| |
| |
| |
Irma Stern.
DIE invloed wat die kuns van primitiewe volke, met name dié van die Afrikaanse Kafferstamme, op moderne Europese artieste uitgeoefen het, het reeds so'n omvang aangeneem, dat daar nie net opstelle, maar hele boeke oor geskryf word. 'n Dergelike beïnvloeding moet noodwendig vreemde aspekte vertoon, so diepgaand is die verskille tussen die twee kunsuitinge. En nie altyd getuig die sug om die werk van Kafferkunstenaars na te volg van gesonde verlangens by die moderne Europeane. Maar al te vaak openbaar dit 'n onvermoë om met die ou beproefde middels nog iets oorspronkliks te sê.
By die kunstenares oor wie ons hier skrywe, staan die dinge anders. Dit is nie 'n oor-versadiging, en bygevolg 'n onvermoë, wat haar dan dryf nie, dit is die drang om te getuig van die eienaardige skoonheid van die swart menseras wat haar, altyd deur gesiel en met onverdrote ywer laat arbeid. En só wil sy getuig, dat sy haar eie voordrag afstem op die simfonie van kleur en lyn van die Kafferkuns self.
'n Mens sou met 'n sekere reg van Irma Stern se werk kan sê: dit is veredelde Kafferkuns, só veel het die karakter van haar kuns gemeen met die van die inboorlinge. As 'n Europese egter, en as 'n leerling van Max Pechstein in die besonder, verwerk sy welbewus en beheers die naïewe kleurekoppelinge van wit en swart en roodbruin tot magtiger komposiesies, haar ryke palet staan haar daarby ten dienste, die baie skakeringe van blou en geel en groen wat die Kaffer selde of nooit kon aanwend nie.
Met haar kunstenaarstemperament hoef sy slegs die inboorlinge te sien in hul natuurlike omgewing, in hul drag van eie vinding en kleur, om die tonaliteit van so'n geheel te besef. Iedere andere kunstenaar sal dieselfde groot kontraswerkinge en afstemminge kan vind. Maar 'n eie stempel dra die werke van Irma Stern deur die verbintenis van die kunstenaarsblik van 'n kultuurmens met die primitiewe aanvoeling van lyne en kleure van die natuurmens. Die probleem is steeds: die nuwe kleure, die verfynde viesie só te laat saamstem met die simpel ou opvatting, dat altwee mekaar deurdring en tog ook intak bly, sodat die geskape werk in sy geheel verryk en veredel word deur altwee skeppende faktore. Daardie tweede element in haar kuns, die naiewe, primitiewe aanvoeling, het die kunstenares van haar prille jeug af aan kon ontwikkel. Sy is gebore te Schweizer-Reneke, waar sy haar jeug deurgebring het temidde van die inboorlinge, en reeds vroeg het sy die drang gevoel om te teken. Haar
| |
| |
onderwerpe was plante en diere uit die land van die Kaffers. Die Boere-oorlog het die familie vir 'n paar jare na Europa verjaag, maar in 1903 kom hulle terug. Toe die wêreld-oorlog in 1914 uitbreek, was hulle juis weer in Berlyn, en noodgedwonge moes hulle bly tot in 1919. Daardie tweede lang verblyf in Europa was 'n seën vir die jong kunstenares, omdat dit haar gebring het tot die bewus-wording van die moontlikhede wat Afrika met sy oorspronklike bevolking aanbied, en haar die weg gewys het tot die ontwikkeling van 'n eie styl. Verskillende kunstenaars, soos Gari Melchers, Martin Brandenburg, maar veral Max Pechstein, het haar geleer om te kyk na groot waardes, om te werk met sterk selfstandige kleurevlakke, om te teken met fors, raak lyne. Teruggekeer na haar geboorteland, gaan sy hard aan die werk. Telkens weer voel sy die behoefte om die Kafferlewe in allerlei streke meer intiem te leer ken, om só die kennis wat sy in haar jeug verwerf het te verdiep en veelsydig te verryk. Dit was studiereise in die volste sin van die woord; haar dagboek getuig op elke bladsy van die inspanning wat sy haar getroos het, met steeds die éne doel voor oë: haar kuns, gewy aan die uitbeelding van die swart mense se lewe. 'n Fragment uit hierdie dagboek staan afgedruk in die 51ste deeltjie van die serie ‘Junge Kunst’ (Klinkhardt en Biermann, Leipzig, 1927), wat Max Osborn oor Irma Stern geskryf het. Sy verdien 'n plek in daardie serie; haar tentoonstellings in Suid-Afrika sowel as in die buiteland het seer die aandag getrek. Hierdie jaar het die kunstenares van haar werk geëksposeer in Parys, Berlyn en Amsterdam, en by die oorvloed van produksie in Europa het tog haar werk op nuut verdiende belangstelling gewek. Sy is getroud met Dr. Prinz, die professor vir Duits aan die Uniwersiteit van Kaapstad, en in hulle smaakvol ingerigte woning is haar ateljee 'n skatkamer vol sketse en tekeninge in kryt en potlood, studies
in waterverf, en talle van doeke in olieverf. Veral die tekeninge is dikwels pragtig, raak van tiepering, seker van karakter, swierig van lyn. Daarvan wil ons dan ook eers enkele eksemplare bekyk en bewonder.
