Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 8] [p. 8] Bethanie. 1. Bethanië, o poorte van verposing vir Hom wat moeitesaam in wêreldwei balsem gebring het onder vreemde mense, gebonde in hul nood- en smartgeskrei! Bewaar teen rug van woelige wêreldstad soos somernessie wat die swawel bou by huisdak en waar mensegerug ten spyt dae en nagte huiwer moedertrou - so rustig-diep genestel in die dal, olyf-beskut teen winde en susterlik-teer, wag luisterend na klank van heilige voetstap die wondere vriendskap-tuiste van die Heer. Nog bloei Sy goue woorde in haar hart, nimmer verlore.... Maria wandel om en deur die olyfboord, innig tortelklaend die mymervraag: O wanneer sal Hy kom? Bethanië, o poorte van verposing, 'n binnekamer en 'n paradys, 'n nuwe land van vrome innighede! Uit so 'n grond moet wondere blomme rys! 2. Soos byeswerm diep in die skeur waar onrus-donker bewe en brom, na buite storm die werkpad op, so uit haar harte-heiligdom huppel gedagtes bewende voort die droomveld van haar siele oor, bloesemende herinnering [pagina 9] [p. 9] blink dieper hartewense voor... Die bye gaar by mirteblom hul oes, by herfs se heuwelgraan, Maria puur 'n soetheid wat verruklik deur haar wese gaan - soos dagbreekmôres in die dal hunkeringe in skemerblou, donker begryping van wat Hy volheerlik in Sy woord aanskou. Sy soek die brood wat nooit vergaan, wat enkele net 'n skimp van kry, haar mens-taak is nooit afgedaan solank die waarheid wykend bly. 3. O kommervolle wagtenstyd as ondergrondse sorge wenk voor druppels dor verwagting drenk, voor sluimersade swel en splyt! Dit is die bange onsekerheid wat tussen botsel sweef en vrug wanneer uit drome 'n bloeiendheid ontwaak en deur die lentelug arome-ryke vreugde dra.... dan is die Hoop aan sidder-leef en slaan die nag se winde ga, wat deur die bloeiselboorde sweef, en loop die someroes vooruit deur maande wat laat bloei en kwyn - die graan wat uit die vore spruit, die blosende vrugte waasbeskyn.... O wagtenstyd, hoe bruis daardeur die onrus en die ganse skaar van dromebeelde goudgekleur, die angs en saligheid te gaar! Maria wag - Hy ken sy tyd - sy wag die maande biddend om, tot oor haar harte-allenigheid die tyding breek: Hy kom, Hy kom! [pagina 10] [p. 10] 4. Verbonde harte leef van samesyn soos plante van die lug en sonneskyn. En wat gedoke skuil op hartegrond bruis blank en klaar in vrome vriendskapstond, en soos die rook uit Godgewyde altare rys dan vertroue met mond- en handgebare. En maak, in warmte winnend, oue woorde nuut, fonkelnuut, soos selde gehoorde geheime aanbruisend oor 'n duistere see - 'n hart homself vergetend leef van gee. Op goue skale sal hy offers dra waar heilige trou g'n wedergawe vra. Kosbaarste nardus suiwerskoon gewyd, warm hartebloed te skenk is hy bereid.... Maria gee haar beste, 'n offer klein, maar Hy herken die rykdom van die myn. 5. Deur ou ervaring gly daar soms 'n skyn van ongewete dinge, ryk en rein, wat agter die rand van ons begryping doom in luwe verte van 'n lentedroom. Voor dan die skerp lig van bewustheid rys om agter sielsgeheim die weg te wys is al verby die skyning, snelgeswinde, en vrae doodgesmoor in duister winde moet soos 'n roep verlate in storremnag verniet op antwoord van die berge wag. Maria vra - in luwe verte doom die Paradys se poort, 'n lentedroom. [pagina 11] [p. 11] 6. Diep waar die stilte heilig woon en bronne van vertroosting vloei, daar daal met leë kruik alleen die siel deur las en lus vermoei. In heilspelonk van eensaamheid gesluit vir wêreldsorg en -gang drink wie die dorspad langes reis en siele-seëning verlang. Dan bloei langs stofgetrapte pad hartblomme in eensaamheid gekweek en gee 'n koel misterie-geur wat bly wanneer die dag verbleek. Bethanië, die eeue sal die rykdom van jou eenvoud prys, jou naam sal met 'n vredewaas van trou en innighede rys. O klaarte wat jou waters bied, o stille wysheid, wyd.... so wyd, wie tot jou bronnediepte daal, dors nimmermeer in ewigheid. D.F. MALHERBE. Vorige Volgende