Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930
(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 118]
| |
Iets Omtrent die Volksoorlewerings van die S.-A. Bantoe.IV. Bantoe-Digkuns.OM 'n skerpe grenslyn te trek tussen prosa en poësie in die ongekunstelde letterkundige voortbrengsels van 'n primitiewe volk is nog moeiliker dan om dieselfde verskil te onderskei by die meer gekonwensionaliseerde produksiesJOACHIM LUTZGa naar voetnoot*): KAFFERSTUDIES I.
van 'n kultuurvolk: dit is uit die aard van die saak al moeilik, dit word nog moeiliker waar daar by 'n volk so te sê niks bestaan wat ons as ‘sakelike’ letterkunde sou kan bestempel nie: al daardie moeilikhede word nog verhoog deur òf die totale gemis van, òf die minkarakteristieke van 'n poëtiese styl in kontras met 'n prosatrant, gebonde in kontras met ongebonde taal. Dit is wat ons in sy kontras met prosa kan noem die uiterlike karakteristieke van poësie. Dit is dus ons saak om na te gaan of daar in die Bantoe - digkuns soiets bestaan as 'n poëtiese tegniek, of daar rym of assonans, of vaste ritme bestaan; of daar ander karakteristieke is, dit sy uiterlik of innerlik, wat die digterlike taal en styl onderskei van prosa. Sover enige navorsingswerk in die tegniek van die digkuns van die Bantoe gedaan is, bestaan daar nie soiets as rym in enige oorspronkelike produksie van ons naturelle nie. Dit is te wyte aan verskillende dinge, waarvan ons hier 'n paar kortelings moet aanstip. Eerstens val die dinamiese aksent in die Bantoetale so te sê uitsluitend op die vóórlaaste lettergreep van die woord, (b.v. Sotho: mótho, letsátsi, morekóre), terwyl die dinamiese aksent | |
[pagina 119]
| |
op die laaste lettergreep alleen voorkom in 'n paar woorde, (b.v. Sotho: alleen woorde wat uitgaan op -ng, d.w.s. lokatiewe en die gebiedende wys, meervoud: motséng - in die dorp, sepeláng - loop). Dit beteken dat daar maar bitter-min woorde is met mannelike rym, wat boonop nog baie eentonig word deur die herhaaldelik voorkom van één en dieselfde endmedeklinker, en dat by gevolg die enig waarlik natuurlike rym in hierdie tale vroulik is. Twedens het ons te reken met die musikale aksent, wat vry is in die sin dat 'n hoë, 'n middel- or 'n lae
JOACHIM LUTZ: KAFFERSTUDIES II.
toon ongedwonge op amper enige lettergreep van die woord kan val, en dit ook doen, heeltemal onafhankelik van die dinamiese aksent. Dit beteken dat 'n woord soos ró;nã - met dinamiese aksent op die voorlaaste lettergreep, lae toon op die voorlaaste en hoë toon op die laaste lettergreep -, vir die Bantoe, nie rym nie, of tenminste nie volkome nie, met tona, wat dinamiese aksent ook op die voorlaaste lettergreep het, maar 'n hoë toon op die voor laaste en lae toon op die laaste lettergreep. Dit is dus duidelik dat soiets as die rymsisteem van die Europese tale in die Bantoetale nie bestaan nie, dat dit ook 'n fout is wanneer ywerige Europeane die rymsisteem van hulle tale op die Bantoetale wil toepas, en wanneer ook naturelle, met meer entoesiasme as taalgevoel, die Europese skansie in hulle tale wil invoer. Dan kry ons sulke ondings as ‘Yiva imithándazó yethú’ (verhoor ons gebede), wat wel in die Europese ritmeskema pas, maar 'n vreeslike misvorming is van die egte ‘Yiva imithandãzo yéthu’. Ook kry ons sulke dinge waar, omdat die Europese model 'n mannelike rym het, die Sotho-vertaling of adaptasie ook 'n mannelike rym gegee word, met die gevolg dat ons 'n ag-reëlige stanse kry met endlettergrepe -ang, -ong, -ang, -ong, -ong, -ang, -ang, -ong, almal lokatiewe en gebiedende wyse! | |
[pagina 120]
| |
Oor assonans is niks te sê nie. Sover bekend bestaan dit in die Bantoe volksgedigte glad nie, en daar is maar een sendinggenootskap wat probeer het om dit effens in te voer. Maar al het die Bantoetale geen rym of assonans nie, ritme is daar soveel te meer, en van 'n gehalte, ingewikkeldheid en veelvuldigheid waaroor selfs die vakman af en toe verbaas staan. Die ritme is alweer nie soos die ritme van 'n Europese gedig nie: dit is natuurlik wèl 'n dinamiese ritme, omdat die dinamiese aksent so sterk in die Bantoetale ontwikkel is: dit is nie 'n lengte-ritme nie soos in ou-Grieks of in Latyn; en van 'n intonasie-ritme, soos mens dit miskien uit die sterk ontwikkeling van die musikale aksent in die Bantoetale teoretiesJOACHIM LUTS: KAFFERSTUDIES III
