keuse van die samesteller nie, maar dis m.i. van minder belang. Daar moes eenmaal 'n keuse gedoen word en smaak verskil. Oor die algemeen het Malherbe daarin geslaag om ons 'n verteenwoordigende keuse te gee. Die stukke moes opsigself goed wees, maar hulle moes ook een of ander stroming in die letterkunde demonstreer. Die gewone leser het hiermee niks te doen nie en dit sal hom stellig nie hinder nie, maar vir die student is soiets baie belangrik.
Die boek bevat stukke van A. Aletrino, L. Couperus, H. Heyermans, J. de Meester, A. van Schendel, Augusta de Wit, C. Scharten en M. Scharten-Antink, I. Boudier-Bakker, A. van der Leeuw, Top Naeff, Jo de Wit, Marie Koenen, R. van Genderen Stort. 'n Hele paar van hierdie skrywers is al dood; die meeste is egter nog in die volle fleur van hulle kunstenaarskap. Drie van die beste Nederlandse romans van verlede jaar is deur skrywers uit bostaande groepie gelewer. Die ‘De Klop op de Deur’ deur Ina Boudier-Bakker, ‘Het Fregatschip Anna Maria’ deur A. van Schendel, en ‘De Kleine Rudolf’ van Aart van der Leeuw. 'n Mens mis net verskeie name van die allerjongste prosaskrywers, die verteenwoordigers van die sogenaamde ‘nuwe saaklikheid’, al kom dit veral in die breër opgesette romans en novelles uit.
Disopmerklik dat die samesteller hom nie net tot kort-verhale beperk het nie. Dié van Ary Prins is selfs 'n brokstuk uit 'n lang verhaal. 'n Hele paar stukke is eenvoudig sketse en daarom is die naam van die boek misleidend. Teen die sketse as sodanig sal alleen die persoon wat om die verhaal lees beswaar maak. Daarin word dikwels die gewone lewe vasgelê. Dis goeie werk. Die skrywers kon hier makliker en lekkerder bou; in die kortverhaal moet, selfs ten koste van beeldrykheid ,op die verhaal gekonsentreer word.
Die aantekeninge van die samesteller boaan elke stuk bevredig my minder. Hy gee o.a. enige biografiese besonderhede en dis heeltemal in die haak, want ons wil almal iets weet van 'n onbekende skrywer wie se werk 'n mens lees. Dis wel kort, maar met die opset van die reeks boeke kon dit nie anders nie. Hy noem ook die vernaamste werke van die outeurs. Vir die persoon wat deur dié kennismaking vir meer lus kry, en veral vir die student, is dit van waarde. Sy waardebepalings tussenin keur ek egter nie goed nie. Wat hy sê, is nie verkeerd nie, maar sulke ongemotiveerde uitsprake moedig napratery aan - een van die grootste foute van baie studente en grootmense. By Augusta de Wit word b.v. gesê: ‘Diepdenkende, skoondigterlike persoonlikheid, in volmaakte ewewig. Haar egtheid steeds van 'n meevoerende krag.’ En verder: ‘Haar konsentrasie op dié verborge krag eensklaps sig openbarend in onbegrepenheid of by sterke reaksie, maak haar meesteres in ons genre...’