| |
| |
| |
P.A. HENDRICKS: HOUTSNEDE, ST. NICOLAASKERK, AMSTERDAM.
| |
| |
ST. NICOLAASKERK, AMSTERDAM.
| |
| |
| |
Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere
DEEL 3. No. 1. PRETORIA. FEBRUARIE 1931
| |
Die Stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap.
13 desember 1905-13 desember 1930.
OP 13 Desember 1905 is in Pretoria die Afrikaanse Taalgenootskap gestig. Dis die begin van die georganiseerde beweging wat in ons letterkunde die Twede Taalbeweging genoem word. Dis maar vyf-en-twintig jaar gelede en 'n kwarteeu is baie kort in die geskiedenis van 'n volk, maar as ons terugkyk op die afgelegde baan, dan voel ons dat dit van pas is om die gebeurtenisse van daardie dae, hoe nietig party mag lyk, in herinnering te bring. Alles gaan in die laaste tyd met so'n versnelde pas dat 'n mens die dag van die nietige
GUSTAV S. PRELLER.
begin nie na behore waardeer nie. Eers wanneer 'n mens na die vordering op elke terrein kyk, besef 'n mens watter groot diens die eerste baanbrekers ons taal bewys het. Die leiers het gedroom van 'n letterkunde; ons kan vandag op een wys en hoe nietig hy ook mag wees as ons hom met absolute standaarde meet, hy is ons s'n en ons is trots op hom. Amptelik het ons taal lankal die voorgestoelte ingeneem en as daar af en toe rede is om skaam te voel dat ons op kulturele gebied nog baie papbroekerig is, dan weet ons dat alles net van onsself afhang.
Na aanleiding van die vyf-en-twinste verjaardag stigting van Afrikaanse Taalgenootskap het ek die 1905-leggers van ‘De Volkstem’ deurgegaan om aan die hand daarvan enige feite bymekaar te bring. Een ding is seker en dit is dat die hele stryd in die kolomme van ‘De Volkstem’ afgespieël word, want mnr. Preller was assistent-redakteur van
| |
| |
daardie koerant en hy het gesorg om sy lesers goed op hoogte van sake te hou.
Die aanleidende oorsaak van die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap was die toespraak van Onse Jan (J.H. Hofmeyr) op 6 Maart 1905 voor ‘Ons Spreekuur’ op Stellenbosch. ‘Is 't ons Ernst?’ het hy gevra. Hy het nagegaan hoe die toestand op taalgebied in die staat, die kerk en die skool is. Dan vat hy die strekking van sy rede só saam:
‘Is 't ons Ernst? Ernst met wat? Ernst met ons beweren, met het beweren van zo velen, - dat zij, dat wij, de miskenning, verguizing, minachting, vertrapping van onze Taal werkelik gevoelen, die betreuren, verlangen onze Taal op te heffen, in eer te herstellen en al wat in òns vermogen is daartoe bij te dragen? Of is het bij ons, of bij velen onzer, slechts gekunsteldheid, femelarij, gehuichel, slechts “aanstellings”, en “ons-maak-maar-zo-geschiedenis”? Of, is ons hart wel op de rechte plaats, maar zijn wij zelf te lam, te lauw, te pap, te zeer bezield met 'n flauwe Jan-Salie-geest, om in deze onze plicht te doen?’
Hy het sy volk voor die gereg laat verbygaan om op seker euwels te kan wys, maar hy het al die tyd die oog op Nederlands gehad. Aan die anderkant het hy 'n lofsang op Engels gehou, wat hier minder van pas was. 'n Mens mis daarin die regte leiding, geen duidelike rigting word aangedui nie.
Hierdie toespraak het van 5 April, in drie agtereenvolgende stukke in ‘De Volkstem’ verskyn. Van 19 April tot 14 Junie, in vyftien uitgawes, is Preller se beroemde stuk: ‘Laat 't ons toch Ernst wezen!’ in die blad afgedruk. Die stuk is in Nederlands geskryf, maar dra 'n sterk Afrikaanse kleur. Die skrywer was nie bang om suiwer Afrikaanse vorme oor te neem nie. In die begin reageer hy effens teen Hofmeyr se stuk en dan kom hy tot die kern van die saak:
‘Allen spreken wat we nu kennen als Afrikaans, terwijl de overgrote meerderheid, insluitende al de onverschilligen, iets schrijft dat bestendig koers houdt tussen het Nederlands der scholen, het Afrikaans “zo as ons hom praat”, en een soort van Engels.’
