gende kleureprag, werklik kleur te beken nie. Dit vereis krag, manmoedigheid, om nie jou oë toe te knyp nie maar hulle oop te hou en te gaan skilder wat jy werklik sien.
'n Jaar gelede, op die tentoonstelling in die Nuwe Kunsmuseum in die Kaapstad, was daar enkele fraai klein stukke van hom, beskeie van formaat, maar ook van kleur. Ek het die vergelyking getrek met die werk van Van Goyen, die sewentiende-eeuse Hollander, een van die mees atmosferiese landskapskilders van alle tye. Smith het hom ook besonder aangetrokke gevoel tot onderwerpe met een oorheersende stemming en kleur; dit was dan ook in ooreenstemming hiermee dat sy beste stukke gesigte was op die strand: 'n stuk see en duine, met 'n egalige plantegroei en silwerkleurige wolke daarbo. Hier was geen fel-sprekende kontraste nie, en dus ook nie die moeilikheid om allerlei teenstellings in een skema onder te bring nie. Ek het dit as 'n gelukkige, waarskynlik instinktiewe, insig beskou, dat die skilder sy keus so bepaal het en nie anders nie. Hy het binne die perke wat hy homself gestel het, mooi dinge bereik, en gewys dat hy 'n aangebore gevoel besit vir eweredigheid en 'n beskeie manier om sy gawes aan te pas aan die onderwerp en omgekeerd.
Die tentoonstelling van sy werke op Stellenbosch in Oktober laaslede het hierdie eerste gunstige indruk meer as bevestig. Hier was 'n flinke aantal skilderye, sodat ons 'n vollediger beeld kon kry van die kunstenaar.
Daar was verskeie stukke van dieselfde opvatting as die strandgesigte, maar deurgaans was hierdie werk tog ryker en voller van kleur. Die eerste afgebeelde skildery, Landerye, is oorwegend ‘blond’ geskilder; nuanserings van goudgeel koringskowe, grysgroen grond, goudgroen struike en bome wissel mekaar af; daartussen egter straal 'n pers akker uit, sonder om die omgewing te oorstem; die lug is egalig koperkleurig, sterk van lig en gloed - kortom, daar is baie meer individuele kragte binne die omraming; die eenheid is egter behou - 'n bewys dat die skilder gewin het aan selfbeheersing, wat hom openbaar in die beheersing van die kleurwaardes, sterk en gaaf naas mekaar. Daarby is die komposisie rustig-oorwoë, sonder om styf van gestileerdheid te word; dit is 'n weldadig-aandoende verbinding van natuurlikheid en stylgevoel.
Die skilder besef blykbaar dat daar 'n gevaar kan skuil in die altyd opnuut herhaalde poging om terwille van die harmonie elke kleur 'n toon laer te stem; dit sou kan lei tot 'n sekere toonloosheid of grysheid van die geheel. Wanneer jou gemoedstemming miskien ook neig tot 'n gedempte vreugde, wanneer jy dit wil terugvind in jou omgewing, ook in die landskap, dan help dit saam om die palet sober te hou.
Daarom is dit belangwekkend om te sien hoe Smith in die skildery Kontraste doelbewus daarop uit is om besonder sterk sprekende waardes teen mekaar op te weeg. Hy wou homself op die proef stel en uitvind hoever sy