Hierdie lyding word intenser omdat mens hier met die lotgevalle van 'n hele volk te doen het. 'n Volk gehard in die wapenstryd dog salig onbewus van 'n kultuurstryd wat daeliks meedoënloos sy slagoffer opeis. Hierdie hulpeloosheid wat veroorsaak word deur die te kort aan geld is benoudend angsaanjaend omdat ons bewus is dat die kanse vir ewig verbyvlieg en die volk ongemaak bly. Metterwyl vind daar ook nog 'n denasionalisering plaas deurdat die ander kultuur so magtig sterk kan inwerk. Dis om 'n nasie op die regte volksweë te kan lei wat u met aardse besittinge geseën is. Hier bied die geleentheid hom pragtig aan, en daar word nie veel van u geverg nie omdat almal hulle luttele deeltjie bydra. Moet nie op 1 Junie agteruit staan nie; ag die geringste stuiwertjie nie te min nie. Sonder geld is selfs die mees entoesiastiese hand lamgeslaan. Sal u 2/6 oorsaak wees dat hier in S.A. oor 200 jaar 'n vreemde Kultuur bloei, terwyl miskien uself, of u vader, of u grootvader hierdie land van ons help beskaaf en deur bloedsopoffering help vry maak het? Hoe moeilik die tyd ookal mag wees, ons weet dat volksliefde vader, moeder en kind sal noop om iewers 'n ietsie af te knyp vir die opbouing van die F.A.K.-Kultuurfonds.
Medeafrikaners, materialiseer u volksliefde op 1 Junie, in die vorm van 'n klein bydrae.
Vir die hartelike samewerking van elke Afrikaner in elke stad, dorp of plaas in Suid-Afrika wil die Federasiebestuur by voorbaat sy innige dank betuig.
Namens die Uitvoerende Komitee,
FEDERASIE VAN AFRIKAANSE KULTUURVERENIGINGE,
I.M. LOMBARD, Alg. Sekretaris.
Bus 3686,
Johannesburg.