Ongelukkig moet Afrikaans hieronder ly, want ‘in dat Afrikaans, diezelfde “kombuistaal”, dat “koeterwaals” of dat “patois” of wat men het ook al noemen wil, schuilt het geheimzinnige taalorganisme dat hier leeft en aardt, en hoe eerder Afrikaners dat inzien, hoe beter.’ Hy wil die jongeres daarop wys, ‘dat het niet ene doodzonde is wanneer zij, om uiting te geven aan het gevoel dat daar in hun binnenste opborrelt, zich op verstandige en verstaanbare wijze bedienen van diezelfde spraak die hun de hele dag zo maklik, licht en lustig op de lippen zweeft, instede van met hun gedachten en al te verdwalen in een harnas waar zij te klein voor zijn - of dat voor hen te groot is’. Dan kom hy tot sy vername stellings.
| |
| |
| |
I.
‘De taal die in een land leeft, die in het volk wortelt, heeft in dat land en onder dat volk de meeste kans op voortbestaan, en laat zich niet uitroeien dan met uitroeiing van het volk waarin ze leeft.
De geschreven taal van enige nasie regelt zich onwillekeurig, of behoort zich te regelen, naar de gesproken taal van die nasie; anders lopen de twee naderhand zó ver uit mekaar dat zij feitelik afzonderlike talen zouden worden.
| |
II.
Afrikaans wortelt diep en leeft gezond in de Afrikaner nasie.
Geen andere taal doet hetzelfde.
Onze schrijftaal verschilt zover van onze spreek-taal, dat de gros der Afrikaners het geschrevene slechts met moeite verstaan en het zelf nagenoeg nooit schrijven.
| |
III.
Daarom heeft Afrikaans in Z. Afrika de grootste en beste kans op voortbestaan.
Daarom behoort zich onze schrijftaal te wijzigen naar onze spreektaal.’
Hy gaan verder na wat 'n taal is, wys op voorbeelde uit die geskiedenis waar hulle die volkstaal nie kon uitroei nie, herinner aan die vrugtelose pogings wat in ons land aangewend is om Nederlands in ere te herstel en haal 'n voorspelling van president Burgers aan ‘dat hier eenmaal in Z. Afrika een taal gesproken zou worden, die noch Hollands noch Engels, maar Afrikaans zou zijn.’ In fors beeldende taal wys hy daarop dat Afrikaans ‘onuitroeibaar’ is, ‘hij biedt het hoofd aan opzettelike vernieling, hij draagt lijdelik vriendelike verdrukking, hij groeit van Kaappunt tot aan de Zambesie,’ en hy eindig die paragraaf met die volgende:
‘In het Afrikaans alleen is de Afrikaner in staat met de meeste kracht weer te geven wat er in hem omgaat, zijn natuurlikste gewaarwordingen, zijn innerlikste gedachten, zijn diepste gevoelens - het is de taal die ook bij uitnemendheid behoort te wezen het voertuig zijner op papier geschreven gedachten.’
As joernalis weet hy dat hy in Nederlands nie die hart van die Afrikaner raak nie. Hy herinner aan die duisende goedkoop Afrikaanse boekies wat die Patriotters van die hand-gesit het; toe het die mense leer lees, maar dit was in hulle taal. Daarom vra hy tereg:
‘En, waarlik waar, is 't ons Ernst? Is 't ons ernst met de koers waarin we de lezende en schrijvende minderheid van onze nasie drijven? Is 't ons
| |
| |
ernst met de bestendiging van een volslagen onmogelikheid? Is 't ons ernst met de verwachtingen die we daarvan koesteren?’
Hy gee verskeie briewe wat ‘De Volkstem’ byna daagliks ontvang. Die is byna voor-die-voet in 'n treurige koeterwaals. Die mense behoort daarom in Afrikaans te skryf, maar hy maak verskil tussen verskillende soorte Afrikaans. Hy wil die vorm kies waar dit die suiwerste gepraat word, ‘en dit is de taal van de Vrijstaat en het Transvaalse Hogeveld’. Hy is verder teen die Patriot-spelling en wil hê dat hulle hul moet hou ‘aan de vereenvoudigde Nederlandse spelling waar er geen verschil is op te merken tussen de Afrikaanse en Nederlandse uitspraak.’