kon verwag, bestaan daar geen spoor nie. Maar hoewel dit 'n dinamiese ritme is, is die manier waarop dit voorkom heeltemal anders as die Europese. By laasgenoemde het ons vaste versreëls. Soiets bestaan in die oorspronklike Bantoe-digkuns nie. Ons kan Bantoegedigte die beste vergelyk met 'n in ode-vorm geskrewe gedig uit 'n Europese taal - bv. Tennyson, ‘Ode on the death of the Duke of Wellington’, of nog beter, die oorspronkelike vorm waarin die Hebreeuse poësie van die Ou Testament geskrywe is. Die vergelyking met laasgenoemde vorm is soveel beter omdat een van die sterk karaktertrekke van die Hebreeuse digkuns, die sogenaamde parallelisme, ook baie sterk uitkom in die poëtiese skeppings van die Bantoevolksgees. Hierdie parallelisme vind sy uiting nie net in die uitgesproke digterlike voortbrengsels nie, maar ook in ander produksies van die Bantoe wat ons gewoonlik nòg naar styl nòg naar inhoud as digterlik beskou. Daar is bv. die spreekwoorde, waarvan ons in 'n vorige artiekel 'n paar aangehaal het, die idiomatiese wendinge, die raaisels, die kort epigrammatiese opsomminkies aan die end van 'n verhaal, die herhaling van dieselfde sin in dieselfde ritme hoewel daar miskien ander woorde word gebruik. Ons kan die parallelisme nagaan in so 'n spreekwoord as die bekende | |
[pagina *20]
| |
MAGGIE LAUBSCHER.
PORTRET. (In die besit van Dr. J. Holloway.) | |
[pagina 121]
| |
Lekgatlekgatla ó bôna putsana, modikologa ó bôna pudi e tona (die haastige man kry 'n klein bokkie, die langsame man kry 'n groot bok - Haastigheid is lastigheid). Die parallelisme kan as volg aangetoon word: - (Vinnige man) Lekgatlekgatla - modikologa (langsame man). (hy sien) ó bôna - ó bôna (hy sien) (klein bokkie) - putsana - pudi e tona (groot bok). Die bostaande growwe skema gee net die parallelisme van inhoud weer. Om die parallelisme van ritme aan te dui word die volgende aangehaal: Lekgátlekgátla - ó bôna - putsana (putsãna). modikológo - ó bôna - pudi e tona (pudi e tona). Let op dat die ritmiese parallelisme van die eerste twee dele volkome is, d.w.s. daar is eweveel lettergrepe in elke deel, die dinamiese aksent val op dieselfde plekke, en die musikale aksent ook. By die derde deel is egter onvolkome parallelisme; die aantal lettergrepe is nie dieselfde nie, en nòg die dinamiese nòg die musikale aksent val op dieselfde lettergrepe in elke deel. Maar tog vorm die twee dele ritmiese parallele, tenminste vir die oor van die BaSotho, aan wie se taal die voorbeeld ontleen is. Ons hoef hier nie verdere voorbeelde aan te haal of te ontleed nie. Kom ons egter by die egte poëtiese skeppings dan kry ons eers die ware ritmiese vorme in al hulle ingewikkeldheid te sien. Dit sou die grense van hierdie artiekel heeltemal oorskry om ook maar 'n vlugtige beskouing van die ingewikkelde tegniek van sommige van die digvorme te gee. Dit is genoeg om te sê dat dit heeltemal nie 'n onbewuste tegniek is nie; die digters weet hoe om die ritmes van hulle taal te hanteer, en beskou dit 'n eer om dit op die mees ingewikkelde manier te doen. Ons kan die verskillende poëtiese voortbrengsels van die Bantoevolkere verdeel in twee hoofkategorië, wat dan weer albei in hulle onderkategorië val, nl. wat gemeen is om gesing te word, en dié om voor te dra. Eienaardig genoeg is dit dat die stukke wat gesing word digterlik van veel minder waarde is as die wat voorgedra word. Die woorde van die mees aangrypende sang is dikwels baie banaal, en is buitendien selde meer as 'n eentonige herhaling van een en dieselfde reël. Dit geld sowel vir die fees- as vir die treurliedere, vir die