Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930
(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 290]
| |
Oor Boeke.Sy meesterstukGa naar voetnoot*) deur A.J. Bruwer.DIE aksievolle daadlewe van die vooroorlogse tydperk in ons geskiedenis het genoegsaam stof vir verhalende gedigte en al die handelingsmomente vir 'n nog ongeskrewe epos opgelewer; die bitterheid, die hoop en wanhoop, die brandende pyn van naherinnering is in ons letterkunde vertolk in lieriese woordkuns van afwisselende toon en timber; maar dramatiek veronderstel 'n groter mate van smartbewustheid by die massa waaruit die kunstenaar sy klanke moet opvang. Sodra die massasiel sy lewensleed probeer opbou tot 'n eie filosofie, sodra hy deur konstruktiewe verklaring homself probeer ontworstel aan die ewige tragiek van die Noodlot, word die drama gebore. Dit is dan ook nie blote toeval nie dat Leipoldt, wat meer as iemand anders die massale vreugde en smart van ons nasiewording deurvoel het, wat meer as iemand anders die verskeurende twyfel tot positiewe lewensinhoud probeer herskep het - dit is nie toevallig nie dat Leipoldt in ‘Die Heks’ ons die eerste groot Afrikaanse drama geskenk het. Daarin sien ons die indiwidu wat met sy bloedwarm menslikheid vasgevang is in die raderwerk van 'n reusagtige masjien, die katolieke kerk, wat 'n onpersoonlike koud-masjinale pligsbetragting opeis van sy onderdele. En in die onwrikbare maggreep van die kerklike masjien vind die Kardinaal sy ondergang, terwyl 'n slotgebed om vergiffenis rokend warm bloeddrup uit sy siel. In ‘Sy Meesterstuk’ het A.J. Bruwer 'n soortgelyke motief behandel. Pierre du Plessis, 'n digterlike idealis, wat nooit enige beperking kon duld nie, en aan wie die Skoonheid in die gedaante van 'n vroulike droombeeld openbaar is, sit nou ingehok binne die vier mure van 'n bloeiende wetspraktyk en 'n fatsoenlike famielielewe. 'n Simpatieke begryper vind hy in Dr. Una de Waal, wat eweeens in haar mediese praktyk vergeefs soek na die sielsbevrediging, die lewensvolheid waarna haar hele hartstogtelike menslikheid verlang. 'n Buitengewoon inspirerende Beethoven-uitvoering wek in albei weer die onderdrukte gevoel van onvoldaanheid en ook die opstandige bitterheid teen 'n lewe van strak, verstarde konwensionaliteit. In daardie ontvanklike gemoedstoestand maak Pierre kennis met Mathilde, wat deur haar aanbiddelike skoonheid hom terugvoer na die dae toe hy sy voortvlugtige ideaal gesoek | |
[pagina 291]
| |
het in die bosse. Deur sy verkeer met Mathilde op die vakansieuitstappie na die Wildernis groei daardie begeerte tot 'n ontembare hartstog, terwyl die skoonheid-in-liefde of liefde-in-skoonheid 'n twede keer aan hom geopenbaar word en sy hele siel in beroering bring. Una se simpatieke aanvoeling word daadwerklike meevoeling, Pierre se stryd teen die bande van konwensie en teen sy eie onvermoë om alles op te offer vir 'n ideaal, word ook haar stryd. In sy besluit om te breek met die sleur van 'n skoonheidlose roetienelewe is ook haar aansluiting by Cortot se toneelgeselskap indirek gemotiveer.