Vereers die ‘Pondo-knaap’. Hierdie kop leen hom by uitstek tot die uitbeelding van die tiepe. Al die dele van die gelaat, al die lyne, van die kake, die voorkop, die neus, spreek onmiskenbaar van die ras; grof is dit as 'n mens dit afsonderlik bekyk, maar die geheel getuig van iets fyns, wat gladnie dierlik is nie, eerder dromerig peinsend, met 'n vleug van heimwee in die oë. Daardie laaste lewensgevoel is nie oppervlakkig aan hom toegeskrywe deur 'n oorgevoelige moderne mens nie, daar is niks van die dweepsieke romantiese sentiment vir alles wat maar in die natuurstaat verkeer nie, dit is net maar vlugtig aangedui, nouliks voelbaar, maar dit behoort des te egter tot die wese van die swart jongeling. Uiters sober is die hele tegniese uitvoering, met die geringste middele word elke effek bereik, elke spoor van geraffineerdheid ontbreek; en
| |
| |
juis dit openbaar die volkome beheersing van die onderwerp, wat eers na tallose studies kan bereik word.
Veel navranter is die tekening van die meisie wat besig is om haar kop te reinig. Sy is grof en houterig, maer-armoedig, haar hare is stug, die rustende hand lyk na 'n klou. Een van die klein maar nie onbelangrike aardse sorge hou haar aandag in beslag. Sy is nie 'n koninklike dier nie, maar in mekaar gedronge, haar liggaam verskuil agter die besige arm, soos 'n aap sy taak sou verrig. Daar is hoegenaamd niks aan haar wat 'n romantiese natuur-digter sou kan inspireer nie; maar tog ook in haar lewe die mens, 'n natuurmens. Dit skyn of sy, in haar misère, maar tog verveeld, vol minagting neerkyk op diè wêreld, wat minder beteken as die ongedierte in haar hare. Die tegniek is hier feller, die kunstaal bytender as in die vorige tekening; dit laat dink aan die geniale sketse wat Steinlen gemaak het van die Paryse straattiepes.
So is daar talle van tekeninge wat ons sou wil reproduseer en bespreek, as dit nie die ruimte van ons opstel sou verbreek nie. Om so te sê elke kant van die inboorlinge-lewe het Irma Stern bekyk, bestudeer en op die papier vasgelê. Sommige studies is besonder snel gemaak, en dit gee net materiaal van klein, afsonderlike houdings en bewegings, wat dan verwerk kan word in die rustige werkplaas. Veral nuttig is daarby die moment-opnames van die ritmiese dans- en loop-bewegings, dikwels nie meer as 'n oomblik van labiele ewewig nie, wat die hele serie voorafgegane en nog volgende bewegings in homself bevat en aan die toeskouer suggereer. Met waterverf is soms 'n kleur aangedui, nie korrek op sy plek nie, maar wel op die korrekte plek in die geheue van wie dit later weer wil weet en gebruik. Almal getuig van onverdrote ywer, die eerste vereiste vir 'n groei en bloei ook op die gebied van die kuns.