In Transvaal word die vereenvoudigde Nederlandse spelling al ‘tien jaar lang’ gebruik, maar ‘nu is 't onze tijd om nog een stappie verder te gaan’. Dan formuleer hy sy standpunt teenoor Nederlands:
‘Als overgangs maatregel, totdat het Afrikaans algemeen geschreven wordt, omschrijven we onze gedragslijn: Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen.’
‘De zoveul mogelik beschaafde taal’ wat in Suid-Afrika deur ‘joernalisten, auteurs en predikanten’ geskryf word, ‘is te stijf, te aanstellerig en te koud voor ons volk.’ Daarom is sy versugting: ‘... laat er toch harmonie komen tussen Volk en Taal.’ Hy raai jongmense aan om hulle ernstig toe te lê op die skryf van suiwer Afrikaans en eindig met die volgende pakkende sin: ‘Het Afrikaans is onze Moedertaal, ons Landstaal, ons Volkstaal - help om het te maken tot onze Schrijftaal!’
Dit gee maar net 'n paar sinsnedes uit hierdie kragtige dokument, wat nounog die moeite werd is om deeglik bestudeer te word.
Op 17 Junie kom daar, onder die vorige opskrif, een stuk agterna, hierdie keer in Afrikaans. Hy wou met sy studie ‘die goeie bestaansreg van onze Taal... perbeer bewijs’. As sy landgenote ‘die taal lief het wat ons 'n aparte Nasie maak, ons zo gou molik moet beginne om te lees wat daar in die taal geschrijf wordt, om zodoende diegene aan te moedig wat dit schrijve.’ Hy maak melding daarvan dat hy sedert sy stukke verskyn het briewe ontvang het en daarin ‘wordt daarop aangedring om 'n bijeenkoms te beleg van belangstellende persone, waarop ons 'n Afrikaanse Taal Genootskap kan stig om daadwerkelik op te tree ver die handhaving van wat ons reken dat reg is. Hulle moet ‘'n schoot o'er die Zaak gezels’, ‘o'ereenkom o'er die spelling’, propaganda ‘met woord en daad maak’ en ‘voeling hou met voorstanders’ in die Kaapkolonie en Holland.
| |
| |
Hy vra belangstellendes om voor 1 September aan hom te skryf, as hulle lid wil word. 'n Genootskap word in die vooruitsig gestel en die doel daarvan uiteengesit.
In dieselfde nommer van die blad word 'n prysvraag vir die beste oorspronklike Afrikaanse storie uitgeskryf. Dit moet voor 1 Augustus ingestuur word.
Van nou af verskyn daar verskeie briewe oor die saak. Die eerste is deur mnr. I. van Heerden, die latere sekretaris van die A.T.G. Hy wil sy naam op die lys hê. As daar 'n ‘Ou Twak’ is wat nie in organisasie glo nie dan raai hy hom aan om by 'n miershoop te gaan sit en na hulle te kyk. Geesdriftig klink dit verder: ‘Ons gaan Afrikaans verbrands 'n taal maak, as dit nog nie een is nie!’ en aan die slot: ‘... 'n man krij sommer lus om uit te wei o'er al die kwessies van die dag as jij weet jij kan jou zê in jou eie taal zê.’
Later word van 'n brief van die studente op die Teologiese Kweekskool op Potchefstroom melding gemaak: hulle gaan van nou af Afrikaans skryf en algemeen handhaaf. H. Visscher laat hom teen Afrikaans hoor en hoop dat die Kongres ‘de Hollandsche taal als volkstaal (zal) handhaven’, maar hy word so warm aangeval o.a. deur J.P. la Grange Lombard Jr. (in Nederlands) dat hy later die ‘misverstand’ verduidelik en 'n sterk voorstander van Afrikaans word.
J. Lion Cachet, dr. J.D. du Toit (Totius), dr. F. Postma en J. Kamp laat hulle gesamentlik ten gunste van Afrikaans hoor en op die jaarvergadering van onderwysers laat dr. M.S. Lingbeek hom ook uit ten gunste van die volkstaal. Daar word later aangekondig dat Preller se stuk, voorsien van 'n voorwoord deur dr. F.V. Engelenburg, as brosjure uitgegee sal word. (Van hierdie werkie, uitgegee onder die sub-tietel: ‘Gedachten over de Aanvaarding ener Afrikaanse Schrijftaal’ kon ek tot my spyt geen kopie in hande kry nie.)
