Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932
(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 19]
| |
Johann Wolfgang von Goethe.
| |
[pagina 20]
| |
‘Quoique le dehors soit sans émotion,
Le dedans n'est que trouble et que sédition.’
Ook in Goethe se klassieke kuns vind ons ‘trouble et sédition’. Die digter self waarsku ons: ‘Die Welt ist voller Widerspruch,
Und sollte sich'sGa naar voetnoot1) nicht widersprechen?’
Nog betekenisvoller is hierdie motto: ‘Was ich irrte, was ich strebte,
Was ich litt und was ich lebte,
Sind hier Blumen nur im Strauß.’
Die sintese van die geestelike magte van sy tyd in sy poësie is slegs 'n geniale verbinding van onderling fel konflikterende elemente; die harmonie van sy kuns en van sy wêreldbeskouing is gebore uit polariese teenstrydigheid. Uit die diepste van sy siel kom die woorde van die groot bekenner aan die einde van sy volle, veelbewoë lewe: ‘Denn ich bin ein Mensch gewesen, und das heißt ein Kämpfer sein.’ Goethe se hele lewe was een lang, bange stryd teen homself en teen sy tyd. Hierdie stryd is in die eerste plaas 'n stryd in eie boesem. Die titaniese genie soek hom in revolusionêre vryheidsdrang te bevry van alle aardse beperking, van die menslike wet. Maar Goethe is nie bloot 'n temperamentvolle genie nie; in hom leef tegelykertyd die sedelike mens, die rustige, wilskragtige karaktermens wat vyand is van alle Sturm und Drang. Eensdeels is dit juis hierdie teenstrydigheid wat hom tot 'n problematiese karakter stempel en wat verantwoordelik is vir die tragiek in sy lewe en sy kuns. Met Faust moet hy van homself sê: ‘Zwei Seelen wohnen, ach! in meiner Brust.’
Hierdie dualisme lei noodwendig tot botsing, tot verterende sielestryd. Dit is uit hierdie sielskonflikte dat Goethe se kuns gebore is. Die digter Goethe is die groot bekenner wat sy poësie self 'n ‘groot bieg’ genoem het. Sy kuns bied ons 'n verhewigde, ge-intensifieerde beeld van sy bange lewensworsteling - die stryd in die eerste plaas tussen die genie en die sedelike mens. Daar is al die heroïese gestaltes wat dieselfde stryd voer: Götz von Berlichingen, Werther (ook hy 'n worstelaar!), Caesar, Sokrates, Faust, Prometheus, wat in sy verwatenheid as genie die gode uittart, Tasso. Hulle almal is groot strewers, Übermenschen wat 'n wanhopige stryd teen die menslike beperktheid voer. En almal is hulle gedoem tot ondergang in dié ongelyke stryd, omdat hulle na die ewig onbereikbare streef; almal behalwe een, Faust, omdat hierdie genie sedelike mens word: | |
[pagina 21]
| |
‘Ein guter Mensch in seinem dunklen Drange
Ist sich des rechten Weges wohl bewußt.’
Hierdie verse uit die digter se lewenswerk verkondig Goethe se onverwoesbare lewensoptimisme. En ook van die digter self geld hierdie woorde: hierin lê die harmoniese van sy lewensontwikkeling dat hy in al die stryd en verwarring van die lewe steeds optimisties en doelbewus gestreef het na 'n hoër lewensideaal wat hy deur selfopoffering, deur selfoorwinning en deur selfverlogening uiteindelik ook verower het. Die stryd was groot, want dit was nie net teen homself nie, maar ook teen sy tyd. Die oppervlakkige rasionalistiese wêreldbeskouing wat geslagte lank die hele Europa beheers het, het uitgedien en ineengestort. Uit die chaotiese verwarring moet 'n nuwe wêreldbeskouing opgebou word. Die Germaanse kunstenaar is eers waarheidsoeker, dan skoonheidsaanbidder. Selfs vir 'n Shakespeare geld hierdie verskynsel, al moet Hamlet, daardie egte kind van die Laat-Renaissance, op die ontsettendste van alle lewensvrae - ‘to be or not to be’ - die antwoord skuldig bly en ten slotte passief berus in die magtelose ‘Que sais-je?’ van 'n skeptiese Montaigne. Vir Goethe, die ernstige waarheidsoeker, wat ‘die sluier van die digkuns ontvang uit die hand van die waarheid’, kan waarheid nie beperk wees tot die blote sinnelike werklikheid nie. Dit is die selfbedrog van die selfgenoegsame Aufklärer wat geheel blind is vir die gapende afgronde van die lewe. Goethe word die onverskrokke aanvoerder van die Sturm-und-Drang-Bewegung wat met fanatieke haat die starre en verstarrende leer van die heerskappy van die rede bestry. Hier kan die revolusionêre, individualistiese genie hom uitleef. Maar die sedelike karaktermens Goethe kan nie deur die geheel negatief gerigte stryd bevredig word nie. Hy hunker na 'n positiewe wêreldbeskouing, na een wat nie meer die beperkte rede as enigste en volstrekte norm laat geld nie, maar wat mede op die erkenning van die vrye en bevrydende gevoel en verbeelding berus: 'n klassieke sintese van die twee geestesrigtinge wie se teenstrydigheid die oorsaak van die tragiek in die wêreldgeskiedenis is. In die dankbare voorgevoel van hierdie nuwe lewensideaal slaak die vermoeide stryder die innige versugting: ‘Süßer Frieden, komm, ach komm in meine Brust!’