Ons gaan nou oor tot die skilderwerk, wat uit die aard van die saak - dat is hier: die materiaal - uitvoeriger, meer deurwerk is as die tekeninge.
In elke onderdeel verantwoord is die skildery van 1929: ‘Die Pondomeisie, wat haar kopdoek ombind.’ Sy staan daar in 'n harde wêreld van hitte, droë okergeel en Engels rood tril in die son, wat rondom die lyf, omhul met 'n dubbele bedekking, beef en brand. Daar is g'n vreugde oor die sonskyn in haar gelaat nie, slegs neerdrukkende vrees vir die vlammende bedreiging. Die onbestemde vrees vir die son, wat die boompies op die heuwel verseng het, laat ook haar arms bedagsaam maar vinnig beweeg by die werk. Dit alles is beskrewe in helder, stoer taal, die penseelbehandeling hou die rouheid van die arme vas, ons kyk oplettend na die dierlike huid, g'n sweem van valse sentimentaliteit laat ons soek na eksotiese effekte nie.
Om te besef hoe edelaardig en eg hierdie aanskouing is, hoef 'n mens net te dink aan die beroemde skildery van Rembrandt in die Haagse Maurits- | |
| |
huis: ‘Die twee negers’. Hier is die lig Europees, Hollands, al is dit ook nog so misterieus, vergeleke met die harde droë lug van sommige streke en seisoene in Afrika; Hollands ook vergeleke met die tropewarmte van die oerwoud. Rembrandt se negers het hulle eie ligsfeer om hulle heen, wat van binne uit uitstraal, en wat die essensie uitmaak van hulle vreemde bestaan in die Holland van die sewentiende eeu. Hierdie lig is Rembrandt se skepping, daardie twee liggame is ingelyf by die rye van honderde figure wat sy werke bewoon. Hoe anders by Irma Stern. Haar figure, veral hierdie, is nie misterieus of deur 'n vreemde lig omskyn nie, hulle stap voort in hulle eie natuur, en dié is, veral in sommige dele van Afrika, droog en hard, sowel die lig as die skraal, armoedige plantewêreld. 'n Figuur geplaas in so'n omgewing openbaar nog iets anders as die weelde wat ons gewoon - of altans geneig - is om aan die lewe van die natuurmens te verbind. Dit getuig van 'n harde stryd om die bestaan, van lang togte deur 'n kaal wêreld, waardeur die spiere gestaal is, die liggaam gehard.
Besonder fyn van werking is die kop van die ‘Pondovrou in wit’ (1929), fors geskilder, beslis in die penseelvoering, bewus sober in die keus van die kleure, maar hoe raak en teer van ekspressie en stemming. Die smal wange, wat uitloop in die puntige kin, aksentueer die lippe se geslotenheid, die gepeins oor iets wat die oë soëwe nog gesien het, daardie lang smal oë met die baie wit.
Tog is die skilderwerk van Irma Stern soms moeiliker verstaanbaar as die tekeninge, hoewel ook hier die kontoer dikwels hoofsaak is vir die komposiesie. Dit wil sê dat die kleure dan 'n ondergeskikte rol speel, saamhelp om die tekening te ondersteun, al wil dit nie sê dat hulle opsigself nie suiwer sou wees nie. Maar die kleure, en die manier waarop dit op die doek gebring is veral, het dikwels nie dié plastiese waarde wat 'n mens van 'n skilder verwag nie. Sommige stukke laat 'n mens dink aan gobelins, tapytskilderinge, wat immers ook in eerste instansie vlakversierings is, en dus ook in die tegniek opsetlik vlakker gehou word en minder plasties-uitbeeldend. Hierdie bedoeling moet ons in die oog hou as ons daardie klas skilderstukke van Irma Stern bekyk, en dit verbied ons om op hulle dieselfde toets te pas as wat by andersgerigte werk billik is.