krygs- as vir die werksliedere, vir die kinderspellied as vir die liefdeserenade, ook vir die ontelbare kleine liedjies wat elke naturel weet om vir allerlei geleenthede voort te bring. Trouens, die musiek self waarop die liedere gesing word is, hoewel nooit banaal nie, dikwels ewe eentonig as die tot in die oneindigheid herhaalde woordemotief. Van die onderverdeling van die liederekategorië het ons hierbo 'n beknopte idee gegee. Die van die gedigte wat in hoofsaak geresiteer word is amper ewe veelvuldig. Die vernaamste is egter die sg. pryslied. Die pryslied, wat tussen hakies nie 'n lied is nie maar 'n deklamasiestuk, is eintlik | |
[pagina 122]
| |
die grootste digterlike produksie van die Bantoe, waarop hul die meeste trots is, en waarvan hulle die meeste verskeidenheid het. Ons sal dus by die pryslied 'n rukkie moet stilstaan, en in verband daarmee 'n paar volksgebruike aanstip. Elke naturel, man, vrou of kind, het, buite die eie persoonlike name (eienaam, familienaam, klan-naam) ook nog 'n sg. prysnaam, wat met die klan-naam in noue verband staan. Ons het in 'n vorige artiekel laat uitkom dat bv. die BaHuruthse van die westelike Transvaal die bobbejaan as totem het. Nou is die woord vir bobbejaan in die SeTswana taal, die taal van die BaHuruthse, thswene: en elke MoHuruthse (enkelvoud van BaHuruthse) word bestempel met 'n prysnaam MoThsweneng (bobbejaan-mens) wat natuurlik van die woord thswene afgelei is. So heet 'n MoKgatla van die Pretoriadistrik Kgabo, na sy totem, die blou bergapie: 'n lid van Mamabolo se stam in die Pietersburg-distrik heet Kolobe, na sy totem, die wilde vark. As mens 'n lid van elk van hierdie klans op 'n deftige manier wil aanspreek, dan gebruik mens i.p.v. die gewone stamnaam hierdie feestelike klan-prysnaam. Nou het elk van die prysname ook nog in verband daarmee 'n klein spreuk of sin, wat nog verder 'n lof uitspreek op die eienaar van die naam. Daar is indiwiduële prys-spreuke wat alleen op één persoon doel, en algemene prysspreuke, wat doel op elke lid wat die naam wat geprys word dra. Die algemene prys-spreuke is van ouds afkomstig, en die name van die outeurs daarvan is verlore gegaan. Die indiwiduële prys-spreuke is van baie jonger datum, selfs van die laaste tyd en die outeurs is dikwels bekend, ja selfs is die outeurs dikwels die persone wat die naam dra, want die naturel sien daar niks in nie om in die openbaar sy eie lof te sing. Dit mag hier ook aangestip word dat nie net persone, maar ook diere, bome, voorwerpe van allerlei aard, natuurverskynsels, dolosse en die verskillende maniere waarop hulle val, prysname dra en prys-spreuke het. So het enige jare gelede iemand in Basoetoeland 'n versameling uitgegee van die prysname en prys-spreuke van diere, voëls, dolosse ens., en het die skrywer self, in die loop van sy navorsingswerk, letterlik nie 'n ding gevind wat nie sy prysnaam en sy prysspreuk het nie. Die pryslied is dus 'n uitbreiding van die gedagtegang van die prysnaam en die prys-spreuk. Het een of ander indiwidu op een of ander geleentheid 'n roemryke of selfs maar 'n baie gewone daad verrig, dan dig hy self, of laat 'n ander dig, 'n meestal baie hoogdrawende loflied, waarin sy afkoms genoem word, belangrike feite in verband met sy lewe lank en breed aangehaal word, en tenslotte die roemryke daad in alle geure en kleure vertel word. Hierdie gedig sê hy dan self by een of ander openbare geleentheid op, of laat dit vir hom deur 'n bekende in die teenwoordigheid van die stam opsê. Behoort hy tot 'n familie wat 'n posiesie van eer in die stam in- | |
[pagina 123]
| |
