te sê hoe hul dit behoort te doen, 'n pedant, wat, omdat Richard Wagner die onvergeeflike flater begaan het om Mnr. Davison nie agterna te loop nie om hom versigtig voor te berei op die Tannhäuser-Ouverture, het oor die werk die volgende geskryf: ‘Nadat ons die werk vir die twede maal gehoor het, kan ons nie rede vind ons opienie te verander nie. Selde is aan 'n publiek 'n meer opgeblase vertoning en lawaai voorgelê, en dit is jammer dat so 'n pragtige orkes hul tyd moet verknoei in nuttelose kragsinspannings, om iets tot stand te bring wat, selfs al was dit moontlik, nêrens toe sou dien nie.’
Verder sê hy: ‘Ons neem aan dat hy 'n baie knap man is, maar sy werke lewer die duidelike bewys dat, hoe knap sy werk ook teoreties mag wees, dit nie musikaal is nie. Nog één so 'n serie konserte sal die ondergang wees van die ‘Philharmonic Society’.
Ons lees die kritieke en vra onsself met verbasing af, hoe dit moontlik is, dat 'n man, wat tog baie kennis van musiek moes hê, soiets kon skryf. Die minste musikaal-ontwikkelde mens van teenwoordig beskou die werke van Schumann tog nie as wanstaltig, of Wagner as 'n niksseggende lawaai nie? Was die mense in die verlede dan so veel kortsigtiger as ons? Tog seker nie. Die krietiesie is iets versigtiger en veroordeel nie meer wat hul nie kan verstaan uit vrees om hul te kompromiteer nie. Maar in onsself dink ons oor ons tydgenootkomponiste nie baie verstandiger as in die verlede die geval was nie. Die faktore wat saamwerk tot die treurige toestand is tog betreklik maklik te vind.
'n Oorspronklike genie doen dinge op 'n ander manier, al is sy innerlike doel ook dieselfde. Die moderne is gewoonlik modern in sy vorm van uitdrukking, Beethoven in sy Sonaten, Wagner in die musiek-drama. Die mens is van nature behoudend en beskou iets, wat anders is as hy dit gewoon is direk met wantroue. Dit gee die komponis aanleiding om hom te isoleer, om hom af te sonder van die groot stroom, wat sy nuwe idee, wat, na sy insigte die beste is, bedreig. Die gevolg is dat hy al verder en verder van die algemene gedagtegang afgaan en meer en meer vervreem van die opvatting van die massa. Om dit te illustreer laat ons die geval van Stravinsky en Schönberg neem.
Albei het in hul eerste werke groot onafhanklikheid getoon. Stravinsky se werk het groot byval gevind. Hy het weer in aanraking met en dus onder invloed gekom van die massa-gedagte en sy later komposiesies keer al meer en meer terug na die ‘ou paaie’. Schönberg kon nie genade vind in die oog van sy publiek nie, hoewel die Gurrelieder tog regtig nie so buite die bereik van die gemiddelde musikale intellek lê nie.
Hoewel 'n paar musisie van groot bekwaamheid en kennis hul bewondering te kenne het gegee oor Schönberg se werke, waardeer die publiek hom nie. Hy staan te ver af van die massa-gedagte. Die logiese gevolg is