‘Ek het my lewe verspeel, my roeping gemis: ek moes harlekyn geword het!’ is Pierre se wrange selfverwyt, nadat hy beurtelings herinner is aan sy voortvlugtige ideaal en sy opdringerige huweliksgeluk deur 'n besoek van Mathilde en daarna van sy vrou Marie.... In die volgende bedryf tref ons hom aan as 'n harlekyn in geselskap van 'n ander harlekyn in die kleedkamertjie van 'n Parisiaanse skouburg. Maar net so min as hy sy geweldig-stuiwende skoonheidsdrang kon smoor onder die stowwerige liasse van 'n drukke wetspraktyk, net so min kon hy dit doodlag en weg-ironiseer in harlekynspak. 'n Ou leermeester in die gehoor, miskien ook 'n onderbewuste visuele indruk van Mathilde onder die aansittendes.... en die ideaal van sy jeug besoek hom weer met wrede onverbiddelikheid. In hierdie toestand van onrustige twyfel, brandende verlange, en bittere sielsdisolasie, is dit weer Una wat hom deur haar wilskragtige lewensaanvaarding aanspoor tot die finale daad. Una besoek die twee ou Harlekyne in 'n morbiede vreugdetoestand wat psiego-analieties baie ooreenkom met die ekstatiese gelukslewing van Elsa in ‘Die Heks’. Daar fonkel 'n diaboliese lig in haar oë. Met die heldersiendheid en aanvoelingsvermoë van 'n artieste wat nie die lewe herskep het nie, maar die lewe geleef het, vra sy aan Pierre (Eerste Harlekyn): ‘Iemand gesien? Is dit sy met die oë so blou soos die bloesem van die bloureëntblom en met die lede so sierlik soos 'n ou Griekse suil?... Nouja, dan moet jy my vrolikheid verduidelik.’ Sy dans met die Twede Harlekyn, blykbaar iemand wat haar die lewe en die liefde vroeër in volheid aangebied het, deurboor hom met haar dolk, en juig met die primitiewe hartstogtelikheid van 'n natuurmens: ‘Ek het jou maar net 'n bietjie lewe waarin die rooibloed bruis, laat sien.... Op die as van sy liggaam en die ruïne van my eie lewe staan my siel altans nou seëvierend.’ Sy het haar hoogste triomf gevier in die kuns van uitdagende lewensaanvaarding. Pierre het die les van onvoorwaardelike selfoorgawe geleer. Sy praatoomblik in die lewe sal ook aanbreek: ‘Wanneer op die ruïne van my lewe, en van my liggaam, ook my siel triomfantlik tevoorskyn sal kom.’... As hy weer voor ons optree, is hy die wêreldberoemde skilder De Frontenac, maar nog steeds die soekende siel van vroeër: ‘Die “iets” wat daar vir my in kleure | |
[pagina 292]
| |
opgesluit lê is nog baie newelagtig en ontasbaar - dit het nog maar 'n baie onseker bestaan.’ Verder verklaar hy aan Consuelo (vroeër sy dogter, nou sy niksvermoedende leerlinge): ‘Ja, Juffrou du Plessis, dit gaan met my ook baie so dat daar oor 'n skilderstuk van my 'n waas van sielesmart lê wat die wat dit aanskou, nooit raaksien nie; dat die geboorte van my beste werk te danke is aan 'n skrynende wond diep in my hart...’ De Frontenac is rusteloos, senuweeagtig, soos Una ook was, want die grootste oomblik van sy lewe het ook aangebreek. Die ander gaste verskyn - Dr. Una, Mathilde e.a. Die onthulling van Mathilde se portret verwek die grootste ontsteltenis, daar volg 'n tafereeltjie van diepsinnige ontroering. In 'n delirium van skeppingsvreugde uit De Frontenac die dankgebed van 'n kunstenaar wat die skoonheid-in-liefde vir ewig vasgevang het op sy doek, maar die liefde-in-skoonheid en sy huweliksgeluk moes verbeur: ‘O Mathilde! Mathilde in die Woud! Vir die eerste maal na jare van sielelyding is jy werklikheid geword... Nog steeds is jou hart vir my soos die pad wat die digte woud inloop - maar jou vorm, jou goddelike vorm die het ek vir so lank ek nog hier mag wees!... Daar vertrek my koningin! Kyk! Kyk! Daar loop sy in al haar maagdelike skoonheid!.... Kyk, sy verdwyn in die woud. My God! En ek is alleen! Genade, Mathilde! Genade.... Consuelo, my oogappel! Vergewe my! Jou moeder sal ek om vergifnis vra.’