Sy medestryders sê hy vaarwel; in Weimar skep hy sy nuwe wêreldbeeld. ‘Der Mensch ist nicht geboren frei zu sein,’ is die maanwoord in Tasso. ‘Von der Gewalt, die alle Wesen bindet, Befreit der Mensch sich, der sich überwindet’, is die digter se slotsom. So verwerp hy die individualistiese lewensideaal van die genie. Die genie het geword die klassieke mens en kunstenaar, wat blymoedig berus in die erkenning van die menslike beperktheid. Die strewer na die onbereikbare word die selfverlogenende dienaar van | |
[pagina 22]
| |
Humanitas. Faust beleef en verkondig die evangelie van die dienende liefde. Die sedelike reinheid word verheerlik in die aangrypende sieledrama ‘Iphigenie’, die hooglied van die humanistiese lewensbeskouing: ‘Alle menschlichen Gebrechen
Sühnet reine Menschlichkeit.’
In hierdie evangelie van die werkende, dienende en versoenende liefde vind die gryse waarheidsoeker eindelik vrede vir sy rustelose gemoed. Dit is die kern van sy nuwe lewensbeskouing. Dit is 'n religie wat, ondanks die tere mistiek van die panteïs Goethe, ten slotte suiwer aards gerig is. Elke poging om Goethe vir die Christendom te ‘red’ - en sulke pogings word juis vandag graag gedoen deur Goethe-aanbidders - is net so futiel as dié om van Sokrates se leer die Christelike te maak. * * * Goethe se poësie is gebore uit sy sielskonflikte. Wat die waarheidsoeker vir sy lewe gevind het, dit word die hegte fundament vir sy kuns: die etiese verbind sig met die estetiese tot 'n skone sintese in die digter se klassieke etiesestetiese kuns. Goethe is geen didaktikus, geen moraliseerder nie, die ‘moraal’ is nie die digter se doel nie, maar die skoonheid; dog hierdie skoonheid is die etiese skoonheid van 'n veredelde kuns wat wel uitgaan van die onmiddellike lewe - Goethe is realis -, maar gelouter van alle onreinheid daarvan, draer van die hoogste menslike gedagte. Alle waardelose toevalligheid van die lewe is uit hierdie klassieke kuns geban; dit is simboliese kuns in die edelste sin van die woord. Goethe het in sy later lewe verse geskryf waarin die simboliek oorweeg - d.w.s. waarin 'n bepaalde beeld ons voor oë gestel word, nie soseer terwille van die skone beeld self nie as wel as blote tipe van 'n veelvuldig voorkomende verskynsel. Die individuele word daarin as blote tipe van 'n veelvuldig voorkomende verskynsel. Die individuele word daarin aan die algemene, die tipiese opgeoffer. Die abstrakte denker is hier meer aan die woord as die beeldende kunstenaar. Maar in 'n geheel ander, suiwer digterlike sin is Goethe se skoonste poësie simboliese kuns te noem. Die digter-oog is hier bekoor deur 'n toevallige beeld uit die digter se eie lewenservaring, wat hom prikkel en innerlik ontroer omdat dit 'n reeds lank in sy siel sluimerende gedagte wek. So word hierdie oorspronklik bloot toevallige beeld die draer van 'n magtige gedagte en verkry, sonder om sy eie individuele skoonheidswaarde te verloor, tewens 'n hoër digterlike waarde as skone simbool van die diepste sielelewe. Die toevallige word ewige noodwendigheid, die persoonlike word algemeenmenslike waarheid, die lughartige spel word aangrypende erns. Die ontroerendste voorbeeld van sulke simboliese poësie is die lied ‘Heidenröslein’. | |
[pagina 23]
| |
Goethe gaan in sy poësie steeds van die werklikheid uit. Sy poësie bied ons die verhewigde beeld van sy ervaring. Hierdie eerste groot Minnesinger na Walther von der Vogelweide is die grootste Duitse liriese digter. Intensheid van lewe en gevoel, waaragtige spontaneïteit, eenvoud, aanskouelikheid en hoë musikale gehalte is die kenmerkende van sy liriek. Maar hierdie liriek onderskei sig veral daarin sterk van dié van 'n Gunther, 'n Herrick, 'n Bredero, 'n Villon, 'n Musset en 'n Paul Verlaine, dat dit is 'n streng beheerste en daarom grootsere, monumentalere kuns. Hierdie strenge beheerstheid is geensins teenstrydig met digterlike spontaneïteit nie - waaragtige