neem, dan sal daar al ander prysliedere op ander lede van sy famielie bestaan, daarvan word dan ook stukke in sy pryslied ingelas. Is hy 'n ryk man, dan kan hy een of ander professionele prys-digter en -voordraer bestel om vir hom sy pryslied te maak en dit op hoë geleenthede voor te dra. Dit spreek vanself dat die kapteins en onderkapteins prysliedere besit, en dat 'n familie van kapteins 'n reeks besit wat meer in getal, langer en ryker van vorm en inhoud is as die prysliedere van die gewone man. Die oudste prysliedere van so'n kapteinsfamilie gaan dan ook dikwels enige honderde jare terug. Die manier waarop die prysliedere van 'n groot man of van 'n kaptein deur die professionele lofsanger voorgedra word is interessant. Elke kaptein het sy eie spesiale lofsanger wie se plig dit is die verskillende prysliedere van die kaptein se familie en van die kaptein self te ken en op te sê. By een of ander geleentheid staan die lofsanger ineens op, en begin met opgewonde gebare wat al woester en woester word die loflied aan te hef. Die hele ding word gewoonlik op 'n amper onnatuurlik hoë toon, soms amper 'n falsetto, voorgedra, en so vinnig as moontlik, só vinnig dat die indiwiduële woorde gewoonlik glad nie verstaanbaar is in die stroom van klanke nie. Gouer en gouer word die deklamasie, opgewondener en opgewondener raak die lofsanger, totdat soms die skuim op sy mond staan. Ineens is die gedig uit, en die lofsanger sak uitgeput neer, hyg naar asem, maar ewe kalm asof hy sy neus maar net 'n bietjie hard gesnuit het. Die taal en styl van die prysliedere is altyd opsettelik argaïes: die ouer prysliedere is dit vanself, en die jongeres word opsettelik so ingeklee. In die taal van die ouer prysliedere is daar baie wat vir die teenswoordige geslag eenvoudig onverstaanbaar is, en wat hulle maar op die klank af onthou sonder dat dit iets vir hulle beteken. Sulke woorde of sinne kan hulle ook alleen maar in die stroom van die gehele woordevloed sê: word die woordevloed gebreek, dan moet hulle na die begin teruggaan om die hele ding weer op te sê. Dit is natuurlik 'n moeilikheid wanneer die navorser 'n stuk gedikteer wil hê om te ontleed, veral as die voordraer, wat amper altyd gebeur, die stuk eenvoudig nie langsaam kan opsê nie, en maar altyd in die vlieënde vaart van die openbare deklamasie bly, en daarby nog die opgewonde styl van die deklamasie voor 'n geesdriftige publiek. Die orige deklamasie-poësie van die Bantoe kom na die losfange as 'n antiklimaks. Hulle bestaan hoofsaaklik uit kinderrympies, uit losse geleentheidsgedigte, en uit die, dikwels ritmiessaamgevatte, stukke wat voorkom in verhale, veral in dierfabels, waar dieselfde persoon herhaaldelik op presies dieselfde trant antwoord gee op vrae. Die teorie is al geopper dat sommige van die verhale eintlik net dien om 'n geraamte te gee waaraan sulke gediggies geheg kan word. Een ding het egter al die ritmiese produksies gemeen met mekaar, en ook met die prosa-voortbrengsels - die rykdom van | |
[pagina 124]
| |
verwysings naar persone of plekke of feite, wat miskien vir 'n vorige geslag iets kon beteken het, maar waarvan die betekenis vir die teenswoordige geslag heeltemal verlore gegaan is. Die hele digkuns van die Bantoe sit voller van sulke aanhalings as 'n ou-Griekse choros. Ons moes hierbo baie in die verlede tyd praat, nie wat die voordra, maar wel wat die komponeer van die gedigte aangaan. Dit is egter ook nodig om aan te stip dat daar nog vandag digters bestaan wat in die ou trant van die Bantoe komponeer. Dit word meestal gevind by die Zulu- en die Xosa-sprekende stamme. Toe bv. die Prins van Wallis hier gekom het en die naturelle-gebiede besoek het, het al die izimbongi (lofsangers) hulle bes gedaan en is daar heelwat min of meer originele poësie op hom gemaak. Een van die mees verdienstelike van sulke lofsangers wat nou nog die ou tradiesie probeer voortsit is S.E. Rune Mqayi, wat alreeds enige boeke oor die lewe van die Xosa-stamme uitgegee het, en wat voortdurend bv. in die blad ‘Umthetheli wa Bantu’ een of ander stuk in die ou trant ten beste gee. In 'n volgende artiekel sal ons enige voorbeelde van die Bantoe-digkuns gee, in vertaling, met net hier en daar 'n kykie in die origineel, om die stof wat in hierdie artiekel min of meer teoreties bespreek is, met voorbeelde toe te lig.
G.P. Lestrade. |
|