Op die volgende afgebeelde skildery, ‘Die Trekkende Vrou’, stap sy voort deur Pondoland, haar opgerolde mat dra sy op haar kop, wat 'n weinig na die toeskouer gedraai is. Hier is alles ryp, gedempte kleure, die rooibruin van die huid, die okergeel en groen van die klere en die landskap. Die laaste is soos so vaak 'n suggestie van stemming rondom die figuur. Détails is vermy, slegs die drie hutte op die glooiïng dui aan dat daar mense woon in die uitgestrekte golwende land; g'n boom of dier is te sien nie, g'n voël in die lug,
| |
| |
die eensaamheid rondom die swyende vrou laat ons voel dat niemand weet waarheen sy gaan nie, syself weet dit wellig nie. Berusting ook in hierdie wese, nie 'n fier berusting nie, dog 'n swaarmoedige kalmte en gelatenheid in haar lot. Piktureel is die stuk van 'n hoë skoonheid, só seker is dit gekompeneer, só fyngevoelig is die dele afgestem, só suiwer van voordrag is die manier waarop die sentiment is uitgedruk. Die tegniek wat hier, gewoon as ons is aan meer realistiese kuns, miskien nog nie voldoende gewaardeer word nie, pas by die onderwerp soos 'n vanselfsprekendheid, 'n bewys hoe die kunstenares haar eie voordrag gevind het, in harmonie met haar onderwerpe.
Die laaste geld in dieselfde mate van die volgende twee groot doeke: die ‘Pondomeisie tussen slingerplante’ en die ‘Konsert’. Hier kom ons in 'n heeltemal nuwe stemming, die tropiese plantegroei roep dit onmiddellik op. Daar heers 'n swoel, swaar atmosfeer in die eerste stuk, die groen en die ligter stamme is versadig van die vogtige warmte, in 'n swierige weelde slinger die gewasse hulle takke deurmekaar, en daartussen rus die meisie met haar arms op 'n dun stam. Ook haar lede is weelderig soos die plantegroei. Al die lyne is bevallig-rond, die borste, die vol arme, die hande. Sy rus daar soos 'n ryp vrug, bewegingloos, tussen die gebladerte, sy gaan op in die natuur, die warmte, die kleureprag. Wat 'n verskil met die meisie wat haar kopdoek ombind! En tog: by altwee iets gemeenskapliks: die opgaan van die sielelewe in die skepping, die wegsink van die persoonlikheid in die Nirwana van die oneindige natuur.
In die ‘Konsert’ heers dieselfde lewensgevoel. Hier is wel aksie, al is dit ingetoë, van die twee meisies wat speel, ook aandag wat spreek uit houding en gelaat van die twee ander. Hoe fraai het die kunstenares haar komposiesie afgeweeg, sodat die groepering en ook elke afsonderlike houding diensbaar bly aan die werking van die sagte musiek. Die speel en die luister is alles één, dit is die siel van die Natuur wat haar eie stem beluister. Hierdie stuk lei ons na die hart van donker Afrika, ons voel die klop daarvan in die skugter ritme van die musiektone, die ryp kleure, die sag gewelfde lyne.
Ons bespreek hier nie die landskappe en stillewens nie, hoewel dit die moeite werd sou wees, omdat ons die mees karaktervolle, die mees tiepiese na vore wil bring, tewens dié werk wat waarskynlik ook in die toekoms die liefde en werkkrag van die kunstenares sal opeis, en van blywende waarde gaan wees.
* * *
‘La nature, vue à travers d'un tempérament’, sou 'n mens met veel reg kan sê van Irma Stern se werk. Haar inboorlinge sweef met hul blik in die verte, hulle voorvoel die bedreiging van hulle natuurstaat, hul wese is nie meer ongerep nie, nie langer gaan hulle argeloos hul gang nie, hulle weet daar
| |
| |
bestaan 'n boom der kennis van goed en kwaad. Dit is dikwels nie meer as 'n vae twyfel, 'n hang tussen hoop en vrees, die hoop op al die moois wat behoort by die lewe van die witman, die vrees om te verloor wat vanouds hulle eie besit is. Die skilderes sien hierdie lewensstaat en beeld dit uit; nie net donker liggame in sierlike beweging temidde van 'n magtige natuur nie; maar voor alles ook die siel wat hom slegs skugter vertoon aan die blanke. Sy getuig van die kriesis in die bestaan van die donker mense, en sy laat besef wat dit beteken vir die blanke om daardie vreemde lewe te lei in bane wat heilsaam kan wees vir altwee rasse.
A.C. BOUMAN.
|
|