Op 5 Julie verskyn daar onder die opskrif: ‘'n Mooi Brokkie’ ‘'n Winternag’ deur ‘Klaas Vakie’ (E.N. Marais) soos dit uit ‘Land en Volk’ oorgeneem is. Preller is geesdriftig oor hierdie gedig en hy meen dat ‘Klaas Vakie’ een van die manne is ‘wat gaan beslis om Afrikaans te maak tot schrijftaal.’ Nico Hofmeyr betuig ook sy instemming met die kongres, ‘omdat ik vast geloof dat de Afrikaanse taal 'n toekomst heeft.’ Ook di. L.E. Brandt en J.A. du Plessis is ten gunste van Afrikaans. F. Postma (nie dr. Postma nie, soos later uitdruklik gesê word, want in privaat briewe word hy aangeval) is teen Afrikaans, want die skryf daarvan is net ‘verfijnde gemakzucht’ en ‘wil men het nageslacht een patois opdringen als schrijftaal, dan is het Hollandsch, hier te lande ten minste, ten doode opgeschreven.’ Hy sê verder die mense sal aan Engels met sy mooi letterkunde die voorkeur gee. Die voorstanders sal
| |
| |
egter niks uitvoer nie, ‘want bij een poging zal het blijven moge die ook een eeuw duren.’
Preller antwoord direk in 'n voetnoot. Afrikaans is die gevolg van ewolusie en die voorstanders van Afrikaans sien juis dat Hollands in Suid-Afrika agteruitgaan. Hy wil nie die pad vir Nederlands-skrywe toemaak nie, maar stel die vraag: ‘Wie sê dat daar o'er 'n eeuw geen “lezenswaardige literatuur” in die Afrikaanse taal zal wees nie? 'n Pessimistiese dogmatiek of 'n dogmatiese pessimisme?’ ‘Belangstellende’ (Preller?) wys daarop dat Ons Land so hewig geskrik het vir die ‘Afrikaanse Taalbeweging’ in die Noorde en dan hekel hy die standpunt van daardie blad wat nog met vereenvoudigde spelling sukkel wat ‘hier al tien jaar en meer’ gebruik word. Hy is nie vir Afrikaans, omdat hy meen dat die hele taal en nasie gered sal word nie, ‘maar dit zal 'n hele stuk scheel wat ons beter zal kan schrijf as nou, en wat ons ook beter kan schrijf as wat ons Engels schrijf’.
Daar verskyn nog ander geesdriftige briewe, meestal in Afrikaans. Mooi is egter 'n Nederlandse brief van G. Leliveld. Hy is teen ‘Patterjots’, maar meen dat Nederlands geen toekoms in Suid-Afrika het nie en verder: ‘Spreekt dus al mijn hart voor Nederlands, mijn verstand zegt in Afrika, Afrikaans!’
Op 15 Julie verskyn 'n berig dat genl. C.R. de Wet laat weet het dat hy vir die Genootskap is.
Van nou af word daar meer georganiseer. In Bloemfontein is daar 'n voorlopige kommissie, wat bestaan uit: Ds. W. Postma, Joh. Visscher en D.F. du Toit (Oom Lokomotief). In Transvaal bestaan die voorlopige kommissie uit dr. N.M. Hoogenhout, dr. M.S. Lingbeek, N. Hofmeyr, E.N. Marais en G.S. Preller. Daar word verder berig dat daar in Potchefstroom reeds 'n vereniging bestaan.
Teen die end van Julie verskyn in ‘De Volkstem’ die rede wat dr. Lingbeek op die jaavergadering gehou het onder die tietel ‘Nuttige wenken over de Toekomst onzer Taal’. Van nou af verskyn daar meer en meer Afrikaanse onderskrifte by Nederlandse briewe, al handel hulle nie oor taalaangeleenthede nie.
Interessant is die slot van die oproep van die Vrystaatse kommissie soos dit eers in ‘De Vriend’ verskyn het. Dis 'n rympie deur ‘Blikoor’, wat deur Preller se standpunt ingegee is:
‘Op die skole goeie Hollands leer;
Afrikaans met die pen en die mond hom weer!