Hoe eenders en hoe verskillend Una en Pierre se hoogste momente. Daar is soiets van die Russiese Dostojewski in hierdie grimmige oorwinningsvreugde. Ons het baie oorsigtelik die ontwikkeling van die hoofmotief geskets. Marie en Consuelo is die tradiesie, die familiebande, die lewensgeluk waarvan Pierre hom moet losskeur. Pierre is die kunstenaarssiel wat sy diepste wese in 'n alledaagse sukses-lewe verloën, omdat hy nie die moed het om al die konsekwensies van kunstenaarskap te aanvaar nie. Hy sou graag met Mathilde (die Skoonheid) langs grasige weivelde van 'n rustige liefdelewe wil voortwandel, maar so sal hy die hoogste skoonheid nooit vind nie. In haar ongenaakbare skoonheid word Mathilde sy Deinee Theòs, wat met koue onverbiddelikheid reageer op elke poging tot gewoon-menslike omhelsing (pag. 56); sy bly die ewig-lokkende raaisel wat met Proteusagtige voortvlugtigheid in berg en bos en stroom sy greep ontduik (71, 76, 84, 85); sy is die Beatrice wat hom uit die smarte van die hel voer na die ligtende vreugde van artistieke meesterskap (88). As simboliese omkleding vir die Skoonheid is haar optreë pragtig-suggestief (vgl. die blomme en vlinders wat sy versamel, die hand wat sy seënend bo Pierre se hoof hou, die warmer menslikheid wat soms deur die koue masker van onverskilligheid gloei ens.); maar as mens kan sy ons nie bevredig nie. Haar onverskilligheid ten opsigte van musiek (21), haar koue gevoelloosheid (55), haar barre selfsug (83), strook nie heeltemal met die wonder-diepe altruïsme van haar slotwoorde nie. | |
[pagina 293]
| |
So ook is Mnr. Wells-Jones maar ‘'n ship that passed in the night’, tensy ons hom weer in die Twede Harlekyn terugvind. Dr. Bonn, die dorre psiegoanalietikus wat self nog nooit gedroom of geleef het nie, maar vermoedelik ander mense se drome met presiesheid kan ontleed; Mej. Elsa Hoffman met haar oppervlakkige lewensblyheid - hulle laat miskien deur kontras die twee diep-voelende en innig-lewende hoofkarakters in voller reliëf sien; anders is hulle maar saamlopers en saampraters deur wie Pierre toevallig aan Mathilde voorgestel is. So sou ons nog ander tegniese foute in die drama kan aanwys: Die nagtelike nabetragtingsdiensie na die Beethoven-konsert is 'n te gewaagde eksposiesie, wat selfs in daardie menslike miljeu onnatuurlik lyk; die skrywer spring baie vry om met sy ruimte - en tydsbegrippe, stel te hoë eise selfs aan 'n gewillige verbeelding, en verstoor daardeur dikwels die waarheidsillusie; die Harlekyne-tafreeltjie.... Maar waarom sal ons tegniese foutjies aanstip in 'n werk waarvan daar so 'n geweldige epies-lieriese bekoring uitgaan! ‘Sy Meesterstuk’ is miskien in meerdere mate dialogies opgestelde en verdeelde liriek as drama; maar juis daarom bevat dit brokkies spontane digterlikheid wat veel frisser aandoen as die digterlike leuentaal wat ons somtyds voorgerym word. Die verhaal van Pierre (pag. 38), die triomflied wat Una broksgewyse uitskater, die besitsvreugde en smart wat De Frontenac aan die end uitsnik - dis passages wat ons met 'n glimlag van blye voldoening lees en herlees. W.J.D.E. |
|