al sal die smaak ons hart en siel verskeur.
Retoriek! Ja, van die soort waarin 'n Baudelaire, 'n Geertin Gossaert hulle brandende gevoel uitgestort het - van nog hewiger werking, omdat hierdie ‘retoriek’ dramaties geregverdig, meer nog: noodwendig is, omdat dit die onbeholpe beeldspraak van die eenvoudige boer is. Daarom het ons hier in wese juis die teenoorgestelde van retoriek, wat immers die van ander geleende dekmantel is om gebrek aan besieling te verberg! So'n gedig doen aan as 'n geweldige deurbraak van gevoel, nes ‘'n Nuwe Liedjie op 'n ou Deuntjie’. Let egter op die skone bou - skoon omdat die gevoelstroom sy vrye loop volg tot die hoë klimaks.
Wat 'n ontroering gaan daar nie uit van ‘Japie’ nie - ook hier die skone bou, die opeenvolging van stemminge tot die hartstogtelike uitbarsting van die slotstrofe. | |
[pagina 34]
| |
En die bundel wat open met die gedrae ‘Opdrag’, een van die mooiste natuurgedigte in Afrikaans: Ja, man, wat op die slagveld het gesneuwel,
En in die kinderkampe, kind en vrou,
Slaap rustig stil, julle, wat so geworstel,
En so gesterwe het - want ons onthou!
sluit met ‘Die Einde’ - eers die hygende sug van moegheid en verlange: Gee vrede en rus vir ons almal, wat lam is van swerwe,
Moed en geduld vir ons almal, wat bang is te sterwe;
Gee vir ons hart soos in somer die sap vir die bome;
Gee vir ons krag vir die werk en verstand vir die drome;
Gee vir ons hoop in die donkerste nagte en smarte;
Gee vrede en rus vir ons almal, wat lewe en erwe
Smart en verdriet, met die reg om uiteindelik te sterwe.
Gee vrede en rus; en ons vra nie iets anders, en luister
Stil na die wind, wat so sag in ons ore kom fluister:
en dan kom die troos soos koele laafnis: ‘Moed, mense, hou moed!
Die kwaad sal verander in goed:
Die morelig kom uit die duister.’
Net so hartstogtelik as in sy smart, is Leipoldt in sy liefde vir die natuur, wat hy self so mooi besing het in sy bekende Slampamperliedjie: ‘Ek sing van die wind wat te keer gaan.’ Pragtig kom dit ook uit in die welluidende ‘Oktobermaand’, met sy kinderlike opgetogenheid, en in die ‘Opdrag’, met sy beheerste ontroering. ‘Die Doringboom’ en ‘Die Soutpan’ behoort tot die allerbeste sonnette wat ons besit. As ons Leipoldt in sy krag wil sien as woordkunstenaar, moet ons 'n oomblik by die laaste van hierdie gedigte stilstaan. Kaal is die ou sandwêreld hier, en kaal
Die see daarbuite, waar die branders breek:
'n Strand vol klippies en 'n poltjie kweek
Van ruigtegras, nou nie meer groen, maar vaal.
Hier praat die veld 'n onverstaanbre taal;
| |
[pagina 35]
| |
Hier maak die son die blou soutwater bleek,
totdat hy saans vermoeid sy kop versteek
Agter die duine, waar sy glans verdwaal.
Hier staan die soutkors sonder vou of plooi,
Glad, silwerwit, en met 'n goudgeel lys
Van modder en klei - hier dun en daar nog dig.
So arm die wêreld hier, en tog so mooi:
Stil, as 'n oumens amper oor sy reis
En met die Dood se skadu op sy gesig.
Met die eerste woord in sy sterk beklemtoonde posisie stroom die gees van die landskap in die gedig. Kaal huil die eerste woord en kaal herhaal die rymwoord, en na die stremming van die volgende drie verse, met hulle alliterasie en r-kombinasies, spoel die gevoel weer uit in vaal, om gedemp terug te keer in taal en versoend op te los in die langsaam wegglansende verdwaal. Tussenin skep die vreugdelose rymklanke breek, kweek, bleek, versteek die indruk van bleke eentonigheid. Maar dan, na die sagte versoening van ‘waar sy glans verdwaal’, kom die wonder van die soutpan in al sy sobere maar tere skoonheid. Let op die effek van die helder vokale in samewerking met die telkens terugkerende l-klank: Glad, silwerwit, en met 'n goudgeel lys
Van modder en klei.
En vanself kulmineer hierdie skildering in die diepmenslike simboliek van die slotverse: So arm die wêreld hier, en tog so mooi:
Stil, as 'n oumens amper oor sy reis
En met die dood se skadu op sy gesig.
Leipoldt gee hier veel meer as blote skildering; sy siening groei deur die geestelike agtergrond daarvan vanself uit tot simboliek. Hierdie gedig leef uit 'n sentrale ontroering wat al die onderdele georden het tot 'n wonder van suiwere harmonie. Dis juis hierdie skone sintese wat in sy latere poësie helaas so dikwels ontbreek - dan kry ons 'n opeenstapeling, soms selfs nie meer as 'n opsomming nie, van sinsindrukke sonder 'n sentrale ontroering wat die gedig beheers. Reeds in ‘Lenteliedjie’, trouens 'n nie baie besielde gedig nie, kom hierdie swakheid al sterk te voorskyn. * * *
Dit sou natuurlik nie moontlik wees om in die beperkte ruimte van 'n tydskrifartikel hierdie bundel uitvoerig te bespreek nie. Dit is vir ons doel ook nie nodig nie. | |
[pagina 36]
| |
Op een eienskap wil ek nog wys: die spontaneïteit. Leipoldt het sy poësie self goed gekarakteriseer in Slampamperliedjie VI, 'n uiters interessante en insiggewende uitlating van 'n digter oor die wese van liriek: Nou goed, ou boet; ek skrywe nie vir jou nie:
Die windswaal sing - nou, waarvoor moet hy sing?
Vir jou of my? Nee, wragtie, vir homselwe,
Net om hy iets moet sê, iets,Ga naar voetnoot*) moet bring!
En ek ook, soos 'n windswaal, maak my versies
Nie maar vir jou - nee, glad nie; - - -
Ek sing net vir myself: uit puur verstrooiing
Maak ek slampamper-liedjies net soos dié:
'n Mens moet huil of lag, moet loop of stil sit,
En ek moet versies maak, of praat met - wie?
Spontaneïteit, 'n groot hartstogtelikheid wat sig uit in sterk individuele, hewig bewoë verse, maar met 'n groot beheerstheid - dit is die eindindruk wat hierdie eerste bundel nalaat. Ek sonder hier natuurlik dié gedigte uit waarvan die opname van 'n gebrekkige selfkritiek getuig: jeugwerk soos ‘In die Boesmanland’, die sentimentele ‘Die ou Blikkie’, die onbeduidende ‘Praatjie oor die Trougees’ en nog verskillende ander gedigte.
G. DEKKER.
(Word vervolg.) |
|