Terwijl met die lees, ons albei hanteer,
En op die manier krij ons net wat ons begeer!’
| |
| |
Deur kort-kort in ‘De Volkstem’ te meld hoeveel opstelle reeds ontvang is, het Preller die publiek warm gehou. Aan die begin van Augustus kom die verblydende nuus dat daar agt-en-neëntig stukke ontvang is en byna almal in Afrikaans. Daarom word daar een eerste en nie minder as vyf twede pryse toegeken nie. Mnr. A.J. Willemse van Middelburg, Tvl., het die eerste prys behaal met 'n stuk getietel ‘Vroe'er’. Twede pryse is toegeken aan mevr. A.T. Spies van Dundee, mej. L. Pretorius van Pretoria, B.P.A. van Niekerk van Germiston, Jan Hend. Coetzee van Ermelo en W. van Rhijn van Middelburg, Tvl. By die verslag word 'n hartlike raad aan aspirant-skrywers toegevoeg.
'n Lys met die name van prominente persone wat lid van die Genootskap wil word, bevat o.a. dié van genl. en mevr. J.C. Smuts, H. Visscher, ds. Paul Roux, A.J. van der Walt, C.J. van Rijn en J.H. Coetzee. Verder is een opskrif al ‘Die Afrikaanse Taalbeweging’. Omstreeks die tyd het dr. Hoogenhout, Visscher, Lingbeek en Preller in ‘De Volkstem’-gebou bymekaar gekom. Dr. Hoogenhout en Visscher is gevra om 'n leidraad vir spelling op te trek. Op 30 Augustus word ‘Hoe lang?’ en ‘Môre’, twee gedigte van ‘Stoffie’, afgedruk. Dis, sover ek weet, altwee deur Eugène Marais, al verskyn hulle nie in sy Gedigte nie.
Die briefwisseling oor die Genootskap en Afrikaans het nog een strook aangehou. So laat ds. P.C. Snijman en vyftien ander uit Steynsburg weet dat hulle ook wil saamwerk. Verder antwoord Preller prof. De Vos op sy ‘Open Brief aan de Voorstanders van 'n Afrikaanse Taalgenootskap’, soos dit in ‘Ons Land’ verskyn het. Hy het dit oor die versnippering van kragte, maar Preller sê: ‘... as daar nou uit dié gedagte-wisseling tussen ons en ons volk, te voorskyn kom - so's'n feniks uit die as - 'n goeie, bruikbare, liewe taal, wat ook nie meer totaal sonder sij eie letterkunde is nie - wel, dan denk ons dat ons kerk en ons skool (of die staat en die Universiteitsrade) ook wel die reg sal kan erlang om dit te gebruik, ver die goeie en grote oogmerke wat ieder op daardie gebied weer nastreef.’ ‘Vaalswaër’ (I. van Heerden) trek in dieselfde uitgawe flink te velde teen 'n stuk in die kerkblad, ‘De Vereeniging’. Hy wil hê die dominees moenie ‘spreek’ nie maar ‘praat’ en verder: ‘Dit verwonder mij baje daë as ik sien hoe ons al-immer 'n ding van die end af aanpak, dat ons nog so eendragtelik tweedragtig is!’ Op 'n speelse wyse moedig hy Preller aan om ook iets te sê en die voetnoot ontbreek nie.
Op 16 September verskyn 'n lang stuk van adv. J.H.H. de Waal uit ‘Ons Land’. Daarin trek hy te velde teen 'n stuk uit daardie blad, nl. ‘Vecht niet in uw eigen kamp’.
Teen die end van September het Hoogenhout, adv. N.J. de Wet, E.N. Marais, Visscher, I. van Heerden en Preller bymekaar gekom en die spelling
| |
| |
en statute bespreek. Omdat daar 'n twee maande lank min oor die kongres verskyn, skryf A.J. van der Walt teen die end van Oktober 'n lang brief oor die saak. Hy is al net warm. Intussen word stukke oor Afrikaans uit ander tydskrifte oorgeneem o.a. uit ‘De Unie’, verder een van dr. R.A. Kollewijn en 'n stukkie uit Coornhert (16e eeu) se werk.
Op Woensdagaand, 13 Desember 1905 word eindelik die ‘Kongres’ onder voorsitterskap van dr. Hoogenhout in ‘De Volkstem’-kantoor gehou. Daar was 'n dertigtal meestal plaaslike persone teenwoordig, o.a. H.C. Jorissen, A.J. van der Walt, genl. Tobias Smuts, H.C. Bredell, S.W. Pienaar, adv. G. Wolmarans, Joh. Visscher, N.J. de Wet, C. Pienaar, G. Otto, H. Visscher, F.T. Nicholson, I. van Heerden en Preller. Briewe en telegramme van Totius en adv. de Waal is voorgelees.