spontaneïteit is die vrug van die mees sorgvuldige voorbereidingsproses in die siel van die digter. Die waarlik spontane digter improviseer nie, veelmeer openbaar hy die diepste van sy sielelewe. Die liriek van Goethe is nie minder intens, nie minder hartstogtelik as dié van al die ander genoemde digters nie, maar sy passie word vertolk in verse van meer beheerste, meer gedrae skoonheid. Wanneer Goethe aan sy boesemvriend Schiller skryf dat hy die poësie ‘kommandeer’, dan is dit heel anders te verstaan as Heine se eiemagtige willekeurige spel met die muse. Goethe het steeds die heiligste ontsag vir die kuns, Heine spot met alle ontsag, ook met dié vir die muse. Goethe dig alleen uit innerlike drang, Heine dig alte dikwels omdat hy wil. Maar ook in ander opsig verskil die religieuse digter van die geniale spotter. Suiwer tegnies lyk Heine, oppervlakkig beskou, Goethe se meerdere. As die musikale waarde die enigste of hoogste digterlike kriterium was, sou Heine die krans moet ontvang. Sy verse is volmaak in die sinnelike weelde van hul onweerstaanbaar bekorende musiek. Heine is die musikaal bewoë digter. Maar daar is in die musikale volmaaktheid van sy verse dikwels iets bestudeerds - Heine is die digterlike virtuoos, ook selfs in sy omdigtinge van eenvoudige volksliedere. Goethe is nooit virtuoos nie; daarvoor is sy kuns veel te seer onmiddellik-spontane en noodendige uiting van sy diepste sielelewe. Selfs 'n juweel soos sy Epilog zu Schillers Glocke is, met als sy sonore musiek, veel te seer waaragtige gemoedsuiting as dat dit die werk van 'n virtuoos kon wees. Maar Goethe is wel altyd kunstenaar, skoonheidsoeker, wat - bewus of onbewus - steeds streef na harmoniese vertolking van sy digterlike ontroering. Wel is daar in die suiwer uiterlike tegniek van sy verse somtyds iets stroefs, sodat hulle minder soetvloeiend is, ja selfs is daar plekke aan te wys waar verse by herhaling deur alledaagse rymwoorde ‘ontsier’ word. Maar tog is dit, naas die heldere plastiek, veral ook die wondere musiek wat ons in Goethe se verse ontroer. Alleen, dis 'n meer as bloot uiterlike musiek. Dis dié van die volmaakte harmonie van vorm en inhoud waardeur die ontroering van die gedagte voortdein op die vers. 'n Musiek wat eers volmaak simfonies word vir die volkome | |
[pagina 24]
| |
begryper van die digtersiel, vir dié wat kan meeleef met die digter in sy smagtende verlange wanneer hy sing: ‘Kennst du das Land, wo die Zitronen blüh'n?’ Welke tere, weemoedsvolle musiek ruis daar nie deur sy afskeidslied aan Lili nie. Wie word nie ontroer deur die weghuiwerende musiek van sy Nachtlied nie? Maar dit is nie die sag strelende oombliks-musiek van 'n Heine nie: dit is aangrypende ewigheidsmusiek, verklanking van die sielesmart van die lydende mens. Goethe is altyd kunstenaar, nooit virtuoos nie. Daarom streef hy met sy hele wese na natuurlikheid, soberheid. Hy is die digter van die eenvoudige woord. Wat Luther eeue voor hom vir die prosa gedoen het, dit doen die groot bewonderaar van die taalskeppende genie van die Hervorming vir die poësie. Veel meer nog as Klopstock is hy die ontdekker van die volle gevoelswaarde van die eenvoudige, eenlettergrepige woord. Eers Goethe het die eenvoudige woord, wat in die sleur van die alledaagse lewe banaal en inhoudloos geword het, weer geadel deur sy poësie. Hierdeur alleen reeds het hy hom 'n waardige plaas onder die grootste digters van die wêreldliteratuur verower. Want digkuns is ten slotte bo alles woordkuns. Die letterkundige kritiek maak hom maar alte dikwels skuldig aan die sonde dat dit te weinig die kuns van die woord self waardeer. Veral as woordkunstenaar sal Goethe altyd besielend bly werk op die wêreldliteratuur. Ook daarin is hierdie sanger vir ons die klassieke digter dat hy sy magtige visioene en gedagtes van ‘stille grootheid’ verklank het in 'n taal van ‘stille grootheid’. J.J. DEKKER. G.U.K., Bloemfontein. |
|