wat oortuig is dat Andries Homan nooit vir hom sou kon kers vasgehou het nie. Met seldsame suiwerheid het Van Bruggen die godsdienstige ‘diepsinnighede’ van die ouderling weergegee. Daar is geen sweem van spot in die uitbeelding nie. Maar telkens voel ons 'n huiwering om die mondhoeke as die ouderling so humoristies-naïef redeneer. 'n Enkele staaltjie: ‘Ek sê alles word so bestier van Hoërhand, en of nig Walla die afkooksel van dagga of versterkdruppels op 'n kelkie wyn vir ou Tannie ingee - as die gesette tyd daar is, moet 'n mens hensop.’
By die sterfbed kry Basson geleentheid om sy waardigheid as ouderling te laat gevoel en hy steek eers pyp op as alles verby is. Maar wanneer hy aanstaltes maak om te vertrek moet hy ontdek dat die donkies met die kar weggestap het. Hy volg die spore van die eerste bult na die twede, maar gewaar hulle nie. Met sy gedagtes in hoër sfere het hy die soektog begin, want die sterfgeval het hom diep geroer. Maar allengs maak die vrugtelose soekery hom tog kriewelrig en per slot van sake blameer hy... Andries Homan, wat hom 'n gat in die kop gepraat het oor die donkies. Eindelik sien hy Meester se Ford oor die bult kom.
Maar nou kry sy hoogmoed 'n nekslag, want aan die stuurwiel sit .... Andries Homan ‘met 'n glimlag oor sy kakebeen’!
Dat sy aartsvyand, of ten minste sy vernaamste mededinger, wat hy nog onlangs bekla het omdat hy geen ryding het nie, vir hom, die ouderling, hier in die stowwerige pad te voet moet kry - so 'n vernedering is darem te erg!
‘Die ouderling sit langs die vrederegter agter die windskerm, terwyl die motor vorentoe snor. Org Basson kan gladnie met sy swaer Andries Homan gesels nie. Dis of sy tong verstyf, sy gedagtes absent en hyself gebreek is.....’!
En hiermee eindig een van die beste verhale wat Van Bruggen ons nog gegee het. Die naywer en afguns van twee plattelandse waardigheidsbekleders is met die hand van 'n meester geteken. En die staaltjies van die eenvoudige ouderling se ‘studiekursus in die godgeleerdheid’ is so treffend dat Org Basson meteens op onvergetelike wyse gekenmerk staan as tiepe van die onontwikkelde plattelandse kerkraadslid. Ons het geen ander skrywer wat hierdie soort boere so kan laat leef en so kan laat praat nie. Van Bruggen het hulle lief, en deur sy warm-menslike meegevoel kan hy hulle aanstelleryties en gewigtig-doenery met die vergoelikende glimlag van sy humor betrag.
Die orige ses verhale van hierdie bundel bevat ook verrassende skoonhede, maar staan seker nie op dieselfde plan as Org Basson nie. In Vrouestemreg word ons weer getref deur die gemak waarmee die skrywer die