Hoogenhout het in sy toespraak baie klem gelê op die leer van Nederlands, die moeder ‘van ons eie Afrikaans en die bron van krag,’ maar ‘in ons omgang wil ons Afrikaans die eer gee wat dié toekom’; ‘... dáárom wil ons ook perbeer om die Afrikaners wat Afrikaans wil skryf, aan te moedig, om sodoende ons taal sterk te maak en mettertijd 'n literatuur.’ Adv. De Wet wil Nederlands ook nie in die wiele ry nie. Hy herinner aan Preller se standpunt: ‘Afrikaans skrijf, Hollands leer en albei lees.’ Hulle moet net nie skaam wees om Afrikaans te gebruik nie. Hy verseker: ‘dat dit g'n skande maar 'n eer is om Afrikaans te besig in al die omstandighede van hul lewe.’
Mnr. S. Griffiths, genl. T. Smuts, J. Visscher laat hulle ten gunste van Afrikaans hoor, daarom moet 'n Genootskap gestig word. Visscher waarsku teen plathede wat die ontwikkelde deel kan vervreem. Hy wil skrywers aanmoedig om so'n meesterstuk in Afrikaans te kry dat alle kwessies meteens opgeruim sal word. Net mnr. Oost het hom teen Afrikaans uitgespreek, want ‘hy sien geen kans om dit te leer nie’. Lank is oor 'n tydskrif gepraat. Daarna is die statute vir een jaar aangeneem. As bestuurslede is gekies: dr. Hoogenhout, A.J. van der Walt, H. Visscher, N.J. de Wet, I. van Heerden, F.T. Nicholson en Preller. Hulle het die reg gehad om ander by te voeg en toe is die volgende uitgenooi: Jorissen, dr. D.F. Malan (Montagu), dr. J.D. du Toit (Potchefstroom), S.W. Pienaar, ds. W. Postma (Bloemfontein), Joh. Visscher (Bloemfontein), J.S.M. Rabie (Pietermaritzburg), en ds. P.C. Snijman (Steynsburg). Die bestuur moes dus die hele land verteenwoordig.
Volgens mededeling op die Kongres het 300 mense uit die Transvaal hulle instemming met die beweging betuig en omtrent 100 uit die Vrystaat.
Dis 'n kort en onpartydige samevatting van wat daardie dae volgens die blad, wat gedeeltelik onder leiding van mnr. Preller gestaan het, gebeur het. Een ding staan soos 'n paal bokant die water: Preller het in sy beroemde
| |
| |
LEIDSCHEGRACHT, AMSTERDAM.
| |
| |
stuk logies geredeneer en daarna doelbewus gehandel. Daar was geesdriftige medewerkers en die paar teenstanders, wat hulle laat hoor het, is van afdoende antwoorde gedien. Hulle het in die toekoms van Afrikaans geglo en daarom het hulle onvermoeid opgekom vir die belange van die volkstaal. In die verskiet, ‘oor 'n honderd jaar’, het hulle 'n eie letterkunde gesien. Maar Preller het besef dat mooi besluite, lang betoë en hartstogtelike briewe hulle nie sou bring waar hulle wou en moes wees nie, daarom plaas hy in ‘De Volkstem’ van 13 Desember sy eerste studie oor Piet Retief. Skaam was hy nie vir daardie eerste beskeie poginkie nie, maar ook nie tevrede nie, want sedert daardie tyd is die werk in die verskillende drukke meer en meer uitgebrei, sodat dit vandag een van die beste lewensbeskrywings in Afrikaans is, beide wat die vorm en die inhoud betref. En wie twyfel vandag nog daaraan dat dade soos ‘'n Winternag’ deur Eugène N. Marais (wat in Julie 1905 die lig gesien het), ‘Piet Retief’ deur G.S. Preller (wat op 13 Desember 1905 begin te verskyn het) en ‘Die Vlakte’ deur Jan F.E. Celliers (wat in ‘De Volkstem’ van 12 Mei 1906 vir die eerste keer afgedruk is) in die taalstryd die deurslag gegee het?
M.S.B. KRITZINGER.
|
|